Stryd na en binne en na buite, 1778 - 1795

Kenmerke van die tydperk

Dat die Kaapkolonie tydens die laaste 18 jaar van die Kompanjie se bewind hewig deur binnelandse en buitelandse stryd geroer is, beteken glad nie dat stryd vroeër ontbereek het nie. Stryd was daar reeds, o.a. tussen vryburgers en amptenare, tussen grensboere en sowel Hottentotte as Boesmans en tussen verskillende persone en liggame wat met die Kaapse bestuur en administrasie belas was. Oorloë met groot moondhede soos Brittanje en Frankryk het tevore reeds plaasgevind en die Kaap tot groter waaksaamheid gemaan. Dat die Kaap gedurende die laaste 18 jaar in 'n buitengewone mate deur stryd gekenmerk is, moet egter aan 'n viertal nuwe faktore toegeskryf word; faktore wat met ou, bekende faktore in splinternuwe dramatiese samehang getree het.

Die eerste nuwe faktor was die botsing van die Afrikaner-grensboere met die suidweswaarts bewegende Xhosas op 'n vaste en breë front. Dit was al voldoende om 'n nuwe tydvak van stryd tussen die witman en die swartman in ons geskiedenis in te lui, 'n tydvak waarvan die wesenlike betekenis nog geensins ten volle begryp word nie.

Die tweede nuwe faktor was die openbaring van demokraties-revolusionêre denkbeelde by die Afrikaner. Vir die eerste keer word denkbeelde van oorsee opvallend oorgeneem en by Kaapse toestande aangepas. In sy suiwerste en vroegste vorm geld dit die skiereiland-sentriese Afrikaner, maar dit word later ook onder die Graaff-Reinetters en Swellendammers aangetref. Verhoudings met die ander rasse speel egter in lg. gevalle ook 'n vername rol.

Die derde nuwe faktor is die sterk versnelde tempo van agteruitgang van die N.O.I.K. - soos ook van die skerp verdeelde Nederlandse Republiek. Op alle terreine van die Kaapse lewe is die uitwerking daarvan merkbaar; en veral bring dit mee die verslapping van daadwerklike Kompanjiesbeheer in die Kaapkolonie. Hoe groter die afstand van Kaapstad, die regeringsentrum,  hoe swakker in die reël is sy beheer. Die grensboere word hier dus weer ten nouste geraak.

Die vierde faktor, wat met die derde verband hou, is twee massiewe Britse vlootaanslae op die Kaapse skiereiland. Dit was gemik op die verowering van die hele Kolonie deur die aantasting van sy regeringsetel. Slegs met behulp van die verdere steun van 'n Franse seemag word die eerste aanslag afgeweer. Toe oorsese steun aan die end van ons tydperk met die tweede aanslag ontbreek, val die Kolonie na anderhalfeeu gewelddadig in nuwe hande.

Dit is dus duidelik dat die laaste jare van die bewind van die N.O.I.K. aan die Kaap 'n gekompliseerde tydperk was. Aan die een kant omvat dit die afsluiting van byna 'n anderhalfeeu van Kompanjiesregime - van die stigting van die verversingspos tot die Britse verowering van die Kaap tydens die Franse Revolusionêre Oorloë - maar aan die ander kant sien ons daarin reeds die aanvang van besonder betekenisvolle 19de-eeuse strominge. Daar is die blanke se strewe na demokratiese selfbestuur en sy gewelddadige botsing met die Xhosa op 'n historiese oosgrens.

Gedurende die lang Kompanjiesbewind is weinig werklik ingrypende veranderings aan die Kaap ingevoer. 'n Uiterste konserwatisme het trouens die Kompanjiesbeleid gekenmerk, wat soms tot stagnasie gelei het. Alle terreine van die Kaapse lewe is hierdeur geraak. Die Kompanjie se merkantilistiese beleid het alles beheer; die Kompanjie wou sy monopoliestelsel ten alle koste handhaaf en beskerm. Slegs bedrywe waaruit hy nie 'n behoorlike wins kon haal of nie na behore kon beoefen nie, is aan die vryburgers oorgedra en dan, wanneer dit geskyn het asof Kompanjiesbelange moontlik bevoordeel kon word, is 'n besondere bedryf weer oorgeneem. Uit die vryburgers se privaat-inisiatief is steeds die maksimum wins vir die Kompanjie behaal. Vir die Kompanjie en vir die meeste van sy amptenare het die vryburgers 'n noodsaaklik euwe gebly.

In die jare 1778 tot 1795 ontwikkel daar 'n steeds groter gaping tussen die teorie, soos hierbo uiteengesit, en die praktyk. Teoreties, of volgens die skyn, het die Kompanjie die Kaap naasteby getrou ooreenkomstig sy ou afgeleefde stelsel bestuur; in die praktyk, of agter die skerm, was 'n nuwe opset aan die ontwikkel. Soos in Nederland "het afgeleefd merkantilistisch creatuur" eers deur nuwe kapitaalkragtige middelklasse en later ook deur die laere klasse bekamp is, so het ook die sg. "Patriotte" aan die Kaap nou heftig teen die ekonomiese selsel geprotesteer, eers by die Here XVII en later by die State-Generaal self.

Ten einde die ekonomiese stelsel aan die Kaap blywend te verander, streef die Kaapse Patriotte ook na 'n heelwat groter mate van demokratiese selfbestuur en by uitstek in die sentrale regeringsliggame. Deur 'n demokratiese regeringselsel wil hulle sorg dat die willekeur van bevoorregte Kompanjiesdienaars - wat onder die dekmandel van die monopoliestelsel hulself verryk - beëindig word. Die Patrotte het in hul strewe na volksverteenwoordiging veral die gegoede klasse Kaapse bryburgers bedoel wat op sowel ekkonomiese as politieke gebied nog nie 'n voldoende seggenskap, volgens hul insigte, gehad het nie, maar wat steeds daarna bly strewe het. Die Patriotte het begeer dat die beheer en winste van die beperkte kring amptenare en 'n baie klein koterie vryburgers op hierdie wyse beëindig moet word. Van die amptenare het o.a. dié met afgeskrewe gasie (amptenare sonder salaris) 'n posisie tussen amptenaar en vryburger beklee: Hulle wou die voorregte van die vryburger geniet sonder om sy gewone verpligtinge te aanvaar. Sulke persone kon op onbillike wyse met die vryburgers wedywer en deur huwelik, vriendskap en wedersyds voordelige samewerking het hulle ook enkele gewone vryburgers by die bevoorregte groepe ingeskakel. Dit het geskied onder die dekmantel van die uitgediende monopoliestelsel en tot groot nadeel van die oorgrote meerderheid van die gevestige vryburgergemeenskap, veral in en om die skiereiland, wat nie in die winsgewende voorregte gedeel het nie. Op maatskaplike, asook kultuurgebied, was daar oormatige bevoorregting deur die groep wat deur die Patriotte die "Mamelukke" genoem is. Die Mamelukke kon betreklik ryk word - al kon hulle weens die Prag- en Praalwette nie altyd hul welvaart aan die Kaap vertoon nie. Besoekers, wat dikwels ook sakevriende of bevorderaars van die wetenskap of kultuur was, kon hulle op gepaste wyse onthaal in hul aantreklike herehuise op hul landgoedere in die kaapse skiereiland. Hulle het oor die vermoëns beskik om hul kinders deur oorsese skoling of privaatskoolmeesters 'n redelik goeie opvoeding te laat geniet. Ook in kerklike ampte was dié groep goed verteenwoordig. Op alle terreine van die lewe was hulle in die nouste aanraking met die bronne van die Wes-Europese beskawing. Die Patriotte weer, was op die verskeie terreine van die lewe swakker daaraan toe: Hulle het oor te min eie fondse beskik en daar was te min Kaapse regeringsfondse beskikbaar om hoogs nodige verdere skole en kerke te stig.

Met die steeds behoudende beleid van die Kompanjie en die optrede van die Mamelukke onder die dekmantel daarvan, is die ou orde afgesluit. In die nuwe strewe na demokratiese selfbestuur breek die 19de eeu aan. Soos die Patriotte die voorlopers is van 19de-eeuse demokrate in die Kaapkolonie, is die Kaapse oosgrensboere op die Xhosagrens die voorlopers van die Voortrekkers; almal sou in die tweede kwart van die 19de eeu meehelp om 'n 20ste-eeuse voorkoms aan Suid-Afrika te gee. Die selfstandige gees van die grensboere berei ook die weg voor vir republikeinse onafhanklikheid, eers in die 19de en later in die 20ste eeu. Met die ontplooiing van private ondernemingsgees aan verskillende kante onder die monopoliestelsel van die Kompanjie, word die weg voorberei vir ondernemerskap met breë horisonne, wat die 19de-eeuse mynmagnaat en nywerheidskoning vaagweg in die vooruitsig begin stel.

Onder die leë maar beskermende koepel van die Kompanjiesbeleid het die Patriotte in die westelike Kaapkolonie grotendeels tevergeefs die stryd om hervormings aangeknoop. Die eerste wesenlike veranderings is eers deur oorsese ingryping teweeggebring. Gerugsteun deur beroepsoldate en swaar fortifikasies, was die Kompanjiesgesag in die weste nog te sterk vir enige plaaslike rebellerende of revolusionêre kragte wat die Patriotte kon monster. Op 'n terrein ver van die Kompanjie se direkte gesag het die eerste gewelddadige ontmoeting op vaste en breë front tussen die blanke grensboer en die Xhosa plaasgevind. Die grensboere was gewoond om in die praktyk plaaslike bestuur en militêre sake self te behartig. Enkele beamptes moes dan toesien dat die nodige wapens en ammunisie voorsien word, maar 'n daadwerklike ingryping wat tot 'n te groot benadeling van grensboerbelange sou lei, kon maklik die afwerping van die swak gesag van die Kompanjie tot gevolg hê. 'n Veel sterker Britse militêre gesag sou die opstand weer kon beëindig, al was dit net deur die grensboer se onontbeerlike voorraad wapens en ammunisie af te sny.

Die motivering tot stryd het sowel van buite as van binne die Kolonie gekom, met 'n wisselwerking tussen die twee. Binne die Kolonie was die potensialiteite van stryd aanwesig; van buite het baie duidelik die prikkeling daartoe gekom. Denkbeelde oor demokratiese selfbestuur het uit die Nederlande, Noord-Amerika, Brittanje en uit Frankryk gekom om die Patriotte aan te vuur. Filantropiese idees aangaande die kerstening, opheffing en beskerming van die nie-blanke het uit Wes-Europa gekom. Die eerste soort denkbeelde het groter plaaslike beheer in die hand gewerk, die tweede het dit ontmoedig; maar albei het verset tot gevolg gehad.

Dan was daar ook suiwer buitelandse faktore wat stryd meegebring het. In die laat 18de eeu het die Nederlandse Republiek 'n beleid begin volg wat vir hom en sy kolonies baie gevaarlik was. Dit is o.m. toe te skrywe aan die skerp onderlinge verdeeldheid in die Republiek self, waar alle elemente van 'n potensiële burgeroorlog - met inmenging deur naburige moondhede - aanwesig was. Die ernstige verswakking van die Nederlande en ook van die N.O.I.K., wat nou steeds nouer met die staat geskakel is, het die risiko's wat 'n verbreking van die ou bondgenootskap met Engeland ingehou het, aansienlik verhoog. Die verkryging van Frankryk as bondgenoot in die plek van Engeland het nie blywende en doeltreffende beskerming verleen teen Britse see-aanslae op Nederlandse kolonies nie - veral nie op die Kaapse steunpunt wat so strategies in die suidelike halfrond geplaas was nie. Teen die eindd van die 18de eeu was die Britse vloot oppermagtig. 'n Gewisse aanval op die Kaap sou uit die strategie van die see-oorlog voortvloei. Met sommige Kaapse amptenare Engelsgesind, sou die binnelandse spanning en stryd gedurende die engelse aanslae op die Kaap verhewig word.

As gevolg van die intense see-oorlog gedurende die amerikaanse Vryheidstryd, het die skeepsverkeer aan die Kaap aansienlik toegeneem. Dit het die Kaap tydelik van 'n broodnodige afsetgebied voorsien en so die verset daar getemper; van die dringendste dryfvere tot heftige ontevredenheid is vir die oomblik verwyder. Daardeur het die skiereilanders egter aan 'n hoër lewenstandaard en groter weelde gewoond geraak. Dit het nuwe koopmanne en seevaartbelange gebring. Ondernemende jong Noord-Amerikaners het vir die eerste keer onder eie vlag opgedaag. Benewens meer Franse, het ook Skandinawiërs meer dikwels besoek afgelê, wat dus meegehelp het om die Kompanjie se monopoliestelsel verder te ondermyn en te vermolm. Vir private Kaapse koopmanne was dit steeds makliker om in kosmopolitiese koopmanne te ontluik. Amptenare van die Kompanjie het as agente van oorsese koopmanshuise of as selfstandige koopmanne opgetree. So is die Kompanjie in sy laaste paar jaar verplig om sy skepe amptelik vir privaathandel beskikbaar te stel. Vrag- en doeanegelde sou die plek neem van die reeds verdwene monopolilevoordele. Kort daarop laat kommissarisse Nederburgh en Frykenius die reeds lank gesogte eie skepe aan Kapenaars toe, met die voorreg van gewapende handelskeepvaart na die Ooste, die Weste en op langs die Afrikaanse kuste. Dit was egter te laat. Die maalstroom van die Europese see-oorlogvoering het te veel en te sterk gewapende kruisers op die oseane losgelaat en teen hulle was die swak gewapende skepies van die Kaapse kleinhandelsvaarders, wat nog nie besonder k apitaalkragtig was nie, nie bestand nie. Op verskillende punte op die seevaartroetes is die skepies gebuit, tot verpletterende verlies van die Kaapse koopmanne.

Gesien uit die oogpunt van die byna 20 000 blanke Kapenaars in 1795, was die lot van hierdie eie Kaapse skepies simbolies van die talle verlore kanse wat die nie meer so jeugdige Kolonie ná bykans 150 jaar ondervind het. Die laaste 18 jaar van die N.O.I.K. se bewind het nietemin beteken dat die relatief klein klompie blanke Kapenaars sterk na vore getree het. Hulle was nog verdeeld, nog swak op baie gebiede, nog onbeholpe, nog soekend, maar dit was 'n betekenisvolle oefenskool vir optrede op nasionale vlak as Suid-Afrikaners ind ie 19de eeu. Die blanke Afrikaner - die Bolander, maar bowenal die grensboer - het terdeë bewus begin word van sy identiteit: die 18 jaar was 'n vormende tydperk waarin hy voorberei is om tot 'n veel  hewiger en doeltreffender stryd teen 'n veel magtiger oorsese owerheid toe te tree.

Die Kaapse Patriotte

Die vroegste pogings tot verset in ons tydperk het van die Kaapse Patriotte gekom. Die Kaapse koloniste het ná die dood van goewerneur Tulbagh, wat die Kaapkolonie en sy inwoners baie goed verstaan het, te doen gekry met nuwe amptenare wat jonk en onervare was (kyk Hoofstuk 5). By sommige van hulle was daar 'n sterk motief om gou ryk te word en weelderig te lewe. Die Kompanjiesbelange is glad nie voorop gestel nie. In die gees waarin hulle aan die Kaap opgetree het, is dit verstaanbaar dat die belange van die vryburgers dikwels in die slag gebly het. Op baie verskillende maniere is die stoflike welvaart van die vryburgers geskaad deurdat die amptenare hul magsposisie gebruik het om hulself so vinnig moontlik te verryk. So het J.F. Kirsten, D. van Ryneveld en C. Brand 'n winsgewende voorkeurhandel in hul eie en Kompanjiesvoorrade gedryf met besoekende skepe, nogal met behulp van die Kompanjie se se waens en osse. Brand het as poshouer in Valsbaai selfs met 'n paar oud-burgerrade en amptenare die handelsgenootskap Cruywagen en Kie. gestig, terwyl die handelsgenootskap La Fèbre en Kie. veral in Tafelbaai bedrywig was. Dat die Kompanjiesbelange ook in die slag gebly het, het die vryburgers nie ontstel nie, maar dit het hulle 'n goeie kans gebied om die amptenare, waarvan sommige hulle tewens met minagting behandel het, by h ul hoër Kompanjiesowerhede aan te kla.

