Suid-Afrika ná apartheid, 1994-2004

Die-Suid-Afrika wat in 1994 gestalte gekry het, sou nooit weer dieselfde land wees as die een wat bykans vier en 'n halwe dekade lank op 'n rassegrondslag bestuur is nie. Die African National Congress (ANC) het die eerste demokratiese verkiesing in April 1994 gewen deur 62,7% van die steun (12,2 miljoen stemme) op hom te verenig. Daarmee is die apartheidsbewind van bykans 46 jaar beëindig.

Ingevolge die tussentydse grondwet sou 'n regering van nasionale eenheid (RNE) vir die volgende vyf jaar regeer. Daarvolgens kon enige party met twintig om meer setels in die Nasionale Vergadering op een of meer kabinetsportefeuljes aanspraak maak. Hoewel die ANC die meerderheid setels in die Nasionale Vergadering gekry het en dus op sy eie 'n regering kon vorm, het die Nasionale Party (NP) en die Inkatha Vryheidsparty (IVP) gebruik gemaak van die bepalings vir 'n RNE.

Die minderheidspartye wat die beste in die verkiesing gevaar het, kon ook kandidate vir ministers- en adjunk-ministersposte benoem, asook vir die twee adjunk-presidentsposte. Dieselfde formule het in die provinsiale regerings gegeld. F.W. de Klerk, leier van die Nuwe Nasionale Party of NNP (soos die NP ná 1994 herdoop is), het een van die twee adjunk-presidente geword saam met Thabo Mbeki van die ANC. Die NNP het ook vyf addisionele nasionale kabinetsposte ontvang en die IVP drie.

Suid-Afrika se tussentydse grondwet wat op 27 April 1994 aanvaar is, was een van die liberaalste grondwette ter wêreld. Dit het o.m. vir ' n Handves van Regte (Bill of Rights), 'n Menseregtekommissie en 'n Kommissie vir Geslagslykheid voorsiening gemaak. Die finale grondwet wat in 1996 aanvaar is, het die tussentydse een in wese bevestig. Die belangrikste verskil tussen die tussentydse en die finale grondwette was die daarstelling van 'n Nasionale Raad van Provinsies wat die Senaat vervang het. Voorts sou dit ná die 1999-verkiesing ook nie meer vir die regering verpligtend wees om lede van ander partye verteenwoordiging in die kabinet of provinsiale wetgewers te gee nie. Dit sou die einde van magsdeling op sentrale regeringsvlak beteken.

Die leierskap van Nelson Mandela

Heelparty uitdagings het op die nuwe regering van pres. Nelson Mandela gewag - en spesifiek op die oorheersende ANC-komponent. Dié party, wat feitlik geen ervaring in landsbestuur gehad het nie, moes in sy regeringsrol terselfdertyd die ongelykhede van die verlede takel én nasionale eenheid in 'n hoogs verdeelde land nastreef. Die ANC moes op die hoogste vlak met sy tradisionele "vyand", die Nasionale Party, saamwerk en met 'n fel teenstander in die onlangse swart politiek, die IVP. Voorts moes die party 9o9ok die belange van sy verkiesingsbondgenote, die Suid-Afrikaanse Kommunnistiese Party (SAKP) en die Congress of South African Trade Unions (Cosatu), in aanmerking neem.

Om homself van 'n bevrydingsbeweging tot 'n nasionale regering te transformeer, was op sigself 'n potensieel moeisame proses. Baie sou van die vermoëns en gesindheid van die nuwe president afhang. Mandela het bykans 27 jaar in die tronk deyrgebring en het 'n nasionale en internasionale simbool van die stryd teen apartheid geword. Gedurende daardie jare het hy merkwaardige leierskap en verdraagsaamaheid getoon. Daarbenewens het sy buitengewone politieke behendigheid baie duidelilk uit die onderhandelinge met die De Klerk-regering vir 'n nuwe bestel ná 1990 geblyk.

Oudpres. De Klerk het opgemerk dat Mandela die vermoë gehad het om elkeen wat hy ontmoet het, spesiaal te laat voel. Die nuwe president het i nderdaad 'n simbool van nasionale versoening geword en die beliggaming van die reënboognasie (so genoem deur aartsbiskop Desmond Tutu). Mandela het uitgereik na wit Suid-Afrikaners, wat dit baie op prys gestel het. Daarby was hy besonder sensitief oor die Afrikaner se kultuurerfenis en onwillig om Afrikaanse plekname te laat verander. Vir baie sportmanne en -vroue het hy 'n ikoon geword,. Almal sou onthou hoe hy in die sSpringbok-kaptein Francois Pienaar se rugbytrui op die veld verskyn het nadat die Springbokke die Wêreldbeker vir rugby in 1995 gewen het.

Mandela was weliswaar verbind tot tnasionale eenheid, maar dit het nie noodwendig beteken dat hy tot elke prys bereid sou wees om met De Klerk en sy NNP-kollegas saam te werk nie. Teen die einde van 1996 het De Klerk die NNP aan die regering van nasionale eenheid onttrek omdat hy gemeen het die ANC was nie ernstig oor magsdeling nie en het kleiner party eenvoudig verontagsaam wanneer dit by belangrike sake kom. Daarbenewens het De Klerk nie gehou van die wyse waarop Mandela hom tereggewys het wanneer hy sy reg om die regering te kritiseer, verdedig het nie. Hy het aangevoer die ANC skryf die agenda in die kabinet voor en het gekla omdat Mandela e.a. ANC-kabinetslede hom nooit enige erkenning gegee het nie vir sy pogings om buitelandse beleggings na Suid-Afrika te lok deur steun vir die nuwe poliltieke bedeling te werf. Toe Mandela die NNP in Septembr 1995 in die openbaar aanval en die ANC hom daarteen uitspreek dat die beginsel van magsdeling in die finale grondwet opgeneem word, het De Klerk besluit verdere deelname aan die RNE is futiel. Sommige van sy kollegas het bedenkinge oor sy standpunt gehad, maar die meerderheid het sy aanbeveling gesteun om aan die regering te onttrek.

Mandela was in vele opsigte 'n realistiese en eredelike staatsman. Nog voordat hy aan bewind gekom het, het hy besef van die ANC se sosialistiese doelwitte was nie langer haalbaar nie en hy was bereid om die kundigheid van wit mense wat nie aan die ANC behoort het nie, te gebruik. Voorbeelde hiervan was die opname van mense soos Derek Keys en Chris Liebenberg in sy kabinet en die benutting van amptenare van die vorige bewind. Die internasionale wêreld het toenemend van sy dienste as vredesbemiddelaar gebruik gemaak, wat sy internasionale status nog verder verhoog het.

Op die tuisfront het hy dit as sy hooftaak besku om 'n nuwe nasie te bou. Daarom het hy praktiese bestuursaangeleenthede dikwels aan sy adjudant, Mbeki, oorgelaat. Moontlik was hy nie betrokke genoeg by die daaglikse landsbestuur nie, vandaar die onvermoë van sommige staatsdepartemente om behoorlik te funksioneer. Daar kan ook geredeneer word dat die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP) wat daarop gemik was om basiese sosiale dienste aan benadeelde samelwings te lewer, te gou laat vaar is.

Mandela se regeringstydperk het 'n besliste breuk met die verlede en die begin van 'n nuwe era verteenwoordig. Belangrike hervormings, waaronder grondhervorming, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, is van stapel gestuur. Aansienlike vordering is ook gemaak om nasionale eenheid te bevorder.

--- --- ---

Mandela - die nasiebouer

Nelson Rolihlahla Mandela is op 18 Julie 1918 in Mvezo naby die huidige Mthatha in die Transkei gebore as seun van die hoofraadgewer van die opperhoog. Hy het aan die Methodist college of Healdtown en aan die Universiteit vn Fort Jare gestudeer voordat hy hom in Johannesburg gevestig het. Hy het as klerk in 'n regsfirma gewerk terwyl hy aan die Universiteit van Suid-Afrika en daarna aan die Unversiteit van die Witwatersrand gestudeer en 'n regsgraad verwerf het.

Gedurende die 1950's was hy en Oliver Tambo - wat later president van die ANC geword het - vennote in 'n regsfirma in Johannesburg. Albei was betrokke by versetpolitiek as lede van die Congress Youth League (CYL) van die ANC. Die CYL het 'n lewenskragtige politieke beweging geword, veral gedurende die 1940's. Aanvanklik het Mandela die Afrikanistiese ideaal van die CYL onderskryf. Dit het die credo uitgedra dat Afrika aan die Afrikane (inheemse swart mense) behoort; dat 'n trots op Afrika-tradisies gekweek moet word; en dat die afrikane hul eie bevryding self moet verwesenlik sonder die bystand van nie-Afrikane.

Van 1947 het Mandela as lid van die uitvoerende komitee van die Transvaalse ANC gedien. In die 1950's het hy sy Afrikanistiese standpunt hersien en nou nie-rassigheid as basis vir die politieke bestel van Suid-Afrika as mikpunt gesien. Dit sou beteken dat 'n politieke bondgenootskap met wit liberale, bruin mense en Indiërs 'n meer doeltreffende bolwerk teen apartheid sou vorm. Weens sy bedrywighede in die weerstandspolitiek is hy verban en in Desember 1956 gearresteer, daarna van hoogverraad aangekla, maar ná 'n marathon-verhoor wat eers in 1961 geëindig het, saam met sy medebeskuldigdes vrygelaat.

Ná die Sharpeville-tragedie in 1960 is sowel die ANC as die PAC verban. Mandela het ondergronds gegaan en die land verlaat om oorsee steun vir die bevrydingstryd te werf. Hy  het ook opleiding in Algerië ontvang en terselfdertyd die stiging van 'n ondergrondse beweging beplan. Terwyl hy steeds ondergronds wqas, het hy Umkhonto we Sizwe) (vertaal as Spies van die Nasie) gestig. MK, soos dit algemeen bekend was, het sabotasie gepleeg teen teikens wat met die apartheidsregering verbind was. Geweld teen burgerlikes was verbode, hoewel "sagte teikens" met verloop van tyd onvermydelik slagofffers van die bevrydingstryd geword het.

Mandela se bewegings het geheim gebly totdat hy in Augustus 1962 gearresteer is. Hy is saam m et ander MK-leiers in die sg. Rivonia-hofsaak van 1963 verhoor. In sy verdedigingspleidooi het hy aangevoer dat hy sy hele lewe lank teen wit sowel as swart oorheersing geveg het. Hy is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Terwyl hy 'n gevangene op Robbeneiland was, het hy baie gedoen om die omstandighede van ander gevangenes te verbeter. Met verloop van tyd h et sy gevangenskap 'n internasionale aangeleentheid geword en eise dat hy vrygelaat word, het toegeneem in die troebel tye van die 1980's. In 1982 is hy na die Pollsmoor-gevangenes oorgeplaas.

