Ontdekkers en omseilers van die Kaap 

Met die ontstaan van die kultuur in Wes-Europa en in die oudste beskawingsgebiede rondom die Middellandse See, is ook die vroegste verkeer onder mense hier gebore ten einde elders te bekom wat nie in eie omgewing gekweek of uit die aarde gehaal kon word nie. Vir die een het sout of speserye vir sy voedsel ontbreek, vir die ander yster vir sy wapens, of ivoor, barnsteen, sierstene, edelgesteentes, goud, tin, brons of silwer, wat hy geleer hanteer en waaraan hy waarde geheg het.

Die handel was die vernaamste krag wat tussen die vroegste gemeenskappe aanraking gebring het, van Finland tot Hellas en van die Ierse eiland tot by Egipte en Mesopotamië, die Land van die Twee Riviere.

Eerste skredes suidwaarts

Meet as drieduisend jaar voordat die eerste skip uit Portugal die suidpunt van die vasteland van Afrika sou bereik, was die eerste skredes waarneembaar in die eindelose proses van die geografiese ontsluiering van die reusagige kontinent van die Suide. Dit sou egter ruim negentien eeue ná die begin van die Christelike jaartelling duur voordat hierdie ontsluiting voltooi is.

Vanuit die Mediterreense wêreld het die Afrika-ontdekking - sover uit die vroegste geskrewe verslae vasgestel of afgelei kan word - sy eerste skugtere vordering langs die Rooi See en verder suidwaarts langs die ooskus van Afrika gemaak. Dit was die eerste Egiptiese togte na die Land van Punt, in die vyftiende eeu voor Christus, gevolg deur die ekspedisies van die Israelitiese koning Salomo, bygestaan deur Hiram van Tirus, wat deurdring na die goudland Ofir, moontlilk die huidige Somalië.

Dit was weer eens handelsdrif wat die Semitiese Feniciërvolk uit Tirus en Sidon, die vroegste onder die seevarendes, weswaarts al langs die noordkus van "Libië" laat reik het, verby hulle groot stad Karthago en selfs buite die Suide van Hercules, wat die westelike ingang van die Middellandse See bewaak het. Vyf eeue voor die Christelike jaartelling vind naamlik die uitsonderlike seereis plaas van Hanno van Karthager, wat volgens redelik oortuigende aanduidings met roeibote tot ongeveer die binneste hoek van die Golf van Guinee vorder. Hierna sak 'n stilte van baie eeue toe oor die pogings om Afrika se weskus te leer ken.

Dit was die lang skemering van geografiese kennis, toe daar vanuit Europa sporadiese en indirekte, vae aanraking was met die eksotiese Indië, die Ooste en die Land van die Sy. Daar was selfs kennis van die ooskus van Afrika, waar swart mense gewoon het, tot sover suidwaarts as die huidige Dar-es-Salaam. 'n Vroeë buitepos van die Christendom, die afgelote bergland van Ethiopië, was bekend en daar was vermoedens van die sneeubekroonde Berge van die Maan, by die oorsprong van die Nyl, alles volgens die patroon van die tweede-eeuse geograaf Claudius Ptolomaeus, wie se aardrykskundige gissings oor die onbekende Afrika, wonderlik genoeg, nog eerbieding vermeld is selfs twee eeue nadat die eerste seevaarders reeds om die suidpunt van dié vasteland geseil het.

Die kleed van Europa se onkunde het digter en langer oor Afrika gelê as oor die Ooste met sy eksotiese rykdom en die wêreld van die Indiese Oseaan. Oor hierdie verre wonderlande prikkel die groot Arabiese skrywers - Masudi, Idrisi en Ibn-Batuta - die verbeelding en Marco Polo, die Italianer wat die hof van die heerser van Peking beter as sy eie Venesië geken het, vertel daarvan in sy groot boek van die jaar 1299. Maar aan Afrika se onbetreë oneindigheid word slegs effens geraak deur die aloue karavaanroetes deur sy noordelikste woestyne en deur die reise van enkele Italianers en Katalaanse seevaarders wat dit voor die veertiende eeu sporadies langs die weskus in die greep van die See van Duisternis waag - en nie weer terugkeer nie.

Die tydperk van die trotse groei van die Middeleeuse Mediterreense handelsmag van Venesië en die Italiaanse stede, wat die rykdom van die Ooste moeisaam en ten duurste deur die poorte van Islam bekom, is tegelykertyd ook die strydperiode tussen die Christendom en Islam. Dit word ook die ontstaantyd van 'n skilderagtige verwarring in die kennis van die Europese mens, toe die legende van 'n Christenvors, Priester Johannes, in verband gebring is met die verre Ethiopië, wat onder die sluier van onkunde sinonieme betekenis met Indië kry.

Aldus word die ideaal gebore wat ook 'n gelowige soeker soos prins Hendrik van Portugal ná 1415 aanvaar, om die Christendom te dien deur langs Afrika se weskus om 'n "Indië-in-Afrika" te bereik, die land van die Priesterkoning, wat dieselfde rykdom moes lewer as dié wat die geloofsvyand beheer het en wat 'n magtige bondgenoot moes word in die stryd teen die Sultan van Egipte en die magtige bedreiging van die Tuke teen Europa.

Die ontdekking van Afrika se weskus tot in die o mgewing van Sierra Leone was die lewenswerk van die derde seun van die Portugese koning Joao I, die Infante Dom Henrique (1394-1460), wat Engelse geskiedskrywers later Hendrik die Seevaarder genoem het.

Die Seevaarder het self geen ontdekkingsreis onderneem nie, maar vanuit Lagos, aan die Portugese suidkus, en later uit sy woonplek Sagres, het hy die ekspedisies uitgerus wat met wisselende sukses 45 jaar lank suidwaarts gevorder het, totdat die woestynkus verbygesteek is en die groot westelike ronding van Afrika met sy negerbevolking en tropiese klimaat bereik is. Die skepe van die Infante het ten tye van sy dood dus die begin van die streek besuide die Senegal bereik, wat tot vandag die naam Guiné (Guinee) dra - waarskynlik afgelei van die aloue binnelandse Negerkoningkryk Ghana.

Die Infante se Afrika-werk was in wese 'n eenmanspoging deur 'n lid van die koningshuis van Portugal en is onderskraag deur sy heel besondere persoonlikheid. Sy lewe is oorheers nie alleen deur fanatiese ywer om vir die Christendom teen die ongelowige te help stry nie, maar deur die volgehoue geografiese belangstelling wat hierdie Renaissance-gees gebring het om ontdekkingswerk te paar met sy godsdienstige strewe.