Dat die hoë Kaapse amptenare weer soos in die jare van W.A. van der Stel en onder goewerneur Joachim baron van Plettenberg besig was om - in stryd met baie uitdruklike instruksies van die Here XVII - die stoflike bestaan van die vryburgers te bemoeilik, was slegs een motief agter die optrede van die vryburgers. Die sterk invloed van oorsese denkers soos Locke, Grotius en Pufendorf het vryburgers daartoe beweeg om vir die eerste keer ook op politieke regte, wat hul ekonomiese belange moes waarborg, aanspraak te maak. Naamlose geskrifte is aan die Kaap versprei, soos De Magt en de Vrijheden eener Burgerlijke Maatschappij verdedigt door de gevoelens der voornaamste regtgeleerden opgedragen aan het oordeel der Caapse Burgerij, wat reeds in Mei 1778 in omloop was. Daarin word beklemtoon dat die heil van die volk die opperste wet moet wees. Op grond van 'n onvervreembare reg deur God en die natuur daargestel, sou die volk die reg hê om owerhede wat hom onderdruk, deur ander owerhede te vervang. Nie slegs is geskrifte versprei nie, maar die ontevredenes het ook in die geheim vergader.

Toe die baie ongewilde fiskaal-independent Willem Cornelis Boers ('n neef van die advokaat van die Kompanjie) in Januarie 1779 'n Kaapstadse burger, C.H. Buytendag, gevange laat neem en sonder verhoor as Kompanjiesdienaar na Batavia verban, het die smeulende burgerontevredenheid losgebars. Vir die beswaarde Kaapse burgery was dit 'n beginselsaak waarteen die hele gemeenskap moes protesteer. Nadat die plaaslike owerheid tevergeefs genader is, het "representante" in Mei besluit om vier gevolmagtigdes na Nederland te stuur. Hulle was oud-burgerraad Jacobus van Reenen, oud-burgerluitenant Barend Jacob Artoys en die burgers Nicolaas Godfried Heyns en Tieleman Roos. Namens 404 Kaapse burgers het hulle op 9 Oktober 1779 daar 'n lywige petisie of memorie onderteken en 'n week later persoonlik aan die Here XVII oorhandig.

Dié belangrike stuk is in drie dele verdeel. In die eerste word die benarde lewensomstandighede van die Kaapse burgers aangetoon. Weens te lae pryse en gebrek aan 'n mark vir hul produkte, kan boere nie 'n behoorlike bestaan maak nie. Verder benadeel deur die persoonlike winssug van beamptes, trek veeboere reeds 40 dagreise diep die binneland in. Oor die besondere praktyke van die belangrikste amptenare word in die tweede deel gekla. Daar word bv. op gewys hoedat amptenare die Kompanjie se buiteposte vir eie voordeel gebruik.

Vervolgens word in die derde deel van 37 artikels insiggewende verbeteringsmaatreëls voorgestel. Die magte van die fiskaal-independent moet in baie opsigte beperk word. 'n Burger moet slegs deur 'n burger gearresteer en dan na die burgerwaghuis geneem word. Burgers mag nooit weer na Batavia verban word nie en Buytendag moet na die Kaap terugkeer. Slegs met die burgerrade se toestemming mag burgers oorsee - en dan slegs na die Nederlande - gestuur word. Wanneer burgersake in die Politieke Raad bespreek word, moet sewe burgerrade in dié liggaam sit en hulle moet ook jaarliks oor die toestand van die burgery aan die Here XVII verslag doen. In die Raad van Justisie moet die burgers en amptenare gelyke verteenwoordiging kry, terwyl die oudste burger as vise-president moet optree. In plaas van die ou koöpteerstelsel word aanspraak gemaak op die reg van "frije verkiesing" vir alle burgerkolleges deurdat die lede van die betrokke kolleges self hul opvolgers moet kies, wat dweur die goewerneur en burgerrade aanvaar moet word. Die reg om na die Nederlande, en nie na Batavia nie, te appelleer, word vervolgens gevra. Dit dan wat die belangrike nuwe artikels van politieke aard betref; demokratiese denkbeelde aangaande 'n groter mate van burgerselfbestuur blyk hieruit.

In artikels van ekonomiese aard word gepleit vir die reg om jaarliks self twee skepe uit die Nederlande met vrae eie produkte na die Kaap te bring en dan weer die skepe met Kaapse produkte na Europa te stuur, waar die produkte in die openbaar verkoop  moet word. In- en uitvoerregte kan dan deur die Kompanjie gehef word. Die burgers versoek verder dat hulle toegelaat moet word om 'n paar skepe met Kaapse produkte na Indië te stuur en met Oosterse handelsware terug te bring. Hulle verlang ook om aan die winsgewende slawehandel met Zamzibar en Madagaskar deel te neem. Dan toon hulle aan dat dit in die belang van sowel die Kompanjie as die vryburgers is om, sonder tussenkoms van soveel amptenare, ware regstreeks van en aan die Kompanjie te koop en te verkoop. Terselfdertyd sal dit die Kompanjie se administrasiekoste verminder en laer inkooppryse vir die burgers verseker. Ten einde te verhoed dat die landdroste van Stellenbosch en Swellendam die burgers se belange skaad, moet hulle verbied word om graan-, wyn- en veeplase te besit. Die burgers wil skepelinge dadelik van verversings voorsien en nie eers na drie dae nie. Amptenare wat uit die Kompanjiediens tree, moet binne ses weke as vryburgers geregistreer word en dan ook die gewone burgerpligte onderneem. Die Kompanjie se buiteposte behoort afgeskaf te word. Geen nuwe belastings moet deur die Kompanjjie gehef word nie en daar moet meer skole en kerke op die platteland opgerig word. Ten slotte vra die burgers afskrifte van die Here XVII se i nstruksies om te kan bepaal of die instruksies volgens die bedoelilngs van die direkteure uitgevoer word.

Nadat die klagskrif van 1779 ingedien is, het die direkteure eers die hoogste Kaapse beamptes die geleentheid gegee om hulle verweer skriftelik voor te lê. Die goewerneur het ontken dat die Kaapkolonie kwynend was, asook dat die memorie opgestel is deur "de gesaamentlijke repraesentanten van de geheele Burgerstaat". Hy het beweer dat slegs 'n klein gedeelte van die bykans 3 000 Kaapse burgers dit onderteken het en byna niemand uit die buitedistrikte nie. Soos sommige van die ander amptenare, bedank Van Plettenberg, maar weens die Amerikaanse Vryheidsoorlog bly hy nog aan die Kaap aan tot Februarie 1785.

Inderdaad het die oorlogstoestande wat geheers het a.g.v. die Nederlandse Republiek se deelname aan die Amerikaanse Vryheidsoorlog van die einde van 1780 tot Mei 1784, die presiese prosedure wat met die petisie van 1779 gevolg is, in hoë mate beslis. Skeepsverbindinge tussen die Kaap en die Nederlande was stadig en onseker. Toe die geniale Franse admiraal De Suffren daarin slaag om in 1781 met 'n sterk oorlogsvloot die Kaap net voor die Britse bevelvoerder Johnstone te bereik, breek 'n tydperk van oorlogswelvaart aan die Kaap aan. Hoewel De Suffren slegs drie maande lank sy vloot aan die Kaap gestasioneer het, het hy daarna die regiment van Pondicherri aan land agtergelaat. In Mei 1782 het die regiment van Luxemburg, wat in die Kompanjie se diens was, die Kaapse verdediging verder versterk. Die aanwesigheid van soveel militêre magte het die burgers tydelik so 'n ruim afset vir hul produkte gebied, dat hulle op hul beurt weer in staat was om op groot skaal Franse weelde-artikels op te koop. Die ontevrede Kaapse vryburgers kon nou waarlik nie meer bewys dat hulle in 'n kwynende staat verkeer nie.

Nietemin het die burgers hul Nadere Memorie, gedateer 17 April 1782, as 'n verdere klagskrif opgestel. Dit is onderteken deur Jacobus van Reenen, B.J. Artoys en N.G. Heyns. Daar word weer op aangedring dat die burgers self - sonder goedkeuring van die beamptes, maar met goedkeuring van die goewerneur en burgerrade, lede in die burgerkolleges moet kan aanstel. Ten einde die verdrukking van die burgers te voorkom, moet niemand gelyktydig lid van sowel die Politieke Raad as die Raad van Justisie wees nie. Die skeiding van die regeringsmagte word hier beoog.

Eers teen Desember 1783 het die direkteure hul eerste besluite aangaande die klagskrif van 1779 geneem. In die Poliltieke Raad sou die burgers geen verteenwoordiging kry nie, maar in die Raad van Justisie sou voortaan ses i.p.v. drie burgerrade sitting hê. Die voorsitter sou steeds 'n beampte wees. Die reg van appèl word slegs na Batavia toegelaat, nie na die Nederlande nie, maar die Kaapse regspleging word verder verbeter. Weer eens, soos ná afloop van die stryd teen W.A. van der Stel, word beamptes streng verbied om grond te besit of te huur, om vee aan te hou of graan en wyn te produseer. Die struktuur van die monopoliestelsel bly net so voortbestaan: die verpagtings word behou, terwyl die burgers nie met hul eie skepe mag handel dryf nie. Hulle sou vergun word om soveel moontlik boerderyprodukte aan vreemde skepe te verhandel en nadat die Kompanjie sy eie behoeftes bevredig het, sou hul oorskot-produkte deur die goewerneur opgekoop word teen pryse wat 'n kommissie van drie burgers en drie beamptes bepaal het.

