'n Storie wat nie waar is nie

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Ek bedoel nie dat my storie nie waar is nie. Om die waarheid te sê, is dit die reine waarheid. Julle sien, ek ken die seun oor wie die storie gaan baie goed en hy sal nie jok om sy lewe te red nie. Ek gaan hom Willie noem sodat julle nie weet wie hy is nie.

Willlie het eendag met die storie van die skool af gekom en sy pappie die storie vertel net soos hy dit gehoor het. Dit het so gelui:

In die geskiedenisklas wou die onderwyser graag heel aan die begin begin en toe vertel hy hierdie snaakse storie. Hy het gesê dat die lewe op hierdie aarde as 'n klein stukkie slymerige iets in die see begin het. Hierdie klein stippeltjie het geleidelik gegroei en eintlik in stukkies gebreek. 'n Deel daarvan het besluit om 'n vis te word, 'n ander deel 'n plant en 'n derde deel het begin kruip en besluit om 'n wurm te word

Van hierdie eerste vis, hierdie eerste plant en hierdie eerste wurm het al die visse, plante en diere gekom. Altans, so het die onderwyser gesê. Toe het hy verder vertel hoe die wurm deur die miljoene der miljoene jare ontwikkel het totdat dit 'n dier met bene geword het.

Hierdie wurm, het hy gesê, het op sy maag gekruip, 'n vratjie gekry en hierdie vratjie het 'n been geword. Sommige wurms het vier vratjies gehad en gevolglik het hulle later vier bene gekry. andere het 'n klompie vratjies gekry en dus het hulle baie bene gekry - vandaar die duisendpote.

Diere het oë gekry, het hy voortgegaan, want toe die lig van die son op hulle skyn, het hulle sproete gekry wat later in oë verander het.

Ná miljoene jare het sommige van die wurms wie se vratjies bene geword het, honde geword en ander katte. Andere het tiere, leeus, kameelperde en beeste geword.

Een klompie wurms, het die onderwyser gesê, het verder en verder ontwikkel totdat hulle later arms en bene gekry het en hulle het bobbejane geword.

Die bobbejane wat die verste ontwikkel het, het eendag met 'n klompie houtjies gespeel. Per ongeluk het hulle die houtjies teen mekaar gevryf en die eerste vuurvonk gekry. Gevolglik het hulle leer vuurmaak en weens die hitte van die vure  het hulle hare later  uitgeval en hulle het mense geword!

Wel, dit was die storie wat Willie se onderwyser hulle in die skool vertel het. Dit is 'n storie wat deesdae oor die hele wêreld aan kinders vertel word. Maar hierdie storie is nie waar nie. Ek voel lus om te sê dat dit 'n duiwelse leuen is.

Dit is n ie waar nie, want die Here vertel ons in die Bybel dat Hy alles gemaak het. Hulle het nie deur die eeue heen van 'n stukkie slym ontwikkel nie. Deur Sy wysheid en mag het die Here alles geskape. Ons lees in Psalms: "Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër... Want Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied, en dit staan." (Ps. 33:6,9).

Wat die mense betref, lees ons: "En  God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het hy hulle geskape." (Gen. 1:27)

En kyk tog net hoe belaglik is hierdie onware storie wat aan so baie seuns en dogters vertel word! As jy net 'n paar minute daaraan dink, dan moet jy lag.

Neem daardie eerste stukkie slym in die see. Wie het dit daar gesit? Wie het die see gemaak? Wie het die land gemaak waarop daardie eerste wurmpie gekruip het toe hy moeg was van die see?

Dink dan aan daardie klein wurmpies met die vratjies aan hul mae. Hoekom het hulle dan nie vratjies net op die regte plekke gekry sodat hulle in bene kon ontwikkel wat net reg is nie? En hoekom het hulle dan nie meer vratjies aan hulle bene gekry sodat hulle vandag sommer deurmekaar groei nie?

Dis alles regtig baie belaglik, nie waar nie? Maar dink net aan daardie oë. O wêreld! Die son brand 'n sproet totdat daar 'n oog uitkom! Dit word ons vertel. Maar hoekom het die son 'n sproet langs die dier se neus  uitgekies? En toe weer 'n sproet aan die anderkant van die dier se neus? Hoekon nie 'n sproet aan die dier se agterkop of aan sy bene of miskien op sy stert nie? Hoekom het daar nie sommer oë orals op die lyf uitgekom nie?

En dan, as dit regtig die sonstale was wat die sproete in oë laat verander het, hoekom het hulle hul nie sterk genoeg vir die sonlig gemaak nie? Hoekom  het die sonstrale dan, nadat hulle oë gemaak het, ook ooglede gemaak om die skerp lig uit te sluit?

En nou kom ons by daardie bobbejane wat kastig mense geword het. Hulle het hul hare verloor omdat hulle vuur ontdek het en toe nie meer hare nodig gehad het nie! Het hulle regtig? Hoekom het hulle dan nie ook die hare op hul koppe verloor nie? En hoekom verloor katte dan nie ook deesdae hul hare wanneer hulle byvoorbeeld voor die kaggelvuur slaap nie? En hoekom het bobbejane wat in warm streke bly, nie ook al hul hare verloor nie?

Nee, kinders, hierdie storie wat vertel word, is nie waar nie. Dit is deur mense uitgedink wat nie die Bybel lief het nie en wat op ander maniere probeer verduidelik hoe alles ontstaan het. En as julle my vra, is hierdie storie 'n honderd maal moeiliker om te glo as die eenvoudige skeppingsverhaal van die Bybel. Willie dink ook so - soos hy moet julle dit ook nie glo nie.


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete