Jane se Hond

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Jane Austin was 'n baie gelukkige dogtertjie. Sy was die eienares van 'n pragrtige hond. Hy is as kleinhondjie aan haar gegee toe sy ook nog baie klein was en hulle het feitlik saam grootgeword. Hulle was baie lief vir mekaar. Soms was Rover kastig siek en dan het Jane haarself soos 'n verpleegster aangetrek en vir hom medisyne uit 'n bottel ingegee. Sy het selfs verbande om sy pote gedraai, maar hy wou nie eintlik die medisyne drink tensy dit baie soet was nie.

Rover was soos Maria se lammetjie. Net waar Jane gegaan het, het die hond haar gevolg. Wanneer sy vir Mammie winkel toe gegaan het, het Rover saamgegaan. Hy het haar selfs skool toe gevolg en dit het baie moeilik gegaan om hom uit die klaskamer te hou. Maar hy was gehoorsaam en as Jane gesê het "Nee!", het Rover geweet dat sy dit regtig bedoel het.

En toe, een nag, het Rover verdwyn. Toe Jane daardie more na sy hok gaan om hom kos te gee, was hy nie daar nie. Sy het die hele dag vir hom gewag, maar hy het nie teruggekom nie.

"Mammie," het sy eindelik gesê, "ek moet na Rover gaan soek, hy is seker by hierdie tyd al vreeslik honger."

Maar Mammie het haar omgepraat om te wag tot die volgende more om te sien of hy nie dan sou terug wees nie. Maar die volgende oggend was daar nog geen teken van hom nie. Toe het hulle albei baie onrustig geword en het orals by die bure verneem en is daardie aand ook na die polisiestasie, maar tevergeefs.

Toe Jane daardie namiddag van die skool af terug was en haar hond nog nie opgedaag het nie, het sy besluit om hom te gaan soek. Sy het geweet van 'n plek waarheen Rover baie graag gegaan het en het gedink dat hy miskien daarheen gegaan en in 'n ongeluk beland het. Dit was 'n bos 'n paar myl van die dorp af waar daar baie wilde konyne was.

Jane was so vasberade om haar hond te gaan soek, dat sy glad nie bang was vir die eensame bos en pad nie. Sy het daarheen gegaan en aangehou roep "Rover, Rover!" Maar daar was geen teken van hom nie. Daar was nie die geblaf wat sy gewoonlik gehoor het wanneer sy hom roep nie. Dit het haar 'n bietjie moedeloos gemaak en sy het gewonder of dit sou help om nog verder te soek. Sy het toe besluit dat sy nog so omtrent driehonderd tree verder sou loop en dan sou sy omdraai.

Sy het haar treë begin tel, sommer gou was dit 'n honderd, toe tweehonderd en eintlik driehonderd. Sy wou net omdraai om huis toe te gaan, toe sy haar verbeel dat sy, regs van haar in die bos in, 'n gekreun gehoor het soos iets wat in pyn verkeer. Jane het skielik bang geword, want sy het besef dat sy alleen daar in die bos was. Toe het sy weer die geluid gehoor - 'n bietjie anders hierdie keer. Dit was vir Jane asof sy al voorheen daardie soort geluid gehoor het, soms in die middel van die nag wanneer Rover eensaam gevoel het, of wanneer hy vir die maan geblaf het soos honde soms doen.

Weer het sy die geluid gehoor, hierdie keer baie duidelik en Jane was nou seker dat dit Rover was. Dit het baie moed gekos, maar sy is van die voetpad af, deur die ruigtes vanwaar die geluid gekom het. Namate sy nader gekom het, het die geluid al duideliker geword, totdat sy eintlik op Rover afgekom het. Hy het daar gelê met sy voorpoot in 'n slagyster!

"O my arme, arme Rover!" het sy uitgeroep terwyl sy langs hom gekniel het. "Ek moet jou hieruit bevry."

Jane het nog nooit tevore so 'n slagyster gesien nie, maar sy het gesukkel totdat sy dit ver genoeg oopgekry het dat Rover sy poot kon uittrek. Rover wou sê hoe dankbaar hy was, maar hy was te swak en al wat hy kon doen, was om maar sy stert te swaai. Jane het 'n beskuitjie saam met haar gebring in die hoop dat sy haar hond sou kry en hy het dit gretig geëet, want vir twee hele dae het hy niks gehad om te eet nie!

Toe het die vraag ontstaan hoe om Rover by die huis te kry. Hy kon glad nie op die poot trap nie en moes maar op drie pote huis toe sukkel. Dit het hulle 'n lang tyd geneem om by die huis te kom en Jane het gewens dat sy Rover kon dra, maar hy was te groot vir haar. Eintlik het hulle tog by die huis gekom. Mammie was so bly om Rover weer te sien, dat sy glad nie met Jane geraas het omdat sy sommer alleen, sonder om iets te sê, na die hond gaan soek het nie, maar sy het darem gesê dat Jane nooit weer van die huis af moes gaan sonder om te sê waarheen sy gaan nie.

En nou moes Jane werklik verpleegster speel. 'n Dokter het Rover se poog verbind en hy het gesê dat dit binne twee weke weer gesond sou wees sodat hy daarop sal kan trap. Jane het hom baie goed versorg.

Rover het nooit Jane se vriendelikheid en liefde vergeet nie en toe hy weer gesond was, het hy sy nooi eers liefgehad. Op sy hondemanier het hy probeer om te toon toe lief hy haar het. Hy het altyd by haar gebly.

Een namiddag, sowat 'n maand later, het Jane en Rover langs die rivier gaan stap. Hy het graag daarheen gegaan, want daar was baie goeters wat hy kon jaag! Dit was 'n baie mooi plek om te gaan wandel, en hulle het dikwels daar gaan loop. Mammie het Jane goed laat verstaan dat sy altyd in die voetpad moes bly en op daardie voorwaarde alleen het sy Jane laat gaan. Maar Jane het skynbaar hierdie keer vergeet. Sy het mooi blomme dig op die oewer van die rivier gesien en besluit om hulle te pluk en huis toe te neem. Sy het gemeen dat haar Ma nie sou omgee nie, veral omdat sy graag die blomme wou pluk. Maar die wal was baie hoër en gladder as wat Jane gereken het. Sy het oor 'n boomwortel gestruikel, die wal af gerol en in die water geval. Sy het in 'n sterk stroom beland.

"Help!" het sy geskree.

Daar was niemand in die nabyheid nie, maar Rover, wat agter 'n paar koeie aan was, het die geroep gehoor. Hy het omgekyk en toe hy sien dat Jane nie meer daar was waar hy haar laat staan het nie, het hy skynbaar geraai wat gebeur het. Binne 'n paar sekondes was hy by die rivier. Met 'n geplas het hy in die water gespring en vinnig geswem na die plek waar Jane in die water gespartel het.

Nou was dit Rover se beurt om Jane te help. Hy het al sy kragte ingespan en al verder geswem. Hy het haar net betyds bereik om haar aan haar klere met sy tande te gryp. Toe het die geworstel begin om kant toe te swem met haar. Hy het daarin geslaag en toe Jane naby die kant kom, het sy 'n tak beetgekry sodat sy teen die wal kon uitklouter.

Wat by die huis gebeur het toe die papnat twee daar aangekom het, sal ek aan julle eie verbeelding oorlaat. Toe Mammie egter Jane se verhaal hoor, het sy nie geweet of sy moes raas, of lag, of huil nie, so bly was sy dat hulle veilig teruggekom het.

Maar nog net dit wil ek julle vertel en dit is dat Rover daardie aand die lekkerste bord kos gekry het wat hy nog ooit geproe het! Solank as wat hy geleef het, het hy en Jane die beste vriende gebly en al die seuns en dogters in die buurt wat die verhaal gehoor het, het saamgestem dat dit altyd betaal om goed te wees vir diere.