Oorgang 1795 -  1806

In die geskiedenis van Suid-Afrika is die jare 1795-1806 nie alleen 'n tydperk van oorgang van die 18de na die 19de eeu nie, maar inderdaad ook van staatkundige oorgang; 'n onsekere tussenperiode waarin besluit moes word of Holland, Frankryk of Engeland aan die Kaap moes regeer. Dié onsekerheid, waat aan die Franse Rewolusie en die Napoleontiese oorloë te wyte was, is weliswaar eers met die verdrag van Londen in 1814 finaal beëindig, dog toe Engeland die Kaap in 1806 vir die tweede keer beset het, was die toekomstige bedeling reeds duidelik.

In die tussentydperk van 1795-1806 was die Kaap eers onder Britse bestuur en daarna onder die vleuels van die Bataafse Republiek. Die eerste Britse bewind was van 'n bewustelik-tydelike aard en daar is nie veel aan die Kaapse instellings en gebruike gepeuter nie. Die Bataafse bewind word wel gekenmerk deur drastiese hervormings en 'n verligte tydgees, dog was van te korte duur om 'n heeltemal nuwe en blywende stempe op die Kaap af te druk. Sonder betekenis was hierdie oorgangsperiode ook nie. Onder meer sou bestaande vraagstukke,  soos dié aan die oosgrens, groter afmetings aanneem en sou beginsels ingevoer word wat vandag nog in Suid-Afrika erkenning geniet, bv. die onafhanklikheid van die hooggeregshof.

Die Eerste Britse Bewind, 1795-1803

In 1795 het die Britte aan die Kaap beheer aanvaar oor 'n bevolking van 16 000 tot 20 000 blankes, 17 000 tot 25 000 slawe en na skatting 14 000 Hottentotte; 'n heterogene gemeenskap met uiteenlopende karaktertrekke, kleur, lewenspeil, sedes en gewoontes. Selfs onder die blankes, wat oor 'n groot gebied versprei was, was daar verskille. Die handelaars en amptenare van Kaapstad, die gevestigde landbougemeenskap naby Kaapstad en die pionier-veeboere in die grensdistrikte het nie dieselfde lewensuitkyk gehad nie. Hierdie onderlinge verskille, die teenwoordigheid van swartmense aan die Kaapse oosgrens en ekonomiese sorge sou probleme meebring.

Aanvanklik was die Kaap onder militêre bestuur, met generaals Craig en Clarke en admiraal Elphinstone as die gesagvoerders Laasgenoemde twee vertrek in November 1795 en Craig bly as alleenheerser agter. Craig se strenge dog menslike en eerlike administrasie is in Mei 1797 beëindig toe kroonkoloniebestuur vir die Kaap ingestel is en graaf Macartney goewerneur geword het. Macartney was 'n goeie administrateur, maar te konserwatief en onbuigsaam van gees om die guns van die koloniste te wen. Ongehoorsaamheit het hy nie geduld nie en sy geliefkoosde straf was om soldate by ongehoorsames in te kwartier. Daarenteen het diegene wat lojaal was, goeie behandeling ontvang en vir hulle was sosiale onthale, met die sjarmante lady Anne Barnard, eggenote van die Kaapse koloniale sekretaris, as die gasvrou, aan die orde van die dag. In November 1798 lê Macartney om gesondheidsredes die tuig neer, waarna generaal-majoor Francis Dundas as goewerneuer waargeneem het, behalwe vir 'n kort tussenspel (Desember 1799 tot April 1801) toe sir George Yonge goewerneur was. Dundas het die streng maar toegeeflike beleid van sy voorgangers voortgesit, dog Yonge was onbekwaam, het sy magte misbruik en hom selfs aan korrupsie skuldig gemaak.

Onder die kroonkoloniebestuur wat Macartney ingelui het, was die regering absoluut en direk Die ou Politieke Raad het verdwyn en alle burgerlike en militêre gesag was in die hande van die goewerneur, 'n reëling wat die Britte tot in 1828 aan die Kaap gehandhaaf het. Craig het ook die ou Kollege van Burgerrade, of Komitee van die Hooggeregshof, met 'n Burgersenaat vervang. Hierdie liggaam het uit ses lede bestaan en die goewerneur het vakatures gevul uit  name wat die Burgersenaat aan hom voorgelê het. Met die uitsondering van regterlike aangeleenthede het die Burgersenaat min of meer dieselfde pligte as die ou liggaam vervul, o.a. om die goewerneur van raad te dien in sake rakende die koloniste en om munisipale aangeleenthede in Kaapstad te behartig. Of die liggaam vir die koloniste van veel waarde was, is te betwyfel. Macartney wou bv. nie aan die Burgersenaat se versoek voldoen om meer slawe in te voer ten einde die nypende arbeidstekort die hoof te bied nie en daar was ook botsings met die goewerneur oor die beligting en verbetering van die Kaapstadse strate.

Op die gebied van die regswese het die Britse bewind op die bestaande Raad van Justisie verbeter. Soos tevore, is die regspleging gelaat in die hande van amateur-amptenaarregters, dog hulle getalle is verminder tot 'n president en sewe lede met vasgestelde salarisse. Die goewerneur en onder-goewerneur het as appèlhof gedien en in sommige gevalle kon selfs die Geheime Raad in Londen geappelleer word. Barbaarse strawwe soos die pynbank is afgeskaf. Die beleid van vaste salarisse is ook op ander amptenare van toepassing gemaak. Daarmee het die fooie en byverdienstes wat voorheen so 'n belangrike en geheimsinnige deel van die amptenare se inkomste uitgemaak het, verdwyn. Slegs die fiskaal was nog geregtig op 'n deel van die boetes wat die hooggeregshof opgelê het. In die buitedistrikte het die plaaslike bestuur onveranderd voortbestaan. Slegs die plaaslike howe se juridiese magte is uitgebrei. Die nuwe bewind wou die koloniste versoen en wou om dié rede - en omdat die besetting tydelik van aard was - nie te veel aan die bestaande instellings verander nie.

Anders as op konstitusionele gebied, was die eerste Britse bewind meer toegeeflik in ekonomiese sake. Vir die koloniste en handelaars was die ekonomiese beleid van die nuwe owerheid gesonder en voordeliger as dé van die Kompanjie. Met die Kaap se ekonomiese onbestendigheid, het die Britse owerheid spoedig kennis gemaak. Die eerste koringoes was belowend en Craig het die fout gemaak om oortollige koring uit te voer. Toe 'n swak oes volg, het hongersnood gedreig en moes Craig inderhaas die nodige invoer en selfs papiergeld ter waarde van £50 000 uitgee. Tog het die Engelse se koms 'n ekonomiese oplewing megebring. Die aanwesigheid van 'n troepemag in die Kolonie en die oorlogstoestande in Europa het die Kaapse handelaars en boere 'n tydperk van voorspoed besorg. Voorts het Macartney ter verligting van die koloniste se laste die drukkendste monopolieë ageskaf en agterstallige grondbelastings afgeskryf. Weliswaar is die lewering van noodsaaklike landbouprodukte teen vasgestelde pryse aan die regering nog soos in die dae van die Kompanjie afgedwing, maar in die geheel gesien, was kolonis en handelaar beter daaraan toe.

Die eerste Britse bewind het in ooreenstemming met die kapitulasievoorwaardes geen nuwe belastings gehef nie. Yonge het in hierdie opsig oortree deur bv. jaglisensies in te stel en die aksyns op brandewyn te verhoog, maar dit is gou weer opgehef. In weerwil van sy tekortkominge wou Yonge die landbou bevorder d.m.v. 'n landboudepartement, waaronder 'n proefplaas geressorteer het. Agtereenvolgende misoeste het egter veroorsaak dat die duisende ponde wat in die proefplaas gesteek is, 'n dooie verlies was. Die plaas kon nie eens behoorlik in die behoeftes van die werknemers voorsien nie. Al positiewe resultaat van die proefneming was dat die koloniste meer van Engelse ysterploeë begin gebruik maak het.

Tem p[sogte vam doe biote;amdse jamde; was die Kaap in 'n unieke posisie. Die Britse skeepvaartwette was aanvanklik, net soos vir die ander Britse kolonies, op die Kaap van toepassing, dog in Desember 1796 verleen die Britse regering met 'n spesiale wet vry toegang aan alle goedere afkomstig van Britse kolonies, terwyl goedere afkomstig van goedgesinde vreemde moondhede teen betaling van invoerregte ingelaat kon word. Die Kaap was dus in 'n bevoorregte posisie. Weliswaar het die invoere die uitvoere met byna £300 000 per jaar oorskry, maar hierdie bedrag is goedgemaak deur klinkende munt wat die land binnegekom het d.m.v. troepe en skepe. Gedurende die eerste Britse bewind het sowat 170 skepe jaarliks Tafelbaai en Simonsbaai, wat sedert 1742 ook as hawe gebruik is, aangedoen. Dit was h eelwat meer as die 86 skepe wat die Kaap in 1794 besoek het, hoewel toegegee moet word dat daar onder die Kompanjie ook tye van druk skeepsverkeer was, bv. 'n gemiddelde van 164 per jaar vir die tydperk 1785-1789. Die inkomste van die Kolonie het ná 1796 vinnig gestyg, maar salarisse het groot bedrae ingesluk. Die goewerneur het bv. £10 000 per jaar ontvang en die ander vernaamste amptenare gesamentlik £14 700 jaarliks.

Aan die Kaapse oosgrens sou die houding van die koloniste, die Hottentotte en die Xhosas die Britse bewindhebbers voor 'n ware toets stel. Hier het botsings tussen blanke en swart onder die vorige bewind al voorgekom en in die distrikte Graaff-Reinet en Swellendam was dié koloniste in opstand teen die Kompanjie. Die nuwe bewind moes die orde herstel, dog die Graaff-Reinetters wou nie die tussentydse eed van getrouheid aflê en daarmee die selfstandighed wat hulle onder die vorige bewind verower het, prysgee nie.

Die Graaff-Reinetters was bereid om hulle voorwaardelik aan die Britse owerheid te onderwerp. Onder andere moes die regering hulle amptenare en krygsoffisiere erken en ammunisie aan hulle verskaf sodat hulle h ul lewens en eiendom kon beskerm. Generaal Craig was simpatiek, maar moes opstandigheid bekamp, nie alleen om die orde en goeie administrasie van die Kolonie te verseker nie, maar ook omdat veral vleis uit die binneland verkry moes word. Craig was nietemin bereid om die Graaff-Reinetse landdros, Carl Gerotz, te erken tot tyd en wyl Frans Bresler, die Brisbenoemde landedros, oorneem. Bresler was egter 'n amptenaar van die Kompaniebewind wat in engelse diens getree het en daarvan het die Graaff-Reinetters nie gehou nie. Hulle het hom as 'n verraaier beskou en sou eerder 'n Brit as landdros aanvaar. Toe Bresler dus op 22 Februarie 1796 die Britse vlag voor die drosdy op Graaff-Reinet hys, het die burgers dit neergehaal en geweier om die eed van getrouheid af te lê; hulle was vasbeslote om aan die Bataafse Republiek getrou te bly. 'n Maand later keer Bresler na Kaapstad terug.

Craig wou hierdie vyandige gesindheid nie oor die hoof sien nie. Hy stasioneer dus 300 troepe onder majoor King te Stellenbosch, vanwaar hulle dadelik na Graaff-Reinet kon opruk, werf 'n Hottentotkorps vir diens in die binneland en plaas 'n verbod op die lewering van voorrade aan Graaff-Reinet. Tog gaan Craig nie onmiddellik tot die daad oor om die Graaff-Reinetters te onderwerp nie. Sy huiwering was deels te wyte aan 'n algemene gevoel van vyandigheid wat by die koloniste bespeur was, selfs by diegene wat die eed van getrouheid afgelê het. In die woorde van lady anne Barnard het talle die eed afgelê met die gesindheid: "We must swear, for they are the strongest.:(1)

(1) Lady anne Barnard (H.J. Anderson ed.): South Africa a Century ago 179701801 (Kaapstad, 1924), p. 15: Anne Barnard aan H. Dundas, 10 Aug. 1797

Op hierdie tydstip moes Craig ook aandag skenk aan die verdediging van die Kaap teen 'n inval van buite. Dit was bekend dat 'n Nederlandse vlooteskader onder admiraal Lucas na die Kaap onderweg was en moontlik in samewerking met 'n Franse eskader en die Kaapse koloniste die Kaap van die engelse sou h erower. Craig het egter vinnig opgetree en Lucas, wat nie die verwagte hulp van die Franse gekry het, met muitery onder sy Oranjegesinde matrose te kampe gehad en boonop verneem het dat hy weinig hulp van die koloniste sou verky, in Saldanhabaai tot oorgawe gedwing. Lucas se oorgawe en 'n nypende ammunisietekort het daartoe bygedra dat die Graaff-Reinetters teen die end van 1796 Britse gesag aanvaar het. Craig het Bresler weer as landdros aangestel en die Graaff-Reinetters - met die uitsondering van Jan Woyer, die distriksgeneesheert - hul dade vergewe.

Woyer het met 'n Deense skip na Batavia ontvlug en die goewerneur-generaal, Van Overstraten, oortuig dat die Graaff-Reinetters slegs ammunisie kort om die Britse bewind af te werp. Van Overstraten stuur dus die skip Haasje met ammunisie e.a. voorrade na Algoabaai. Die Haasje moes egter vir herstelwerk Delagoabaai aandoen en toe sy bestemming en doel uitlek, het 'n Engelse skip, die hope, dit in Mei 1797 oorrompel.

Op die oosgrens het die gespanne verhouding tussen die blankes en die Xhosas voortgeduur. Goewerneur Macartney het gevolglik sy sekretaris, John Barrow, by landdros Bresler gevoeg om die toestand aan die oosgrens te ondersoek. Barrow se Travels into the Interior of Southern Africa getuig daarvan dat hy nie bevoeg was vir 'n objektiewe ondersoek nie; daarvoor was sy vooroordeel teen die grenskoloniste, wat hy as die onverskilligste, onkundigste en brutaalste skepsels onder die son beskou het, te groot. Nietemin, Barrow moes Bresler help om die orde te herstel en die inwoners vertroue te gee in die regering en terselfdertyd toesien dat gehoorsaamheid betoon word.

Bresler en Barrow het in opdrag van Macartney die Kompanjie se beleid van rasseskeiding voortgesit. Burgers wat hul plase a.g.v. bedreiging deur die Xhosas verlaat het,  is aangemoedig om terug te keer. Indien hulle dit binne vier maande doen, sou hulle ses jaar lank sonder rekognisiegelde kwytgeskeld word. Die moeilikheid was egter dat stamme wat vir die Xhosa-opperhoof Gaika gevlug en hulle in die Suurveld, aan die Kolonie se kant van die grens, bevind het, nie na hulle kant van die Visrivier wou verhuis nie. Gaika het wel die grens erken en beloof dat hy nie die Suurveld-Xhosas sou molesteer as hulle na sy gebied terugkeer nie, maar hierdie belofte het nie gehelp om die swartes aan hulle kant van die grens te krynie. Die toestand aan die oosgrens het dus gespanne gebly en om sake te vererger, het sommige Graaff-Reinetters aan 'n opstand begin dink.

Toe Adriaan van Jaarsveld, voorheen vermelde leier en gesiene burger van Graaff-Reinet, vroeg in 1799 op aanklag van vervalsing van 'n kwitansie van die Weeskamer in hegtenis geneem word, het die gespanne toestand aan die oosgrens ontplof. Die aanklag teen Van Jaarsveld was geregverdig, dog die Graaff-Reinetters wat hul vertroue in die regering en sy amptenare verloor het, het geglo dat die aanklag slegs 'n voorwendsel was om hul leier in die hande te kry en vir sy vroeëre aandeel in die Graaff-Reinetse aangeleenthede te laat boet. Hulle was bewus daarvan dat Macartney reeds kommandant Petrus Delport, die leier van Swellendam, sonder verhoor verban  het. Verder aangemoedig deur berigte uit Kaapstad dat die garnisoen verswak is deur die vertrek van troepe na Indië en 'n groot brand wat 'n aantal perde en 'n groot deel van die militêre voorrade vernietig het, het 'n klompie Graaff-Reinetters tot opstand oorgegaan, Van Jaarsveld bevry en die drosdy beleër.

In Kaapstad was daar 'n paar persone, soos die onderwyser Edeman, wat die opstand ondersteun en hulp van die Franse op Mauritius gevra het. Die Franse het 'n ou fregat, die Prudente, met vrywilligers na Algoabaai gestuur, maar dit is op 9 Februarie 1799 deur 'n Britse oorlogskip verower nog voordat dié bestemming bereik is. 'n Tweede poging om hulp te verleen, het ook misluk, toe die Franse skip Preneuse in September 1799 in Algoabaai aangekom het, maar deur twee Engelse skepe, die Camel en die Rattlesnake, verdryf is. Op hierdie tydstip was die opstand egter al iets van die verlede. Al die Graaff-Reinetters wou nie die opstand ondersteun nie en toe generaal Vandeleur in Maart 1799 opdaag om die rebelle die hoof te bied, het die groepie opstandelinge sonder verset oorgegee. Van Jaarsveld en 19 ander is in hegtenis geneem en verhoor op aanklag van hoogverraad. Marthinus Prinsloo en Van Jaarsveld is ter dood veroordeel en die ander tot verbanning en tronkstraf. Die regering het die doodvonnisse egter nie voltrek nie. Van Jaarsveld is in die tronk oorlede en na die teruggawe van die Kaap in 1803 is al die prisoniers vrygelaat.

Die toestand van onsekerheid wat uit die Van Jaarsveld-rebellie voortgesprei het, het die Xhosas en Hottentotte 'n geleentheid gebied om plase te plunder en vee te roof. Die feit dat die Britse owerheid die ammunisietoevoer na die opstandige Graaff-Reinet afgesny het, het die probleem verskerp. Ook die optrede van die Hottentotte was sorgwekkend. Voorheen het die Hottentotte die bondgenootskap van die blankes teen die veerower-Boesmans verwelkom. Namate grond skaarser geword het en ook gelok deur die beskawingsgoedere van die witman, het die Hottentotte al hoe meer in die blankes se diens getree. Sommige werkgewers het hulle swak behandel en spanning tussen die twee rasse het ontstaan. Die ondoeltreffende handhawing van die regsgesag aan die oosgrens het die wrywing vererger. Met Vandeleur se aankoms het die Hottentotte, wat geglo het dat die owerheid dit sou verwelkom as hulle teen hul blanke werkgewers saamspan, by sy troepemag aangesluit. Vandeleur ontwapen hulle egter en toe die Hottentotte merk dat 'n groot deel van die troepe na Kaapstad terugkeer, begin hulle ook die regering wantrou en sluit hulle by die Xhosas aan. Die Hottentot-Xhosa-bondgenootskap was gevaarlik, want die Hottentotte het die blankes se vegmetodes geken en in baie gevalle oor vuurwapens beskik.

Met Vandeleur se terugreis van Graaff-Reinet na Algoabaai het 'n Xhosa-stam, wat waarskynlik vermoed het dat die troepe hulle uit die Suurveld wou verdryf, die troepemag onverwags aangeval. Die verontwaardigde Vande leur was vasbeslote om die Xhosas 'n les te leer, dog vanuit Kaapstad het waarnemende goewerneur  Dundas, wat waarskynlik deur persone soos Barrow beïnvloed is, gelas dat die vrede met geskenke, beloftes en 'n versoenende houding bewerkstelllig moes word. Die Xhosas het die versoeningsbeleid egter nie begryp nie dit as swakheid beskou. Gevolglik het die Xhosas en die Hottentotte verwoesting gesaai. Teen die end van  Julie 1799 het hulle die hele suiderhelfte van die distrik Graaff-Reinet in besit gehad,

Ten einde raad reis Dundas self met soldate en burgers na die grens, nie om oorlog te maak nie, maar om sy versoeningsbeleid persoonlik te gaan toepas. Honoratus Maynier, wat hom reeds in die dae van die Kompanjie die grensboere se onguns op die hals gehaal het, moes Dundas bystaan in die onderhandelings met die Xhosas en Hottentotte. Hulle het wel in Oktober 1799 'n vredesooreenkoms bereik waarvolgens die twee groepe hul plunder- en rooftogte sou staak. Die Xhosas kon egter ongestoord in die Suurveld bly woon. Voorts laat Dundas Maynier met 'n klompie dragonders en Hottentotsoldate agter as resident-kommissaris vir Graaff-Reinet en Swellendam, met die opdrag om gewapende optrede teen die Hottentotte en veerowers teë te gaan. Om toekkomstige moeilikhede die hoof te bied, word Fort Frederick by Algoabaai gestig en 'n garnisoen van 350 man daar gestasioneer.

Dundas en Maynier se beleid om die wet aan die grens te handhaaf, was kerngesond, dog die mislukking daarvan was 'n uitgemaakte saak, omdat die nodige hulpmiddels, soos 'n polisiemag, ontbreek het. Die gevolg was 'n chaotiese toestand wat vererger is deur die feit dat die burgers Maynier nog steeds vanweë sy optrede tydens die Kompanjiebewind gewantrou het. In Oktober 1801 beleër die burgers Maynier in die drosdy en o.l.v. kommandant Tjaart van der Walt e.a. verantwoordelike leiers stel hulle petisies op waarin hulle griewe teen Maynier uiteengesit word. Die gevolg was dat die owerheid majoor Sherlock met 'n troepemag na Graaff-Reinet stuur om die orde te herstel en Maynier na Kaapstad terugroep. 'n Komissie van ondersoek het Maynier vrygespreek van die aanklagte wat teen hom ingebring is, dog hy is nie weer na die grens teruggestuur nie.

Maynier se terugkeer na Kaapstad het die burgers tevrede gestel, maar het die oosgrensprobleem nie opgelos nie. Meer as dit was nodig. In 1801 het dr. J.T. van der Kemp, 'n sendeling, 'n reservaat vir rondswerwende Hottentotte aan die Swartkopsrivier gestig en in die daaropgolvende jaar is verdere pogings aangewend om die Hottentotte tot rus te bring. Die grensboere was egter steeds gedemorialiseer en was nie begerig om kommandodiens te verrig nie. Hulle het die regering gewantrou en wou nie hul gesinne alleen agterlaat wanneer hulle om kommando gaan nie. 'n Verdere terugslag het gevolg toe die bekwame Tjaart van der Walt in Mei 1802 gesneuwel het. Sonder sy aanvoering kon die kommando's wat wel byeengebring is, nie die orde herstel nie. Dit het begin lyk asof die oostelike distrikte in die hande van die Xhosas en Hottentotte sou oorgaan.

Teen 1802 kon slegs 'n volskaalse oorlog die toestand aan die oosgrens red. Daartoe was Dundas nie bereid nie, want dit was reeds bekend dat die Kaap aan die Bataafse Republiek oorhandig sou word. Hy reis dus teen die middel van die jaar na die grens, ooreed die botsende partye om mekaar voorlopig met rus te laat en roep 'n kommando burgers op om 'n oog oor sake te hou terwyl die troepe na kaapstad terugtrek. Die eerste Britse bewind is dus beëindig sonder dat 'n oplossing vir die netelige oosgrensprobleem gevind is. Die grootste struikelblok vir die owerheid was die feit dat die Kolonie, soos Dundas dit ingesien het, te uitgebreid was. Selfs Yonge het besef dat die vier distrikte waarin die Kolonie verdeel was, te uitgestrek was vir doeltreffende administrasie en geïnspireer deur Willem van Ryneveld, die fiskaal, het hy die onderverdeling van die distrikte en die instelling van rondgaande howe en 'n beter onderwysstelsel aanbeveel. In Londen het die Britse regering hierdie voorstelle egter verwerp, want dit sou onnodige uitgawes meebring in 'n kolonie wat slegs as 'n tydelike besitting beskou is.

In weerwil van die tydelilke aard van die eerste Britse besetting was daar tog persone wat die Kaap, vanweë sy strategiese belang op die seeroete na Indië en in stryd tussen Frankryk en engeland, van permanente belang vir Engeland geag het. So het goewerneur Macartney daarop gewys dat die Kaapkolonie van weinig kommersiële waarde was en dit 'n duur onderneming sou wees om hierdie kolonie te behou, maar "its chief importance to us arrises from its geographiccal position, from its forming the master link of connection between the western and eastern world, from its being the great outwork of our Asiatic commerce and Indian Empire, and above all from the conviction that, if in the hands of a powerful enemy, it might enable him to shake to the foundation, perhaps overturn and destroy the whole fabric of our oriental opulence and dominion".(2) Ander het egter geredeneer dat dit onnodig was om die Kaap te behou solank Brittanje die oppermag op see geniet. Die Britse kabinet en parlement was verdeeld oor die waarde van die Kaap, dog uiteindelik is die Kaap met die vrede van Amiens aan die Bataafse Republiek teruggegee. In Februarie 1803 het die Kaap van owerheid verwissel.

(2)G.M. Theal: Records of the Cape Colony II (Londen, 1898), p. 114: Macartney aan Dundas, 10 Julie 1797

Die Bataafse Tydperk, 1803-1806

Anders as onder die bewind van die Kompanjie, toe die Kaap bloot as 'n halfwegstasie tussen Europa en die Ooste beskou is, het die Kaap in 1803 die verhoogde status van 'n Hollandse kolonie gekry. Die nuwe kolonie was direk onder die Bataafse regering in Nederland en onder die sorg van die Asiatiese Raad, die lliggaam wat vir die administrasie en verdediging van die Hollandse kolonies verantwoordelik was. Die Asiatiese Raad wou in teenstelling met die eerste Britse bewind, wat hoofsaaklik en doelbewus 'n tydelike en negatiewe beleid gevolg het, 'n deeglike en konstruktiewe koloniale beleid aan die Kaap toepas. Met hierdie doel voor oë het advokaat J.A. de Mist, lild van die Asiatiese Raad, nog voor die vrede van Amiens 'n memorandum opgestel waarvolgens die Kaap by teruggawe bestuur moes word. Die memorandum het soveel byval gevind dat De Mist opdrag gegee is om as kommissaris die Kaap van die Engelse te gaan oorneem en die bestuur en administrasie in te rig. J.W. Jansens, 'n gepensioeneerde militaris en op daardie tydstip sekretaris-generaal van die oorlogskabinet, sou as goewerneur optree en De Mist na die Kaap vergesel.

De Mist se memorandum bevat voorstelle vir staatkundige, administratiewe, ekonomiese en sosiale hervormings. "Met eene spons", getuig de Mist, "kan al het voorige gebrekkige en verkeerde worden uitgewischt, met eenen pennenstreek kunnen alle oude twisten doorgehaald en vernietigd worden; en het nieuw te maaken Charter voor deeze Volkplanting, hier met wysheid beraamd, en daar met zagtheid, voorzigtigheid, dog ook met gepast fermeteit, ingevoerd, kan aan dezelve een nieuw leven geeven, en onder Gods zegen, door den tyd, een der belangrykste Establissementen, voor den Staat opleveren."(3) Sy aanbevelings was gegrond op wat hy in amptelike stukke en in reisbeskrywings gelees het en nie op 'n persoonlike besoek aan die Kaap nie. Na kennismaking met die ware toedrag van sake sou De Mist sommige van sy menings wysig. Onder meer sou hy vind dat Barrow se Travels nie 'n objektiewe beeld van blank en nie-blanke gee nie en dat die Kaapse koloniste in 'n konserwatiewe wêreld geleef het wat nog nie veel, soos dit in die Bataafse Republiek die geval was, deur die verligte idees van 'n revolusionêre Frankryk beïnvloed was nie. Dit wil egter nie sê dat De Mist 'n ware omwenteling in die Kaap wou bewerkstellig nie. Weliswaar neem hy in sy memorandum die volk as uitgangspunt, maar hy glo ook dat slegs 'n sterk sentrale regering vir die welvaart van die volk kon sorg. bowendien wou hy nie volgens die revolusionêre beginsels die bestaande eensklaps vernietig nie, maar eerder op die goeie in die bestaande voortbou.

(3) S.F.N. Gie: The Memorandum of Commissary J.A. de Mist (V.R.S. 3, Kaapstad 1920), p. 14

Met die sentrale regering wat De Mist in die Kaapkolonie ingestel het, het hy nie alleen 'n kragtige bestuur beoog nie, maar wouo hy ook magsmisbruik verhoed. Die magte van die regering is ingekort om misbruike uit te skakel, maar die inkorting is nie so ver gevoer dat dit die regering magteloos sou maak nie. Alles was ingestel op wedersydse beheer deur die goewerneur aan die een kant en die amptenare aan die ander kant. Die goewerneur was verantwoordelik vir die verdediging, veiligheid, rus en goeie orde en moes toesig hou oor die administrasie. Hy is bygestaan deur vier amptenare wat die Bataafse regering benoem het en van wie twee Kaapse koloniste moes wees. Hierdie persone was ook departementshoofde van (1) landbou en veeteelt, (2) finansies, (3) handel en (4) skeepvaart en visserye en het onder voorsitterskap van die goewerneur die Politieke Raad uitgemaak. Tot in September 1804, toe De Mist sy amp as kommissaris neergelê het, was die goewerneur egter aan die kommissaris ondergeskik.

Ter voortsetting van sy beleid om misbruike uit te skakel, het De Mist finansiële beheer geplaas in die hande van 'n Rekenkamer, wat in status net onder die Politieke Raad was. Die Rekenkamer, waarvan die lede deur die Asiatiese Raad  uit die koloniste aangestel is, het alle fondse beheer en was aan die Asiatiese Raad verantwoording verskuldig. Die Politieke Raad kon dus nie die landsinkomste misbruik nie. Met die Rekenkamer het De Mist ook uitvoering gegee aan die beginsel van "geen belasting sonder verteenwoordiging" nie. Dit was inderdaad nodig om die koloniste verteenwoordiging in die Rekenkamer en die Poliltieke Raad te gee, want die kiem van verteenwoordiging wat in die Burgersenaat onder die eerste Britse bewind en die Kollege van Burgerrade onder die Kompanjie bestaan het, het verdwyn. Die burgersenaat het plek gemaak vir 'n Gemeenteraad van sewe lede, wat inwoners van Kaapstad en distrik moes wees. Die Gemeenteraad het hoofsaaklik munisipale pligte in Kaapstad en distrik verrig. Dit het dus nie meer, soos die Kollege van Burgerrade en die Burgersenaat, as skakel tussen die regering en die koloniste gedien nie.

'n Volgende belangrike wysiging was op die gebied van die regswese. De Mist het die regspleging losgemaak van die uitvoerende gesag en dit toevertrou aan 'n Raad van Justisie bestaande uit ses lede met regskwalifikasies, 'n sekretaris en 'n prokureur-generaal, wat die fiskaal en openbare aanklaer vervang het en nie meer soos voorheen op 'n gedeelte van die opgelegde boetes aanspraak kon maak nie. Appèl kon by die hooggeregshof in Den Haag aangeteken word. Die regterlike mag was dus volkome onafhanklik. Voorts het De Mist 'n Desolate Boedelkamer ingestel om boedels te beredder, 'n funksie wat tevore deur die sekretaris van die Raad van Justisie verrig is. Die Weeskamer het onveranderd voortbestaan.

Met hierdie instellings kon Kaapstad en omgewing doeltreffend beheer word. De Mist se visie het egter ook weg van die see na die binneland gestrek. Hy het besef dat 'n sterk sentrale regering deur doelmatige plaaslike regering in die distrikte gerugsteun moes word. Vorige regerings het juis die binneland verwaarloos en daarom onderneem sowel De Mist as Janssens reise ten einde eerstehandse inligting in te win oor die binneland en sy behoeftes. Hulle vind die Kolonie te u itgebreid om dit administratief en regerlik volgens die bestaande indeling van die vier distrikte van Kaapstad, Stellenbosch, Swellendam en Graaff-Reinet te beheer. Gevolglik word twee nuwe distrikte, Tulbagh en Uitenhage, gestig. In elke distrik was 'n landdros, bygestaan deur ses burgers as heemrade en 'n sekretaris, om administratiewe pligte te vervul, huwelike te voltrek en as geregshof met beperkte mag op te tree. elke distrik is onderverdeel in wyse of veldkornetskappe met 'n deursnee van ongeveer 36 myl. In elke wyk was 'n veldkornet, wat geen salaris ontvang het nie, maar van belastings vrygestel was. Sy vernaamste pligte was om wet en orde te handhaaf, amptelike bevele en proklamasies beken te maak, lykskouings te hou, misdadigers te arresteer en op bevel van die landdros die burgers van sy wyk vir kommandodiens op te roep. Kommunikasie met die binneland was ook noodsaakllik om die administrasie te laat vlot; gevolglik word in Januarie 1805 'n posdiens ingestel vir die vervoer van briewe tussen Kaapstad en al die drosdye.

Sowel die sentrale as die plaaslike bestuur wat De Mist ingestel het, was ongetwyfeld beter as dié van die Kompanjie of die eerste Britse bewind. Daar was 'n groter kans op sukses as onder enige van die vorige regeringsvorms, veral omdat in sekere opsigte voldoen is aan die eise wat die Kaapse Patriotte in die laaste jare van die Kompanjiebewind gestel het, o.m. skeiding tussen uitvoerende en regterlike gesag en seggenskap in die sentrale regering, al was lg. nog nie op die beginsel van vrye verkiesing gegrond nie.

Die Bataafse bewind het ook t.o.v. die kerk en die onderwys hervormings deurgevoer, Met sy kerkorde van Julie 1804 het De Mist aan alle kerkgenootskappe wat 'n opperwese eerbieding, d.w.s. aan Gereformeerdes, Lutherane, Anglikane, Rooms-Katolileke, Mohammedane e.d.m., gelyke beskerming van die wet verleen. Tog stel hy die kerk ondergeskik aan die staat en behou vir die regering die reg voor om leerstellings wat skadelilk kan wees, teen te gaan. Die regering het ook predikante vir die Nederduits-Gereformeerde kerk voorsien en besoldig en die goewerneur moes verkose kerkraadslede goedkeur. Die k onserwatiewe koloniste het egter nie van De Mist se liberale godsdiensverdraagsaamheid gehou nie. Hulle was ook gekant teen sy reëling dat 'n landdros en twee heemrade huwelike in die buitedistrikte kon voltrek. Die huwelik was vir hulle 'n  heilige instelling wat slegs in die kerk voltrek kon word, selfs al het dit baie moeite en lang reise gekos om die kerk te bereik. Die koloniste was eweneens ontevrede omdat die owerheid onderwys-aangeleenthede uit die hande van die kerk geneem het.

Die gebrek aan onderwysgteleenthede het Janssens en De Mist tydens hul reise opgeval, asook dat bestaande onderwysgeriewe nie eenvormig was nie. Gevolglik vaardig De Mist 'n skoolorde uit met die oogmerk om die onderwys op 'n stewige grondslag te plaas, die nodige fondse daarvoor te verkry en opvoedingsgeleenthede nie net aan Kaapstad en die dig bewoonde omstreke te verskaf nie, maar ook aan die buitedistrikte. Die beheer oor die onderwys is opgedra aan 'n kommissie van sewe lede, waarin die Poliltieke Raad, die Weeskamer en die NG en Lutherse Kerke verteenwoordiging gehad het. In die buitedistrikte was die landdroste en predikante erelede van die kommissie en kon hulle hom van raad dien oor sake rakende hul distrikte. Die Politieke Raad het onderwysfondse beheer. Met die skoolorde is onderwys onder staatsgesag geplaas en die regstreekse invloed van die kerk uitgeskakel. Van al die onderwysplanne het egter tot in 1806 nie veel tereggekom nie.

Op ekonomiese gebied het die Bataafse bewind dit beoog om uitgawe en inkomste te laat klop. Dit kon gedoen word deur die Kaapkolonie se graan- en wynbou en veeteelt te verbeter. Spoedig moes die owerheid egter uitvind dat geen peil getrek kon word op landbouprodukte vir uitvoer nie. Daarvoor was die klimaat en reënval van die Kolonie te wisselvallig. Koringverbouing is wel met die oog op u itvoer aangemoedig, dog drie agtereenvolgende misoeste het daartoe gelei dat rys van Indië ingevoer moes word om die plaaslike tekort aan koring aan te vul. Welilswaar was wynbou 'n meer konstante bedryf, dot die gehalte van die wyn was swak. 'n Duitse wynboudeskundige is dus uit Europa gebring om die wynproduksie te verbeter en die gehalte te verhoog. Desondanks het die pogings om van wyn 'n winsgewende uitvoerproduk te maak, nie geslaag nie. Oor die algemeen het onoorkomelike probleme soos droogtes, gebrek aan vervoer en skaarste aan arbeid die landbou benadeel en geen winsgewende uitvoerproduk is gelewer nie.

'n Bron wat gewis tot 'n vername uitvoerproduk uitgebou kon word, was wol. Vir hierdie doel het die owerheid in Mei 1804 'n kommissie aangestel om die veeteelt te bevorder. Die kommissie het hom veral beywer vir die teel van wolskape, maar dit moeilik gevind om die koloniste van die beproefde vetstertskaap na die wolskaap te laat oorslaan. Daar was nogtans vordering, dog weens die kortstondige bestaan van die Bataafse bewind, het die wolboere geen onmiddellike resulte opgelewer nie. Wolproduksie souo eers later van betekenis word.

Vryhandel was De Mist se oogmerk. Ná sy aankoms in die kaap het hy egter gevind dat dit nie moontlik was nie, veral a.g.v. die oorlogtoestande in Europa. Die Kaapse koloniste was dan ook soos voorheen van die Kaapse mark afhanklik vir die verkoop van hul produkte. De Mist moes voorts afsien van sy plan om papiergeld te verminder en deur munt te vervang. Hy is inderdaad deur die oorlogstoestand en 'n chroniese geldtekort - die gemiddelde jaarlikse inkomste vir die jare 1803-1806 was 396 638 riksdaalders - gedwing om 300 000 addisionele riksdaaldernote uit te gee, wat die totaal in omloop 2 086 000 te staan gebring het. aldus het die waarde van die riksdaalder met ongeveer 20 persent afgeneem.

Die geldskaarste het daartoe bygedra dat die Bataafse bewind nie 'n kragtige grensbeleid kon volg nie. Die owerheid het min geld gehad om aan die verdediging van die Kaap teen sowel buitelandse as binnelandse aanslae te bestee. Met 'n Europese oorlog aan die gang, het die Bataafse bewind net soos sy voorganger noodgedwonge 'n vredesbeleid in die binneland gevolg. De Mist en Janssens se reise in die binneland het hulle 'n duidelike begrip van die oosgrensvraagstuk en die verhouding tussen blank en nie-blank gegee. Hulle het besef dat die bondgenootskap tussen die Hottentotte en Xhosas gevaarlik was en op die een of ander wyse verbreek moet word. Dit doen hulle deur aandag te skenk aan die Hottentotgeriewe, waaronder 'n gebrek aan grond getel het. Gevolglik word aan verskeie sendinggenootskappe grond toegeken waarop die Hottentote kon woon, o.m. 'n plaas van 7 000 morge aan sendelinge Read en Van der Kemp vir 'n sendingstasie te Bethelsdorp. Verder is Hottentotkapteins, soos Klaas Stuurman, oorgehaal om verder van die Xhosas af langs die Gamtoosrivier te gaan woon.