Op die ander burgerversoeke het die direkteure eers teen die middel van 1785 geantwoord. Vrye verkiesing in burgerlike kolleges is geweier, maar burgers sou vrye toegang hê tot die regbank en die sekretariaat. Voortaan sou hulle nie verplig word om in Kompanjiesdiens te tree nie en hulle mag ook nie meer na Batavia verban word nie. Hulle sou die keuse tussen Batavia en die Nederlande gegun word.

In die lig van h ierdie onbevredigende verloop van sake, het die burgers intussen voortgegaan m et  hul beraadslagings. In November 1784 is "Gecommitteerde Representanten" ingesweer. Teen die volgende maand het hulle reeds 'n voorlopige adres gereed, gerig aan die Voorsitter van die State-Generaal van die Republiek. Die aanstelling van J.J. Serrurier as Boers se opvolger het 'n "veel haatlijker, kwaadaardiger" fiskaal-independent aan die Kaap besorg. Verdere owerheidsoptrede het tot nog versoekskrifte gelei en al die petisies is in Mei 1785 aan die State-Generaal voorgelê.

Toe dit duidelik word dat die nuwe goewerneur, luitenant-kolonel C.J. van de Graaff ('n vriend van die Stadhouer) die burgers ook nie wou tegemoetkkom nie, kies hulle M.A. Bergh, Johannes Roos, J.H. Redelinghuys en J.A. Bresler om persoonlik die burgersaak aan die State-Generaal voor te lê. Onenigheid onder die vier afgevaardigdes het egter tot Bergh se bedanking gelei. In April 1786 het die ander drie 'n petisie ingedien waarin die State-Generaal versoek is om vasomskrewe wette en 'n b ehoorlike prosedure in die regspleging te verseker, terwyl hulle op ekonomiese gebied doeltreffende beskerming verlang het teen die willekeur en despotisme van die amptenare. Hoewel daar in die Republiek heelwat simpatie met die lot van die Kaapse burgers gewek is, is in werklikheid niks meer bereik nie: die State-Generaal was nie bereid om h om in te laat met Kompanjiesaangeleenthede nie.

Die Kaapse burgers het hulself Patriotte genoem, in navolging van die party wat in die Nederlande die beleid van die Oranjeparty teengestaan het. Dieselfde demokratiese denkbeelde van Engelse en Franse Verligtingsfilosowe soos Locke en Price, Montesquieu en Rousseau, het albei aangevuur. Die voorbeeld van die geslaagde Amerikaanse Revolusie moes noodwendig alle Patriotte aangespoor het om in hul demokraties-revolusionêre stryd te volhard. Soos in die Nederlande, het die Kaapse Patriotte aansluiting by die Franse gesoek, terwyl die Oranjegesindes Brittanje as bondgenoot verkies het. En soos in die Nederlande, het die Kaapse Patriotte ook misluk in  hul strewwe. Deur die inval van 'n Pruisiese leër in die Nederlande in 1787 is die Patriotte daar onderdruk en die Oranjeparty se gesag herstel. Eers kort voor die end van die 18de eeu sou die monopolistiese handelskompanjie deur die Nederlandse regering afgeskaf word, maar daarmee is nie burgerlike vryhede aan koloniste verleen nie. Van die beginsel dat kolonies as onderhorige geweste ten behoewe van die moederland uitgebuit kon word, sou nog lank nie afgesien word nie.(1) Aan die Kaap het die Patriotte nie hul gronddoelstellings verwesenlik nie, hoofsaaklik omdat die hoogste gesagvoerders van die Kompanjie, wat kop in een mus met die regeerders van die Republiek was, glad nie bereid was om teen hul eie belange in die gevraagde demokratiese en ekonomiese hervormings in te voer nie.

(1) Vgl. G.J. Schutte: De Nederlandse Patriotte en de Koloniën, proefskrif, Rijksuniversiteit te Utrecht, 1974

Tog is die Patriottebeweging van aansienlike betekenis in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Vir die eerste keer vat die demokratiese idees dat die volk self sy owerheid kan aanwys en afdank, aan die Kaap pos; soos ook die idee dat volksverteenwoordigers oor die vryburgerbelange moet waak, dat die beginsel van vrye verkiesing ingestel en regeringsmagte geskei moet word, en dat die volk - of die permanente inwoners van die Kaap - deur onskendbare wette teen amptenaarwillekeur beskerm moet word. Die term "volkstem" word nou gebesig, om nog later onder die opstandige grensboere van Graaff-Reinet en Swellendam en nog later onder die Voortrekkers, opnuut aangegryp en later in die 19de eeu ingedra te word. Die term "Patriot" is  nie slegs 'n aanprysing van eie, voortreflike vaderlandsliefde nie, maar weerspieël 'n werklike liefde vir 'n land, Suid-Afrika, en 'n volk, die permanente Kapenaars aan die suidpunt daarvan. Hierdie terme is dus betekenisvolle simptome van 'n plaaslike patriotisme wat aan die Kaap ontluik het.

In die binneland was die plaaslike patriotisme aan die Kaap in baie opsigte die verste ontwikkel. Daar het dit onder druk van veral nie-blankes ontluik. Tot hierdie ontwikkeling het die inboorlingbeleid van die Kompanie teenoor die Hottentotte, die Boesmans en by uitstek die Xhosas, heelwat bygedra.

Die Kompanjie, die boer en die Inboorling

Teen die laaste 18 jaar van die Kompanjiesbewind was die stamstelsel van die Kaapse Hottentotte reeds so goed as vernietig. Baie Hottentotte was verarm en sonder vee. Die groot getalle wat nie meer 'n kaptein aangehang het nie, het òf rondswerwende jagters geword, òf - soos die Boesmans - 'n rowerslewe begin lei, òf na boereplase gegaan as laagbesoldigde bediendes, òf hulle teen die negentigerjare op 'n sendingstate gaan vestig. 'n Nuwe gemeenskap met nuwe probleme en nuwe uitdagings was besig om te ontwikkel. Van die Hottentot. die boer en die Kompanjjie het dit reoriëntasie geverg. Aangelok deur brandewyn en tabak, was die Hottentot besig om in 'n ondergeskikte posisie by die blanke binnelandse of grensgemeenskap ingeskakel te word. Die blanke boer het met die Hottentot nie slegs as ongeskoolde arbeider te doen gekry nie, maar ook as potensiële Christen wat op sosiale gebied soms met die "geboorene Christenen" begin meeding het.

Die Kompanjie was dus verplig om sy beleid teenoor die Hottentotte drasties te begin wysig: Waar hy eers koud-onverskillilg gestaan het teenoor selfstandige Hottentotstamme wat as vee-produsente gedien het, het hy nou die ontstamde Hottentotte in beskerming begin neem teen 'n blanke, Christelike diensheerklas wat in verset begin kom het teen die aspirasies en optrede van die individuele Hottentotte. Laasgenoemde het Kompanjiesonderdame geword, het ook vuurwapens leer hanteer en is op kommando geneem. Die landdroste is beveel om te sorg dat die Hottentotte nie mishandel word nie en om veral toe te sien dat hulle nooit verhinder word om hul klagtes aan die owerhede voor te lê nie. En wanneer probeer is om Hottentotte te beskerm, is die verset van boere dikwels gewek. Toe Morawiese sendelinge in die negentigerjare weer die Hottentotte in die distrik Swellendam begin kersten en ook vir Hottentotbelange by die owerhede intree, het die boereveset daar sterk opgevlam.

Die talryke slawe het met die Hottentotte vermeng en sodoende die getalle van die gekleurdes aanmerklik laat aangroei. Om dié kinders, wat al belowende arbeiders beskou is, nog voordeliger arbeiders te maak en onder beter beheer te plaas, het die owerheid goedgekeur dat hulle verplig word om tot die ouderdom van 25 jaar by 'n bepaalde werkgewer te werk. Die inboekstelsel is later tot ander gekleurdes uitgebrei.

Oor lg. groep is baie geskryf, maar weinig navorsing gedoen.(2) Uit Van Riebeeck se Dagregister, die Kerkregisters en die stukke van die Raad van Justisie blyk dat daar in die begin van die blanke nedersetting aan die Kaap min bloedvermenging plaasgevind het. almal het in die Fort geslaap en die beheer was streng. Van Riebeeck het blanke mans toegelaat om met vrygestelde slavinne te trou, mits hulle die Nederlandse taal kon praat en kennis gedra het van die belydenisskrifte. 'n Vrygestelde slaaf of slavin was bekend as 'n vryswarte en het dieselfde regte en voorregte gehad as die vryburgers.

(2) J.S. Marais het in sy The Cape Coloured People geen navorsing oor die herkoms van die Kaapse Kleurling gedoen nie, terwyl dr. H.P. Cruse in Die Opheffing van die Kleurlingbevolking, soos sy titel aandui, die klem op die opvoeding laat val

Honderd jaar later, in 1752, word die vryswartes beskryf as "personen alhier woonagtig, schoon dat se van geen Europese bloed sijn afkomstig".(3) Daar word verder gesê dat  hulle "alle privilegien en voorregten der bugeren genieten". Die benaming "vrijswarten" kom nog 'n paar keer in die stukke van die 18de eeu voor,(4) maar maak in die 19de eeu plek vir "all slaves or people of colouer" en "free persons of Colour".(5)

(3) M.K. Jeffreys en S.D. Naudé, Kaapse Plakkaatboek, deel II, 1707-1752, p. 239

(4)S.D. Naudé: Kaapse Plakkaatboek, deel III, 1754-1786, pp. 9, 67 en 80

(5) S.D. Naudé: Kaapse Plakkaatboek, deel V, 1795-1803, p. 255

Hottentotstamme wat nie met hierdie geleidelike inskakeling by die blanke gemeenskap genoeë geneem het nie, het noordwaarts uitgewyk. Onder hulle was die latere Griekwas (eers die Grigriekwa of Chariguriekwa) en Korannas (tevore bekend as die Kora of Gorachoukwa) belangrik. Nadat albei stamme in die omgewing van die Kaapse skiereiland gedeeltelik verwesters is, het hulle uit verdere Hollandse invloed en beheer weggetrek. Versterk deur Westerse kennis, vaardighede en hulpmiddels (soos die perd en geweer) sou hulle hul so goed teen Boesmans en sommige Bantoestamme handhaaf dat hulle hul later stewig aan en benoorde die Oranjerivier sou vestig. Daar sou die trekboere en Voortrekkers soms met hulle saamwerk en meer dikwels met hulle bots.

Die boesmans het suiwer 'n grensprobleem gebly. Van die trekboere in die Camdebo en dié langs die Sneeuberge het gevind dat hulle hul tradisionele jagvelde hardnekking met die gifpyl verdedig het en sommige boere moes suidwaarts terugval. Blitsige aanvalle op die veestapel van die noord-grensboer was die Boesman se reaksie, gevolg deur aftogte na rotsagtige steiltes en grotte in hoë berge, waarheen berede boere hulle nie maklik kon agtervolg nie. Hottentotveewagters is vermoor, terwyl plase snags aangeval en huise soms afgebrand is.

Daadwerklike beskerming kon die Kompanjiesowerhede nie aan die boere op die afgeleë noordgrens verleen nie. Hulle is van gewere en ammunisie voorsien en toegelaat om hulle in kommando's te organiseer, die Boesmanrowers stelselmatig te agtervolg, van die volwassenes dood te skiet, van die agtergeblewe kinders in te boek en die vee terug te bring. Baie honderde van die moeilik assimileerbare Boesmans is gedood en baie min in die koloniale gemeenskap opgeneem. Sowel die blankes as die Hottentotte en die swartes se hand as teen hulle. Die historiese betekenis van die Boesmans lê daarin dat hulle gedurende die laaste drie dekades van die 18de eeu die noordwaartse uitbreiding van die trekboer gestrem  het. Op 15 November 1779 rapporteer veldkorporaal Albertus van Jaarsveld aan die landdros van Stellenbosch: "Daar was nog nooit so 'n inval deur die Boesmans soos nou nie, want daagliks sien ons die Boesmans hier en hoewel ons ons bes doen, kan ons hulle nie inhaal nie; die landstreek is so ru en heuwelagtig ... En, meneer, let asseblief op die (groot) getal vee wat hulle onlangs weggevoer het".(6) Die boere het selfs die noordoosgrens verlaat, hulle na Bruintjieshoogte begeef en tot oor die Visrivier die land van "Caffers" binnegetrek.

(6) Hervertaal uit die Engelse vertaling van D. Moodie: The Record or a series of official papers relative to the condition and treatment of the Native Tribes of South Africa, III (fotostatiese herdruk. A.A. Balkema, Amsterdam en Kaapstad, 1960), p. 87

Alhoewel blankes veel vroeër in die 18de eeu al met die Xhosas in aanraking gekom het, het daar eers in ons tydperk 'n konkrete grens (van ongeveer Bruintjieshoogte tot aan die see) tussen die Xhosa en die trekboer verskyn. Die oosgrens van die Kaapkolonie was die eerste van talle grense tussen die wit- en die swartman; as sodanig het dit 'n besondere betekenis. Aan die oosgrens setel die grondliggende oorsaak van die lang reeks grensbotsings veral daarin dat albei rasse veeboere was wat dieselfde weiveld begeer het. Vanweë hul totaal verskillende gewoontes en gebruike (bv. oor grondbesit), sou misverstande maklik kon ontstaan en in gewelddadige bosings ontaard. Oor die jag op wild was daar skerp wedywering. Terwyl die trekboere wildvleis geëet het om hul kuddes te spaar, het die Xhosas die wild hoofsaaklik terwille van die velle gejag. Vir die Xhosa was dit 'n natuurlike gebruik om weke lank by die boer te gaan kuier en te verwag dat die boer hom u it sy karige middele moes onthaal. Die geïsoleerde boer het dit 'n ondraaglike las gevind en het tewens onveilig gevoel tussen die veel talryker Xhosas, wat al hoe meer as 'n bedreiging vir sy veiligheid beskou is. Van al die inboorlinge in Suid-Afrika het die swartmense die grootste belangstelling getoon in die grond, wat hulle op 'n primitiewe manier bewerk en beplant het. Kultureel het hulle veel hoër gestaan as die ander inboorllinge en op ekonomiese en politieke gebied het hulle veel meer krag as die ander gemonster. Omdat hulle goed georganiseer was onder tradisionele kapteis en goed gewapen met die werp- en steekassegaai, is dit te begrype dat die Xhosas jare lank suksesvol teen die betreklik klein getal geïsoleerde grensboere weerstand kon bied, hoewel lg. vuurwapens gehad en te perd uit 'n walaer geveg het.

Die onmiddellike oorsake van die eerste gewelddadige botsings, wat vanaf 1779 tussen die oosgrensboere en die mees westelike Xhosastamme plaasgevind het, kan nie met sekerheid bepaal word nie. Dit skyn egter asof bweheer deur die owerhede ontbreek het aan weerskante van die dun bevolke en vir albei kante afgeleë grensstreke. Gevolglik kon weerbarstige elemente optree in stryd met 'n grensbeleid wat buitendien vaag was. Avontuurlustige blanke jagters en veeruilers het met geweld Xhosabeeste in Xhosagebied geroof, terwyl kleiner Xhosakapteins met gewelddadige optrede groter hoofde se pogings tot 'n vreedsame grensskikking verydel het. Onder hierdie toestande van onrus het 'n gevoel van naderende onheil, teref of ten onregte, die blanke grensboer beetgepak en dit kon tot twee uiterstes lei: 'n Georganiseerde aanval deur beproefde kommando's op die westelike Xhosas, of plaasverlating en 'n terugtog na die weste. Die Xhosastandpunt is onduidelik; hulle het o.m. beswaar gemaak teen veediefstalle deur Gonaquas-Hottentotte wat by die blankes skuiling sou gesoek het.

Wat ppl a; doe pm,odde;;ole pprsale van die eerste grensbotsing tussen die Xhosa en die trekboer was, elemente van wrywing was reeds so ten grondslag aan die verhouding tussen die twee rassegroepe dat 'n honderd jaar van onderbroke oorlogvoering voor die deur gestaan het. En waar die blanke boer n byna 60 jaar grotendeels a.g.v. onrus op sy Xhosagrens noord- en noordooswaarts uitgewyk het, sou sy beleid jeens die swartmense in groter Suid-Afrika noodwendig deur sy geslagtelange aanraking met die Xhosa bepaal word. Kaapse oosgrensverhoudings is dus van grondliggende betekenis in ons geskiedenis.

