Na Slapenstyd

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Luister 'n bietjie hier Nora," het Moeder gesê, "is dit nie goeie nuus nie? Tant Elisabet en Barenda kom 'n week by ons kuier. Sal dit nie heerlik wees om hulle by ons te hê nie? Maar dit het nie gelyk of Nora baie bly was oor die nuus nie.

Moeder het dit opgemerk. 

"Is jy dan nie bly dat Brenda kom kuier nie?" het Moeder gevra. "Julle twee sal mos baie lekker kan speel."

"Ek wil Brenda nie hier hê nie," het Nora gesê. "Maar waarom dan nie?" het Moeder verras gevra. "My ou dogtertjie is tog nie weer selfsugtig nie, is sy?".

Moeder het Nora se nukke baie goed geken. Sy was hul enigste kind, en sy wou altyd net haar eie sin hê. Om die waarheid te sê, was dit Moeder wat die uitnodiging gestuur het aan Brenda hulle om Nora te leer om met ander kinders saam te speel, en met ander mense oor die weg te kom. 

"Brenda sal my poppe breek, en my ander speelgoed ook," het Nora gesê. "Ek wens dat sy nie wil kom nie."

"Maar Nora," het Moeder gesê, "as jy haar mooi ontvang en vriendelik is teenoor haar sal julle heerlik saam kan speel. Sy is 'n baie aangeanme kind, en ek is seker dat hulle gelukkig sal wees."

"Ek wil haar nie hier hê nie," het Nora met nadruk gesê. "En waar moet sy slaap?"

Ek het gedink dat sy maar by jou kan slaap," het Moeder gesê. "Jy moet darem onthou dat sy jou niggie is, en-".

"Ek wil haar nie in my bed hê nie," het Nora bitsig gesê. "Sy sal die hele bed vol lê sodat ek geen nagrus sal kry nie. En sy mag my skop."

"Maar sy is so klein," het Moeder met 'n glimlag gesê, "en jou bed is so groot - heeltemal groot genoeg vir julle twee."

"Dit is nie groot genoeg vir twee mense nie," het Nora gesê. "Ek wil nie saam met ander slaap nie. Ek wil nie hê dat ander aan my goed moet raak nie. Ek wil nie hê dat iemand-"

"Maar, Nora," het Moeder gesê, "jy moenie so voel nie. Jy sal nooit gelukkig wees in die lewe as jy alles net vir jouself wil hê nie. Sal jy nie hierdie keer probeer om te sien hoe gelukkig jy kan wees nie."

"Nee, ek wil nie," het Nora gesê. "Ek wil niemand in my bed hê nie, niemand nie!"

Ewe boos het sy die kamer verlaat en die deur toegeklap. 

Hierdie hele gesprek het aan die ontbyttafel plaasgevind. Moeder moes toe maar haar ontbyt alleen eet, en terwyl sy daarmee besig was, het sy gedink. Drie dae later het Brenda en haar Moeder daar aangekom. Nora het hulle vreeslik kil ontvang. 

Onderwyl die besoekers met die trap op is na bo, het Nora vir haar Moeder gefluister, "Moet asseblief nie vir Brenda in my kamer sit nie."

Moeder het gemaak of sy nie hoor nie. Sy het Nora se kamer oopgemaak en gesê, "Hier is jou kamer Brenda; en ek weet jy sal nie omgee om by Nora te slaap solank julle by ons is nie."

"Nee, ek gee nie om nie," het Brenda gesê, terwyl sy met oop mond staan en kyk na die mooi kamer met sy geel gordyne, groen tapyt, en pragtige kamerstel. "O, dis 'n mooi kamer. Ek sal baie gelukkig hier wees. Baie dankie!"

Nora het haar Moeder woedend aangekyk, en na haar Moeder uit die kamer was, het sy aan Brenda gesê, "Wel, as jy dan in my kamer moet slaap, moet jy oppas dat jy aan niks raak nie; jy vat aan niks sonder my toestemming nie!"

"Ek sal regtig aan niks raak nie," het Brenda gesê. "Ek belowe jou, ak sal maar net na die goed kyk."

"En as ons gaan slaap," het Nora gesê, "moet jy sorg dat jy nie te veel plek opneem nie of dit sal jou suur bekom. Ek is nie daaraan gewoond om mense in die bed te hê nie."

"Nee, ek sal nie te veel opneem nie," het Brenda laggend gesê, want sy was nie seker of Nora alles ernstig bedoel het nie. "Ek sal myself vreeslik klein maak sodat jy my skaars sal kan sien."

