Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
In Sy Voetspore
Die Browns het op 'n plaas daar bo in die noorde van Engeland gewoon waar dit in die winter soms baie koud word en die sneeu diep oor die aarde lê. Een oggend toe hulle uit die slaapkamers in die kombuis kom, het hulle opgemerk dat dit baie donker was. Iemand het die blinding opgetrek maar dit het nie baie verskil gemaak nie.
"Wêreld," het een van die seuns gesê: "die kapok lê tot bokant die venters!"
En dit was ook so. Hulle het na die ander vertrekke gehardloop maar hulle het gevind dat die venters aan die een kant van die huis almal toe was en dat die sneeu aan die ander kant ook baie diep gelê het.
John en Bessie wat daar gekuier het, het begin bang word.
"Hoe sal ons vanmôre by die skool kom?" het John gevra. "Ons sal mos nooit deur hierdie kapok kan loop nie."
"Ons sal nie eens die voordeur kan oopmaak nie," het Bessie gesê. Maar die ander het net geglimlag. "O ja, ons sal," het Mnr. Brown gesê, "maar ons sal almal hard moet werk om 'n pad vir ons skoon te maak."
Elkeen het 'n graaf geneem en aan die werk gespring en nie te lank nie of hulle het 'n paadjie van die voordeur af oopgegrawe. Om hulle was alles spierwit so ver as die oog kon sien en net hier en daar het 'n boom of 'n buitegebou uitgesteek. Omtrent 'n myl daarvandaan kon hulle net die dak van die skooltjie sien uitsteek.
"Ek kan nog nie sien hoe ons daar gaan kom nie," het John gesê. "Die kapok is te sag om in te loop. Ons sal tot by ons nekke insak."
"Wag maar," het Mnr. Brown gesê, "jy sal by die skool kom. Moenie sleg voel nie; dis nie die eerste keer dat dit hier kapok nie."
Hulle het toe besluit om weens die kapok 'n bietjie vroeër as gewoonlik skool toe te gaan.
"Volg my," het Mnr. Brown gesê. "Trap presies waar ek trap en julle sal niks oorkom nie. Nou kom!"
Hy het toe ook sommer dadelik begin aanstap. Sy groot skoene het diep in die kapok weggesak en sodoende het hy 'n harde pad gemaak waarop die kinders veilig kon loop.