Afrikaanse spreekwoorde en idiome
Grasweduwee
...Grasweduwee. Die uitdrukking het oorspronklik verwys na 'n ongetroude vrou wat meer as een man intiem onthaal het. Die vermoede is dat dit buite in die gras was, eerder as in die wettige huweliksbed. Maar die eintlike bedoeling was dat sy 'n kinid buite die huwelik gehad het.
'n Ander bron verklaar met groot oortuiging dat die uitdrukking oorspronklik uit Brits-Indië gekom het waar die vrouens en kinders gedurende die versengede dae van die somer na die bergstreke toe gestuur is. Daar was dit nie net koeler nie, maar daar was ook gras - en geskei van hulle mans was hulle dus grasweduwees. Na hierdie voorbeeld het daar later natuurlike ook graswewenaars ontstaan.
Uit die VSA het daar 'n ander verklaring ontstaan. Terwyl die goud-stormloop in Kalifornië het die man dikwels vrou en kinders by familie laat loseer terwyl hy gaan goud grawe het. In Amerikaans het dit bekend gestaan as "putting a wife to grass" - 'n uitdrukking wat eindelik gebruik is vir 'n perd wat te oud was om te werk. Hierdie tydelike skeiding sou dan van die vrou 'n grasweduwee maak. Dit is alles gissings. Die oorspronklike woord wat later grass in Engels geword het, was grace. Die was 'n grace widow. Dit het verwys na die grace, die grasie of genade wat die vrou van die pous ontvang het om van haar man te skei - 'n toegewing wat in die vroeë dae slegs deur die Katolieke Kerk toegestaan kon word.
Die verklaring word gestaaf deur die Franse benaming veuve de grace (dit is genadeweduwee in Frans) en die Latynse viduca de gratia. (Vandag noem die Franse die soort voëlvrydame 'n halfweduwee). Omdat die Franse woord grace ampers soos die Engelse grass klink was dit voorspelbaar dat die oorspronklike betekenis verlore sou raak. In Suid-Afrika verwys die media gereeld na die eggenote van professionele rugbyspelers ook as grasweduwees wanneer hul mans vir weke lank op toer weggaan. 'n Mens kan net bespiegel dat die gras ook natuurlik na die rugbyveld sal verwys.