Die Bataafse bewind het die idee verwelkom dat Hottentotte by die koloniste in diens tree, maar wou verhoed dat die werkgewers eie reg gebruik. Hottentot-werknemers moes regverdig behandel word, daarom moes dienskontrakte opgestel word indien 'n Hottentot langer as drie maande by 'n kolonis werk. Die owerheid het ook verwag dat die sendelinge vlyt en arbeidsaamheid onder die Hottentotte moes bevorder. Hiervan het nie veel tereggekom nie, want Janssens getuig in Januarie 1805: "Algemeen zijn de zendelingen Elendelingen zonder opgeklaarde denkbeelden - zij doen zeer veel kwaad en tevergeefsch zoek ik uit te vinden, welk goed zij doen."(4)  Dit is dan ook geen wonder nie dat die regering die Hottentotte in die sendingstasies kkontak met ander inboorlinge binne en buite die Kolonie ontsê het. Op dié wyse moes verhoed word dat werkgieriges na die leeglêer-sendingstasies gelok word.

(4) Aangehaal in J.P. van der Merwe: Die Kaap onder die Bataafse Republiek, 1803-1806 (amsterdam, 1926), p. 263, uit brief Janssens aan Asiatiese Raad, 5 Jan. 1805

Aan die oosgrens het die Bataafse bewind 'n b eleid van absolute skeiding tussen blank en nie-blank gevolg. Kaptein Lodewyk Alberti, wat met 'n troepemag by Fort Frederick gestasioneer is, moes hierdie beleid deurvoer. Sy mag was egter te klein vir daadwerklike optrede. soos ook onder die eerste Britse bewind die geval was, was die probleem daarin geleë dat 'n groot aantal Xhosas hulle in die Suurveld bevind het en uit vrees vir Gaika nie na hulle kant van die Visriviergrens wou terugkeer nie. Weliswaar het Janssens met hierdie Xhosas onderhandel, asook met Gaika, wat bereid was om sy vlugteling-onderdane terug te verwelkom, maar die Xhosas het in die Suurveld bly woon en ofskoon Alberti beoog het om hulle teverdryf, het hy dit nie gedoen nie. Alberti het egter die vertroue van die grenskoloniste en die Xhosas geniet en derhalwe daarin geslaag om rus en vrede aan die oosgrens te handhaaf.

Die verligte Bataafse bestuur was teen slawerny gekant en wou dit beëindig. Weens die nypende arbeidstekort kon die slawe egter nie eensklaps vrygestel word nie. Die regering het dus 'n langsame bevrydingsproses beplan waarvolgens slawekinders by geboorte vry sou word. Voordat hierdie plan in werking gestel is, het die Kaapkolonie andermaal in Britse hande oorgegaan.

Dit Britse besetting van die Kaap in 1806 was 'n direkte uitvloeisel van die oorlog in Europa. Die Bataafse Republiek, wat in werklikheid 'n satellietland van Frankryk was, het skaars die bewind in die Kaap oorgeneem, toe die oorlog tussen Frankryk en Engeland in Mei 1803 hervat is. Die moontlikheid van 'n Britse terugkeer na die strategies-belangrike suuidpunt van Afrika was nie uitgesluit nie en Janssens moes hom daarop voorberei. Van sy beste troepe moes hy egter aan Batavia afstaan en die sowat 1 500 huurtroepe wat hy oorgehou het, kon die Kaapkolonie doeltreffend teen 'n inval verdedig nie. Janssens organiseer dus 'n burgermilisie vir die koloniste en betrek ook die Hottentot-regiment van 600 pandoere, onder blanke koloniste as offisiere, in sy verdedigingsplan.

Die lankverwagte Engelse aanval op die Kaap het eers gekom toe die gevaar afgeneem het dat Napoleon engeland sou binneval. Die nuwe jaar 1806 was maar 'n paar dae oud toe die seiners op Leeukop die aankoms van 'n engelse vloot aangekondig het. 'n Vloot van 61 skepe onder sir Home Popham, met generaal Baird en 6 700 toepe aan boord, het die voortbestaan van die Kaapkolonie as Hollandse besitting bedreig. Op 7 Januarie land Baird se hoofmag te Bloubergstrand, waarop Janssens hom met 'n mag van 2 000 man tegemoet trek. Die uitslag van die botsing, wat die volgende oggend naby Rietvlei op Bloubergstrand plaasgevind het, was 'n uitgemaakte saak. Die verdedigers was nie teen die oormag aanvallers bestand nie. Twee dae later gee 'n deel van die verdedigers oor en op 18 Januarie 1806 lê Janssens en die res van sy mag die wapens neer.

Ingevolge die voorwaardes van oorgawe kon die burgers dadelik na hul tuistes terugkeer. Die soldate is krygsgevange geneem, maar sou op engelse koste na Nederland teruggestuur word. Die nuwe owerheid het onderneem om private eiendom te respekteer, dog het beslag gelê op alle eiendom van die Bataafse regering. Papiergeld sou voorlopig in omloop bly, openbar godsdiens, soos dit in gebruik was,  is eerbiedig en alle vorige regte en voorregte van die inwoners is gewaarborg. In Maart 1806 het Janssens en die garnisoen na Nederland vertrek en daarmee het Nederlandse gesag vir goed uit Suid-Afrika verdwyn.

De Mist en Janssens het die Kaapkolonie se welsyn op die hart gedra. sommige van hul maatreëls, bv. oor die voltrekking van huwelike, was ongewild by die koloniste. Ontevredenheid was onvermydelik, want afgesien van die feit dat dit altyd moeilik is om almal tevrede te stel, was die verligte bewindhebbers nie goed genoeg met die sedes en gewoontes van die Kaapse beskawing vertroud nie. Hulle was ie altyd daarvan bewus dat 'n eie volk met eie lewensopvattings in die Kaapkolonie aan die ontwikkel was nie. Nogtans het die Bataafse bewind na die belange van sy onderdane omgesien en vir die eerste keer was daar 'n regering wat ook die ontwikkeling van die buitedistrikte voor oë gehou het. Die tydjie wat die Bataafse bewind die septer geswaai het, was egter te kort om die eindresultate van die talle hervormings en maatreëls te toon. Met die terugkeer van die Engelse sou die verligte dinke van die Bataafse bewind deur 'n vreemde Britse gees verdring word.

M.C. van Zyl

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134