Die Kompanjie en sy Onderdane

Ontwikkeling van sentrale en plaaslike gesag

Gedurende die jare waarin die Kaap onder die bewind van die V.O.C. gestaan het, was die sentrale gesag in die hande van die Politieke Raad. Gewoonlik was dit die plaaslike amptenare wat sitting op hierdie Raad gehad het, maar wanneer 'n amptenaar met 'n hoër rang as dié van die hoogste plaaslike amptenaar die Kaap besoek het, was dit sy plig om die voorsitterstoel in te neem en ná 1657 is opdrag aan sekere hoë amptenare van die Kompanjie gegee om 'n verslag te skryf oor wat aan die Kaap gebeur, asook om opdragte of instruksies te gee aan die Kaapse gesaghebber. Sulke amptenare was bekend as Kommissarisse. Hulle was gewoonlik die gesagvoerders van die vlote wat van Batavia na Amsterdam op pad was, dus van die retoervlote. Terwyl hulle aan die Kaap was, moes die Kaapse gesaghebber hul bevele uitvoer.

Wat die Kaapse gesaghebbers betref, is dit interessant om daarop te let dat Jan van Riebeeck eers as opperhoof bekend gestaan het en daarna die titel kommandeur gekry het. Ook sy opvolgers - Wagenaer, Van Quaelbergen, Borghorst en Hackius - was kommandeurs. Isbrand Goske was die eerste goewerneur en ook sy opvolger, Bax, is aangespreek as goewerneur. Simon van der Stel, wat Bax opgevolg het, is egter as kommandeur aangestel, totdat hy in 'n brief van 17 Desember 1690 berig ontvang het van sy aanstelling as goewerneur.

Die samestelling van die Politieke Raad het weinig verandering ondergaan. Die persoon wat in rang net onder die gesaghebber gevolg het, was die sekunde, wat "tweede persoon" beteken. Verder moes die bevelvoerder van die soldate asook die fiskaal op die Raad dien. Die sekretaris het gewoonlik geen stem op die Raad gehad nie, maar soms het 'n raadslid as sekretaris opgetree. In 1676 het Nicolaes Verburgh, een van die besoekende kommissarisse, bepaal dat die Politieke Raad aan die Kaap saamgestel moes word uit die gesagvoerder, die sekunde, twee mililtêre amptenare, 'n kassier en 'n winkelier, wat tewens as sekretaris moes optree. Nege j aar later het die kommissaris-generaal, Hendrik Adriaan van Reede tot Drakenstein, bepaal dat - behalwe hierdie amptenare - ook 'n garnisoenboekhouer sitting op die Raad moes hê. Tewens het hy aan die oudste onderkoopman sitting in die Raad gegee en Melchior Kemels as sekretaris aangestel.

Wanneer iemand oor die tou getrap het, het die lede van die Politieke Raad bymekaargekom as Raad van Justisie. Die eerste vonnis het hierdie Raad reeds op 8 Julie 1652 gevel. In 1657 het Rijckloff van Goens sr. bepaal dat vryburgers wat voor die Raad van Justisie moes verskyn, verteenwoordig moes word deur een van die oudste en eerlikste vryburgers. Dié vryburger, het hy gesê, moet 'n eervolle plek in die Raad beklee en sitting neem tussen die sekunde en die sersant van die garnisoen. Van Riebeeck het die volgende jaar besluit dat twee vryburgers as burgerrade genomineer moes word. Elkeen moes twee jaar dien en beurtelings aftree.

Hoewel die burgerrade net sitting gehad het in die Raad van Justisie, het die Politieke Raad ook hul mening ingewin wanneer sake van belang vir die vryburgers ter sprake was. In 1675 is die getal burgerrade tot drie vermeerder. Hulle het namens die burgers petisies ingedien en hul belange in die algemeen behartig. In die 18de eeu het dit ook gebeur dat die burgerrade as 'n selfstandige liggaam opgetree het.

'n Amptenaar wat baie nou betrokke was by die werksaamhede van die Raad van Justisie, was die fiskaal. Die eerste fiskaal wat 'n opleiding in die regte gehad het, was Mr.(1) Pieter de Neijn, wat in 1672 aan die Kaap gekom het. Sy voorgangers het wel die bekende wetboeke van daardie dae tot hul beskikking gehad(2), maar was geen opgeleide regsgeleerdes nie.

(1) Dit is die afkorting vir Meester, nl. meester in die regte

(2) 'n Inventaris van die boeke wat Roelof de Man besit het, vind ons in Transport en Schepenkennis 1663 - 1665, Maart 1663, no. 311 (Kaapse Akteskantoor)

In 'n poging om meer beheer oor die amptenare uit te oefen, het die Bewindhebbers in 1688 besluit om die status van die fiskaal te verhoog. Hulle het hom die titel van Onafhanklike Fiskaal of Fiskaal Independent gegee en hom direk onder die gesag van Here XVII geplaas. Die Kaapse gesaghebber kkon hom geen bevele of die swye oplê nie. Die eerste Fiskaal Independent was Mr. C.J. Simons, wat ook sitting gehad het in die Politieke Raad tussen die sekunde en die kaptein van die garnisoen.

In die loop van die jare is die werk van die Politieke Raad deur ondergeskikte rade verlig. In 1674 is besluit om 'n kollege van weesmeesters in die lewe te roep. Hierdie kollege, later bekend as die Weeskamer, het in 1675 met sy werksaamhede begin, toe drie vryburgers en twee amptenare op die Raad gedien het. In 1676 het die Politieke Raad besluit om "volgens die methode van India" vier manne te benoem wat bekend sou staan as "commissarissen der houwelyckse saken". Die eerste lede van hierdie huwelikshof was 'n nderkoopman, wat as voorsitter opgetree het, 'n amptenaar, wat tegelyk die werk van sekretaris behartig het, 'n vryburger en 'n oud-burgerraad. Almal wat wou trou, moes voor hierdie hof verskyn voordat die huwelik ingeseën kon word.

Die eerste plaaslike liggaam is op 31 Augustus 1682 deur Simon van der Stel en sy Raad in die lewe geroep. Daar is bevind dat te veel van die Raad van Justisie se tyd in beslag geneem word deur klein geskille en twisgedinge. Derhalwe het die Politieke Raad besluit om "een particulier college op te rechten onder de benaminge van Commissarissen van de cleijne saaken". Dit was die hof van klein sake, waar sake rakende bedrae van minder as ƒ300 besleg kon word. Twee amptenare en twee burgers is aangestel as Raadslede. Een van die amptenare het die voorsitterstoel ingeneem, terwyl die sekretaris ook 'n amptenaar was. Tydens dieselfde vergadering is besluit om ook in Stellenbosch sake van minder belang te laat verhoor deur 'n plaaslike hof. Die vier lede van dié Raad is heemrade genoem en was algar vryburgers. In 1685 het Hendrik Adriaan van Reede 'n amptenaar benoem om as voorsitter in die hof van heemrade op te tree. Hierdie amtenaar is landdros genoem.

Die goewerneur en die Politieke Raad

Hoewe die vryburgers 'n ondergeskikte rol gespeel het in die plaaslike en sentrale regeringslilggame, het die owerheid in sowel Nederland as aan die Kaap aandag geskenk aan hul wense en behoeftes. Die eerste vryburgers was skaars op hul plasies gevestig toe die eerste kommissaris pertinent geskryf het dat dit "niet mogelijcq is dat die vrije luijden hier souden connen leven, so de dienaeren deselfde preëminentien hadden"(3) Hierdie beginsel, dat die vryburgers nie sou kan bestaan indien die amptenare dieselfde voorregte geniet nie, moes telkens weer beklemtoon word. Toe die goewerneur en byna al die lede van die Politieke Raad dit aan die begin van die 18de eeu vergeet het, het die burgers in opstand gekom en is hulle deur Here XVII in die gelyk gestel.

(3) C.700: Mem. en Instructiën, 1657 - 1685, Van Goens, 16 April 1657, p. 9 (Kaapse Staatsargied). Vryburgers sal onmoontlik 'n bestaan aan die Kaap kon maak, as die amptenare dieselfde voorregte as hulle geniet

Die les wat die burgers uit hierdie stryd teen Wilhem Adriaen van der Stel en sy amptenare geleer het, was dié van voortdurende waaksaamheid. So het die slordige wyse waarop sekretaris Pieter de Meyer die administrasie van grondbriewe en ander sake behartig het, 'n klompie burgers laat besluit om 'n klagskrif  by kommissaris Abraham Douglas in te dien en in 1716 is die amptenare andermaal daarvan beskuldig dat hulle te veel mag toegeëien het en weer besig was om groot grondbesitters te word. Die hoofskuldiges was Pieter de Meyer self, wat enige honderde morg grond besit en brandhout aan die Kompanjie verkoop het, die onderkoopman en dispensier Johannes Swellengrebel, die landdros Nicolaas van den Heuvel, wat groot wingerde gehad en wyn aan die Kompanjie verkoop het, en die ekwipasiemeester Jan Brommert, wat groente en vrugte van sy plaas aan die skepe gelewer het.

Kommissaris Douglas het nog ander klagtes teen die goewerneur en die Politieke Raad ondersoek. Sy bevindinge was beslis nie aangenaam vir Maurits Pasques de Chavonnes en sy amptenare nie. Die kommissaris het die goewerneur daarvan beskuldig dat hy sonder medewete van die ander Raadslede grondbriewe uitgereik en onderteken het, dat hy grond aan sy skoonseun gegee het en dat hy die vryburgers aansienlike bedrae laat betaal het vir die uitreiking van vrybriewe. Hoewel Here XVII gesê hetdat die kommissaris nie genoeg bewyse gehad het om al sy beskuldigings te staaf nie, het h ulle Douglas se klagtes teen sekretaris Pieter de Meyer in 'n ernstige lig beskou. Laasgenoemde is beveel om "buijten qualiteijt en gagie" na Patria terug te keer. Jan Brommert het bevel gekry om sy plaas te verkoop, maar het later toestemming gekry om vryburger te word; so ook Johannes Swellengrebel. Die gevolg van Douglas se ondersoek was dus dat daar geen enkele hoë amptenaar oorgebly het wat nog geboer het nie. Elkeen is voor die keuse gestel om òf boer te word, òf amptenaar sonder grond te bly. In 1721 het die lede van die Politieke Raad egter die reg gekry om tydens hul verblyf aan die Kaap 'n groentetuin van 1-1/2 of hoogstens 2 morg te besit.(4) Hoewel 'n paar amptenare later tuine besit het wat effens groter was, het ernstige oortredings nie meer voorgekom nie. Selfs die predikant, ds. F. le Sueur, wie se vrou in 1746 grond geërf het, is gevra om uit die bediening te tree indien hy die grond wou behou.

(4) 1-1/2 en morg is resp. 1,285 of 1,713 hektaar

Nadat die kommissaris hierdie sake reggestel het, was De Chavonnes, wat tot 1724 aan bewind gebly het, 'n uitstekende goewerneur wat die opdrag van die Here XVII om die inkomste van die Kompanjie aan die Kaap te vermeerder, pligsgetrou uitgevoer. Die invordering van rekognisiegelde van boere wat leningplase besit het, is in 1714 in werking gestel; die gebruik van seëls op notariële aktes is dieselfde jaar ingevoer en in 1715 is die eerste aksyns op plaaslike wyn gehef, sodat die wynboer een riksdaalder moes betaal op elke vat wyn wat hy aan die Kompanjie gelewer het. Later het Van Imhoff hierdie vatgeld tot drie riksdaalders verhoog.

Ander belangrike maatreëks wat De Chavonnes ingevoer het, was die skoolordonnansie van Augustus 1714 en die reglement vir goud- en silwersmede van Julie 1715. 'n Vriend van die goewerneur, ds. Lambertus Slicher, het rektor geword van die eerste Latynse skool in Kaapstad. Terselfdertyd is die sekunde, die predikant en die kaptein as skolarge aangestel en het hulle onder die goewerneur en sy Raad gesag oor die onderwys uitgeoefen. Toe kommissaris Becker in 1717 aan die Kaap was, is besluit dat alle skoolmeesters, ook dié wat van plaas tot plaas rondgetrek het, deur predikante getoets moes word. Daar was dus 'n mate van beheer oor die rondgaande skoolmeesters, wat so baie gedoen het om die inwoners van die binneland met die beskawing in aanraking te hou.(5) Die Latynse skool het egter spoedig gekwyn, aangesienouers aan die Kaap dikwels hul tienerjarige seuns na Europa gestuur het om verder opgelei te word en onderrig te ontvang.

(5) Sien J.L.M. Franken: Huisonderwys aan die Kaap (1692 - 1732); en J. Hoge:

Goewerneur De Chavonnes het self geen lang reise na die binneland onderneem nie. Een maal, toe ds. P. van Aken 'n groep vryburgers daarvan beskukldig het dat hulle die Hottentotte in die binneland van hul vee b eroof, het hy ondersoek laat instel. Hoewel landdros M. Bergh alles in die werk gestel het om getuienis teen vryburgers in te win, was sy gegewens so teenstrydig dat die goewerneur en Raad weens gebrek aan bewyse besluit het dat ds. Van Aken se beskuldiging ongegrond was.

Hoe belangrik die invloed van die goewerneur en die Politieke Raad op die harmoniese ontwikkeling van die land kon wees, blyk uit die volgende voorval. In 1717 het die Here XVII 'n vraelys aan die goewerneur en sy Raadslede gestuur. Een van die vrae was of daar in die toekoms meer slawe of meer blanke arbeiders na die Kaap gestuur moes word. Elke lid van die Politieke Raad is aangesê om sy antwoord skriftelik in te dien en te motiveer. Aangesien slegs een lid 'n sterk pleidooi gelewer het vir die invoer van blanke knegte en die vermindering van slawe-arbeid, is die advies van die meerderheid van die Raad gevolg en het die aantal slawe na 1717 vinniger begin toeneem. Die vrees dat die toename van die blanke immigrasie tot groter armoede sou lei, het in die loop van die 18de eeu meermale waarneembaar geword.

Nadat De Chavonnes die hoogste titel in die Kompanjie se ranglys ontvang het, nl. dié van Raad Ordinaris van Indië, het hy nog drie jaar aanbewind gebly. Toe hy op 8 September 1724 plotseling oorlede is, het die sekuknde, Jan de la Fontaine, waarnemende goewerneur geword. De la Fontaine, wat reeds sedert 1710 aan die Kaap was en in 1713 as onderkoopman lid van die Politieke Raad geword het, was algemeen bemind en die meeste Kapenare was teleurgesteld toe Here XVII besluit om Pieter Gysbert Noodt as De Chavonnes se opvolger aan te stel. Goewerneur Noodt het die Kaap op 25 Februarie 1727 bereik. Noodt was 'n militêr en geen onbekende aan die Kaap nie. In 1718 het hy 'n ruk lank as De Chavonnes se gas in die Kasteel vertoef met die oog op die verbetering van die vestingwerke. Ongeveer ses weke ná sy aankoms het hy in opdrag van Here XVII alle handel met die Hottentotte ten strengste verbied. Die fiskaal, die landdros en amptenare op buiteposte is gelas om waens en goedere van vryburgers wat van ruilhandel verdink sou word, te kkonfiskeer. In opdrag van Here XVII het hy ook ondersoek ingestel na die moontlikheid om 'n pad oor die Hottentots-Hollandberge oop te breek sodat dit makliker sou wees om hout uit die bosse anderkant die berge te gaan haal. In November 1727 het hy die bosse in die omtrek van Riviersonderend gaan besigtig, maar tot die gevolgtrekking gekom dat die bergreeks van Hottentots-Holland dit te moeilik gemaak het om hout uit die binneland na die Kaap te vervoer,

'n Ander probleem waarmee Noodt te kampe gehad het, was die voortdurende drossery van soldate. Tug was streng en toe 13 man in April 1729 uit die garnisoen dros, is agt gevang en vier, wat weerstand gebied het, opgehang. Op die dag van die teregstelling is Noodt plotseling aan 'n hartaanval oorlede. Weer eens het Jan de la Fontaine waarnemende goewerneur geword. Tot almal se vreugde het Here XVII sy aanstelling as goewerneur goedgekeur en het hy van Maart 1730 tot 31 Augustus 1737 aan die bewind gebly.

Wat die vasteland van Afrika betref, het die poging om Rio de Lagoa vir die Kompanjie in besit te neem in Maart 1721 begin. Die onderneming het egter jammerlik misluk en op 30 Desember 1730 het die garnisoen van 133 soldate wat Fort Lydsaamaheid beset het, die vesting verlaat en na die Kaap teruggekeer.(6) Tussen Delagoabaai en ie Kaap was daar nog baie onbekende gebiede.  Jan de la Fontaine het self egter selde na die binneland gegaan. Die enigste redelik lang tog wat hy onderneem het, was dié na Mosselbaai. Die Goewerneur is vergesel deur sy sekretaris, Ryk Tulbach, die ekwipagiemeester, Jacobus Möller, en vaandrig Rudolph S. Alleman. Vyf vryburgers het ook saamgegaan. Hulle het op 7 Julie 1734 vertrek en nadat 'n baken by Mosselbaai opgerig is, het hewige reëns dit vir die geselskap onmoontlik gemaak om verder te gaan, sodat hulle op 2 September weer in die Kasteel terug was.

Toe Jan de la Fonteine - nadat hy die Kompanjie 28 jaar as amptenaar gedien het - vra om met sy kinders na sy vaderland te mag terugkeer, is hy opgevolg deur die sekunde, Adriaan van Kervel. Dié het reeds van 1719 tot 1725 as sekretaris van die Politieke Raad opgetree, waarna hy fiskaal en toe sekunde geword het. Ná hierdie loopbaan was hy die aangewese persoon om goewerneur te word. Toe hy ná drie weke oorlede is, was die keuse van 'n opvolger nie so eenvoudig nie, want die sekunde, Hendrik Swellengrebel, aan die Kaap gebore, het die rang van opperkoopman later ontvang as die fiskaal, Daniël van den Henghel, wat op grond daarvan beweer het dat hy die reg gehad het om goewerneur te word. Toe die Politieke Raad oor die saak  gestem het en die stemme gelykop verdeel was, het Van den Henghel teen Tulbagh se stem t.g.v. Swellengrebel beswaar gemaak omdat dié sy swaer was. Tulbagh het geantwoord dat hy reeds nege jaar sy stem in die Raad ooreenkomstig sy gewete uitgebring het en dit nou ook gedoen het. Op voorstel van Christoffel Brand is die lot gewerp en Daniël van den Henghel is aangewys as waarnemende goewerneur. Toe Here XVII hiervan berig ontvang, besluit hulle egter dat die sekunde Swellengrebel goewerneur moes word, al het hy nog nie so lank as sy mededinger die rang van opperkoopman gehad nie.

Hendrik Swellengrebel, wat die hoogste pos aan die Kaap beklee het van 14 April 1739 tot 27 Februarie 1751 - tot hy na Europa vertrek het - was 'n bekwame goewerneur. Nog voordat hy aan bewind gekom het, het 'n aantal Hottentotte by die Kasteel kom kla dat vryburgerboere van die Olifantsriviergebied hulle van hul vee beroof het. Die saak is ondersoek en die Hottentotte in die gelyk gestel. Die Hottentotte is onder beskerming van die Kompanjie geplaas en het hul vee teruggekry. Die boere was kwaad en het geen gehoor gegee aan die bevel om voor die landdros te verskyn nie. 'n Dagvaarding om voor die Raad van Justisie te verskyn, het eweneens op dowe ore geval. 'n Fransman, Etienne Barbier, het hom aan die hoof van die ontevrede groepe boere gestel en op 1 Maart 1739 het hy, vergesel van 'n aantal gewapende perderuiters, aan die deur van die kerk 'n geskrif geheg waarin die owerheid van tirannie beskuldig is en meegedeel is dat Barbier en sy mense geen belasting meer sou betaal nie.

Hierdie opstand was nie Van den Henghel se enigste moeilikheid nie. In die noorde was die Boesmans bedrywig en baie boere het hul plase verlaat. Die waarnemende goewerneur het besluit om 'n groot kkommando op die been te bring en aan almal wat hom in die stryd teen die Boesmans wou h elp, amnestie belowe. Barbier se volgelinge het hierdie kans aangegryp. Barbier self het hom skuilgehou, maar is ten slotte tog gevang en in November ter dood veroordeel en tereggestel. Alle ruilhandel met die Hottentotte en veebesittende swartes is weer eens streng verbied.

Tydens hierdie moeilikhede het Swellengrebel die bewind oorgeneem, maar niteenstaande dié stormagtie begin het sy ampstyl verder rustig verloop. In September 1740 het selfs van die Boesmans in die Kasteel kom belowe dat hulle geen rooftogte meer sou onderneem nie. Die poging om die Hottentotte tot die Christendom te bekeer, het begin in Baviaanskloof, waar George Schmidt, een van die Morawiese sendelinge wat in Julie 1737 na die Kaap gekom  het, besig was o m die Evangelie aan die Hottentotte te bring. Later is dié plek Genadendal genoem. Toe hy in 1742 vyf van die Hottentotte gedoop het, het die Politieke Raad die saak bespreek en Schmidt verbied om bekeerlinge te doop. Schmidt het gevoel dat sy werk sonder bediening van die sakramente waardeloos sou wees en het in Januarie 1744 verlof gevra om na sy geboorteland terug te keer.

Dieselfde onverdraagsaamheid wat die goewerneur, sy Politieke Raad en die predikante teenoor Schmidt en sy werk aan die dag gelê is, het ook die Lutherane te beurt geval. In 1741 is 'n opname gemaak van almal wat aan die kaap en in die buitedistrikte die Lutherse geloof bely het. Soos een man het hulle gevra om hul eie kerk aan die Kaap te mag oprig. Dié versoek is in 1742 "met eenparigheid van stemmen" deur die goewerneur en Raad geweier. Dr. J. Hoge, wat die geskiedenis van die Lutherane aan die Kaap te boek gestel het,(7) het die aandag daarop gevestig dat die predikant Franciscus le Sueur en die sekunde, Tulbagh, albei getroud met susters van goewerneur Swellengrebel, onder die vurigste teenstanders van die Lutherane was. Eers nege jaar ná Ryk Tulbagh se dood h et hulle dan ook daarin geslaag om die Lutherse kerk aan die kaap te mag bou en is hulle "deselfde vrijheid van openbaare godsdienste oeffening als by die van hunne gesinheyd te Batavia word genoten" vergun.(8)

(7) Sien Die Geskiedenis van die Lutherse Kerk aan die Kaap in die Argiefjaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis, I(2), 1938

(8) Die Lutherane het diselfde vryheid gekry as hul geloofsgenote in Batavia, nl. om hul goedsdiensoefening in die openbaar te hou.

Die bewind van Ryk Tulbagh, 1751 - 1771

Toe Ryk Tulbagh goewerneur word, was hy reeds meer as 30 j aar in diens van die Kompanjie aan die Kaap. Toe hy op 21 Mei 1699 gebore is, het sy vader, Dirk Tulbagh, en sy moeder, Catharina Cattepoel, in Utrecht gewoon. Die gesin het weldra verhuis na Bergen-op-Zoom, waar Tyk tydens sy jeugjare gewoon en skoolgegaan het. Aangesien sy vader hom vroeg ontvang het, het sy oom hom gehelp om tot sy sestiende jaar skool te gaan. Daarna moes hy i n sy eie onderhoud voorsien en het hy in diens van die Kompanjie getree.

Nadat hy in 1718 met die skip Terhorst in die Kaap aangekom het, is hy as assistent in diens van die sekretaris geplaas en in 1722 is hy bevorder tot eerste klerk van die sekretaris van die Politieke Raad. 'n Jaar later is hy tot pakhuismeester evorder en in 1725, toe Adriaan van Kervel sekunde geword het, is Tulbagh bevorder tot sekretaris van die Politieke Raad. Terselfdertyd is hy tot vendumeeste bevorder. As Gereformeerde en troue kerkganger het hy tot die einde van 1725 as diaken gedien en het hy in 1726 ouderling geword. Hy het nou die rang van onderkoopman beklee en ná 16 September 1728 het hy die resolusies onderteken, nie slegs as sekretaris nie, maar ook as raadslid. Hy het nou ook lid van die Raad van Justisie geword en het die samelewing dus op alle terreine gedien. Deur sy huwelik met Elizabeth Swellengrebel het hy nog nouer verbonde geraak aan die groep amptenare in wie se hande die bestuur aan die Kaap was en in 1732 het hy die titel van koopman gekry.

Toe Hendrik Swellengrebel op 14 April 1739 goewerneur word, is Tulbagh as sekunde aangestel en het hy ex officio voorsitter van die Raad van Justisie geword. Die hoogste rang, nl. dié van opperkoopman, is eweneens aan hom toegeken.

Toe Swellengrebel versoek om die Kaap te mag verlaat, het die Poliltieke Raad gevra of Tulbagh hom kom opvolg, aangesien sy troue dienste gedurende so baie jare hom die nodige ondervinding gegee het om "ten nutte der maatschappy en het wel weesen deeser colonie" die hoogste amp in die land te beklee. Here XVII het die versoek toegestaan en op 27 Februarie 1751 het Tulbagh sy ampseed as goewerneur afgelê. Daarna het nog twee onderskeidinge hom te beurt geval: in 1754 is hy met die titel Raad Extraordinaris van Indië vereer en op 21 Oktober 1766 is hy in kennis gestel dat hy as Raad Ordinair van Indië aangespreek sou word.

Aangesien sy vrou hom op 13 Oktober 1753 ontvang het en hul twee seuntjies vroeg oorlede is, het Tulbagh eensaam in die Kasteel agtergebly. Belangrike besoekers het egter dikwels sy eensaamheid verlig. Die laaste besoeker wat die Kaap nog tydens die lewe van sy vrou besoek het, was Abbé Nicolas Louis de la Caille, beroemde Franse sterrekundige, wat van 19 April 1751 tot 8 Maart 1753 aan die Kaap gebly het. Aan die sterrekundiges Charles Mason en Jeremiah Dixon, wat van 27 April tot 3 Oktober 1761 aan die Kaap was, het Tulbagh ook hulp verleen. Die vlote het elke jaar hoë amptenare na die Kaap gebring, onder wie ook die kommissarisse Joan Gideon Loten en Librecht Hooreman.

Onder die belangrike besoekers wat Tulbagh namens die Kompanjie in die Kasteel onthaal het, was die engelse krygsman en staatsman lord Clilve, die Engelse ontdekkingsreisiger admiraal James Cook en die Franse skrywer Bernardin de St. Pierre. Party van die besoekers is in die Kompanjie se tuinhuis gehuisves, ander het verkies om by eenvan die vryburgers tuis te gaan. So was lord Clive die gas van die vryburger Petrus Johannes de Wit, terwyl die skrywer van Paul et Virginie, De St. Pierre, in die Neethlings se woning 'n verblyfplek gevind het.

Dat Turlbagh hierdie reisigers te woord gestaan en beïndruk het, blyk uit verskeie reisverhale. Een van die reisigers wat kort voor sy dood die Kaap besoek het, skryf oor hom as "de vader des lands van Afrika's uithoek, die door meer dan vyftig jaar verblyf aldaar de waare belangen der inwooners en den aart des lands ten vollen kundig was, en die door zyn zachte en vaderlyke regeering aller h arten aan zich verbond..."(9)

(9) Johannes Sprinter Stavoriumus: Reize ..., II, p. 321. Hoewel Stavorinus hierdie beskrywing van Tulbagh in sy reisbeskrywing van 1774 - 1778 gee, het hy die Kaap ook in die laaste lewensjaar van Tulbagh besoek. Hy noem Tulbagh dus die vader van die Suidelikste deel van Afrika, wat deur 'n verblyf van meer as vyftig jaar aldaar die belange van die inwoners en die aard van die land goed geken het, en wat deur sy vriendelike en vaderlike regering almal se harte aan hom verbind het

Tulbagh se wye belangstelling blyk duidelik uit die opdragte wat hy sy tuiniers gegee het en uit die boeke wat hy nagelaat het. In 1752, 1753 en 1754 stuur hy die tuinier Hendrik Christoffel Prisky die binneland in "ter opzoeking en versameling van planten, gewassen, kruyden en insecten".(10) Later word Johan Andries Auge met dieselfde doel uitgestuur. Met groot sorg is versamelings plante en saad oorsee gestuur. Een van die mooiste versamelings Kaapse plante is opgeneem in die kruidhof van Leyden. In 1762 het die professor in Botanie David van Rooyen aan Tulbagh geskryf dat hy "nooyt sulk een fraaye, rykelyke en voor my zoo leerzame als gewenschte collectie heb bekomen als deeze uwe Caapsche Herbarias".(11)

(10) C.703: Mem. en Instr., Des. 1752, 25 Sept. 1753 en 13 Mei 1754 (Kaapse Staatsargief)

(11) C.488: Ink. Br., 14 Maart 1672, p. 389 (Kaapse Staatsargief)

Tulbagh se planteversamelinge het sy naam in Europa bekend gemaak. Die beroemde plantkukndige Carolus Linnaeus het ' n geslag van die Liliaseë Tulbaghia genoem. Aan die skoonheid van die tuine in die skiereiland het hy hom eweneens gewy en reisigers soos die Sweed Carl Peter Thunberg het met groot lof geskryf oor die plante, bome en diere wat Tulbagh in die Kompanjie se tuin byeengebring en aangehou het. Thunberg was baie ontevrede toe ná Tulbagh se dood baie mooi bome soos die kastaiingbome uitgekap is om plek te maak vir akkerbome, terwyl baie van die diere uit die binneland wat Tulbagh in die dieretuin aangehou het, losgelaat is en die prooi van wilde diere geword het.

Tulbagh was lief vir boeke en dit is paslik dat die eerste biblioteek tydens sy bewind tot stand gekom het. Dit was in September 1761 toe die sekretaris van die Weeskamer, Joachim von Dessin, oorlede is en sy versameling boeke en manuskripte "ten nutte van 't algemeen" aan die Kaapse Kerkraad nagelaat het. 'n Legaat van 1 000 riksdaalders is ook nagelaat met die opdrag om van die rente nuwe boeke te koop. Die boeke en manuskripte wat Von Dessin nagelaat het, het uit 3 856 ele bestaan. Dat Tulbagh self ook lief was vir boeke, blyk uit sy testament waarin bepaal is dat Josephus de Grand Preez sy Franse boeke, Pieter Hacker sy Nederlandse boeke en die sekretaris van die Raad van Justisie sy regskundige boeke moes erf.

Uit die amptelike stukke wat oor die bewind van Tulbagh bewaar gebly het, blyk dit dat Tulbagh baie hard gewerk ook toe hy goewerneur geword het. Die eerste groot taak wat hy aangepak het, was die kodifikasie van die slawewette. Die toenemende wangedrag van die steeds groter wordende getal slawe het dit noodsaaklik gemaak dat die bestaande wette strenger gehandhaaf moes word. Aangesien die opeenhoping van wette gedurende die byna honderd jaar van slawerny aan die Kaap verwarring veroorsaak het, het Tulbagh die bestaande wette in een plakkaat saamgevoeg. Hierdie plakkaat is in September 1754 bekend gemaak. Die doodstraf is van toepassing gemaak waar slawe die hand aan hul "lyfheer ofte lyfvrouwe" geslaan het. Slawe wat hul eienaars met hoon bejeën het, kon gegesel of in die boeie geslaan word. Al hierdie wette was ook op die slavinne van toepassing.

Blykbaar het slawe graag en baie gedobbel en daaruit het vegpartye ontstaan. Om dit en ander raserige samekomste te verhinder, is slawe verbied om in groepe van drie, vier of meer in die strate of elders bymekaar te kom. Die dienare van die gereg is toegelaat om groepies slawe "aanstonts met rottingslagen van den anderen te separeeren". Verder is geen slaaf toegelaat om saans ná tienaar sonder 'n brandende lig in die straat rond te loop nie. Geen slaaf is toegelaat om wapens te dra nie en almal wat te perd, met waens of rytuie deur die strate jaag, sou gestraf word. Om alle lawaai te voorkom, het Tulbagh slawe verbied om met swepe te klap of saans deur die strate te loop en sing of mekaar met 'n luidrugtige gefluit uit die huise te lok.

In verband met die slawe se werk is daar bepaal dat hul vullis e.a. rommel net in die see kon uitgooi. Onder geen omstandighede mag hulle vir hul base drank verkoop nie. Niks behalwe eetware mag deur slawe van huis tot huis of in die straat verkoop word nie. Hierdie plakkaat was noodsaaklik om die verkoop van gesteelde eiendom te verhinder.

Op straat is geen astrantheid van slawe geduld nie en om brand te voorkom, is niemand toegelaat om met 'n brandende pyp in die mond rond te loop nie. By begrafnisse van blankes is geen slawe binne die ringmuur van die kerkhof toegelaat nie en wanneer 'n slaaf begrawe is, is ses, agt of uiterlik tien paar slawe toegelaat om hul familielid of makker te begrawe. Die aantal het afgehang van die rang van hul lyfheer!

Die lewe van die slawe aan die Kaap was nie sonder hoop nie. Baie van hulle het 'n ambag beoefen en het genoeg geld gespaar om hul eie vryheid en ook dié van hul dierbares te koop. Die groep vryswartes aan die Kaap, soos vrygestelde slawe genoem is, is in alle opsigte as die gelykes van die blankes behandel. Slegs een maal het Tulbagh 'n wet gemaak om te verhinder dat die vroue van vryswartes te deftig aantrek. Daardie wet was volkome inooreenstemming met die gebruiklike prag- en praalwette van die tyd.

Wat gewoonlik as Tulbagh se prag- en praalwette bekend staan, het baie min met hom te doen gehad, behalwe dat dit tydens sy bewind uitgevaardig is. Dit is gedoen in opdrag van goewerneur-generaal Jacob Mossel, wat 'n afskrif van die 124 bepalings wat in Batavia uitgevaardig is om die uitspattighede van die amptenare in die Ooste in toom te hou, Kaap toe gestuur het met die opdrag dat hulle so verander word dat hulle op plaaslike omstandighede van toepassing sal wees. Tulbagh, wat dag en nag gewerk het om die tweede groot pokke-epidemie te bestry, het die wegge aan drie van sy raadslede oorhandig met opdrag om hulle by Kaapse omstandighede aan te pas.

Die kommissie het besluit dat baie van die bepalings wat die gebruik van rytuie en perde deur die mindere amptenare afgeskaf het, nie op die Kaap van toepassing gemaak kon word nie. Weens die "slordige weer" aan die Kaap is alle raadslede toegelaat om rytuie en perde te besit, maar slegs die goewerneur het toestemming gekry om sy rytuig met wapenskilde en syfers te versier en met goue verf te beskilder. Verder is dit slegs die goewerneur en lede van die Raad vergun om hul koetsiers livrei te laat dra. Die aantal perde wat voor die koetse en rytuie ingespan moes word, is nie beperk soos in Batavia nie, aangesien die kommissie van oordeel was dat die slegte paaie en lang afstande vier tot ses en meer perde noodsaaklilk gemaak het en dat dit nie as luukse beskou moes word nie. Ook het hulle beweer dat daar aan die Kaap geen rytuie was wat net vir plesierdoeleindes aangehou is nie.

Wat die kleredrag betref, het die mans slegs 'n paar van die Bataafse bepalings op hulself van toepassing gemaak. Amptenare wat benede die rang van onderkoopman was en nooit in 'n bestuursliggaam aan die Kaap gedien het nie, asook hul vroue, is ie toegelaat om 'n sonsambreel te gebruik nie. Mans onder die rang van koopman is nie toegelaat om "by goed weer" met 'n sonsambreel na die Kasteel te gaan nie. Die gebruik van 'n sonsambreel of "kipersol" was dus klaarblyklik 'n "statussimbool"! Verder het die mans nie een van die Bataafse wette op hul eie kleredrag van toepassing gemaak nie, maar nog 'n paar bygevoeg waar dit die vroue en dogters betref. Vroue wat met mans onder die rang van onderkoopman getroud was en hul dogters is nie toegelaat om skouermantels van fluweel of met sy geborduur te dra nie en niemand, niemand aan die Kaap, is toegelaat om die nuwe mode te vertoon en met 'n rok rond te loop wat op die grond sleep nie! Die kleding van slawe moes stemmig wees, maar die regulasies van Batavia sou weens verskille in die klimaat nie op die Kaapse slawe van toepassing gemaak word nie. Die prag- en praalvertoon by begrafnisse is ook aan bande gelê.

Terwyl die amptenare met die wysiging en toepassing van hierdie wette besig was, het Tulbagh en die geneeshere al hul kragte ingespan om die pokke-epidemie van 1755 te bestry. Groot saamtrekkings soos die jaarlikse skietoefeninge is afgelas, klere van siek mense is verbrand, die gebruiklike verhuur van swart klere vir begrafnisse is verbied, asook die gebruik van verversings ná begrafnisse. Gereelde vars lug en reiniging van beddegoed is noodsaaklik geag en in 'n "advertissement" is gelas "op poene dat degee die omtrent het een of ander nalatig sullen werden bevonden een boete van vijftig rijxds. sullen komen te verbeuren".(12) Toe die siekte in Maart 1756 opgehou het om nuwe slagoffers te eis, is 'n dag van verootmoediging en gebed uitgeskryf. Hoe swaar die bevolking getref is, blyk uit die bevolkingsyfers wat jaarliks aan Here XVII verstrek is. Nieteenstaande die natuurlike aanwas en die hoë geboortesyfer, het die bevolkingsyfer in een jaar gedaal van 6 110 tot 5 123 blankes en van 6 279 tot 5 787 slawe. Eers in 1760 het die bevolking weer van die ramp van 1755 herstel.(13)

(12) Kaapse Plakkaatboek, III, p. 17

(13) J.J.F. Joubert: Die Kaapkolonie onder Ryk Tulbagh, 1751 0 1771, (ongep. M.A.-tesis, 1942), pp. 131 - 132

Hoewel Tulbagh moeite gedoen het om strenger toesig en beheer oor aankomende skepe uit te oefen, het die gevreesde poksiekte die Kaap in 1767 die derde maal getref. Die sterftesyfer was laer, tog het meer as 500 mense daaraan beswyk en kon daar eers in Maart 1770 aan Here XVII geskryf word dat die siekte geen verdere slagoffers eis nie.

Besliste maatreëls is ook getref om paniek te voorkom by die uitbreek van oorlog en brand. Ander positiewe maatreëls het die lewe aan die Kaap veraangenaam. Om verkeersongelukke te voorkom, moes waens wat deur agt perde getrek is, deur 'n slaaf gelei word. Paaie is verbeter en in 1771 het Tulbagh die luitenant en ingenieur, Carel David Wentzel, opdrag gegee om die strate gelyk te maak en die koste op die huiseienaars te verhaal. Met sy burger- en ratelwagte en sy doeltreffende maatreëls teen brand en ander gevare was die stad aan die voet van Tafelberg 'n aangename woonplek.

Hoewel Tulbagh nie mer self die binneland ingegaan het nadat hy goewerneur geword het nie, het hy geen kans verby laat gaan om die inwoners beter te leer ken nie. Op die laaste dag van Februarie 1752 is die grootste geselskap wat sedeert Simon van der Stel se tog noordwaarts getrek het, deur Tulbagh in 'n noordoostelike rigting die binneland ingestuur. Altesaam 37 offisiere en soldate is onder die bevel van vaandrig August Frederik Beutler geplaas, terwyl elf waens deur 25 Hottentotte versorg is. Die landmeter en kartograaf Carel David Wentzel en die onderstuurman Pieter Clement is saamgestuur om 'n kaart te teken van die ekspedisie se roete, terwyl Carel Albrecht Haupt daagliks die reisjoernaal moes byhou. Benewens 'n geneesheer is ook 'n botanis, 'n smid en 'n wamaker saamgestuur.

Die reis was voorspoedig. Op 2 Junie 1752 is die Visrivier bereik en drie dae later was hulle by die oewers van die "Chijs Chamma", wat Haupt beskryf as die "grens scheijding" tussen die land van die Hottentotte en "het Caffersland". Toe hulle die gebied van die swartman begin binnetrek, het 'n paar vryburgers hulle by die ekspedisie gevoeg, maar al die Hottentotte het uit vrees vir die Xhosas agtergebly. Die Keirivier is beskryf as die grens tussen die Temboes en die Xhosas, wat ten ooste van daardie rivier gewoon het. Eers by die Qorarivier  het hulle op 10 Julie besluit om nie verder te gaan nie. Hulle opdrag om terug te keer oor die Koperberge, wat Simon van der Stel in 1685 ontdek het, het die leiers as "regt dollemans werk" beskou, aangesien 'n groot droogte die land toe geteister het. Selfs langs bekende weë het hulle die Kaap eers weer o p 6 November gesien, ná 'n afwesigheid van agt maande.

Soos in die 17de eeu, het die olifantjagter ook in die 18de eeu bygedra tot meerdere kennis van die binneland. So het  die burger Jacobus Coetzee in 1760 van Tulbagh verlof gekry om olifante te gaan skiet. Tulbagh het veral belanggestel in wat Coetzee ten noorde van die Grootrivier gesien het en besluit om "soo dra sulx maar sonder eenige merkelijke oncosten voor d'E. Comp, soude kunnen geschieden, de gementioneerde by voorsz Coetzee gedane ontdekkingen nader te laten opneemen".(14) Sy kans het gekom toe kaptein Hendrik Hop aangebied het om met 'n aantal vrywilligers die binneland te gaan verken. Tulbagh het toestemming verleen en die tuinier Jan Andries Auge, die geneesheer Carel Christoffel Rykvoet as mineraloog en die landmeter Carel Frederik Brink as kartograaf en skrywer saamgestuur. Ook hierdie geselskap het die binneland ver ten noorde van die Grootrivier verken en is oplaas deur droogte en uitputting gedwing om na die Kasteel terug te keer. Net soos Simon van der Stel, het hulle geen ander mineraal as koper gevind nie.

(14) C.547: Uitgaande Brieven 6 Maart 1762, p. 275 (Kaapse Staatsargief)

Die goewerneurs en die grensboere

Hoewel al die reise na die binneland geen geldelike voordele vir die Kompanjie afgewerp het nie, het die teboekstelling van topografiese en geografiese feite die amptenare aan die Kaap in staat gestel om beter te besef hoe uitgebreid die binneland was en waar die verskeie bevolkingsgroepe gewoon het. Die meeste amptenare in die Kasteel wat die binneland sleg of glad nie geken het nie, was verontrus en ontevrede oor die snelle verspreiding van die blankes in die binneland. In 1770 het Ryk Tulbagh en sy Raad byvoorbeeld bepaal dat die grensdistrik Swellendam in die ooste deur die Gamtoosrivier en in die noorde deur die Swartberge begrens sou word. Die nuwe plase wat op Bruintjes Hoogte uitgereik sou word, sou by die distrik van Stellenbosch ingesluit word.

Oor die behoeftes van die grensboere was daar aan die Kaap nog groter onkunde. Ná Ryk Tulbagh se dood, in die sewentigerjare van die 18de eeu, was die meeste lede van die Politieke Raad volslae vreemdelinge aan die Kaap. Pieter baron van Reede van Oudtshoorn, wat as Tulbagh se opvolger aangewys is, het die Kaap goed geken, maar is in Januarie 1773 op see oorlede. Joachim baron van Plettenberg, wat op 18 Mei 1774 as goewerneur ingesweer is, was sedert 1767 aan die Kaap en dus beter op hoogte van sake as sy sekunde, Otto Luder Hemmy, wat die Kaap in April 1774 bereik het. Ook die fiskaal, Willem Cornelis Boers, het in 1774            in die Kaap aangekom, terwyl Damiaan Hugo Staring in 1773 sy aanstelling as ekwipagiemeester gekry en in 1778 lid van die Poliltieke Raad geword het. Die kaptein van die garnisoen, Robert Jacob Gordon, wat later 'n uitgebreide kennis van die binneland sou verwerf, het in 1777 in die Kaap aangekkom. Die enigste lid van die Politieke Raad wat die Kaap in die sewentigerjare goed geken het, was die sekretaris van die Raad, Olof Martini Bergh.

Hoewel die amptenare nie meer geboer het soos aan die begin van dié eeu nie, het baie van hulle daarin geslaag om aansienlike vermoëns aan die Kaap op te bou. So het Damiaan Hugo Staring saam met die ekwipagieboekhouer, Hendrik Möller, en oud-burgerraad Jacob Alexander la Febre, die firma La Febre & Cie opgerig. Dié firma het 'n groot kapitaal opgebou uit die houthandel.(1) Hoewel baie van die vryburgers aan die Kaap ook ryk geword het, was daar tog diepgaande verskille tussen die hoëre amptenare en die vryburgers aan die Kaap. Die vryburgers het die amptenare as vreemde indringers in die land begin beskou, immigrante wat gekom het om hulself te verryk en dan weer sou vertrek. Hoewel dit voorgekom het dat amptenare met dogters van vryburgers in die huwelik getree het, het die goewerneur die volste reg gehad om sulke huwelike te verbied.(16)

(15) A. Staring: Damiaan Hugo Staring, een zeeman uit de achttiende eeuw: 1746 -1783 (Zutphen, 1948), pp. 53 - 54

(16) Kaapse Plakkaatboek, III, pp. 100 - 101

Baie groter nog was die verskille tussen die amptenare en die inwoners van die platteland. Goewerneur Van Plettenberg het besef dat dit vir die gesonde administrasie van die land nodig was om die binneland en sy bewoners goed te ken. Toe moeilikhede i.v.m. grensreëlings in die Poliltieke Raad bespreek is, het hy die Raad meegedeel dat hy besluit het om self 'n reis te onderneem "naar de aller verst gelegene landerijen, zo wijd dezelve door de ingezetenen werden bewoond". Landdroste is in kennis gestel dat hulle op vasgestelde punte trekosse en ryperde gereed moes hê en met 'n klein geselskap amptenare het Van Plettenberg op 3 September 1778 die Kasteel verlaat.

In die reisverhaal waarin opgeteken staan op wie se plase die geselskap van dag tot dag uitgespan het, word ongelukkig nie baie vertel oor die bewoners van genoemde plase nie. Tog word interessante feite aan die lig gebring. Die eerste Hottentotte, twee mans met hul vroue en kinders, word eers tien dae ná hul vertek by die Karoosberge opgemerk. Die reis van 9 tot 14 September word beskryf as lank en eentonig en die pad het "door een dor, droog en onbewoond veld" geloop. Dit was die reis wat begin het "aan de voet van een der Caro Bergen daar de Touws Rivier voor bij stroomd" tot by die Gamka of Leeuwenrivier. Tot 24 September het hulle die reis voortgesit deur "dor, droog en woest veld" vol klei, klippe en bossies. Duisende springbokke is wel gesien, maar min mense. Eers op 24 September bereik hulle die "Cambdebo's Rivier" en die grasvlaktes waar die boere weivelde vir hul vee gevind het.

Slegs oor 'n paar van hierdie plase word meer besonderhede verstrek. By Johannes de Beer het hulle twee dae vertoef om uit te rus. Hierdie boer het sy graanvelde en wingerde gedurig deur waterleiding uit die Swartrivier besproei. Verder merk die Goewerneur op dat daar nêrens Hottentotkrale oorgebly h et nie, maar dat oral Hottentotfamilies by die boere op die plase woon.

In die nabyheid van die Sneeuberge was brand- en timmerhout so skaars dat die wonings van die boere uiters primitief was, bestaande uit "een enkeld laag gemuurd vertrek, zonder afzondering".(17) Hierdie vertrek het ook as skuur en pakhuis diens gedoen. Die dakke was van strooi. Dit was egter opvallend dat die boere, hoe armoedig hulle ook was, minstens die Bybel en ook ander godsdienstige boeke gehad het en gereeld huisgodsdiens gehou het. Die goewerneur laat opteken dat hierdie verre grensbewoners "meest al ... zedig, redelijk wel onderleid en sterk verlangende" was na 'n predikant en 'n landdros.(18) Die boere wat in die buurt van die Sneeuberge gewoon het, het ook baie gekla oor die "Bosjesmans-Hottentotten" wat vee steel en hul Hottentotveewagters vermoor.

(17) G. McCall Theal: Belangrijke Historische Dokumenten, I (Kaapstad, 1896), p. 12

(18) Ibid, p. 12

Op die plaas van Christiaan Opperman sien hulle tekeninge van Boesmans, afbeeldings van mense, wilde esels, elande, bobbejane, volstruise en varke. Hendrik Cloete se plaas word beskryf as een van die "best gesitueerde" plase in die hele gebied van die Cambdebo, terwyl Willem Prinsloo se plaas, wat hulle op 15 Oktober aan die Bosrivier bereik, die "vermaakelijkste situatie van de gantsche landstreek, die wij door gereijsd waren" gehad het. Op hierdie plaas het pragtige yster-, boeken- en geelhoutbome gestaan en die grond was geskik vir graanbou en het pragtige weiveld vir die vee gebied.

Op hierdie plaas het Van Plettenberg kaptein Robert Jacob Gordon, wat in 1777 reeds saam met luitenant William Paterson 'n uitgebreide reis in die binneland onderneem het, vooruit gestuur na Xhosa-kaptein Koba. Volgens die reisverhaal het Gordon hulle taal gepraat en het hy 'n paar uur later met Koba en 28 Xhosas, o.m. twee van Koba se seuns, by die goewerneur se kamp teruggekeer, waar hulle hom met sang en dans vermaak het. Die grensbewoners het by Van Plettenberg gekla dat "de Kaffers dewelke zig voorheen altoos tot omtrent een dag reisens beoosten de Grootte Visch-Rivier hadden onthouden" nou al 'n paar jaar lank met groot troppe vee oor die rivier gekom het om weiveld te soek.

Nadat Van Plettenberg self met die Xhosas onderhandel het, is daar ooreengekom dat hulle in die toekoms aan die oostekant van die rivier soou bly woon. Eers later is besef dat Koba geensins die persoon was met wie so 'n gewigtige ooreenkoms gesluit kon word nie, maar dat slegs Rarabe - die groot kaptein van die Xhosastamme - so 'n ooreenkoms kon aangaan. Op die terugreis het die baai wat voorheen bekend was as "Baaij Content, de Baij Angola, de Keurbooms Riviers- en de Pisangriviers Baeij" die naam Plettenbergbaai gekry.

Toe Ven Plettenberg en sy geselskap op 26 November 1778 die Kasteel bereik, het die goewerneur waarskynlik nog geen vermoede gehad van al die moeilikhede wat  hom te wagte was nie. In die geheim was die Kaapse burgers reeds besig om uit die geskrifte van Locke e.a. Europese denkers aan te haal. Daarin het hulle bewyse gevind dat hulle die reg gehad het "om sig teegens Regeerders aan te kanten".(19) Terwyl die belange van die boere in die grensdistrikte met dié van die swart stamme begin bots het, het die vrybugers aan die Kaap geskrifte begin lees wat hulle oortuig het van hul "natuurlike" reg om vir eie behoud te sorg. 'n Tydperk van stryd het ook aan die Kaap voor die deur gestaan.

(19) C. Beyers: Die Kaapse Patriotte 1779 - 1791 (Kaapstad, 1929), pp. 206 - 207

A.J. Böeseken

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134