In 1985 het pres. P.W. Botha aangebied om hom vry te laat op voorwaarde dat hy geweld afsweer, maar Mandela was nie bereid om 'n kompromis aan te geen en swart mense se vryheid vir sy eie op te offer nie. In die laat-1980's het gesprekke tussen hom en verteenwoordigers van die regering (veral met Kobie Coetsee) die weg vir sy vrylating gebaan. Nege dae ná De Klerk se toespraak op 2 februarie 1990, waartydens die verbod op die ANC e.a. bevrydingsorganisasies opgehef, het Mandela uit die Victor Verster-gevangenis in die Paarl gestap.

Gedurende die vroeë 1990's het gesprekke oor ' n nuwe grondwet begin en ná 'n uitgerekte onderhandelingsproses is daar op 'n tussentydse grondwet ooreengekom. In 1993 het Mandela en De Klerk gesamentlik die Nobelvredesprys ontvang. Ná die verkiesing in 1994 het Mandela as leier van die seëvierende ANC die eerste president van 'n demokratiese Suid-Afrika geword.

--- --- ---

Die bewind van Thabo Mbeki, 1999-2004

As verteenwoordiger van die buit3elandse faksie van die ANC het Mbeki in die mddel-1980's 'n belangrike rol gespeel om bande met wit Suid-Afrikaners te smee, onder wie sakelui wat met die ANC wou praat. Gedurende die grondwetlike onderhandelinge met die De Klerk-regering was Mbeki deel van die ANC se onderhandelspan. Hoewel sy invloed teen die vroeë 1990's by tye skynbaar afgenee het, het hy homself weer voor die eerste demokratiese verkiesing laat geld. As Mandela se adjunk-president is Mbeki geoormerk om die volgende president te word.

Sy bestuurskundigheid het van toenemende belang geword ná die aanvaarding van die finale grondwet in 1996. Sy "I am an African"-toespraak wat hy by daardie geleentheid gelewer het, het wyd beïndruk en word vandag steeds aangehaal. Hy is geprys vir sy versiendheid om in hierdie tyd finansiële beleidsvorming te beïnvloed en om bekwame individue soos Trevor Manuel vir sleutelposte in die departement van finansies aan te beveel.

Nadat Mbeki die bewind oorgeneem het, was transformasie hoog op die agenda en regstellende aksie is aansienlik verhaas. Onder sy bewind is groot pogings aangewend om fiskale dissipline te verseker, staatsuitgawes te verminder en korrupsie teen te werk. Ten spyte van kritiek uit kommunistiese oorde, het die nuwe president goeie betrekkinge met die sakesektor gehad. Buitelandse sake het 'n hoë prioriteit geniet en Mbeki het self 'n aansienlike deel van sy tyd aan buitelandse besoeke bestee. (In die laaste jare van sy bewind is hy egter gekritiseer oor die lang tydperke wat hy uit die land was.)

In een opsig het Mbeki aansienlik afgewyk van Mandela se benadering: Hy was minder geneig om wit Suid-Afrikaners tegemoet te kom en die transformasie van die Suid-Afrikaanse samelewing het onder hom 'n baie  hoë prioriteit geniet. Dit het nie beteken dat hy konfrontasie gesoek het nie. Inteendeel, hy het stewige bande met Afrikanerakademici soos prof. Willlie Esterhuyse behou en by geleentheid gewys op die noodsaaklikheid dat die regering die steun van die wit middelklas wen. Hy het ook by geleentheid verskillende Afrikanergroepe ontmoet (ook nadat hy reeds president was) om sake m.b.t. die Afrikaanse taal en kultuur te bespreek.

Mbeki se geneigdheid om ras as 'n bepalende faktor in talle sosiale verskynsels te beskou, het egter opgeval. Sy openbare uitspraak in Mei 1998 waarin hy verwys het na die bestaan van twee nasies in Suid-Afrika - een swart en arm, die ander wit en welvarend - is wyd deur wit ekonomie en politieke kommentators gekritiseer, In vergelyking met die breër Suid-afrikanisme wat Mandela verkondig het, was Mbeki Afrikanisties ingestel.

Die kontras tussen Mandela en Mbeki was opvallend. Mbeki was geensins 'n charismatiese leiersfiguur nie; sy leierskapstyl was neer gereserveerd en hy was geneig om mag te sentraliseer. Sy leierskapstyl wat dikwels ook as outoritêr beskryf is, het ook veel meer kritiek ontlok as dié van Mandela. James Myburgh, 'n politieke ontleder, skryf Mbeki se opkoms toe aan die skepping van 'n netwerk van persoonlike ondersteuners in invloedryke posisies, terwyl onafhanklike denkers binne die ANC heeltemal eenkant toe geskuif is. Alle belangrike besluite is in die binnekring van Mbeki se ondersteuners geneem, dikwels ten koste van doeltreffende administrasie. Op terreine war die president glad nie ingemeng h et n ie, het besluiteloosheid hoogty gevier.

'n Verdere punt van kritiek was Mbeki se onverdraagsaamaheid teenoor meningsverskil. Juis weens die toenemende sentralisasie van mag onder sy bewind, het die parlement sy status as forum vir debatte begin verloor. Mbeki die meesteronderhandelaar het 'n verstommende fyngevoeligheid vir kritiek geopenbaar, veral wanneer dit van die liberale wit opposisie en die pers gekom het.

Hoewel sy "stille diplomasie" teenoor Zimbabwe en onbuigsame siening oor die veband tussen die MI-virus en vigs volgehoue kritiek in Suid-Afrika en die buiteland ontlok het, het min mense sy vermoë ontken om Afrika in 'n nuwe rigting te stuur. Die meeste buitelandse regerings en sakeleiers het hoë agting vir hom gehad. Mbeki was 'n progressiewe leier wat in die voordele van die tegnologiese revolusie geglo en skynbaar ook nie getwyfel het aan die vermoëns van die nuwe politieke elite om die land ná 1994 suksesvol te regeer nie.

Hy was egter 'n uiters bekwame politieke bestuurder, onderhandelaar en strategiese denker wat eerder agter die skerms as op die politieke verhoog gewerk het. In die konteks van nasiebou mag hy weliswaar nie so suksesvol as Mandela gewees het nie, deels omdat hy geneig was om die ongelykhede van die Suid-Afrikaanse samelewing te oorbeklemtoon. Nogtans het sy ondervinding en pragmatisme dikwels sy tekortkominge gebalanseer wanneer belangrike nasionale sake op die spel was.

--- --- ---

Mbeki: die onderhandelaar

Thabo Mvuyelwa Mbeki is op 18 Junie 1942 in Mbewuleni naby Idutywa op die Transkeise platteland gbore. Hy h et aan St. John's college in Mthatha gematrikuleer en daarna 'n graad deur korrespondensie verwerf voordat hy 'n meestersgraad in die ejkonomie aan die Universiteit van Sussex in Brittanje behaal het.

As seun van twee belangrike ANC-aktiviste, Govan en Epainette Mbeki, het hy ondergronds vir die verbanne ANC in Suid-Afrika gewerk en ook militêre en politieke opleiding in die Sowjetunie ontvang. Mbeki het daarna in die Londense kantoor van die ANC as politieke sekretaris vir die president van die ANC, Oliver Tambo, gewerk en terselfdertyd as die ANC se direkteur van inligting en publisiteit gedien. As senior diplomaat het hy in verskeie Afrikalande gewerk en in 1975 lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee geword.

Ondanks sy verbintenisse met die Sowjeunie was Mbeki nie 'n geesdriftige kommunis of militêre leier nie. Sy historiese bewussyn is wel deur 'n Marxistiese ontleding van die Suid-Afrikaanse samelewing gevorm. Volgens Mbeki was die verslawing van die swart mense die resultaat van 'n ooreenkoms tussen wit Afrikaners en Engelssprekendes om 'n bestendige vloei van goedkoop swart arbeid te verseker. Swart mense het dus die "uitgebuite produseerders" geword. Hierdie verklaring het vir Mbeki die sentrale tema van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gevorm.

'n Bepaalde dualisme in Mbeki se politieke filosofie was deel van sy enigmatiese persoonlikheid. Hy was verbind tot nie-rassigheid, soos verskans in die ANC se Vryheidsmanifes (Freedom Charter), maar hy was ook 'n Afrikanis wat sterk gevoel het oor die bevordering van die kontinent se belange. Hy het egter ook laat blyk dat hy 'n praktiese denker was en was onder die ANC-leiers wat geglo het dat die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) veels te magtig was om militêr verslaan te word en dat diplomatieke kontakte met invloedryke wit mense op die lang duur voordelig vir die ANC sou wees. Tambo het met hierdie ontleding saamgestem en in die vroeë 19080's opdrag aan Mbeki gegee om die ANC se diplomatieke veldtogte te koördineer.

Een van die nuwe strategieë van die party was om meer wit Suid-Afrikaners by anti-apartheidsveldtogte te betrek. 'n Vergadering van besondere belang het op 13 September 1985 plaasgevind toe die ANC vooraanstaande Suid-afrikaanse sakelui in Zambië ontmoet het. Hierdie afvaardiging het hoofsaaklik die belange van die georganiseerde sakewêreld verteenwoordig. Baie bemoedigend was die versekering van die ANC dat hy vrede soek en nie daarin belangstel om  nywerhede te nasionaliseer nie. Die wete dat Mbeki nooit Sowjet-sosialisme of sy Oos-Europese ekwivalent gepredig het nie, het sakelui waarskynlik gerus gestel en dit moontlik gemaak om met hom te praat. Tamboe het onderhandelinge as noodsaaklik beskou en het skeptici in die party, soos Chris Hani, na sy standpunt oorgehaal.

Gedurende die res van die 1980's het Mbeki se geheime ontmoetings in Brittanje met invloedryke Afrikaners grootliks daartoe bygedra om die weg vir amptelike grondwetlike gesprekke te baan, wat uitgeloop het op die aanvaarding van 'n nuwe grondwet. Gedurende die onderhandelinge tussen die regering e.a. partye by Kodesa (die Konvensie vir 'n Demokratiese Suid-Afrika) het kommer in die geledere van die ANC bestaan oor regse Afrikaners wat die veranderinge nie wou aanvaar nie. Mbeki het hierdie vrese besweer deur 'n ooreenkkoms met genl. Constand Viljoen, voormalige hoof van die SAW, aan te gaan waarvolgens 'n toekomstige ANC-regering Afrikaners se strewe na selfbeskikking sou erken. In ruil daarvoor sou Viljoen sy invloed gebruik om te help toesien dat die 1994-verkiesing vreedsaam verloop. H oewel Mbeki simpatie vir die Afrikaners se sentimente gehad het, het hy 'n etniese Afrikanerstaat (volkstaat), soos deur regtervleuel-Afrikaners voorsien, verwerp.

In gesprekke met 'n verskeidenheid georganiseerde Afrikanergroepe ná 1994, het Mbeki beïndrukk met sy intellek en bereidwilligheid om na Afrikaners se probleme te luister. Hy het begrip getoon vir hul vrese en ideale en Afrikaners het aanvaar dat hy vir hulle die nodige ruimte sou gee om hul ideale, veral wat betref die Afrikaanse taal en Afrikaanse opvoedkukndige instellings, uit te leef.

Mbeki is as eerste adjunk-president in die regering van nasionale eenheid aangestel. Nadat die finale grondwet aanvaar is, was hy die enigste adjunk-president. In hierdie hoedanigheid het hy 'n toenemend belangrike rol in die dag-tot-dag-administrasie van die regering gespeel. Sy invloed binne die party het merkbaar toegeneem en teen die einde van Mandela se termyn, was Mbeki 'n voor die hand lilggende keuse as nuwe president.

--- --- ---

Die drieparty-alliansie

Die drieparty-alliansie is 'n informele bondgenootskap tussen die ANC, die SAKP en die vakverbond Cosatu. Die gehels dat SAKP- en Cosatu-lede ook lidmaatskap van die ANC kan hê en onderneem om die ANC te steun, veral in verkiesings. Die drieparty-alliansie is nie formeel by 'n konferensie of vergadering gestig nie, maar het gevloei uit 'n reeks samesprekings wat in 1990 gehou is. Ten spyte van hierdie samewerking bly elke organisasie grootliks outonoom.

In die eerste tien jaar ná die 1994-verkiesing het onderlinge spanninge binne die allilansie dikwels vlak gelê. Die Growth, Employment and Redistribution (Gear)-program wat die HOP in 1996 vervang het, het tot groot onmin tussen die ANC en sy bondgenote gelei. Die HOP-was g erig op armoedeverligting en was 'n belangrike ANC-verkiesingswapen in die 1994-verkiesing. Gear was ingestel op groter ekonomiese groei en die program is in die geheim opgestel sonder behoorlike raadpleging binne die alliansie.

Die SAKP en Cosatu het aangevoer dat die ANC die sosialistiese ideaal prysgee, dat Gear werkersbelange sou versaak en slegs op samewerking met plaaslike en internasionale kapitaal ingestel was. In die lig van die groeiende middelklas in die land het hierdie aantygings 'n element van waarheid bevat. Prominente ANC- en vakbondlede soos Cyril Ramaphosa, Mathews Phosa, Tokyo Sexwale en Nthato Motlana het tot die sakeweêreld toegetree. sommige vakbondleiers het ook na bestuursposte buite die vakbondomgewing gestreef. 

Vakbondfederasies het die regering toenemend daarvan beskuldig dat hy die kapitalisme in Suid-Afrika goedgesind is. In 1998 het sowel Mandela as Mbeki die linkervleuel van die alliansie (meer radikale sosialiste) openlik gekonfronteer en geëis dat hulle regeringsbeleid aanvaar. Al het die gemor oor die regering se neo-kapitalilstiese beleid nie opgehou nie, het die onvergenoegde lede egter die aftog geblaas en die alliansie het in die 1999-verkiesing weer solidêr voorgekom.

Teen 2002 het die ANC 'n wysiging in sy ekonomiese beleid aangekondig wat die klem op die generering van Suid-Afrikaanse kapitaal geplaas het sodat die land minder afhanklik van buitelandse beleggings sou wees. Die belang van die alliansie is weer eens bevestig toe die ANC uitgestippel het watter belangrike rol sy bojndgenote speel om indiensneming te verbeter.

'n Tweede twispuint tussen die bondgenote het gegaan oor die persepsie dat die ANC die alliansie oorheers. Politieke ontleders verskil hieroor. Volgens een siening het die ANC se leierskapselite die mag in eie hande gekonsentreer omsowel die party as die regering te beheer, het hierdie leierskap ook met die verkiesing van poltieke leiers ingemeng en het daar dus geen devolusie van mag na provinsiale owerhede plasgevind t.o.v. sake soos gesondheid en onderwys nie. Die gevolg was dat debat binne die ANC en die breër alliansie gesmoor is. 'n Ander siening is dat die ANC-leierskap nie werklik so magtig was nie en dat hy bv. nie sy gesag op die verkiesing van provinsiale premiers kon afdwing nie.

Spanninge binne die allliansie het bly voortbestaan oor belangrike nasionale kwessies soos die regering se beleid oor MIV/vigs en die beleid t.o.v. Zimbabwe. Jeremy Cronin, die SAKP se adjunk-hoofsekretaris, was in 2002 aan die ontvangkant van hewige regeringskritiek toe hy gesuggereer het dat bevrydingsbewegings neig om burokraties te word nadat hulle die bewind oorgeneem het. Toe hy verder gaan en 'n vergelyking tussen die ANC en die outokratiese Zanu-PF-party van Zimbabwe tref, het leiersfigure binne die ANC hom tot orde geroep en hy moes apologie aanteken. Dit was egter nie die einde van die struwelinge nie.

Kort voordat 'n staking teen privatisering, wat deur Cosatu georganiseer is, later in 2002 sou plaasvind, het Mbeki hierdie optrede skerp veroordeel. Hy het die "ultralinkses" daarvan beskuldig dat hulle besig was om die demokrasie te misbruik om hul eie doelwitte te bevorder. die klein getal werkers wat uiteindelik gestaak het, het op 'n n ederlaag vir Cosatu en die SAKP gedui. Hierdie voorval het moontlik ook enige planne om 'n l inkse arbeidersparty tot stand te bring, ontmoedig. Met die algemene verkiesing van 2004 was die drieparty-alliansie gevolglik steeds ongeskonde.

Minderheidspolitiek

Teen 2004 het die ANC die politieke toneel volkome oorheers. Reeds in die 1994-verkiesing  het dit feitlilk 'n tweederdemeerderheid behaal wat opgeskuif het tot 66,35% in die 1999-verkiesing en tot 69,6% in 2004. Politieke kommentators het gereeld kritiek oor hierdie toedrag an sake uitgespreek en oor die algemeen het die ongebreidelde groei van die ANC se politieke mag kommer gewek. Een studie het met stellilgheid verklaar dat Suid-Afrikaners sedert 1994 volgens rasselyne gestem het, wat die ANC so magtig gemaak het. Die skeidslyne tussen party en staat het toenemend verdof. Daar was ook 'n ander gesigspunt. Daarvolgens het Suid-Afrika so 'n diverse bevolkingsamestelling gehad met bv. skerp etniese verdelings en getalle-oorwig van swart mense dat 'n sterk opposisie politieke stabiliteit moontlik in die wiele kkon ry.

Die opposisie het feitlik van die poliltieke toneel verdwyn. Waar 'n vyfde van die kiesers in 1994 vir die Nasionale Party gestem het, het die party se steun gekwyn tot 6,87% in 1999 en 1,65% in 2004. Die NNP het aansienlik agteruitgegaan toe De Klerk e.a. prominente leiers hulle aan die hoofstroompolitiek onttrek het. Die Afrikanerdom was verdeeld en die n asionale beweging het omtrent nie meer bestaan nie. Partye wat verregse Afrikaners verteenwoordig het, het minder as 1% van die nasionale stem in 1999 en in 2004 ontvang.

Gebrekkige leierskap was die groot rede vir die NNP se agteruitgang. Marthinus van Schalkwyk, De Klerk se opvolger, was nie daartoe in staat om vertroue by Afrikanerkiesers in te boesem nie. Kort nadat die NNP met die Demokratiese Party (DP) saamgesmelt het om die Demokratiese Alliansie (DA) te vorm, het Van Schalkwyk hom uit onvergenoegdhei met die poliltieke situasie aan die allilansie onttrek. Oorlopery deur NNP-agterbankers na die DA het die reeds verswakte party 'n verdere knou gegee. Die skrif was aan die muur vir die NNP toe Van Schalkwyk, in 'n poging om sy voet in die Wes-Kaap in die deur te hou, voor die 2004-verkiesing 'n verkiesingsooreenkoms met die ANC aangegaan het. Hierdie besluit het die NNP nog verder van wit kiesers vervreem en die party is in die verkiesing feitlik uitgewis. In 2005 sou dit op 'n klein vergadering in 'n hotel in Kempton Park amptelik tot sy einde kom.

Die DP, wat in 1994 minder as 10% van die stemme getrek het, het ná 1999 die amptelike opposisie geword. Die DA- soos die DP ná die samesmelting met die NNP bekend gestaan het - het daarop aanspraak gemaak dat hy meer na die tafel kon bring as die NNP, veral wat sy anti-apartheidsrekord betref. Sy klassebasis het die welgestelde wit Engelssprekende sakegemeenskap, die tradisioneel "liberale" wit middelklas en die meer welgestelde stedelike Indiërs en bruin mense ingesluit. Tony Leon, die DA-leier, het nooit geskroom om striemende aanvalle op die ANC oor 'n verskeidenheid sake te doen nie. Hy het na Afrikaners en verstedelikte swart mense uitgereik, maar hoewel die DA meer Afrikanersteun as ooit tevore ontvang het, kon hy nie daarin slaag om noemenswaardige swart steun te lok nie.

Mangosuthu Buthelezi se IVP het in elke verkiesing ná 1994 veld verloor. In 1994 het die IVP 10,5% van die stemme verower, maar hierdie steun het verminder tot 8,58% in 1999 en tot 6,97% in 2004. Die IVP is inderdaad gereduseer tot 'n etniese streekparty, gesentreer in Kwa-Zulu-Natal, met 'n klein persentasie wit ondersteuning. In 'n vernuftige politieke maneuver het die ANC die IVP betrek by 'n nasionale koalisie met verteenwoordiging in die sentrale regering en 'n m agsdelingstruktuur in KwaZulu-Natal. Sodoende het die chroniese geweld wat uit die IVP-ANC-konfrontasies van die 1980's en 1990's gespruit het, aansienlik verminder.

