Hoe Terence sy trein gekry het

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Vir baie lank al - dit het vir hom na jare en jare gelyk - wou Terence 'n elektriese trein hê. Hy kon tot vervelens toe staan en kyk na so 'n trein in 'n winkelvenster. Hy het gevoel dat hy die gelukkigste seun in die hele wêreld sou wees die dag wanneer hy sy eie elektriese trein het.

Herhaaldelik het hy na sy Vader gegaan en gesê: "Sal Pappie asseblief vir my 'n elektriese trein koop vir my verjaarsdag?" of "Sal Pappie asseblief vir my 'n elektreise trein gee vir Kersfees?" maar elke keer het Pappie gesê: "Ek is jammer, Terence , maar 'n elektriese trein is veels te duur. Ek wil baie graag vir jou een koop, maar ek het eenvoudig nie die geld nie."

Dan het Terence maar weer begin hoop en hoop dat hy eendag in staat sal wees om self vir hom 'n trein te koop. Die enigste moeilikheid was dat Terence nooit geld gehad het nie. Sodra hy geld in die hande kry, het hy dit uitgegee vir lekkers of vir iets anders, en om daardie rede het hy nooit geld gespaar nie.

Eendag het hy vreeslik opgewonde van die skool af gekom. "Pappie!, Pappie!" het hy uitgeroep; daar is 'n seun by die skool wat sy elektriese trein wil verkoop; mag ek dit van hom koop?"

"Ja, seker, koop dit maar, as jy die geld het," het Pappie gesê. Pappie het geweet van Terence se swakheid wanneer dit by geld kom. Hy het al baie keer aan Terence gesê dat daar 'n gat in sy sak is. 

"Ek het nie die geld nie," het Terence mismoedig gesê: "Al wat ek het, is die sikspens wat Pappie my nou die dag gegee het. Ek het dit nog nie uitgegee nie."

"Hoeveel wil daardie seun hê vir sy trein?" het Pappie gevra. 

"Hy wil maar sewe pond daarvoor hê," het Terence gesê; "en dis baie goedkoop want dit sluit alles in - die spoor en die wissels en sulke goed."

"Sewe pond is baie geld, dit mag goedkoop wees vir 'n trein, maar sewe pond is baie skaars in die swaar tye; en met jou een sikspens sal jy nie baie ver kom nie."

"Ek is nie bevrees nie," het Terence ingestem.

"Weet jy hoeveel sikspense is daar in sewe pond?" het Pappie gevra. "Nee," het Terence gesê, "ek het dit nog nooit uitgereken nie."

"Wel, daar is tweehonderd-en-tagtig," het Pappie gesê.

"Sjoe!" het Terence gesê, "dis darem baie. Maar sal Pappie nie die trein koop nie?"

"Nee, dankie," het Pappie gesê, "ek het nie 'n elektriese trein nodig nie."

Terence het toe weer oor 'n ander plan gedink. "Ek sal probeer om daardie geld te spaar-" het hy begin. 

"Jy sal daardie geld opspaar! het Pappie hom uitgelag. "Jy sal nog nooit tweehonderd-en-tagtig sikspense opspaar nie' nie eens 'n kwart daarvan nie."

"Maar Pappie, ek wou nog nooit so graag 'n elektriese trein gehad het nie."

"Wel, jy praat al baie lank van 'n elektriese trein," het Pappie gesê, "en in daardie tyd het jy net een sikspens gespaar; dit lyk nie vir my of jy so baie graag 'n trein wil hê nie."

Terence het gebloos toe sy pappie dit sê, maar hy het nou tot 'n definitiewe besluit gekom. 
 
"Van nou af gaan ek elke pennie spaar," het hy baie beslis gesê; "en wanneer ek die tweehonderd-en-tagtig sikspense het, gaan ek daardie trein koop."

"Dit sal al oud en verroes wees wanneer jy eendag al daardie geld bymekaar gemaak het," het Pappie met 'n glimlag gesê. "Maar ek sal jou 'n voorstel maak; Vir elke tien sikspense wat jy opspaar, sal ek jou nog tien gee, en so voort totdat jy genoeg geld het vir die trein."

"Sal Pappie," het Terence opgewonde uitgeroep, "Nou sal ek my trein kry."

"Ek sal nie so doodseker wees as ek jy is nie," het Pappie gesê. "Jy moet verstaan dat dit jou 'n lang tyd sal neem. En hoe wil jy nogal die geld verdien?"

