Net 'n Rukkie Annie

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

"Annie! Annie!" het Moeder geroep. Toe het sy 'n oomblik gewag. Geen antwoord nie. Annie!, Annie-ie!" het Moeder weer geroep en toe deur die kombuisvenster gaan kyk wat Annie doen. "Net 'n rukkie Moeder," het 'n fyn stemmetjie oor die werf gekom, "ek kom nou-nou."

"Maar ek wag vir jou," het Moeder gesê. "Jy moet nou dadelik kom."
"Net 'n rukkie," het die onsigbare Annie geroep. 
"Ag, wêreld!" het Moeder gesug. "Ek is nou al net terdeë moeg daarvan om haar altyd te hoor sê: "Net 'n rukkie. Wag net dat sy vandag in die huis kom!"


Vyf minute het verby gegaan. Toe tien minute. Maar al wat kom, is Annie. 

"Annie!" het Moeder geroep, en sy het weer deur die venster gaan kyk. "Kom dadelik hier!" 

"Net 'n rukkie"

"O," het Moeder gesê, "as ek nie nog-"

Maar op daardie oomblik het Annie se gesiggie om die hoek van die koolkamer verskyn en sy het so liefies geglimlag dat Moeder nie geweet het wat om te sê nie. 

"Hier is ek," het Annie vriendelik gesê. "Het Moeder geroep?"

"Jy het my hoor roep," het Moeder gesê, terwyl sy haar bes probeer om kwaad te lyk. "Hoekom het jy nie dadelik gekom nie?"

"Ek was besig," het Annie geantwoord. "Ek was besig om my pop se kleertjies te was."

"Ek weet jy was besig," het Moeder gesê, "maar as Moeder jou roep, moet jy dadelik gehoorsaam. Dit is baie lelik om Moeder eers tien minute te laat wag voordat jy kom."

"Ja, Moeder," het Annie gesê. 

"En moenie dat ek jou weer hoor sê, "Net 'n rukkie, nie."

"Nee, Moeder."

"Nou ja," het Moeder gesê, "bring dan hierdie eiers weg vir tant Sannie." Annie het die mandjie geneem en by die hekkie uitgegaan, terwyl sy saggies iets sing. Maar op pad na tant Sannie het sy weer vergeet wat Moeder haar vaneffe gesê het. 

Toe sy weer by die huis kom, is sy reguit na haar "wasbalie" agter die koolkamer. O, hoe lekker is dit nie om te was en te vryf net soos Moeder! Sy het haar eie wasgoedlyn gehad, 'n klompie van Moeder se wasgoedpennetjies en 'n regte tafel. Geen wonder dat sy so gelukkig voel nie!

Maar nie lank nie, of 'n bekende stem het weer geroep. 

"Annie! Annie!"
Die antwoord was net so bekend. 

"Net 'n rukkie, Moeder!"

"Dus het sy alweer klaar vergeet," het Moeder gesê. 

"Ek sal haar moet leer."

Weer het die minute verbygegaan - vyf minute, tien minute, vyftien minute. 

Geen teken van Annie nie. Maar intussen het Moeder vir haarself opgeskep, klaar geëet en die tafel afgedek. Sy het half spyt gevoel oor haar besluit toe sy 'n ongewone geluid hoor. 

"O, Moeder, Moeder! kom gou! kom gou! Die water het op my omgeval!"

Meteens het Moeder 'n blink gedagte gekry. Oortuig daarvan dat niks ernstigs gebeur het nie, het sy geroep:

"Net 'n rukkie, Annie!"

"O, kom gou! kom gou!" het Annie gehuil; "my skoene is vol water!"

Maar Moeder het nie geroer nie. Sy het net weer vir Annie geroep"

"Net 'n rukkie, Annie!"

Op daardie oomblik het die arme Annie om die hoek verskyn. Hoe het sy nie gelyk nie! Toe sy van die stoel afgespring het, nadat sy haar pop se rok aan die lyn opgehang het, het sy die hele balie water op haar omgekeer. 

Moeder kon nie help om te lag nie. 

"Hoekom het Moeder nie gekom toe ek geroep het nie?" het Annie baie kwaai gevra. "Kan  Moeder nie sien hoe nat ek is nie?"

"Ek kon nie;" het Moeder gesê, "ek was te besig. Ek moes die tafel afdek na ete."

"Is dit al so laat?" het Annie verbaas gevra. 

"Ja," het Moeder gesê. "As jy gekom het toe ek jou geroep het, sou jy nie so gelyk het nie."

Annie het begin verstaan. En dit was dan die einde van Moeder se gesukkel met haar.