Die partye wat 'n meer eksklusiewe Afrikanasionalisme verteenwoordig het - die Pan Africanist Congress (PAC) en die Azanian People's Organisation (Azapo) - het nog swakker gevaar en kon nie eens 1% van die nasionale stem in 1999 en 2004 trek nie. Swak organisasie en leierskap, asook die internasionale wêreld se afkeer van rasse-eksklusiwiteit, het ekstremistiese party gemarginaliseer. Boonop kon die "breë kerk" van die ANC sowel ondersteuners van die Vryheidsmanifes (Charteriste) as Afrikaniste met gemak akkommodeer. Ondersteuners van die swartbewussynsbeweging het skynbaar ook verkies om eerder deur die ANC opgeneem te word as om verloorders by die stembus te ondersteun.

Verdere pogings om 'n ware nie-rassige party tot stand te bring, sluit in die stigting van die United Democratic Movement (UDM). Dié party is in September 1999 gestig deur Bantu Holomisa, voormalige militêre regeerder in Transkei, en Roelf Meyer, die NP se hoofonderhandelaar by Kodesa en latere ANC-lid. die party het egter slegs 3,42% van die nasionale stemme in 1999 getrek en 2,28% in 2004.

'n Ander verwikkeling was toe die uitgesproke Patricia de Lille van die Kwynende PAC weggebreek en in 2003 haar eie party, die Onafhanklike Demokrate (OD), gestig het. In die 2004-verkiesing het dié jong party meer stemme as die NNP getrek. Teen 2004 moes De Lille egter nog 'n meer omvattende nasionale beleid ontwikkel. Tog het haar party (in wese 'n anti-korrupsieparty) begin om 'n infrastruktuur te bou en het geld uit tradisioneel "wit" oorde ontvang. Dit het die OD 'n voordeel bo die vele ander klein partye gebied.

Georganiseerde arbeid

Met Cosatu (in die 1980's 'n belangrike UDF-bondgenoot in die stryd om apartheid te beëindig) as deel van die drieparty-alliansie, sou 'n mens verwag dat die arbeidsbeweging ná 1994 oor die algemeen in 'n aansienlik gunstiger posisie sou wees. Die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995 het genoegsame mag aan die vakbonde gebied om aan toekomstige arbeidswetgewing deel te neem. Georganiseerde arbeid het ook nou toegang tot parlementêre instellings verkry, wat veronderstel was om hul bedingingsmag te vergroot. Daarby het hulle aan die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) deelgeneem, wat hul invloed op regeringsbeleid verseker het.

Die meeste vakbonde is sedert 1994 verteenwoordig in drie vakbondfederasies: Cosatu, die National Confederation of Trade Unions (Nactu) en die Federation of Unions of South Africa (Fedusa). Van hierdie drie was Cosatu by verre die invloedrykste met sy ledetal van 1,8 miljoen. Nactu, met 200 000 lede, was meer ras-eksklusief en sy lidmaatskap het hoofsaaklik uit swart fabrieks- en hande-arbeidrs bestaan. Nactu het Cosatu teengestaan. Fedusa het grotendeels wit lede gehad wat wel o ok meestal witboordjiewerkers was.

Daar was ook ander redes vir die arbeidsbeweging se agteruitgang. Finansiële probleme, bedrog en korrupsie het 'n rol gespeel, maar globalisering het ook sy tol geëis. Vryemarkinstellings het meer baat gevind by die impak van globalisering en die ANC-regering het toenemend in 'n rigting beweeg wat met die algemene tendense van dié verskynsel ooreengekom het.

Afgesien van hierdie eksterne faktore was daar ook 'n interne grondrede wat nie geïgnoreer kon word nie: Ná 1994 het die arbeidsbeweging oor die algemeen sy lewenskragtigheid begin verloor. Volgens die sosiolog Sakhela Buhlungu kan hierdie verskynsel daaraan toegeskryf word dat georganiseerde werkersbedywighede deur 'n voltydse amptenary en 'n nasionale leierskap vir vakbonde vervang is. Meer poste, spesifiek vir swart professionele mense, het ná apartheid beskikbaar geword en vakbondleiers het ook probeer om deel van hierdie nuwe korporatiewe kultuur te word.

Die politiek van transformasie

In die dekade ná 1994 het die regering gemengde sukses gehad met sy pogings om die dringende kwessies van die dag te hanteer. Die uitdagings was formidabel: Die sosio-ekonomniese posisie van swart mense moes drasties verbeter word, maar terselfdertyd moes ekonomiese groei gehandhaaf word. Om meer as vyf dekades se ongelykhede in die openbare en private sektor uit te wis, was geen geringe taak nie. Die regering het sy belofte om huise, elektrisiteit en skoon water aan arm gemeenskappe te verskaf, in 'n groot mate naegkom. Gedurende die eerste vyf bewindsjare van die nuwe regering is 40% meer huise gebou, elektrisiteitsvoorsiening het met 69% toegeneem en watervoorsiening met 47%. Tog het bevolkingstoename en armoede in die daaropvolgende jare verdere vooruitgang vertraag.

Transformasie van die staatsdiens

Regstellende aksie in die staatsdiens het mettertyd een van die  mees omstrede en ekonomies ontwrigtende regeringsaksies geword. Die onoordeelkundige toepassing daarvan het die land groot skade berokken.

Groot bedrae geld is b estee om aftreepakkette aan hoofsaaklik wit werknemers te finansier. Teen 2002 is nagenoeg 117 000 pakkette vir vroeë aftrede aangebied. Terwyl wit mense in 1994 44% van staatsdiensposte beklee het,  het dit aan die begin van 1999 op slegs 18% te staan gekom. Bestuursposisies is eweneens gevul deur mense van 'n voorheen benadeelde agtergrond. Transformasie, soos op hierdie wyse toegepas, het uiteindelik tot verlies aan vaardighede gelei, aangesien pas aangestelde werknemers dikwels ondervinding kortgekom het.

Hervorming van die regstelsel is ook ingestel nadat die ANC beweer het bestaande regters was uit voeling met die sentimente van diegene wat in die vryheidstryd betrokke was. Druk het derhalwe toegeneem om regers uit voorheen benadeelde groepe aan te stel.

Ekonomiese beleid

Die ANC se Vryheidsmanifes van 1955 het voorsiening gemaak vir nasionalisering en staatsbesit van nywerhede. Meer as twee dekades lank het hierdie ideologiese rigting die basis van die ANC se ekonomiese denke gevorm totdat dit teen die laat-1980's duidelik begin word het dat kommunisme misluk het. Opeenvolgende ANC-beleidsverklarings het nou die privaatsektor betrek om met die regering saam te werk om sosiale welstand te verbeter, hoewel nasionalisering steeds 'n opsie gebly het. Dit het verbete teenstand van die sakesektor e.a. hoofstroom- politieke partye ontlok.

Gedurende die belangrike ANC-beleidskongres van 2002 het Cosatu en die SAKP daarop aangedring dat 'n beleid van radikale herverdeling van rykdom aanvaar moet word. Mbeki, gesteun  deur 'n invloedryke faksie binne die ANC (onder wie Trevor Manuel, Alec Erwin en Joel Netshitenzhe), het egter die standpunt gehuldig dat die bevordering van makro-ekonomiese ontwikkeling en die groei van maatskappyverdienstes herverdeling moet voorafgaan. Dié rigting het amptelike beleid gebly, maar nie sonder volgehoue protes van die linkervleuel nie.

HOP en Gear

Die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP), wat kort voor die 1994-verkiesing deur die ANC van stapel gestuur is, was een van die pilare waarop die party gesteun het. Dit was 'n ambisieuse, omvattende nasionale projek wat voorsiening gemaak het vir behuising, elektrifisering, 'n openbarewerkeprogram en die uitbreiding van gesondheidsdienste. Tog is die HOP ná twee jaar beëindig omdat die ekonomie nie voldoende gegroei het om die program te finansier nie. Voorts het ondoeltreffende administrasie ontwikkeling gestrem.

Die HOP is deur die Growth, Employment and Redistribution-program (Gear) vervang, wat gebaseer was op vryemarkbeginsels met die klem op groei. Dit het 'n groeikoers van 3,5% per jaar en die skepping van meer as 800 000 nuwe werkgeleenthede in die vooruitsig gestel. Hierdie doelwitte moes deur fiskale dissiplilne, nuwe beleggingsinisiatiewe en tariefverlaring bereik word. Op die terrein van die politiek het die nuwe inisiatief egter in 'n groot mate tot spanning binne die drieparty-alliansie bygedra, omdat Cosatu en die SAKP hewig teen die beëindiging van die HOP gekant was.

Aan die begin van 1997 was die tekens daar dat Gear nie aan verwagtinge gaan voldoen nie. Suid-Afrika was in die greep van 'n resessie en kon nie werklik met ander ontwikkelende lande meeding sover dit buitelandse beleggings aangaan nie. Soos die geval was met die HOP, was onvoldoende administratiewe bekwaamhede 'n beperkende faktor. Aan die begin van die 2000's het de internasionale klimaat begin verbeter en, aangehelp deur sinvolle makro-ekonomiese regeringsbeleid, is beter groei bewerkstellig. Gear het meer lewensvatbaar begin lyk.

Finansiële administrasie

'n Terrein waarop die ANC-regering tussen 1994 en 2004 uitmuntend gevaar het, was dié van makro-ekonomiese ontwikkeling. Die betrokke minister, Trevor Manuel, bygestaan deur die bekwame direkteur-generaal van finansies, Maria Ramos, het dié ministerie uitgebou tot een van die suksesvolste portefeuljes in die geskiedenis van moderne Suid-Afrika.

Die begrotingstekort is verminder van meer as 9% in 1993 tot 1% in 2002-2003. Terwyl die land 'n negatiewe per capita-groei onder die NP-regering gehad het, is dit omgeswaai in 'n gemiddelde groei van 2,8%. Skuld in die openbare sektor is oor 'n tydperk van tien jaar met meer as 10% verminder. Inflasie en rentekoerse is verlaag en die land is hoog aangeslaan as 'n opkomende mag met sy gesonde fiskale en monetêre beleidsrigtings plus 'n doeltreffende en bewese bankstelsel. Doelgerigte hervormings van die belastingstelsel het die ekonomiese suksesse sedert 1994 aangevul.

Die ekonomiese vooruitgang van swart mense

Die opkoms van 'n swart middelklas ná 1994 het die ekonomie 'n groot inspuiting gegee. Hierdie klas het gedurende die eerste tien jaar ná apartheid met ongeveer 25% per jaar gegroei. Teen 2004 het swart mense 11% van die Suid-Afrikaanse middelklas uitgemaak, hoewel dié getal minder as 1% van alle swart mense in die land verteenwoordig het.

