Hoera vir die Baba!

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Ge 
Hoera vir die .... maar sjuut! Moenie te hard skree nie, want die baba mag wakker word.

Julle sien, hy is die grootste tydrower wat nog ooit in ons huis gekom het. Selfs wanneer hy slaap, is hy so pragtig dat ek vir ure na hom kan staan en kyk. En wanneer hy wakker is, dan kyk daardie groot blou oë my so vraend aan dat ek nie van sy bedjie kan wegkom nie. Dis wonderlike blou oë wat hy het, hulle lyk so begrypend asof die wysheid van die eeue in daardie klein koppie setel. Maar daar is dalk ook 'n baba in julle huis en dus sal julle verstaan.

En as hy glimlag - wel, dan kan ek myself eenvoudig nie van hom af losskeur nie. Dit voel vir my of ek vir altyd daar kan staan en luister na die geluide wat hy maak. Ek dink ten minste ek kan, as hulle so lank sou aanhou. Die lag van 'n baba is seker die skoonste musiek wat 'n mens op hierdie aarde kan hoor.

Ek weet regtig nie hoe sommige mense sonder 'n baba klaarkom nie. Hulle weet nie wat hulle mis nie. Alhoewel ons hierdie een nog maar 'n klein rukkie het, is hy nou die ongekroonde koning in die huis. Almal loop op hulle tone wanneer hy slaap en wanneer hy wakkerskrik, hardloop almal om hom te gaan optel. As hy moet uitgaan, dan wil almal sy waentjie stoot. Wanneer hy huil, wil almal sy trane wegsoen. Daar is ses dames en here wat klaarstaan om sy geringste wens uit te voer en wat meer kan 'n koning verwag? Niks is te goed vir hom nie en daar is niks wat almal nie aan hom sal gee nie. Dit is nou eenmaal waar, niemand bring soveel liefde in 'n huis as 'n baba nie!

Ons het gedink dat die baba 'n dogtertjie sou wees en daarom het ons baie meisiename klaar gehad. Maar 'n mens kan nou eenmaal nie aan 'n seun 'n meisienaam gee nie, kan 'n mens nou? Dink maar net hoe swaar 'n seun sou kry op skool met 'n meisienaam! Toe moes ons maar van voor af weer dink aan 'n naam. Ek het vreeslik gesoek in allerlei boeke om 'n naam te kry goed genoeg vir hom...en eindelik het ek 'n naam gekry in Slaaptydstories!

Maar watter saak maak dit tog of dit 'n seun of 'n dogter is? Dit is 'n baba - en seker een van die mooiste dinge wat God aan die mens kan gee.

Hoe aangenaam het hy die lewe vir ons gemaak van die eerste dag van sy koms af! Watter genot het dit vir ons verskaf om hom te sien groei en ontwikkel! Hoe heerlik is dit om sy klein vingertjies jou te voel vasklem met toenemende krag en om te sien hoe hy sy toontjie krul!

O ja, en hy kan hul ook wanneer hy daarna voel - so hard dat hy die bure steur, maar dit kry mens natuurlik alles op die koop toe as jy 'n baba het.

Wil julle nie ook graag 'n baba hê nie? Ek is seker dat julle een wil hê, maar julle sal nie ons s'n kan koop nie - net vir al die geld in julle bussies nie. Vra maar sy groot sussie en sy broers en hoor net wat hulle sal sê!

Ja, hoera vir die baba! Julle kan nou maar hard skree, want hy is wakker.