Margaret se Slippers

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Die lente was aan kom en Margaret, soos baie ander dogtertjies wat ek ken, wou nuwe klere hê en veral 'n paar nuwe pantoffels. Sy het haar Ma vreeslik lastig geval sodat sy eindelik verplig was om haar winkels toe te neem. Mammie het gesê "Nou j a, kom ons gaan winkel nie," en die twee is daar weg.

Hulle het 'n skoenwinkel binnegegaan, Margaret het op 'n stoel gaan sit en haar een voet op 'n klein banke geplaas, net of sy 'n grootmens was. Toe het 'n vriendelike dame gekom en Margaret se ou pantoffels uitgetrek en toe het sy nuwe aangepas.

Almal was vir haar baie mooi! So mooi dat sy nie kon besluit watter sy wou hê nie. Eindelik het sy 'n paar wittes gekies, met gespes, en Mammie het gesê dat Margaret baie verstandig gekies het. Mammie het die pantoffels toe betaal en toe het die twee die winkel verlaat. Margaret het die pakkie styf onder haar arm vasgedruk en sy was vreeslik in haar skik, want nou het sy mos haar nuwe pantoffels gehad!

Hulle is toe na 'n ander winkel om meer goed te kooop, want Mammie het gesê dat sy n ou 'n nuwe rok en jas moet hê om by die pantoffels te pas. Hulle het 'n groot winkel binnegegaan wat spesiaal kinderklere verkoop het. Die winkel was vol mense. Daar was so baie ander Mammas wat vir hul dogtertjies goed wou koop, dat dit 'n lang tyd gedruur het voordat hulle beurt gekom het.

Een van die klerke het gekom en Margaret het baie rokkies aangepas, maar sonder sukses. Sy kon niks kry wat  pas nie en as 'n rokkie nog gepas het, dan was die kleur verkeerd of dit was die verkeerde materiaal. Eindelik het Mammie gesê: "Miskien sal dit beter wees as ons 'n ander dag weer kom." En toe is hulle die winkel uit.

Toe hulle in die straat kom, het Margaret skielik geskrik. "My pakkie!" het sy uitgeroep, "waar is my pakkie?"

Sy het die pakkie vergeet. Hulle is dadelik terug na die winkel en daar begin verneem en soek, maar niemand het die pakkie gesien nie. Daar het so baie mense gekom en gegaan en almal was te besig met hul eie sake om hulle te bekommer oor iemand anders se pakkie. Mammie het haar naam en adres agtergelaat ingeval iemand die pakkie mag terugbring, maar sy het nie veel hoop gehad om die pakkie ooit weer te sien nie.

Die arme Margaret was baie hartseer en sy het gehuil - sy het die hele pad huis toe gehuil. Dit het Mammie so ontstel dat sy maar 'n ander paar pantoffels sou gekoop het, maar sy het nie meer geld gehad nie. Toe hulle by die huis kom, was Margaret maar nog in trane. "Ek wou so graag my nuwe pantoffels gehad het. Hulle was so mooi, ek wou hulle volgende Sondag kerk toe gedra het."

"Ek is baie jammer, ek wens dat ons iets omtrentt die saak kon doen, maar wat?" het Mammie gesê.

"Mamma," het Margaret gesê terwyl sy haar oë vir die soveelste keer afvee, "kan ons nie vir Jesus vra om die pantoffels terug te stuur soos dit daar in Slaaptydstories sê nie?"

Mammie het die gewoonte gehad om Slaaptydstories elke aand vir Margaret voor te lees en nou het sy skielik onthou van die verhoorde kindergebede wat daarin staan. "Wel Margaret, ek sien nie waarom Jesus nie ook iets spesiaal vir jou sal doen soos Hy vir die ander gedoen het waarvan ons gelees het nie. Waarom probeer jy nie? Waarom vertel jy Hom nie van jou pantoffels nie?"

Margaret het dit gedoen. Sy het by haar bed gaan neerkniel en gebid: "Liewe Jesus, laat asseblief die persoon wat my pantoffels geneem het, hulle terugbring. Sien U, Mammie het nie meer geld nie en sy kan nie vir my 'n ander paar koop nie en ek wil hulle so graag hê. Stuur hulle asseblief vir my terug."

Toe het sy in die bed geklim en haarself aan die slaap gehuil soos net 'n dogtertjie van vyf jaar kan.!

'n Ruk later het die telefoon gelui. Dit was die man by die winkel. "Ek dink ons het u pakkie terruggekry. Iemand het dit per abuis geneem en het dit nou net teruggebring. Dit bevat 'n paar pantoffels."

"Ja, dis reg, dis ons s'n," het Mammie opgewonde gesê. "Ek sal dit morevroeg kom haal. 

By Margaret was daar nie die minste of geringste twyfel nie dat sy haar pantoffels teruggekry het in antwoord op haar gebed nie.  Sy was so bly en dankbaar!