Vir die ANC-regering was dit 'n prioriteit om swart mense ekonomies te bemagtig en veral om 'n swart kapitalistiese klas te vestig. Gedurende die ANC-kongres van Desember 1997 is daar besluit 'n beleid van swart ekonomiese bemagtiging (Black Economic Empowerment, of BEE) wat o.m. vereis het dat tradisioneel wit maatskappye voorsiening vir swart kandidate in hul middel- en topbestuur moet maak. Die Wet op Gelyke Indiensneming (1998), wat rassekwotas vir poste in die openbare sektor vasgestel het, is byna gelyktydig gepromulgeer en dié vereistes is spoedig na die privaatsektor uitgebrei.

Swart ekonomiese bemagtiging is skerp veroordeel deur swart en wit politieke en ekonomiese ontleders as 'n beleid wat slegs 'n klein swart elite sou bevoordeel. Dit was tot geen voordeel vir die kleinsakesektor nie en het ook nie meer werkgeleenthede geskep nie. 'n Klein getal swart politici wat tot die sakesektor toegetree het, het die vrugte van hoogs voordelige transaksies gepluk.

Verdediging en die polisiemag

Om die ongelykhede van die verlede reg te stel, het vir die ANC-regering 'n doelwit geword. Die regering en staatsdiens moes die rassesamestelling van die land weerspieël. 'n Maklike taak was dit beslis nie as die onervarenheid van pas aangestelde amptenare in aanmerking geneem word. Die eerste kabinet was werklik nie-rassig, maar Mandela het 'n lomp staatsdiens, waarin wit mans oorheers het, geërf. Om hierdie liggaam te herorganiseer (o.m. by wyse van regstellende aksie), was hoog op die nuwe administrasie se prioriteitslys.

Transformasie van die weermag en polisie het unieke probleme opgelewer. In die geval van die weermag het die tussentydse grondwet bepaal dat integrasie tussen die apartheidsera se Suid-Afrikaanse Weermag (SAW), lede van Umkhonto we Sizwe (MK) en dié van die PAC se militêre vleuel, die Azanian People's Liberation Army (Apla), moet plaasvind. Hierdie samevoeging het beteken dat magte wat mekaar dekades lank beveg en fundamenteel van mekaar oor militêre aangeleenthede verskil het, nou op nasionale vlak moes saamwerk. Aanvanklike probleme soos ontevredenheid onder soldate van die voormalige bevrydingsbewegings oor hul behandeling, het gou kop uitgesteek. Die nuwe Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is ook ernstig aan bande gelê deur streng besnoeiings aan die begroting, terwyl voorvalle van rassisme van tyd tot tyd opgevlam het.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het 'n siviele portefeulje geword toe die nuwe regering oorgeneem het en 'n sekretariaat vir veiligheid en sekuriteit is in 1996 ingestel om die dag-tot-dag-pligte van die polisie te bedryf. George Fivaz, 'n Afrikaner uit die vorige bedeling met 'n onberispelike rekord, het die eerste nasionale kommissaris geword. 'n Nuwe skepping was die onafhanklike klagtedirektoraat wat klagtes teen die polisie deur die publiek sou hanteer. Soos in die weermag het rassevoorvalle ook onenigheid in die SAPD veroorsaak. 'n Geruime tyd lank het rasse-ongelykheid geheers: Hoewel twee derdes van die mag swart was, was die oorgrote meerderheid van die offisiere wit en die pas van transformasie stadig. Dié situasie het egter met verloop van tyd verander. 'n Ander knaende probleem was lae moreel onder lede van die mag

Plaaslike regering

Beter voorsiening van dienste op plaaslike vlak om ongelykhede van die verlede uit te wis, was nog 'n prioriteit vir die ANC-regering. Gedurende die apartheidsjare het slegs wit plaaslike owerhede baat gevind by belastings wat die sakesektor betaal het. Sake-ondernemings wat uit die sentrale sakegebiee na voorstede getrek het, het die belastinglas van wit stedelinge in daardie gebiede aansienlik verlig, sodat lg. onderbelas was. Die regering het gevolglik 'n nuwe belastingstruktuur daargestel wat hoër belastingkoerse in meer welgestelde gebiede beteken het. Hierdie mense het hulle heftig daarteen verset en selfs met tariefboikotte gereageer.

Terselfdertyd het die regering die Masakhane-openbarevoorligtingsprogram van stapel gestuur, wat swart gemeenskappeaangemoedig het om betaling vir munisipale dienste voort te sit. In die Johannesburgse metropolitaanse gebied alleen het inwoners se skuld vir onbetaalde rekeninge en belastings teen die middel-1990's sowat R900  miljoen beloop. 'n Stelsel is ingestel waarvolgens armer gemeenskappe 'n eenvormige tarief ("flat rate") sou betaal inooreenstemming met hul verbruik. Die probleem was dat bruin mense wat in sommige arm gemeenskappe die meerderheid gevorm het, daarvan uitgesluit is. Hulle het uiteraard heftig daarteen geprotesteer.

Hervormings op plaaslikeregeringsvlak het gemengde sukses gehad. In groot stede soos Jhannesburg het inkomste dramaties toegeneem en gesonde finansiële bestuur het vooruitgang moontlik gemaak. Kleiner rade elders in die land kon hierdie sukses nie nadoen nie. Grootskaalse agteruitgang van dienslewering en bankrotskap was dikwels plaaslike owerhede se lot. 'n Herbesinning oor die toekoms van plaaslike rade het gelei tot die besluit om munisipale grense opnuut af te baken. Ná die munisipale verkiesings van 2000 is 843 munisi0pale rade vervang met ses metropolitaanse rade, 241 plaaslike rade en 52 distriksrade.

Grondhervorming

Die ongelyke grondbesit in Suid-Afrika het diep historiese wortels. In die verlede het slegs 'n klein minderheid swart mense toegang tot grond gehad en grondonteienings het dikwels plaasgevind. Voor 1994 het wit mense steeds 84% van die grond besit, terwyl boerderybedrywighede in die tuislande gebrekkig was.

Die basis van die regering se grondbeleid ná 1994 was grondrestitusie (die teruggee van dit wat ontneem is), die herverdeling van grond en die beveiliging van eiendomsreg. Wetgewing het amptelilke fokus aan al drie hierdie elemente verleen. Derek Handekom, minister van grondsake in die Mandela-kabinet, het 'n tweeledige benadering gevolg. Hy wou grond aan die arm grondloses verskaf en hulp aan bestaande boere verleen. Sy doelwit was op 30% van die grond teen 1999 te herverdeel, wat die hervestiging van 600 000 kleinboere sou beteken. Sy skema vir toelaes vir die verkryging van grond vir vestiging (Settlement Land Acquisition Grant Scheme of SLAG) het spoedig geblyk te ambisieus te wees. Van die struikelblokke wat hy moes oorkkom, was personeeltekorte en interne verskille oor hoe transformasie toegepas moet word. Daarby het grondpryse ná die instelling van die skema gestyg, wat meegebring het dat restitusie 'n baie omslagtige proses geword het. Ongebruikte fondse het begin ophoop.

Hanekom is ná die 1999-verkiesing uit die kabinet gelaat en die nuwe minister, Thoko Didiza, het merkbaar van sy rigting afgewyk. In plaas van die "welsynsbenadering" het die klem nu daarna verskuif om bestaande swart boere se kapasiteit te ontwikkel. Te  midde van kritiek oor die verminderde hulp aan die armes het Didiza voorsien dat 70 000 kommersiële boere binne die volgende vyftien jaar gevestig sou word. Teen 2004 was dit nog te vroeg om oor die sukses van dié nuwe skema te oordeel.

--- --- ---

Die ANC-regering en tradisionele leiers

Ná die 1994-vrkiesing het 10 000 tradisionele stamhoofde in Suid-Afrika betekenisvolle invloed oor kommunale stamgrond uitgeoefen. In die finale grondwet van 1996 is daar vir hulle voorsiening gemaak on die vorm van huise van tradisiionele leiers wt advisrende funksies sou hê.

Hoewel die ANC nie etnisiteit en ondemokraties verkose leiers binne die party wou akkommodeer nie, moes hy versigtig wees om tradisionele leiers nie te vervreem nie, veral dié wat aan die Kongres van Tradisionele Leiers van Suid-Afrika (Kontralesa) behoort het. Die invloed van hierdie tradisionele leiers, veral op die platteland, kon ANC-steun by verkiesings beïnvloed. Die regering was bv. nie bereid om op aandrang van die IVP vergoeding aan stamhoofde te kontroleer nie.

Al die probleme rondom die magte van die tradisionele leiers was egter nie opgelos nie. Die komplekse sake rondom administrasie en grond was steeds teenwoordig en baie stamhoofde was ontevrede met die beginsels en prosesse rondom grondverdeling. Die grense wat deur die nuwe plaaslike en distriksrade daargestel is, het in baie gevalle oor die grense van stamowerhede gesny, wat by heelparty stamhoofde die indruk gewek het dat hul magte ondermyn word.

--- --- ---

Onderwys

Die ANC-regering het 'n skoolstelsel geërf wat etnisiteit en rasse-ongelykheid weerspieël het. Skole is kort ná die 1994-verkiesing gedesegregeer en 'n eenvormige skoolstelsel is aanvaar. Dit het die profiel van onderwys verander, maar die voorheen benadeelde swart meerderheid het nie veel voordeel uit al die veranderings getrek nie.

'n Groot persentasie onderwysers was nie voldoende gekwalifiseer nie en die moreel was oor die algemeen laag. 'n Leerkultuur was afwesig in baie tradisioneel swart skole, wat deels toegeskryf  kan word aan die gevolge van die Soweto-opstand in 1976 toe slagspreuke soos "bevryding voor onderwys" weerklink het. Omdat baie swart ouers Engels as die paspoort tot behoorlike onderrig en toegang tot goeie beroepe gesien het, is inheemse tale verwaarloos. Dit het daartoe gelei dat baie kinders nie 'n behoorlike greep kon kry op vaardighede wat vir spesifieke vakke nodig was nie.

Befondsing aan skole het wel onder die nuwe regering verbeter, maar baie skole was steeds swak toegerus met handboeke e.a. opvoedkundige hulpmiddele. Hoewel meer onderwysers aangestel is, was die matriekslaagsyfer en die deurvloeisyfer van leerlinge skokkend laag. Veral wiskunde het 'n besonder lae slaagsyfer getoon.

