Die Afrikaanse kerke in die 20ste eeu

Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling is die produk van die wisselwerking enersyds tussen die burgers van die land en andersyds tussen die plaaslike gemeenskap en die internasionale ekonomie.

In die 19de eeu is die internasionale vloei van goedere, dienste, kapitaal en arbeid vergemaklik deur Brittanje se aanvarding van 'n vryhandelsbeleid in die 1840's. Al het proteksionisme (die beskerming van 'n land se martke teen goedkoper ingevoerde produkte) weer in die 1880's kop uitgesteek, het internasionale handel en kapitaalvloei in die 20ste eeu meer vrylik plaasgevind. Suid-Afrika het geleidelik by die internasionale ekonomnie ingeskakel vanweë Britse kolonialisasie en daarom het gebeure op die internasionale front 'n direkte invloed op die land se ekonomie gehad.

In die 20ste eeu het twee wêreldoorloë plaasgevind wat die internasionale wêreld in twee bloklke verdeel het, die sg. kommunistiese en die vrye ekonomiese blokl. Dit het 'n groot uitwerking op die ontwikkeling van die internasionale ekonomie en daardeur ook Suid-Afrika s'n gehad.

Suid-Afrika se landoppervlakte beslaan 1 121 942 km2, wat so groot is soos Duitsland, Frankryk en Nederland saam. Teen 1910 was die amptelike bevolkingsyfer 5,878 miljoen en teen 1950 het dit verdubbel tot 12,671 miljoen. Die grootte van en die toename in die bevolking dui op die beskikbaarheid van arbeid in hierdie tydperk. In die eerste helfte van die 20ste eeu het die wit bevolking ongeveer 20% van die totale bevolking uitgemaak, swart mense 68%, Indiërs 8% en bruin mense sowat 3%. In dié tydperk het die bevolking met gemiddeld 3% per jaar toegeneem.

Gedurende die jare 1870 en 1913 - ná die ontdekking van diamante en goud enn kort voor die uitbreek van die eerste Wêreldoorlog - het die ekonomie geweldig gegroei en verander. Van 1860 tot 1865 het uitvoere hoofsaaklik uit wol, vrugte en grondstowwe bestaan. Die waarde van Suid-Afrika se uitvoer was egter slegs £4,3 miljoen, veel minder as dié van ander Britse gebiede soos Kanada met uitvoere van gemiddeld £8 miljoen per jaar. Teen 1870 het omtrent 'n miljoen immigrante vrywillig uit Brittanje na Australië verhuis en ongeveer 500 000 na Kanada, maar net sowat 100 000 het na Suid-Afrika gekom.

Teen 1913 het Suid-Afrika se per capita-bruo binnelandse produk (BBP) die twaalde plek onder 'n vergelykbare groep van 28 lande ingeneem. "Per capita-BBP" beteken dat die totale produksie van 'n land (die bruto binnelandse produk) gedeel word deur die totale bevolking om die totale produksie per persoon van daardie land te kry. Uit die groep lande met vergelykbare mark-ekonomieë het Australië die hoogste per capita-BBP gehad, gevolg deur Nieu-Seeland en Kanada.

Ekonomiese uitbreiding en vooruitgang het tussen 1870 en 1913 wêreldwyd plaasgevind. Dit was die eerste tydperk van globalisering weens die uitbreiding van internasionale kommunikasie d.m.v. spoorweë, skeepvaart en die internasionale telegraaftegnologie. Suid-Afrika is weens die ontdekking van diamante en goud volledig by die internasionale globaliseringskragte ingeskakel. Die ekonomie het voordeel getrek uit sterk groei, verhoogde handel, die invloei van kapitaal en die bvolkingstoename weens immigrasie.

Samestelling van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk, 1912-1951

            BBP £ M.           Landbou              Mynbou            Vervaardiging                 Handel

1912     £132,9                 17,4%                 27,1%                     6,7%                        13,5%

1951  £1 248,4                16,3%                 10,1%                    21,4%                       15,7%

Teen die eerste dekade van die 20ste eeu het die suid-Afrikaanse ekonomie ontwikkel van 'n suiwer landbou-ekonomie tot ' n nywerheidsekonomie waar l andbou en mynbou die grootste bydrae tot die BBP gelewer het. In 1912 was die BBP £132,9 miljoen en die per capita-BBP £21,8 miljoen. Teen 1951 het die BBP tot £1 248,4 miljoen gestyg en die per capita-BBP tot £98,2 miljoen. Dit is 'n gemiddelde toename van 1,3% in per capita-BBP per jaar.

Vanuuit die grond, 1900-1949

Landbou

Ná die vernietiging van die Anglo-Boereoorlog het landbouproduksie stadig in Transvaal en die Oranje-Vrystaat herstel, terwyl landbou sonder veel ontwrigting in die Kaap en Natal voortgegaan het. Die totale waarde van landbouproduksie het van 1911 tot 1951 met gemiddeld 18,4% per jaar toegeneem. In wat vandag die Wes-Kaap is, is vrugte en koring verbou, terwyl die somerreënvalspreek verder oos hoofsaaklik op veeteelt, mielies en vrugte gekonsentreer het. In Natal is suiker en subtropiese vrugte verbou en daar is ook met vee geboer. Die sg. "mieliedriehoek" was in die sentrale gedeelte van die land, en vrugte en suiker is in die Laeveld verbou.

Hierdie afdeling van die landbou is allerweë as die kommersiële landbousektor beskou, wat grotendeels, maar nie uitsluitlik nie, deur wit boere opgebou is. Dit was oorwegend Afrikaanssprekende boere. Die ander segment van die boerderybevolking was die tradisionele swart bestaansboere. Daar was egter 'n groeiende persentasie swart boere wat, nes die kommensiële landbousektor, surplus- of oorskotproduksie aan groeiende stedelike markte gelewer het - soms tot groot verontwaardiging van wit boere. Nadat reservate en trustgronde vir swart mense deur wetgewing in 1913 en 1936 vasgestel is, is swart boere toenemend tot swart reservate beperk.

Die landbousektor is uiters belangrik vir ekonomiese ontwikkeling. Landbou lewer op verskillende wyses 'n bydrae tot modernisering. Die vernaamste funksie van landbou is voedselvoorsiening, maar teen 1880 het die land reeds begin om kos in te voer. Daarvan kan afgelei word dat voedelproduksie ontoereikend was, want boerderymetodes was nog ouderwets en ondoeltreffend. Gevolglik het boere 'n afhanklikheid van staatshulp ontwikkel, wat tot laat in die 20ste eeu ' n kenmerk van die Suid-Afrikaanse landbou was. Hierdie afhanklikheid van staatshulp was ongehoord in engeland, maar wel opvallend in die VSA en Wes-Europa.

Daar was verskillende soorte staatshulp aan die landbou: In die vorm van onderwys en navorsing, wetlike beskerming en finansiële subsidiëring of ondersteuning van pryse en bemarking. In 1898 is die Elsenburg-landboukollege in die Kaap gestig en in 1926 is dit onder die toesig van die Universiteit van Stellenbosch gebring. In 1908 is die Veeartseny-navorsinginstituut by Onderstepoort naby Pretoria gestig en in 1919 is dit by die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenywetenskappe ingelyf. Naas hierdie twee vooraanstaande navorsings- en opleidinginstasies is verskeie landboukolleges regoor die land opgerig om wetenskaplike landbou te bevorder.

In 1912 is die Landbank gestig om lenings aan boere te verskaf. Verskeie landboukoöperasies is daarna gestig om boere met beplanning, kapitaaltoerusting, finansiering en inligting te help. Teen 1950 was daar ongeveer 300 landboukoöperasies met meer as 280 000 lede en 'n omset van meer as £580 miljoen. In 1918 is die Koöperatiewe Wijnbouersvereniging (KWV) gestig. Veral ná die bewindsoorname van die Pakt-regering in 1924 is beheerrade gestig om spesifieke sektore in die landbou met bemarking en prysbeheer te help. In 1925 is die Vrugte-uitvoerraad gestig en die Bederfbareprodukteraad (vir suiwelprodukte) die daaropvolgende jaar. Teen 1933 is dit vervang met die Suiwelbeheerraad wat pryse vasgestel en produksie- en invoerkwotas bepeel het om die binnelandse bedryf teen mededinging uit die buiteland te beskerm.

Die groot getal wit boere in die Nasionale Party het hierdie simbiotiese antimarkverwantskap beskerm. Staatsbeskerming van die landbou is veral bewerkstellig deur die Bemarkingswet van 1937. Ingevolge dié wet is die bemarking van alle landbouprodukte gesentraliseer in rade soos die suiwelraad, die Eierraad en die Vleisraad. So is plaaslike landbouprodukte deur tariewe beskerm en is staatsubsidies vir die modernisering van die landbou verseker. ('n Tarief is 'n "belasting" of heffing op 'n produk wat aan die owerheid betaal moet word. Binnelandse produkte word deur tariewe "beskerm" omdat ingevoerde produkte duurder is - bo en behalwe die kosprys suit hul pryse ook die tarief in.) Hierdie rade het pryse vasgestel en 'n monopolie op die bemarking van landbouprodukte uitgeoefen. Teen 1960 was daar reeds 17 sulke rade en teen 1939 het staatsubsidies aan die landbou reeds £15 miljoen oorskry.

Die ineenstorting van die Amerikaanse aandelebeurs in Wall Street in New York op 29 Oktober 1929 het een van die grootste wêrelddepressies in die geskiedenis ingelui. Die depressie het 'n baie groot rol gespeel in die Suid-Afrikaanse regering se besluit om die landbousektor steeds te beskerm. Die Kommissie van Ondersoek na die Ekonomie en Lone het reeds in 1925 bevind dat die per capita-landbouproduksie in Suid-Afrika slegs £80 was, teenoor £420 in Australië en £320 in Kanada.Dit is aan onwetenskaplike landboumetodes toegeskryf. Die regering was oortuig dat verbeterde landbouproduksie die grondslag vir latere nywerheidsontwikkeling moes wees.

Die depressie het veroorsaak dat die pryse van landbouprodukte wêreldwyd in duie gestort het. Dit het gebeur omdat die waarde van alle geldeenhede wat aan goud gekoppel was, getuimel het. In die Suid-Afrikaanse l andbousektor het die waarde van landbouproduksie van £31,8 miljoen in 1928 tot £12,8 miljoen in 1931 gedaal, al het die volume met 20% toegeneem. Brittanje het in September 1931 besluit om die goudstandaard te verlaat en die meeste ander Statebondslande het sy voorbeeld gevolg.

Die goudstandaard het behels dat die waarde van geldeenhede ooreenkomstig 'n vaste verhouding van 'n fyn ons goud tot 'n individuele geldeenheid bepaal is. Lande met 'n groot goudvoorraad kon dus meer geld in omloop plaas en daarom was hul geld nie "skaars" en daarom "duur" nie. Lande met 'n beperkte goudvoorraad het "duur" geld gehad. Wanneer geld "duur" was, was die produkte van daardie lande ook duur en is minder van daardie lande ingevoer.

Die Suid-Afrikaanse regering wou sy "onafhanklikheid" van Brittamje toon, asook sy "vertroue" in goud, en het aanvanklik op die goudstandaard gebly. Dit het die ekonomie ernstig benadeel. Terwyl die geldeenhede wat die goudstandaard verlaat het, gedepresieer het (die waarde daarvan het verminder en die pryse van goedere in daardie geldeenhede het goedkoper geword), het Suid-Afrika se pond 'n duur geldeenheid gebly. Dit het veroorsaak dat Suid-Afrika se produkte veel duurder was as soortgelyke produkte van lande wat die goudstandaard reeds verlaat het. Op 28 Desember 1932 het Suid-Afrika ook die goudstandaard laat vaar en die vraag na plaaslike goedere het dadelik toegeneem.

Die omvattende regeringshulp aan die landbousektor in die vorm van prysregulering, bemarkingsrae en finansiële ondersteuning vir modernisering het teen 1950 die grondslag vir die transformasie van die landbousektor gelê. In 1946 het die eerste Wet op Grondbewaring boere verplig om sekere grondbewaringsvoorskrifte na te kom. Die Tweede Wêreldoorlog was 'n kragtige aansporing vir verhoogde landbouproduksie dwarsoor die Engelssprekende wêreld. In Suid-Afrika het landboumeganisasie sterk toegeneem en produksie onder besproeiing het tussen 1933 en 1960 sesvoudig toegeneem.

Die voorsiening van water aan die landbou was ook belangrik en daarop het die staat met 'n dambouprogram begin. Tussen 1920 en 1956 is minstens elf groot damme gebou om besproeiingswater aan die landbou te lewer. Een van die belangrikstes was die Hartbeespoortdam in die Krokodilrivier, wat in 1925 voltooi is. Die ander was die Vaaldam wat in die Vaalrivier gebou en in 1938 voltooi is. Water is uit die Vaaldam na die Vaalharts-studam gelei om besproeiingswater aan die nedersetting van arm wit boere op die Vaalhartsskema te voorsien. In 1938 is die Loskopdam in die Groot-Olifantsrivier voltooi, terwyl die Boegoebergdam in die Oranjerivier halfpad tussen Prieska en Epunton en die Clanwillilamdam in die Olifantsrivier net buite Clanwilliam ook in die 1930's gebou is.

Suid-Afrika se grootste dam is die Gariepdam, voorheen bekend as die Hendrik Verwoerddam, wat 'n totale bergingskapasiteit van 5,5 miljoen m3 water het en in die 1970's in die Oranjerivier gebou is. Dit vorm deel van die geïintegreerde Oranjerivierstelsel wat water aan dele van die Vaal-, Vis- en Sondagsrivieropvanggebiede deur die Oranje-Visriviertonnel voorsien. Dié tonnel is 82 km lank en is die langste aaneenlopende watervervoertonnel in die wêreld. Die laaste groot besproeiingsdam is die Pongolapoortdam, of die Jozinidam, wat in 1970 in die noordooste van Natal in die Pongolarivier gebou is. Hierdie dambouprogram dui op langtermynbeplanning vir 'n suksesvolle kommersiële landbousektor.

In sy strewe om te bewys dat die land onafhanklilk is, het die Nasionale Party-regering 'n ekonomiese beleid gevolg om die binnelandse ekonomie te beskerm en te versterk. Hierdie proteksionisme het binnelandse groei stadig maar seker gestimuleer, maar op lang termyn ook onmededingende produksie- en onproduktiewe arbeidspraktyke bevorder. Die negatiewe gevolg daarvan sou blyk toe die land aan die einde van die 20ste eeu internasionaal vryelig begin meeding het.

Mynbou

Die ontwikkeling van die mynbousektor in Suid-Afrika het 'n stabiliserende rol in die ekonomie gespeel. Wanneer droogte, peste of oorlog die landbou ontwrig het, kon diamante, goud, steenkool e.a. minerale steeds gemyn en uitgevoer word. Diamante is aanvanklik in Kimberley ontgin, maar ná 1903 ook by Cullinan naby Pretoria en sedert 1908 in Suidwes-Afrika) Namibië. De Beers Consolidated Mines het ná die Eerste Wêreldoorlog aandeelhouding in die Suidwes-diamante verkry. Ander alluviale diamantneerslae in die Oranje- en Vaalriviere (1860'), Lichtenburg (1926) en Namakwaland (Alexanderbaai, 1928), het veroorsaak dat die mark goed van diamante voorsien is, maar dat pryse laag en onstabiel was.

De Beers het toe in 1930 'n sentrale bemarkingsagentskap gestig wat diamante opgekoop het om die prys te beheer. Die depressie van 1929 het pryse skerp laat daal, maar in die laat 1930's het De Beers 'n internasionale monopolie op die bemarking van diamante gevestig deur die Sentrale Verkoopsorganisasie te stig. De Beers het vrye mededinging gesmoor en teen die 1950's groot winste op opgepotte voorraad behaal.

Die goudmynbedryf het die indrukwekkendste bydrae gelewer. Goudproduksie het van £32 miljoen in 1910 tot £144,8 miljoen in 1950 toegeneem. Die hoeveelheid ontginde erts het gestyg van 19,7 metrieke ton in 1910 tot 56,5 t in 1950. Teen 1910 het goud 60,9% van totale uitvoere uitgemaak, maar teen 1950 het dit afgenaam tot 42,5%. Die diepte van die erts en die lae graad daarvan het die winsgewendheid van die Suid-Afrikaanse goudmyne in gedrang gebring. Teen die vroeë 1930's het die Laegraadse Erts-kommissie tot die gevolgtrekking gekom dat die hoë ontginningskoste voortgesette ontginning van diepgroep-goudmyne onwinsgewend sou maak. Boonop was die goudprys sedert 1917 op 84 sjielings (£4.4.0) per fyn ons vasgestel.

Nadat Brittanje die goudstandaard in 1931 verlaat het, het die Britse pond se waarde verminder, wat Britse en ander Statebondslande se produkte aansienlik goedkoper as Suid-Afrika s'n gemaak het. Suid-Afrika moes die goudstandaard ook die volgende jaar verlaat, waarna die Britse sterlingprys van goud onmiddellik gestyg het. Die goudprys het aangehu styg totdat dit in Januarie 1934 op $35 (142 sjielings, oftewe £7.2.0) per fyn ons vasgestel is. Danksy hierdie styging het Suid-Afrika welkome buitelandse valuta verdien, wat voorkom het dat die depressie so 'n vernietigende impak op die Suid-Afrikaanse eknomie as op ander Statebondslande gehad het. Dit het ook benadruk hoe verweef die Suid-Afrikaanse ekonomie met die internasionale ekonomie was.

Goudproduksie het tussen 1932 en 1941 feitlik verdubbel, maar daarna het die Tweede Wêreldoorlog produksie ontwrig weens tekorte aan arbeid en toerusting. Die goudprys is tydens die oorlog weer vasgepen en eers in September 1949, toe die Britse pond sterling en die Suid-Afrikaanse pond gedevalueer het, het die goudprys weer tot 248 sjielings (£12.8.0) per fyn ons gestyg. Daar is in die laat 1950's nuwe lewe in die goudmynbedryf geblaas toe goudneerslae aan die verre Wes-Rand en in die Oranje-Vrystaat gevind is.

Die ontginning van steenkool het 'n hupstoot gekry met die uitbreiding van die spoornetwerk ná 1900. Steenkool is in Noord-Transvaal en Transvaal (in die hedendaagse Gauteng, Limpopo en Mpumalanga) ontgin en is hoofsaaklik vir die oopwekking van elektrisiteit en die produksie van yster en staal gebruik. Steenkoolproduksie het van 7,6 metrieke ton in 1910 tot 29,3 t in 1950 toegeneem. Suid-Afrikaanse steenkool was betrklik goedkoop en het bygedra tot winsgewende goudontginning en die ontwikkeling van plaaslike nywerhede.

Teen die 1950's het steenkool diamante verbygesteek as die vernaamste ontginde mineraal. In 1950 het steenkoolproduksie £14,79  miljoen ingebring teenoor die waarde van diamantverkope van 14,3 miljoen in dieselfde jaar was. Die regering het die steenkoolprys deur prysbeheer laag gehou om binnelandse ontwikkeling te stimuleer, maar dit het groot verkwisting meegebring.

Vroeë nywerhede

Naas goud, steenkol en diamante is platinum en 'n groot aantal basismetale ook ontgin, waarnder yster, mangaan, asbes, chroom en koper. Hierdie minerale en metale is hoofsaaklik in binnelndse nywerhede verwerp en het dus nie in die eerste helfte van die 20ste eeu 'n groot bydrae gelewer om buitelandse valuta te verdien nie.

Die belangrikste aspek van Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling is die diversifikasie van ekonomiese aktiwiteit van primêre produksie (landbou en mynbou) na sekondêre produksie (nywerhede). Die eerste klein vervaardigingsbedrywe van die 19de eeu was aan die landbou gekoppel - wamakers, meubelfabrieke, steenmakerye, visverwerking, ens. In die Kaapkolonie is invoerheffings ingestel wat plaaslike produksie dus vervoordeel het. Brittanje het vryhandel beoefen en die Kaap toegelaat om met enige land in die wêreld handel te dryf. Voorkeurbehandeling deur Britse kolonies onderling het Kaapse nywerhede inderwaarheid aan die Britse mark gekoppel. Die vervaardigingsektor was baie elementêr en klein.

Met die minerale revolusie het dieselfde in die omgewing van die myne gebeur: Vervaardiging het rondom die mynwese ontwikkel in die vorm van fabrieke vir o.m. voedsel, klere, gereedskap en boumateriaal. Ná die totstandkoming van die Doeane-unie in 1889 tussen die Kaapkolonie en die Oranje-Vrstyaat is tariewe op goedereverkeer tussen die twee gebiede verlaag. In 1908 is die Doeane-unie uitgebrei en hersien. Dit het binnelandse tariewe in ooreenstemming met mekaar gebring, onderlinge handel gestimuleer en ook fabrieksproduksie aangemoedig.

Ná 1910 is al die tariewe op binnelandse goedereverkeer afgeskaf en is nywerheidsproduksie verder aangemoedig. In 1910 is die Cullinan-kommissie aangestel om die lewensvatbaarheid van die ontwikkeling van plaaslike nywerhede te ondersoek. Luidens die verslag wat in 1912 in die parlement ter tafel gelê is, sou die beskerming van verdienstelike binnelandse nywerhede tot nywerheidsdiversifikasie en groter selfversorgendheid in die Suid-Afrikaanse ekonomie kon lei. Teen 1912 het nywerheidsproduksie egter nog net 6,7% tot die BBP bygedra. Die regering het toe stelselmatig begin met 'n beleid van tartiefbeskerming en invoervervanging as 'n strategie om binnelandse nywerheidsontwikkeling te stimuleer. (Invoervervanging beteken dat produkte wat ingevoer is, met soortgelyke produkte vervang word wat deur plaaslike nywerhede vervaardig is. Om 'n beleid van invoervervanging toe te pas, is hoë tariewe dikwels op ingevoerde produkte gehef. Dit het verbruikers dan ontmoedig om die duurder ingevoerde produkte te k oop en aangespoor om eerder die plaaslike produkte te koop.)

Die stelselmatige beskerming van Suid-Afrikaanse nywerhede het begin met die Wet op Doeanetariewe van 1914. Presies twee maande nadat die minister van finansies voorstelle vir tariefbeskerming in die parlement ter tafel gelê het, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Dit op sigself het Suid-Afrikaanse nywerhede gestimuleer deur die groter vraag na oorlogsproudukte (voedsel, klerasie en ammunisie) terwyl Suid-Afrika ver buite die konflikgebiede geleë was. Tussen 1915 en 1919 (die tydperk van die oorlog) het nywerheidsproduksie met 65% toegeneem. Ná die oorlog het binnelandse nywerhede weer in binnelandse verbruiksvraag bevin voorsien en teen die laat 1920's het  produksie met meer as 200% toegeneem.

Die depressie en die goudstandaardkrisis het weer afplatting veroorsaak, maar die regering het ná 1924 verdere wetlike beskerming aan nywerhede verleen sodat 'n geweldige sterk oplewing in produksie plaasgevind het. Die Tweede Wêreldoorlog het binnelandse nywerheidsproduksie weer eens bevorder sodat nywerheidsproduksie teen 1950 die meeste tot die BBP bygedra het.

Die regering het binnelandse nywerheidsontwikkeling  d.m.v. wetgewing gestimuleer en terselfdertyd indiensneming van wit mense in bedrywe bewerkstellig. Hierdie twee oogmerke het op verskeie maniere aandag gekry.

In 1921 is die Raad van Handel en Nywerheid gestig om ondersoek in te stel na hoe nywerheidsontwikkeling bevorder kan word. In 1924 is 'n nuwe permanente Raad van Handel en Nywerheid gestig om die Pakt-regering raad te gee oor die bevordering van binnelandse nywerhede. Op dié raad se aanbeveling is verhoogde tariewe aangekondig deur die Wet op Doeanetariewe van 1925. Die wet het bv. vir 'n heffing van tussen 20% en 25% op die waarde van ingevoerde motors voorsiening gemaak, wat die plaaslike montering van motors aangemoedig het. In 1926 het General Motors die eerste motormonteringsaanleg in Port Elilzabeth geopen.

In 1924 is die Nywerheidsversoeningswet aanvaar wat sekere kategorieë werk vir geskoolde wit mense gereserveer en vakbonde vir swart werkers verbied het. In 1925 is die Loonwet uitgevaardig wat voorsiening gemaak het vir die instelling van die Loonraad. Dié raad het lone vasgestel vir sekere soorte werk waar werkers nie in vakbonde georganiseer was nie. Dit het veral vir ongeskoolde wit arbeid beskermde hoë lone verseker. Die Wet op Myne en Bedrywe van 1926, die sg. Kleurslagboomwet, het bepaal dat bevoegdheidsertifikate vir geskoolde vakmanne net aan wit en bruin mense uitgereik kon word. Hierdie vorm van werkreservering het wit en bruin mense bevoorregte toegang tot sekere kategorië werk gegee. Dit was 'n flagrante inmenging in die arbeidsmark wat die oordrag van vaardighede op die lange duur verwring en veral wit mense beskerm en produktiwiteit ondermyn het. Dit het wel in 'n tyd van vinnige industriële ontwikkeling gesorg dat daar genoeg geskoolde arbeid was.

In 1928 het die regering die Yster en Staal Industriële Korporasie (Yskor) gestig wat uiteindelik in 1934 in produksie gegaan het. Die staat het die meerderheid aandele in Yskor besit en die prys van yster en staal is streng beheer, totdat dit in 1989 geprivatiseer is. Deur betreklik goedkoop yster en staal aan binnelandse nywerhede te voorsien, is plaaslike nywerheidsproduksie aangemoedig. Teen 1950 het Yskor reeds altesaam 600 000 ton staal vervaardig en in die helfte van die land se staalbehoeftes voorsien.

Die regering het die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) in 1923 gestig om elektristeit svoorsiening sentraal te reguleer. In 1940 is die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) gestig, waardeur kundige advies, bestuurshulp en finansiering aan nuwe nywerhede ver verleen is. Die NOK het 'n sleutelrol gespeel om plaaslike ondernemerskap te bevorder. Die NOK h et veral vir nywerhede tegniese en finansiële hul gegee om Suid-Afrika meer selfvoorsienend t.o.v. verbruiksgoedere, voedsel en klerasie te maak. HOewel die NOk baie vermag het om binnelandse nywerhede te help vestig en uit te brei, het dit tot 'n voorkeur vir die vervaardiging van verbruiksgoedere gelei. Minder aandag is dus aan die binnelandse verwerking en veredeling van plaaslik ontginde minerale en metale gegee. Eers aan die begin van 2000 het die regering aansporingsmaatreëls ingestel o m die plaaslike verwerking van minerale en metale te bevorder.

In 1950 is die Suid-Afrikaanse Steenkool-, Olie- en Gaskorporasie (Sasol) gestig. Sasol moes brandstof uit steenkool vervaardig. Dit het in 1955 met produksie begin. Sasol het uiteindelik die wêreldleier in die vervaardiging van brandstof uit steenkool geword en het naas African Explosives and Chemical Industries (AECI) die grootste chemiese korporasie in die land geword. Die vestiging van die petrochemiese bedryf deur Sasol het 'n geweldige bydrae gelewer om vir Suid-Afrika 'n leiersposisie op die Afrikakontinent te gee.

Teen 1950 was die Suid-Afrikaanse regering 'n dominante rolspeler in die ekonomie. Vervoer (die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, of SAS&H), elektrisiteitsvoorsiening en yster- en staalproduksie is deur die owerheid beheer. Arbeid en lone is streng gereguleer en gesegregeer tot korttermyn-voordeel van veral arm wit mense, maar op lang termyn het dit baie nadelige gevolge vir arbeidsproduktiwiteit en die gehalte van nywerheidsproduksie gehad. Die beleid van tariefbeskerming en invoervervanging het gehelp om nuwe nywerheidsektore te vestig en uit te bou. Daar was veral in die ingenieursbedrywe, motorvervaardiging, die chemiese bedryf en metallurgiese ondernemings groot groei. Die beskerming van die binnelandse mark het dit ook meer voordelig vir multi-nasionale ondernemings gemaak om filiale in Suid-Afrika te vestig en hul produkte hier te vervaardig. Voorbeelde hiervan is farmaseutiese produkte vervaardig deur International Chemical Industries (ICI) van Brittanje, elektriese toebehore van AEG (Wes-Duitsland), Philips (Nederland) en GEC (die VSA), asook Steward and Lloyds (Brittanje) wat staalpype vervaardig het, sowel as die binnelandse vervaardiging van motors (Ford, Chevrolet, Volklswagen, ens.).

