Koot se motorboot

Die groot droom van sy lewe het waarheid geword. Baie, baie jare lank verlang Koot al na 'n regte motorboot; en nou einde ten laaste het hy dit gekry. Net vanmore nog het sy oom dit vir hom gebring vir 'n verjaardaggeskenk.

Hoe bly was Koot tog nie!

Eerste, natuurlik, met dit in die bad getoets word net om te sien of dit werklik kan "gaan". Maar nou dat Koot gesien het dit werk en dat dit maklik deur die water sny, kon hy nie rus voordat hy dit meer toe geneem het nie.

Gewapen met 'n bottel brandspiritus, 'n dosie vuurhoutjies en sy kosbare boot, het hy dan ook aanstaltes gemaak om te loop.

"Jy moet versigtig wees," het Mammie gesê.

"Natuurlik," het Koot beloof.

"En sorg dat jy sesuur terug is."

"Ja Mamma."

En daar trek hy.

Hoeveel pret het hy nie gehad nie! Hoe lekker om te sien hoe die bootjie stoom maak totdat die enjintjie met baie geskiet en geknal begin loop en die skroefie voor begin sing!

Daar trek die bootjie oor die meer en Koot nael met sy kaal voete om dit anderkant te gaan inwag. So opgewonde was hy dat hy in die water inloop om dit te vat as dit naby kom. En dan draai hy dit weer om en laat dit in 'n ander rigting koers vat. Hy was verbaas om te sien hoe ver die bootjie vaar nadat hy dit net een maal volgemaak het en elke keer wanneer dit die wal bereik het, hy probeer om dit nog verder te laat vaar.

Die tyd gaan gou verby as 'n mens gelukkig is en Koot het nie opgemerk hoe laat dit geword het nie. Maar later het die skaduwees begin lank word en hy vra toe 'n man wat daar verbygaan, hoe laat dit is.

"Half-ses."

"Allawêreld! Ek sal netnou moet gaan. Nog net een keer oorkant toe," sê Koot.

Maar hoe dikwels gebeur dit nie dat die "nog net een keer" regtig "een keer te veel" is nie?

Dit was ook met arme Koot die geval. Vir die laaste slag het hy besluit om die boot die heel verste te stuur. Indien dit die beoogde landingsplek bereik, het hy geredeneer, sal dit sommer digby die voetpaadjie waarmee hy moes huis toe gaan, wees en dit sal in werklikheid tyd bespaar as hy die laaste reis die langste maak.

Gou weer stoom maak - en daar trek die bootjie op sy lang reis terwyl se oë straal van vreugde.

"Halfpad oor!" sê hy saggies vir homself.

Toe voel dit of sy hart gaan staan. Die motorboot het tot stilstand gekom. Dit het sowaar gaan staan. Hy sien nie dat dit beweeg nie, alhoewel dit vir hom lyk of hy stoom by die veiligheidsklep sien uitborrel. Ja, dit het regtig gaan staan.

Wat gebeur het, kon hy nie verklaar nie. Miskien het hy die boot te veel gebruik op een agtermiddag; miskien het die olie opgeraak; miskien, vreeslike gedagte, sit dit vas tussen die riete. Arme Koot het nie geweet nie. Hy het daar op die wal, met sy oë op die bootjie gevestig, gestaan, hopende dat dit weer sou vat. Maar dit het doodstil gelê. Al meer en meer het die gevoel by hom posgevat dat dit vassit. Hoe sal hy dit ooit weer in die hande kry? In die verte hoor hy die fabrieksfluit.

"Dis nou vyf minute voor ses," sê hy vir homself, "en ek moet sesuur by die huis wees!"

Arme Koot! Wat moet hy doen? Hy moes sy belofte aan sy Ma nakom, want hy het dit altyd gedoen. Maar as hy nou pad gee, sal ilemand sekerlik die boot uuithaal voordat hy weer kan terugkom. Desperaat loop hy in die water in sover as wat hy durf gaan, maar hy vind dat dit skielik diep word, sommer net 'n paar treë van die kant af en hy moes dus maar omdraai.

Weer kyk hy na sy bootjie waar dit saggies op en af wieg in die middel van die meer. Toe dink hy hoe laat dit is.

"Ag, wat sal ek doen?" vra hy homself.

Daar was niemand naby wat hom kon help nie, want die paar mense wat daar was, het alreeds huis toe gegaan. Skielik kom daar 'n ongewone gedagte by hom op. sommige van julle sal miskien glimlag as julle hoor wat dit was. Dit was die woorde van 'n lied wat hy 'n paar dae vantevore in die kerk gesing het. Hy het die woorde nog onthou:

"Wat 'n Vriend het ons in Jesus / Wat ons smart en sonde dra. / Wat 'n voorreg om die Vader / Alles in Sy Naam te vra!"

"Maar," het Koot vir homself gesê, "Jesus stel tog seker nie belang in my motorbootjie nie!" Hy glimlag amper by die gedagte. Dan voel hy weer skielik so onrustig dat hy sê "Waarom nie? Miskien stel Hy tog belang."

En net daar by die water het Koot sy oë gesluit en Jesus gevra om na sy bootjie te kyk terwyl hy huis toe hardloop om sy belofte na te kom.

Hy het vir oulaas nog een maal na sy waardevolle bootjie gekyk en toe so vinnig as wat sy bene hom kon dra, huis toe gehardloop.

Hy was 'n paar minute laat, maar Mammie het nie geraas daaroor nie, want sy het dadelik gemerk dat hy baie sleg voel. toe sy hoor dat hy selfs sy boot op die meer laat agterbly het om sy belofte aan haar na te kom, het sy regtig baie trots op hom gevoel.

"Na ete," het sy gesê "sal ons altwee soontoe gaan, al is dit donker en ons sal sien wat ons kan doen met 'n stuk lyn."

Hulle het gou geëet en teen half-agt was Koot en sy ma op pad meer toe, met 'n flitslig en 'n stuk lyn.

Toe hulle daar kom, het die maan ook net opgekom en helder oor die stil water geskyn.

Gretig het altwee gekyk of hulle nie miskien die bootjie in die donkerte kon gewaar nie.

"Dit het daar gelê," sê Koot en wys met sy vinger na die middel van die  meer.

"Ek kan dit nie sien nie," sê Mammie.

"Ek ook nie," sê Koot angstig.

"Miskien as die maan bietjie hoër klim...." begin Mammie hom moed inpraat.

"Nee, dit is weg. Ek weet net waar dit was. Dit het seker gesink," sê Koot droewig.

Hulle het heeltemal om die meer geloop, hopende dat dit miskien teen die kant uitgespoel het, maar hulle kon niks sien nie. Daar was geen teken van die boot nie.

"Dit sal nie help om verder te soek nie," het Koot gesug, "kom ons gaan maar huis toe."

En in sy hart het hy gesê "En wat het dit gehelp om Jesus te vra om daarna te kyk?"

Swaar voetstappe op die gruis agter hulle het hulle verskrik laat omkyk.

"Goeienaand," het 'n growwe stem gesê, "en wat maak julle hier in die donker?"

Dit was die oppasser.

"Ek het my bootjie vanmiddag verloor en ek en Mamma het daarna kom soek. Dit was my verjaardaggeskenk," sê Koot, nog steeds hartseer.

"Het julle dit al gekry?" vra die man vriendeliker.'

"Nee, ons het nie," antwoord Koot.

"Ek sou dink julle het nie. Dit is dan al klaar laat en donker. Kom agter my aan," sê die man.

Iets vreemds in sy stem het Koot weer nuwe moed laat skep.

Hulle draai toe om en volg die man weer na die anderkant van die meer tot by 'n ou boothuis. Daar het die oppasser gaan staan; hy haal 'n bossleutels uit sy sak en sluit die deur oop.

"Bring jou flitslig hier," sê hy.

Mammie het dit aangegee en skielik val die lig op sy kosbare bootjie.

"Daar is dit, daar is dit!" skree Koot, "hoe het Oom dit uit die meer uitgekry?"

"Met my skuit," sê die oppasser. "Ek het dit tussen die riete gesien en geraai dat 'n seun dit sou kom soek. Ek tot die skuit geneem en dit gaan haal."

"O, baie, baie dankie Oom!" sê Koot toe hy en Mammie die oppasser goeienag toewens. Hulle het vinnig huis toe gestap en Koot het die motorboot styf onder sy arm vasgeknyp asof hy bang was hy gaan dit weer verloor.

Op pad huis toe het hy saggies dankie gesê vir die Vriend wat hoor as 'n mens vra en wat selfs die gebed van 'n klein seuntjie vir sy boot verhoor.

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"As 

Om die dam Perderoete