Sibusiso Bengu, die eerste minister van onderwys ná 1994, het min energie vir die portefeulte uitgestraal, maar toe Kader Asmal hom opgevolg het, het verwagtinge gestyg. Asmal het 'n drastiese verbetering in die matriekslaagsyfer asook 'n afname in ongeletterdheid beloof. Hy het 'n mate van sukses met al twee behaal en ook die opvoedkungie infrastruktuur verbreed. Daar was egter steeds heelparty gebreke, waaronder 'n tekort aan onderwysers in veral wetenskap en wiskunde, asook swak dissipline in skole.

Voortdurende leerplanhervormings was 'n kenmerk van die nuwe onderwysadministrasie. Kurrikulum 2005, met uitkomsgebaseerde onderwys as grondslag, is ingestel. Hierdie benadering was op die stimulering van kritiese denke gerig en moes 'n teenvoeter wees vir meganiese memorisering, wat as 'n opvoedkundige beginsel uit die apartheidsea beskou is. Talle onderwysers en dosente kon egter nie die uitgebreide tegniese woordeskat van die nuwe stelsel baasraak nie en Kurrikulum 2005 moes uiteindelik hersien word.

Universiteite, technikons, tegniese kolleges en onderwyskolleges is ná 1994 van enige rasse-identifikasie gestroop. Dit het egter nie die skeefgetrekte patrone t.o.v. personeelvoorsiening, hulpbronne, navorsingsuitsette en slaagsyfers herstel nie. Tradisioneel swart universiteite het bv. steeds 'n agterstand gehad en hul finansiële krisisse is deur studente se opgehoopte skuld vererger.

Die ANC het geglo dat tersiêre onderrig nie die voorreg van 'n uitgesoekte minderheid moes wees nie, maar aan die begin van die 1990's het swart studente nog nie op groot skaal toegang tot tersiêre instellings gehad nie. Sedert die laat 1990's het die samevoeging van hoëronderiginstellings 'n prioriteit begin word. Volgens die regering was die rasionaal daaragter om nasionale ontwikkeling aan te help en om die land se globale mededingendheid te verhoog. Ingevolge die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys van Maart 2001 sou die 36 hoëronderriginstellings tot 21 verminder word en die 120 kolleges tot 25.

Gesondheid

Swak leierskap en verskeie oordeelsfoute het voorsaak dat gesondheid tussen 1994 en 2004 een van die  mees omstrede portefeuljes was. Nkosazana Zuma (later Dlamini-Zuma), minister van gesondheid in die Mandela-regering, het goed begin met vars idees o.m. die uitbreiding van primêre gesondheidsorg en die herstrukturering van professionele rade. Die departement se kliniekbouprogram in die landelike streke het finansiële hulpbronne egter in so 'n mate uitgeput dfat groot stedelike hospitale uiteindelik onder finansiële besnoeiings gely het.

Die minister het haarself ook ongewild gemaak deur 'n verpligte gemeenskapsdiensjaar vir mediese studente in te stel om die tekort aan dokters te probeer verlig. Toe dit nie die gewenste uitwerking gehad het nie, is Kubaanse dokters ingevoer wie se bevoegdheid en kommunikasievaardighede dikwels bevraagteken is.

Zuma se hantering van die MIV/vigs-krisis was selfs nog meer omstrede. Sy het goedkeuring gegee vir die opvoering van 'n musiekblyspel, Sarafina II, waarvoor die departement in 1995 oor die R14 miljoen toegeken het sonder dat die korrekte tenderprosedure gevolg is. Zuma het, met die ondersteuning van adjunk-president Mbeki, ook twee Pretoriase wetenskaplikes ondersteun wat daarop aanspraak gemaak het dat hul middel, Virodene, MIV/vigs doeltreffend kon behandel. Al is dié middel in daardie stadium nog nie op mense getoets nie, was Zuma onwillig om goedkeuring te verleen dat 'n beproefde middel, AZT, aan besmette swanger vroue toegedien word.

Teen 1999 was die siekte buite beheer. Meer as 3,6 miljoen Suid-Afrikaners was MIV-positief en MIV/vigs-aksiegroepe het die regering se beleid aktief teengestaan. Om sake te vererger, het Mbeki (toe as president) ingemeng. Onder invloed van 'n revisionistiese of "alternatiewe" wetenskaplike, David Rasnick, het Mbeki die aanspraak gemaak dat die MI-virus nie alleen vir vigs verantwoordelik was nie. Hy het gewys op die verwantskap tussen vigs e.a. Afrikasiektes wat aan armoede verwant was. Zuma se opvolger, Manto Tshabalala-Msimang, het Mbeki ook nie teëgegaan nie, want die bekamping van die siekte verder vertraag het.

Die kanker van korrupsie en misdaad

As jong demokrasie het Suid-Afrika se beeld 'n groot knou gekry a.g.v. korrupsie op alle terreine van die samelewing en 'n onaanvaarbaar hoë misdaadsyfer. Vanuit die staanspoor het die nuwe regering hom verbind tot die bekamping van hierdie sosiale euwels, maar teen 2004 kon hy nie veel resultate wys nie. Net in 1998 het bedrog en wanbestuur die regering meer as R10 miljard gekos. Ondoeltreffende finansiële beheer was dikwels die groot oorsaak van korrupsie.

Die kantoor van die ouditeur-generaal ien die openbare beskermer het magte ontvang om onreëlmatighede aan bande te lê. 'n Spesiale eenheid onder voorsitterskap van regter Willem Heath is in 1995 in die lewe geroep om die wanbesteding van geld te ondersoek. In 1999 is 'n nasionale anti-korrupsiespitsberaad gehou en 'n Nasionale Anti-Korrupsieforum is gestig, terwyl 'n opvoedkundige program ook van stapel gestuur is. Soos baie ander noodsaaklike en belowende projekte het ook hierdie een grotendeels misluk weens 'n gebrek aan geld en personeel. Die Skerpioene, 'n uitsoek-ondersoekeenheid, het tot 2004 waarskynlik die meeste sukses gehad om witboordjiemisdaad teen te werk.

Een van die ontstellendste verskynsels ná 1994 was die stygende misdaadsyfer wat Suid-Afrika as een van die "misdaadmekkas" in die wêreld gebrandmerk het. Die redes vir die hoë misdaadsyfer ná 1994 is ingewikkeld. Verstedeliking en armoede het waarskynlik daartoe bygedra, asook ontoereikende polisiëring. Die SAPD was 'n lang tyd onderbefonds, talle polisielede het teikens van misdadigers geword en lae moreel het sake verder laat versleg. Die geweldskultuur wat in die apartheidsjare gevestig is, het ook bygedra tot die totstandkoming van 'n kriminele klas jeugdiges. Internasionale misdaadsindikate het voorts die oorgangsperiode van 1990 tot 1994 gebruik om hulself in die land te vestig en misdaad het daarna dramaties toegeneem.

Misdaadstatistieke is in die vroeë 2000's 'n geruime tyd lank van die publiek weerhou, maar die syfers wat wel beskikbaar was, het 'n skokkende verhaal vertel. In 1994 is omtrent 27 000 mense vermoor en in 1997 sowat 25 000. Tussen 1994 en 1999 is meer as 500 boere op plase vermoor en in die middel-1990's het sowat 12 000 motorkapings voorgekom. In 1998 alleenlik is 49 280 vroue - volgens die aanmeldsyfer - vekrag. Dit het 'n groot impak op die samelewing gehad: Gewone l andsburgers moes allerlei maatreëls tref om  hul eiendom te beskerm, emigrasie het toegeneem en talle sake-ondernemings is ontruim waar die sentrale sakedistrikte van groot stede Johannesburg en Pretoria agteruitgegaan het. Misdaad het 'n handige politieke wapen vir die opposisiepartye geword.

Die regering het 'n verskeidenheid teenmisdaadprogramme van stapel gestuur en daar was ook samewerkign tussen die regering, die sakesektor en plaaslike gemeenskappe. Ten spyte van versoeke dat polisiemagte aan die provinsies oorgedra moet word, het die regering volgehou om die stelsel te sentraliseer.

Die ontoereikende vervolgingstelsel was ook te blameer vir die toenemende misdaad. Die bedanking van ongeveer 'n derde van ervare aanklaers ná 1994 het die stelsel met groot getalle onervare mense gelaat. In die twintig jaar ná 1980 het die getal misdade vir elke 100 000 mense met 'n derde toegeneem en die getal oortreders was gevonnis is, met 'n derde afgeneem.

Waarheid en versoening

Die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) het aan diegene wat hulle sedert 1960 aan menseregtevergrype skuldig gemaak het, die geleentheid gebied om vir amnestie aansoek te doen. Hulle kon kwytgeskeld word van vervolging as hulle volle bekentenisse doen oor die voorvalle waarby hulle betrokke was. Dit was deel van die poging om die wonde van die verlede te probeer heel.

Aartsbiskop Desmond Tutu was die voorsitter van die WVK en Alex Boraine sy adjunk. Die WVK het openbare verhore gehou en slagoffers is aangemoedig om hul pynlike ervarings met hul gehore te deel. Anders as met hofprosedures is kruisverhoor van getuies nie toegelaat nie, maar hoorsê-getuienis is aanvaar. Drie komitees, waarvan die menseregte- en amnestiekomitees die belangrikste was, het die verrigtinge gelei.

Die WVK-komitees is deur heelwat uitdagings in die gesig gestaar. Die amnestiekomitee het bv. gesukkel om tussen politiek gemotiveerde dade en gewone kriminele oortredings te onderskei. Daarby was institusionele liggame huwerig om getuienis te lewer. Geen lid van die voormalige Nasionale Intelligensie het bv. aansoek om amnestie gedoen het. Wat dit betref, was polilsiemanne uit die ou bedeling meer behulpsaam. Afgesien van Adriaan Vlok, voormalige minister van wet en orde, wou lede van die apartheidskabinet nie met die WVK saamwerk nie. Feitlik net die helfte van die ANC-lede wat by menseregteskendings betrokke was, het om amnestie aansoek gedoen.

Aan die ander kant was daar gevalle waar oortreders hul skuld erken en in die openbaar apologie aangeteken het. Voorbeelde daarvan was Brian Mitchell, bevelvoerder van 'n polisie-eenheid wat vergrype in KwaZulu-Natal gepleeg het, en Aboobaker Ismael, die ANC se hoof van spesiale operasies, wat vir die Kerkstraat-bomontploffing in Pretoria verantwoordelik was.

De Klerk het namens die NP-regering apologie aangeteken (P.W. Botha het geweier om getuienis te lewer), maar die WVK het gemeen dat hy meer getuienis kon aanbied oor die bomontploffing wat die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke beskadig het. Daarbenewens is die Staatsveiligheidsraad, wat senior NP-poliltici ingesluit het, ook vir moorde op politieke aktiviste verantwoordelik ehou. Geen getuienis van sg. derdemag-aktiwteite kon egter gevind word nie. Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, is ook vir skendings van menseregte verantwoordelik gehou.

Die WVK het meer as 21 000 verklarings deur slagoffers ontvang en amnestie is aan meer as 1 000 mense verleen. Die syfers moet egter beskou word teen die agtergrond van beramings dat bykans twee derdes van die moorde nie ondersoek is nie en dat betekenisvolle bevindings op ongetoetste of ongestaafde getuienis gebaseer is. Die finale verslag het die bedrywighede van die staat se veiligheidsmasjinerie belig en insig in die metodes van die eertydse Buro vir Staatsveiligheid (wat in die omgang bekend gestaan het as BOSS) gebied. Wandade deur nie net die agente van die staat nie, maar ook deur Inkatha-lede, wit regses, die ANC e.a. bevrydingsbewegings is openbaar gemaak. Lg. het die verhouding tussen die WVK en die ANC versuur en die ANC het die WVK op 'n keer daarvan beskuldig dat dit probeer het om die vryheidstryd te "kriminaliseer"

Bedenkinge is ook oor die metodologie en bevindings van die WVK uitgespreek. Een punt van kritiek was dat die kommissie gelaai was met ANC-simpatiseerders en dat ander partye onderverteenwoordig was. Nog 'n argument was dat daar onvoldoende wetenskaplike bydraes van akademici tydens die werksaamhede van die kommissie was. Een navorser, Anthea Jeffery van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, het bevind die WVK het voorvalle waar Inkatha-volgelinge op groot skaal doodgemaak is, oorgesien omdat die navorsers 'n spesifieke chronologie gevolg het wat hierdie massadood uitgesluit het.

Die historikus Hermann Giliomee het die WVK se uitspraak oor apartheid as die enigste bepalende faktor van geweld bevraagteken. Volgens hom behoort apartheid saamgegroepeer te word met ander sosiale verskynsels soos kolonialisme en segregasie, en teen die agtergrond van die Koue Oorlog gesien te word. Hy het ook daarop gewys dat die Verenigde Nasies (VN) se beskrywing van apartheid as 'n "misdaad teen die mensdom" nooit deur die WVK gekwalifiseer is nie en dat enige assosiasie met volksmoord in so 'n definisie hoogs onvanpas sou wees.

Afrikaners was in die algemeen afkeurend oor die WVK-proses en baie het gemeen dat sy finale verslag Afrikaners uitgesonder het. Veral die Afrikaanse pers was besonder krities oor die kommissie se bevindings. 'n Groep van 127 joernaliste van Nasionale Pers het wel 'n voorlegging aan die WVK gedoen waarin hulle o.m. gesê het dié groep se koerante was 'n integrerende deel van die apartheid-magstruktuur en dat hulle hul as moreel mede-verantwoordelik beskou vir wat in die naam van apartheid gebeur het. Die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) was die enigste Afrikanerliggaam wat sy ondersteuning vir rassediskriminasie ind ie verlede erken het en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) het bely dat dit 'n fout was om apartheid goed te keur.

Ten spyte van kritiek het die WVK tog 'n belangrike rol vervul. In verskeie opsigte was dit 'n gebeurtenis wat ' n reiniging van die nasionale gemoed teweeggebring het. Volgens sommige kommentators het die WVK meer sukses as soortgelyke kommissie in ander lande gehad om mense te versoen. Daar is gesê dat die WVK die meedoënloosheid blootgelê het waarmee die apartheidsregering die teenstanders van apartheid behandel het. Só is die openbare aandag gevestig op wandade wat andersins verborge sou gebly het.

Buitelandse betrekkinge

Suid-Afrika se nuwe rol in die wêreldpolitiek

Die einde van apartheid het saamgeval met die ineenstorting van kommunisme en die einde van die Koue Oorlog. Daar was groot verwagtinge vir wêreldvrede en vooruitgang, maar dié euforie het nie lank gehou nie. Konflikte, veral in die Midde-Ooste en in Derdewêreldlande, was n og glad nie opgelos nie.

Waar die apartheidsregering toenemend in die internasionale arena gemarginaliseer is, is die nuwe ANC-bewind oral in die wêreld met ope arms verwelkom. Suid-Afrika is beskou as 'n middel- of opkomende mag wat 'n betekenisvolle rol in 'n groter konteks kon speel. As gevierde internasionale politikus het Mandela as politieke bemiddelaar in verskeie konflikgeteisterde lande opgetree, wat meegebring het dat Suid-Afrika by geleentheid 'n sleutelrol in vredesonderhandelinge gespeel het. Soms moes die land met netelige besluite worstel, soos om betrekkinge met òf die Volksrepubliek van China (Beijing) òf die Republiek van China (Taiwan) te handhaaf.

'n Verbintenis tot menseregte was 'n ernstige oorweging vir die ANC-regering sover dit buitelandse beleid aangaan. Suid-Afrika moes nie aan enige mnilitêre magsblok behoort nie en moes daarna streef om vriendskaplike oplossings te beding. Nogtans het Pretoria besluit om met Beijing saam te werk, wat ' n skadu oor sy onpartydigheid gewerp het. Die regering se verbintenis tot menseregte het ook probleme meegebring, soos met die miljoene Mosambiekse vlugtelinge wat al jare lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk het. Hulle het druk op die land se natuurlike bronne geplaas en met plaaslike swart mense om werk meegeding. Repatriasie of deportasie was moontlike oplossings vir die probleem, maar dit het die ANC-regering in 'n moeilike posisie geplaas: Kon hy so optree teen die inwoners van 'n land wat hom in die stryd teen apartheid bygestaan het?

'n Ander voorbeeld is dat die nuwe regering in 1994 sy teenkanting uitgespreek het teen die uitvoer van wapens na lande met die ondemokratiese regerings. Tog was die wapenbedryf so 'n waardevolle inkomstebron vir die land, dat die regering uitvoere begin aanmoedig het met die bepaling dat hy die proses sou monitor.

Met verloop van tyd het twee groepe binne die ANC ontwikkel met uiteenlopende standpunte oor buitelandse beleid: Die "internasionaliste" wat menseregte as 'n integrale deel van buitelandse beleid beskou het en die "pragmatiste" wat die onmiddellike politieke en ekonomiese belange van die land op die voorgrond geplaas het. 'n Beleidsdokument van 1999 het die regering se verbintenis tot menseregte weer beklemtoon, maar het ook verwys na aangeleenthede soos sekuriteit, welvaartskepping, beter kommunikasie met die buitewêreld en 'n meer globale fokus as noodsaaklike onderdele van 'n buitelandse beleid.

'n Nuwe fokus: Afrika

Die ANC-regering het in 1995 verklaar dat Afrika in die toekkoms Suid-Afrika se eerste prioriteit sou wees. Suid-Afrika het gevolglilk 'n groot rol gespeel om vrede op die kontinent te probeer bewerkstellilg. Die land was in verskillende hoedanighede betrokke by die konflikte in Lesotho, Mosambiek, Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Tanzanië is ook bygestaan tydens die oorstromings in 1998 en Mosambiek ná die oorstromings van 2000. Die Suid-Afrikaanse sakesektor was gretig om steun aan hierdie Afrikabeleid te verleen ten einde nuwe markte te vind en handel het toegeneem van ongeveer R10,9 miljard in 1994 tot R25,3 miljard in 1998.

Aanvanklik het die nuwe regering versigtig opgetree in sy rol as 'n leierstaat in Afrika, maar geleidelik het hy groter selfvertroue begin kry en by verskeie geleenthede ind ie belang van Afrika opgetree, bv. om aanspraak te maak op permanente sitting in die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad. Suid-Arfrika se leiersrol was egter nie onbetwis nie. In die m iddel-1990's was verhoudinge tussen Suid-Afrika en Nigerië gespanne toe die Nigeriese staatshoof, genl. Sani Abacha, menseregte en die demokrasie in daardie land geskend het. Suid-Afrika het sterk druk op Nigerië uitgeoefen, maar sonder veel sukses. Verhoudinge het egter weer verbeter toe genl. Olusegun Obasanjo demokratiese regering aanvaar het.

Mandela het ook in September 1997 teenkanting van sommige van die lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gekry toe hy hervormings van die organisasie en strafmaatreëls teen lidlande wat nie volgens demokratiese beginsels geregeer word nie, voorgestel het.

Beperkte hulpbronne en ontoereikende infrastruktuur in ander lande het Suid-Afrika se leiersrol in Afrika bemoeilik, maar die land het nietemin kragtens 'n parlementêre witskrif van 1998 daartoe verbind gebly om hulp aan Afrika te verleen. Suid-Afrika was ook vasbeslote om die rol van vredemaker te bly vertolk. Sy leiersposisie het ook geblyk uit sy rol in die totstandkoming van die Afrika-Unie (AU), die opvolger van die Organisasie vir Afrika-eenheid, in 2002. Mbeki is as voorsitter van die AU gekies en Suid-Afrika het die Pan-Afrikaanse Parlement sedertdien in Midrand gehuisves. 

Toe Suid-Afrika in 1994 deel van die SAOG geword het, het sy rol in die ontwikkeling van die sekuriteit en infrastruktuur van die streek nog belangriker geword. Die land sou betrokke wees by elf protokols, oor o.m. waterbronne, vervoer, handel en kommunikasie. Tydens die SAOG-spitsberaad in 1996 is die ontwikkeling van 'n vryhandelsgebied binne die volgende tien jaar in die vooruitsig gestel. Handel met Suider-Afrika het ongeveer 90% van die handel met die hele kontinent uitgemaak. Streekbronne sou saamgevoeg en as 'n eenheid ontwikkel word, soos bv. die Hooglandwaterskema in die berge van Lesotho. Afgesien daarvan het die land ook handelsooreenkomste met individuele lande in die streek gehad.

Streeksekuriteit het geblyk 'n meer netelige saak te wees as wat voorsien is toe Suid-Afrika, ooreenkomstig SAOG-doelwitte, in die Lesotho-konflik van September 1998 ingegryp het. Hoewel vrede uiteindelik herstel is, moes Suid-Afrikaanse troepe sewe maande in Lesotho bly.

