Swart politieke ontwaking, 1875 - 1949

Swart politieke verset teen onderdrukking en wit oorheersing het sowat 120 jaar geduur voordat dit in 1994 uitgeloop het op die eerste parlementêre verkiesing waaraan swart mense ("swart" word in die hoofstuk m eestal inklusief bedoel en sluit bruin mense en Indiërs in) op gelyke voet kon deelneem. Historici stem in die algemeen saam dat die versetbeweging in die Oos-Kaap begin en van daar oor die land versprei het. Dié beweging het die plek ingeneem van swart stamverset wat teen die einde van die 19de eeu ten einde geloop het.

In die loop van dié 120 jaar het die versetbeweging voortdurend van aard verander, maar drie breë fases kan geïdentifiseer word. In die eerste fase is aanspraak gemaak op menswaardige behandeling, in die tweede op gelyke politieke regte en in die derde was daar 'n aandrang op politieke mag. Die eerste twee fases word in dié hoofstuk behandel. 

Die aanspraak op menswaardige behandeling

Oor die eeue was daar twee oorkoepelende fases in swart Suid-Afrikaners se verset. In die eerste het swart stamgemeenskappe, soos Khoekhoengemeenskappe, Xhosagemeenskappe, die Zulu, die Pedi en die Venda, in opstand gekom teen koloniale beheer en wit oorheersing. Die tweede fase - ware politieke ontwaking - het hierop gevolg.

Swart mense se politieke ontwaking het in die oostelike distrikte van die destydse Kaapkolonie begin, waarskynlik om die volgende redes: Eerstens was die swart mense in daardie gebiede van al die Bantusprekende gemeenskappe in Suid-Afrika al die langste met wit mense in aanraking. Tweedens was groot groepe van daardie swart mense teen die tweede helfte van die 19de eeu (d.w.s. 1850-1900) nie m eer stamgebonde nie en derdens het die Kaapse stemregstelsel hulle aangemoedig om by die poliltiek betrokke te raak.

'n Wesenlike teenstrydigheid in die Kaapse politieke en kulturele stelsel het 'n groot imnpak op vroeë swart poliltieke denke gehad. Hoewel geen rasse-onderskeid voor die wet, in die kerk, in skkole en in die politiek gegeld het nie, was rassediskriminasie in die praktyk aan die orde van die dag. Die swart politieke ontwaking in die Oos-Kaap is deur hierdie verskil tussen die teorie en die praktyk aangemoedig. Ontstamde swart mense het verontreg gevoel en daarteen gerebelleer, maar gewapende verset was buite die kwessie. Die alternatief was poliltieke verset en swart mense het veral in die laaste kwart van die 19de eeu toenemend daarin betrokke geraak.

Dit was veral swart mense wat by sendinginstellilngs soos die Lovedale Institution buite Alice in die Oos-Kaap opleiding ontvang het wat as lede van 'n nuwe swart elite (in teenstelling met die stamleiers) bepaalde verwagtinge gekoester het. Dié geskoolde swart het mettertyd leidende posisies in hul gemeenskappe begin inneem. Sommige het selfs aan teologiese seminariums en universiteite oorsee gaan studeer. Onder hulle was die joernalis John Tengu Jabavu, die kerkman Walter Rubusana en die opvoedkundige John Dube, wat o.m. in die VSA gestudeer het. 'n Opvallende kenmerk van die vroeë swart poliltieke leiers en meningsvormers was hul veelsydigheid. Sowel Rubusana as Dube, asook die prominente musikant, John Knox Bokwe, was benewens al hul ander bedrywighede ook koerantuitgewers en -redakteurs.

Die vroeë swart politieke leiers was nie aktiviste in die moderne sin van die woord nie. Hulle het bloot onregverdighede uitgewys en op billike, menswaardige behandeling aangedring. Daar was wel swart kerkleiers soos Isaiah Shembe en Mangena Mokone wat relatief radikale uitsprake gemaak en op swart bevryding (en die volwaardige beëindiging van wit oorheersing) aangedring het. Die prominentste swart leier het egter na die voorbeeld van gematigde swart Amerikaanse leiers soos Booker T. Washington bloot gelyke geleenthede vir swart mense gevra.

Die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 het 'n nuwe era in die swart politieke versetbeweging ingelui. Historici en swart politici is dit eens dat polities bewuste swart mense oorwegend die Britte in hul stryd teen die Boererepublieke gesteun het. Een uitsondering was John Tengu Jabavu, wat hom as uitgewer en redakteur van die koerant Imvo Zabantsundu in hoofartikels eerder teen die oorlog in sy geheel uitgespreek het as vir een van die twee strydende partye. Pro-Britse swart mense het gehoop dat 'n Britse oorwinning tot die uitbreiding van die kleurblinde Kaapse stemregstelsel noordwaarts sou lei. Hierdie kwessie is egter, tot hul groot ontnugtering, op die lange baan geskuif ingevolge die vredesooreenkoms tussen die Boere en die Britte. Die Anglo-Boereoorlog het op kkort termyn geen wesenlike verandering in die politieke lot van die swart mense teweeg gebring nie.

In die eerste tien jaar ná die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in 1902 is 'n hele aantal swart politieke organisasies egter dwarsoor die land gestig. Die belangrikste swart politieke organisasie in die Kaapkolonie was die South African Native Congress, waarvan daar selfs enkele takke in die ander kolonies was en wat hom beywer het vir die belange van swart mense van oor die hele Suider-Afrika. In die Oranjerivierkolonie was die ORC Native Congress die belangrikste swart organisasie en in Natal die Natal Native Congress. In Transvaal was daar 'n hele aantal swart pollitieke organisasies, waaronder die Transvaal Native Organisation. Die totstandkoming van al hierdie swart politieke bewegings dui op 'n merkbare toename in die poliltieke bewussyn van swart mense aan die vooraand van unifikasie in 1910.

Toe die Selborne-memorandum, wat as riglyn vir unifikasie gedien het, in 1906 gepubliseer is, het dit nie noemenswaardige reaksie uit swart politieke kringe ontlok nie. Die byeenroepping van die Nasionale Konvensie in 1908 wat uitsluitlilk uit wit  afgevaardigdes bestaan het, was egter 'n ander saak. Swart leiers het nie die idee van unifikasie verwerp nie, maar daar is gevrees dat die politieke belange van swart mense buite die Kaapkolonie nie in die n uwe grondwet in ag geneem sou word nie. Met die bekendmaking van die Nasionale Konvensie se ontwerpgrondwet vroeg in 1909 het dit geblyk dat hul vrese gegrond was.

Soos reeds in 'n vorige hoofstuk genoem, het swart verset teen die ontwerpgrondwet vir die te stigte Unie van Suid-Afrika in Maart 1909 op die South African Native Convention, of sg. Naturellekonvensie, in Bloemfontein uitgeloop. Dit is deur swart mense van al die destydse Britse kolonies in Suid-Afrika bygewoon en talle resolusies is aanvaar waarin daar teen die beoogde grondwet beswaar gemaak is. Die verreikendste resolusie was dat, indien die Nasionale Konvensie swart mense se besware sou verwwerp, die South African Native Convention 'n afvaardiging na Brittanje sou stuur om die Britse parlement te probeer oorreed om die ontwerpgrondwet te wysig. Die Naturellekonvensie se resolusies is toe wel deur die Nasionale Konvensie geïgnoreer, waarop 'n swart afvaardiging byeengebring is.

In Brittanje het die afvaardiging van die Naturellekonvensie onderhoude met parlementslede, koerantmanne en organisasies soos die Aborigines Protection Society gevoer, maar kon geen steun vir hul verset teen die Unie-grondwet kry nie. Die grondwet is met groot meerderhede deur al twee huise van die Britse parlement aanvaar.

Stigting en vroeë bedrywighede van die SANNC (ANC)

Die Naturellekonvensie van 1909 was nie bedoel om as organisasie voort te bestaan nie. Dit het egter die idee laat posvat dat swart mense op 'n meer permanente grondslag landwyd polities moet saamwerk. In 1911 is die grondslag vir die stigting van 'n oorkoepelende organisasie gelê.

Die projek is gedryf deur Pixley Seme, 'n regsgeleerde wat opleiding in die VSA en in Brittanje gekry en 'n praktyk in Johannesburg gehad het. Seme het dwarsoor die land steun gewerf onder vooraanstaande swart mense, wat die opgeleide swart middelklas en stamkapteins ingesluit het. Vroeg in 1912 het hy 'n vergadering in Bloemfontein belê waar 'n nasionale organisasie gestig sou word. Sowat sestig afgevaardiges het op 8 Januarie in die Vrystaatse hoofstad saamgetrek en twee dae later besluit om die Suth African Native National Congress (SANNC) te stig. Die eerste president was John L. Dube en die eerste sekretaris Sol T. Plaatje. Seme sou as tesourier dien.

Die SANNC se doelwitte was in pas met die gematigdheid wat tot in daardie stadium kenmerkend van die swart poliltieke versetbeweging was. Die organisasie wou: swart mense in Suid-Afrika polilties verenig; die algemene publiek inlig oor die aspirasies van swart mense; namens alle swart mense gelyke regte en geregtigheid bepleit; die spreekbuis van sowel gewone swart mense as van die stamkapteins wees; en Suid-Afrikaanse swart mense selfs tot in die parlement verteenwoordig.

Een van die eerste kwessies waarby die SANNC in 1912 betrokke geraak het, was grondgebiedskeiding tussen wit en swart. Grondbesit was ook een van die eerste kwessies waaraan die nuwe Unie-regering aandag gegee het. 'n Wetsontwerp om uitvoering teg ee aan die tradisionele wit beleid van gebiedskeiding is al in 1911 opgestel, maar het heftige kritiek uit swart geledere ontlok. In 1913 is dié wetsontwerp, ten spyte van verset in die parlement, as die Wet op Naturellegrondgebied aanvaar. Die wet het o.m. meegebring dat tienduisende swart mense wat veral in die Oranje-Vrystaat as plakkers op wit boere se plase gewoon het, van die plase afgesit is. Dit het groot ontbering en eiendomsverlies meegebring.

Die SANNC het beswaar aangeteken teen die wet, maar sy vertoë aan die minister van natuirellesake en die Britse Hoë Kommissaris was vergeefs. 'n Afvaardiging wat na Brittanje gestuur is om die Britse koning persoonlik oor die negatiewe uitwerking van die wet te gaan inlig, was ook nie suksesvol nie, al het dit in perskringe simpatie gewerk. Die SANNC se 1914-afvaardiging was nog in Brittanje toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. Polities bewuste swart mense se reaksie op dié verwikkeling was om hul lojaliteit teenoor die Britse koning te betoon. Duisende swart mense het as vrywillilgers by die Suid-Afrikaanse magte aangesluit. Hulle is net in 'n nie-vegtende hoedanigheid aangewend. Dit het hulle gekwets, veral nadat hulle aan die front opgemerk het dat swart mense van ander lande as volwaardige soldate kon dien.

Op die jaarvergadering van die SANNC in 1917 het afgevaardigdes erg verskil oor die beginsel van gebiedskeiding. Die gevolg was dat Sefako Makgatho van Pretoria in John Dube se plek tot president-generaal verkies is.

Hoewel die grondkwessie die swart politieke toneel in die eerste tien jaar ná Uniewording oorheers het, was daar ook ander sake wat 'n groot uitwerking gehad en sowel 'n emosionele reaksie as politieke optrede by swart mense ontlok het. In die Oranje-Vrystaat was daar veral ontevredenheid oor die instelling van passe vir swart vroue. Hulle het telkens geweier om passe te dra en talle is vervolg. Enkele vroue is in hul vervolging gemolesteer en die voorvalle is deur die swart leierskorps gebruik om nog teenstand teen die passtelsel aan te moedig. Die minister van justisie was naderhand genoodsaak om aan die polisie opdrag te gee om die vervolging van swart vroue weens die oortreding van die pasregulasie te staak.

Versetaksies tussen die twee wêreldoorloë

Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog was daar in Transvaal en die Kaapkolonie 'n oplewing in swart politieke bedrywighede. In Transvaal was die kwessies van sosiaal-ekonomiese aard en het Makgatho as president-generaal van die SANNC 'n belangrike rol gespeel  om griewe te opper en verset te reël. In April 1919 het swart munisipale werkers in Johannesburg om hoër lone gestaak. Die feit dat dit met 'n passieweverset-veldtog teen die passtelsel saamgeval het, het die staking 'n politieke kleur gegee. 'n Groot aantal swart mense is gearresteer en vervolg.

'n Tweede en veel groter staking het minder as 'n jaar later aan die Witwatersrand plaasgevind. Dit was die mynwerkerstaking van Februarie 1920 waaraan daar in 'n stadium 42 000 werkers deelgeneem het. Dit het weer eens om hoër lone gegaan. Daar was onluste en die polisie was genoodsaak om vuurwapens te gebruik. Nadat 'n aantal swart mense dood of gewond is, het die stakers mettertyd weer begin werk. Die militante gees wat in die eerste twee jaar ná die wêreldoorlog onder swart werkers vaardig was, het egter toe reeds 'n gevoel van lotsverbondenheid by hulle aangewakker en bygedra tot die uiteindelike radikalisering van die swart versetbeweging.

Die politieke oplewing onder die klein swart bevolking in die Kaapse Skiereiland het onder aanvoering van Clements Kadalie p laasgevind. Hy het hom in 1918 uit die destydse Njassaland (nou Malawi) in Kaapstad gevestig en as klerk in die Tafelbaai-hawe gewerk. Hy het die dokwerkers gou in 'n vakbond begin organiseer wat die Industrial and Commercial Workers' Union (ICU) genoem is. Dié vakbond het aan die einde van 1919 drie weke lank gestaak oor lae lone en die uitvoer van voedsel terwyl daar binnelands skaarstes was.

Nadat enkele struikelblokke in die vroeë 1920's uit die weg geruim is, het die ICU in 1923 'n landwye organisasie geword met sy eie spreekbuis, The Workers' Herald. Terwyl die ledetal astronomies gestyg het - teen 1928 het die vakbond nagenoeg 250 000 lede gehad - het die hoofkantoor na Johannesburg verskuif van waar Kadalie as voltydse sekretaris sy ondersteuners se belange behartig het. Die ICU was in wese 'n vakbond, maar in die Suid-Afrikaanse konteks kan swart arbeidskwessies moeilik van politieke kwessies onderskei word, met die gevolg dat 'n swart vakbond in verskeie opsigte as 'n politieke organisasie in Suid-Afrika gereken word, minstens tot die 1980's. Die ICU se invloed het egter vinnig begin afneem nadat Kadalie in 1929 uit die organisasie bedank het.

Die SANNC het in die jare tussen die twee wêreldoorloë 'n sukkelbestaan gevoer. Die organisasie het telkens beswaar aangeteken teen wat hy as onderdrukkende regeringswetgewing besku het, maar dit het die wit owerheid geensins van stryk gebring nie. Op die jaarkongres in 1923 is 'n resolusie aanvaar waarin verklaar is dat die Unie-parlement beplan om die swart mense permanent te verslaaf en dat die goewerneur-generaal versoek moet word om nie die Wet op Stedelike Gebiede van 1923, wat vir rasseskeiding in stede voorsiening gemaak het, te onderteken nie. Op dieselfde kongres is besluit dat die SANNC voortaan as die African National Congress (ANC) bekend sou staan.

Makgatho, wat sedert 1917 president-generaal van die ANC was, is in 1924 deur eerw. Z.R. Mahabane vervang. Mahabane was, soos sy voorgangers, gematig en het hom dit ten doel gestel om niks meer as die erkenning van swart regte in die bestaande samelewingsorde te verwerf nie. Ná 'n termyn van drie jaar het Mahabane in 1927 vir Josiah Gumede plek gemaak. Gumede het kort ná sy verkiesing tot president-generaal danksy ' n borgskap na die Sowjetunie gereis. Hy is dadelik as 'n kommunis gebrandmerk, maar hy het ontken dat hy 'n kommunis is.

Hy is in 1930 deur Pixley Seme opgevolg. Seme was baie ondernemend en polities bedrewe in die jare toe hy die vernaamste persoonlikheid in die stigting van die SANNC was, maar toe hy in 1930 die leiding van die ANC oorneem, kon  hy nie daarin slaag om nuwe lewe in die kwynende organisasie te blaas nie. Seme het 'n groot projek vir ekonomiese ontwikkeling van stapel gestuur wat behels het dat swart mense hulself moet ophef, maar dit het platgeval. Al het hy telkens onder kritiek deurgeloop, is hy tog telkens as president-generaal herkies totdat hy in 1937 deur Mahabane vervang is.

Dié ervare politikus kon ook geen positiewe leiding gee nie, met die gevolg dat die ANC teen die einde van die 1930's feitlik geen invloed gehad het nie.

'n Aanspraak op gelyke regte

Die ANC het in die 1930's feitlik ophou bestaan, maar met die hulp van 'n groep amptenare o.l.v. die sekretaris-generaal, James Calata, het dié organisasie in die volgende dekade herleef. Die verkiesing van Alfred Xuma tot president-generaal iln Desember 1940 het 'n groot rol in dié herlewing gespeel. Hy het hom dit ten doel gestel om die ANC weer 'n doeltreffende organisasie te maak. Om dit te doen, het hy 'n stokkie gesteek voor provinsiale takke se neiging om hul eie koers in te slaan. Hy het in 1942 voorts die miljoenlede-veldtog van stapel gestuur. Al kon soveel lede nie gewerf word nie, het die veldtog die organisasie heelwat publisiteit besorg.

In 1943 het die ANC 'n nuwe grondwet aanvaar ingevolge waarvan mense van alle rasse lid van die organisasie kon word. In die praktyk het dit egter steeds eksklusief 'n organisasie van swart mense gebly. Die nuwe grondwet het ook vir goeie beheer oor die organisasie se geldsake voorsiening gemaak en 'n werkkomitee is ingestel wat die voorloper van die latere nasionale uitvoerende komitee (NUK) was. Dié komitee, met Xuma as voorsitter, het feitlik weekliks in Johannesburg vergader. Danksy sy hervormings kon die ANC 'n permanente kantoor in die Goudstad vestig.

In Xuma se termyn as president-generaal is vroue gemobiliseer om by die organisasie betrokke te raak en sy vrou, Madie, is tot hoof van die ANC Women's League verkies. Xuma, 'n mediese dokter, was 'n bekwame organiseerder met waardevolle buitelandse kontakte. Hy was egter nie 'n voorstander van magsvertoon deur massa-optrede nie.

Die veranderde sosiaal-ekonomiese en politieke omstandighede in Suid-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog het die ANC bevoordeel. Die toenemende verstedeliking van swart mense het tot 'n groot behuisingstekort gelei en 'n gevolg daarvan was sewe groot plakkersbewegings aan die Witwatersrand. James Mpanza, leier van die Sofasonke-groep, was een van die bekendste  plakkerleiers. Mpanza en sy volgelinge het huise van die Johannesburgse stadsraad geëis, maar owerheidshulp vir enigiets anders geweier. Hulle het gereeld daarin geslaag om nog grond vir swart bewoning te verkry. Mpanza het geglo hy lei sy volgelinge soos Moses oor die Jordaanrivier na 'n beloofde land. Daar was net ongemaklike, informele bande tussen hom en die ANC. Wanneer die plakkers uit een gebied verdryf is, het hulle bloot elders gaan plak. Hul gedurige verhuising het egter met bitterheid gepaardgegaan en in 1947 was daar selfs onluste daaroor in Orlando en Moroka, twee voorstede van Soweto.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die swart werkersklas aan die Witwatersrand blootgestel aan gedurige prysstygings. Hul reaksie was versetveldtogte soos die busboikotte. Stygende busgeld, wat busry vir talle pendelaars onbekostigbaar gemaak het, het in 1940, 1942 en 1943 op kortstondige boikotte uitgeloop. In 1944 het die inwoners van Alexandra 'n busboikot sewe weke lank volgehou Dit het beteken dat hulle elkle dag werk toe en terug moes stap. Die uiteinde was dat die stadsraad van Johannesburg besluit het om hul busgeld deels te subsidieer. Die busboikotte het op die lang duur bygedra tot die politisering van swartes.

Verklarings deur bekende wêreldleiers tydens die Tweede Wêreldoorlog het ook in die ANC weerklink. In 1941 het pres. Franklin D. Roosevelt van die VSA en eerste minister Winston Churchill van Brittanje die Atlantiese Handves uitgereik waarin hul oogmerke met die oorlog saamgevat is. Xuma het 'n komitee van 30 mense benoem om die handves te bestudeer. Dié komitee het 'n reeks eise geformuleer in 'n dokument wat hulle genoem het die "Atlantiese Handves uit die Swart Oogpunt". Hulle ht ook 'n Handves van Regte opgestel waarin algemene stemreg vir volwassenes, 'n billike aandeel vir swart mense in die welvaart van die land en die gelyke verdeling van die grond geëis het. Die dokument was in wese 'n verklaring van doelstellings en het nie 'n program voorgestel om dit te bereik nie.

Die stigting van die ANC-jeugliga

Die totstandkoming van die African National Congress Youth League (ANCYL) het ook tot die herlewing van die ANC in die 1940's bygedera. Die ANC-jaarkongres het reeds in 1942 die stigting van 'n jeugvleuel goedgekeur. In April 1944 is 'n Transvaalse tak in Johannesburg gestig. Dit is in September 1944 opgevolg met die stigting van 'n  nasionale jeugbond.

Die stigterslede was oorwegend jong, professionele swart mans. Die bekendstes was Anton Lembede, Jordan Ngubane, Oliver Tambo, A.P. Mda, Nelson Mandela en Walter Sisulu. Later het Robert Sobukwe, Duma Nokwe, Joe Matthews en Congress Mbata bygekom. Hulle het hulself as 'n drukgroep in die ANC beskou en was ten gunste van samewerking met die swart massa eerder as met simpatiekgesinde wit mense.

In sy beginjare het die ANCYL 'n radikale, Afrikanistiese filosofie voorgestaan. Lembede was die grondlegger van dié ideologie van Afrikanisme. Die historiese grondlsag was dat die heldedade van die verlede as die hoeksteen van die toekoms beskou is. Die ekonomiese grondslag was dat daar teruggekeer moet word na die fundamentele sosialistiese struktuur van die ou "Bantugemeenskap" waarin daar bv. nie sprake van individuele grondbesit was nie. Sosialisme was volgens die Afrikaniste die waardevolle nalatenskap van die voorvaders. Die nuwe geslag se taak was om daardie antieke sosialisme te versterk met die invoer van nuwe, moderne sosialistiese opvattings.

Die ANCYL het geglo dat die ideologie van Afrikanisme die enigste manier is om swart mense te red. Hulle was daarom aanvanklik anti-kommunisties en teen samewerking met wit mense gekant. Lembede het reguit gesê "geen buitelander kan ooit 'n ware en egte leier van die Afrikamense wees nie, want geen buitelander kan waarlik die Afrikagees wat uniek en eie aan die Afrikamense is, interpreteer nie. Sommige Asiate (Indiërs) en Europeërs wat voorgee dat hulle Afrikaleiers is, moet kategories veroordeel en verwerp word".

A.P. Mda het bygevoeg dat swart mense weens nasionale onderdrukking ly en dat hulle daarom 'n na;sionale bevrydingstryd moet begin. Tot in 1947 was die ANCYL-leiers uiters dogmaties in hul denke. Lembede is egter in daardie jaar oorlede en van toe af was daar in die ANCYL, soos in die ANC, ruimte vir 'n verskeidenheid oortuigings.

Soios vir die ANCYL was die kwessie van samewerking met simpatieke lede van ander rassegroepe ook vir die ANC 'n groot probleem. Ná die presidentstermyn van Josiah Gumede was die ANC-leierskkorps anti-kommunisties en teen samewerking met wit mense gekant. Hulle het eksklusiewe Afrikanasionalisme en swart eenheid voortgestaan. Tog was hulle beïndruk deur die boikottaktiek van die Non-European Unity Movement (NEUM), wat in wese 'n Kaapse beweging van bruin mense was, asook deur die passieweverset-veldtogte van die Suid-Afrikaanse Indiërs. In 1948 het die ANC 'n basiese beleid aanvaar waarin samewerking met die nasionale organisasies van bruin en Indiër-Suid-Afrikaners onderskryf is.

Die ANCYL het intussen aan 'n strategie gewerk om die ANC te probeer dwing om uitdagender op te tree. Die jong leiers het gemeen dat petisies om besware te lug en afvaardigings na die regering swart mense se lot geensins sou verander nie. Daarom het hulle 'n aksieprogram opgestel waarin hulle vryheid van wit oorheersing en die reg op swart selfbeskikking geëis het. Boikotte, stakings en nie-samewerkingsveldtogte is aanbeveel as maniere om dié doelwitte te bereik. Die program het ook 'n fonds in die vooruitsig gestel om die bevrydingstryd te finansier, asook die vestiging van 'n nasionale spreekbuis en die instelling van 'n aksieraad. Laastens het die aksieprogram die ekonomiese, opvoedkundige en kulturele opheffing van swart mense beoog.

Die ANCYL het sy aksieprogram in 1948 aan die ANC se jaarvergadering voorgelê. Xuma was daarteen gekant omdat hy gedink het die program is nie uitvoerbaar nie. Die vergadering het besluit om dit vir verdere oorweging na die jeugleiers en die ANC-takke terug te verwys. In 1949 het die ANC-jaarvergadering die aksieprogram egter ondanks Xuma se voorbehoude aanvaar Boonop het die vergadering James Moroka op oorhaastige wyse in Xuma se plek tot president-0generaal verkies en Walter Sisulu van die ANCYL tot sekretaris-generaal. Sodoende het die ANC sy vroeëre gematigdheid laat vaar.

Ander swart rolspelers in die 1940's

In die 1930's was die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA), wat in 1921 gestig en aanvanklik 'n wit organisasie was, 'n klein, ondoeltreffende en verdeelde organisasie. In een stadium het dit net 250 lede gehad. In navolging van die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke (USS) was dié party aanvanklik gekant teen deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, maar nadat die USSR ook in Junie 1941 tot die stryd toegetree het, het die KPSA sy standpunt verander en aktiewer as ooit tevore geword. Die KPSA het voordeel getrek uit die onstabiele oorlogsjare: Sy lidmaatskap het skielik begin groei en so ook die sirkulasie van sy koerante.

In die 1940's het die band tussen die KPSA en die ANC toenemend sterker geword. Teen 1945 was drie lede van die KPSA in die ANC se nasionale uitvoerende komitee: Moses Kotane, J.B. Marks en Dan Tloome. Die KPSA het destyds gegloo dat die sosialistiese revolusie verhaas kon word deur Afrikanasionalisme aan te moedig. Die party het voorts geglo dat swart mense as 'n klas eerder as 'n ras onderdruk word. Die KPSA wou absoluut revolusionêr wees, maar het aan verkiesings deelgeneem. Die 1940's was vir die KPSA 'n hoogtepunt, maar die party het sy geleenthede nie ten volle benut nie.

Wat die vakbondwese betref, het swart vakbondleiers in die 1930's die African Federation of Trade Unions gestig. In 1941 is dit ingeskakel by 'n nuwe swart vakbondfederasie, die Council of Non-European Trade Unions (CNETU). Teen 1945 het 119 vakbonde, wat 158 000 werkers verteenwoordig het, tot die CNETU behoort. Van dié vakbonde was 60% in Transvaal en 'n groot aantal in die Oos-Kap bedrywig. Die CNETU kon egter nie op kragdadige wyse die belange van swart werkers beskerm nie, want die Smuts-regering het in 1942 Oorlogsmaatreël 145 aanvaar wat stakings verbied het. Nogtans was daar enkele stakings in o.m. steenkoolmyne, die melkbedryf en baksteen- en lekkergoedfabrieke.

Die regering het 'n gematigde houding h ieroor ingeneem omdat daar so 'n groot vraag na arbeid was om oorlogsvoorraad vir sowel die Suid-Afrikaanse as die Geallieerde Magte te vervaardig. In November 1942 het die regering besluit op loonvasstelling, wat in Desember 1942 tot 'n staking deur swart munisipale werkers in Johannesburg en onluste in Pretoria gelei het. Daar was militêre ingryping om die staking te beëindig en dit het op sterftes uitgeloop.

Teen 1939 was daar meer as 400 000 swart mynwerkers, maar hulle was swak georganiseerd. Gevolglik was daar voor die Tweede Wêreldoorlog min bedrywighede deur swart vakbonde in die goudmynbedryf. Dit beteken nie dat swart mynwerkers tevrede was met hul werkomstandighede nie. Hulle was veral ontevrede oor hul loon van net twee sjielings per skof en oor beperkings op hul werkersegte. Die African Mineworkers' Union (Amwu) is in dié omstandighede in 1941 gestig. Die swart kommunis J.B. Marks het 'n groot rol daarin gespeel. Amwu het 'n aktiewe werwingsveldtog begin en kon teen 1944 aanspraak maak op 25 000 lede.

Teem 1945 het die swart mynwerkers se ontevredenheid 'n hoogtepunt bereik. Ingevolge oorlogsmaatreëls is hul reg om vergaderings te hou aansienlik ingekort. Die einde van die oorlog het boonop met 'n voedselskaarste en die inkorting van myners se rantsoene saamgeval. Onluste het by die Modderfontein-Oos-mynkampong uitgebreek hieroor. Daar was in daardie stadium egter geen meganisme om mynbesture oor swart griewe in te lig nie. Nòg die mynmaatskappye nòg die regering wou samesprekings met Amwu voer.

Marks is in 1945 nie net as president vanAmwu aangewys nie, maar ook as voorsitter van die CNETU. Die volgende jaar het Amwu 'n aansienlike loonsverhoging en die herroeping van oorlogsmaatreëls geëis. Dié eise het op dowe ore geval omdat die Kamer van Mynwese Amwu nie erken het nie. Hierop het stakings in enkele myne gevolg, maar steeds was daar geen verbetering in swart mynwerkers se werkomstandighede nie. Vroeg in Augusltus het Amwu 'n openbare konferensie in Johannesburg gehou waar die meer as duisend afgevaardigdes eenparig besluit om te staak. Marks het op die vergadering gewaarsku dat 'n staking op 'n aanslag op die laekoste-arbeidstelsel in Suid-Afrika neergekom het en dat hulle bereid sou moes wees om opofferings te maak. 'n Mynwerker het hierop uitgeroep: "Ons in die myne is reeds dood!"

Die staking het op 12 Augustus begin en m eer as 70 000 van die 308 000 swart mynwerkers het daaraan deelgeneem. Die polisie het van meet af aan ingemeng in die staking, met die gevolg dat geweld uitgebreek het waarin minstens twaalf stakers dood en sowat 1 200 beseer is. Né vier dae was die staking verby. Dit was die grooste arbeidstaking in Suid-Afrika tot op daardie tydstip.

Eerste minister Jan Smuts het geglo agitasie was die oorsaak van die staking, nie geldige griewe nie. Kommunistiese leiers soos Bill Andrews, Moses Kotane en Marks is gevolglik summier gearresteer. Dit was duidelik dat die staking swak georganiseer was en oorhaastig begin het. Daar was bv. geen voorbereidings om kos aan stakers te verskaf nie. Die langtermyngevolg was dat swart myners nie gou weer bereid was om hul griewe d.m.v. 'n staking te lug nie. Die staking het egter die vlak van swart militantheid onder vakbondlede verhoog.

In 1938 het radikale leiers van die bruin en Indiërgemeenskappe die Non-European United Front (NEUF) gestig met Cissie Gool as nasionale president en Yusuf Dadoo as Transvaalse leier. Die KPSA het ook 'n prominente rol in die totstandkoming van die NEUF gespeel omdat die party ' n breër ondersteuningsbasis wou  hê. Die NEUF was enkele jare lank baie invloedryk onder bruin mense van die huidige Wes-Kaap.

Van Junie 1941 - Toe Duitsland die USSR binnegeval het - was die NEUF t.g.v. Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog, maar met die hulp van gewapende swart soldate. In Desember 1941 het dié organisasie die Non-European Conference in Transvaal gehou waar die Non-European People's Manifesto aanvaar is. Daar is o.m. die volgende oproep gedoen: "This Conference issues a call ... for the freedom of non-European and the sweeping aside of all unjust colour bar laws which prevent the unity of all South Africans on an equal basis..."

In die 1940's het talle mense en instellings bewerings oor die indringing van Indiërs in wit gebiede gemaak. Smuts se reaksie was om die Broome-kommissie aan te stel om die saak te ondersoek, maar die kommissie het gerugte oor die hoë voorkoms van ind;ringing in sy verslag van 1940 verwwerp. Drie jaar later, in 1943, het die kommissie egter weer verslag gedoen en dié keer bevind dit vind wel plaas. In reaksie daarop het die regering beperkende wetgewing op Indiërs in die parlement ingedien. Koerante het na hierdie wetgewing verwys as die Peggin Act. Sowel die Natal Indian Congress as die Indiese regering het skerp daarop gereageer. As gevolg van kritiek van oral oor het die regering besluit om die Pegging Act op te skort. Die Natalse Provinsiale Raad, wat konserwatiewe wit belnge verteenwoordig het, het op sy beurt skerp op die opskorting gereageer.

In 1944 het die spanning tussen die radikales en die gematigdes in die Indiërpolitiek, breekpunt bereik. Militante Indiërs het 'n "nasionalistiese blok" in die Transvaal Indian Congress en 'n anti-segregasieraad in die Natal Indian Congress gevorm. In 1945 het die militantes sowel die Natal Indian Congress as die Transvaal Indian Congress oorgeneem. Monty Naicker het president van die Natal Indian Congress geword en Yusuf Dadoo president van die Transvaal Indian Congress. Meer gematigde Indiërs het die Natal Indian Organisation gestig.

Die parlement het in 1946 wetgewing aanvaar wat verdere beperkings op Indiërs in Suid-Afrika geplaas het, maar terselfdertyd beperkte politieke verteenwoordiging aan hulle gebied het. Die Natal Indian Congress het dit verwerp. Radikale Indiërleiers het 'n dag van rou (hartal) afgekondig oor wat hulle die "ghetto act" genoem het. Op die dag van rou het 'n massavergadering van 15 000 Indiërs besluit om 'n passieweverset-veldtog te begin soortgelyk aan die veldtog teen Britse beheer wat Mohandas Gandhi in dieselfde jaar in Indië begin het. Dié veldtog het twee jaar voortgeduur. Sowat 2 000 Indiërs het in die tronk beland weens plakkery in beheerde gebiede. Die regering het egter nie die beperkende wetgewing opgeskort nie. 'n Positiewe gevolg van die veldtog vir die Indiërs was dat die NIC se steun uitgebrei het tot ongeveer 35 000 lede.

Indiërleiers was teen dié tyd toenemend bereid om hulle tot veelrasige samewerking te verbind. In 1947 het Naicker van die Natal I ndian Congress, Dadoo van die Transvaal Indian Congress en Xuma van die ANC - al drie mediese dokters - 'n gesamentlike verklaring uitgereik waarin hulle die grootste moontlike samewerking gevra het. Hulle het ook sekere doelwitte geïdentifiseer, waaronder volle stemreg vir almal in Suid-Afrika en die verwydering van alle diskriminerende en onderdrukkende wetgewing uit die land se wetboeke. Ten spyte van die sg. Doctors' Pact het die ANC  die Indiërs nie direk gesteun in hul veldtogte van passiewe verste nie.

In Januarie 1949 het geweld tussen swart mense en Indiërs in Durban uitgebreek. Dit het met intense bitterheid, bloeddorstige aanvalle en die dood van meer as 100 mense gepaardgegaan. Ten spyte van sterk regeringsoptrede het die onluste wyd voorgekkom. Nadat dit uiteindelik tot bedaring gekom het, het die ANC en die South African Indian Congress (SAIC) 'n gesamentlike komitee gevorm om die verhouding tussen die twee groepe te verbeter.

Teen die middel van die 20ste eeu was die swart politieke versetbeweging ná 'n driekwarteeu van sporadiese bedrywighede en hortende groei landwyd stewig gevestig. Die gees van die versetbeweging het in die loop van 75 jaar boonop toenemend radikaler geword. Die aandrang op menswaardige behandeling was duidelik besig om 'n aandrang op politieke mag te word.

Jackie Grobler

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5