Hulle steek spelde in Billy

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Klein William Crocker, aan die seuns van die dorp bekend as "Billy", was 'n baie skrander seun, maar hy het een swakheid gehad,. Hy het so baie van homself gedink dat sy kop te groot was vir sy hoed.

Billy het so uitgeblink in al die speletjies dat hy die natuurlike leier van die ander seuns was, maar diep in hul harte het hulle tog nie van hom gehou nie, juis omdat hy altyd so gespog het met die wonderlike dinge wat hy kon doen. Hy kon nooit hoflik luister na wat die ander seuns te vertel gehad het nie, maar maar hy het hulle altyd in die rede geval en dan self die woord gevoer. As een van die seuns byvoorbeeld vertel van 'n groot padda wat hy gesien het, sou Billy hom in die rede val en sê "Dis niks, verlede week het ek 'n baie groter padda gesien."

Eindelik het die ander seuns baie moeg geword vir sy grootpratery en hulle het begin planne bespreek om 'n end daaraan te maak. Soos Tommy Walters gesê, was Billy so opgeblaas van hoogmoed dat hy so groot as 'n ballon was en dat dit hoog tyd was dat iemand 'n groot speld in hom steek.

Maar hoe om dit te doen, dit was die vraag. Sommige van die seuns het voorgestel dat hulle sy kop onder die water moes druk by die rivier, maar Billy was 'n sterk seun en niemand van hulle wou in 'n persoonlike rusie met hom gewikkel wees nie. Toe het Tommy op 'n blink gedagte gekom.

"Ek weet van 'n beter plan is dit. Dit sal nie juis mooi van ons wees om hom onder die water te druk nie en dit sal ook nie veel help nie. Weet julle wat verkeerd is met Billy?" het Tommy gesê.

Die ander was nou baie nuuskierig en hulle het gevra "Wat?". Hulle sou enigiets probeer

"Ek sal julle sê. Julle weet almal hoedat Billy altyd wen in al ons spele. Dit is waar die fout lê - hy dink dat ons niks werd is nie en dat hy ons altyd kan wen. As ons 'n einde wil maak aan sy grootpratery, moet ons leer om self beter te speel."

"Dit klink verstamdoi." het een van die seuns gesê. "As ons sal sorg dat Billy vir 'n paar weke altyd verloor, sal hy gou 'n ander deuntjie sing."

"Jy is heeltemal reg," het Tommy gesê, "maar ons sal moet sorg dat ons hom wen. Kom laat ons stilletjies almal baie goed oefen sodat ons Billy kan verras."

"Maar ons kan tog nie almal wen nie," het 'n bleek, bangerige seun gesê, "en ons sal dit nie regkry om vir al die spele te oefen nie."

"Jou swaap!" het Tommy gesê, natuurlik kan ons nie alles tegelyk oefen nie, maar twee kan byvoorbeeld oefen om goed te hardloop, 'n paar kan oefen om ver te spring en ander kan oefen om goed albaster te speel. Ek persoonlik gaan my op bofbal toelê sodat ek hom sommer op die eerste rus kan uitgooi die volgende keer wanneer ons speel."

"Ja, dis gaaf!" het die ander seuns geskree, "kom ons doen dit."

Tommy se plan het die klomp gewis met nuwe lewe besiel. Hul Ma's en die onderwysers kon nie verstaan wat gebeur het nie, want al die seuns het m et die grootste ywer geoefen volgens afspraak op daardie "geheime" byeenkoms.

Billy het ook iets agtergekom, maar hy het nie vermoed dat dit alles teen hom gemik was nie. Met verloop van tyd het hy die uitwerking van die plan gesien, want waar hy voorheen die ander seuns sommer maklik gewen het met hardloop, het hy nou gevind dat daar 'n paar was wat hy nie kon afskud nie. Hulle het hom selfs gewen en toe kon hy ook smaak hoe dit voel om te verloor.

Die dag met die skoolsport is daar so baie spelde in Billy gesteek, dat hy taamlik afgeblaas was. Hy het natuurlik nie die moeite gedoen om te oefen nie, want hy was so seker van sukses. Maar die ander seuns het baie hard geoefen, met die gevolg dat Arme Billy nie eens eenmaal gewen het nie.

Hy het baie sleg gevoel daaroor, maar hy het homself getroos met die gedagte dat hy hulle by die bofbalwedstryd, ná die sport, darem weer sal wys, want hy kon baie goed slaan. Hierdie bofbalwedstryd was een van die groot gebeurtenisse vir die seuns, want hulle kon op die dorpsbaan speel en gewoonlik was daar baie toeskouers.

Billy was eerste in. Hy het vir die seuns gesê dat hy minstens tien lopies gaan maak en dat hy die bal sommer daar teen die horlosie in die toring gaan vasslaan.  Ewe spoggerig het hy met die kolf oor die baan gestap, asof hy 'n wafferse beroepspeler was. Hy was dus heeltemal uit die veld geslaan toe hy niks kon uitrig nie.

In die volgende kolfbeurt het Tommy eerste geslaan. Hy was vol selfvertroue en hy het geweet presies wat om te doen. Hy h et vreeslik hard geoefen hoe om te slaan en ook om veldwerk te doen. Vroeg soggens, voordat sy Pa werk toe is, het hy op 'n kaal erf vir Tommy gegooi sodat hy slaanwerk kon leer. Smiddae, ná skool, het hy met een van sy skoolmaats geoefen. Saans ná ete, het sy Pa weer vir hom 'n paar balle gegooi, totdat sy oog so geoefen was dat hy beide reguit- en krulballe kon slaan. En nou was hy gereed vir hierdie groot wedstryd!

Tommy het na die kolwershokkie gestap met groter selfvertroue as wat hy nog ooit gehad het. Die gooier het 'n vinnige bal gegooi. Tommy was klaar daarvoor, want hy het nie verniet so hard geoefen nie. Tot verbasing van almal het hy daardie bal sommer baie ver laat trek en voordat die linkervelder dit kon bykom, was Tommy by die derde rus. Die linkervelder het die bal na Billy gegooi, maar hy het die bal misgevang en Tommy het 'n boflopie gemaak.

Tommy het nog twee boflopies daardie dag gemaak, een in die laaste beurt, met twee manne uit en twee op die rus, grotendeels omdat Billy - wat andersins 'n goeie speler was - senuweeagtig geword het en deels ook omdat hy te gretig was om te wen. In die hele wedstryd het arme Billy nie een lopie gemaak nie.

Aan die einde van die wedstryd het almal vir Tommy toegejuig as die held van die dag.

"Wat nou van die dorpshorlosie wat jy sou stukkend slaan?" het 'n stemmetjie gevra.

"En wat van daardie tien lopies wat jy sou aanteken?" het nog 'n seun gevra.

Maar Billy het baie verleë weggestap. En dit was ook die laaste speld wat nodig was om hom heeltemal te laat afblaas. Van daardie dag af het hy nooit weer met sy prestasie gespog nie - sy maats het op 'n mooi manier hom dit geleer en daarvoor gesorg.