'n Hele brood asseblief

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Ná die groot revolusie in Rusland, het die mense van daardie land baie gely. Baie duisende is van die honger dood. En duisende ander wat voorheen volop gehad het, het bedelaars geword. Die kinders kon dit nie verstaan nie, want die verandering het so skielik gekom. Daar was seker baie van hulle wat hulle destyds wou dood huil.

Ek wil julle van een gesin vertel wat veral 'n baie swaar tyd deurgemaak het. Die Pappa het sy lewe in die opstand verloor, Mamma was dood en Ouma moes vir die drie kindertjies sorg. Voorheen het hulle in 'n mooi huis gewoon en hulle het genoeg gehad om te eet. Nou het hulle in 'n krot gewoon. Ouma het van die more tot die aand gebrei om iets te verdien om hulle aan die lewe te hou. Maar selfs met die geldjies wat sy verdien het, was daar nie altyd voedsel om te koop nie, wat alles was vreeslik skaars.

Die dag het gekom toe hulle niks meer in die huis gehad het om te eet nie. Nadat hulle daardie middag die laaste stukkie brood geëet het, was daar nie 'n krieseltjie kos in die huis nie. Ouma was baie hartseer, maar sy wou nie hê die kinders moes dit agterkom nie. Sy het die kinders na haar toe geroep, hulle vertel dat daar nie meer kos was nie en toe het hulle gebid. Hulle het die Here álles vertel en aan Hom gesê dat as Hy nie help nie, sou hulle van die honger doodgaan, net soos so baie mense rondom hulle. 

Hulle het vreeslik ernstig gebid - net Ouma en die drie kinders, want hulle was baie honger. Ek weet nie wat die ander gebied het nie, maar die dogtertjie het as volg gebid: "Liewe Jesus, stuur ons asseblief iets om vanaand te eet - nie net 'n korsie brood nie, maar 'n hele brood, asseblief!"

Dit was baie lank laas dat hulle 'n hele brood gesien het en dus was dit sommer 'n groot ding waarvoor die dogtertjie gevra het.

Die aand het gekom en nog was daar vir hulle niks nie. Die arme kinders! Hulle was seker baie lus vir 'n stukkie brood!

"Ouma het nog nie die broodmes skerpgemaak nie," het die dogtertjie gesê, want sy het vas geglo dat har gebed verhoor sou word. Ouma het toe maar die mes geslyp, volgens Russiese gewoonte. Die aand het verbygegaan en dit het gelyk of die kinders maar koud en honger sou moes gaan slaap. Maar toe is daar skielik aan die deur geklop.

Ouma het die deur gaan oopmaak en daar - voor haar - het 'n man gestaan, bedek met kapok. Sy het hom herken as 'n ou vriend van die gesin en hom binnegenooi. Hy het hulle vertel dat hy daardie dag sowat twintig myl geloop het.

"Wat is die doel van jou besoek?" wou Ouma weet.

"So teen die middag het ek diep onder die indruk gekom dat julle in groot nood was en dat ek dadelik moet kom," het hy geantwoord. En toe het hy aan die kinders gesê "Julle sal nooit raai wat ek vir julle gebring het nie."

"O ek weet," het die dogtertjie gesê.

"Nou ja, wat het ek gebring?" het die man haar gevra.

"U het vir ons 'n hele brood gebring," het sy geantwoord.

"Dit is presies wat ek gebring het!" het die vriend gesê terwyl hy die brood onder sy groot jas uithaal. "Maar hoe  het jy dit geweet?"

Toe het hulle hom vertel hoe hulle gebid en Jesus gevra het vir 'n hele brood. Saam het hulle nou daar gekniel en Hom gedank vir Sy wonderbaarlike sorg vir diegene wat in Hom glo.

Al was dit dan maar droë brood wat hulle daardie aand geëet het, sonder botter of iets, het hulle nog nooit so lekker geëet nie!

Om die dam Perderoete