Hoe kwaai Lenie soet Lenie geword het

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)


Slaaptyd stories
Deel EEN

deur Arthur S. Maxwell

Oom Attie se Slaaptydstories

Jy het seker nou al geraai dat Lenie 'n slegte humeur gehad het - en jy het gelyk. Sy was altyd kwaad. Regtig, jy het nog nooit so iets gesien nie. As Mammie haar gevra het om die tafel te dek, was sy kwaad; as sy pap moes eet in plaas van ander graandkos, was sy nors; as haar klein broertjie bietjie meer melk as sy gekry het, het sy gesê dis nie reg nie. En so het dit gedurig aangehou.

Die enigste tyd wanneer Lenie gelukkig was, was wanner sy kon doen wat sy wou, net soos sy wou en so lank as wat sy wou. As iemand haar gehinder het waar sy speel - wel, dan moes jy net hoor wat sy gesê het.

Een dag was Lenie besig om met haar popwaentjie te speel en natuurlik het sy baie daarvan gehou. Maar haar kleinboetie het toe daar aangestap gekom.

"Maak my soene asseblief vas, Lenie," het hy mooi gevra.

"Kan nie, ek is besig. Jy moet wag. Jy soek altyd iemand om jou skoene vas te maak," het sy ergerlik geantwoord.

"Boe-hoe-hoe," het die klein knapie begin huil en dadelik afgesit huis toe om vir Mammie te gaan vertel.

'n Paar minute later het die kombuisvenster oopgeskuif en Mammie se gesig het in die opening verskyn.

"Lenie, ek wil hê jy moet gou vir my winkel toe gaan, asseblief."

"Arme ek!" het Lenie uitgeroep. "Ek moet altyd winkel toe gaan. Ek kan nie eers bietjie lekker speel nie."

Maar Lenie het gegaan en brom-brom het sy by die voorste hekkie uitgestap. Dit het gelyk of sy vergeet het dat haar Ma "altyd" vir haar wat Lenie is, werk, van vroeg in die môre tot laat in die aand.

Toe Pappie van die werk af by die huis kom, was Lenie met haar tekenboek besig.

"Hallo Lenie," het Pappie uitgeroep, "bring gou vir my my pantoffels, asseblief my ou groot dogter."

"Arme ek!" het Lenie weer gebrom, ek moet altyd iets gaan haal. Ek het al vandag heeldag iets gaan haal. Ek kry nooit tyd om prentjies te teken nie."

"O, is dit die moeilikheid!" het Pappie - wat Lenie se swakheid maar alte goed geken het - gesê. "Dan gaan ek hulle maar self haal."

Dus het Pappie self sy pantoffels gaan haal. Toe vat hy een van hulle en bring dit op 'n sekere plek nader aan Lenie as wat sy darvan gehou het. En net dat sy nie moes vergeet nie, het hy dit twee, drie keer gedoen en haar toe kamer toe gestuur.

Wel, Lenie moes kamer toe. Sy het gehuil en sy was so kwaad! Sy het begin dink hoe sy sou wegloop van die huis af na 'n plek toe waar sy nie altyd net dinge vir ander mense hoef te doen nie. Dit was 'n aangename gedagte en terwyl sy nog daaraan dink, het sy an die slaap geraak.

Terwyl sy slaap, het sy voortgegaan met haar planne om van die huis af weg te loop. Sy het har geldkassie gaan haal, stilletjies by die voordeur uitgegaan en toe 'n bus stasie toe gehaal. Daar het sy 'n kaartjie gekop en na 'n plek gereis waar daar 'n groot boot was. Sy het aan boord gegaan en die boot het ver, ver weg gevaar. Dit het 'n lang tyd geduur voordat sy by 'n baie mooi land gekom het waar elkeen kon maak net soos hy lekker kry. Sy het aan wal gegaan en die boot het op sy reis voortgegaan.

'n Tydlank was sy baie gelukkig. Maar die mense was vreemd. Sy het nie een van hulle geken nie en naderhand het sy begin eensaam voel. Hulle het almal net vir hulself gesorg en Lenie het gevind dat daar niemand was wat iets vir haar wou doen nie. Sy het begin dink sy sal graag weer na Mamma wou gaan. Maar die mense sê toe vir haar sy kon nie weggaan nie, want die boot sou eers na 'n lang, lang tyd terugkom.

Dae en weke en maande en jare het verbygegaan en toe kom die boot eindelik terug. In 'n kits was Lenie aanboord.

Wel, sy het weer by die huis gekom en sy het na die voordeur toe geloop om Mammie heerlik te verras. Maar 'n vreemde vrou het die deur kom oopmaak. Vrees het Lenie beetgepak.

"Is Mammie tuis?" het sy gevra.

"Mammie, wie is Mammie?" het die vrou gevra.

"My Ma!" het Lenie beangs uitgeroep en sy wou net verbydruk om in die huis te kom.

'Sy woon nie hier nie," het die vrou gesê. "Die vrou wat hier gewoon het, is lankal dood. Sy was so spyt en hartseer dat haar klein dogtertjie weggeraak het."

"Mamma dood! Waar's Pappie?" het Lenie uitgeroep.

"Weg, ek weet nie waar hy nou is nie," het die vrou gesê.

"En my klein boetie? Waar is hy?"

"Klein boetie? Jy bedoel jou groot broer. Hy is groot en hy is ook al weg."

"Arme ek, arme ek!" het klein Lenie uitgeroep. "O Mammie, Mamma, kom tog weer terug na my toe!"

"Nou toe nou, hoekom al hierdie lawaai?" het Pappie gevra en hy skud Lenie hard om haar wakker te maak.

"O, is dit regtig Pappie? Ek is so bly dis Pappie! Waar is Mamma? Is sy nie dood nie?"

"Natuurlik nie, kind, sy is in die kombuis besig om kos reg te maak."

"Dankie, dankie, ek is so bly. Ek wil dadelik na haar toe gaan."