'n Hangertjie van Liefde

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

"Ek het gewonder watter soort juwele ons twee vananaand sal soek," sê Mammie. "Hoe sou jy daarvan hou om edelstene in 'n goeie hantertjie te monteer?"

"Ek dink dit sal gaaf wees. Hangertjies is vir my so mooi, veral die wat in die vorm van 'n hart is," antwoord Doreen.

"Wel, laat ons ons dan verbeel dat ons 'n hartvormige een maak en dat ons die edelstene in jou eie hart sit."

"Mamma, watter onderwerp sal ons kies?"

"Dit moet natuurlik iets wees wat op die hart geskryf kan word. Ons kan begin met 'n chalcedon ("kal-se-don" - blouerige mineraalsteen) en een wat 'n gebod bevat, want jjy onthou mos dat die Here gesê het dat Hy Sy wet in ons harte sal skryf. Ons sal een vind in die sesde hoofstuk van Efesiërs."

Doreen het die teks opgesoek en gelees: 'Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.' 

"Ons kan nie hierdie steen weglaat nie, kan ons? Ek dink ons moet hierdie steentjie in die middel van die groep plaas. As kinders maar altyd dadelik wou doen wat hul ouers hulle beveel, sou daar nie so baie moeite en baie trane wees nie," sê Mammie.

Doreen het doodstil gesit totdat Mammie klaar gepraat het. Sy het goed geweet dat sy onlangs 'n hele paar maal nie dadelik gehoorsaam was soos sy moes nie. By die eerste geleentheid het sy toe die onderwerp verander deur te vra "Watter ander steen sal ons in die hangertjie plaas, Mamma?"

"'n Oniksteen sal pas by die chalcedon en in Deuteronomium 5:29 is daar een wat mooi sal pas."

Doreen het die teks opgesoek en gelees "Ag, as hule maar so 'n hart gehad het om My te vrees en al My gebooie altyd te onderhou, dat dit met hulle en hul kinders vir ewig goed kan gaan!"

"Ek hou baie van daardie teks," sê Mammie. "Dit leer ons hoe ons altyd kan reken op Gods seën as ons Hom gehoorsaam. As ons altyd al Sy gebooie hou, sal Hy sorg dat dit met ons en ons kinders goed gaan. Ouma wou hê dat dit met my moes goed gaan en daarom het sy God se gebooie gehou. Ek wil ook hê dat dit altyd met jou moet goed gaan en daarom trag ek ook om God se gebooie te bewaar en natuurlik wil ek hê dat jy dit ook moet doen wanneer jy groot is."

"En nou moet ons 'n ander steen soek, Doreen, 'n ametis en ons sal dit in Deuteronomium 6:24 vind. Sal jy dit lees?"

Doreen lees "En die Here het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is." (Deut. 6:24)

"Sien jy nou dat die enigste rede waarom die Here ons die Tien Gebooie gegee het, is dat dit 'altyd kan goed gaan' met ons. Hy dink altyd aan ons ten goede. Vaders en Moeders moet dikwels hul kinders beveel om sekere dinge te doen en ander nie te doen nie, maar hulle doen dit sodat dit met hul kinders kan goed gaan en dat hulle nie in die moeilikheid beland nie. God handel ook so met ons. Hy wil hê dat Sy kinders gelukkig moet wees. Hy sê dat hulle die sewende dag as Sabbat moet hou en dat hulle geen werk op daardie dag moet doen nie. Hy sê dat hulle nie moet steel en nie ander mense moet doodmaak nie. Ons sal miskien nie al Sy redes vir die gebooie verstaan nie, maar ons kan alleen gelukkig wees en Sy seën ontvang as ons sy gebooie bewaar. Ons moet al sy gebooie altyd hou en alleen dan mag ons verwag dat dit met ons en ons kinders sal goed gaan.

"Maar ons moet nog 'n paar edelstene soek en baie gou ook, anders word dit te laat om ons hangertjie vanaand klaar te maak. Ek dink ons moet ook 'n topaas daarin sit. Daar is een in Mattheus 5 verse 17 en 18 - sal jy dit lees?"

Weer het Doreen die woorde gelees wat Jesus gebruik het in Sy Bergpredikasie: 'Moenie dink dat Ek gekom het om die Wet ... te ontbind nie... Totdat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat dit alles gebeur het nie.' "Raai, daar is twee topase in hierdie tekste!" sê Doreen.

"Ja daar is en hulle is albei so belangrik dat ons hulle seker in ons hangertjie moet sit. Hulle betekenis is baie duidelik. Jesus het geen deel van die wet verander toe Hy op die aarde was nie en dit sal ook nooit verander word 'totdat die hemele en die aarde verbygaan' nie. Dit is dus baie duidelik dat Jesus nog wil hê dat ons die Tien Gebooie moet hou net soos hulle in die Ou Testament geskryf staan.

"En nou nog net een of twee steentjies meer en dan sal ons klaar wees vir vanaand. In Psalm 19 is daar ook 'n baie mooi topaas, dit is in die agtste vers," gaan Mammie voort.

Doreen het dit opgesoek en lees: "Die wet van die Here is volmaak: dit verkwik die siel."

"Hoe meer ons aan God se volmaakte wet dink en die feit dat Hy al die gebooie vir ons beswil gegee het, hoe meer sal ons harte tot Hom aangetrokke voel.  Nou moet ons nog net 'n mooi opaal soek om die hangertjie klaar te maak. Ons sal dit vind in Psalm 119 vers 10. Moenie moeite doen om dit op te soek nie, want jy is nou al seker baie moeg. Dit lui so: 'Laat my nie afdwaal van u gebooie nie'. Dit is 'n baie mooi gebedjie wat ons van dag tot dag moet onthou. As ons maar net bewaar kon word van afdwaling van Sy gebooie, sou ons altyd baie gelukkig wees!"

"Dit is altesaam ses edelstene wat ons in die hangertjie gesit het Mamma," het Doreen opgemerk.

"Ja en ek hoop dat hulle nie net in daardie hartvormige hangertjie geplaas is nie, maar ook in daardie ander belangrike hangertjies - ons harte," het Mammie afgesluit.  (Word vervolg)