Die groot probleem met nywerheidsbeskerming in Suid-Afrika was dat produksie nie internasionaal mededingend was nie. Deur tariefbeskerming is meer grondstowwe vir verwerking in die plaaslike nywerhede ingevoer as waarvoor buitelandse valute deur die uitvoer van nywerheidsprodukte verdien is. Dit was die uitvoer van landbou- en mynbouprodukte wat vir die groot hoeveelhede nywerheidsinvoere betaal het. Aangesien Suid-Afrikaanse nywerheidsproduksie bedoel was om in die Suid-Afrikaanse vraag te voorsien en om die land meer selfversorgend te maak, het produksie onmededingend gebly - betreklik hoë pryse en betreklik swak gehalte. Eers teen die laaste helfte van die 1980's het die regering besef dat globalisering voortgesette handelsbeskerming oudmodies en teenproduktief maak.

Afrikaners in die ekonomie

In die eerste helfte van die 20ste eeu het Afrikaners as 'n segment van die wit bevolking doelbewus strategieë ontwikkel om 'n betekenisvolle aandeel in die ekonomie van die land te kon hê. Ná die vernietiging van die Boererepublieke was Afrikaanssprekendes in die noorde baie verarm. In die Kaap was invloedryke Afrikaners soos dr. J.H. Hofmeyr en W.A. Hofmeyr suksesvol in die landbou en sakelewe bedrywig. Hulle, e.a. welvarendes, het hulle vir die ekonomiese en opvoedkundige bevordering van mede-Afrikaners beywer.

Ná die sukses met die stigting van De Burger in 1915 en die groot fondswerwingspoging van die nasionale Helpmekaar Vereniging in 1916, het Afrikanerleiers in 1918 die Suid-Afrikaanse Nasionale Trust- en Lewensassuransiemaatskappy (Santam) gestig. Skaars twee maande daarna,  in Junie 1918, het die afsonderlike lewensversekeringsafdeling as die Suid-Afrikaanse Nasionale Lewensassuransiemaatskappy (Sanlam) tot stand gekom. Die oogmerk was om 'n Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappy te stig en om by uitstek Afrikaners se spaargeld daarvoor te mobiliseer. Tussen 1918 en 1935 het Sanlam en Santam swaar gekry, maar daarna saam met die algemene ekonomiese vooruigang van Suid-Afrika sterk gegroei.

Danksy die leierskap van Sanlam se bestuurslede het dié maatskappy 'n groot bydrae gelewer om Afrikaners op te hef. Mense soos W.A. Hofmeyr (die eerste voorsitter en besturende direktekur) en dr. M.S. Louw (die eerste Afrikaanse aktuaris) het Sanlam se rol binne 'n groter perspektief gesien. Dié maatskappy sou die voertuig wees om vir Afrikaners 'n groter aandeel in die hoofstroom-ekonomie te bewerkstellig. Dit kon net breik word deur geld van Afrikaners te belê en ondernemerskap onder Afrikaners te bevorder.

Sanlam het spaargeld deur versekeringspremies bymekaargemaak en opgehoopte geld in nuwe ondernemings belê. As 'n prominente rolspeler by die Ekonomiese Volkskongres van 1939 het M.S. Louw voorgestel dat 'n finansieringshuis gestig word om Afrikanerondernemings by te staan. Gevolglik is Federale Volklsbeleggings (FVB) in 1942 gestig, deels met Sanlam-kapitaal en deels met kapitaal van gewonde aandeelhouers. FVB het uiteindelik ook, naas beleggings in nywerhede, in die mynbousektor belê.

In 1948 het dr. Anton Rupert met 'n FVB-lening die Voortrekker Tabakmaatskappy in die Paarl gestig. Binne 15 jaar het dit gegroei tot die Rembrandt Tabakmaatskappye-groep met verteenwoordigers in 16 lande oor die wêreld heen en 'n omset van meer as £250 miljoen per jaar. Deur FVB en Rembrandt kon Afrikaners aan die hoofstroom-ekonomie begin deelneem. In 1951 het FVB en Bonuskor Federale Mynbou Beperk (Fedmyn) gestig. Bonuskor was 'n beleggingsmaatskappy wat bonusse wat polishouers in hul polisse verdien het, namens hulle belê het. Federale Mynbou is as een so 'n goeie belegging beskou. Sanlam het later ook aandele in Fedmyn gekoop. Teen 1963 het Fedmyn beheer oor die derde grootste goudmynhuis in Suid-Afrika, General Mining corporation, verkry en sodoende Afrikanerbelange in die mynbedryf verseker. FVB het ontwikkel in 'n hoogs gediversifiseerde industriële konglomeraat met beleggings in feitlik al die nywerheidsektore.

In die bankwese het die Britse imperiale banke, nl. Standard Bank en Barclays Bank DCO, die toneel heeltemal oorheers. In 1934 is Volkskas gestig deur die inisiatief van die Afrikaner Broederbond en die persoonlike entoesiasme van J.D. ("Oom Bossie") Bosman. Volkskas het stadig gegroei, want nie alle Afrikaners het hul verbintenisse met hul bestaande banke onmiddellik verbreek nie. In 1956 het dr. Jan Marais Trustbank gestig, ook met die hulp van FVB. Trustbank het die Amerikaanse banktradisie na Suid-Afrika gebring en met korttermyn- persoonlike lenings nuwe ondernemers ondersteun. In die 1920's is die Saambou-bouvereniging gestig en teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Afrikaners al 'n stewige vastrapplek in die ekonomie gehad.

Die rol wat Afrikaners in die ekonomnie gespeel het, is aansienlik vergroot deur die leidende rol wat hulle in staatsondernemings gespeel het. Hier word verwys na die rol van dr. H.J. van der Bijl in Yskkor, dr. H.J. van Eck in die NOK, dr. J.H. Laubser in die SAS&H en dr. P.E. Rousseau in Sasol. Hoewel dié posisies nie verteenwoordigend van Afrikanerondernemerskap en -kapitaal was nie, het Afrikaners leidende rolle in die sakewêreld begin vertolk. As die sakebedrywighede van die landboukoöperasies ook in ag geneem word, het Afrikaners teen 1950 'n betekenisvolle rol in die ekonomie gespeel.

In 1951 is die Tweede Ekonomiese Volklskres gehou en 'n bestekopname gedoen van die vordering wat sedert 1939 gemaak is om Afrikaners ekonomies te vestig. Vordering is wel gemaak, al was dit nie in alle opsogte dramaties nie. Tussen 1939 en 1950 het die aandeel van Afrikaners in mynbou van geen tot 1% gestyg; in die finansiële sektor van 5% tot 6%, in die vervaardigings- en konstruksiebedryf van 3% tot 5%; en in handel en sakeondernemings van 8% tot 25%. Ná 1950 het 'n ekonomiese opswaai grootliks tot 'n verstewiging van hierdie posisie bygedra.

Die staat help én verhinder, 1950-2000

Toe die meeste lande wat die Britse pond sterling as betaalmiddel gebruik het se geldeenhede in 1949 gedevalueer het, het Suid-Afrika gevolg en is die Suid-Afrikaanse pond ook gedevalueer. Dit het onmiddellik 'n verligting in die betalingsbalans teweeggebring ná 'n skerp styging in invoere tydens die onmiddellike na-oorlogse groeifase. ('n Betalingsbalans is die verskil tussen totale betalings aan die buiteland en totale verdienste vanuit die buiteland. Wanneer 'n geldeenheid gedevalueer, word die waarde daarvan minder en die produkte van daardie land goedkoper. Devaluasie beteken dus dat buitelanders heel waarskynlik sal begin om meer van die land waar die devalulasie plaasgevind het, in te voer. Dan vloei geld in so 'n land in en verbeter die betalingsbalans.)

Tussen 1950 en 1970 was daar ongekende ekonomiese groei in Suid-Afrika. Die toename in die BBP teen konstante pryse (pryse waar die skommeling van inflasie in berekening gebring word) tussen 1950 en 2000 word hieronder aangedui.

Bruto binnelandse produk (teen konstante pryse)

                      BBP (R  Miljoen)                   % Groei

1950                     119 857

1960                     186 174                              4,5                (1951-1960)

1970                     324 466                              5,7                (1961-1970)

1980                     451 983                              3,4                 (1971-1980)

1990                     525 066                              1,6                 (1981-1990)

2000                      618 666                              1,7                (1991-2000)

Hieruit is dit duidelik dat die 1960's 'n dekade van ongekende groei was. In 1963 is groei van 7,4% behaal en in 1964 van 7,9%, maar daarna het groei afgeplat tot 4,2% in 1968. Hierdie uitstekende prestasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie het baie goed met ander Statebondslande (Australië, Nieu-Seeland en Kanada) vergelyk, maar was nie naastenby op die vlak van Japan, Suid-Korea of Taiwan nie. Hoewel Suid-Afrika in die 1960's nog goed met ander Statebondslande vergelyk het, het die land sedert 1970 konstant swakker presteer. Daar is twee hoofredes hiervoor: Baie vinnige bevolkingsgroei en oormatige regeringsinmenging in die ekonomie.

