'n Dapper klein dogtertjie

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Ná daardie storie oor honde kan ons gerus een vertel oor voëls en hierdieeen is 'n ware verhaal met 'n spannende avontuur.

Geelman, 'n baie mooi kanarie, het aan 'n klein dogtertjie met die naam van Mienie behoort. Sy het saam met haar ouers buite die dorp gewoon.

Geelman was Mienie se verjaardaggeskenk en sy het hom regtig baie liefgehad. Alhoewel sy die allerfraaiste koutjie vir hom gekoop het, het sy hom soms laat uitkom om op haar skouer te sit of langs haar bord op die tafel. Al wat Mienie moes doen om Geelman te laat fluit dat die huis antwoord gee, was om saggies te sing.

Maar eendag het Geelman verdwyn. Sy deurtjie was oop en Geelman was weg. Mienie het die hele huis deursoek, maar tevergeefs. Toe het sy buite in die tuin in al die boompies gaan kyk en geluister of sy nie sy stemmetjie iewers hoor nie. Maar hoe sy ook al gesoek en geluister het, kon sy hom nie kry nie.

Mienie het baie ernstig met die hond en die kat gepraat. Sy het hulle om die waarheid te sê, verdink, veral die kat, maar hulle het albei heeltemal onskuldig gelyk.

Drie dae het verbygegaan en Geelman was nog weg. Arme Mienie se hart was baie seer, want sy h et gevoel dat sy nooit weer so 'n mak en oulike voëltjie soos Geelman sou kry nie.

Toe sê 'n buurvrou een môre vir haar. "Ek dink ek weet waar jou kanarie is."

"Regtig?" het Mienie verbaas gevra, "Waar, waar Tannie?"

"Kom saam met my en ek sal jou wys," het sy gesê."Ek dink ek het hom gehoor fluit."

"Kom sommer nou," het Mienie gesê en sy was reeds by die voordeur uit.

"Hiernatoe," het die tannie gesê en sy het begin aanstap put se kant toe. Daar gekom, het Mienie haar hand styf vasgehou en in die put afgekyk.

"Luister!" Aandagtig luister albei. Toe hoor hulle onder uit die donkerte 'n dowwe "Tjilp, tjilp!"

"Dis Geelman, dis Geelman!" het Mienie uitgeroep. "My arme Geelman! Hoe gaan ons hom ooit uitkry?" het Mienie beangs gevra.

"Kon ons gaan vertel vir jou Pappie. Miskien kan hy aan 'n plan dink."

Hulle het terug huis toe gehardloop terwyl Mienie skree: "Ons het hom gekry. Hy is onder in die put. Hoe gaan ons hom daar uitkry Pappie?"

"Ek is bevrees dis onmoontlik. Die put is baie diep en ek het nie 'n leer wat lank genoeg is nie," het Pappie gesê.

"Maar ons kan nie vir Geelman daar laat bly nie," het Mienie huilend gesê. "Ek sal afgaan om hom te gaan uithaal."

"Jy in die put afgaan?" het Pappie uitgeroep.

"Ja, ek sal. Ek kan in die emmer afgaan, dan sal ek hom vang en Pappie kan my weer optrek."

"Ons kan dit nie doen nie," het Pappie gesê.

"Maar ons moet. Daar sal niks verkeerd gaan nie. Toe Pappie, kom! Kom ons gaan nou voordat Geelman dood is," het Mienie gepleit.

Mienie was so ernstig dat Pappie ingewillig het en saam het die drie weer put toe gestap. Weer het hulle in die diep donker put afgekyk.

"Is jy seker jy wil afgaan?" het Pappie gevra.

"Ja, ja, ek wil," het die dappere klein Mienie gesê. "Hoor Pappie nie hoe Geelman my roep nie?"

Sonder om verder te praat, het sy in die emmer geklim. Pappie het die tou styf om haar gebind sodat sy nie kon uitval nie en toe, baie, baie versigtig, het hy haar oor die rand laat gly.

Af, af, af, het Mienie gegaan. O, hoe donker was dit nie! Maar namate sy dieper afgegaan het, het Geelman se gejilp al harder en harder geword. Dit het gelyk of hy kon raai dat Mienie aan die kom was. En Mienie het nie omgegee dat dit so donker was nie, want sy wou haar maatjie graag red.

Pardoems! Die emmer het die oppervlakte van die water bereik en Pappie het nie die tou verder afgerol nie, net styf vasgehou!

"Geelman, Geelman!" het Mienie geroep terwyl sy oral rondkyk. Ja, daar was die verskrikte klein voëltjie. Hy het op 'n randjie teen die muur van die put gesit. Sy het haar handjie uitgesteek en hom geneem en toe het sy vir Pappie gevra om haar weer gou-gou op te trek.

Stadig en al hoër en hoër het die twee opgekom en eindelik was hulle weer bo in die lig. Pappie het sy liewe klein dogtertjie aan sy bors gedruk, want hy was baie trots op haar.

"Maar was jy nie bang nie?" het Pappie gevra.

"Natuurlik nie!" het Mienie gesê, "ek het geweet Pappa hou bo vas."

"Wel," het Pappie gesê toe hy die verhaal daardie aand aan die ander vertel, "ek hoop ons sal altyd ons hemelse Vader ook so vertrou soos Mienie my vanmôre vertrou het."

Ek hoop ons doen dit. As alles om ons donker lyk, kan ons opkyk en weet dat Iemand op ons in liefde neersien.


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete