Mejuffrou Ditisnie

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Moet nou nie dink dat dit haar regte naam is nie. Ek durf nie haar regte naam noem nie, want sy kan dalk hierdie storie lees en dan sal daar mos moeilikheid wees, of hoe?

Maar julle het al seker meisies ontmoet soos hierdie een. 'n Mens sal  hulle sommer maklik uitken aan  hul gewoonte om kort-kort te sê "dit is nie!". Daar is ook nog ander woorde wat hulle dikwels gebruik, soos byvoorbeeld "het nie" en "was nie".

Julle het nou al seker geraai dat Juffrou Ditisnie een van daardie onaangename dogtertjies is wat ander gedurig weerspreek. En julle het reg geraai.

As haar klein boetie uitasem kom vertel watter mooi kasteel hy gemaak het daar in die sand, sal sy sê "Dit is nie", wanneer sy net so maklik kon gesê het "Dit is regtig 'n mooi kasteel!"

Of miskien is dit een van haar ander broertjies wat van die skool af kom met die kaart wat hy in die skool geteken het. "Kyk bietjie hier," roep hy trots uit, "is dit nie 'n goeie tekening nie?"

"Dit is nie, dis glad nie so wonderlik nie. Enige esel kan so 'n kaart teken," sê sy dan. Dan het daar 'n stryery begin wat nie gou weer gestaak is nie.

Maar Juffrou Ditisnie het nie net haar broers en susters weerspreek nie, sy het dit selfs met haar Pa en Ma probeer.

Mammie vertel byvoorbeeld iets tydens die etenstyd. Sy vra: "Kinders is julle nie bly dat die henne weer begin lê het nie? Gister het ek vier eiers gekry."

"Dit is nie," weerspreek Juffrou Ditisnie haar.

Sy kry natuurlik 'n skrobbering wanneer sy grootmense weerspreek, maar dit help skynbaar nie. 

Pappie vra miskien "Weet julle wat ek vanmore in die stad gesien het? Ek het 'n kort mannetjie, seker nie langer as drie voet nie, op straat gesien!"

"Dit is nie," word hy weerspreek.

Mej. Ditisnie word dan natuurlik beveel om die kamer te verlaat, maar wanneer sy terugkom, is dit eenmaal so erg. Ergste nog was dat sy 'n mens soms in die teenwoordigheid van vreemdelinge weerspreek het, wanneer dit moeilik was om haar te bestraf.

Een aand het 'n baie aanvallige dame vir die aandete gekom en Mammie het gehoop dat al die kinders hulle baie goed gedra. Alles het ook vir 'n tyd goed gegaan, maar toe Mammie begin vertel wat klein boetie 'n paar dae gelede in die tuin gedoen het, het Juffrou Ditisnie haar goeie maniere totaal vergeet.

"U moes hom gesien het," het Mammie gesê, "hy het 'n groot gat met sy vurk gegrawe ..."

"Hy het nie!"

Daar het 'n frons op Mammie se gelaat gekom, toe het sy voortgegaan.

"Ek is seker daardie gat was ten minste twee voet diep..."

"Dit was nie!"

Daar het weer 'n frons op Mammie se gelaat gekom, maar sy het probeer om voort te gaan. "Die gat is nou nog daar..."

"Dit is nie!"

"Ek is bevrees," het Mammie aan Juffrou Ditisnie gesê, dat as jy so aanhou met jou tussenwerpsels, sal jou nuwe onderwyseres nie veel van jou dink nie."

"Wie is my nuwe onderwyseres?" het Juffrou Ditisnie gevra, taamlik ontstel.

"Hierdie dame," het Mammie geantwoord, "sy sal volgende kwartaal by die staf aansluit."

"O liewetjie!" het Juffrou Ditisnie uitgeroep en blosende van die tafel gevlug.

Mammie het gemaak asof daar niks gebeur het nie en sy het kalm voortgegaan om te vertel van die wonderbaarlike gat wat baba in die tuin gegrawe het. Maar ná die aandete verby en die dame weg was, het sy bo na die kamer van Juffrou Ditisnie gegaan. Daar het sy die kleine Juffroutjie in trane op haar bed aangetref. Sy het besef dat sy baie stout was en het geweet wat om te verwag. Maar bo alles was sy baie ontstel oor die indruk wat sy op haar nuwe skooljuffrou gemaak het omdat sy so oneerbiedig teenhaar Ma was.

"Hoeveel maal het ek jou al gesê om mense nié te weerspreek nie?" het Mammie sommer reg op die man af gevra.

"Ek weet nie," het sy snikkende gesê.

"Reken jy nie dat jy 'n goeie pak slae verdien het nie?"

"Ja Mammie," en nog meer snikke.

"Wel, ek gaan jou hierdie keer nie 'n pak gee nie, ek wil jou iets vertel as jy sal luister."

"Ja, Mamma," en daar was toe minder snikke.

"Wanneer jy my voor vreemde mense weerspreek, weet jy wat jy hulle laat dink?"

"Nee, Mammie."

"Jy laat hulle dink dat ek nie die waarheid praat nie. Hulle het net jou woord teen myne en hulle dink dat ek nie waarheid praat nie. Wil jy nou hê dat mense dit van jou Ma moet dink?"

"Nee, glad nie, Mamma! Ek wil nie hê dat hulle so moet dink nie," het Juffrou Ditisnie gesê.

"Wel, hulle sal dit tog dink en of hier nou vreemdelinge is of nie, behoort jy iemand nooit te weerspreek nie, want daar is altyd die moontlikheid dat die ander persoon tog reg kan wees. En wat meer is, dink jy nie dat dit dwaas is vir 'n kind om te wil voorgee dat sy meer weet as alle ander mense nie?"

"Dit is seker," het Juffrou Ditisnie gesê.

"En sal jy dit nooit weer doen nie?" het Mammie gevra.

"Nee, nooit, nooit, weer nie, Mamma."

Van toe af het daardie dogtertjie baie, baie hard probeer om haar woord te hou.