Iris help stryk

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

"Iris," het Moeder gesê, " ek gaan nou 'n bietjie winkel toe, en ek wil hê dat jy baie soet moet wees totdat ek terugkom."

"Goed, Mammie," het Iris gesê, want sy het glad nie omgegee om alleen te bly mits Moeder nie te lank wegbly nie. 

"Ek gaan gou winkel toe, en as jy baie soet bly, sal ek vir jou iets lekkers saambring!"

"O, ek sal baie soet wees!" het Iris gesê. "Moeder moet nie vergeet om vir my 'n klomp lekkers saam te bring nie."

"Ek sal nie vergeet nie," het Moeder gesê, maar Iris, jy moet nie gaan peuter met dinge wat jy nie moet aanraak nie, hoor jy?"

"O, nee ek sal nie!" het Iris gesê, en asy het so soet gelyk asof sy nog nooit in haar lewe iets verkeerd gedoen het nie.

"En, jy raak nie aan die strykyster nie, want jy kan jou lelik verbrand daarmee."

"Nee, ek sal nie aan die strykyster raak nie," het Iris beslis gesê. "Ek sal met my poppe speel totdat Moeder terugkom."

"Kom soen my dan," het Moeder gesê, en toe is sy daar weg.

Nadat Moeder weg was, het Iris met haar poppe begin speel; toe sy moeg gespeel was het sy hulle in die kinderwaentjie gesit en gesê dat hulle moet slaap, en sy het begin rondkyk vir iets anders om te doen. Skielik het sy 'n ingewing gekry.

"Ek dink ek sal iets doen om Moeder te help," het sy gesê, "dit sal vir haar 'n verassing wees wanneer sy terugkom."

Met daardie gedagte het Iris gesoek na iets wat sy vir Moeder kon doen. "Miskien moet ek maar die skottelgoed was," het sy gedink, maar toe sy in die kombuis kom, was die goed al gewas.

"Ek sal maar die stoele afstof" het sy toe gedink, maar sy het gevind dat Moeder dit alreeds gedoen het. Eindelik was sy weer terug in die kombuis, en daar het sy 'n klomp wasgoed gesien wat gestryk moes word. 

Toe het Iris vir haarself gesê: "Ek sal die goed vir Moeder stryk, en sal sy nie verras wes wanneer sy tuiskom nie?"

Sy het die strykplank reggesit, net soos Moeder altyd maak, en toe het sy die elektriese strykyster geneem en die prop by die muur ingedruk. 

Sy het nou onthou dat Moeder gesê het dat sy nie aan die yster moet raak nie, maar dit was 'n ander saak, want sy gaan Moeder help.

"Moeder wou maar net hê dat ek nie moet brand nie, maar ek sal versigtig wees. Ek hou baie van stryk, en nou het ek 'n kans om dit te doen."

Iris het iets in die yster hoor skiet, en sy het gedink dat die yster nou begin warm word. sy het gesien hoedat Moeder altyd die yster getoets het om te sien of dit warm genoeg was, sy sou dit ook op dieselfde manier toets. 

"Ja, ek dink dit is nou goed warm," het sy gesê. Toe het sy van haar eie sakdoekies opgegooi en hulle met die yster begin stryk.

"Ag, dis maklik," het sy gesê: "dis lekker om te stryk."

Sy het die sakdoekies die een na die ander klaar gestryk, en toe het sy 'n kledingstuk van Moeder geneem. 

"Ek sal dit eers moet natspat," het sy gesê. Sy het die yster sommer plat op die plank neergesit, en 'n kom water gaan haal. Sy het die water gebring en die kledingstuk natgespat, en toe het sy weer die yster gevat. Toe sy dit optel was daar 'n snaakse reuk, maar sy het haar nie veel daaraan gesteur nie. Sy het daardie reuk al voorheen gekry waneer Moeder besig was om te stryk; dis seker maar sommer niks.
Daardie kledingstuk van Moeder was moeiiker om te stryk as die sakdoekies. Die yster wou nie mooi gly nie; sy het harder gedruk en toe het dit 'n bruin merk gemaak; sy het nog harder gedruk en die bruin merk het donkerder geword. Eindelik was daar 'n hele paar bruin merke op die kledingstuk, en sy het besluit om dit weg te sit en iets anders te probeer. 

"O, hier is my beste rokkie," het sy gesê. "Ek het nie geweet Moeder het dit gewas nie; ek sal dit self stryk!"

Sy het die rokkie oopgegooi en dit natgespat met die water. Toe het sy die yster geneem. Dit was nou baie warm, want dit het 'n groot bruin kol op die plank gebrand. Sy het gedink dat haar Moeder haar haar daaroor sal raas, maar sy het tog die rokkie begin stryk. Die rokkie was van dun materiaal en wou eenvoudig nie reg lê nie. Elke keer wanneer die yster in aanraking kom met die nat kolle, was daar sommer so 'n wolk van stoom; maar later het die stoom na rook begin ruik.

Toe het sy iemand by die hekkie gehoor. Iris het so geskrik dat sy sommer die yster neergesit het, en weer na haar poppe gegaan het. Ongelukkig het sy nie die prop van die yster uitgetrek nie. 

Moeder het ingekom en na die kombuis gehardloop, want sy het die brand geruik. Daar het sommer 'n bol rook van die strykplank af opgestyg. 

"Iris, jou stoute kind! Wat het jy aangevang? Kyk net daar hoe is jou beste rok verbrand! Jy sal dit nooit weer kan aantrek nie; dis dwarsdeur gebrand. En kyk net na my-!" Maar Moeder was te aangedaan om verder te praat. 

"Ek wou maar net help," het Iris verduidelik terwyl sy een van haar poppe styf vashou. 

"Help!" het Moeder uitgeroep. "Dit sou baie beter vir jou gewees het as jy my gehoorsaam het."

"Het Moeder lekkers gebring?" het Iris gevra om die onderwerp te verander. 

"Jy sal vir 'n baie lang tyd nie weer lekkers sien nie," het Moeder beslis gesê. Toe het Moeder vir Iris na haar kamer gelei. Wat daar gebeur het, weet ek nie so mooi nie. Miskien kan julle raai.