Toe goewerneuer Van Plettenberg laat 1778 die Suurveld besoek het, het hy verskille Xhosagroepe met hul vee daar aangetref. Omdat hy probeer het om gebiedskeiding tussen Xhosa en trekboer langs die Groot-Visrivier te bewrkstellig, het hy met 'n paar ondergeskikte Xhosakapteins ooreengekom dat hulle oos van die genoemde rivier sou bly woon (kyk Hoofstuk 5). Met Rarabe, die opperhoof in dié gebied, het hy egter nie sy grensreëling bespreek nie. Moeilikheid kon dus verwag word en het die volgende jaar gekom toe Xhosabeeste op groot skaal vir weiding oor die grens geneem is. In die streek agter Bruintjieshoogte het die eerste gewelddadige botsings plaasgevind. Langs die hele grens het veediefstalle in so 'n mate voorgekkom dat baie grensboere teen die einde van 1779 hul plase langs die Vis- en die Boesmansrivier ontrui, het. Gedurende 1779-1780  is twee boerekommando's georganiseer om die Xosas na hul eie land te agtervolg. Die goewerneur van die Politieke Raad het Adriaan van Jaarsveld nou as kommandant van die oosgrensstreke aangewys. Ooreenkomstig die Kompanjie se besuinigingsbeleid, moes hy 'n blywende vrede met die Xhosas sluit en sorg dra dat grensboere nie langer vee in die Xhosagebied gaan ruil nie.  Met 'n perdekommando van 92 man en 40 Hottentotte het Van Jaarsveld in Mei en Junie 1781 alle Xhosas na Kafferland teruggedryf. In stryd met sy bevele het hy 5 300 Xhosabeeste gebuit en dit verdeel onder kommandolede e.a. boere wat veeverliese gely het. Dit was die einde van die eerste "oorlog".

Jare lank het die boere in die verre oostelike streke aangedring op 'n eie predikant en landdros. Eers in 1786 is M.H.O. Woeke as landdros van die nuwe distrik Graaff-Reinet uitgestuur. Ds. J.H. von Manger, die eerste predikant, sou eers in 1792 daar aankom. Die belangrike distrik Graaff-Reinet is uit die oostelike gedeeltes van die distrikte Stellenbosch en Swellendam saamgestel. Dit is deur die Gamtoosrivier van Swellendam geskei. Langs die Tarka- en Baviaansrivier - en daarna langs die Groot-Visrivier tot by sy mond - het die nou belangrike oosgrens geloop.

Die betekenis van die stigting van die drosdy te Graaff-Reinett lê daarin dat hoewel die ondersteunende hand van die owerheid nou, soos versoek, na aan die problematiese oosgrens gekom het, die Kompanjiesamptenare die grensboere se weerbaarheid aan bande gelê het. Dit was die Kkompanjie se beleid om tot elke prys die vrede op die verafgeleë Xhosagrens te bewaar. Aan die een kant was dit met die oog op besuiniging en aan die ander kant om die Xhosas om filantropiese redes te beskerm teen moontllike verontregting deur blanke boere. Onder sekere omstandighede kon dit die bestaan van die kleiln aantal grensboere uiters moeilik maak. Tydens die laaste jare van die Kompanjiesbewind sou omstandighede so ontwikkel dat 'n reeks krisisse in die oosgrens-distrikte ontstaan het wat uiteindelik tot die afwerping van die Kompanjiesgesag sou lei.

Landdros Woeke het tevergeefs probeer om trekboer en Xhosa uitmekaar te hou, albei het weiveld oorkant die grens gesoek en Xhosabeeste is dikwels onwettiglik verhandel. Om daarwerklik te kan optree, het woeke minstens 50 tot 60 soldae aangevra, maar dié magsmiddele wou die owerheid nie gee nie. Toe die landdros teen 1789 besluit dat daar te veel Xhosas wes van die Visrivier was, het hy burgeroffisiere beveel om hulle te verdryf. Voordat die terugdrwyingsproses afgehandel is, het die owerhede beveel dat daar deur vriendskaplike onderhandelings tot 'n vergelyk gekom moes word. Dit is probeer, maar intussen het die groot aantal Xhosa ten weste van die grens onrus onder die boere sterk laat aangroei. Die Xhosas het nie afstand gedoen van hul aanspraak op die Suurveld as weiveld nie. Teen die negentigerjare het veediefstalle, veral deur 'n rondloper-klas Xhosa, 'n oorwegende rol in die grenswrywing begin speel. Groot getalle Xhosas het toe tussen die boere, selfs tot aan die Sondagsrivier, gewoon. Boerevertoë wat aan landdros Woeke gerig is om te vra dat die Xhosas verdryf moes word, het tot niks gelei nie. In Mei 1793 het die ongewilde H.C.D. Maynier landdros van Graaff-Reinet geword. Filantropies gesind, het hy naarstiglik die passiewe, vreedsame Kompanjiesbeleid teenoordie Xhosas nagevolg. Teen dié tyd het heelwat gesinne reeds gevlug en het die orige boere verdedigingsmaatreëls getref. 'n Oorhaastige boere-aanval met die hulp van die Xhosahoof Ndlambe het 'n verwoestende teenaanval uitgelok waarin die hele landstreek tussen die Swartkops- en die Visrivier deur die Xhosas beset is. Baie vee is gebuit, plaashuise afgebrand en 'n aantal boere en bediendes gedood en van 120 plate is - op vier na - almal verwoes.

Nadat Maynier verdere kommando-aanvalle op die Xhosa verbied en self tevergeefs progeer het om deur onderhandelings die Xhosas oor die grens te laat terugkeer en om die geroofde vee van hulle terug te kry, het hy met 'n te klein mag tevergeefs probeer om die vyand terug te dryf. Meer burgers, ook uit Swellendam, is nou byeengetrek met opdragte om dié oogmerk sonder onnodige bloedvergieting te bereik. Maynier, wat weens die burgeroffisiere se wantroue in sy Xhosabeleid slegs 'n klein aantal Graaff-Reinetters onder sy bevel kon verenig, moes in sy daaropvolgende inval in Xhosagebied grotendeels op 'n sterk kommando Swellendammers steun. Tydens 'n vrugtelose rondtrek in Kafferland het vyandelike Xhosas die digbeboste oewers van die Sondags- en die Boesmansrivier beset en vanuit hierdie strategiese posisies aanvalle op die boere geloods.

Hoewel die doel nie bereik is nie, is vredesonderhandelings met die Xhosas aangeknoop. Daar was slegs 4 000 van die gebuite beeste beskikbaar om as skadevergoeding onder die grensboere verdeel te word. Onrus in die oosgrensstreke het voortgeduur; die Xhosas het nie verhuis nie en veediefstalle het toegeneem. Maynier het geweier om die boere te beskerm. Sy aanvbeveling dat geen geweld teen die Xhosas gebruik moes word nie, is deur Kompanjiesowerheid aanvaar. Die beleid van gebiedskeiding moes "met alle mogelijke zachtzinnigheid" toegepas word. Slegs in selfverdediging kon boerekkommando's in die vervolg uittrek en dan net met Maynier se toestemming. Die landdros sdou deur jaarlikse geskenke aan die Xhosas probeer om  hul vriendskap te win. Omdat die owerhede glad nie bereid was om verdere geweld teen die Xhosas goed te keur nie en lg. geweier het om hulle oos van die Visrivierte begeef, kon die neergelegde beleid van ekonomiese en gebiedskeiding nie slaag nie.

Vir baie oosgrensboere het hul posisie nou ondraaglik voorgekom. die Kompanjie wou hulle nie beskern nie en hulle ook nie toelaat om hulself behoorlik te beskerm nie. Die opvallende oplossing was die algehele afwerping van die gesag van hul onsimpatieke owerheid.

Ook in die westelike Kaapkolonie het die sterwende Kompanjie glad nie daarin geslaag om 'n beleid op te stel aangaande die talle ander vraagstukke wat dringend op oplossings gewag het nie. Sy hervormingsmaatres was te min en te laat, nog te veel op korttermynbelange gerig en dus te ondoeltreffend.

Vergeefste Kompanjiesmaatreëls en burgerreaksies

Die laaste tien jaar van die Kompanjiesbewind aan die Kaap word enersyds gekenmerk deur die vinnig versnelde agteruitgang van die Kompanjie en andersyds deur die merkwaardige ondoeltreffendheid van owerheidspogings om toestande aan die Kaap te verbeter. Ná afloop van die Amerikaanse Vryheidsoorlog - en toe die skuld van die Kompanjie reeds 49,5 miljoen gulden beloop het, is die vestingboukundige luitenant-gkolonel C.J. van de Graaff in 1785 as goewerneur na die Kaap gestuur. Met 'n salaris van 18 000 gulden per jaar het hy weelderig gelewe en geweldige bedrae bestee aan batterye, forte en skanse, benewens die onderhoudskkoste van die huurtroepe. Die nuwe goewerneur het  met sy mede-amptenare gebots, sy administratiewe pligte verwaarloos en ook nie die burgers tevrede gestel nie. Hy het soveel papiergeld uitgegee dat daar in Augustus 1791 reeds meer as 'n halfmiljoen riksdaalderds in omloop was, geld waarvan die waarde steeds verminder het. Toe die Here XVII uiteindelik agterkom wat aan die Kaap aan die gang was - en in besonder dat die Kaapse tekkorte so toegeneem het dat dit wesenlik tot die ekonomiese verswakking van die Kkompanjie bygedra het (die skuld was nou 80 miljoen gulden) - is opdrastiese besuinigingsmaatreëls besluit. Alle bouwerke aan die Kaap moes onmiddellik gestaak word, amptenare se voorregte moes ingekort word, slawe en buiteposte moes verkoop en die Wurtemburgse regiment na Batavia gestuur word. Goewerneur Van de Graaff is teruggeroep en het die Kaap in Junie 1791 verlaat. Die Kaapkolonie was toe nog glad nie doeltreffend teen 'n oorsese aanval beskerm nie en, volgens die Kompanjie se boeke, nou eers diep in die skuld.

Die State-Generaal, wat nou in die Kompanjie se sake ingegryp het, het in November 1791 'n hervormingskommissie uit die Nederlande gestuur, wat in Junie 1792 in die Kaap aangekom het. Nederburgh en Frykenius, die kommissarisse, het bykans 15 maande aan hul ondersoeke in en om die Kaapse skiereiland gewy, maar het dit uiters moeilik gevind om konstruktiewe langtermynhervormings in te stel. Hulle het uitgawes drasties besnoei, o.m. deur sekere ampte af te skaf en die ander beamptes swaarder pligte op te lê, egter met verhoogde salarisse. Groter inkomste is nagestreef deur die heffing van nuwe belastings, soos die ongewilde vendusieregte, die heffing van hawehoof- en kraangelde op skepe en nuwe doeaneregte op ingevoerde goedere (wat die lewenskoste aan die Kaap verhoog het), die instelling van 'n onsuksesvolle belasting op rytuie wat vir "gemak en vermaak" aangehou word en die heffing van 5% belasting op alle roerende en onroerende eiendom van hoë Kaapse beamptes wat na die Nederlande terugkeer. Verder is die oordragkoste op vaste eiendom van 2,5% tot 4% verhoog. Dit spreek vanself dat sowel amptenare as vryburgers bitter ontevrede was met baie van hierdie hervormingspogings van die kommissarisse - pogings wat buitendien geen wesentlike verligting vir die Kompanjie gebring het nie.

Omdat die kommissarisse opdrag gegee is om vir die ontevrede burgrs beter bestaansmoontlike te vind en hulle besef het dat hulle dit met hul belastingbeleid self bemoeilik het, het hulle in nuwe rigtings bronne van welvaart gesoek. Die uitvoer van wol is aangemoedig deur die vraggeld aan te pas by die prys wat in die Nederlande behaal is. Verder is vermoëmde ondernemers aangemoedig "om langs die kusten en in die baaijen omstreeks de Caab de Goede Hoop de Walvischvangst te onderneemen, welke aldaar door de Engelschen en Noord Amerikanen met veel succes word gepractiseer..."(7) Die tevore gesogte winsgewende slawehandel met die ooskus van Afrika en Madagaskar word nou aan die vryburgers vergun. Dan het Nederburgh en Frykenius in November 1792 uiteindelik ook die voorheen meermaal aangevraagde oorsese vryhandel met eie skepe toegelaat. Die invoer van speserye, suiker en koffie is nog vir die Kompanjie voorbehou.

(7) Echte stukken ens., Instruksie virC.C.G.C., Art. 7 p. 144, aangehaal deur dr. A.J. Böesken: Die Nederlandse Kommissarisse en die 18de Eeuse Samelewing aan die Kaap (in Argief-jaarboek vi Suid-Afrikaanse Geskiedenis, 7de jrg., 1944), p. 193

Vir die eerste maal word die burgers toegelaat om hul eie produkte met hul eie skepe na 'n oorsese mark uit te voer en om in ruil daarvoor ander produkte (met sekere uitsonderings) in te voer. 'n Suksesvolle eie skeepvaartbedryf kon egter nie oornag opgebou word nie. Veel kapitaal, handels- en seevaartervaring en rustige tye was nodig. Geeneen van dié gunstige faktore was nou aanwesig nie. Die burgers was ook afhanklik van die Kompanjie se goeie gesindheid om geskikte vaartuie teen redelike pryse aan hulle te verskaf. Nadat O.G. de Wet De Zeenimph vir 15 000 gulden aangekoop het, het dit in 'n storm vergaan. Dit het vir die aandeelhouers swaar verliese meegebring. Die burger J.J. Vos se De Dankbare Africaan, wat vir 14 400 gulden aangekoop is, het kusvaart om die Kaap beoefen en ook winsgewende togte na Oos-Indië onderneem. Deur 'n twis onder die aandeelhouers is egter weer verliese gely. Later is die skippie deur die Britte gebuit. 'n Ander skippe wat drie optimistiese Van Reenens De Hoop op Welvaart verdoop het, het o.a. met St. Helena-eiland handel gedryf. Aan die begin van 1794 is die Kaapse burgers toegelaat om hul oorsese handel na Australië uit te brei, mits hulle op die terugreis slegs oor Timor na Batavia vaar en in 1795 het hulle die verdere vergunning verkry om Chinese ware te Batavia in te skeep. In April 1795 het De Herstelder met produkte van die Kaapse walvis- en robvangs na Europa vertrek, maar is ter hoogte van Noorweë deur 'n Britse kaperskip gebuit.

Hierdie amptelike erkenning en tegemoetkoming van private onderneming het egter veels te laat gekom. Die oorlog het handel en skeepvaart na en van die Kaap byna tot stilstand gebring. Goed bewapende Britse kruisers het die swak toegeruste Kaapse skepies maklik gebuit. 'n Soortgelyke vergunning kon Kapenare in die vroeër 18de eeu uitnemend benut het. Die Kaap se pragtig-strategiese posisie in die suidelike halfrond en op pad na en van die Ooste en Europese hawestede kon vir die Kapenare tot groot voordeel gestek het. Inderdaad was groot- en kleinhandelaars reeds lank bedektelik aan die Kaap besig om aan die internasionale handelsverkeer deel te neem en met medewerking van Kompanjiesbeamptes kapitaal op te bou. Na Noord-Amerika, Londen, Amsterdam e.a. stede op die vasteland van Europa en in die Ooste is 'n bedrywige en ondernemende korrespondensie gevoer, goedere in Kompanjies- en vreemde skepe is heen en weer verskeep en verrekenings gedoen. Die beperkings wat die Kompanjie op dié handel gelê en die onsekerheid wat sowel vredes- as oorlogstye meegebring het, het egter groot kapitaalvorming aan bande gelê.

