Klein Skaduwee

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

As julle op 'n helder sonskyndag agter julle kyk, wat sien julle? 'n Skaduwee natuurlik. En as julle probeer om weg te hardloop vir daardie skaduwee, wat gebeur? Wel, die skaduwee hardloop net so vinnig as julle, nie waar nie? Al probeer 'n mens ook hoe hard, jy kan eenvoudig nie van jou skaduwee af wegkom nie. En hoekom nie? Omdat dit jou eie skaduwee is; dit behoort aan jou.

Dit was die ondervinding van Ronald, maar net 'n bietjie anders. Hy het twee skaduwees gehad! Die een was sy gewone skaduwee net soos die van alle seuns en dogters, en die andereen was - wel, kan julle miskien raai? Ja, dit was sy eie sustertjie! 

'n Mens kon hulle nooit skei nie. Waar hy gegaan het, het sy gegaan. Wat hy gedoen het, het sy gedoen. Wat hy gesê het, het sy gesê. Dit was om hierdie rede dat Ronald haar sy "skaduwee" genoem het. 

En het dit hom gehinder? Glad nie. Ronald was baie bly om so 'n lewendige skaduwee te hê soos sy. Hy was 'n groot, sterk seun van nege jaar, en sy mooi klein sussie was maar vier jaar; sy het gedink dat hy die wonderlikste boetie in die die hele wêreld is. 

Sy het hom orals gevolg; dit was so erg dat 'n mens sou dink dat hulle met 'n tou aanmekaar vasgebind was, maar hulle was nie. Die band wat hulle gevind het, was 'n band van liefde. 

Wanneer Ronald in die tuin 'n boom begin klim, het sy sussie ook opgeklim sover as sy kon. Wanneer hy 'n appel pluk, het sy ook 'n appel gepluk. Wanneer hy uit die boom afklim, het sy ook afgeklim.

Daar by die hek was 'n ou boomstomp. Wanneer Ronald op die een wortel van die stomp gaan sit het, het sy op die ander wortel gaan sit. Wanneer Ronald sê, ek gaan nou daar op die sandhoop speel, het sy sussie gesê: "Ek gaan ook", en daar het hulle gestap met hulle grafies en emmertjies. 

Of hulle gespeel of gewerk het, hulle was altyd bymekaar. Wanneer Ronald die trappies van die voorstoep vee - dit was een van die werkies wat hy elke dag moes doen - het sy sussie met die handbesempie gekom en net so hard gevee soos hy. Die enigste moeilikheid was dat sy nie altyd in die regte rigting gevee het nie, maar Ronald het nie omgegee nie, want dit was vir hom prettig om te sien hoe sy kastig help. 

Wanneer Ronald die tuin natgooi met sy groot gieter, het sy sussie met haar klein gietertjie kom help. Hulle het heerlik die tuin natgegooi totdat hulle naderhand net so nat was as die plante, en dan moes Mammie hulle roep om droë klere aan te trek. 

Wanneer Ronald gaan sit om 'n boek te lees, het sy sussie ook langs hom kom sit met 'n boek. Sy kon natuurlik nog nie lees nie, maar sy het gemaak of sy kon lees net om soos Ronald te wees. Wanneer Ronald hardop lees, het sy sussie ook hardop "gelees," maar dit was sommer 'n gebabbel; sy het sommer enige ding gesê wat in haar kop kom; dit was pure onsin, en soms baie snaaks ook. 

Dit was 'n gewoonte by Ronald om elke oggend te bid. Wanneer hy langs sy bed kniel om te bid, het sy sussies ook dadelik langs hom kom kniel. Wanneer hy bid, het sy gebid, en die engele moes seker baie fyn geluister het om alles te hoor wat sy sê, al het sy nie altyd om die regte dinge gevra nie. 

Maar dit was aan tafel dat haar pogings om hom na te maak die snaakste was. Sy het hom fyn dopgehou, en noukeurig al sy bewegings nagemaak, of hulle goed of sleg, gemanierd of ongemanierd was.  Wanneer Ronald sy goeie maniere vergeet en soms te veel kos in sy mond stop, het sy sussie haar mond ook net so vol gestop. Wanneer Ronald met sy mes begin eet het, het sy sussie gou haar vurk neergesit en ook met die mes geëet totdat Moeder hulle albei gevang en hulle vertel het hoe onemanierd so iets was. 

Soms het Ronald gesê: "Ek wil nie vandag wortels en rape hê nie." Dadelik het daar 'n ander stemmetjie gekom van anderkant af wat sê: "Ek wil nie vandag wortels en rape hê nie." Wanneer Ronald brom oor sy kos, het sy sussie ook gebrom, nie omdat sy juis gehou het van die dinge waarvan Ronald hou nie, maar net om hom na te maak. Wanneer hy sy ryspoeding agteruit stoot, het sy hare ook teruggestoot.

Maar eendag het Ronald besef hoe groot sy verantwoordelikheid was. Hy het een middag tuisgekom nadat hy met 'n klompie stout seuns gespeel het, en per ongeluk het daar 'n lelike woord uitgeglip. Dadelik het sy sussie daardie woord ook gesê. Sy het natuurlik nie die minste begrip van die betekenis daarvan gehad nie, en of dit goed of sleg was nie, maar toe sy dit sê, het dit baie lelik geklink. Ronald het 'n groot skok gekry, en hy het baie sleg gevoel toe hy daaraan dink dat sy daardie lelike woord van hom gehoor het!

Hy het nou besef hoedat sy alles nageaap het wet hy gedoen het, en hoe sy feitelik sy eie "skaduwee" was. Hy het daar en dan besluit dat hy nooit iets sou sê of doen wat 'n slegte voorbeeld sou wees vir sy sussie nie. Juis omdat sy so gewillig was om hom in alles na te volg, het hy hom daarop toegelê om haar reg te lei. Nou ook het hy die betekenis verstaan van die woorde wat sy Pappie hom geleer het: 

"Ek moet opreg wees, want daar is diegene wat my vertrou:
 Ek moet rein wees, want daar is diegene wat my liefhet;
 Ek moet sterk wees, want daar is veel om te verduur;
 Ek moet dapper wees, want ek sal baie moet waag."

"Daar is diegene wat my vertrou" - Ronald het hierdie woorde herhaal. "Dit is my sussie, want sy vertrou my altyd. Ek meot rein en sterk en dapper wees vir haar ontwil."

Ronald het hom van daardie dag af daarop toegelê om hierdie hoë standaard na te streef. 