Jesus weet en Hy gee om 
(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Daar is 'n baie mooi ou lied wat sê dat Jesus weet, en ook omgee. Hy gee veral vir klein kindertjies om. Julle vra waarom ek so seker is? Wel, een rede is dat ek nou op hierdie oomblik 'n aantal briewe voor my het. Die briewe kom van kinders uit verskillende plekke, en hulle maak melding van hoe Jesus hulle spesiaal gehelp het. 

Al daardie kinders kan tog nie verkeerd wees nie, kan hulle? Nee, elkeen van hulle het hulle eie probleme gehad waarmee die Here hulle gehelp het. Miskien wil julle ook oor 'n voorval skryf waar die Here julle gehelp het. *Ek sou graag briewe van julle ontvang om te voeg by my versameling: "Die Verhoring van Kindergebede."

Oor die Pos

Die eerste brief waarvan ek julle wil vertel, het ek oor die pos gekry van 'n dogtertjie, Lily, wat woon in 'n dorpie genoem Pulloxhill, naby Bedford in Engeland. Sy was een van die kinders wat uit London ontruim is tydens die bomaanvalle. Sy vertel hoe baie graag sy briewe ontvang het van haar Moeder, wat sy maar selde gesien het. Sy het gesê: "Eendag het ek 'n pakket van my Moeder ontvang. In die pakket was 'n briefie wat gesê het dat ek in die pakket 'n sjieling sou vind. Wel, hoe ek ookal gesoek het, kon ek daardie sjieling nie kry nie."

Lily het weer baie deeglik gesoek, maar tevergeefs. Sy het baie hartseergevoel, want sy het lank laas 'n sakgeldjie gehad, en sy het nie geweet wanneer sy weer van haar Moeder sou hoor nie. 

In haar droefheid het sy tot die Here gebid. Sy skryf: "Ek het die Here gevra om my te help om daardie sjieling te vind."

En hoe dink julle wat het toe gebeur? Dit was iets buitengewoons. Die volgende oggend toe die posbode weer daar verby kom,het hy Lily opgesoek en gesê: "Onthou jy die pakket wat ek gister vir jou gebring het?"

"Ja," het Lily geantwoord. "Dit was van my Moeder in Londen." 

"Was alles in die haak?"het die posbode gevra. "My Moeder het vir my 'n sjieling gestuur, maar dit was nie daar nie."

"Wel, hier is die sjieling," het die posbode gesê. "Toe ek gister tuiskom, het ek 'n sjieling in my possak gekry. Ek kon nie verstaan hoe dit daar gekom het nie, en toe het ek besluit om dit uit jou pakket moes gekom het."

En hoe bly was Lily nie om haar sjieling terug te kry nie! 

"Dit is vir my bewys," het sy geskryf, "dat God ons gebede verhoor." Wel, ons stem saam met Lily. 

Onder sy neus

Van verlore geld gepraat, laat my dink aan Gilbert - hy woon in die suidelike Kalifornië. Hy het my nou die dag vertel dat toe hy 'n seuntjie van ses jaar was, het sy Moeder hom 'n dime (sê maar sikspens in ons geld) gegee om iets by die apteek te gaan koop. Hy het sy hond saamgeneem, en hulle het lekker saam gehardloop. Maar met die spelery het Gilbert heeltemal vergeet van die geld in sy sak. Toe hy by die apteek kom, ontdek hy dat hy die geld verloor het. 

Wat nou gedoen? Gilbert was bang om terug te gaan en aan sy Moeder te sê dat hy die geld verloor het. Hy het toe vir 'n rukkie gestaan en dink hoe om uit sy moeilikheid te kom. Toe het hy skielik die stories onthou wat hy gelees het hoe Jesus die gebede van kinders verhoor. Hy het besluit om te bid en die Here te vra om hom te help om die geld weer te vind. 

Toe hy van sy knieë af opstaan, het die geld daar feitlik onder sy neus gelê!

Marian en Norma wat in Berkeley, Kalifornië woon, was een oggend baie haastig om skool toe te gaan. Dit was byna tyd vir hulle om te vertrek toe Marian ontdek dat een van hulle skoolboeke weg is. "Waar is die Engelse leesboek?" het sy gevra. 

"Het jy hom nie?" het Norma gevra. "Ons moet daardie boek hê, want ons moet vandag daaruit lees."

Nadat Marian weer 'n slag deur haar goed gekyk het, het sy gesê: "Nee, die boek is nie hier nie. Waar kan dit dan wees?"

"O, maak gou!" het Norma gesê, "of ons sal laat wees vir skool." 

"Maar ons moet daardie boek hê. Waarom help jy nie soek nie?"

Toe het hulle albei weer begin soek, orals, in die kombuis en slaapkamers, maar hulle kon die boek nie kry nie. Die tyd het verbygegaan. As hulle nie dadelik loop nie, sal hulle nie betyds wees vir die skool nie, en hulle wou nie graag laat daar aankom nie.

"Norma," het Marian gesê, "laat ons vir Jesus vra om ons die boek te help vind; miskien sal Hy ons wys waar om te soek."

"Nou goed, kom ons doen dit!" het Norma gesê. Toe het hulle gekniel en sommer 'n kort gebedjie gebid, want daar was nie tyd vir 'n lang gebed nie. Hulle het eenvoudig gesê: "O, Here, help ons om die boek te vind!"

Toe hulle opstaan, het Marian gesê: "Ek weet! Daar is een plek waar ons nog nie gesoek het nie; miskien het die boek van die tafel afgeval in die kas met die rommel. Kom ons gaan gou kyk."

En so waarlik, daar het hulle die boek gekry. Hulle het dit opgeraap en gehardloop skool toe; en hulle was net betyds om die klok te hoor lui. 

Waarom Bud teruggekom het

Hier is 'n brief van 'n meisie met die naam van Erwina; sy woon in Texas. Sy skryf en vertel hoe sy vir haar broer gebid het - dit is 'n baie mooi ding vir 'n meisie om te doen, is dit nie?

Haar broer het besluit om die huis te verlaat. Moeder en Erwina het hom gesoebat om dit nie te doen nie, maar hy was vasbeslote, en skynbaar kon niks hom van plan laat verander nie. Bud het al sy goed ingepak, en binne 'n paar minute sou 'n vriend hom kom oplaai. Dan sou die twee seuns weggaan, en wie weet wanneer hulle ooit weer sou terugkom. 

Erwina het 'n laaste poging aangewend om Bud te oorreed, maar tevergeefs. Hy het sy goed geneem en buite gewag op die koms van sy vriend. Ten einde raad het Erwina na haar kamer gegaan en Jesus daar gevra om Bud van plan te laat verander sodat hy nie hierdie groot fout begaan nie. Toe sy klaar was, het die voordeur oopgegaan, en Bud het ingekom. Erwina het hom tegemoet gegaan.

"Ek het besluit om nie meer te gaan nie," het hy gesê. Toe het hy weer uitgegaan om met sy vriend te gaan praat wat toe net opgedaag het. Bud het hom meegedeel dat hy besluit het om by sy Moeder en Erwina te bly. Sy vriend het weggery, en Bud het ingekom en sy goed weer uitgepak. "Hy het nooit geweet waarom hy van plan verander het nie," het Erwina geskryf, "maar ek het geweet."

Dis darem lekker om so 'n gawe suster te hê soos Erwina, is dit nie?

Van Brand gered

Hier is 'n verhaal vertel deur 'n dogtertjie genoem Kathryn; sy woon tans in Nebraska. Dit gebeur toe sy omtrent ses jaar oud was.

Daar het 'n brand ontstaan op die grasvlakte, en die vuur het aangerol gekom na die dorpie waar Katryn gewoon het. Almal het gaan brandslaan behalwe kathryn se Moeder wat ontsteld was. Maar die mense kon die brand nie keer nie. Plaashuise en graanskure is deur die vlamme verwoes. Die vuur was nou baie naby Kathryn se huis; die wind het brandende stukkies hout hoog in die lug opgewaai, en enige oomblik kon daarvan op die huis se dak val en dit aan die brand steek. 

"Laat ons tot Jesus bid," het Kathryn uitgeroep terwyl sy op haar knieë val en tot die Here bid om hulle van die vlamme te red. Toe sy van haar knieë af opstaan, het sy aan haar Moeder gesê: "Nou sal ons huis nie brand nie. Ek weet dit sal nie. Jesus sal dit nie laat brand nie."

Op daardie juiste oomblik het die wind van rigting verander, en die aanrollende vlamme is teruggedruk soos deur 'n onsigbare hand, en hulle het nie aan Kathryn se huis geraak nie. Hoe wonderlik is die geloof van 'n klein kindjie! 


Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell