Die geheime en bekoring van Afrika

Ontdekkingsreise voor 1700

Wie Jan van Riebeeck se dagregister lees, word getref deur die rustelose ywer waarmee hy byna onmiddellik na sy aankoms sy omgewing verken het. Die kennis wat die blankes van die suidkus van Afrika gehad het, was oppervlakkig en van die binneland het hulle niks geweet nie en alles geglo. Van Riebeeck het egter sonder versuim sy kennis van die land deur persoonlike waarneming aangevul. Die kus van Tafelbaai tot Houtbaai is eers te voet en later te perd verken en vinnig-seilende galjote met kleurryke name, soos De Roode Vos, De Swarte Vos en De Tulp, is eers na Saldanhabaai en later langs die ooskus uitgestuur. In opdrag van Here XVII is ook skipper Jan Jacobsz in 1655 met 't Nachtglas uitgestuur om die eiland Tristan da Cunha te verken.

Veral van die togte langs die ooskus het Van Riebeeck hoë verwagtinge gekoester. Nadat hy met die kartograaf Martinus Martinio gesels het, het hy gehoop om nie alleen die "Coninghrijck" van Monomotapa en Butua te bereik nie, maar ook Ofir, "daar Salomo 't gout had laten halen". Een van sy wakkeerste amptenare, Frederick Verburgh, is twee maal na Madagaskar gestuur. Van die eerste reis het Verburgh in Desember 1654 onverrigtersake teruggekeer en tydens die tweede reis in 1655 het hy en die bemanning van die galjoot De Tulp verongeluk. Rijckloff van Goens, wat die Kaap in 1657 as kommissaris besoek het, het fout gevind met hierdie "winderige concepten" van die kommandeur. Hy was van mening "dat soo 't volcq van De Tulp (dat nu verongeluckt is) sijnde 25 in 't getal aen 't lantbouwen waren gebruijckt, d' Ed. Compe, al langh was bevrijt om granen nae Madagascar te varen".(1)

(1) C.700: Memoriën en Instructiën, 1657 - 1685, p. 13 (Kaapse Staatsargief)

In sy instruksie aan Jan van Riebeeck het hy die kommandeur egter sterk aangemoedig om landtogte uit te stuur om "de geheimen van Afrika" te ontdek. Baie optimisties skryf hy in sy verslag dat dit nie onmoontlik lyk om vanaf die Kaap die rivier Spirito Sancto en die "stadt van Monomotapa" op te soek nie. Van Riebeeck was minder optimisties. Die adelbors, Jan Wintervogel, wat in 1655 na die Noorde gestuur is, het Saldanhabaai oorland bereik. In September van dieselfde jaar is 'n korporaal, Willem Muller, met nege soldate en die tolk Herry die binneland ingestuur. Verder as die Hottentots-Hollandberge het hulle nie gekom nie, en Herry was al een wat uit hierdie tweede landtog voordeel getrek het.

Geen wonder dat Van Riebeeck in 1656 geen ontdekkingsreisigers uitgestuur het nie. Van Goens het hom egter aangespoor om dit wel te doen en 150 gulden uitgeloof vir die persoon wat die eerste sou wees om die rivier Spirito Sancto te bereik. Selfs sonder hierdie beloning was daar baie wat gretig was om die binneland van Afrika beter te leer ken. Aangesien die eerste toggangers oral vriendelik deur die Hottentotte bejeën is, was dit vir Van Riebeeck nooit moeilik om vrywilligers vir sulke togte te vind nie. Die eerste verkenners ná Van Goens se vertrek, is in 1657 uitgestuur. Die fiskaal, Abraham Gabbema, het met ses amptenare, agt vryburgers, een blanke kneg en vier Hottentotte die binneland ingetrek en dit was dan ook die eerste geselskap wat die Bergrivier bereik het. Voedsel en handelsware is op pakosse gelaai. Ofskoon beter toegerus as ander ekspedisies, het die geselskap met slegs sewe koeie, drie kalwers en 41 skape teruggekeer.

Die vryburgers het die blaam vir hierdie mislukking op die amptenare gepak en gevra of hulle nie "eens selffs, sonder Compagnies dienaers" die binneland in kon trek nie, "ende ondernemer off sij van de winwoonders niet beter als met ons te samen eenich meer bestiael souden cunne opdoen".(2) Van Riebeeck het sy goedkeuring aan hierdie versoek verleen op voorwaarde dat die vryburgers Van Goens se bepaling eerbieding en nie meer vir die beeste betaal as wat die Kompanjie bereid was om te gee nie. Op Sondag, 18 November 1657, nege dae na hul vertrek, was die vryburgers wat op eie houtjie vee gaan ruil het by die Fort terug met - soos Van Riebeeck smalend opgemerk het - "een magere koe, drie kalven ende 47 oud ende jonge, slechte, malle schapen".(3) Hy het hulle gevolglik gemaan om tuis te bly en liewer die landbou te behartig as om in die binneland rond te swerf. Dit was woorde wat nog baie Kaapse gesagvoerders sou herhaal.

(2) D.B. Bosman en H.B. Thom: Daghregister gehouden bij den opperkoopman Jan Anthonisz van Riebeeck, deel II (Kaapstad, 1955), 8 BNov. 1657, p. 193. Die aanhaling beteken dat die Vryburgers van mening was dat as hulle sonder amptenare die binneland in sou gaan, hulle beter sou vaar en met meer beeste sou terugkom.

(3) Ibid, 18 Nov. 1657, p. 198. Hulle het teruggekom met "een maer koei, drie kalwers en 47 ou en jong, simpel en siek skape".

Togte na die binneland onder behoorlike toesig van die Kompanjie se amptenare was egter noodsaaklik om genoeg slagvee in die hande te kry. In 1658 is Jan van Harwarden vier maal uitgestuur om vee van die Hottentotte te ruil. In Februarie is hy deur 15 soldate vergesel en het  hy met slegs 11 koeie en 41 skape teruggekeer. In Oktober was die oes nog skraler: 3 beeste, 2 kalwers en 19 skape. Hy het waarskynlik te min koper, tabek en pype - wat op pakosse gelaai moes word - saamgeneem. In November het Van Riebeeck 'n nuwigheid probeer en die eerste ossewa, getrek deur ses osse en volgelaai met handelsware, die binneland ingestuur. Die gebruik van die ossewa het dadelik vrugte afgewerp, want van Harwarden en sy 17 soldate het op November met 203 skape en 25 beeste teruggekeer. Twee dae later, op 10 November, is hulle weer met 'n wa na die Hottentotte gestuur en op 16 November het hulle met 105 skape en 25 beeste teruggekeer. Sewe vryburgers, van wie uitdruklik vermeld word dat hulle nie landbouers was nie, het van 6 tot 9 November na die Hottentotte gegaan om vee te ruil en het met 30 skape teruggekom. Hierdie landreisigers, uitgestuur om beeste vir die Kompanjie te ruil, het slegs toevallig nuwe dele van Afrika ontdek. So het Jan van Harwarden op 21 Maart 1658 aan Jan van Riebeeck vertel dat hulle "de passagie gevonden hebben over 't vaste geberghte van Affrika daer de Bergh-revier tegenaen leght en met een cloof diep uyt het landt deur compt lopen".(4), 'n beskrywing wat historici tereg laat besluit het dat Jan van Harwarden en sy mense die eerste landreisigers was wat die vallei gesien het wat later die Land van Waveren sou heet. In hierdie gval was die ontdekking van die binneland 'n neweproduk van die ekonomiese noodsaaklikheid om genoeg vee vir die vlote in die hande te kry.

(4) Ibid, 21 Maart 1658, p. 266

Die volgende jaar is sewe vryburgers onder leiding van die vrywildskut Christian Jansz van Hoesem toegelaat om die binneland in te gaan om die Namakwas te gaan soek. Hulle het van 3 Februarie tot 7 Maart 1659 weggebly en teruggekom met die verhaal dat hul 90 myl(5) die binneland in was, maar moes omdraai by 'n groot rivier wat eb en vloed getoon het en dus naby die see was. Van Riebeeck, wat hulle uitgevra het, het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle nie meer as 30 myl die land in was nie, wat beteken dat hulle naby die mond van die Bergrivier moet omgedraai het. Verdere togte  na die noorde is van Mei 1659 tot Mei 1660 weens die oorlog teen die Kaapmans onraadsaam geag. Eers in November 1660 het Jan van Riebeeck besluit om 'n adelbors, Jan Danckaert, bekend as 'n goeie ingenieur en "geometricus", op 'n tog na Monomotapa uit te stuur. Sewe ander adelborste en vyf soldate het aangebied om saam te gaan. Onder hulle was George Fredricus Wreede, wat later die eerste Hottentot-woordelys sou opstel, en Pieter Meerhoff van Kopenhagen, wat in 1659 na die Kaap gekom het en nog 'n belangrike rol sou speel as ontdekkingsreisiger.

(5) 30 Hollandse of Duitse myl het gelyk gestaan met ietwat meer as 125 Engelse of Suid-Afrikaanse myl

Hierdie geselskap het op 12 November 1660 vertrek en was eers op 20 Januarie 1661 terug in die Fort. Op 8 Desember 1660, het hulle vertel, het hulle 'n groot rivier bereik en tussen 200 en 300 olilfante gesien. Daarna word telkens in hul joernaal na die Olifantsrivier verwys. In die hoë berge ten noordooste van dié rivier het van die ekspedisielede begin protesteer en "willende Christiaen de Soete niet meer het touw dragen, nochte Pieter Roman de picq".(6) Van Riebeeck het tereg opgemerk dat Jan Danckaert nie die nodige gesag oor sy manskappe gehad het nie en die tog pront-uit 'n mislukking genoem. Tien dae later rus hy 'n nuwe ekspedisie uit "om de vorige tocht weder te hervatten".(7) Die nuwe landtog word met groter welslae bekroon. Twaalf man, onder aanvoering van Pieter Crijthoff, bereik die land van die Namakwas. Die inwoners word beskryf as reuse, fraai aangetrek of eintlik behang met gebreide velle en krale van koper en yster.

(6) D.B. Bosman en H.B. Thom: Daghregister gehouden bij den opperkoopman Jan Anthonisz van Riebeeck, deel III (Kaapstad, 1958), 23 Desember 1160, p. 475.

(7) Ibid, 30 Januarie 1661, p. 321

Aangesien die Namakwas as besonder vriendelike mense beskryf word, besluit Van Riebeeck om so gou moontlik weer 'n geselskap na hulle te stuur om vrede te bewerkstellig tussen die Namakwas en die Saldanhars, met wie hulle volgens gerugte in onmin geleef het. Verder moes hulle probeer om die Namakwas met hul handelsware na die Fort te lok. Pieter Meerhoff, agt amptenare en twee Hottentotte om te tolk, het die fort op 21 Maart 1661 verlaat en was op 20 April weer terug. Almal is goed beloon, veral nadat dit geblyk het dat hulle ses dagreise dieper die land in was as hul voorgangers. Tog was Van Riebeeck nie tevrede dat alles gedoen is om die geheime van Afrika te onthul nie. In November 1661 het hy dus die hoof van die milisie aan die Kaap, sersant Pieter Everaert, opdrag gegee om saam met Pieter Meerhoff en Cornelis de Cretser, wat die joernaal moes skryf, die Namakwas te gaan besoek. Hulle is vergesel deur agt adelborste en twee soldate, waarvan party vir die tweede keer en ander vir die derde keer die reis meegemaak het. Toe dié geselskap op 13 Februarie 1662 in die Fort terugkeer, moes Van Riebeeck verneem dat die droogte dit vir hulle onmoontlik gemaak het om die Namakwas te vind. Op die heenreis is 'n lid van die geselskap deur 'n olifant gedood, terwyl twee, onder wie ook die sersant, op die terugreis siek was. Nieteenstaande die gebrek aan welslae het almal weer die gebruiklike beloning gekry om - soos Van Riebeeck in die dagregister laat opteken het - "de lieffhebbers daartoe lustigh te houden". (8)

(8) Ibid,16 Februarie 1662, p. 442. Die beloning is gegee om die vrywilligers gretig te maak om weer te gaan

Die vrugte van Jan van Riebeeck se beleid is gepluk deur sy opvolger, Wagenaer. Toe Wagenaer in September 1662 begin dink dat dit tyd geword het om weer 'n landtog na die Namakwas te stuur, het "diversche curieuse lieffhebbers vrijwilliglijck" aangebied om die tog te onderneem.(9) Hy het Pieter Cruijthoff met 12 man en 'n wa uitgestuur om "dit rijck van Afrika progressivelijck nader en nader te laten ontdecker".(10) Hoewel dit Cruijthoff se tweede reis na die noorde was en baie vaie sy metgeselle die binneland eweneens goed geken het, is geen nuwe ontdekkings gemaak nie. Siekte en rusie met die inboorlinge het die toggangers gekwel en op 1 Februarie 1663 het hulle sonder nuwe gegewens teruggekeer. Nogtans was daar in September van dieselfde jaar weer meet "bequaeme borsten" as wat nodig was om 'n landtog te onderneem. Wagenaer het besluit om Johan de la Guerre en 15 ander, wat hy beskryf het as "de gaeuwste en flucxte quanten (die ongemack gewent, ende voor geen kleijn gerucht verveert en zijn)"(11) uit te stuur. Op 11 Oktober 1663 vertrek hulle vol moed met 'n wa en trekosse, wat ook as draagosse kon dien. sonder wa keer hulle op 22 Januarie 1664 terug en vertel dat hulle volgens skatting ongeveer agt of 10 dagreise van die groot rivier Vigiti Magna af was. Weer eens was dit gebrek aan water wat hulle gedwing het om om te draai.

(9) A.J. Böesken: Resolusies van die Politieke Raad, 1651 - 1669, 9 September 1662, p. 288. "Curieus" word hier gebruik in die betekenis van nuuskierig.

(10) Ibid, 9 September 1662, pp. 288 - 289

(11) Ibid, 27 September 1663, p. 308. Wagenaer het hierdie bekwame jong mans beskryf as die vinnigste en fluksste kêrels, gewoond aan ongemak en onverkrokke.

Gefnuik deur die droogte, het Wagenaer sy aandag aan ander sake gewy. Eers in 1682 is daar weer ontdekkingstogte na die noorde onderneem. Cornelis van Quaelberg het slegs ruilekspedisies uitgestuur na die Hottentotte in die onmiddellike omgewing van die fort. Aan een van hierdie togte het selfs sy vrou deelgeneem. Later het Hieronimus Cruse oor die Hottentots-Hollandberge gegaan, met die Hessekwas handel gedryf en die Gouritsrivier bereik. Ook Mosselbaai is deur hierdie flukse landreisiger besoek.

Jacob Borghorst, wat Van Quqaelbergen op 18 Junie 1668 as kommandeur opgevolg het, het twee maande ná sy aankoms die jag De Voerman uitgestuur om ondersoek in te stel na "bequame havenen, revieren off inhammen" aan die ooskus. Korporaal Jeronimus Cruse en 15 man het saamgegaan met die opdrag om in Mosselbaai te land en daarvandaan oorland na die Kasteel terug te keer, terwyl De Voerman met sy bemanning die kus en sy hawens tot by Terra de Natal moes verken. Die bemanning van die jag het hulle nie goed van hierdie taak gekwyt nie en nie verder as St. Francisbaai gekom nie. Cruse en sy manskappe het egter die Attakwastam besoek en met baie vee by die Kasteel teruggekom. Borghorst was so in sy skik dat Cruse onmiddellik weer uitgestuur is om ruilhandel te dryf met die veerykste Hottentotstamme. 'n Bloedige botsing met die Boesmans of Sonkwas het hom in die agting vand ie omringende Hottentotstamme laat styg, want die Boesmans was gevaarlike vyande wat niemand met rus wou laat nie en verwoed geveg het om die alleenbesit van hul jagvelde.

Die Bewindhebbers awas ontevrede omdat die poging om die kus te verken, gestaak is en Borghorst het in 1669 die Grundel uitgestuur om die weskus te verken. Die stuurman van die Grundel was 'n bekende kartograaf end ie weskus is tot by Angra Pequena gekarteer. Tot nou tot, d.w.s. tot die einde van die sestigerjare, het alle deelnemers aan landtogte met volkome veiligheid kruis en dwars in die binneland rondgetrek. In 1670 is 'n paar blanke jagters egter vermoor. Die Hottentotte het gesê dat die Sonkwas vir die moord verantwoordelik was, maar die Chainoukwas het by Kasteel kom vertel dat Gonnema, opperhoof van die Cochokwas, die skuldige was. Pieter Hackius, wat Jacob Borghorst op 25 Maart 1670 opgevolg het, was weens swak gesondheid en 'n klein garnisoen nie ins taat om kragdadig op te tree nie. Isbrand Goske, wat op 2 Oktober 1672 aangekom het, was i n 'n gunstiger posisie, daar hy 'n groter garnisoen gehad het om die Kaap teen moontlike aanvalle van Nederland se vyande te beskerm. Toe Gonnema in November 1672 drie grootwildjagters aanval, was hy nog nie gereed om op te tree nie omdat die gevaar van oorsee nog as te groot beskou is, maar in 1673, toe 'n ander jaggeselskap deur Hottentotte vaskeer is, is Hieronimus Cruse, bygestaan deur Elbert Diemer en 'n aantal burgers te perd uitgestuur om die Hottentotte te straf. Hulle het van 6 tot 25 Julie weggebly en met 'n buit van 800 beeste en 900 skape by die Kasteel teruggkeer.

Ander Hottentotkapteins, onder wie Klaas alias Dorhá, kaptein van die Chainoukwas, het hulp kom aanbied teen Gonnema en terselfdertyd hulp kom vra om hom aan te val. In Maart 1674 het 'n gesamentlike aanval plaasgevind. Wouter Mostert het in bevel gestaan van 50 burgers, vaandrig Cruse het 50 soldate aangevoer en as opperbevelhebber opgetree, asook Klaas, Koopman, Schacher en Kuiper, met 400 Hottentotte, het o nder sy bevel gestaan. Die oogmerk was om Gonnema te omsingel en te straf. Daarin het hulle egter nie geslaag nie, want laasgenoemde het met sy mense ontsnap. Sy beeste en skape, onderskeidellik 800 en 4 000, is egter gebuit. Gonnema het wraak geneem deur die Hottentotte in die binneland te belet om met die blankes handel te dryf en in November 1675 het hy Schacher en Kuiper onverwags aangeval. Weer eens is Schacher deur Goske gehelp en weer eens het Gonnema sy heil in die berge gesoek, waar hy nie agtervolg is nie omdat die arbeiders nie van die werk gemis kon word nie.

Hoewel Goske 'n garnisoen van 462 man gehad het, het hy Gonnema met rus gelaat en was dit Joan Bax genaamd van Herentals wat die stryd weer aangeknoop het. Goske se opvolger het opgemerk dat waar dit voorheen vir twee of drie persone moontlik was om sonder gevaar vyftig en sestig myl die binneland in te trek, 12 man nou nie meer met veiligheid twintig myl van die Kasteel kon gaan nie. Toe hy berig ontvang dat drie vryburgers aan die oewes van die Breërivier vermoor is, het hy - nog geen twee weke nadat hy aan die bewind gekom het nie - 50 voetsoldate en 27 perderuiters onder Jeronimus Cruse, asook groepies Hottentotte wat vyande van Gonnema was, teen hom in die veld gestuur. In Oktober 1676 moes die raad nogmaals vasstel dat Gonnema die binneland beter as die amptenare geken en gevolglik ontvlug het. Daarom is besluit om kaptein Dirk Jansz Smient en luitenant Cruse met 'n groep soldate, vryburgers en Hottentotte uit te stuur, aangesien hulle gehoor het dat Gonnema in die buurt van die Bergrivier met sy beeste gelê het. Ook hierdie groep moes onverrigtersake terugkeer, hoewel hulle 'n aantal beeste gebuit het van kaptein Kees, wat saam met Gonnema in die buurt van Saldanhabaai weiding vir sy beeste gesoek het.

Aangesien die amptenare genoeg vee van die stamme langs die ooskus kon ruil, was hulle in staat om Gonnema aan sy lot oor te laat. Daarvan het hierdie geslepe kalant nie gehou nie en in Julie 1677 het hy afgesante na die Kasteel gestuur om te vra waarom niemand hom tegemoet trek "met eenige coopmansschappen en om te ruijlen".(12) Aangesien die vryburgers begerig was om weer veilig in die binneland te kan jag, is 'n sersant, 2 korporaals en 18 soldate na Gonnema gestuur om die vredesvoorwaardes van 25 Junie te bestendig. Spoedig was daar weer 'n lewendige ruilhandel aan die gang en toe Simon van der Stel in 1679 die bewind oorneem, kon hy vasstel dat daar met "onse naabuuren" (die Hottentotte) "in vredigen standt" geleef word.(13) Ook hy het gereeld ruilekspedisies uitgestuur om vleis vir almal te kry en veral die Hessekwas het baie beeste gelewer.

(12) Ibid, 29 Julie 1677, p. 197

(13) C. 499, deel I: Uitg. Br., 1679 - 1681, 23 Des. 1679, p. 392

Aangespoor deur goewerneur-generaal Rijckloff van Goens, wat in 1682 aan die Kaap was, het Simon van der Stel ekspedisies na die binneland gestuur ook om "meer en meer de Africaansche l anden aan desen zuijdhoek te ontdekken". Hy h et herhaaldelik gevra om self aand ie hoof van so 'n landtog die binneland te mag gaan verken en in 1685 het die hoë kommissaris Hendrik Adriaan van Reede eindelik dié versoek toegestaan nadat Van der Stel hom verseker het dat daar geen gevaar aan die onderneming verbonde was nie.

Simon van der Stel het 'n groot geselskap met hom saamgeneem. Onder die 57 persone wat die reis meegemaak het, was ook Frans van der Stel, die apteker en tekenaar Hendrik Claudius en die bekende landreisiger Isaacq Schryver. Dit was die grootste onderneming wat nog die binneland van Afrika ingegaan het. Die kommandeur het gereis in 'n perdewa wat deur ses perde getrek is; 'n skuit en handelsware was op agt karre gelaai. Daarbenewens was daar nog sewe waens, 14 ryperde en 289 trek- en draagosse. Ses vryburgers het met hul waens tot by die Olifantsrivier saamgegaan. Die geselskap het van 26 Augustus 1685 tot 24 Januarie 1686 weggebly en teruggekkom met tekeninge van plante en diere, 'n duidelike kaart en 'n lewendige beskrywing van al die avonture en ervarings van hulle reis. Op 5 September het 'n renoster van "ongelooffelycke grootte" die kommandeur, wie se donderbus geweier het om  af te gaan, bestorm. Gelukkig het die geraas van die wildskuts die dier van koers laat verander en die geselskap kon rustig verder trek op soek na Monomotapa en sy skatte.

Hulle het baie moeite gedoen om die land te leer ken: berge, moerasse en riviere is sorgvuldig gekarteer, en hasies, allerhande voëls, riviervisse, skerpioene, slange, wurms, kewers, plante met wortels, blomme, dorings en al is geteken. Wanneer ander lê enr us, bestyg Simon van der Stel hoë bergtoppe. Eers op 1 Oktober sien hulle die eerste vure en op 2 Oktober laat die Kommandeur 'n skaap vir 'n klompie Sonkwas slag en gee ook aan  hulle brood, rys en brandewyn "waer mede sy haer vrolyck maeckte, dansende, singende en schreewende op een seer vremde wys".(14) Op sy verjaardag, Sondag 14 Oktober, was hy omring deur Hottentotte en sluit hy 'n verbond met hulle "dat wy voor altoos met malkanderen soude leven in een goede heylsame vrede".(15) Die twee kannonnetjies wat hulle saamgeneem het, is gebruik om vreugdesalute af te skiet en die Hottentotte vereer op hul beurt die Kommandeur met musiek en dans.

(14) Gilbert Waterhouse (ed.): Simon van der Stel's Journal of his Expedition to Namaqualand 1685 - 1686 (Londen, 1932), p.35

(15) Ibid, p. 45

Hoewel hy die Hottentotte te onberekenbaar gevind het, die koper te ver van die see was om lonend ontgin te word en hy nie die rivier Vigiti Magna of Eijn, soos die Hottentotte dit genoem het, gevind het nie, het Van der Stel op hierdie tog pionierswerk gedoen. Een van die tekeninge wys hoe hy as beskerming teen onverwagte aanvalle sy wapens in 'n kring getrek het, soos die Voortrekkers meer as anderhalf eeu later sou doen. Hy het ook die binneland leer ken, met sy blomme en blindevlieë, eindelose vlaktes en gebrek aan water, angswekkende berge en grillige inwoners. Hy het begin voel soos baie van die amptenare en vryburgers aan die Kaap reeds gevoel het, dat hulle nêrens anders meer wou woon nie as aan hierdie suidpunt van Afrika, wat besig was om 'n plek in hul hart te verorwe en die geboorteland van hul kinders te word.

Aangesien hulle geen goud en silwer in die binneland van Afrika ontdek het nie, was dit nie nodig om ag te slaam op Van Goens se raadgewing om geen rugbaarheid daaraan te gee nie, "alsoo 't selve somtijts maar een enkel en groot geroep door de wereld heefte onder de vijanden onser natie" en hulle "maar meer aanhitst om ons te verstoren einde te plagen".(16) Voorlopig was daar niks wat ander lande met begerige oë na die suidpunt van Afrika kon laat kyk nie en kon die amptenaar en die vryburger rustig hul kennis van die land vermeerder.

(16) C.700: Memoriën en Instructiën, 1657 - 1685, p. 383 (Kaapse Staatsargief) ... "aangesien die ontdekking van goud ('t selve) partymaal groot rugbaarheid onder die vyand van ons volk veroorsaak en hulle nog meer asl aanspoor om ons weg te ja en te pla"

Dit was egter veral die skipbreukelinge wat langs die ooskus gestrand het, wat die kennis van daardie dele van die land laat toeneem het. Oorlewendes van die skepe Stavenisse, Good Hope en Bona Ventura kon baie vertel van die inboorlinge wat tussen die strande van Terra de Natal en die Kaap gewoon het. Terselfdertyd het Isaacq Schrijver op sy landtog na die Inkwas in 1689 nuwe Hottentotstamme ontmoet, 'n uitvoerige beskrywing van die Xhosas teruggebring en besef dat die Boesmans nie alleen van die Hottentotte veskil het nie, maar ook gevaarliker was.

Die jagter

Hoewel die vryburgers wat op eie houtjie die binneland ingegaan het, verbied is om met die Hottentotte ruilhandel te dryf, is hulle toegelaat om te gaan  jag en was dit vir die amptenare onmoontlik om toe te sien dat die jagekspedisie nie diep in die binneland in 'n veeruilekspedisie verander het nie. Daarom het Simon van der Stel in 1693 die plakkate teen ruilhandel met die Hottentotte drasties gewysig. Voortaan is almal, sy dit wie ook al, nie alleen verbied om vee van die Hottentotte te ontvang in ruil vir geld, tabak, brandewyn, arak, gewere, kruit of lood nie, maar tewens die reg ontsê om alleen of in geselskap, met of sonder wa of vee, te trek "over de bergen van Hottentots Holland, over 't Rode Zand, Elephants Pad en in 't geheel over geen gebergte na die Sousequase, Hessequase, Ubiquase, Grigriquasse of Namaquase Hottentots".(17) Mense wat daar betrap word, sou nie alleen 'n boete moes betaal nie, maar al hul besittings en vee sou gekonfiskeer word.

(17) M.K. Jeffreys (ed.): Kaapse Plakkaatboek, I (Kaapstad, 1944), p. 283

Die poging om die vryburgers suid van die berge te hou, het reeds tydens Simon van der Stel se bewind misluk. Moedeloos skryf hy in sy instruksie aan sy seun dat baie landbouers, nieteenstaande streng en telkens weer uitgevaardigde plakkate, hul toevlug neem tot die "verbooden veehandel". Toe Here XVII teen die einde van die 17de eeu besluit het om die ruilhandel met die Hottentotte ten bate van die Kompanjie se veeposte te staak, het hulle die goewerneur opdrag gegee om die ruilverbod op te hef. Veral eenlopende persone het avontuurlustig van die nuwe vergunning gebruik gemaak om ruilhande met die Hottentotte te dryf en gerugte het die Kasteel bereik dat 'n groep van 45 man met geweld vee van die Hottentotte afgeneem het. Wilhem Adriaen van der Stel het die saak geregtelik laat ondersoek. Toestemming om ruilhandel te dryf, is ingetrek, maar niemand is gestraf nie - volgens Wilhem Adriaen omdat so baie burgers by die saak  betrokke was, maar volgens die vryburgers omdat die amptenare dieselfde wanpraktyke in die binneland beoefen.

Ná Wilhem Adriaen se vertrek is die ruilhandel weer oopgestel, maar in die twintigerjare van die 18de eeu is klagtes oor die vryburgers se gedrag in die binneland ontvang en het Here XVII besluit om alle vryburgers te straf "als stoorders van de gemeene rust en schenders van recht en vrijheid", volgens die plakkate van 19 Oktober 1697 en 27 Oktober 1702.(18) Die verbod om ruilhandel te dryf, is in april 1727 deur Pieter Gysbert Noodt uitgevaardig en nie weer herroep nie.

(18) M.K. Jeffreys en S.D. Naude (eds.): Kaapse Plakkaatboek, II (Kaapstad, 1948), pp. 129 - 130. Vryburgers is dus gestraf omdat hulle die rus versteur en die reg en die vryheid geweld aangedoen het

Jagters kon egter op spesiale tye van die jaar vergunning kry om groot- en kleinwild te jag. In die 17de eeu was daar baie seekoeie langs die Bergrivier. so gretig was die vryburgers om seekoeispek vir hul gesinne en slawe in die hande te kry, dat hulle in die tagtigerjare van die 17de eeu reeds tot aan die Olifantsrivier moes gaan om seekoeie te vind. Ook olifante het skaars geword, sodat dit in die 18de eeu dikwels gebeur het dat 'n groep olilfantjagters meer as 'n jaar weggebly het voordat hulle met genoeg ivoor op hul waens kon terugkeer om die tog lonend te maak. Baie van hulle het sonder vrees diep die binneland ingetrek en die inboorlingstamme goed leer ken. Party moes vir hul onverskrokkenheid boet, soos Hermanus Hubner en vyf van sy metgeselle, wat deur 'n Xhosastam onder Palo vermoor is. Terwyl grootwildjagters besig was om ooswaarts tot selfs oorkant die Visrivier te trek, was die olifantjagter Jacobus Coetsé in 1760 waarskynlik die eerste planke wat oor die Grootrivier gegaan en later die teenswoordige Suidwes-Afrika oorland bereik het.

Die veeboer

Nog voordat Simon van der Stel kommandeur geword het, was daar reeds vryburgers wat uitsluitlik met skape en beeste geboer het en was die eerste weilisensies aan mense sonder eiendomsgrond reeds uitgereik. Simon van der Stel het egter nie gehou van die ontwikkeling van die veeboerdery as 'n selfstandige bedryf nie en het dit deur wetgewing ontmoedig. Hy het o.m. bepaal dat elke vryburger wat in besit van vee was, 'n vaste erf of plasie moes besit. Ook wou hy nie hê dat iemand verder as agt dae met sy vee van sy plaas af moes wegbrek nie.

Al Simon van der Stel se plakkate om boere te verbied om in droë tye met hul vee na verafgeleë nuwe weivelde te trek, het egter niks gehelp nie. Sy seun het dit besef en hoewel hy sy vader se plakkate nie dadelik herroep het nie, het hy die veeboer eerder aangemoedig as teëgewerk. Na sy eerste besoek aan die binneland het hy besef dat baie van die vryburgers gewoon het op plasies wat te klein was. Nuwe grond is "in een schone landsdouwe ongeveer 18 a 20 uuren gaans van desen Casteele"(19) uitgereik, in 'n vallei wat hy 't Land van Waveren genoem het. Die plasies wat daar uitgereik is, was nog vaste eiendomme, maar hoewel vrugbaar, was dit vir landboudoeleindes te ver van die Kaapse mark geleë om lonend bewerk te kon word. Daar was die vryburgers dus byna uitsluitlik op veeboerdery aangewys. Voordat Wilhem Adriaen die land verlaat het, het hy aan Here XVII geskryf dat die vryburgers wat ver wegtrek met hul vee, mooi vet skape en beeste het, sodat die vleis nie alleen beter as voorheen is nie, maar ook makliker bekkombaar. Daarom moes hulle nie beveel word om terug te keer nie, soos hulle deur die plakkate gelas word om te doen.(20) Die gevolge van Wilhem Adriaen en sy opvolgens se houding t.o.v. die veeboer word weerspieël in die steeds toenemende veestapel van die vryburgers.(21) Maar en meer weilisensies is uitgereik, soms vir 'n tydperk van drie tot nege maande. Party van die boere wat weilisensies gekry het,  het ook plasies in eiendom besit, maar hoe dieper hulle die land ingetrek het, hoe meer het dit voorgekom dat 'n veeboer net een of meer leningsplase gekry het. Dikwels is die weiregte van dieselfde plaas oor 'n tydperk van jare verleng. Sulke plase het dan die veeboer se vaste woonplek geword en was bekend as leningsplase. Daar het hy sy opstal gebou en indien hy wou wegtrek, het hy die opstal verkoop, aangesien die grond nie sy eie was nie. Hierdie vorm van grondbesit was bekend as die leningsplaasstelsel.

(19) C.508: Uitg. Br., 1704 - 1706, p. 583 (Kaapse Staatsargief)

(20) Ibid, p. 583

(21) P.J. van der Merwe: Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaapkolonie 1657 - 1842 (Kaapstad, 1938), pp. 57 - 59

Tot 1714 het die veeboer niks betaal vir die toekenning van weilisensies nie, maar in Julie 1714 het goewerneur Maurits Pasques de Chavonnes en die Politieke Raad besluit dat "alle degeene die permissie sullen komen te versoekken om eenigh land tot weidingh van vee in leeningh te hebben, in cassa tot een recognitie aan de E. Compe. zullen moeten betalen voor een halv jaar ses, en een heel jaar twaalv rijxdds". Verder moes boere tiendes betaal van alleswat hulle op sulke plase oes.(22) In 1732 is die rekognisiegelde verdubbel en ook 'n nuwe stelsel van grondbesit ingevoer watboere in staat sou stel om aangrensende "stucken lands" vir 15 agtereenvolgende jare in erfpag te besit. Die nuwe stelsel het egter te min voordele gehad om die leningsplaasstelsel te vervang.

(22) M.K. Jeffreys en S.D, Naude (eds.), Kaapse Plakkaatboek, II (Kaapstad, 1948), p. 31. Dit wil sê almal wat toestemming kom vra om weiveld vir vee in lening te hê, sal 6 Rds. vir 'n halwe jaar en 12 Rds. vir 'n jaar aan die Kompanjie as rekognisiegeld moet betaal.

Die Trekboer

Hoewel baie veeboere vaste woonplekke gehad het, was daar ook boere wat hul nêrens gevestig het nie en wat met hul vee getrek het waar die vooruitsigte vir die jag die beste was. Ander was steeds op soek na beter weivelde. Nog ander het weer 'n half nomadiese lewe gelei en rusteloos heen en weer beweeg tussen somer- en winterweiveld. Aangesien dit maklik was om 'n nuwe leningsplaas te laat registreer, was daar niks wat die trekboer verhinder het om dieper die binneland in te trek nie. Aangesien leningsplase nie verdeel kon word nie en die meeste trekboere groot gesinne gehad het, het die stelsel vinnige uitbreiding in die hand gewerk. Die Kompanjie het ook nie bepaal hoe ver die nuwe plaas van die naaste buurman s'n verwyder moes wees nie. 'n Trekboer moes net sorg dat hy met sy vee nie te na aan die weivelde van 'n reeds gevestigde veeboer beweeg het nie. Daarenbowe het die Kaapse regering die uitbreiding na die binneland in die begin nie in die wiele gery nie, omdat dit beteken het dat hy vleis goedkoop in die hande kon kry.(23)

(23) P.J. van der Merwe: Die Trekboer in die Geskiedenis van die Kaapkolonie 1657 - 1842 (Kaapstad, 1938), pp. 135 - 136. Sien ook Trek van diselfde skrywer (Kaapstad, 1945)

Verskuiwing van grense

In die eerste h elfte van die 18de eeu het die veeboer wat trekboer geword het, bykans geen weerstand ondervind nie. Nadat hele Hottentotstamme a.g.v. 'n wydverspreide pokke-epidemie verdwyn het, het groot onbewoonde gebiede goeie vooruitsigte belofo. In 1717 het die veebore die owers van die Breërivier bereik en in 1730 het die boere wat ooswaarts getrek het, die Groot-Brakrivier bereik, terwyl ander langs die Langeberge oorkant die Kogmanskloof begin trek het. In die noorde is die Olifantsrivier- en Doornrivier-gebiede deur blankes bewoon. In 1734 is die Kompanjie se verste buitepos by die Rietvallei, aan die Buffelsjagtrivier, opgerig. Die doel was om die veeboere en die Hottentotte teen die roofsugtige Boesmans te beskerm. Die veeboere het egter nie op beskerming gewag nie en het vol selfvertroue die ontsaglike binneland van Afrika dieper binnegedring.

Een van die nadele van hierdie snelle uitbreiding na die binneland van Afrika was die toenemende moeilikheid - so nie onmoontlikheid nie - van gereelde kerk- en skoolbesoek. Die naaste kerk was in Drakenstein, wat in 1720 gebou is. Skole waarheen kinders gestuur kon word wat nie in Kaapstad of op een van die dorpies gewoon het nie, was onbekend en ouers moes hul kinders self onderrig of van rondgaande skoolmeesteers gebruik maak. Hoe bedenklik hierdie toestand was, het duidelilk geblyk uit die verslag van Gustaaf Willem, baron Van Imhoff, wat in 1743 'n kort reis na die binneland onderneem het. Hy het die vinnige uitbreiding na die binneland afgekeur en probeer om dit te stuit deur 'n nuwe grondstelsel. Eiendomsplase van 60 morg sou bekombaar wees, maar alwat wat meer grond wou hê - en watter veeboer is met 60 morg tevrede? - moes die gewone rekognisiegelde van 24 riksdaalders per jaar betaal. Aangesien die stelsel nie gewild was nie, het dit niks gedoen om die trekgees te verminder nie. Ook die vasstelling van grense en die bevel dat veeboere binne die vasgestelde grens terug moes kom, het weinig gebaat.

Van meer praktiese waarde was Van Imhoff se bevel dat meer kerke in die binneland opgerig moes word. So het ds. Arnoldus Meiring in 1743 die eerste diens gehou in die nuwe kerk van 't Land van Waveren, terwyl ds. Rutger Andreas Weermag in 1745 sy intreepreek in die kerk van Swartland gehou h et. Een van die nuwe sieketroosters wat veral die onderwys moes behartig, was Abraham Schietekat, wat na Grootvadersbosch, oorkant die Breërivier, gestuur is.

Aangesien die goewerneur en Poliltieke Raad besef h et dat nie slegs kerk en skool te ver buite die bereik van die grensboere geraak het nie, is besluit om die gebied tusen die Breërivier en Mosselbaai, waar die voorste boere reeds veeplase gehad het, onder die wettige gesag van 'n plaaslilke hof te bring. Derhalwe is Johannes Theophilus Rhenius in 1744 aangestel as adjunk-landdros en sou hy, bygestaan deur vier heemrade, 'n plaaslike hof nader aan die veeboer in "De Verre Afgeleegene Districten" bring. Die volgende jaar is Rhenius aangestel as landdros en is 'n drosdy vir die amptenaar gebou en ter ere van goewerneur Swellengrebel en sy vrou, Wilhelmina ten Damme, is die nuwe drosdy Swellendam genoem. Nuwe grense is in 1745 tussen die distrikte vasgestel, met die Groot-Brakrivier as oosgrens. Die boere het egter al hoe meer ooswaarts met hul vee getrek. Ook in die noorde, waar nog geen grense vasgestel was nie, het die trek na die binneland ooswaarts begin swaai nadat dit deur gebrek aan water gestuit is. Die Groot Karoo het sy bekoring begin uitoefen en dit sou nog baie jare 'n grenslose gebied bly. Nog verder noord, ind ie Roggeveld en die Nuweveld, het die boer met sy vee ooswaarts getrek, terwyl die Swellendammers tusen die Langeveldberge en die Swartberge, in die Klein Karoo, in dieselfde rigting voortbeweeg het. Omstreeks 1763 het veeboere uit verskeie oorde weiveld begin soek ind ie gebied wat as die Koup bekend gestaan het. Teen daardie tyd was daar by baie onsekerheid of hulle aan die landdros van Stellenbosch of Swellendam rekognisiegeld moes betaal.

Die Kaapse owerheid, wat hom maar min oor die trekboere bekommer het, het besef dat dit tyd geword het om ondersoek in te stel na die toestande in die grensgebiede. Die goewerneur het die buitedistrikte glad nie geken nie, maar in 1768 het die sekuknde, J.W. Cloppenburg, 'n reis na die binneland onderneem en vasgestel dat daar onder die grensbewonders "een groote verwildering van Godsdienst, van obedientie en gevolgliljk van een goed gederag" gemerk kon word. Sy raadgewinge was onprakties, maar in 1771 het die Kaapse regering 'n poging aangewend om die verdere uitbreiding na die binneland teë te gaan. Die Gamtoos is as oosgrens vasgestel en die landdros van Swellendam het opdrag gekry om almal wat hulle anderkant die Gamtoosrivier gevestig het, te beveel om terug te keer tot binne die landsgrense. So 'n opdrag was egter nie die papier werd waarop dit geskryf was nie, want inmiddels was 'n aantal van die fluksste grensboere besig om in die Camdebo hawe en goed teen aanvalle van Boesmans en Hottentotte te beskerm en het ander ind ie Suide vir die eerste keer met die veebesittende Xhosa in aanraking gekom het. Teen die vestiging van die veeboer in die Camdebo het die Kaapse owerheid geen beswaar gehad nie, maar wel teen die onwettige veeruil wat byna onvermydelik was indien die grensboer hom te naby Kafferland sou vestig.(24)

(24) Sien P.J. van der Merwe: Die Trekboer ind ie Geskiedenis van die Kaapkolonie, 1657 - 1842 (Kaapstad, 1938), pp. 146 - 151

So het die houding van die owerheid t.o.v. sy onderdane verskil van plek tot plek, van groep tot groep en van tyd tot tyd. Aan die een kant was daar die amptenare, wat vir 'n kort tyd na Kaapstad gekom en die binneland skaars geken het, aan die ander kant was daar weer die boer, wat hom hoe langer hoe meer die land van Afrika vereenselwig het en geen ander vaderland geken het nie.

A.J. Böeseken

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134