Die omstandighede waaronder Nederburgh en Frykenius hul hervormings ingestel het, het die ondernemende skiereilandse burgers dus glad nie tevrede gestel nie. Hul posisie het al hoe hagliker geword. Een van hul probleme  was die skaarste aan klilnkende munt, wat weens die Kompanjjiesbeleid van die Kaap weggestroom het. Die kommissarisse het in April 1793 in oorleg met die Politieke Raad besluit om 'n leningsbank op te rig waar die burgers geld kon kry teen 'n rentekoers van 5%. Dit het egter nie 'n vermeerdering van gemunte geld beteken nie, want slegs depresiërende papiergeld was daarvoor beskikbaar. Die kommissarisse het geen illusies gekoester oor die ondoeltreffendheid van hul maatreëls nie. Telkens het hulle voor die totale bankrotskap van die Kompanjie te staan gekom. Nederburgh het bv. slegs daarna gestrewe om "by de aanstaande val van de Compagnie de zaaken buiten confusie te houden".(8)

(8) S.G. Nederburgh se "Consideration over de toestand waarin de Oostindische Compagnie zig in dit ogenblik bevind...", 7 Maart 1791, aangehaal deur A.J. Böesken in Die Nederlandse Kommissarisse, p. 188

Die kommissarisse het dan ook verslag gedoen dat die groot meerderheid van die Kaapse inwoners geruïneer en sonder hulpmiddels was om hulself reg te ruk. Teen Februarie 1794 kla die burgerrade weer oor die wanhopige toestnad waarin die burgers verkeer en bevstig dat dit o.m. aan die bovermelde oorsake toegeskryf moes word. Laat in 1795 skryf J.F. Kirsten dat die burgers van Stellenbosch so ontevrede was dat hulle op die punt was om soos Graaff-Reinet en Swellendam teen die Kompanjie op te staan en - voeg hy daarby - dat indien die Britse veroweringsvloot nie aan die Kaap opgedaag het nie, ook die Kaapse distrik by die ander distrikte kon aangesluit het.(9) "I do not suppose" - so gaan Kirsten voort - "the Annals of Turkey can produce an equal parallel of Tyranny and Extortion."(10)

(9) Vgl. artikel 13 van Kirsten se skrifstuk in C.F,.J. Muller: Johannes Frederik Kirsten oor die toestand van die Kaapkolonie in 1795 (Pretoria, 1960), p. 60

(10) Ibid, p. 63 (artikel 19)

Waar die burgerreaksies in die skiereiland en omgewing beperk is deur die magsmiddele waaroor die Kompanjie nog in die omgewing beskik het, was die Graaff-Reinetse en Swellendamse grensboere veel vryer om hul diepe onvergenoegdheid daadwerklik te toon. Die kommissarisse het maar te goed besef dat die Kompanjie se administrasie van die afgeleë distrikte baie onbevredigend was en ingesien dat hewige reaksies nie kon uitbly nie. Tog het hulle niks gedoen om grenstoestande te ondersoek en te probeer hervorm nie. Verder as Stellenbosch het hulle hul nie begeef nie.

Opstand in Graaff-Reinet en Swellendam

Die beleid teenoor die grensdistrikte is (in die raamwerk deur die Kompanjie toegelaat) bepaal deur kommissaris-generaal J.A. Sluysken, wat in September 1793 deur Nederburgh en Frykenius in Kaapstad in bevel agterlaat is. Op die verre Xhosagrens het die ongewilde landdros Maynier ook in 1793 die plaaslike beheer verkry en, soos hierbo aangetoon, die oorheersende rol daar gespeel. Maynier se beleid het tot opstand gelei. 'n Belangrike groep grensboere het teen die begin van 1795 vas geglo dat hul bestaan daar ondraaglik geword het. Laat in Januarie het boere 'n "te samenstemming" onderteken en op 6 Februarie 1795 het sekere heemrade, oud-heemrade en burgeroffisiere met die steun van gewapende boere die landdros gelas om die drosdy te verlaat. Demokraties-revolsionêre terme en denkbeelde word onder hulle aangetref. Hulle het hul die "algemene volkstem" genoem en "representanten" gekies om hul belange te behartig. Hierdie verteenwoordigers het nou saam met die heemrade en burgeroffisiere vergader om hul eie ampsdraers aan te wys. So is burgerluitenant C.D. Gerotz as provisionele landdros aangestel. Sloysken het tevergeefs probeer om deur die afvaardiging van 'n kommissie onder O.G. de Wet, president van die Raad van Justisie, die opstandige Graaff-Reinetters te oorreed om weer die Kompanjiesgesag te aanvaar. Die grensboere het nou geweier om die Kompanjie se wette te gehoorsaam of sy belastings te betaal.

Op 17 en 18 Junie 1795 het die distrik Wellendam Graaff-Reinet nagevolg. Dit was bowenal 'n heftige protes teen die Kompanjie se ekonomiese en Hottentotbeleid. Sowat 60 gewapende burgers onder 'n selfverkose "Nasionale Kommandant", J.P. Delport, het landdros A.A. Faure met sy assistente gedwing om hul ampte neer te lê enh et Hermanus Steyn as "Nasionale Landdros" aangewys. Die opstandige burgers het as hoogste bestuursliggaam 'n revolusionêre Nasionale Konvensie daargestel. 'n Verklaring van onafhanklikheid was dit nie; wel 'n afwerping van die Kompanjiesgesag en 'n plasing onder die vlag van die Nederlandse Republiek.

'n Maand later het die lede van die Nasionale Konvensie op 'n belangrike vergadering hul posisie teenoor die Kompanjiesbewin oorweeg en hulle vasberade verklaar om hul bewind te handhaaf. Hulle motivering lui: "Want wij lang genoeg in het Juk der Slavernij zijn geweest en wij nu geresolveert zijn het leste droppelbloed voor ons lieve Vaderland te waagen en ons onder een Vrije Republiecq te sorteeren."(11) Dit was die end van die Kompanjie se beheer in die twee grensdistrikte. Die magte van die sterwende Kompanjie was o.l.v. Sluysken reeds besig om teen 'n Britse vloot in Valsbaai weerstand te bied en die owerheid het gehoop op hulp van die revolusionêre Swellendammers. In alle geval was daar geen sprake van soldate ooswaarts stuur om die omstandige "Colonies" te onderwerp nie.

(11) Aangehaal deur dr. C. Beyers in A.J.H. van der Walt et al, Geskiedenis van Suid-Afrika, I (Kaapstad ens. 1952), p. 182

Die eerste Britse verowering

Nadat prins Willem V in Januarie 1795 na Engeland gevlug het, het revolusionêre Frankryk die beheer oorgeneem oor die Republiek van die Verenigde Nederlande, waar die Bataafse Republiek gestig is. 'n Sterk Britse vlootmag is spoedig uitgerus om die Franse aan die Kaap voor te spring en met 'n brief van die Prins van Oranje, waarin Sluysken versoek is om die Britte as vriende te ontvang, het dit na die Kaap geseil. Toe admiraal Elphinstone met troepe onder bevel van generaal Craig in Junnie 1795 in Valsbaai aankom, het Sluysken hom teen die Britse mag verset. Burgers is uit die buitedistrikte opgeroep. Luitenant-kolonel C.M.W. de Lille is met 'n klein mag na simonstad gestuur, maar toe hulle kort daarop teruggeroep is na Muizenberg, kon 'n sterk Britse mag ongestoord daar aan land gaan. Met 200 voetsoldate uit die garnisoen, 200 berede burgers, 150 pandoers en 120 kanonniers het De Lille vroeg in Augustus Muizenberg halfhartig teen die Britse oormag van 1 600 verdedig. Kort daarna val De Lille verder terug na Wynberg. Omdat daar Britsgesindes onder die hoë Kompanjiesbeamptes en -offisiere was, het die verwarrende terugtogte van die gereelde troepe die burgersoldate hul vertroue in die vasberadenheid van die verset laat verloor. Hulle het gesien dat Wynberg nie behoorlik gefortifiseer en verdedig word nie. Voordat 'n verdere 14 skepe met groot troepeversterkings vroeg in September onder generaal-majoor A. Clarke gearriveer het, kon die bykans 2 500 man waaroor Sluysken beskik het, 'n teenaanval geloods het. Toe 'n verdere vinnige terugtog vanaf Wynberg plaasvind, het die burgersoldate baie van hul bevelvoerende offisiere (soos De Lille, Van Baalen en Gordon) van verraad verdink. Hulle het geweier om verder terug te trek na die gefortifiseerde linie tussen Fort Knokke en Duiwelsberg en talle is huistoe.

Op 16 September 1795 het Sluysken die verdrag van oorgawe te Rustenburg geteken. Die Kaapse wette en gebruike sou onveranderd bly; geen nuwe belastings sou gehef word nie; binnelande handelsvryheid (benewens ruimer buitelandse verkeer) is in die vooruitsig gestel; en die Kompanjie se papiergeld is gewaarborg. Daarmee is die bewind van bykans anderhalfeeu deur die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie in die suide van Afrika finaal afgesluit.

Dit was nie alleen 'n lang tydperk nie, maar tewens 'n vormende periode waarin tot sewe geslagte van permanente blanke inwoners algaande vaste lewenspatrone in Suid-afrika opgeboou het. 'n Afrikanernasie was reeds besig om sy beslag te kry en het die vroeë grondslag gelê waarop histories betekenisvolle rasseverhoudings nog lank gebaseer sou wees.

C.F.J. Muller

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134