Hoe Ronald weggegaan het


(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

"Loop weg!" het Sussie gesê. "Loop weg!"

"Wat makeer?" het Ronald gevra. 

"Loop weg! ek wil glad nie meer met jou speel nie."

"Maar hoekom?" het Ronald gevra. 

"Omdat ek nie wil nie," het Sussie gesê.

Wat eintlik gebeur het, week ek nie, maar Sussie was net lelik omgekrap. Dit kan wees dat sy met die verkeerde voet uit die bed geklim het, of miskien het sy die vorige aand te laat gaan slaap. Hoe dit ook al sy, sy was nou net nukkerig, en dit omdat Ronald iets nie wou doen op die manieer wat sy dit gedoen wou hê nie. 

"O, jy gaan nie meer met my speel nie, né?" het Ronald hartseer gevra. 

"Nee," het Sussie gesê, "ek wil nie nooit weer met jou speel nie."

"Goed," het Ronald gesê, "dan sal ek weggaan, en jy sal my vir 'n lang tyd nie weer sien nie." 

"Ek gee nie om nie," het Sussie gesê; "ek kan heeltemal goed alleen speel hier in die hoop sand." 

Daarmee het sy haar omgedraai en met haar grafie begin grawe in die hoop sand, maar nie vir lank nie. Daar het seker nie eens twee minute verloop voordat sy baie eensaam begin voel het nie. Sy het rondgekyk, maar Ronald was skoonveld, en die tuin was doodstil.

"Ag, ek wonder waar hy heen is," het sy gedink; "miskien het hy regtig weggegaan, en miskien sal hy nooit weer terugkom nie."

"Ronald!" het sy geroep, maar daar was geen antwoord nie. 

Sy het nou onrustig begin word. Waar sou hy kan wees? Sy het om die huis geloop en geroep "Ronald! Ronald!" maar daar was geen antwoord nie. Toe het sy na die voorste hekkie gegaan en op en af in die straat gekyk, maar sy kon geen teken van Ronald sien nie. 

Hoe stil was alles skielik! Hoe doodstil was alles! en hoe eensaam het sy gevoel?

Weer het sy hard groep: "Ronald!"

Daar was geen antwoord nie.

Sy het op en af in die tuinpaadjies geloop, tussen die bome, en by die garage, en orals gesoek, en kort-kort geroep, maar vir Ronald kry was min. Toe het die trane begin rol. Ronald het regtig weggegaan. Sy was nou heeltemal alleen. En dis sy wat hom weggejaag het! Ag waarom het sy dit gedoen? Eindelik het sy na die huis geegaan, en toe Mammie haar hoor snik het sy gevra: "Wat makeer? Waarom huil jy dan? Het jy jou seergemaak?"

"Ronald het weggeloop," het Sussie gesnik, "en hy sal nooit weer terugkom nie."

"Maar wat vertel jy my nou?" het Moeder taamlik gerus gevra. 

"Ja," het Sussie gesê, "hy het weggeloop, weg, en ek sal hom nooit weer sien nie."

"Maar hoe het hy dan weggeraak?" het Moeder gevra onderwyl sy vir Sussie op haar skoot tel en die trane afvee. 

"Ek het gesê hy moet weggaan, boe-hoe-hoe!"

"Het jy hom weggejaag?" het moeder verbaas gevra.

"Ja, ek het vir hom gesê dat ek nooit, nooit weer met hom sal speel nie. Boe-hoe-hoe!"

"Maar was dit dan nie baie onvriendelik van jou nie?" het Moeder gevra.

"Ja, dit was," het Sussie gesê, "en nou is hy weg."

"Maar 'n sussie moet mos nie so iets aan haar boetie sê nie," het Moeder gesê.

"Ja, ek weet."

"Wel, as jy regtig jammer is," het Moeder gesê, "mag hy weer terugkom."

"Sal hy?" het Sussie skielik belangstellend gevra. Sal hy regtig? Ek is jammer Moeder, ek is baie jammer. Ek sal hom nooit weer wegjaag nie, nooit weer nie."

Toe het Moeder gesê, "as jy daar in die tuin agter die groot akkerboom gaan kyk, mag jy mieskien daar iets sien -

Sonder om nog een oomblik te wag is Sussie by die agterdeur uit en met die paadjie af tuin toe.

Skielik het iemand hard gelag daar agter die ou akkerboom. Sy het hom gevind. Ronald het al die tyd daar weggekruip! Toe het twee kinders al laggende huis toe gehardloop, so gelukkig asof daar nooit iets gebeur het nie. 
 
Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell