Man Oorboord

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Meer as een verhaal is reeds vertel van die dade van Lord Nelson wat in die ou dae die Britse Vloot in baie oorwinnings aangevoer het. Julle het almal al gelees van Trafalgar. Maar daar is een verhaal omtrent hom wat miskien vir ons die duidelikste toon watter moed en selfopoffering hom besiel en hom soveel roem besorg het. 

Hy was besig om deur die Straat van Gibraltar in 'n klein bootjie te vaar, met die doel om by die groot vloot iewers in die Atlantiese Oseaan aan te sluit. Skielik het twee Spaanse oorlogskepe hom gewaar. Spanje en Engeland was destyds groot vyande en daarom het die twee skepe dadelik vir Nelson agterna gesit in die hoop om hom af te sny en sy boot te laat sink voordat hy by sy vloot uitkom. 

Nelson was bewus van die gevaar waarin hy verkeer het en het soveel seil moontlik gehys, en teen alle hoop gehoop dat sy vloot hom sou sien voordat hy gevang word deur die Spaanse oorlogskepe.

Uur na uur het die agtervolging voortgeduur, en die twee oorlogskepe wat groot en sterk was, het stadig maar seker die klein bootjie van Nelson ingehaal. Nader en nog nader het hulle gekom. Nelson het voorberei om hom te verdedig, alhoewel hy geweet het dat hy geen kans gehad het nie. Hy sou nogtans sy bes probeer en wat ookal gebeur, hy sou nooit sy vlag stryk nie.

Toe skielik weergalm 'n geroep, "Man Oorboord!". Een van die hoë golwe het n man van die dek afgeslaan en hom die see ingeslinger. 

In daardie dae was 'n mens se lewe niks werd nie. En in 'n lewensgevaarlike toestand soos hierdie, met die vyand wat elke oomblik nader kom en die dood wat almal in die aangesig staar, wie sou omgee of een matroos verdrink?

Die nuus het Nelson se ore bereik. 

"Man oorboord," het 'n offisier geskreeu.

"Wie is dit?" het Nelson gevra.

"Harvey," was die antwoord.   

"Harvey!" Ons kan nie bekostig om Harvey te verloor nie," het Nelson uitgeroep. 

Toe, sonder om te aarsel, het hy daardie edele bevel gegee: "Omdraai! Laat 'n reddingsboot sak!"
Die manne het hom verbaas aangestaar, maar om te hoor, was om te gehoorsaam. Dadelik het die berig al die manne bereik dat Harvey ten alle koste gered moes word. Die boot het omgedraai, 'n reddingsbootjie laat sak, en dapper manne het teruggeroei, skynbaar reg in die kake van die dood in, om die worstelende man te red. 

Hulle het hom ook gered.

En toe het daar 'n snaakse ding gebeur. Skielik het die matrose opgemerk dat die Spaanse oorlogskepe van koers verander het. Sieklik het hulle omgedraai en teruugestuur in dieselfde rigting vanwaar hulle gekom het. Hulle het gedink, so is later uitgevind, dat Nelson sekerlik die Britse Vloot gewaar het, want anders sou hy mos nooit omgedraai het nie. 

Dus het Nelson se selfopoffering in die aangesig van doodsgevaar, hom, asook al sy manne, gered. En dit is dikwels die geval in die lewe.