Hy wou liefde hê

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Die huis waarin Charlie gewoon het, was een kamer in die agterbuurt van 'n sekere groot stad. In daardie kamer het sy stiefvader, sy Moeder, en sy broer en susters gewoon. Charlie was dus 'n tipiese kind van die agterbuurt, vuil, slordig, en kwaaddoenerig. 

Sy enigste speelmaats was ander agterbuurtkinders net soos hy. Hy was seker dat niemand hom liefhet nie, want sy stiefvader was altyd wreed, en albei - Vader en Moeder - het gedrink. 

Sommige van die kinders met wie hy gespeel het, is van tyd tot tyd deur kerkwerkers uitgenooi na 'n piekniek of ander geselligheid, maar Charlie was nooit genooi nie. "Hy is te vuil," het die mense soms hoor sê. "Ek hou glad nie van sy gesig nie," het 'n ander gesê; "hy is seker 'n baie slegte seun."

Maar eendag het hy iets buitengewoons gehoor. Iemand het sy part geneem. "Ek dink ons moet daardie seun ook 'n kans gee," het 'n dame gesê terwyl sy na die arme, verflenterde Charlie wys. "Laat ons hom neem."

"O, nee, nie hy nie; ons neem hom nooit," het 'n ander een gesê.

"Dit is juis die rede waarom ons hom nou moet neem," het die eerste dame gesê. "Hy het die uistappie meer as al die ander nodig; ek dring aan daarop dat hy moet gaan."

"Goed Mevrou, dan sal ons hom moet neem. Charlie, ons sal jou hierdie keer neem. Gaan maak jou skoon, en sorg dat jy op die afgesproke plek is wanneer ons vertrek."

Charlie se hart het wild geklop, en hy was baie opgewonde, want iemand het belang gestel in hom. Iemand het daarop aangedring dat hy ook saamgeneem moet word. 

Eindelik het die dag aangebreek, en 'n hele paar busvragte gelukkige kinders het hulle maats toegewuif toe hulle vertrek het na die platteland.

Dit was op 'n mooi plek langs 'n vinnigvloeiende rivier wat hulle gaan peikniek hou het. Die meeste van die kinders was nog nie tevore daar nie, en dit was vir hulle hemels. 

Op 'n stil plekkie in die rivier is die kinders toegelaat om te swem, en dit was ook nie lank nie, of die seuns het heerlik baljaar in die water. Sielik is daar 'n vreeslike gil gehoor. 'n Seun met die naam van Peter het oor die grenstou geklim en hy het in die sterk stroom beland. 

Daar het groot verwarring geheers onderwyl almal na die wal gehardloop het om te sien hoe Peter afdryf. Almal was seker dat hy sou verdrink, want niemand sou dit seker wou waag om in so 'n gevaarlike sterk stroom te spring om hom te probeer red nie.

Toe het iemand van die wal af skielik soos 'n pyl in die water geduik. Almal het verstom gestaan. Wie kon dit wees? Al wat hulle kon sien was 'n koppie wat op die water ronddobber, en sterk armpies wat vinnig na Peter swem. 

Dit was Charlie. Hy was so tuis soos 'n vis in die water, want hy het in die modderige water van die rivier naby sy woning geleer swem. Eindelik het hy die uitgeputte seun bereik; hy het hom beetgepak en begin kant toe sukkel met hom. Daar was 'n hele klomp helpers om hulle weer aanwal te help. Almal het rondom die nou bewustelose Peter gestaan. "Is hy dood?" het hulle tegelyk gevra. "Sal hy weer bykom?" Hulle het komberse en warmwatersakke gebring. En hulle het kunsmatige asemhaling toegepas. 

Alles wat moontlik was, is vir Peter gedoen, en nie te lank nie, of hy het regop gesit en geglimlag, maar nog half bedwelmd. Hulle het vir hom 'n warm drankie gebring, en daar is 'n groot ophef oor hom gemaak. 

Skielik het 'n vrou uitgeroep, "Maar waar is die ander seun - die seun wat hom uit die water gered het?" Dit was die vriendelike dame wat daaarop aangedring het dat hulle Charlie moes saamneem na die piekniek.

Niemand het geweet nie, maar sy het hom gaan soek. Charlie het daar opsy gestaan bibberende van die koue in sy nat klere. 

Die dame het teruggehardloop na die ander en gesê: "Kom laat ons 'n kollekte vir hom opneem; dit is die minste wat ons kan doen."

Die plan het algemene byval gevind, en al gou het 'n hoed die rondte gedoen. Almal het iets gegee, en daar was 'n mooi bedrag in die hoed. Die dame het die geld na Charlie geneem. 

"Hier ou seun," het sy gesê. "Ons almal wil vir jou wys hoe dankbaar ons is dat jy Peter se lewe gered het."

"Nee, dankie," het Charlie gesê. "Ek wil nie geld hê nie."

Die dame was uit die veld geslaan. "Nou wat-?"

Charlie het gekyk in die rigting waar Peter gesit het, lekker warm, en deur almal vertroetel. 

"Gee aan my ook die liefde soos daardie seun nou kry," het hy gesê.

Die dame het dadelik verstaan. Daar het trane in haar oë opgewel. Sy het die geheime verlange in daardie seun se hart ontdek. Nou het sy geweet wat hom geskprt het. Miskien is daar nog baie ander seuns soos hy, het sy gedink. 

"Jy sal dit kry," het sy aan Charlie gesê, "en baie ook." En sy het haar woord gehou. 

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell