Hoe Tobie vrede gemaak het

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

"Luister nou mooi, kinders," het Pappie kwaai gesê terwyl hy vir Paul en Barbara die eetkamer uitgejaag het na die tuin. "Ek kan dit nie langer meer uithou nie. Julle gaan nou hier buite bly totdat julle die alewige geklaery afgeleer en en dan geleer het om hoflik te wees."

Daarmee het Pappie weer die huis ingegaan en die deur toegemaak. Hy het op sy gemakstoel gaan sit en sommer gouo het hy ingesluimer. Paul en Barbara het geweet dat dit hulle verdiende loon was en baie gou was hulle jammer dat hulle hul so sleg gedra het.

Vir 'n tydjie het hulle nie geweet wat om te doen nie en hulle het doelloos daar in die tuinpaadjie op en af geloop.

"Hier kom Tobie!" het Paul uitgeroep. "Tobie, Tobie, Tobie! Kom hier Tobie, waar was jy? Kyk hoe vuil is jy!"  Tobie het sy stert geswaai asof hy hulle wou verseker dat hy niks verkeerds gedoen het nie.

"Ek hoop jy het nie weer katte gejaag nie," het Barbara hom vermaan. Weer het Tobie maar sy stert geswaai asof hy wou sê dat hy nooit so iets sou doen nie. Maar - om die waarheid te sê - was daar niks waaraan Tobie so 'n hekel gehad het as aan 'n kat se snorbaard nie.

"Ek het 'n plan," het Paul gesê.

"Wat is dit?" het Barbara gevra.

"Kom laat ons vir tobie bad, dit is baie lank laas dat hy 'n bad gehad het - kyk hoe vuil is hy."

"Dit sal groot pret wees," het Barbara gesê. "Dit sal in elk geval beter wees as om niks te doen nie. Haal jy solank die bad uit die stoor en ek sal stilletjies na die kombuis gaan om 'n handdoek en seep te kry."

"Goed, dit sal lekker wees, né Tobie? Tobie gaan 'n bad kry, Tobie my honne," sê Paul.

Tobie het weer sy stert geswaai, maar het nou nie meer so plesierig gelyk nie. Hy het glad nie van bad gehou nie en het hom soms heftig teëgesit. Hy het die bad met agterdog bejeën toe Paul dit te voorskyn bring en besluit om met die tuinpaadjie af te draf. 

Eerlank was Barbara terug m et 'n handdoek, seep en 'n ketel warmwater.  "Waar is Tobie?"

"Hy het weggedraf, ons sal hom moet vang."

"Tobie, Tobie!" het Barbara geroep. Maar Tobie was te slim vir hulle - hy het geweet waarom hulle hom wou hê. Toe het hy hom maar verder uit die voete gemaak. Paul en Barbara het hom agtervolg en ná hulle hom 'n ruk gejaag het, het hulle hom eindelik gevang.

"Jou slegte hond! Slegte hond!" het Paul gesê terwyl hy hom aan sy halsband nadergesleep het. "
"Tobie, jy moenie weer weghol nie, jy gaan 'n lekker bad kry."

Tobie het glad nie gehou van die laaste opmerking nie en teen daardie tyd het hy nie meer sy stert geswaai nie en daar het 'n vreemde uitdrukking in sy oë gekom.

Dit het moeite gekos om hom in die bad te kry. Paul het sy voorpote opgelig en Barbara sy agterpote en so het hulle hom in die bad gesit. Maar dit was 'n gans ander saak om hom daar te hou. Vir 'n paar oomblilkke het hy stilgestaan terwyl Paul sy ore afgespons het. En toe het hy begin rem en spartel dat dit 'n naarheid was - hy het almal natgespat.

"Hou hom Paul, of hy sal uitspring!" het Barbara geskreeu.

"Kan jy nie sien ek hou vir al wat ek kan nie? Was jy hom."

Terwyl Paul vir Tobie in die bad probeer vashou, het Barbara hom begin was. Sy het hom net mooi seep gesmeer gehad....toe iets gebeur het. Vir 'n oomblik was Tobie doodstil. Hy het skynbaar vergeet dat hy gebad word. Hy het iets gewaar daar in die tuin. Die hare op sy rug het gerys en hy het luid begin blaf. Hy het losgeruk, uit die bad gespring en daar was net 'n vaal streep daar in die paadjie af.

"Keer hom!" het Barbara uitasem geskree terwyl sy die seepskuim van haar afskud.

"Wie sal hom n ou keer, kan jy nie sien hy is agter mev Tomkins se kat nie?!" het Paul teruggeskree.

"O liewe land, ek hoop hy maak nie die kat seer nie," roep Barbara.

Maar Tobie het hierdie kat al baie keer tevore gejaag en die kat het van al die skuilplekkies in die tuin en in die huis geweet.

"Kyk net daar!" het Barbara geskree terwyl hond en kat kruis en dwars oor die beddings en tuingoed gehardloop het. "Tobie sal vreeslik lyk na hierdie sarsie,"

En sy was reg ook, want teen daardie tyd was Tobie se nat vel vol modder en blare en takkies - hy was nou te vuil vir woorde.

"Ek hoop Pappie kyk nie deur die venster voordat ons hom weer skoon het nie," het Paul gesê.

"Ek hoop ook nie so nie," het Barbara gesê.

Maar dit was nie nodig vir hulle om oor Pappie bekommerd te wees nie, want hy het nog lekker gesit en slaap daar voor die vuur en het niks geweet van wat buite aangaan nie.

"Niou kan jy hom vang," het Barbara geskree toe hond en kat reguit na hulle toe aangestorm kom. "Gryp hom as hy verbykom, Paul."

Maar dit was makliker gesê as gedaan. Paul het gegryp, maar Tobie was so glad van die seep en modder dat hy soos 'n paling deur sy hande gegly het.

"Kyk,,,kyk waar pyl die kat heen," het Barbara geskree.

Die kat, uitgeput en bang, het reguit gepyl na die half-oop eetkamervenster. Met 'n laaste poging het hy bo-op die vensterbank gespring, deur die venster en skuiling gesoek onder die gemakstoel waarop Pa gesit en dut het. Die vraag was nou o f die hond die kat sou volg, sou hy so hoog kon spring? Paul en Barbara het hulle asem opgehou.

"Tobie, Tobie!" het hulle albei gegil in die hoop dat hulle die hond sou kon stuit. Maar wie sê so: net een sprong en Tobie was deur die oop venster en die vuil, modderige hond was binne-in die eetkamer!

Ons sal liewer nie probeer beskryf watter moles daar in die eetkamer was nie. Tobie het gou die kat vergeet toe hy sy baas sien en vol seep en modder teen sy baas begin opspring. Pappie het verskrik sy oë oopgemaak en toe hy hom weer kom kry, was daar 'n vreemde, gladde, seperige ding op sy skoot.

"O wee, wat sal ons nou doen? Pappie sal vreeslik kwaad wees," het Paul gesê.

"Daar is nou net een ding vir ons om te doen - ons sal maar moet ingaan en vir Pappie om verskoning vra," het Barbara voorgestel.

"Ja, laat ons dan maar gaan," het Paul gesê.

Toe is hulle die huis in. Toe hulle binnekom, was Pappie net besig om vir Tobie by die deur uit te sit - seker gouer as wat hy deur die venster ingekom het. Daar het Pappie gestaan, hy het baie streng gelyk en sy klere was lelik besmeer.  Paul het begin verduidelik wat gebeur het.

"Ons is vreeslik jammer Pappie," het Barbara bygesê. "Ons het nooit gedroom dat Tobie dit sou doen nie. Ons sal alles skoonmaak en Pappie se broek afborsel. Vergewe ons asseblief."

Pappie het na die twee kinders gekyk en toe na sy klere. Toe kon hulle 'n effense glilmlaggie om sy mond opmerk.

"Julle is twee verskriklike kinders! Maar ek sal julle maar vergewe. Gaan maak nou maar alles skoon - eerste vir Tobie.:

Toe het Paul en Barbara hul arms om Pappie se nek gesit en 'n swaar las het van hulle afgerol.