"Ek gaan sommer nou vir Mevrou Brown vra of ek nie haar tuin kan skoonmaak nie; en dan sal ek vir Meneer Morgan gaan vra of ek al die blare voor sy deur bymekaar han hark; en dan sal ek-"

"Nou praat jy baie verstandig," het Pappie gesê. "So moet 'n man praat. Moontlik sal ek ook vir 'n werkie hê, dit is te sê as jy regtig werk wil hê."

"Natuurlik wil ek die werk hê," het Terence gesê. "O, Pappie, ek kan al sommer hoor hoe ry my trein daar in my kamer."

Terence het toe sy grootse plan van stapel gestuur. Hy het nie meer sy tyd sommer nutteloos verkwis nie, maar dit in geld omgesit. Dit was natuurlik nie maklik nie, maar goeie dinge kos altyd iets. Wanneer sy vriende vir Terence gevra het om te kom speel, of te gaan swem, het hy gesê: "Dit spyt my kêrels, maar ek het 'n werkie om te doen." Dit was swaar, baie swaar vir Terence om hulle te sien loop sonder hom, maar altyd wanneer die versoeking gekom het om tou op te gooi, het die gedagte aan sy elektriese trein hom weer nuwe moed gegee om aan te hou.

Terence het ook nie meer sy geld uitgegee vir lekkers, of goedkoop speelgoed wat net 'n rukkie gehou het nie. Hy het alles wat hy verdien het, in sy bussie gegooi. Elke keer wat hy tien sikspense gehad het, het sy Vader hom nog tien gegee. 

Pappie het later net onrustig geword, want omtrent elke week moes hy tien sikspense gee, maar het hy weer gedink; dis die moeite werd, want Terence het kosbare lesse geleer. 

Die maande het verbygegaan, en die bussie het al swaarder geword. En toe eendag - die dag voor Terence se verjaarsdag - het daar 'n vreeslike ding gebeur. Terrence het vreeslik hartseer van die skool af gekom, en sy gesig was sommer nat gehuil. 

"Wat makeer?" het Pappie gevra.

"Daardie seun het sy trein verkoop," het Terence gesê, en hy het weer begin huil. "En nou kan ek daardie trein tog nie kry nie."

"Dit is baie jammer," het Pappie gesê. "Dis nou vir jou 'n tragedie. Maar, weet jy Terence, ek was altyd bevrees dat dit sou gebeur. Ky kon nie verwag dat hy so lank moes wag nie."

"Ek weet," het Terence gesê, "maar ek het darem gehoop dat hy dit nie sou doen nie."

"Wel, jy het nou geld opgespaar vir iets anders," het Pappie gesê. 

"Ek wil niks anders hê nie," het Terence gesê. "Hy was sommer gemeen om sy trein aan iemand te verkoop."

"Nee, jy moenie so praat nie," het Pappie gesê. "Kom ons gaan 'n bietjie stap," het Pappie voorgestel.

"Ek wil nie gaan stap nie," het Terence gesê. "Ek kan maar nie daardie trein vergeet nie."

"Kom ons gaan boontoe na jou kamer toe," het Pappie gesê.

"Boontoe na my kamer toe? Hoekom?"

"Kom, dan sal jy sien," het Pappie gesê.

Heeltemal uit die veld geslaan is Terence saam met sy Vader die trap op. Toe hy in sy kamer kom, het hy sy trane vergeet, want daar op die vloer was die einste elektriese trein wat hy so graag wou hê, en waarvoor hy so hard gewerk het. 

"Dis mos my trein!" het hy vreeslik opgewonde uitgeroep. "Hoe het hy hier gekom?" en sy gesig het gestraal van salige genot. 

"O, hy het sommer gekom," het Pappie gesê.

"Nee wat, dit kon nie sommer self gekom het nie,"

"Wel,"  het Pappie gesê, "ek sal jou maar alles vertel. Ek het die trein van daardie seun weke gelede gekoop. Toe ek sien hoe hard jy werk, het ek gedink dat dit darem 'n baie groot tragedie sou wees as daardie seun die trein verkoop voordat jy al die geld bymekaar het. Hier is jou trein nou; jy het dit verdien. dis mooi wanneer 'n seun so hard werk en sy geld so versigtig opspaar soos jy gedoen het."

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell