Hoe om Moeder nie te help nie

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Daisy het iets gesoek om te doen solank Mammie met die buurvrou gesels. En bure kan soms baie lank gesels soos julle self maar te goed weet.

"Ek wens ek kon iets doen om Mamma te help," het sy vir haarself gesê. "Maar dit lyk vir my of al die werkies al gedoen is. Die skottelgoed is gewas en die tafel is afgedek - ek dink ek sal nou maar 'n bietjie na die tuin gaan, want ek voel tog nie lus om binnekant af te stof nie."

Sy het toe uitgegaan en toe merk sy dat die voëlbad byna leeg was.

"Nou weet ek, ek sal die voëlbad weer volmaak - dit sal darem iets wees om te doen."

Toe het sy skielik onthou dat Mammie gesê het dat sy nie in die water moes speel nie, want sy het haarself altyd nag gemors.

"Maar sy sal dit tog nie met water speel noem nie. Dit is mos een manier om Mamma te help. Ek sal die gieter gaan haal," dink sy.

Sy het die gieter gaan haal, dit vol water getap en dit na die voëlbad gedra. Dit was amper te swaar vir haar om op te tel, maar sy het dit darem reggekry. Dit was nie genoeg nie en toe het sy nog gaan haal. Hierdie keer het sy die gieter nie so volgetap nie.

Die voëlbad was amper vol. "Ek dink ek sal nog net eenmaal gaan haal," het sy gesê en toe is sy weer na die kraan. Sy het op die kassie gestaan en weer die water begin ingooi.
Maar daar was een ding wat sy nie opgemerk het nie. Die voëlbad het nie mooi gelyk gestaan nie en terwyl die water nog nie heeltemal bo gekom het aan die eenkant nie, het die anderkant begin oorloop. Daisy het die water begin ingooi en aan die kant wat sy gestaan het, dit ongemerk oorgeloop teen haar rokkie af en toe sy dit agterkom, was sy al heeltemal nat. Sy het so geskrik dat sy met gieter en al bo van die kassie afgetuimel het binne 'n blombedding.

"O liewe! Wat sal Mammie nou sê?" het sy uitgeroep terwy sy haar nat rok beskou het - haar skoene was ook sopnat.

"Ja," het 'n stem gesê, "wat sal Mammie sê?"

"Ek wou Mammie maar net help deur die voëlbad vol te maak, ek het nie gemeen om so te mors nie," het Daisy berouvol gesê.

"Jy sê altyd jy het dit nie gemeen nie, maar Daisy, wanneer sal jy tog onthou dat my die beste kan help as jy maar net sou doen wat ek jou sê? Die Bybel sê 'Gehoorsaamheid is beter as offerande'. Wat jy doen as jy ongehoorsaam is, is glad nie hulp nie. Dit gee my net 'n ekstra klomp werk en moeite. Kom in en trek 'n d roë rok aan."

Daisy het binnetoe gegaan en terwyl Mammie vir haar 'n droë rokkie gesoek het, het sy baie tyd gehad om na te dink oor wat gebeur het.