Na bykans 'n halfeeu van hortende vordering het die Seevaardes se ekspedisies nog geen "Indië" bereik of bepaalde tekens daarvan bespeur of verneem nie. Die vereenselwiging van die Ooste met Ethiopië het voortgeduur en daar is aanneemllike eietydse getuienis wat aandui dat die vordering langs Afrika se weskus nog steeds gesien is as die soektog na 'n seeweg wat van Guinee langs 'n "Suidkus" ooswaarts sou voer tot by die lande van Indië, waar o.m. 'n Christenvors geheers het wat as bondgenoot teen die Turke kon dien en wat toevallig ook oor die rykdomme aan Oosterse handelsware beskik het waarin die Weste belanggestel het.

Die voorstelling wat van Afrika gemaak is, was dié van 'n kontinent wat aan die suidekant afgeplat was, sodat van Guinee direk na Ethiopië geseil sou kon word. Van die omseiling van 'n suidpunt was in die denke van die tyd geen sprake nie, selfs nie eens onmiddellik na die terugkeer van Dias in 1488, ná die eerste reis verby die Kaap nie.

Die Prins se karvele het in heel langsame tempo net sowat een derde van die seeweg na die Kaap afgelê. Selfs as aangeneem word dat hy nooit bewustelik 'n seeweg gesoek het soos dit uiteindelik deur Da Gama gevind is nie, bly sy lewenswerk nogtans van kardinale belang, daar hy die grondlegger was van die gedagte en die seevaartkuns wat aan die Portugese luister sou bring as eerste omseilers van Afrika.

Wat tot 1460 die arbeid van 'n enkeling was, word daarna 'n belang van die Portugese monargie, 'n koninklike monopolie wat weldra handelswaarde kry uit die tropiese produkte en die slawehandel van die Guinee-kus, met sy middelpunt by Elmina, op die kus van die huidige staat Ghana. Tot 1481 was daar egter weinig regstreekse koninklike belangstelling vir die ontdekkingswerk in Afrika en in die regeringstyd van Alfonso V word die Guinee-handel tydelik aan die sakeman Fernao Gomes verpag op voorwaarde dat hy die kusontdekking voortsit. Op dié wyse word die reuse-binnekant van die Golf van Guinee bekend en vorder die pagter se skepe tot net oorkant die Ewenaar, waar die ontdekkingswerk bly steek.

In die regeringstyd van Joao II begin weer die kragtige persoonlike belangstelling van die kroon vir die Afrikatogte en gelyktydig daarmee die ontginning van die tropiese handel aan die Guinee-kus en sporadiese pogings om uit die Golf van Guinee oorland die Priesterkoning te vind.

Dié landwaartse belangstelling het berus op 'n volslae gebrek aan kennis oor die reuse-afstand tussen Guinee en Ethiopië en moet gesien word as 'n alternatief vir die reise langs 'n weskus van Afrika wat op ontmoedigende wyse besuide die Ewenaar eindeloos suidwaarts bly strek het.

Portugese suid van die ewenaar

Die ontdekking van Afrika se weskus van die Ewenaar tot benoorde die teenswoordige Swakopmund is van 1482 tot 1486 tydens twee reise uitgevoer deur Diogo Cao, dienaar van die koning. Hy was  'n verdienstelike man uit die volk, 'n skildkneg sonder rang of titel, wat ná sy eerste reis tot ridder van die koninklike huishouding verhef is. Op sy eerste reis het Cao die monding ontdek van die magtige rivier (Rio Poderoso) wat ook as Zaire bekend was en weldra as die Kongorivier. Hier het hy in April 1483 die eerste padrao van growwe kalksteen met inskripsie geplant om as merkteken van die Portugese besoek en as simbool van Christelike aanraking met Afrika te dien, die eerste van vier sulke klipkruise wat hy op sy reise sou oprig.

Van sy tweede reis het Cao nie teruggekeer nie; hy het waarskynlik gesterf naby die Kruiskaap, op die barre kus van die Kaokoveld van Suidwes-Afrika, waar hy vroeg in 1486 (bykans 500 jaar gelede) sy vierde en laaste padrao gelaat het. Die inligting wat sy ekspedisie na die Taag teruggebring het, was nog nie daarop bereken om optimisme te wek nie; inderdaad is daar suid van die trope weer 'n woestynagtige kus bereik en geen teken van die einde van die kontinent nie. Nogtans is daar aanduidings dat die omseiling van Afrka vir die eerste keer in die koninklike beraad 'n onmiddellike doelwit geword het, met die verklaarde oogmerk om eerstens die "Indië" van Priester Johannes te vind - nie noodwendig dié van die speserye nie.

As volgende stap word daar dus ' n dubbele aanslag op die geheime van die seeweg om Afrika beplan: Die voortsetting van Cao se werk aan die weskus deur 'n ekspedisie o.l.v. Bartolomeu Dias de Novaes, en gelyktydig daarmee 'n geheime verkenningstog deur twee afgesante van Joao II wat die kleurryke wêreld van Islam vanuit Kaïro sou binnedring om o.m. die bronne, aard en omvang van die Sultan se handel te bespied en vanuit die ooste meer oor die priesterkoning te wete te kom.

Die geheime verkenning het geensins volgens plan verloop nie, maar dit het mettertyd tog waardevolle gegewens opgelewer, afkomstig uit die verslag van een van die twee verspieders, Pero de Covilha. Nie alleen het hy met eie oë die Malabar-kus van Indië en die grootste handelshawens van die Moslim gesien nie, maar ook die Arabiere aan die ooskus van Afrika en die swart inheemse bvolking, tot so ver suid as Sofala, op die breedtegraad van die huidige Bulawayo. Nog meer: hy het van die Arabiere verneem dat van hierdie kus oorsee na die Weste geseil kon word. Hy was egter onbewus daarvan dat die twee klein karvele van sy landgenoot Dias kort tevore binne duisend seemyle van Sofala die boeg moes keer om na Lissabon terug te vaar.

Bartolomeu Dias was opsigter van die koninklike Guinee-pakhuise in Lissabon. Van sy lewe is heel weinig bekend en in eietydse dokumente word van hom en sy verband met Afrika geen melding gemaak nie. Hy was reeds in 1481 in bevel van 'n skip in die eerste ekspedisie na Guinee onder die nuwe vors Joao II en op 10 Oktober 1486 word aan hom bevel oorgedra oor die karveel S. Cristovao, een van die skepies waarmee hy die volgende jaar na Afrika sou vertrek.

Daar was skynbaar weinig besondere voorbereiding vir hierdie reis, wat van beslissende betekenis in die geskiedenis van die ontsluiting van die onbekende vasteland se suidelikste uiteinde sou wees. Daar kan aangeneem word dat Dias, soos Cao voor hom, beskik het oor die skeepskompas en die basiese seevaartinstrumente as dié wat sedert die begin van die Seevaarder se werk in gebruik was en waarmee, benewens die windrigting, slegs breedtegrade vasgestel kon word. Vir die vasstelling van breedtegrade met behulp van die hoogtehoek van die middagson is die astrolabium gebruik. Juis teen 1484 het wiskundiges, op las van die Portugese kroon, planmatig gewerk aan verbeterde deklinasietabelle van die sonstand vir gebruik besuide die Ewenaar en doeltreffender astrolabiums is vir die Afrika-reise in gebruik geneem.

Slegs uit fragmentariese gegewens - hoofsaaklik vier Italiaanse kaarte wat voor 1502 verskyn het - kan die verloop van die Dias-reis met moeite vasgestel word. Met sy twee karvele van ongeveer 100 hedendaagse ton elk, en 'n naamlose klein vragskip, het hy in Julie of begin Augustus 1487 die Taag verlaat en teen Desember 1488, ná 16 maande en 17 dae, weer teruggekeer. Behalwe die oorvaart van die Gof van Guinee was sy reis meestal digby die kus van Afrika.

Van die eerste week  in Desember 1487 vaar Dias langs die dorre Namib-kus van Suidwes-Afrika en kan sy vordering chronologies bepaal word aan die gebruik om plekname te verbind aan die feesdae van die heiliges uit die Katolieke kalender.

Ná besoek aan die huidige Walvisbaai loop die karvele teen Kersdag die wye baai binne wat tans Lüderitz heet en laat hul voorradeskip agter. Die soekende vaart gaan suidwaarts voort tot digby die Namakwalandse kus, waar Europese oë die eerste keer in die wasige binneland die berge sien wat later die name Pakhuisberg, Kapteinskloof en Sederberg sou dra.

Dit moes in die eerste week van die jaar 1488 gewees het dat Dias se karvele, in die stryd teen die sterk suidoostewind, doelbewus - en nie, soos tradisioneel lank aanvaar is, voor die geweld van 'n storm nie - deur die loods Pero d'Alenquer meer as duisend myl die wye Atlantiese Oseaan ingestuur is voordat die koers teruggeset is langs 'n breedtegraad wat die skepe suid verby die nog ongesiene Kaap gevoer het, totdat hulle noordwaarts geswenk het om die land weer te bereik.

Die gesig op die Suid-Afrikaanse kus ten weste van die huidige Mosselbaai, in die eerste dae van Februarie, was vir die moedige seevaarder die oomblik van sy triomf. Die kus het eindelik - en vir die eerste keer suid van die Ewenaar - in 'n nuwe rigting geloop wat daarop gedui het dat ná meer as 70 jaar die "suidoewer" van die kontinent van Afrika bereik was en dat die seeweg na die Indië van die priesterkoning en die vreemde rykdom van die Ooste binne sig was.

Mosselbaai ontvang van die eerste omseilers van Afrika sy vroegste naam, Aguada de Sao Bras en hierdie waterhaalplek van Sint Blasius bly meer as 'n eeu lank vir die Portugese die enigste hawe van betekenis. Dit was met Dias se eerste besoek ook die toneel van die heel eerste aanraking tussen Europeërs en die inheemse Hottentotte, 'n ontmoeting wat ongelukkig deur geweld gekenmerk is.

Die laaste dramatiese skof langs die suidkus loop vir Dias op persoonlike neerlaag en teleurstelling uit: Hy word deur sy koninklike opdrag genoodsaak om sy toggenote oor die voortsetting van die reis te raadpleeg. Die beraad, waarskynlik in die baai wat nou Algoabaai heet, dwing aan Dias die besluit op om in Maart 1488 om te draai, nadat 'n riviermondig bereik is wat algemeen aanvaar word as die Groot-Visrivier, nagenoeg 1 260 myl verder as die laaste merkteken wat Dio Cao opgerig het.

Hoe die besluit ook al die dappere baanbreker gegrief het, die tyd sou duidelik bewys dat dit die verstandigste was. Sy ondoeltreffende skepies, gebrek aan proviand, die afstand na die werklike Indië - die Malabar-kus - en veral die onverbiddelike vyandskap van Islam in die Indiese Oseaan, maak dit wis en seker dat Dias nooit van sy reis sou teruggekeer het nie, selfs al sou hy sy bestemming bereik het.

Op sy terugreis rig hy op drie plekke 'n padrao op. Die eerste was by Kwaaihoek, net wes van Boesmansriviermond, waar dié van Sint Gregorius op 12 Maart 1488 geplaas word. Hierdie padrao, die oudste teken van Europese aanraking met Suid-Afrika, is in 1938 en 1939 in brokstukke deur die navorser Eric Axelson op die terrein ontdek en dit is tans in die Witwatersrandse Universiteitsbiblioteek in Johannesburg in gerekkonstrueerde vorm te sien.

Die tweede kalksteenkruis word op 6 Junie 1488 opgerig naas die kaap wat volgens 'n bewysstuk van die tyd deur Dias (en nie deur die vors Joao II nie) Cabo de Boa Esperanza genoem is. Dit was die werklike Kaap wat hy omseil het sonder dat hy dit op die uitreis gesien het. Selfs nou was dit al wat hy gesien het van die skiereiland waarvan dit die suidelikste punt was.

Die terugreis voer sonder onbreking weer van Kaappunt na die huidige Lüderitzbucht, waar die derde padrao in Julie 1488 voor die vertrek na Europa opgerig word aan dieselfde baai wat die Portugese seevaarders agtereenvolgens as Angra das Voltas, Golfo de Sao Cristovao en Angra Pequena aangedui het.

Die ontdekker van Suid-Afrika is stil en sonder ophef deur sy vors ontvang en bly sonder erkenning of beloning tot hy in 1500 sy graf in die golwe van die Suid-Atlantiese Oseaan vind, weer op 'n reis na Indië in diens van sy koning. Moontlik is die opspraakwekkende feit dat hy die Kaap omseil het, wel in Lissabon na waarde geskat en met opset voorlopig veronagsaam. Dit het geen bewyse van die nabyheid van Indië en geen vooruitsig op winsgewende handel gebring nie, maar slegs berige van 'n onaantreklike, verlate suidland wat (volgens 'n tydgenoot) "niks voortbring om die hart van die mens te vebly nie" en waar die oseaan bowendien lewensgevaarlik was.

Da Gama omseil die Suidland en bereik Indië

Ruim nege jaar sou ná Dias se tuiskoms verloop voordat 'n Portugese kiel weer in die stormwater van die Kaap verskyn. Vir dié aarseling was daar verskeie redes: Die Afrika-handel het reeds 'n aansienlike handelswelvaart aan Lissabon besorg, waarvan die Almazem de Mina, die koninklike Guinee-pakhuis, die simbool was. Daar was geen rede om meer voorspoed te gaan soek langs 'n seeweg wat skynbaar verby die welige tropiese gebiede na dorre landstreke sonder belofte gestrek het nie.

Die vernaamste voorstander van verdere pogings om Indië te bereik, was die vors self, maar juis in hierdie jare is sy lewenslus gedemp deur die verlies van sy seun en troonopvolger en die toenemende tekensvan die nierkwaal waaraan Joao II in 1495 sou sterf. Sy sorge is intussen ook vermeerder deurdat die Genuees Christoforo Colombo, wat in Maart 1493 in Lissabon berig gebring het van 'n Indië wat hy in diens van die vorste van Spanje ontdek het - maar in die weste, nie in die suide, waar Cao en Dias dit gesoek het nie. Columbus se "Indiërs", wat hy as bewysstukke meegebring het, was wel nie Negers of Oosterlinge nie, maar daar was genoegsame stof vir ernstige twyfel, eerstens, of 'n soektog na die suide nog te regverdig was en, voorts, watter waarde nog aan die pouslike toesegging aan Portugal in 1455 van alle streke ooswaarts ad Indos geheg kon word as die doelwit nou deur 'n weswaartse reis bereik is. Die politieke stryd wat Joao II teen Spanje en die uiters partydige pous Alexander VI moes voer, word in 1494 in Portugal se guns besleg met die aanduiding van 'n verdeling van Spaanse en Portugese oorsese belangegebiede, soos neergelê in die Verdrag van Tordesilhas. Daarmee was die roete suidwaarts weer vir Portugal verseker, kort voordat Johan die Volmaakte se plek ingeneemn word deur sy swaer, Manoël die Gelukkige.

Manoël I, wat tot 1521 oor Portugal regeer en wie se regeringstyd ook die h oogste bloei sou beleef van 'n Portugese handelsryk wat van Brasilië tot die Maleise Argipel strek, was in der waarheid die geestelike erfgenaam van die groot Seevaarder. Daarom was dit dat hy onmiddellik na sy troonsbestywing die teenstand teen verdere reise na die suide oorkom het en die uitgebreide voorbereiding kon begin vir 'n ekspedisie wat die bestemming moes bereik wat Dias nie beskore was nie.

Die twee skepe Sao Rafael en Sao Gabriel, wat vir die vaart gebruik is, was nagenoeg drie keer so groot soos Dias se karvele en heet nou naus, elk met 20 stukke geskut van allerlei grootte en genoeg wapens aan boord om die bemanning weerbaar te maak. Die ligte karveel Berrio sou as verkenningskip meevaar en 'n swaar vragskip vir voorrade en proviand is as vierde vaartuig bygevoeg. Met die nuutste tabelle vir breedtegraadberekening ter hand, verbeterde astrolabiums (o.m. een wat aan land opgerig kon word om akkurater lesings te verkry) en die dienste van Dias se beproefde loods Pero d'Alenquer sou die nuwe ekspedisie sy taak onderneem.

Die man wat vroeg in 1497 deur Sy Hoogheid die koning ontbied is om as kaptein-majoor gesag te voer oor die skepe wat Indië om die Kaap moes bereik, was die 38-jarige Vasco da Gama (1460-1524), 'n vrygesel, seun van 'n magistraat uit die kusdorpie Sines. Da Gama was van 'n ander stoffasie as die sagmoedige Dias. Veel seevaartkennis het hy blykbaar nie besit nie; daarvoor sou hy op sy loodse staatmaak. Maar hy was die strenge tugmeester wat wis om sy wil deur te voer, 'n onbuigbare en ferme dienaar van sy koning, opvlieënd van aard, 'n man wat in die uitvoering van wat hy as sy plig beskou het, selfs nie sou aarsel om die uiterste wreedhede te begaan nie. Die eed wat Da Gama plegtig voor sy vorms op die teken van die kruis afgelê het, toe hy onderneem  het "om uit te gaan om die oseane en lande van Indië en die Ooste te ontdek", was deurgaans sy rigsnoer.

Sy vertrek uit die Taag op 8 Julie 1497 was kleurryk. In luister is dit slegs oortref deur sy tuiskoms meer as twee jaar later, teen Augustus 1499, as die held wat aan Portugal die seeweg om die Kaap na die Malabar-kus besorg het, die sleutel tot die rykdom wat die Ooste kon lewer.

Ander as die geval van Dias, het daar van Da Gama se historiese tog 'n roteiro of joernaal bewaar gebly. Daaruit blyk dit dat sy eerste aanraking met die kus van Suid-Afrika die resultaat was van die nuwe roete wat hy gevolg het.

Da Gama was die eerste wat die ontsaglike waagstuk onderneem het om op sy uitreis van die Kaap-Verdiese Eilande met 'n wye boog die Atlantiese Oseaan oor te steek, tot digby die kus van die nog onontdekte Brasilië, om die tropiese windstiltes te omseil en dan met die westewind suid verby die Kaap te probeer vaar. Die magtige dobbelspel met die oseaan het 93 dae geduur voordat die land weer in sig gekom het, êrens suid van die Oranjerivier. Met opset, of  miskien weens stroomverset, het Da Gama dié kus bereik en op 7 November 1497 aan wal gegaan by die baai wat hy self Sint Helenabaai gedoop en waar ook hy die Hottentotte die eerste maal gesien het.

Da Gama het hom voor die omseililng van die Kaap uindieselfde posisue as Dias bevind. Teen die gierende suidoostewind in - die stem van die reus Adamastor in die beroemde epos Os Lusiadas van Luis de Camoes - het hy tog die Kaap omseil sonder om na weste uit te wyk. Hy doen ook die Angra de Sao Bras aan, waar hy tydens 'n verblyf van dertien dae weer die "bruin mense" sien en van hulle slagvee ruil voordat hy sy reis voortsit verby Dias se verste punt, die Rio de Infante.

Aan die kus van die Keirivier gee Da Gama volgens oorlewering op Kersdag 1497 die naam Terro do Natal, hoewel dit nie in sy joernaal opgeteken staan nie. Dié streeknaam, wat die kus van Pondoland aangedui het, word in die Portugese tydperk later oor 'n groter afstand uitgebrei met 'n beginpunt (Ponta Primeira) by die Keirivier, 'n middelste punt (Ponta do Meio) by die Umzimvuburivier, en die agterste of verste punt (Ponta Derradeira) wat waarskynlike dieselfde as die Durbanse Bluff is.

Daar is g'n aanduiding dat Da Gama swartmense hier gesien het nie; eers in die eerste weke van 1498 het hy die swartmense - waarskynlik 'n stam van die Tsongas - noord van die Limpopomonding ontmoet, en eers 'n halfeeu later sou skipbreuk aan die kus van die land Natal die Portugese met die Nguni-mense hier in aanraking bring.

Onderweg na sy groot triomf, die bereiking van die Malabar-kus om die Kaap in Mei 1498, het Da Gama die Mohammedaanse handelswêreld binnegeseil en het die eerste "skepe van die Franke" in die ou stad Mosambiek op sy eiland eers verbasing en daarna bloedige botsings met die "More" veroorsaak. Da Gama het die patroon vasgelê van toekomstige reise na Indië wat Mosambiek as halfweghawe sou gebruik vir die groot vaart van die ooskus oor die Indiese Oseaan. In die komende jare sou Mosambiek en die suidooskus van Afrika die mikpunt en kruispunt wees vajn uit- en tuisvarende Portugese skepe, wat volgens die strenge rooster van die moessonseisoen sou seil.

Da Gama het sonder kosbare vrag of handelsverdrae uit Indië gekom, maar die seeweg om die Kaap wat hy met meedoënlose volharding verwerf het, was 'n kosbare geskenk wat hy in die hande van Manoël I gestel het. As 'n koninklike monopolie, wat as wapen teen Islam die pouslike beskerming teen Christen-mededingers geniet het, kon die ongekende rykdom van die Indiese handel vir Portugal ontgin word. Terwyl die eeue-oue rol van die Sultan van Egipte as middelman by die spesery-verkeer weens die ontstaan van die Kaapse roete grotendeels begin verval, moet die trotse Venesië sien hoe sy magtige Middeleeuse handelsmag, gegron op die verspreiding van dieselfde Oosterse ware, soos die môremis voor die son verdwyn, hoe die vors van Portugal die swaarteppunt van die speseryhandel na die Scheldestad Antwerpen verlê en hoe die ryk geldskieters van Duitsland gretig sorg dat Europa die grondstowwe lewer wat Lissabon vra om sy fortuin uit Indië te haal.

Twee dekades lank, ná Da Gama se eerste reis, bou Manoël die Indiese ryk in "die diens van God Onse Here en ons eie voordeel", soos hy dit eens self gestel het. Jaarlikse vlote vaar om die Kaap om Islam uit sy steunpunte in die Indiese Oseaan te verdryf en na die Malabar-kus om ryk ladings in te neem. In 1500 reis Pedro Alvares Cabral met 'n vloot waarin ook Bartolomeu Dias vaar en op die heenreis sy dood vind. Die derde tog na Indië (1501-1502) is dié van Joao de Nova, wat in Mosselbaai die eerste bouwerk van Christene in Suid-Afrika, 'n klein bidkapel, oprig. Op sy verdere tog is hy die eerste wat die "rivier van die meer" sien, die Rio da Lagoa, aan die baai waaraan Lourenço Marques in 1544 sy naam sou gee en wat laat in die 19de eeu die stad Mosambiek sou vervang as middelpunt van die Portugese provinsie Mosambiek.

Aan Da Gama self, n ou tot edelman en admiraal verhef, word die bevel van die vloot van 1502 toevertrou, maar hy seil in een ontsaglike skof van 99 dae van die kus van Gambië na Sofala sonder om op die heenreis die Suid-Afrikaanse kus te raak.

Die vloot van 1503 het uit drie eskaders bestaan, elk met opdragte om te gaan deelneem aan die bloedige stryd teen Islam wat Da Gama reeds met vuur en swaard aangevoor het. Een van dié eskaders staan onder bevel van Antonio de Saldanha en beland in die lente van 1503 weens 'n navigasiefout in die baai wat nou Tafelbaai heet.

Betekenis van die Kaap vir die Portugese

Na hierdie heel eerste besoek waarvan daar geskrewe melding bestaan, behou die Auada de Saldanha 'n eeu lank die naam van die man wat ook Tafelberg die eerste bestyg het: 'n tweede waterhaalplek wat vanweë die seilroetes slegs by uitsondering gebruik is. Al die groot ryksbouers van Portugal se Estado da India het in die bewindsjare van Manoël om die Kaap geseil. Een van hulle, die onderkoning Francisco d'Almeida, wat pas tevore so skitterend die Portugese gesag in die Indiese Oseaan gevestig het, het op die terugreis in 'n botsing met Hottentotte in Tafelbaai in Maart 1510 op miserabele wyse saam met van sy vernaamste offisiere omgekom.

So vyandig soos die inheemse mense was, so gevaarlik was ook die see om die Kaap, met sy onvoorspelbare luime en gevare van stroom en stormwind, wat veral die swaarbelaaide terugkerende skepe van die Natalse kus tot Kaappunt die spitsroei op lewe of 'n watergraf laat loop het. Geografiese kennis van Suid-Afrika het die Portugese met die verbyvaart langs die versmade kus nie gesoek of opgedoen nie, met uitsondering van poigings soos dié van die beroemde loods Joao de Lisboa om 'n uitvoerige opgawe van die suidkus en sigbare berge te maak. So het ook die yl verspreide plekname aangegroei waarvan net enkele, soos Agulhas, Infanta, Recife en Sint Sebastiaansbaai, die eeue oorleef het.

Die rykdom en Renaissancebloei van die tydperk van Manoël I het nie met hom gesterf in 1521 nie, hoewel tekens van korrupsie, onbekwame bestuur en verval reeds in die gloriedae aan te toon was. In die 36 jaar van die sagmoedige Joao III se regering vaar die vlote soos vanouds om die Stormkaap en verwerk die kroon rustig sy winste. Daar was nog geen mededinger om te reik na die alleenreg wat Portugal met geweld in die Indiese Oseaan verower het en selfs tot aan die verste spesery-eilande van Indonesië gevestig het nie. Sporadiese Franse indringers (ook Hugenote) kom daar wel, seerowers wat die rykbelaaide skepe op die laaste skof na Europa voorlê en tot aanmoediging dien vir Vlaminge en Engelse om aan die Portugese vors se trotse monopolie te begin knaag. Maar dit was 'n taai stelsel wat geslagte lank nog dig sou bly in diens van 'n koninklike skatkis wat in sy stryd teen die More van Marokko tot minstens 1578 rykdom en sy edelste bloed in Noord-Afrika sou uitgiet.

Dwarsdeur die 16de eeu het dieselfde faktore wat van die begin af Suid-Afrika buite die belangstelling van die Portugese gehou het, nog voortgeduur. Eerstens was daar die seilroeetes wat die Mosambiek-kus en Malabar as mikpunt gehad het en waarvoor halfwegstasies aan die suidelike baaie van die vasteland dus nie nodig was nie, behalwe as noodhawens en waterhaalplekke, nog minder as aanraking met Tafelbaai en die weskus van Suid-Afrika, wat normaalweg nòg op die uitreis nòg op die terugvaart gesien is.

Voorts het die land self, in vergelyking met wat die ooskus en die Ooste kon bied, geen spoor van handelsmoontlikhede gehad nie. Selfs ivoor is in genoegsame hoeveelheid vir die handel eers so ver noord as die baai van Lourenço Marques aangetref, en die koorsbesmette Sofala se goud uit die binneland was nog veel verder noordwaarts geleë. As verdere teenstelling was daar die inheemse bevolking; primitiewe barbare, en boonop uit die staanspoor vyandig gesind teenoor die Portugese. Daarteenoor was daar die hoogstaande kulture van die Arabies-oorheerse ooskus en die weskus van Indië, met sy beskawingsgoed wat deur baie eeue gevorm was: heersers en regeerders met wie ooreenkomste aangegaan en handel gedryf kon word.

Die vernaamste afskrikmiddel vir die pioniers om die kuste van Suid-Afrika was egter die see en die stormwind. Die land wat Dias en Da Gama bekend gemaak het, was die skrik van seemanne. Sy storms van Natal tot by Agulhas was in die gedagtes van elke Portugees wat al op lewe en dood by die pompe geswoeg het om by die Stormkaap verby te kom. Dit was 'n geografiese hindernis, hierdie land; iets om verby te seil, nie om te besoek en te leer ken nie.

Daarom het die Portugese seevaarders wat tot die einde van die 16de eeu feitlik 'n ongerepte alleenvaart op die Kaapse roete geniet het, feitlik niks te wete gekom nie van die land wat hulle as "Westelike Ethiopië" geken het, teenoor die Ethiopia Oriental wat Joao dos Santos in 1609 uit die ervaring beskryf het en waarmee hy Suidoos-Afrika wou aandui, oftewel Mosambiek en sy binneland tot aan die Zambezi.

Hul kennis was beperk tot die bittere ervarings wat skipbreukelinge van 'n deel van die Pondolandse en die Natalse kus en die swartmense opgedoen het, toe swaar galjoene met kosbare vrag hulle te pletter geloop het op die "kus van die tormente", soos die Sao Joao (in 1552) en die Sao Bento (in 1554). Dit was Manuel de Mesquita Perestrelo, oorlewende van die Sao Bento-ramp, wat in 1564 oor hierdie grusame ervaring die eerste gedrukte werkie geskryf het wat uitsluitend oor Suid-Afrika handel. Dit was ook hy wat in opdrag van sy jong vors Sebastiaan die vroeëkusondersoeke van Barbudo en Quaresma (1506), Joao de Lisboa (1513) en van die geleerde Dom Joao de Castro (1538) aangevul het met die volledige beskrywing en landkaart van die inspeksietog wat hy in 1575-1576 van die Kaap tot by Inhambane voltooi het.

Land sonder eie naam het Suid-Afrika gebly. Inderdaad was dit deel van die ryk waaroor die Portugese vorste van Avis tot 1580 geregeer het en daarna Filips II en sy Spaanse nakomelinge, almal wettige troonopvolgers. Maar dit was nooit meer as 'n latente, toevallige, ongenoemde en ongeagte deel van die Portugese handelsryk nie. Toe daar teen 1569 in Lissabon 'n vertoning van Afrika-imperialisme beplan is, wat enigsins met die Spaanse ryksbou in Suid-Amerika vergelykbaar moes wees, was dit die Zambezigebied wat uitgekies is vir die tragiese debakel van die ekspedisie van Francisco Barreto na die land van Monomotapa. Die logge Portugese kroonmonopolie van die Indiese rykdom was besig om ineen te sak. Maar dit was 'n langsame proses met die inwerking van kumulatiewe oorsake en die ryk sou aanslae van sy handelsvyande nog weerstaan tot lank nadat 'n Nederlandse volksplanting aan die Kaap reeds werklikheid was.

Nuwe omseilers en wedyweraars

Korrupsie in die Indiese diens, gebrek aan bemanning en bevolking, lomp en oorlaaide skepe wat 'n maklike prooi van Engelse en Franse kapers of van die golwe word, die verpagting van gedeeltes van die koninklike monopolie aan vreemdes - en by name van die speseryeverspreiding aan die skerpsinnige Nederlandse karweiers - wat die moontlikhede van die handel leer ken en weldra die roete om die Kaap aan die jaloerse bewaarders ontfutsel - dit alles laat die alleenhandel gevaarlik wankel.

Ewe belangrik as die verhaal van die vervanging van die Portugese as alleenvaarders om die Kaap, is die politieke gebeure wat Portugal ná 1578 tref. Die dinastie Avis wat in 1385 met die vader van die Seevaarder begin het, sterf in 1580 uit en die vors van Spanje, wat ook die seun van Manoël se dogter Isabella was, laat onmiddellik sy wettige aanspraak op die Portugese troon geld. So word nie alleen twee trone verenig nie, maar kry Portugal as heerser dieselfde Filips II van Spanje wat die Nederlande se aartsvyand in hul onafhanklikheidstryd was, en die nasionale vyand van die Engeland van die eerste Elizabeth.

Na buite is weliswaar nie dadelik 'n insakking van die groot handelsryk van Portugal te bespeur nie, maar die volk wat die Kaapse seeweg beseil het, het nou die besieling gemis van 'n vors wat tradisioneel self leier en heer van die oorsese ondernemings was. Hulle was tot 1640 "Spanjaarde"; die Protestantse vyande wat hulle van Spanje geërf het, het vir die pouslike beskerming van Lissabon se speserymonopolie geen duit omgegee nie en gretiglik toegesak op die belange van Filips II se nuwe Portugese onderdane.

Die aanslag teen die speseryhandel is op tweërlei wyse uitgevoer. Eerstens deur roof op die lomp en swaar belaaide terugkerende Portugese karake op hul laaste moeë skof van die Kaap-Verdiese Eilande na Lissabon. Hieraan het Franse Hugenote en Engelse lank voor 1580 al meegedoen. Die tweede aanvalsmetode was regstreekse pogings om in te dring in die herkomsgebied van die speseryhandel.Ook hier was dit die snelvarende Engelse wat die voorlopers was: Francis Drake, wat op sy vaart om die aarde al rowende om Suid-Amerika "the Islands of the Spiceries" bereik en wat op sy terugreis van die Molukke na Plymouth in Junie 1580 die Kaap omseil, wat hy die skoonste in die hele omtrek van die aarde noem. Hierdie skitterende seemansprestasie word herhaal deur Thomas Cavendish, wat Java in 1587 bereik en net betyds tuiskom om te verneem dat Filips II se Onoorwinklilke Armada 'n vernederende neerlaag deur Elizabeth se kapteins toegedien was.

Hoewel die Engelse se aanslae grotendeels op die Spaanse belange in die Nuwe Wêreld toegespits was, het Londense handelaars tog in 1591 drie skepe uitgerus wat die "ware weg" na Indië om die Kaap aflê, die eerste wat dit regkry sedert die halfvergete vaart van die twee Hugenotebroers uit Dieppe, Jean en Raoul Parmentier, in die jaar 1529.

Tydens die eerste Engelse verblyf in die waterhaalplek van "Saldania" in Augustus en die begin van September 1591, maak hulle kennis met die Hottentotte - "certaine blacke savages, very brutish" - en versamel seekos en wilde suring vir die matrose wat so ellendig deur die skeurbuik aangetas is. Op die reis langs die ooskus sterf die aanvoerder, George Raymond, en word die bevel deur James Lancaster oorgeneem. Hy bereik Ceylon en Sumatra, maar kom sonder skepe of bemanning eers in 1594 weer in Engeland terug om die verhaal van sy mislukking te vertel. Elizabeth se handelaars stuur die tweede mislukte ekspedisie, onder Benjamin Wood, om die Kaap in 1596, op 'n tydstip  toe ook die Nederlanders reeds hul eerste skeepsvaart teen die Portugese monopolie geloods het. Nieteenstaande 'n teenspoedige begin, word die Engelse Oos-Indiese Kompanjie in 1600 gestig en bevind die volhardende Lancaster - later sir James Lancaster - hom die volgende jaar weer in die baai onder Tafelberg, as aanvoerder  van die Kompanie se eerste vloot na die Ooste.

Dit was uiteindelik nie die Engelse nie, maar die Nederlanders wat in die halfeeu vóór die stigting van 'n volksplanting aan die Kaap die Portugese alleenhandel in die Ooste met geweld sou aftakel en oorneem. Die verskyning van die Nederlandse skepe om die Kaap was 'n spontane gevolg van die rol wat die Nederlanders toe al geslagte lank met aanmoediging van die twee Iberiese nasies verwerf het as verspreiders in Europa van die Portugese se Indiese ware en as vragvaarders vir Spanje, selfs toe die Spaanse kroon ná 1568 hulle nasionale vyand geword het. Die vragvaart het vir die wakker Hollanders en Seeue die dubbele voordeel gehad dat dit hulle klein landjie ekonomieskragtig gemaak het en dat hulle terselfdertyd die potensiële waarde van die speseryemonopolie, wat die Portugese so krampagtig dig gehou het, leer ken het.

Die prikkel om die rol van middelman af te lê en self die bronne van die Portugese welvaart te gaan ontgin, is verskaf deur Filips II se beleid as vors van Portugal ná 1580. In die dekade wat op die troonsvereniging volg, word die tradisionele handel met Lissabon en die Spaanse hawens vir die Nederlanders al hoe moeiliker en teen 1590 heeltemal onmoontlik gemaak.

Dit was die teken vir deelname deur die Nederlanders aan die openlike aggressie teen die skepe van die Portugese, met wie hulle byna 'n eeu lank op heel goeie voet verkeer het. Dit word die uitgesproke doelwit om die handel met die spesery-eilande - die Molukke en nie Indië nie - te bereik en in 1592 stuur nege Amsterdamse koopliede die broers Cornelis en Freederik de Houtman na Lissabon om "secreete informatie" in te win oor die seilweg om die kaap, wat sedert die dae van Dias so sorgvuldig geheim gehou is.

Die twee broers uit Gouda kom uiteindelik wel met 'n bundel seekaarte tuis, maar die man wat die Nederlandse "eerste schipvaart" van 1595 na die Ooste moontlik gemaak het, was Jan Huygen van Linschoten, uit Enkhuizen, wat as jongman geglo het dat dié wat tuis in hul ma se kombuis bly sit, nooit eendag as hulle oud is, iets sal hê om te vertel nie. Sy swerwersdrang het hom in Portugese diens na Goa gevoer, waar hy - heeltemal op eie inisiatief - in die loop van sowat vyf jaar aantekeninge en afskrifte van eerbiedwekkende omvang versamel het oor alle aspekte van sowel die Portugese handel en die handelsgebiede self, as die seilaanwysings vir die roete om die Kaap.

Van Linschoten se groot Itinerario ofte Reijs-boeck...naar Oost ofte Portugaels Indien het betyds verskyn om aan boord geneem te word toe Cornelis de Houtman op2 April 1595 met vier skepe namens die Amsterdamse "Compagnie van Verre (Landen)" na die Kaap vertrek. De Houtman het op 4 Augustus die baai van Sao Bras bereik, die eerste Nederlandse aanraking met die Suid-Afrikaanse kus.

In teenstelling met die Portugese, wie se eerste bestemming Mosambiek was, het die Nederlanders van die begin af die Soendastraat tussen Java en Sumatra, die poort tot die ssssspesery-argipel, as mikpunt gehad. Die twee waterhaalplekke, dié van Sao Bras en van Saldanha, was dus vir hulle van veel meer belang, as enigste onderbreking van die maandelange seereis na Oos-Indië (teenoor "Voor-Indië", die Nederlanders se aanduiding van die subkontinent Indië, waarheen die Portugese oorspronklik geseil het). Dit verklaar waarom die Engelse en en veral die Nederlandse monopoliebrekers, al hoe meer van die Kaapse hawens gebruik maak en voorkeur gee aan Tafelbaai self, 'n nuwe naam wat Joris van Spilbergen in 1601 daaraan gegee het, terwyl die eerste naam op die huidige Saldanhabaai oorgegaan het.

Die wegbereiders vir die vestiging van die Europese kultuur in Suid-Afrika word vroeg ná 1600 deur hul mededingers van die toneel gedwing, maar hulle tree met eer uit. 'n Klein volkie van minder as een miljoen mense het met moed, volharding en seemansdurf byna die helfte van die aardbol vir die Westerse wêreld oopgestel voordat hy hom voor die kragtiger middele en groter getalle van sy tydgenote moes begin terugtrek.

Die Nederlandse aanslag op die Molukse handel het begin met 'n reeks vlote wat afsonderlike mededingende maatskappye, die "voorkompanjieë", in die jare 1595 tot 1602 om die Kaap en om Kaap Hoorn na Oos-Indië gestuur het. Om aan die nadelige uitwerking van ongesonde onderlinge konkurrensie te ontkom, is die maatskappye in 1602 op federale grondslag verenig as die Verenigde Nederlandse Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie, met 'n oktrooi wat die State-Generaal van die Nederlande verleen het en wat ook by die oorsese ondernemings die soewereine gesag gebly het.

Die v.o.c., of N.O.I.K, met sy ses outonome kamers onder 'n hoofdireksie, die Here XVII of Here Majores, word die instrument van die Nederlandse werkdadigheid in die Ooste. In die Maleise Argipel self ontstaan ná 1609 'n vaste sentrale bestuur onder die leiding van 'n goewerneur en Raad van Indië, in 1619 'n vaste setel te Batavia, op Java, en 'n groot aantal buitekantore met eie gesagvoerders wat tot stand kom in die dekades vóór 'n dergelike kantoor aan die Kaap gestig sou word.

Gereelde Engelse en veral Nederlandse besoekers

Tafelbaai - deur die Engelse besoekers nog lank Saldania genoem - word uit die staanspoor die gereelde aanloopplek vir verbyvarende Engelse en Nederlandse skepe, wat, amptelik altans, voorlopig op vriendskaplike voet met mekaar verkeer. Onder klippe waarop name en aanwysings uitgebeitel is, laat skepe vir mekaar pos in die Tafelvallei, soos nog te sien is uit die gesamentlike "poskantoor" wat in die 20ste eeu in die omgewing van Adderleystraat opgegrawe is en in Kaapstad bewaar word. Die vreedsame baai bly 'n bymekaarkomplek vir skepe wat mekaar op see kwyt geraak het, 'n hersteloord vir siekes en soms 'n herstelplek vir skeepsrompe wat deur die geweld van die golwe ondig geraak het.

Van Engelse kant is in 1613 reeds die gedagte geopper om 'n kolonie in die Tafelvallei te stig; van 1616 word die Nederlandse besoek al meer gereeld en teen 1619 word op hoëvlak deur die twee maatskappye onderhandel oor die moontlikheid om één gesamentlike fort of twee aparte forte in Tafelbaai te vestig. Voordat dit tot resultate kon voer, word die Engelse vlag in 1620 sonder magtiging deur kapteins Andrew Shillinge Humphrey Fitzherbert op die teenswoordige rug van Seinheuwel of Vlaeberg, onder die Leeukop, gehys met die bedoeling om Tafelbaai namens Jakobus I van Engeland in besit te neem.

Die poging tot besitname het egter in Engeland geen gevolg gehad nie, nog minder die aanbeveling van die grootste kampvegter teen die Engelse in die Ooste, Jan Pieterzoon Coen, wat in Tafelbaai self 'n sterk pleidooi geskryf het met die strekking dat 'n Nederlandse kolonie aan die suidpunt van Afrika gevestig moes word.

Dit was die toevallige omstandigheid van die stranding in Tafelbaai van die skip Nieuw-Haerlem, van die retoervloot van 1647, wat ná 'n kwarteeu weer die aandag gevestig het op die Kaap as verversingspos vir die Kompanjie se skepe. Die kaptein het met 'n ander skip na Patria vertrek en 60 matrose onder gesag van die onderkoopman Leendert Janszen agtergelaat om die koms van die volgende retoervloot af te wag.

Van dié buitengewone verblyf, wat geduur het tot die aankoms van die vloot van Wollebrandt Geleijnsen de Jongh op 15 Maart 1648, het Janszen 'n joernaal bygehou. By sy terugkeer word hy en Matthijs Proot versoek om 'n verslag by Here XVII in te lewer oor Tafelbaai se geskiktheid as terrein vir 'n Kompanjiespos.

Die "Remonstrantie" van Janszen en Proot is gedagteken 26 Julie 1649 en bevat sterk positiewe aanbevelings oor die moontlikhede om 'n verversingspos te stig wat ook winsgewend sou wees; om met die Hottentotte vreedsaam te handel en te leef; om die skeepvaart om die Kaap te beveilig teen skipbreuk en die retoervlote teen onverhoedse hinderlae deur die vyand. Op grond daarvan het Here XVII in 1650 in beginsel besluit om aan die Kaap "een rendezvous en sterckte" op te rig en die instruksie vir die kommandeur daarvan te laat opstel.

Dit het in 1651 gebeur en daarna is aandag geskenk aan die keuse van 'n geskikte kommandeur.  Matthijs Proot is genader, maar het die pos nie aanvar nie; daarna het Jan Anthoniszoon van Riebeeck, gewese koopman in diens van die Kompanjie, sy dienste aangebied. Soos in Hoofstuk 2 verduidelik word, was hy aan boord van 'n skip van die vloot wat in 1648 die bemanning en vrag van die Haerlem in Tafelbaai aan boord geneem  het. Van Riebeeck was 'n man van 32 jaar en begerig om weer indiens van die Kompanjie te tree.

Aan hom word die geleentheid gegee om kommentaar te lewer op die "Remonstrantie" van Janszen en Proot. Die deurtastende wyse waarop hy die motivering ten gunste van 'n Kaapse verversingstasie in sy "Nadere Consideratie" van Junie 1651 krities en tog simpatiek bespreek het, moes veel daartoe bygedra het om hom die aanstelling van "opperhoofd" van die beoogde verversingspos aan die Kaap te besorg.

Binne die opset van die Kompanjie se uitgebreide organisasie, wat in die vooorafgaande halfeeu sy beslag gekry het, was die toevoeding van nog 'n fortjie met 'n klein garnisoen van sowat honderd man, aan die suidpunt van 'n land waarvan behalwe Tafelbaai en Mosselbaai nog net so weinig bekend was as toe Dias in 1488 na Portugal teruggeseil het, sekerlik nie 'n gebeurtenis wat oormatige belangstelling sou gewek het nie. Dit was 'n nuttigheidsmaatreël, 'n roetine-uitbreiding in belang van die Kompanjie se skeepsverkeer.

Van 'n volksplanting was geen sprake nie en van idealistiese oorwegings nog minder. Dat uit die nederige taak wat in 1651 aan Van Riebeeck opgedra is, die geboorte van 'n nuwe volk en die ontwikkeling van 'n land met ontsaglike natuurlike hulpbronne sou voortkom, was nog agter die voorhang van die toekoms versluier.

W.J. de Kock

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134