Maar Nora was ernstig. Sy kon maar nie daaroor kom dat sy iemand anders in haar kamer moet neem nie, selfs nie Brenda nie; en Brenda was heeltemal 'n aangename dogtertjie. 

Eindelik was dit slapenstyd, en die twee Moeders het hulle kinders kom nagsê.

Daar het die twee gelê, so ver van mekaar af as moontlik - Brenda op die een kantjie van die bed, en Nora op die ander. 

"Ek hoop dat julle baie lekker sal slaap en more baie verfris sal wakkerskrik," het Nora se Moeder gesê. 

"Ek sal glad nie kan slaap nie," het Nora gesê.

"Ek sal," het Brenda gesê: "dis dan so 'n heerlike bed."

"Wel, goeienag julle twee."

Die twee Moeders is toe weer onder toe, en hulle het gewonder wat sou gebeur. Daar het gou iets gebeur.

"Lê verder soontoe," het Nora gesê. "Jy het aan my geraak met jou voet."

"Ek is jammer," het Brenda gesê, "dit was nie met opset nie."

Toe weer stilte.

"Le verder soontoe," het Nora weer bitsig gesê. "Jy lê al byna in die middel van die bed."

"Goed," het Brenda gesê, terwyl sy verder weg skuif.

Toe was daar weer stilte.

"Nora," het Brenda gefluister.  

"Ja, wat is dit?"

"Het jy al ooit 'n kussinggeveg gehad?"

"Nee, hoekom?"

"Dis baie lekker; my broer en ek het al baie met kussings geveg."

"Wat doen 'n mens?"

"Ek sal jou sê." En toe het Brenda met 'n fluisterstem verduidelik hoe 'n mens te werk gaan.

Nora was die ene belangstelling. Sy het nog nooit iemand gehad om so mee te speel nie. Dit was nie lank nie of die twee het regop gesit in die bed, elkeen bewapen met 'n kussing.

"Ek sal eerste slaan," het Brenda gesê.

En klaps! het Nora dit teen die kop gekry.

"Slaan jy nou," het sy vir Nora gesê.

Klaps! het Brenda dit teen die kop gekry so hard as wat Nora kon slaan. Sy het Brenda byna van die bed af geslaan. En toe was die geveg aan die gang. 

Klaps! Klaps! Klaps!

Bof! Bof! Bof!

Toe was daar 'n harde slag op die vloer. Nora het vir Brenda boa van die bed af geslaan. Sy het natuurlik weer dadelik opgespring, en die twee het mekaar lelik toegetakel met die kussings. Soms het hulle totaal mis geslaan, want hulle was al doodmoeg. Soms het hulle gegil van opgewondenheid, en het hulle hard gelag, so uitasem as wat hulle was. 

"Ek hoor snaakse geluide daarbo," het Nora se Moeder gesê. "Ek wonder wat aan die gang is?"

"Ek ook," het Brenda se Moeder gesê.

Klaps! Klaps! Klaps! het dit daar van bo af gekom. "Miskien moet ons liewer gaan kyk wat hulle daar maak."

"Ja, laat ons gaan kyk."

Die twee is toe met die trap op. 

Skielik was daar 'n doodse stitle.

"Sjuut!" het Brenda gefluister. "Ek hoor hulle kom. Laat ons lê en ons gou toemaak."

In 'n kits was hulle onder die komberse. 

"Hou my styf vas," het Brenda gesê, "en laat ons maak of ons vas aan die slaap is."

Toe hulle by die kamer inloer, het die twee in die middel van die bed gelê, skynbaar vas aan die slaap."

"Kyk bietjie hoe liefies lê die twee daar," het Nora se Moeder gesê, "vas aan die slaap in mekaar se arms."

"Ek het geweet dat hulle gou met mekaar sal regkom," het Brenda se Moeder gesê.

"Ek het gehoop hulle sal," het Nora se Moeder gesê. 

"Ek hou vreeslik baie van Brenda," het Nora later gesê. "Sy is so vol lewe, en ons het so lekker saam gespeel. Moeder moes gesien het hoe oulik sy met my een pop vandag gebad het. Moeder sou gelag het, want dit was so snaaks."

"Dus is jy darem bly dat sy gekom het?" het Moeder gevra met 'n skalkse glimlaggie. 

"Natuurlik is ek bly," het Nora gesê. "Ek wou altyd gehad het dat sy moet kom. Regtig!

Moeder het maar weer geglimlag. 

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell