Hulle het die Tafel gedek

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Nie baie lank gelede nie het ek die verhaal van "Brood uit die Hemel" aan 'n gehoor vertel. Na die diens het 'n man na my toe gekom en gesê dat hy en sy huisgesin 'n soortgelyke ondervinding gehad het. "Ek onthou dit," het hy aan my gesê, "asof dit gister gebeur het. Ons het 'n baie slegte winter gehad en siekte en werkloosheid het ons ons laaste pennie laat uitgee. Wat kos betref, was daar niks in die huis oor nie, glad niks nie. 

"Die ergste van alles was wanneer die kinders by die huis kom en hulle kos soos gewoonlik verwag. Moeder en ek het nie geweet wat om vir hulle te sê nie. Ons het nog altyd iets gevind om hulle nie van die honger te laat omkom nie, maar n nou het ons by die einde gekom. Dit was vreeslik swaar om aan hulle te verduidelik dat daar regtig niks was om te eet nie."

"Hoekom het jy nie ander mense vertel van jou moeilikheid nie?" het ek gevra.

"Ons wou nie," het hy geantwoord. "Wanneer iemand daardie stadium bereik het wil hy niemand vertel nie."

"Ek verstaan," het ek gesê. "Wat het jy toe gedoen?"

"Wel," het hy verder vertel, "ek het die kinders geroep en ons het die saak bespreek. Hulle het gesê, 'Hoekom vra ons nie vir Jesus om vir ons kos te stuur nie? Pappie sê altyd Hy kan ons alles gee wat ons nodig het en Pappie sê ons lees in die bybel dat die regverdige nooit verlaat sal word en dat sy nageslag nooit brood sal soek nie. Hoekom vertel ons Hom dan nie dat ons nie kos het nie?"

"En toe?" het ek gevra.

"Ons het gevra," het hy geantwoord. "Ek kan nog sien hoe ons om die tafel gekniel het. Maar voordat ons gebid het, het my klein dogtertjie gepraat. 'Pappie', het sy gesê, 'dink Pappie nie ons moet alles doen om vir Jesus te wys dat ons regtig glo dat Hy vir ons kos gaan stuur nie?'
"Ons het almal gewonder wat sy bedoel en ek het haar toe gevra, "Wat kan ons nog doen, kleinding? Jesus kan sien die spens is leeg, nie so nie?"

"O, ja," het sy geantwoord, maar dink Pappie nie dat as ons die tafel dek en die borde en die messe en die vurke regsit, Hy kan sien dat ons regtig glo dat Hy ons dadelik iets sal stuur om te eet nie?"

"Ons het geglimlag, maar ek het gedink, "Ek moenie minder geloof as my klein dogtertjie hê nie."

Ons gooi toe die tafeldoek oor en kry die borde en die messe en die vurke en sit hulle reg. Toe die tafel mooi gedek was, het ons daar neergekniel om te bid. 

"Dit was 'n wonderlike biduur. Ek onthou hoe my klein dogtertjie gebid het. "Liewe Jesus," het sy gesê, "U sien dat ons die tafel gedek het om U te wys dat ons glo dat U ons gaan help. Stuur ons asseblief kos om in die leë borde te skep."

"En wat het toe gebeur?"

"Dit was wonderlik," antwoord my vriend. "So wonderlik dat Meneer dit dalk nie sal wil glo nie. Maar ons het skaars van ons knieë af opgestaan of iemand het aan die voordeur geklop. Ek het gaan oopmaak en daar het twee vroue gestaan, elkeen met 'n mandjie vol allerhande eetware. Hulle was feitlik vreemdelinge vir ons, maar hulle het ons vertel dat hulle lus gevoel het om ons iets te bring om te eet. Ons het hulle ingenooi en die tafel gewys wat ons gedek het en hulle vertel dat ons net klaar gebid het toe hulle geklop het. Regtig, ek weet nie wie was die gelukkigste, of ons of hulle nie."

"Ek dink ek weet wie was die blyste van almal," het ek gesê. "Die klein dogtertjie."

"Ek dink ook so," het hy gesê, "want dit het regtig gelyk of Jesus twee engele uit die hemel gestuur het om ons gebed te verhoor."

"En miskien het Hy," het ek sy geloof aangemoedig. "Dit sou nie die eerste maal wees dat getroue kinders van die Here ontwetend engele in hulle huise ontvang het nie."