Die Suid-Afrikaanse bevolking het in die 1960's met 3% per jaar gegroei (teenoor 1,2% in ontwikkelde lande) en tussen 1980 en 1996 met 2,4% per jaar, terwyl die BBP in dieselfde tydperk met minder as 2% toegeneem het. Die per capita-BBP het wel in die 1970's en 1980's wêreldwyd gedaal, maar Suid-Afrika het veel swakker presteer as lande waarmee dit in die 1960's goed vergelyk het.

Samestelling van BBP, 1960-2000

                   % Landbou       % Mynbou      %Vervaardiging      % Handel      % Finansies

1960                  12,4                 13,4                     19,3                   12,7                   3,8

1970                    8,3                  10,3                    25,2                   15,1                  11,1

1980                    6,4                  13,9                    24,4                   13,3                  12,3

1990                    5,9                  12,7                    24,5                    12,7                 13,2

2000                    2,9                    6,5                    21,9                    22,7                 22,7

Wanneer die struktuur van die Suid-Afrikaanse ekonomie ondersoek word, is dit duidelik dat nywerheidsproduksie (die vervaardigingsektor) relatief tot ander sektore gegroei het, maar swak presteer het. Tussen 1960 en 1970 het die vervaardigingsektor met 14,7% gegroei, maar daarna het groei afgeplat tot net 2,2% in die 1980's en 4,5% in die 1990's. Om die verloop van sake te verduidelik, word die ontwikkeling in die verskillende sektore om praktiese redes hierna afsonderlik bespreek.

Landbou

Die dramatiese verbetering in landbouproduktiwiteit was beperk tot wit landbou, maar dit het teen die middel van die 1980's negatief geswaai. Die produksie van mielies het van 5,2 metrieke ton in 1961 tot 8,7 t in 1982 gestyg en daarna afgeneem. Koringproduksie het van 1,4 t tot 1,98 t aan die einde van die 1980's toegeneem en in mielieproduksie was daar feitlik 'n verdubbeling in opbrengs per hektaar. Koringproduksie het tussen 1960 en 1990 viervoudig toegeneem en die opbrengs per hektaar drievoudig. Die produksie van ander graansoorte soos bv. rog en grot, het sedert die 1960's geleidelik afgeneem. Die groei in die vraag na bier sedert die middel-1970's het veroorsaak dat daar teen 1990 elf maal meer gars verbou is as in 1960.

Gedurende die 1970's het katoenproduksie sterk toegeneem, maar wolproduksie het 'n hoogtepunt bereik en daarna afgeplat. Die produksie van suiker het tussen 1960 en 1990 drievoudig toegeneem, so ook dié van sonneblomsaad en vrugte. Die groei in vrugteproduksie was hoofsaaklik te danke aan uitvoere. Met die meeste ander voedselsoorte kon produksie redelilk in die binnelandse vraag voorsien. Teen die 1970's het Suid-Afrika se wynproduksie egter veel swakker gevaar as die sterk groeiende bedryf in Kalifornië (VSA) en Australië. Behalwe pluimveeproduksie, wat deur  meganisasie in die vorm van batteryhoenders gestimuleer is, het die produksie van diereprodukte nie tred gehou met die bevolkingsgroei nie.

Die sterk toename in landbouproduksie in die algemeen kan, soos reeds genoem, toegeskryf word aan regeringsubsidies en regulering van preyse, bemarking en insette d.m.v. die bemarkingsrade. Daar is bereken dat tot 20% van boerdery-inkome (inkome is verdienste in die makro-ekonomiese omgewing, teenoor inkomste wat op persoonlike verdienste dui) in die 1960's direk van die regering afkomstig was. Binnelands is pryse kunsmatig hoog gehou om die groot boerderybevolking, onder wie die Nasionale Party-regering groot ondersteuning geniet het, tevrede te hou. Dit het egter veroorsaak dat surplusproduksie wat uitgevoer is, dikwels teen laer pryse op internasionale markte verkoop moes word. Dit was veral die geval met suiker en mielies, waar plaaslike produsente nie met produsente in die VSA of die Wes-Indiese Eilande kon meeding nie omdat hoë vlakke van staatsubsidies daar bestaan het. In 1960 was 36,8% van die goedere wat Suid-Afrika uitgevoer het landbouprodukte, maar in die middel-1980's het dit tot 20% afgeneem. Die vernaamste landbouprodukte wat uitgevoer is, was suiker, m ielies, wol en vrugte.

In die swart tuislandgebiede was landbouproduksie hoofsaaklik bestaansboerdery. Meganisasie het kommersiële landbou vir die wit boere bevorder, maar swart boere het nie dieselfde subsidie gekry waarmee hulle dieselfde prestasie kon behaal nie. Al het tuisland-ontwikkelilngskorporasies groot ontwikkelsprojekte in die swart tuislande onderneem om swart boere se "gebrek aan ondernemerskap en bestuursvermoë" tegemoet te kom, het dit beperkte sukses behaal. Die redes wat daarvoor aangevoer is,w as 'n gebrek aan konsultasie met die gemeenskap en betrokkenheid van die gemeenskap by sulke projekte.

Teen die middel van die 1980's het die internasion ale neiging tot minder regeringsinmenging en vryer markte ook in die Suid-Afrikaanse landbou posgevat. Die De Kock-kommissie het in hul verslag oor monetêre beleid (1985) voorgestel dat finansiële markte, eerder as die Reserwebank, die prys van geld moet bepaal. Dit het beteken dat rentekoerse op finansiële markte bepaal moes word en dus ook wisselkoerse. Die waarde van die Suid-Afrikaanse rand het onmiddellik begin daal terwyl rentekoerse gestyg het. Die Landbank kon nie voortgaan om die rentekoerse op boere se lenings te subsidieer nie.

In die gees van die vryemarkstelsel is arbeid ook meer geredelik toegelaat om vryer te beweeg en 'n groot aantal mense het uit die tuislande na stedelike gebiede gemigreer. 'n Groot informele sektor het gou ontstaan waardeur landbouproduksie en bemarking buite-om bestaande gereguleerde markte ontwikkel het. In 1982 was daar 'n rekord-mielie-oes en dit sou die regering R500 miljoen kos om surplusdroduksie teen laer pryse uit te voer. Daarna het die vernietigende droogte van 1982-1983 gevolg en die skrif was aan die muur vir regeringsssubsidiëring van die landbou. Sedert 1987 is verhoogde regeringsubsidies gestaak en die mark in landbouprodukte geleidelik gedereguleer. Produksiekwotas is afgeskaf, asook die regulering van bemarking. In 1992 het die ondersoekkomitee na die Bemarkingswet in sy verslag aanbeveel dat landbou gedereguleer moet word. In 1996 is die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte aangeneem wat die Landboubemarkingsraad die bevoegdheid gegee het om bestaande belangegroepe by bemarkingsregulering uit te faseer. Wetgewing is ook aanvaar om grond te herverdeel en toegang tot water te bevorder.

'n Sterker markgerigte benadering tot die ekonomie het ook in die landbou posgevat. Teen 2000 was die gevolge van die herstrukturering van landboubeleid, -beheer en -markte nog onstabiel. Dit het nie gelyk of nuwe provinsiale departemente van landbou die nodige ondersteuning aan nuwe boere kon bied nie. Gewasproduksie het meer ekstensief geword en gevolglik het indiensneming in die landbou afgeneem. (Weens die minder intensiewe produksie was daar 'n laer behoefte aan arbeid.) Minder voedsel is dus geproduseer, waardeur voedselsekuriteit in gedrang gekom het. Die opheffing van tariefbeskerming vir landbouprodukte sedert die middel-1990's, behalwe vir suiker, het 'n sterk uitvoer van landbouprodukte verdien, maar landbouproduksie het tekort geskiet teen internasionale standaarde en baie van Suid-Afrika se beste grond word tans nie optimaal benut nie.

Mynbou

Die mynbedryf se relatiewe bydrae tot die BBP het sedert 1950 stelselmatig verklein. Goud het tot omstreeks 1990 'n oorheersende rol gespeel. Goud was altyd die groot stabiliseerder van die Suid-Afrikaanse ekonomie en het daaraan 'n veel groter rol in die internasionale ekonomie besorg as wat eintlik geregverdig was. Sedert die 1990's was goud nie meer die enjin van groei in die ekonomie nie, maar ander minerale het 'n meer prominente rol begin speel. Teen 1990 het die produksie en uitvor van platinum 'n meer dominante rol begin speel. Die mynbedryf het nietemin 'n belangrike verdiener van buitelandse valute gebly en gehelp om ewewig in die betalingsbalans te bewerkstellig.

Die prys van goud het in 1971 begin styg nadat die VSA die vaste wisselkoersbedeling waarop by Bretton Woods in 1945 ooreengekom is, opgeskort het. (Ná die Tweede Wêreldoorlog het die Geallieerdes by die Bretton Woods-konferensie besluit hoe die i nternasionale monetêre en finansiële orde gereguleer sou word.) In 1971 was die prys van goud R28,64 per fyn ons. In 1973, met die eerste styging in die olieprys, het die goudprys tot meer as R100 per fyn ons gestyg. Die internasionale prys van goud het in Januarie 1980 'n rekordvlak van $850 gehaal ('n reusestyging van 2 217% tussen 1970 en 1980), waarna die prys teen 1990 weer met meer as 40% gedaal het. In 1987 is nog 16 goudmyne geoopen en ses platinummyne is in produksie gestel, wat kapitaalinvestering van meer as R6 biljoen beteken het.

Al het mynbou teen die einde van die 20ste eeu 'n betreklik kleiner rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie begin speel, het die mynbedryf indirek egter 'n veel groter invloed weens die vermenigvuldiger-effek (of sneeubal-effek) daarvan. Wanneer mynwerkers in myne afgaan om ystererts te ontgin, is daar 'n vraag na masjinerie om  hulle veilig in die myn te laat afsak; na beskermende klere; na kos; na brandstof om vragmotors en ander masjiene te laat loop, ens. Dit beteken dus dat die vraag na een kommoditeit ook vraag na aanverwante kommoditeite skep. Daar is ook ' n bykomende sosiale wins deur die ontwikkeling van menslike hulpbronne en infrastruktuur, soos behuising, skole en klinieke. Daar is ook die primêre-inkomstevermenigvuldiger omdat lone wat verdien is deur huishoudings bestee word. Daar is ook die indiensnemingsvermenigvuldiger omdat werk geskep word deurdat vraag in die mynbedryf self ontwikkel. Daar is die inkomste-ruilvoet-vermenigvuldiger weens die impak van buitelandse valutaverdienste (wanneer goud of ander grondstowwe uitgevoer word) op die betalingsbalans,  monetêre beleid en algemene sakebedrywighede in die land. In die laaste geval is die kapitaalvormingsvermenigvuldiger belangrik omdat die mynbedryf buuitelandse investering lok deur beleggings op die Johannesburgse Effektebeurs en binnelandse kapitaalvorming. (Kapitaalvorming is die besteding aan masjinerie en toerustig wat noodsaaklik is om goedere fisiek mee te vervaardig.) Die ontdekking van waardevolle ystererts-neerslae op die Orex-lyn by Sishen (in die huidige Noord-Kaap) in die 1970's het tot die bou van die wêreldklas-ysteruitvoerhawe by Richardsbaai-hawens geïinstalleer om die geweldige ystererts- en steenkooluitvoere te fasiliteer. Hierdie ontwikkeling van vragverkeersinfrastruktuur het Suid-Afrika op die voorpunt van grondstofuitvoer-tegnologie en koste vir die gebruiker van daardie fasiliteite geplaas. Hierdie momentum met infrastruktuurontwikkeling is nie ná 1994 volgehou nie. Die afname in hawevraghantering in al die Suid-Afrikaanse hawens sedert die 1990's is bewys van die geleidelike stagnasie in die instandhouding en modernisering van infrastruktuur.

--- --- ---

Infrastruktuur is die rat wat die masjiene van vervaardiging, landbou en mynbou laat draai. Paaie, spoorlyne en hawens, saam met damme en wateropgaarfasiliteite, is die verantwoordelikheid van die staat. Sedert die 1920's is damme, paaie, spoorlyne en lughawens gebou om die verkeer van goedere en mense te vergemaklik. Die bou van die Richardsbaai- en Saldanha-hawens het gelei tot die bou van spoorverbindings en paaie om die verkeer te ondersteun. Suid-Afrikaanse ingenieuirs het wêreldleierskap vertoon in die ontwerp en bou van daardie strukture. In 1976 was die jaarlikse besteding aan infrastruktuur as 'n persentasie van die BBP 8,1%. Daarna het die staat hierdie verantwoordelikheid verwaarloos en teen 2002 was daardie verhouding net 2,6%.

--- --- ---

Die mynbedryf het in die 20ste eeu 'n ander rol in die ekonomie gespeel as in die 19de eeu. Dit het veral weens die depresiasie van die rand baie duidelik geword. In 1985 kon Suid-Afrika nie alle uitstaande lenings terugbetaal nie en 'n "skuldstilstand" is verklaar. Dit beteken dat skuldterugbetaling heronderhandel is en daar op 'n nuwe, langer terugbetalingstermyn ooreengekom is. Tussen die skuldstilstand van 1985 en 1997 het die rand met 67% gedepresieer.

Die depresiasie van die Suid-Afrikaanse geldeenheid was voordelig vir Suid-Afrikaanse uitvoer (uitvoere was betreklik goedkoop) en dit het die waarde van goud- e.a. minerale uitvoer sterk laat toeneem. Die waarde van goudproduksie het gestyg weens die hoër goudprys en swakker rand, maar die fisieke volume van goudproduksie het gedaal. Die beter internasionale goudprys het eksplorasie in ander dele van die wêreld aantreklik gemaak. Goudontginning in die VSA, Brasililë, Kanada en Australië het so toegeneem dat die Suid-Afrikaanse goudproduksie van 70% van die wêreldproduksie in 1980 tot 40% in 1990 en 18% in 2000 gedaal het.

Die hoë produksiekoste van goud en veral die koste aan arbeid het tot kleiner volumes goudontginning bygedra. Steenkool het in die 1980's sterker in die mynbedryf na vore getree en platinum in die 1990's. Steenkoolproduksie het in 1969 'n geweldige hupstoot gekry toe Japan 'n kontrak gesluit het vir die koop van 25 miljoen ton  kokssteenkool oor 'n tydperk van tien jaar. Dit was nadat navorsers in die steenkoolafdeling van Anglo American Corporation (AAC) 'n nuwe metode ontwikkel het om steenkool te was om 'n beter gehalte kookssteenkool te lewer. Die kontrak met Japan en die verwagting van nuwe markte in Europa het aanleiding gegee tot die bou van 'n nuwe hawe by Richardsbaai met 'n grootmaatterminaal vir die uitvoer van steenkool.

Teen 1976 kon die eerste steenkool deur dié hawe uitgevoer word. In 1985 was die waarde van steenkooluitvoer reeds hoër as die waarde van binnelandse produksie. Nuwe tegnologie is ontwikkel om grootmaat-steenkool oor lang afstande te vervoer en dit het die vraag na steenkool in Europa en Suidoos-Asië verhoog. Dit was makliker om steenkool as ystererts oor lang afstande te vervoer, daarom het swaar yster- en staalnywerhede in Europa en Oos-Asië steenkool oor lang afstande begin invoer. Wes-Kanadese en Australiese steenkool was nader aan Oos-Asië en het daarom voorkeur geniet. Suid-Afrika se steenkool is sedert die 1980's veral na Europa uitgevoer. Algemene deregulering in die 19890's het ook gelei tot die skrapping van die regering se beheer oor die steenkoolprys. Die olieprysverhogings van 1973 en 1979 het die uitvoer van steenkool verder gestimuleer. Regoor die wêreld is toenemend na steenkool gedraai vir die opwekking van elektrisiteit as bron van energie in plaas van olie. Teen 2000 is 55,3% van steenkoolverkope in Suid-Afrika uitgevoer, hoofsaaklik na Europa. Die hawe van Richardsbaai is ook vergroot om die steenkoolhanteringskapasiteit vir uitvoer tot 84 t te verhoog.

Die ontwikkeling van die outokatalisatorproses, waardeur koolstofdioksieduitlaatgasse van motors verminder kan word, asook 'n groter vraag na platinum in die juweliersbedryf en elektronika, het platinum op die voorgrond geplaas juis toe goud onder druk gekom het. Die jaar 2000 was gevolglik van historiese betekenis vir die Suid-Afrikaanse mynbedryf, toe die waarde van die verkoop van metale in die platinumgroep R27 miljoen oorskry het. Dit was vir die eerste keer hoër as die waarde van goudverkope van R25,2 miljoen. Die markgedrewe vraag na platinum het die samestelling van mynbou in Suid-afrika vir die eerste keer sedert die ontdekking van goud verander.

Hoewel Suid-Afrika bekendheid verwerf het vir die grootte en suiwerheid van sy diamante, het diamantontginning tussen 1950 en 2000 slegs tussen 3% en 5% van totale mynbouproduksie uitgemaak. Die belang van Suid-Afrika by diamante het verder gestrek as produksie: De Beers Consolidated Mines het die Sentrale Verkoopsorganisasie beheer en op dié wyse dus beheer oor internasionale diamantpryse uitgeoefen. In 1973 het De Beers se geoloë 'n belangrike diamantpyp by Jwaneng in Botswana ontdek. Botswana het gevolglik - inter terme van waarde - die wêreld se grootste diamantprodusent geword. Teen 2000 was Suid-Afrikaanse diamantproduksie net ongeveer 10% van die waarde van wêreldproduksie.

Suid-Afrika het ook 'n verskeidenheid ander minerale en metale ontgin en teen 2000 uitegevoer - silwer, chroomerts, koper, ystererts, loodkonsentraat, mangaanerts, nikkel, asbes en graniet.

Teen die einde van die 20ste eeu was die merkwaardigste verskynsel van die mynbousektor die skerp daling in indiensneming. Indiensneming by goudmyne het vinniger gedaal as wat arbeid in die in die meer gemeganiseerde steenkool- of platinummyne opgeneem is. Dit was die gevolg van stygende lone en marginale goudneerslae. Teen 2000 was die koste van arbeid as 'n gedeelte van verkope verreweg die hoogste in goudmyne - 38,7% vir goudmyne, 21,6% vir steenkoolmyne, 16,1% vir platinummyne en 11,3% vir ystererts. Hierdie hoë koste, tesame met die vryer beweging van werkers, het daartoe gelei dat minder nie-Suid-Afrikaanse werkers en meer Suid-Afrikaners in diens van myne was.

Groei en stagnasie in die vervaardigingsektor

Danksy die grondslag wat sedert 1920 deur die beskerming van binnelandse nywerhede gelê is, het die vervaardigingsektor tussen 1950 en 1970 indrukwekkend gegroei. Die 1950's en 1960's is allerweë as dekades van buitengewone nywerheidsprestasie beskou. Dit was egter ook die oorsaak van ernstige strukturele probleme wat daarna in die ekonomie ondervind is.

Die beleid van invoervervanging en die beskerming van plaaslike nywerhede agter hoë tariefmure het teen 1970 sy doel gedien. Dit was 'n fout dat nywerhede nie uitvoergedrewe was nie. Die regering wou a.g.v. strategiese oorwegings voorkom dat 'n tekort aan ingevoerde materiaal Suid-Afrikaanse nywerhede sou kon verlam as die dreigement van sanksies uitgevoer word. Hierdie regeringsinmenging het egter daartoe gelei dat bronne wanaangewend is. Beperkings op die vrye beweging van arbeid, beheer oor die beweging van kapitaal en gebrekkige mededinging het geen aansporing gebied om arbeidsproduktiwiteit deur beter opleiding te verhoog nie. Die oliekrisisse van 1973 en 1979 het regeringsinmenging verhoog en verhoed dat beskerming geleidelik uitgefaseer word.

Die industrialisasie van die Suid-Afrikaase ekonomie het tussen 1946 en 1971 met rasse skrede vooruitgegaan toe die waarde wat tot die vervaardigingsektor toegevoeg is, in reële terme met gemiddeld 7,1% per jaar toegeneem het, terwyl die BBP-toename 5% per jaar was. Hierdie prestasie is toe te skryf aan veral die groei in die motorbedryf, yster- en staalproduksie, ingenieursbedrywe en by uitstek die chemiese bedryf.

In die motorbedryf was die plaaslike inhoud teen 1960 maar ongeveer 18% en daarom het die Raad van Handel en Nywerheid aanbeveel dat tariefbeskerming, doeanetariewe en wetlike voorskrifte oor 'n hoër plaaslike inhoud geleidelik ingefaseer word. In opeenvolgende fases sou meer en meer plaaslik vervaardigde komponente vir motorvoertuie gebruik moes word sodat 75% van plaaslik vervaardigde voertuie teen 1997 uit plaaslik vervaardigde onderdele opgebou sou wees. Die NOK het ook hulp verleen met die oprigting van die Atlantis-dieselenjinfabriek aan die Weskus om die produksie van plaaslike inhou te stimuleer. Die plaaslike-inhoudsprogram was suksesvol: Indiensneming het meer as verdubbel en vervaardigingskundigheid is opgebou, maar dit was duur. Die koste van plaaslike vervaardiging was veel hoër as ingevoerde onderdele, maar baie hoë invoertariewe het invoere geblokkeer. Teen 1973 was daar 420 motormodelle op die Suid-Afrikaanse mark. In die 1980's het Austin, Fiat, Renault, Peugeot en Chrysler hul aanlegte gesluit weens hul ondersteuning van die internasionale sanksieveldtog teen die Suid-Afrikaanse binnelandse beleid van afsonderlike ontwikkeling. Ander, waaronder Ford en Mazda, het hul werksaamhede gekonsolideer. Die suksesse met motorvervaardiging was gemeng: Hoogs tegnologies gevorderde komponente moes steeds ingevoer word en die uitvoer van Suid-Afrikaans vervaardigde voertuie het eers laat in die 1990's begin. Motorvervaardiging het dus steeds druk op die betalingsbalans geplaas.

Die yster- en staalvervaardigingsektor het grootliks baat gevind by die ontwikkeling in die motorsektor, en omgekeerd. Goedkoop yster en staal was beskikbaar. Die groot vraag na staal het tot die oprigting van Highveld Steel and Vanadium deur AAC by Witbank (nou eMalahleni) in 1968 gelei. Teen die einde van die 1980's het die aanleg reeds meer as een metrieke ton staal vervaardig en die wêreld se grootste vervaardiger van vanadium (wat gebruik word om staal te verhard) geword. Yskor het die produksie by sy aanlegte in Pretoria en Vanderbijlpark ook geweldig uitgebrei - tot vier miljoen ton per jaar teen 1973. 'n Nuwe hawe vir die uitvoer van ystererts is by Saldanhabaai gebou om ystererts van die oopgroefmyn by Sishen, 860 km daarvandaan, uit te voer. Uitvoer het in 1976 begin. Yskor het ook na Newcastle uitgebrei.

Die metaal- en ingenieursbedrywe het natuurlik hierby baat gevind en teen einde 1979 het hierdie sektor produksie van meer as R11 miljard per jaar gelewer. Daaronder was die vervaardiging en herstel van wapentuig en ammunisie. Gevolglik is daar in 1967 besluit om die Krygstuigkorporasie van Suid-Afrika (Krygkor) te stig. Die uitbreiding van wapentuigvervaardiging het ook die elektroniese bedryf gestimuleer sodat Bill Venter Altron in 1965 gestig het om elektriese en elektroniese ingenieursproduksie te onderneem.

Die indrukwekkendste groei was in die chemiese bedryf rondom Sasol. Sasol het sedert 1961 geleidelik wins begin toon en weldra begin met die vervaardiging van rubber, plastiek, verf, sepe, kunsmis e.a. chemiese byprodukte. AECI het veral op chemikalieë en verf gekonsentreer en Sentrachem op kunsmis en farmaseutiese produkte. Die oliekrisisse van 1973 en 1979 het Sasol aangespoor om nuwe tegnologie te ontwikkel om ook brandstof uit gas te vervaardig. Sasol het so vinnig uitgebrei dat Sasol 2 en Sasol 3 onderskeidelik in 1983 en 1985 by Secunda in produksie gegaan het. Sasol se omset het tussen 1960  en 1985 van R1,4 miljoen tot meer as R5 000 miljoen gestyg. Sasol het egter groot regeringsubsidies ontvang, al het die maatskappy in 1979 op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer. Finale regeringsubsidies aan Sasol is eers teen 2005 volledig beëindig. Sasol het Suid-Afrika geweldige trots besorg deur internasionaal die leiding te neem met die ontwikkeling van tegnologie om natuurlike aardgas in brandstof te verander en deur in meer as 25% van die plaaslike vraag na brandstof te voorsien.

Die groei van vervaardiging het teen die 1970's begin afplat. Verskeie faktore was daarvoor verantwoordelik, waronder arbeid en vakbonde, olile, binnelandse onrus, sanksies en skuld. Dit kry hieronder aandag.

Arbeid en vakbonde

In die tyd van sterk ekonomiese groei was daar 'n groot vraag na arbeid. Wit arbeid het gedurende die 1960's maar met 2% per jaar toegeneem, terwyl die ekonomie met gemiddeld 5% gegroei het. Daar was duidelik tekorte aan arbeid, veral geskoolde arbeid. Die gevolg was dat werkreservering ingevolge art. 77 van die Nywerheidsversoeningswet van 1956 toenemend geïgnoreer is. Nyweraars en sakelui het eenvoudig swart, bruin en Indiërwerkers aangestel in betrekkings wat eintlik vir wit mense gereserveer was omdat die vraag na wit arbeid nie versadig kon word nie.

Die South African Employers' Consultative Committee on Labour Affairs (Saccola) - die verteenwoordigende liggaam van tien groot werkgewers - het reeds in 1977 onderneem om hulle vir die uitwissing van alle rassediskriminasie in indiensneming te beywer. Voortgesette rassediskriminasie in die werkplek is toenemend gekritiseer omdat dit tot 'n nie-optimale toewysing van bronne gelei het. In werklikheid het die druk op apartheid deur ekonomiese realiteite breekpunt bereik. Die oliekrisisse het die hele wêreldekonomie in resessie geplaas en Suid-Afrika het dit ook ervaar.

Die regering het gevolglik in 1977 twee kommissies van ondersoek aangestel. Die Wiehahn-kommissie van ondersoek na arbeidswetgewing het ondersoek ingestel na die organisasie van arbeid in vakbonde en die Riekert-kommissie het ondersoek ingestel na die aanwending van mannekrag. Die Wiehahn-kommissie het aanbeveel dat die definisie van 'n "werknemer" gewysig moet word om swart mense in te sluit en sodoende die weg te baan om aan swart mense volle reg te besorg om hulle in vakbonde te organiseer. Al het die regering nog probeer om wit en swart vakbonde afsonderlik te hou, is alle sodanige voorskrifte in 1984 afgeskaf om die vrye lidmaatskap van vakbonde wettig te maak. Tientalle nuwe vakbonde, veral swart vakbonde, het die lig gesien. Die optrede van die vakbonde was baie militant, maar dit k an toegeskryf word aan die feit dat swart mense geen politieke partye in Suid-Afrika gehad het om hul mening direk te verteenwoordig nie. Die Riekert-kommissie het bevind daar was geen samehangende regeringstrategie m.b.t. arbeidsvoorsiening nie en daarom was die mark vir arbeid ernstig onstabiel en verwronge. Die kommissie het ook aanbeveel dat swart verstedeliking toegelaat moet word sodat vraag en aanbod die toewysing van arbeid kon reguleer.

Die implikasies van hierdie twee kommissies se voorstelle was dat owerheidsinmenging in die ekonomie, in hierdie geval m.b.t. die arbeidsmark, beëindig moet word. Die gevolg was dat swart vakbonde in 1979 gewettig en instromingsbeheer in 1986 afgeskaf is. Tussen 1979 en 1982 is feitlik alle werkreservering afgeskaf. Omdat hierdie vakbonde ook die uitlaatklep vir politieke aspirasies geword het, het swart vakbonde militant opgetree en groot ontwrigting in die ganse ekonomie meegebring - ook in nywerheidsproduksie.

Die wêreldresessie en binnelandse onrus

Die styging in oliepryse in 1973 en 1979 het inflasie wêreldwyd die hoogte laat inskiet en tot 'n wêreldwye resessie gelei. Suid-Afrika kon nie daaraan ontkom nie. Dit het juis gekom in 'n stadium toe die Suid-Afrikaanse regering begin het om weg te beweeg van invoervervanging, kwantitatiewe beperkings op invoer en tariefbskerming.

In 1972 het die Reynders-kommissie van ondersoek na uitvoere aanbeveel dat industrialisasie eerder deur uitvoer as deur invoervervangingsmaatreëls bevorder moet word. Toe Suid-Afrika met 'n uitvoerstrategie begin het, was die wêreld kniediep in 'n resessie. In 1994 het die Wêreldbank in 'n studie oor die Suid-Afrikaanse ekonomie verklaar daar is twee groot probleme. Te veel klem is eerstens op kapitaalintensiewe vervaardiging (bv. Kryger en verdedigingsproduksie, asook Sasol en brandstofproduksie) geplaas en tweedens op verbruiksproduksie vir die binnelandse mark i.p.v. vir internasionale markte.

In 1976 het onluste in Soweto begin en dwarsoor die land versprei. Teen 1986 is 'n noodtoestand afgekondig en internasionale druk op die regering, in die vorm van handelsanksies en investeringsonttrekking en -boikotte,  het gevolg. In 1985 het Chase Manhattan Bank e.a. Amerikaanse banke geweier om lenings van Suid-Afrikaanse banke "om te rol" (die terugbetalingstermyn te verleng) en in 1986 is 'n omvattende ooreenkoms vir die terugbetaling van totale uitstaande buitelandse skuld van Suid-Afrikaanse banke van $13,6 miljard onderhandel. Al het pres. Ronald Reagan van die VSA en Margaret Thatcher, premier van Brittanje, lank teen sanksies gepleit, het die Verenigde Nasies handelsanksies goedgekeur. Buitelandse investering het sedert 1980 konstant gedaal en was sedert 1985 negatief teenoor Suid-Afrika. Groot internasionale ondernemings het hulle aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek (bv. IBM, Kodak en General Motors).

Hierdie internasionale reaksie het die land se n ywerheidstrategie - wat op uitvoere wou fokus - min kans op sukses gebied. Die politieke veranderinge van 1994 en die ondertekening van internasionale handelsverdrae in 1995 het vervaardigingsuitvoer u iteindelik geleidelik begin stimuleer.

Die dienstesektor

Suid-Afrika het reeds sedert die laaste helfte van die 19de eeu 'n betreklik goed ontwikkelde bank- en finansiëledienstesektor gehad. Dit was grotendeels toe te skryf aan die stabiliserende rol wat die imperiale banke, nl. Standard Bank en die African Banking Corporation (ABC), gespeel het. Ná 1926 is die ABC deur Barclays Bank oorgeneem en het dié bank saam met Standard Bank die banktoneel oorheers met hul kapitaalsterk Britse aandeelhouers en konserwatiewe benadering tot die bankwese.

Soos reeds genoem, is Volkskas in 1934 en Trustbank in 1956 met Afrikanerkapitaal as Suid-Afrikaanse banke gestig. Die Nederlandse Bank (later Nedbank) was ook reeds sedert 1888 op die toneel. al hierdie banke het takke regoor die land oopgemaak om bankdienste aan sowel p rivaat individue as ondernemings te lewer.

In 1923 is die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gestig wat toesig hou oor die werksaamhede van banke en algemene monetêre beleid bepaal. Die eerste bankwetgewing van 1942 het die funksies van banke uiteengesit en vereis dat daaaroor aan die SARB verslag gedoen moet word. Met die sterk ekonomiese groei van die 1950's en 1960's het nuwe soorte banke ontstaan, bv. huurkoopbanke, beleggings- of investeringsbanke en bouverenigings. In 1965 is die Bankwet aangepas om verskillende soorte banke verskillend te reguleer.

Teen die laat 1960's het 'n aktiewe geldmark ook ontwikkel en was daar 'n groeiende vraag na finansieringskapitaal. Die groot handelsbanke het geleidelik meer finansiële dienste onder een dak byeengebring as wat tradisioneel die funksie van handelsbanke was. So het Standard Bank, Barclays Bank, Volkskas en Nedbank elk hul eie investeringsbank, industriële bank en huurkoopbank onder 'n oorkoepelende beheermaatskappy saamgevoeg met gewone handelsbanke. Tegnologiese ontwikkeling, veral rekenarisering, het banke in staat gestel om 'n groter verskeidenheid produkte aan te bied. Banke het teen die 1970's ook begin om verbande op eiendom toe te staan en om versekeringsagente te huisves.

Teen 1973 het die regering bepaal dat buitelandse aandeelhouers nie meer 'n meerderheidsaandeel in Suid-Afrikaanse banke mag hou nie. So het Barclays se Britse aandeelhouers hul belange in 1985 aan die Southern Life-versekeringsmaatskappy verkoop. Teen die 1990's het die drie groot versekeringsmaatskappye, nl. Old Mutual (Nedbank), Liberty (Standard Bank) en Sanlam (volskas, elk 'n beherende aandeel in een van die groot bankgroepe gehad.

In 1985 het die president van die SARB, dr. Gerhard de Kock, in sy verslag oor monetêre beleid in Suid-Afrika aanbeveel dat die streng en direkte beheer oor banke gewysig moet word om by die internasionale tendens van markregulering aan te sluit. Die Bankwet is daarom in 1992 verander sodat bouverenigings bankfunksies kon kry en omgekeerd. Die vryemarkbeginsel sou geld en onder die toesig van die SARB in alle banke en finansiële instellings toegelaat om dieselfe soort sake te doen. Dit het gou daartoe gelei dat van die groot bankgroepe die kleiner bouverenigings oorgeneem het. Nedbank het bv. die Permanente Bouvereniging oorgeneem en die United-bouvereniging het saam met Volkskas, Trustbank en die Allied-bouvereniging 'n nuwe groot bankgroep, Amalgamated Banks of South Africa (Absa), gevorm. Hierdie verwikkeling in die bankwese het groot kostebesparing meegebring.

Hierdie bankgroepe, wat deur die Suid-Afrikaanse versekeringsmaatskappye beheer is, het hoofsaaklik in die binnelandse mark diens gedoen, omdat valutabeheer en SARB-toesighouding internasionale transaksies streng beheer het. (Valutabeheer verwys na beperktende maatreëls van die owerheid wat burgers verbied om sonder toestemming van die SARB meer as 'n sekere bedrag geld uit die land te neem.) Vir die regering was beheer oor die banke van strategiese belang - daarom moes die banke Suid-Afrikaanse maatskappye onder Suid-Afrikaanse beheer wees.

Nadat Barclays sy belange aan Southern Life verkoop het, het die bank sy naam in Suid-Afrika na Eerste Nasionale Bank (ENB) verander. In 1997 het Rand Aksepbank, wat deur die Afrikaners Laurie Dippenaar, G.T. Ferreira en Johann Rupert gestig is, 'n beherende aandeel in ENB gekoop om die First Rand Group te vorm. so het Afrikanerbelange teen 2000 'n redelik sterk rol in die finansiële sektor gespeel. Hoewel aandeelhouding nie uitsluitlik in Afrikaners se hande was nie, het Absa en die First Rand Group ontstaan uit banke en versekeringsorganisasies met 'n onmiskenbare Afrikaneroorsprong. Dit was grotendeels aan Afrikaners in die finansiële sektor te danke dat die aandeel van Afrikaners aan die privaatsektor- en ekonomiese belange teen 1975 reeds 25% oorskry het. Dit is merkwaardig as in ag geneem word dat dié syfer teen 1948-1949 slegs 9,6% was.

Naas die geweldige uitbreiding van die finansiële sektor was daar ook die ontwikkeling van rekenaarondernemings, telekommunikasie en professionele ouditeursgroepe in die dienstesektor. Die bankwese met sy uitgebreide funksies, gesofistikeerde geldmark- en aksepbank-operasies het uitstekend met dié van ander Statebondslande vergelyk. Eers ná 1994 het hulle die internasionale markte geleidelik op redelik uitgebreide skaal betree. Die SARB het banke eers in 1993 toegelaat om nuwe buitelandse kantore te open en buitelandse banke toegelaat om in Suid-Afrika kantore te vestig. Suid-Afrikaanse maatskappye het buitelandse maatskappye geleidelik ná 1994 as filiale gevestig of oorgeneem.

Die globarisering van die Suid-Afrikaanse ekonomie het in werklikheid eers in 2000 begin. Die land het steeds 'n besonder oop ekonomie weens die betrklik groot rol van buitelandse handel in die BBP. Suid-Afrika het egter sy internasionale aantreklikheid verloor omdat goud gedemonetiseer is (wanneer 'n geldeenheid nie meer aan goud gekoppel word en sy waarde nie afhang van hoeveel goud 'n land het nie). Ander lande het Suid-Afrika gevolglik verbygesteek in algemene ekonomiese prestasie en die ontginning van goud e.a. minerale. Die volle voordeel van die vryemark- ekonomiese stelsel word tans ook aan bande gelê deur beleid wat op die ekonomiese bemagtiging van bepaalde histories benadeelde groepe gerig is.

Grietjie Verhoef

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5