Die Koning van die Matabeles

Mzilikazi trotseer die vyandskap van sowel die Voortrekkers as die Zoeloes en stig 'n groot nuwe ryk in die Noorde

Erens in Matabeleland, Zimbabwe, staan 'n groot granietblok. Op hierdie rotsblok is 'n gedenkplaat wat aangebring is deur die bolankes van Rhodesië, maar die onderwerp van  hul verering is 'n swartman - Mzilikazi, die stigter en koning van die stam van die Matabeles.

Die inskripsie lui: "Mzilikazi, son of Mashobane, King of the Matabele - A mountain fell on the 5th of September, 1868  All nations exclaim: Bayete!"

Wie was hierdie swart koning wat die verbeelding van die blankes van Rhodesië so aangegryp het dat hulle vir hom 'n monument opgerig het? Hy is dan nie eens daar gebore nie en het net die laaste deel van sy lewe daar gewoon. Hy het buitendien van ver gekom en baie omswerwings gemaak: Mzilikazi het nl. van die gebied tussen die Tugelarivier en Kosibaai aan die suidooskus van Suid-Afrika gekom; die gebied wat later bekend sou staan as Zoeloeland.

Mzilikazi is waarskynlik net voor 1800 gebore as eersgebore seun van Mashobane, wat behoort het tot die stam van die Khumalo. Die Khumalo was, soos al die Nguni-stamme, in verskillende onafhanklike groepe verdeel, elk onder hul eie stamhoof en Mashobane was een van die stamhoofde. Die moeder van Mzilikazi was 'n dogter van Zwide. Hierdie Zwide was baie meer as net nog maar 'n stamhoof van Mashobane. Hy het nl. daarin geslaag om die Ndwandwe-stam (in die omgewing van die Umfolozirivier) in 'n soort federasie te verenig en hy was nie die enigste om dit te doen nie. Die beroemde Dingiswayo het met die Methethwa's dieselfde gedoen en Sobhuza het die Ngwane's onder hom verenig in die gebied wat later bekend sou staan as Swaziland.

Hierdie ontwikkeling het 'n ware revolusie beteken vir die politieke struktuur van die noordelike Nguni-stamme. Oor die redes vir hierdie ontwikkeling stem die historici nie saam nie. Die geskiedenis voor 1800 van al die swart volke in suidelike Afrika is maar baie moeilik na te gaan. Die eerste handelaars en sendelinge het pas in die jare twintig van die 19de eeu in die gebied aangekom en toe was die beroemde ryk van Shaka, Dingiswayo se opvolger, al lank gevestig. Die aanneemlikste teorie is dat die verhouding tussen die bevolkingsaantalle en die aanwesige voedselvoorrade, vee en natuurlike hulpbronne in hierdie gebied omstreeks 1800 só ongunstig geword het dat sommige stamhoofde gedwing is om ander stamme se vee en voedselvoorrade stelselmatig te plunder. Mense soos Dingiswayo en Zwide het begin met 'n militêre re-organisasie wat van hul leërs formidabele en goed georganiseerde krygsmagte gemaak het. Hulle het ander stamme tydens hul veroweringstogte ingelyf en dit het dan weer gelei tot 'n politieke revolusie, want die opperste politieke gesag het nou nie meer by die stamhoof opgehou nie. Hy was nou deel van 'n groter politieke struktuur.

Teen dié agtergrond moet ons die opgroeiende Mzilikazi plaas. Volgens die gewoonde van die Nguni-stamme het hy grootgeword in die stam van sy moeder. (Stamhoofde het moontlike erfgename liefs so ver moontlik van hulle gehou!) Omstreeks 1816 was Zwide op die toppunt van sy mag. Hy het Sobhuza oor die Pongolarivier gedryf en Dingiswayo is deur middel van 'n lis deur hom gedood. Toe hy egter ook vir Shaka 'n val wou stel, het 'n neef van Mashobane die planne aan Shaka verraai. Die gevol was dat Zwide sowel hierdie neef as Mashobane om die lewe laat bring het. Mzilikazi het nou na die stam van sy vader teruggekeer as vasal van Zwide, maar as Zwide gedink het dat Mzilikazi 'n troue volgeling sou wees, het hy 'n fout begaan.

Die jare 1818-1819 is belangrik vir die geskiedenis van die Zoeloe-volk, want dit is in hierdie jare dat Shaka Zwide definitief in twee veldslae verslaan het, wat trouens die eerste werklike groot veldslae is wat in suidelike Afrika plaasgevind het. Hierdie oorwinnings het Shaka die basis vir die uitbou van sy koninkryk verskaf.

Hoe moet ons nou die jong stamhoof Mzilikazi se rol in hierdie ontwikkeling sien? Daar is teenstrydige getuienisse oor die rol en posisie van Mzilikazi. As ons alles teen mekaar opweeg, lyk dit aanneemlik dat Mzilikazi tussen die twee veldslae van party gewissel het. Ons moet maar raai wat sy motiewe was, want die veldslag van Qokli-heuwel (1818) was vir Shaka slegs 'n voorlopige oorwinning. Seker is dat hy Zwide, wat sy vader verraderlik vermoor het, meer gewantrou het as Shaka. Ons hoor eintlik vir die eerste keer omstreeks 1860 dat hy in groot guns by Shaka sou gestaan het,  maar ons het geen regstreekse bewyse daarvoor nie. Aangesien Mzilikazi ná sy vlug uit Shaka se ryk een van die grootste politieke en militêre leiers van sy tyd sou word, is dit beslis moontlik dat hy met sy talente vinnig in Shaka se regimente gevorder het. Buitendien was sy stam op die grens van Zoeloeland gevestig, wat sy posisie strategies belangrik gemaak het. Hoe dit ook sy, dit alles is bespiegelings.

Ons weet n et seker van één militêre ekspedisie wat Mzilikazi onder Shaka uitgevoer het en dit was teen 'n stam onder leiding van 'n sekere Somnisie aan die grens van Zoeloeland. Ons weet net dat Mzilikazi suksesvol was en baie vee buitgemaak het. Hierdie ekspedisie self is onbelangrik, maar die gebeurtenisse daarna is van die uiterse belang, want hulle h et gelei tot die uittog van die Khumalo's uit Zoeloeland en uiteindelik tot die geboorte van die Matabeles as volk.

By sy terugkeer het Mzilikazi nl. die meeste vee vir homself gehou en hopeloos te min aan Shaka gestuur. Toe afgesante van Shaka hom aan sy plig herinner, het hy volgens oorlewering die pluime van hul hooftooisels afgesny en gesê dat hy, Mzilikazi, geen koning bo homself erken nie. Of dit werklik so gebeur het, is onmoontlik om na te gaan, maar gesien sy latere optrede, is dit heeltemal aanneemlik. Want as daar een ding was wat sy handelinge bepaal het, dan was dit wel sy oorheersende drang na vryheid en onafhanklikheid.

Wat ons nie weet nie, is of hy teen daardie tyd ook al besluit het om heeltemal uit Zoeloeland pad te gee. Ons weet wel dat Shaka hom wou straf en dat daar tussen sy en Shaka se soldate verskillende bloedige gevegte plaasgevind het, waarby Mzilikazi telkens aan die kortste end getrek en baie vee verloor het. Ook 'n aansienlike klomp vroue en ou mans is gedood. Daar is dus aanwysings dat hy deur die omstandighede gedwing is om te vertrek, soos hy later so dikwels sou doen. Hy het dus eerder teen wil en dank rondgeswerf.

Wat het Mzilikazi aan die ander kant van die Drakensberge - waarheen hy nou gevlug het - aangetref? Die gebiede van die teenwoordige Noord-Kaapland, Vrystaat, Transvaal en Botswana is bewoon deur onafhanklike stamme met 'n verwante taal wat vir die Nguni's onverstaanbaar was, nl. Sotho. Die klimaat en geografie verskil duidelik van dié van Zoeloeland. In die winter kan dit bitter koud word en daar is nie digte bosse nie, maar oop veld en die land is ook baie platter.

Hierdie gebied was taamlik dig bewoon en Mzilikazi het waarskynlik maar met 300 mense daar ingetrek. Dat hy nogtans daarin geslaag het om 'n koninkryk op te bou en sy naam onder die Sotho's gevrees te maak, sê baie vir sy militêre en poliltieke insigte en leierskap. Natuurlik het hy wel die geluk gehad om 'n meer noordelike roete te neem: in die rigting van Transvaal. Het hy na die suide afgebuig, sou hy midde-in een van die bloedigste gebeurtenisse van die Suid-Afrikaanse geskiedenis tereggekom het: die Difaqane (dit beteken "woelinge" of "onrus").

Die Difaqane was 'n direkte uitvloeisel van die Zoeloe-oorloë. Vlugtelinge uit Zoeloeland het stamme direk oor die grens in beweging gebring, wat dan op die vlug geslaan en ander stamme aangeval het. Hele streke is verwoes en leeg geplunder. Die mees berugte figuur in dié dramatiese ontwikkelings was natuurlik maNtatisi, die koninging van die Batlokoa, of stam van die wildekat.

Die tradisionele weergawe van Mzilikazi se eerste omswerwinge is soos volg: Hy het in 1823 uit Zoeloeland gevlug en toe aan die bolope van die Olifantsrivier 'n tydelike standplaas gebou: ekuPumuleni (rusplek).

Hoewel Mzilikazi 'n gesamentlike Sotho-aanval onder leiding van twee stamhoofde, Makotoko en Sibindi, sou afgeslaan het, het hy nie daarin geslaag om 'n ander stam, die Pedi's, te verslaan nie. Wel was daar voortdurende suksesvolle strooptogte in die omgewing. Daar was ook nog 'n geveg met 'n ander vlugteling uit Zoeloeland, Nqaba, maar in 1825 het droogte Mzilikazi gedwing om weer pad te gee en 'n nuwe staat in die omgewing van die huidige Pretoria op te rig.

Hierdie tradisionele weergawe, wat meestal op mondelinge oorlewering gebaseer is, word vandag egter nie meer algemeen aanvaar nie. Dit is veral die historikus R. Kent Rasmussen wat die saak deeglik ondersoek en 'n h eeltemal ander chronologie saamgestel het.

Rasmussen sê daar kan weinig twyfel wees dat Mzilikazi Natal reeds in 1822 verlaat het. Met sy klein bende van skaars 300 m ense het hy eers die Phuthing-stam en toe die Ndzundza-stam stormgeloop en hulle met 'n kombinasie van lis en geweld verslaan. Die verhaal van ekuPumuleni is waarskynlik onjuis en word moontlik verwar met die paar maande se rus wat die invallers in die land van die Ndzundzas deurgebring het.

Juis tydens dié tyd merk ons 'n belangrike ontwikkeling op. In die omgewing van Lydenburg het Mzilikazi die Pedi en die Koni aangeval. Anders as gewoonlilk, het hy nie alle mans, vrou en kinders uitgemoor nie, maar heelparty gevangenes gemaak en hulle by sy eie bende ingelyf. Dit sou die patroon word waarop Mzilikazi sy koninkryk sou opbou.

Teen 1823 het Mzilikazi moeg geraak vir Oos-Transvaal - die rede hiervoor is nie heeltemal duidelik nie - en na die Suid-Transvaalse Hoëveld in die omgewing van die samevloeiing van die Vaal- en die Wilgerivier getrek. Daar het hy weer dood en verwoesting onder die plaaslike stamme gesaai en sommige van hulle heeltemal verdryf.

In hierdie omgewing het die struktuur van Mzilikazi se latere ryk begin vorm aanneem. Omdat hy so min mense uit Natal met hom saamgebring het, moes Mzilikazi sy bende voortdurend aanvul, veral omdat van sy soldate in die gevegte gesneuwel en ander na die Swazi's oorgeloop het. Hoewel ander Nguni-sprekendes hulle later by hom sou aansluit,  het die voortdurende inkorporering van Sotho's by sy gevolg beteken ddat die groep se hele samestelling mettertyd begin verander het. Desondanks het die Nguni-taal oorheersend gebly en is Nguni-sprekendes meestal in die hoogste posisies onder Mzilikazi aangestel.

Hierdie situasie is verder aangehelp deur die feit dat die Sotho's die oorwonnes was en Nguni's die heersende groep. Hoewel hulle in hierdie tyd van die Sotho's die naam Matabele gekry het, het hulle pas baie later in die 19de eeu dié naam self aanvaar. Lank het hulle die voorkeur daaraan gegee om hulself bv. Zoeloes te noem.

Die jare 1827-1837 is van die interessantste uit die vroeë negentiende-eeuse geskiedenis van Suid-Afrika. In daardie jare het Mzilikazi in sentraal-Transvaal sy eerste koninkryk georganiseer en vind ook sy eerste kontakte met blankes plaas. Uiteindelik sou 'n gewelddadige botsing met die eerste Voortrekkers daartoe lei dat Mzilikazi uit Transvaal moes padgee en oor die Limpopo trek.

As ons die nuwe insigte omtrent Mzilikazi se bewegings moet glo, het hy die Vaalrivier verlaat omdat hy voortdurend aangeval is deur die Griekwas en Korannas in samewerking met sommige Sotho-stamme. Hierdie mense het met hul perde en gewere 'n groot bedreiging vir die Matabeles gevorm. Mzilikazi het redelik maklik daarin geslaag om 'n magsbasis in sentraal-Transvaal op te bou, omdat die aanwesige stamme verswak was weens die Difaqane.

Sommige stamme het gevlug, ander is onderwerp en Mzilikazi se magsgebied was uiteindelik geleë tussen die Apiesrivier in die ooste, die elandsrivier in die weste, die Magaliesberge in die suide en die Pienaarsrivier in die noorde. Daarvandaan het die Matabeles gereeld die Sotho- en Tswanastamme in die noorde en noordweste aangeval. Baie stamme het skatpligtig aan Mzilikazi geword en moes as belasting velle, graan, ivoor of ysterwerktuie betaal.

Mzilikazi moes hom van die begin baie hard verweer teen dieselfde vyande wat hom uit die gebied van die Vaalrivier verdryf het. In 1828 het hy teen die Korannas van Jan Bloem baklei en in 1831 en 1834 teen die Griekwas onder leiding van Barend Barendse, terwyl daar in die tussentyd baie skermutselinge plaasgevind het.

Die Matabeles se botsings met die Griekwas is om meer as een rede interessant. Die manier waarop Mzilikazi die nadeel dat sy vyande oor perde en vuurwapens beskik het tot sy eie voordeel omgeskep het, was meesterlik. Gelukkig vir hom was die Griekwas verdeel en jaloers op mekaar en buitendien oorgerus, met die gevolg dat hy hulle elke keer met aansienlike verlies kon verdryf.

Hoewel hy in dié gevegte heelwat vuurwapens gebuit en bewaar het, het Mzilikazi dit nooit ernstig oorweeg om die wapens ook self te gebruik nie. Die hele Matabele-strategie was gebaseer op snelheid, verrassing en aggressiwiteit - en vuurwapens alleen was nie hiervoor bevorderlik nie. Om vinnig te kon beweeg, moes die soldate nie baie gewig hê om saam te dra nie, met die gevolg dat gewere hul mobiliteit eerder sou inkort as bevorder. Daarby was die Matabeles nog nie eens so ver dat hulle trekosse kon bery nie. Om opeens van h ulle te verwag dat hulle 'n ruitervolk moes word, was 'n bietjie te veel gevra. Buitendien het perde in dié omstreke nie lank uitgehou voordat perdesiekte hulle platgetrek het nie.

Nee, Mzilikazi het wyslik besluit om die tradisionele taktiek te gebruik. Maar in sy gemoed moet dit tewens 'n valse oorgerustheid bevorder het, want nie alle berede skutters was so ongedissiplineerd en swak georganiseer as die Griekwas nie. In die Voortrekkers sou Mzilikazi 'n gans ander tipe teenstander teenkom.

Tussendeur moes die Matabeles hulself ook nog teen die Zoeloes verdedig. In 1832 het Dingane, Shaka se opvolger, 'n leër na Transvaal gestuur om Mzilikazi te "straf", dog die Zoeloes het maar swak gevaar. Hoewel hulle 'n klompie vee van die Matabeles kon afneem, is die Matabeles beslis nie verslaan nie en volgens oorlewering het 'n hele Zoeloe-impi selfs na Mzilikazi oorgeloop uit vrees vir hul straf as hulle na Zoeloeland terugkeer.

Dit is moontlik dat juis dié Zoeloe-aanval vir Mzilikazi die laaste strooi was om weer te trek, hierdie keer na Wes-Transvaal.

Dit was omstreeks dié tyd dat die eerste blankes hul opwagting by Mzilikazi gemaak het. In Julie 1829 het twee blanke handelaars, ene Schoon en McLuckie, met die Matabeles in aanraking gekom, wat hulle aangemoedig het om Mzilikazi te besoek. Om die een of ander rede wou Mzilikazi opsluit 'n blanke sendeling by hom hê en dit sou die begin word van 'n lang vriendskap met die Engelse sendeling, Robert Moffat, wat tot dusver op Kuruman gewoon het.

By Moffat se eerste besoek het Mzilikazi hom met die grootste eerbetoon ontvang en hom met geskenke oorlaai. By sy vertrek het Mzilikazi klem daarop gelê dat hy in vrede en vriendskap met die blankes wou leef.

Mzilikazi se ryk was nou aan die bolope van die Maricorivier gevestig, maar sy aanwesigheid is in 'n baie wye gebied gevoel, ongeveer van die Vaalrivier tot in suidoos-Botswana. Baie gegewens kry ons van Andrew Smith, 'n Britse ontdekkingsreisiger wat in 1835 in die gebied rondgereis het.

Smith het onder meer geskryf: "Mzilikazi's posts are placed with considerable regularity. His own kraal is nearly in the centre of his country, and then his principal soldiers are placed round him in posts not very distant from each other and no one of them more than an hour's walk from his kraal. At these posts his best cattle and those for breeding are kept; outside of those again are placed posts about nine in number in each direction where he fears the approach of any enemies. Thus in the direction of Kuruman he has eight or nine posts, in the direction in which the Griquas can approach him eight or ten, in the direction of Sabiqua a like number, and in the direction in which Dingan's commando approaches also a number. Each of these divisions have the different kraals so placed that they are within sight of each other. Between each of these posts in the openings he has small Buchuana kraals, but these are within the outer circle ... At these outposts the worst cattle are kept ... The kraal in which his own cattle are kept, is in one of the most secure parts of the country and scarcely any of the people are permitted to go near it, lest by their traces an enemy should discover it."

Mzilikazi se vriendskap met Moffat is vir ons doel van meer as net verbygaande aard. Dit moet onthou word dat die Matabele-koning hom voortdurend onseker gevoel het en dat byna al sy dade gesien moet word in die lig van sy strewe om sy ryk te beveilig. Dit is dus verstaanbaar dat hy Moffat as sy groot skakel met die buitewêreld gesien het. Hy het daarop aangedring dat alle besoekers aan sy land net uit Kuruman se omgewing - dit wil sê, uit die suidweste - mog binnekom. Alle ander aankomelinge sou outomaties as vyande beskou word. In dieselfde trant het hy 'n paar van sy volgelinge na Kaapstad gestuur om 'n formele verdrag met die Kaapse Goewerneur, sir Benjamin D'Urban, te sluit. Ongelukkig vir hom het die Kaapse regering die saak glad nie in 'n ernstige lig beskou nie en die verdrag is in baie vae en algemene taal gestel.

Mzilikazi het selfs persoonlik 'n brief aan die Goewerneur gedikteer - die enigste dokument wat sy oorsprong regstreeks by hom gevind het. In die brief verklaar Mzilikazi dat hy hom voortaan as 'n Engelsman sou beskou. Hy het koloniale onderdane uitgenooi om hom te besoek, maar - en hy het klem hierop gelê - dan mag hulle sy land nie uit die suide of ooste binnekom nie.

Hierdie brief was gedateer 18 Julie 1836. Skaars 'n maand later sou blanke besoekers wel hul opwagting uit die suide maak, met tragiese gevolge. Dit was die eerste Voortrekkers wat die Vaalrivier oorgesteek het.

