Moeder se Duimhandskoene

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Daar was 'n groot geraas bo in een van die kamers en Mammie het gewonder wat dit kan wees. Dit was Malie wat klaargemaak het vir skool, maar sy het laaietjies u itgetrek en deure toegeklap dat dit 'n naarheid was en daar was ook 'n geskree wat glad nie mooi was nie.

"Wat makeer, Malie?" het Mammie boontoe geroep. "Jy sal laat wees vir skool as jy nie gou maak nie."

Malie het bo by die trap verskyn, sommer baie ontstel. "Ek het orals gesoek. Iemand het hulle seker weer gevat, of hulle is weg. O liewe land!" En toe is Malie sonder die handskoene die trap af na die voordeur, net betyds om die bus te haal. "Die agtelosige kind!" het Mammie gesê terwyl sy die deur toemaak. "Dit is nou die derde paar wat sy hierdie jaar verloor. En die lawaai wat sy opskop! Ek dink ek behoort haar vanaand te vertel van my Ma se duimhandskoene, miskien sal dit help."

Toe Malie daardie namiddag tuiskom, het Mammie sommer die eerste geleentheid gebruik om die storie te vertel, want Malie is baie lief vir 'n storie en sy was dadelik gereed daarvoor. "Ek wil jou graag iets vertel van my Mammie. Dit is 'n verhaal wat sy my eenmaal vertel het en ek het dit nooit vergeet nie. Toe sy 'n klein dogtertjie was, het sy op 'n plasie gewoon in die berge van Skotland. Haar ouers was baie arm en almal - oud en jonk -  moes werk en baie hard werk. Haar Pa was 'n baie streng man wat geglo het dat mens kinders moet opvoed deur hulle dikwels te slaan. 

Klein Maria - my Ma, jou Ouma - was baie bang vir hom. Sy het geweet dat as sy iets verbrou, het daar 'n pak slae vir haar gewag.

"Eendag, toe sy maar nog baie klein was, moes sy gaan skape oppas en sy moes haar driejarige sustertjie met haar saamneem!
"Dit was baie koud en klein Maria was regtig dankbaar om 'n paar lekker, warm duimhandskoene te hê wat haar Moeder vir haar gebrei het."

"Duimhandskoene!" het Malie gesê, "dan het sy ook duimhandskoene gehad?" "Ja sy het en ek wil jou vertel wat met hulle gebeur het - en ook met klein Maria. Sy het daardie koue dag agter die skape deurgebring en toe dit begin aand word, het sy die skape teruggejaag na die kraal. Sy het die skape getel en weer getel, want sy het geweet wat om van haar Vader te verwag as daar een weg is.

"Eindelik het sy naby die huis gekom. Daar was 'n lig in die kombuis en daar het 'n lekker vuur gebrand. Hoe heerlik het dit nie gelyk nie! Hoe lekker sou dit nie wees om daar te kan sit en warm bak nie! Nou was sy by die deur, dit word oopgemaak en daar het haar Pa gestaan. Hy het klein sussie laat binnegaan, maar hy het Maria strak aangekyk. Hy het geen vriendelike woorde vir haar gehad nie, want hy het gemerk dat een van haar duimhandskoene weg was.

"'Wat beteken dit?" het hy bars gevra. "'Jy moet daardie handskoen nog vanaand gaan soek voordat jy kan binnekom, so nie sal jy 'n pak kry'."

"Mammie, slae kry omdat 'n duimhandskoen verloor is!" het Malie uitgeroep.

"Ja, en die arme kind moes weer in die verskriklike koue gaan soek na die handskoen. Maar waar sal sy dit vind? Sy het dan die hele dag agter die skape geloop en dit kon op enige plek daar in die veld gelê het. Waar sou dit wees? O, hoe het sy gewens dat sy kon teruggaan na daardie warm kombuis! Maar sy het geweet dat sy dit nie kon waag nie. Sy sal moet buite bly totdat sy die handskoen kry.

"Eindelik het sy, bibberend van die koue, besluit om in die varkhok te gaan. Sy het geweet dat dit daar nie sou koud was nie. Die varke sou haar warm maak. Dit was terwyl sy daar in die varkhok was, dat sy skielik aan God gedink het. Miskien het die varke haar laat dink aan die verlore seun....ek weet nie. Maar sy het sommer daar neergekniel en haar droefheid aan die Here vertel. Sy het Hom vertel dat sy die hele dag swaar gewerk het, dat sy probeer het om goed te wees, dat sy vir haar klein sussie gesorg het en dat dit 'n ongeluk was dat die handskoen weggeraak het. Dit was weg en sy het nie geweet waar om dit weer te vind nie. Sal God haar asseblief help om dit weer te vind, want dit was so koud en sy was baie honger en wou baie graag teruggaan na die heerlike warm kombuis."

"Die arme ding," het Malie gesê "en dit alles net oor 'n ou handskoen!"

"Ja, en dit alles net oor 'n handskoen. Maar Malie, wat dink hy het gebeur toe Maria van haar knieë opgestaan en uit die varkhok gestap het?"

"Ek kan glad nie raai nie, Mammie."

"Wel, haar voet het teen iets sag geraak en toe sy afkyk, het sy die verlore duimhandskoen daar sien lê! Sy het dit vinnig opgetel, na die kombuisdeur gehardloop en daar is sy eindelik verwelkom."

"Maar waarom het Mammie vir my hierdie storie vertel?"

"Malie, kan jy nie raai nie? Onthou jy die lawaai wat jy vanmore gemaak het en hoe jy eindelik in 'n baie slegte bui skool toe is - en dit alles net oor 'n duimhandskoen?"

"Maar dit was genoeg om enige mens kwaad te maak, Mammie," het Malie gesê en toe - ná 'n rukkie van stilte gesê "Mammie bedoel tog nie dat ek God moet vra om my te help om daardie verlore handskoen weer te vind nie? So-iets mag lank gelede gebeur het, toe Ouma nog 'n klein dogtertjie was, maar...."

"Maar Malie, God verander nie. Hy is gister en vandag en tot in eweigheid dieselfde. En dieselfde God wat my Ma gehelp het om haar verlore duimhandskoen terug te kry, kan my ou dogtertjie ook vandag help. Wanneer ons Hom vra om ons met die klein dingetjies van die lewe te help, sal al ons droefheid weggaan en ons sal nie meer kwaad wees en lawaai maak en skree nie."

"Wel, miskien sal ek dit die volgende keer probeer."

"Ek weet dit sal help Malie. Ons mag nie altyd die goed terugkry wat ons verloor het as ons die Here vra nie; soms verhoor God nie sommer dadelik ons gebede nie, maar dit weet ek, net om Hom te vertel van ons moeilikhede, sal baie help."