Moeilikheid op die Strand

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Lena en haar broertjie, Eddie, het so pas by die stand aangekom, dit was hulle eerste besoek.

Van alle kinders behoort hulle die gelukkigste te gewees het, maar moenie glo nie. O nee, inteendeel, hulle was baie stout.

Vir elkeen van hulle het Mammie 'n nuwe grafie gekoop - die een was rooi en die ander groen. Albei wou die rooi grafie hê, alhoewel die groene net so mooi was.

Hulle het ook elkeen 'n emmertjie gekry, maar die een het so 'n klein duikie gehad en daarom wou nie een van hulle die emmertjie hê nie en het toe ook daaroor baklei.

Toe hulle eindelik begin grawe, wou albei op dieselfde plek grawe, nes of daar op daardie groot strand nie genoeg plek vir albei was nie.

"Ek het eerste hier begin grawe," het Lena gesê.

"Nee, jy het nie - ék het," het Eddie gesê en hy het sommer bo-op die hopie sand gespring wat Lena reeds uitgegrawe het.

"Jou narde ding!" het Lena geskree. "Jy het my kasteel verpletter, nou sal ek jou darem 'n les leer."

En toe het sy vir Eddie begin jaag; Eddie het geval en Lena het op hom geval. Daar was 'n vreeslike gestoei en eindelik het albei gehuil so hard as hulle maar kon. Al die mense rondom hulle het vir hulle gekyk.

"Dit is nou 'n mooi grap," het Mammie gesê, toe sy by hulle kom. "As dit die manier is waarop julle gaan vakansie hou, sou ek liewer sien dat ons maar huis toe gaan."

"Dit is haar skuld," het Eddie gesê.

"Dit is nie, dis sy skuld," het Lena geskree, "hy het op my kasteel gespring."

"Sy het gegrawe waar ek wou grawe," het Eddie huilend gesê.

"En hy het die grafie en emmer wat ek wou hê," het Lena gesanik.

"O my liewetjie!" het Mammie radeloos gesê en haar ore toegehou. "Waarom het ek julle twee tog na die strand gebring? Weet julle waarna julle lyk? Julle lyk soos twee paaiboelies."

"Ek is nie 'n paaiboelie nie," het Eddie geprotesteer.

"Wel, jy behoort net in die spieël te kyk. Dit is darem vreeslik soos julle jul hier gedra op hierdie heerlike somersdag. Sê nou julle bly soos julle nou is - sal dit nie vreeslik wees nie?"

"Maar hy moes nie op my kasteel gespring het nie ...." het Lena weer begin.

"Lena, sal jy nou stilbly? Is hier dan niks op die mooi strand waarvoor jy dankbaar is nie?"

"Nee, ek kan niks sien nie," het Lena huilend gesê.

"Kom julle twee nou met my saam," het Mammie gesê. Sy het hulle aan die hand geneem en hulle na 'n plek gelei waar daar speletjies was, 'n endjie daarvandaan. "Ek wil julle iets wys."

Brom-brom het hulle saamgestap en hulle het nie gemerk dat Mammie hulle na 'n plek geneem het, bekend as die "Laghuis" nie. Daar was 'n spieël wat 'n mens se gesig allerhande fatsoene getrek het.

"Kyk nou na julleself daar in die spieël en dan sal julle sien hoe julle vir ander mense lyk."

Hulle het gekyk en o, watter vreeslike gesigte het hulle gesien! Hulle het twee baie lang gesigte en lang arms gesien en ronde, vet magies. Dit was so snaaks dat hulle nie hul lag kon hou nie.

Beidde Lena en Eddie het begin lag en dit het al luidrugtiger gegaan. Dit was die soetste klanke wat Mammie nog daardie more gehoor het.

"Ons het werklik soos twee paaiboeliles gelyk, het ons nie?" het Eddie uitgeroep.

"Natuurlik het julle. en elke keer as julle weer begin rusiemaak, sal ek julle na daardie spieël stuur," het Mammie gesê.

Hulle het almal hartlik saamgelag en toe het hulle lekker gaan speel, sodat die vakansie darem goed begin het.

Om die dam Perderoete