Lomerige Lettie

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een


deur Arthur S. Maxwell

"Dis opstaantyd Lettie!" het Mammie geroep onder van die trap af. "Jy sal laat wees vir skool."

Lettie het net gekreun en omgedraai met 'n "Ja Mammie" en weer van haar poppe en die popspeelbedjie wat Pappie haar vir Kersfees belowe het, begin droom.

Ná vyf minute het Mammie weer geroep: "Lettie, staan nou dadelik op, anders sal ek jou self daar kom haal."

Hierdie keer het sy darem sover gekom om onder die komberse uit te kruip, maar sy was nog so lomerig dat sy laat was vir ontbyt en daardeur natuurlik ook laat vir skool.

Mammie was baie ontevrede, want dit was nie die eerste keer nie. Dit het elke dag gebeur. Elke oggend het dit ewe swaar gegaan om Lettie uit die vere te kry om betyds aan die ontbyttafel te gaan sit. Wat moes Mammie doen?

"Wel," het sy gedink, "ek moet iets doen, anders word my dogtertjie lui groot." Sy het die saak goed oorpeins en eindelik 'n plan gekry.

Die volgende oggend het sy Lettie soos gewoonlik geroep en soos gewoonlik was daar geen antwoord nie. Mammie het haar maar laat slaap. Die ander het hul ontbyt geëet en Mammie het aangegaan met haar werk.

So omtrent tienuur het 'n stemmetjie van bo af geroep" "Moedertjie, ek is honger. Kan ek nou maar my ontbyt kry?"

"Ontbyt!" Mammie was verbaas. "Ons het lankal die tafel afgedek, Dis nou al by na tyd vir die middagete."

Lettie het begin huil. "Ek wil darem nou my ontbyt hê!"

Maar Mammie was beslis - soos alle moeders behoort te wees - en sy het aan Lettie gesê dat daar van daardie dag af net een tyd sou wees vir ontbyt en dat dogtertjies wat nie betyds daar is nie, maar daarsonder sal moet bly. Die volgende more het Lettie weer vergeet en sy was weer haar ontbyt kwyt. Maar sy was darem amper betyds op skool.  Maar sy het baie gou vergeet, want net die volgende oggend was sy weer laat vir ontbyt.

"Wat moet ek nou doen?" het Mammie gedink. Daardie dag het sy 'n splinternuwe plan gekry. Daardie aand sê sy: "Lettie, jy is altyd soggens baie moeg as ek jou roep. Ek dink dat hy vroeër moet gaan slaap. Van nou af gaan jy saam met baba slaap."
Maar Lettie het beswaar gemaak: "Ek is mos nie 'n baba nie!"

"Nee, maar jy gedra jou soggens soos een. Om nou eerlik te wees, die baba is soggens glad nie so lomerig en vaak soos jy nie," sê Mammie.

Daardie aand het Lettie om half-sewe saam met die baba gaan slaap. Sy het daaroor gehuil totdat sy aan die slaap geraak het, maar die volgende oggend was sy betyds wakker en uit die bed en sy het ewe opgeruimd aan die ontbyttafel gaan sit.

Toe het Mammie eindelik die geheim ontdek! Lettie was glad nie lui nie, sy was net doodmoeg. Daarna het Lettie elke aand baie vroeër gaan slaap as wat haar gewoonte was en solank sy daarmee volgehou het, was sy nooit weer laat vir ontbyt of vir skool nie.

"Die môrestond het goud in die mond."