Onvrede met die Engelse regering het die Voortrekkers laat besluit om die Kaapkolonie te verlaat en hul eie staat te stig. Hoewel dit nie 'n beplande volksverhuising was nie en die groepies maar klein was - nooit meer as 'n paar honderd nie - was hulle 'n baie meer gedugte vyand as die Griekwas of Korannas. Hul dissipline en vasbeslotenheid om te slaag, was net so groot as dié van die Matabeles self. Mzilikazi het verskillende Voortrekkerkampe aangeval en hoewel hy 'n aantal daarvan vernietig het, het die stryd voorlopig onbeslis gebly. Onder leiding van Andries Hendrik Potgieter en Sarel Cilliers het die Voortrekkers aan die bolope van die Renosterrivier saamgetrek. Daar, by 'n heuwel wat later Vegkop genoem is, het dit tot 'n botsing gekom tussen die Afrikaners en die Matabeles. Die getuienisse is teenstrydig oor wie die geveg begin het. Die Matabeles het baie soldate verloor, sowel gedurende die stryd as later gedurende die terugtog. Die Afrikaners het net 35 man verloor, maar hulle het al hul vee kwytgeraak.

Die aanduidings is egter dat die Voortrekkers se moreel juis sterk by die veldslag gebaat het, terwyl die Matabeles mismoedig geword het.

Die Voortrekkers sou dit egter nie hierby laat nie. Potgieter en die pas aangekome Gerrit Maritz het onmiddellik aan die werk gespring en 'n sterk kommando, bestaande uit Voortrekkers, Griekwas, Korannas en verskillende swart bondgenote, op die been gebring. Hul strategie was onbedoeld baie slim, want hulle het toevallilg uit die rigting van Kuruman opgeruk, 'n rigting waaruit die Matabeles geen aanval verwag het nie.

Met dagbreek, 17 Januarie 1837, het die perdekommando op die dig bewoonde Mosegavallei toegeslaan, deur die dorpies gestorm en mans en vroue voor die voet doodgeskiet. Amerikaanse sendelinge wat op die toneel was, het dit later só beskryf: "Sometime before sunrise, we were aroused by die startling cry: A commando! A commando! In half a minute after this alarming cry of brisk fire commenced on a kraal of people a few hundred yards from our house. The fire of one followed that of another in quick succession ... In a few minutes we were in the midst of a slaughter. The people fled toward our house ... Those who fled were p ursued by the Boers with a determination to avenge themselves for the inrugy they had received ... Several balls passed over our house, some struck it, and one passed through Brother Venable's chamber window ... The Boer attacked and destroyed thirteen, some say fifteen, kraals. Few of the men belonging to them escaped, and many of the women were either shot down or killed with assegais. We have no means of ascertaining how m any lives were destroyed. We suppose from two to four hundred.

Aan die Voortrekkers en hul bondgenote se kant was die verliese onbeduidend en hulle het 'n paar duisend stuks vee met hulle saam gevoer.

Maar as Mzilikazi gemeen het sy probleme was nou verby, dan het hy dit mis gehad. Toe sy aartsvyand, die Zoeloekoning Dingane, hoor van die ramp wat die matabeles getref het, het hy onmiddellik 'n sterk leër uitgestuur om Mzilikazi nog verder te teister. In die omgewing van Pilanesberg het dit tot 'n uitermate bloedige botsing gekom waarby alle kante swaar verliese gely het. Die Zoeloes is egter terug met die grootste buit aan vee wat hulle nog ooit onder Dingane se regering kon maak.

En nog was het ' einde niet. Veral Potgieter, wat Transvaal as die logiese streek vir die de stigte Voortrekkerstaat gesien het, was vasbeslote om Mzilikazi heeltemal uit die omgewing te verdryf. Saam met nog 'n pas aangekome leier, Piet Uys, het hy 'n kommando van 360 man versamel en voorbereidings vir 'n groot offensief getref.

'n Belangrike punt wat hierby gemaak moet word, is dat Mzilikazi - primêr uit vrees vir die voortdurende Zoeloe-aanvalle op sy ryk - in elk geval besig was om hom stadig noordwaarts aan Wes-Transvaal te onttrek. Toe Potgieter en Uys en die Voortrekkerkommando dus op 2 November 1837 weer in die Mosegavallei aankom, gereed om weer op die Matabeles los te trek, het hulle die hele vallei verlate gevind. Hulle het die eerste Matabeles pas sowat 50 km noordoos van die vallei aangetref en die gevolg was 'n uitgerekte reeks aanvalle wat nege dae lank geduur het. In die proses het hulle veral baie vee buitgemaak.

