Koenie se Kouse

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel EEN

deur Arthur S. Maxwell

Oom Attie se Slaaptydstories

Koenie het die verhaal gehoor van Kersvader se besoeke op Kersaand en omdat hy daarvan gehou het om alles deeglik te doen, het hy gedink hy gaan sommer die beste van hierdie geleentheid ook maak: As een kous volgemaak kon word, hoekom  nie baie nie? Dit moes tog maklik wees om die ou man in die donker te kul.

Dit was in elk geval die moeite werd om te probeer, het hy gedink en het al die kouse begin ophang wat hy kon kry: Pa s'n, Ma s'n, Oupa en Ouma s'n, oubus en ousus s'n, sy tannies s'n en ja, selfs die huisbediende s'n! Die laaste kous wat hy kom kry, het hy gevat en hulle om sy bed opgehang.

"Hoe baie presente gaan ek nie kry nie!" het hy vir homself gesê toe hy na die lang ry kouse kyk - groot kouse, klein kousies, wit sokkies, bruin sokkies, swart sokkies, skoon kouse en vuil kouse. "As hulle môrevroeg almal vol is, sal ek die gelukkigste seun in die wêreld wees! Hoe lekker sal dit nie wees om hulle almal leeg te maak wanneer ek wakker word nie!"

Eindelik het Koenie aan die slaap geraak om van sy kouse te droom. Hy het hulle almal vol van die lieflikste goed gesien. In een was daar 'n treintjie, in 'n ander een 'n beertjie, lekkergoed en 'n fluitjie wat hy kon blaas. Dit was alles so werklik dat hy hulle amper in sy hande kon voel.

Omtrent middernag - as Koenie maar kon gesien het! - het twee mense stilletjies sy kamerdeur oopgemaak en ingeloer.

"Hy slaap vas," het die een gesê.

"Ja, loop net baie suutjies dat hy nie wakker word nie," het die ander gesê.

"Haai, kyk net al die kouse!" het die eerste stem met 'n onderdrukte laggie uitgeroep.

"Ja," het die tweede stem bygevoeg, "hy het al ons kouse geleen. Hy wil hulle vannag glo vol hê."

"Sjoe, 'n bietjie snoep," het die eerste stem gesê.

"Ja, dit is," het die tweede stem beaam.

"Ons sal hom darem seker so 'n klein lessie moet leer," h et die eerste stem gesê.

"Maar ons moenie te hard wees nie, hy's nog so klein," het die tweede stem gesê.

"Nee, ons sal nie. Ons gaan iets in elke kous sit. Kom ons begin hier."

"Sjuut, o ns moet sagter praat. Kyk hoe roer hy in sy slaap."

"Hou jy die kouse," het die eerste stem gesê, "en ek sal die goed insit."

"Ons moet gou maak," het die tweede stem gesê.

Die twee het haastig die goed ingesit.

"Mooi ou treintjie," het Koenie in sy slaap gesê.

"Soe!" het die eerste stem gesê. "Ek het gedink hy word wakker."

"En ek het net lelik geskrik," het die tweede stem bygvoeg.

"Waar is die kleinste sokkie?" het die eerste stem gevra.

"Hier is dit," het die tweede stem gesê.

"Ja, dis die een wat ek wil hê. Hou jy dit ook. Pasop....so, ons is klaar."

Die twee het oor die bed gebuk om seker te maak dat Koenie regtig slaap, hom saggies op die wang gesoen en toe suutjies die kamer verlaat.

Die môre het aangebreek. Om die waarheid te sê, dit was nog nie eens mooi lig nie of Koenie was wakker. En dadelik het hy ook sommer die komberse van hom afgeskop en in die bed regop gestaan om teen die rye kouse langs te voel.

Hoera! Elke kous het iets in gehad. Dan was hy tog reg. Dis waar, hulle was nie almal gelykvol nie, maar hulle het tog almal iets onder in hulle gehad. Party van hulle was ook nogal net swaar. Hy het hulle begin ondersoek om te sien wat in hulle was.

Daar steek hy sy hand by die eerste een in en hy haal.... wat uit? 'n Piesang!

"Aag!" het Koenie gebrom. Maar dit was darem nie te sleg vir 'n begin nie, alhoewel hy iets anders verwag het. Hy het sommer die skil afgetrek en begin eet. Nou die tweede kous.

Af, af, af gaan sy hand tot onder. En hierdie keer haal hy 'n bal uit! Hy was bly oor die bal, maar.... waar was die treintjie dan?

Uit die derde het hy 'n kardoesie lekkergoed gehaal en uit die vierde 'n lemoen. Elke kous het net een presentjie in gehad en niks meer nie. Dit was darem teleurstellend. Toe hy eers by die laaste een kom - die kleinste van almal - het hy dit vol allerhande soorte goedjies wat hy wou gehad het, gevind. Maar waar was die beertjie? Waar was die treintjie en die fluitjie wat hy moes gekry het?

Dit was 'n taamlik teleurgestelde klein Koenie wat sy opwagting by sy ouers gemaak het.

"Hallo Grootman!" het Pappie uitgeroep. "Hoe lyk dit met die kouse, was hulle almal vol?"

"Nee Pappa, hy't 'n fout gemaak."

"Hoe dan, 'n fout? Nou hoe is dit dan moontlik?"

"Hy het net een kousvol gevat en dit in al die kouse gesteek. Hy het gekierang," het Koenie verslae gesê.

"Ha, ha, ha!" het sy Pa gelag, "die karnallie! Maar weet jy wat dink ek?"

"Wat?" het Koenie, nog taamlik omgekrap, gevra.

"Ek dink hy het geskrik toe hy al die kouse daar sien hang en vir homself gesê: 'Dis seker 'n baie inhalige seuntjie wat hier woon. ek sal hom 'n les leer'."

"Grh! Ek gaan  hulle nie weer almal ophang nie. Ek het so min goed gekry."

"Noudat jy daarvan praat, ek het vanmôre hier in die gang 'n pakkie goed vir Koenie gekry," het Pappie gesê.

"Waar is dit?" het Koenie met verwagtende ogies gevra.

"Hier."

Koenie het dit gretiglik gevat, die papier afgeskekur - en daar was sy treintjie, sy fluitjie, sy beertjie ... én 'n doos sjokolade.

"Joe, Kersvader moes dit seker laat val het," het Koenie uitgeroep.

"E..ê...ê.., miskien omdat hy so groot geskrik het vir die seuntjie wat so gulsig was en baie goed wou hê," het Pappie geantwoord.