Moet nooit opgee nie

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

"Ag, dis sommer 'n deurmekaar spul!" het Tommie kwaad gesê terwyl hy die gereedskap neergooi, sy hande in sy broeksakke steek en uit die werkswinkel stap.

"Wat Makeer Tommie?" het Pappie gevra, want hy kon aan die uitdrukking op Tommie se gesig sien dat iets verkeerd geloop het.

"O, dis daardie vliegtuigmodel waaraan ek gewerk het, Pappie. Ek kan dit eenvoudig nie regkry nie en ek is nou moeg daarvoor - ek gaan nie meer verder probeer nie," het Tommie ergerlik geantwoord.

"Maar dis vreeslik, wat het dan verkeerd geloop?" het Pappie gesê.

"Ek kan niks regkry nie," het Tommie ongeduldig gesê. "Die onderdele pas nie, die lym wil nie hou nie en die papier hou aan skeur. Ek is nou moeg vir alles. Alles is nou 'n gemors en ek voel dat ek nie weer daaraan wil raak nie. Ek dink ek sal 'n bietjie gaan voetbal speel met die ander seuns."

"Bedoel jy dat jy gaan opgee?"

"Ja," het Tommie beslis gesê. "Ek het nie meer lus om vliegtuie te maak nie en ek is nou keelvol daarvan."

"Maar Tommie, dis glad nie die manier om te praat nie. Dink aan die ou gesegde, 'Aanhouer wen', "het Pappie gesê.

"Pappie, ek is vir altyd klaar met vliegtuie. Daar is te veel ou klein dingetjies en as alles nie mooi pas nie, dan wil niks pas nie en alles is naderhand vol lym. Ek gaan maar liewer speel."

"Laat ek 'n bietjie daarna kyk, miskien is sake nie so donker as jy dit voorstel nie,"  het Pappie gesê.

"Nou goed dan, Pappie kan maar daarna kyk, maar ek sê dit sal nie help nie," h et Tommie gebrom.

Toe is die twee na Tommie se werkswinkel en Pappie het dinge bietjie ondersoek.

"Dit lyk vir my of jy nie die voorskrifte en aanwysings te goed gevolg het nie. As jy versigtiger gemeet het, sou jy jouself baie moeite bespaar het."

Terwyl hy dit sê, het Pappie twee stukkies hout opgeneem wat Tommie weggegooi het as nutteloos en nadat hy 'n rukkie daaraan gewerk het, het hulle baie mooi gepas.

"Wel, wie sou dit ooit kon dink, hulle pas!" het Tommie uitgeroep.

"Natuurlik pas hulle, Tommie. Jy moet net nie so haastig wees nie en ook nie so gou moedeloos word nie."

Pappie het nog vir ' n tydjie gewerk met die stukkies hout wat daar gelê het. Geleidellik het die vliegtuig begin fatsoen kry - en hierdie keer was dit reg - en Tommie se belangstellilng het toegeneem.

Terwyl hy gewerk het, het Pappie gepraat. "Weet jy Tommie, niemand kom ooit ver tensy hy leer om aan te hou en nie moed op te gee nie, al loop dinge soms verkeerd. Ons moet aanhou totdat al ons moeilikhede oorwin is."

"Wel, die vliegtuig lyk nou baie beter, dink Pappie nie so nie?"

"Ja," het Pappie geantwoord terwyl hy maar voortgewerk het. "Laat ek sien. Het jy al ooit gehoor van die seun wat olie ontdek het in Kalifornië?"

"Nee," het Tommie geantwoord, met sy oë op die vliegtuig gerig.

"Wel, ek wil jou van hom vertel. Hierdie seun het sowat sewentig jaar gelede daarheen gegaan. Hy het 'n voorgevoel gehad dat daar olie was op 'n sekere plek genaamd Ventura. Hy en 'n vriend het toe begin boor vir olie. Hulle het nie 'n moderne boormasjien gehad nie, sommer 'n ouderwetse boor wat hulle met hul hande moes werk. Vir dertig dae het hulle aangehou en al dieper geboor. Later het hulle 'n jong boompie gebruik as veer om die boor te help optrek. Alles het hopeloos gelyk. Baiemaal was die versoeking sterk om op te gee. Maar hulle het aangehou en toe hulle dertig voet diep was, het die olie bo begin uitkom."

"Pasop vir jou vingers met daardie beitel, Pappie, netnou sny hy jou," het Tommie gesê.

"Ek is versigtig," h et Pappie gesê en die vliegtuig het mooi begin vorm kry. "En nou, nog iets omtrent daardie seuns in Kalifornië. Toe hulle ontdek dat die stroompie olie uit die gat maar baie swak was, het hulle 'n ander gat begin boor net oorkant die kloof. Maar daardie gat het ook maar 'n baie swak stroompie gelewer. Toe het hulle 'n ander gat geboor en daar het hulle niks gekry nie - nie 'n druppel nie."

"Dit was darem baie teleurstellend," het Tommie opgemerk.

"Dit was, maar hulle het nie moed opgegee nie. Hulle het besluit dat hulle die gate nie diep genoeg geboor het nie. Hulle sou baie dieper boor totdat hulle soveel olie kry as hulle wou hê."

"Pasop vir die papier aan daardie vlerke, Pappie, dit skeur sommer maklik."

"Ek sal versigtig wees," het Pappie voortgegaan. "Daardie twee jongmanne het toe weer begin boor. Dag na dag, week na week en m aand na maand het hulle al dieper geboor met hul ouderwetse boor. Jy sal nooiot raai hoe diep hulle geboor het nie."

"Omtrent 'n honderd voet," het Tommie gereken.

"Nee, seshonderd voet! Ek weet nie hoe hulle dit reggekry het nie, maar hulle het tog. Dit is vir jou aanhou daardie né!"

"En het hulle die olie gekry," wou Tommie weet.

"O ja, hulle het. Dit het 'n sterk stroom uitgevloei - sowat honderd en vyftig vate per dag. Dit was die begin van die groot olienywerheid van Kalifornië. Dit is toe ook - danksy die vasberadenheid van daardie twee jongmanne - dat die Standard Oliemaatskappy gestig is wat vandag oor die hele wêreld bekend is. Elke keer wanneer ons petrol of olie vir ons motor koop, behoort ons te dink aan daardie twee seuns wat nie wou moed opgee nie."

"Die vliegtuig lyk nou baie mooi, Pappie. Ek dink ek kan dit nou self verder klaarmaak."

"Goed, so moet 'n man praat. Begin weer en oorwin," het Pappie gesê en die werk weer aan Tommie oorhandig.

Sowat twee dae later, toe die lym heeltemal droog was, het Tommy sy vliegtuig getoets. Dit het 'n rilling van tevredenheid deur hom laat gaan. Hy het gewen. Natuurlik het Pappie hom 'n bietjie gehelp, maar dis hy self wat die werk klaargemaak het. Dit was nou nie meer 'n gemors daar in die werkswinkel nie, maar 'n staatmaker vliegtuig. Toe dit deur die lug trek, het hy gemeen hy hoor dit fluister: "Moet nooit opgee nie. Aanhouer wen."

Tommie het nooit die les vergeet van daardie twee jongmanne wat nie wou opgee nie.