Vir Mzilikazi was dit die laaste strooi. Die hele streek suid van die Limpopo het vir hom onhoudbaar geword en hy het besluit om weer pad te gee en sy ryk opnuut elders te vestig. In twee aparte groepe het hy en sy volgelinge na die huidige Zimbabwe getrek en - volgens die jongste navorsing - was die trek teen helfte 1839 voltooi. Dit was die laaste swerftog van die Matabelevolk. In die huidige Matabeleland het Mzilikazi weer van voor af begin, die omliggende Sjonasprekende stamme onderwerp of onskadelik gemaak en 'n nuwe ryk op dieselfde grondslag as die voorafgaandes opgebou.

Daar het later weliswaar nog 'n paar gevegte tussen die Matabeles en die Voortrekkers plaasgevind, maar hulle was nou eintlik te ver van mekaar om langer 'n daadwerklike bedreiging vir mekaar te wees. Daarom kon Potgieter en Mzilikazi in 1853 dan ook formeel vrede sluit. 'n Maand later is Potgieter oorlede.

Mzilikazi se ou vriend Robert Moffat het hom in 1854 nog 'n keer besoek. Hy was geskok om te sien dat die koning se gesondheidstoestand baie sleg was. Dit was nie die regop, vasbeslote en dinamiese man wat hy twintig jaar tevore leer ken het nie, maar 'n vet ou man met 'n geswolle gesig en voete. Volgens Moffat het hy aan watersug gely weens 'n oormatige gebruik van voedsel en drank. Desondanks was sy gesag onaangetas en kon hy sy ryk met 'n ysterhand bly regeer - iets wat baie vir sy sterk persoonlikheid gesê het.

Mzilikazi se laaste lewensjare is gekenmerk deur die teenstrydigheid dat sy persoonlike gesondheids- en geestestoestand steeds agteruitgegaan het, maar dat sy ryk terselfdertyd gefloreer het soos nooit tevore nie. Op 5 September 1868 het die "groot olifantbul", tot die dood toe siek, sy laaste asem uitgeblaas in die geselskap van 'n paar indoenas van die oorspronklike Khumalo-stam wat saam met hom uit Zoeloeland gevlug het.

Hoewel sy seun Lobengula hom as koning opgevolg het, was die einde van die Matabele-ryk in sig. Kort voor Mzilikazi se dood, is goud in die omgewing ontdek en kort voor lank het dit van die blanke prospekteerders gewemel. In 1893 het oorlog uitgebreek en binne 'n paar m aande is Lobengula se mag gebreek. Die blankes het die effektiewe regeerders geword en die Matabele-ryk het plek gemaak vir 'n nuwe staat: Rhodesië.

Eintlik was Mzilikazi, in die breë konteks van die Suider-Afrikaanse geskiedenis, nie buitengewoon belangrik n ie. Daar was in sy tyd meer dergelike leiers wat ook hul eie ryke opgebou het - selfs so ver as die huidige Malawi en Tanzanië. Mzilikazi beklee egter 'n relatief belangrike plek in die geskiedskrywing omdat daar heelwat meer betroubare bronne oor sy lewe is.

Desondanks kan 'n mens nie anders as om ontsag te kry vir die krag van sy persoonlikheid, sy moed en deursettingsvermoë  nie. Hy het Natal oorspronklik met 'n bitter klein groepie mense verlaat en in 'n vir hom onbekende gebied 'n sterk magsposisie opgebou. En dit het hy nie net een keer gedoen nie. 'n Slag soos dié wat die Voortrekkers hom toegedien het, sou enige gemiddelde man totaal gebreek het - maar nie vir hom nie. Hy het elke keer vasgebyt en weer begin.

Met Mzilikazi se dood is 'n tydperk afgesluit. Hy was die laaste van die groot militêre swart heersers van suidelike Afrika, want die toenemende infiltrasie van die blankes het nog 'n Shaka of Mzilikazi onmoontlik gemaak.

Ingrid Scholtz

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0