Die situasie in Zimbabwe het Suid-Afrika se diplomatieke vernuf tot die uiterste beproef. Die skending van menseregte deur die regering van pres. Robert Mugabe is wyd veroordeel en die uitslae van die parlementêre verkiesing van Junie 2000 is bevraagteken - veral deur Westerse lande. Pleks daarvan om die Mugabe-regering openlik te kritiseer, het Mbeki en sy kabinet 'n beleid van sg. "stille diplomasie" gevolg en verkies om agter die skerms te werk. Hierdie beleid het geen tasbare resultate opgelewer nie en die Weste, die wit opposisie in Suid-Afrika, en 'n aantal hoëprofiel-Suid-Afrikaners (wat swart leiers ingesluit het) het die president en die regering dikwels gekritiseer.

Die tweeslagtigheid van die land se posisie moet miskien binne die konteks van sy komplekse diplomatieke bande met Afrika en die Weste verstaan word. Sommige Afrikalande sal solidariteit met mede-Afrikane betoon, selfs al is hul leiers korrup, eerder as om hulle te midde van Westerse druk te verwerp. Om  nie die indruk te skep dat hy pro-Westers is nie, moes die Suid-Afrikaanse regering hom daarvan weerhou om 'n gerespekteerde Afrikaleier soos Mugabe, 'n stoere kritikus van Brittanje en die VSA, openlik te kritiseer.

--- --- ---

Die Afrika-renaissance

Toe Thabo Mbeki president word, het Suid-Afrika homself reeds in die internasionale wêreld gevestig as 'n ekonomiese mag in Afrika en 'n fasiliteerder in streeksgeskille. Mbeki - met sy wye ondervinding van internasionale diplomasie - het 'n meer omvattende rol vir sy land in Afrika voorsien. Hy het die konsep van 'n Afrika-renaissance in Junie 1997 in die parlement uiteengesit en sedertdien is verskeie definisies en vertolkings daarvan uitgespreek. Sommige van hierdie konsepte het meer eksklusiewe Afrosentriese sieninge - veral deur swart akademici - ingesluit. Mbeki se idees was meer inklusief Afrikanisties, met 'n breë gesigsveld, sodat dit in internasionale kringe aanvaar was.

Die Afrika-renaissance is gewortel in die Afrikatradisie en erfgoed uit die pre-koloniale tye. Sommige denkers het dit ook gekoppel aan die ubuntu-filosofie wat medemenslikheid en interafhanklikheid tussen mense beklemtoon. Mbeki se idee gaan egter selfs verder as dit en inkorporeer moderne staatsmanskap, asook tegnologiese en ekonomiese ontwikkeling. Teen die agtergrond van onderontwikkeling in baie dele van Afrika, word Suid-Afrika se rol selfs meer betekenisvol. 'n Borgskap deur Engen Oil het groot hulp verleen om opheffingsprojekte van stapel te stuur en maatskappye soos Anglo American, Gencor en Shoprite Checkers het hul bedrywighede na Afrikalande uitgebrei.

'n Integrale deel van die Afrika-renaissance is Nepad, die New Partnership for Africa's Development, 'n ontwikkelingsplan waarin Mbeki ook 'n sleutelrol gespeel het. Ingevolge Nepad word aanvaar dat as Afrika by die groei van die wêreldekonomie wil baat vind, moet hy beter infrastruktuur skep en het hy soliede leierskap nodig. Derhalwe het Afrikalande liberale grondwette nodig om 'n kultuur van demokrasie te versprei. Die Suid-Afrikaanse regering is sterk verbind tot Nepad t.s.v. bedenkinge 

bedenkinge in sommige kringe oor die politieke wil om strukrag aan die projek te lewer. Daar is dikwels gesê Mbeki se huiwering om die Mugabe-regering openlik te kritiseer, is skadelik vir die ontwikkeling van Nepad. Een politieke ontleder het in Augustus 2003 daarop gewys dat Afrika se skuldkrisis in werklikheid sedert die inwerkingstelling van Nepad versleg het.

--- --- ---

Suid-Afrika se betrekkinge met die Weste

Suid-Afrika was ná 1994 steeds afhanklik van handelsbetrekkinge met die VSA en Europa. Westerse bande het dus behoue gebly, ongeag die land se fokus op Afrika. Die VSA het Suid-Afrika as 'n sleutelspeler in Afrika beskou, selfs al was die land se strategiese waarde ná die beëindiging van die Koue Oorlog nie meer van kardinale belang nie. Finansiële hulp ter waarde van $212 miljoen in 1994 en 'n belofte van 'n verdere $500  miljoen per jaar vir die daaropvolgende vier jaar was 'n aanduiding van die land se belangrikheid vir die VSA. Deur die inisiatief van Al Gore en Thabo Mb eki in 1995 het die Amerikaanse kongres wetgewing aanvaar wat demokratiese Afrikalande met markgerigte ekonomieë sou beloon deur bv. spesiale handelsvoorkeure aan hulle toe te staan.

Handel met die Europese Gemeenskap (EG) het meer as 40% van Suid-Afrika se handel uuitgemaak, terwyl die EG se handel met Suid-Afrika minder as 2% beloop het. Dus was die land se bedingingsmag nie sterk genoeg om te alle tye gunstige ooreenkomste met die Europese Unie (EU) aan te gaan nie. Suid-Afrika kon ook nie daarin slaag om 'n volle lid te word van die Lomé-konvensie wat sekere handels- en ontwikkelingsvennootskappe aan sommige lande in Afrika en die Stille Oseaan, asook Karibiese state, toegeken het nie. Die land kon nietemin daarin slaag om in Maart 2009 'n vryhandelsgebied te kry wat tot die Ooreenkoms oor Handel- en Ontwikkelingsamewerking (Trade and Development Cooperation Agreement of TDCA) tussen die EU en Suid-Afrika gelei het.

'n Jong demokrasie in oënskou

Ná tien jaar van demokrasie kon die kritieke vraag in 2004 gestel word: Is die land 'n beter plek as in 1994? So 'n vergelyking sal natuurlik die politieke staanplek van mense voor en ná die dramatiese magsoorgawe weerspieël.

Deur van rasse-ongelykheid en die gevolge van apartheid op die Suid-Afrikaanse samelewing ontslae te probeer raak, het die ANC-regering 'n vertrekpunt vir 'n verenigde land daargestel. Ware demokrasie het gelykheid, geleenthede en vryheid vir alle Suid-Afrikaners gebring. Dit het vryheid van die pers, vryheid van spraak en 'n grondwet wat die basiese regte van die individu gewaarborg het, ingesluit.

Wat betref dienslewering het die staat toegang tot maatskaplike dienste vir baie Suid-Afrikaners vergroot. Sedert 1994 is meer as 1,4 miljoen gesubsidieerde huise óf gebou óf was dit in aanbou. Voorts het 8,4 miljoen arm Suid-Afrikaners toegang tot lopende water en 3,8 miljoen tot elektrisiteit gekry. Tog was dit juis dienslewering op plaaslike vlak, wat veronderstel was om die ongelykhede van die verlede reg te stel, wat gebrekkig gebly het en die regering se achilleshiel geword het wat die bestuur van die land betref.

Aan die ander kant was dít wat met ekoknomiese groei en finansiële en monetêre beleid bereik is, niks minder as indrukwekkend nie. Tog kon makro-ekonomiese prestasies nie 'n oplossing vir strukturele tekortkominge bied nie: Werkloosheid het 'n probleem gebly en 'n groot persentasie van landelike swart mense het in groot armoede geleef.

Terwyl die land se ekonomiese groei beleggings aangemoedig het, kon Suid-Afrika steeds nie met ander ontwikkelende lande meeding nie. Een van die belangrikste redes daarvoor was 'n tekort aan vaardighede. Die onderwysstelsel kon mense nie toerus met die nodige basis op grond waarvan hulle in spesifieke beroepe opgelei kon word nie.

Daarby het die ANC 'n transformasiebeleid gevolg wat onbuigsaam was en skynbaar sonder enige diskresie toegepas is. Die uitvoering van dié beleid in staatsdiensberoepe het vir waarnemers na die blote vervanging van wit mense deur swart mense gelyk. Dit het ook oorgespoel na sportspanne waarvoor kwotas ingestel is en die private sektor waaraan sekere vereistes gestel is. Die gebrek aan kundigheid en vaardigheid weens die vervanging van ervare werknemers met dikwels swak gekwalilfiseerde en/of onervare mense uit agtergeblewe gemeenskappe het tot swak dienslewering gelei.

Swart bemagtiging en regstellende aksie het swart p rofessionele mense in staat gestel om in toipposte in te beweeg. Talle gekwalifiseerde (meestal wit) mense, onder wie baie Afrikaanssprekendes, het die land begin verlaat omdat hulle vir hulself geen toekkoms meer in Suid-Afrika gesien het nie. Daar is van die Afrikanerdiaspora gepraat.

Die strewe na nasionale eenheid het momentum begin verloor nadat Mandela die poliltieke toneel verlaat het. Die "Madiba Magic" het verdwyn en sy  opvolger se prioriteite was anders. Daar kan gesê word Mbeki was ewe afsydig as Jan Smuts meer as vyftig jaar gevore en hy het ook die indruk geskep dat Suid-Afrika se probleme vir hom te klein geword het. Sy leierskapstyl is soms bevraagteken, asook sy regering se kapisiteit om brandende vraagstukke soos MIV/vigs, misdaad en korrupsie te takel. Mbeki het sonder twyfel 'n belangrike rol in die land se progressiewe ekonomiese beleid gespeel en het ook 'n visie oor die opheffing van die hele kontinent deur die Afrika-renaissance en Nepad gehad. Maar was hy in staat om die mense van die land te motiveer om 'n nasionale doelwit na te streef? Teen 2004 het dit gelyk of Suid-Afrika steeds 'n verdeelde samelewing was.

Teen 2004 was dit duidelik dat die ANC nog nie ten volle van 'n bevrydingsbeweging tot 'n nasionale regering getransformeer het nie. Die verdelingslyn tussen die regerende party en die staat was in werklikheid besig om te vervaag, met die ANC wat mag toenemend probeer sentraliseer het. Korrupsie, ooreenkomste met lande met swak menseregterekords en 'n kultuur van selfverryking het die ANC-regering toenemend in 'n slegte lig geplaas.

Hierdie en ander kwessies het sommige Suid-Afrikaners bekommerd gestem. Was die Mbeki-era slegs 'n tydperk van tandekry ná die euforie van die Mandela-tydvak? Die "reenboognasie" moes die tweede dekade van demokrasie met verwagting sowel as onsekerheid tegemoetgaan.

Japie Brits

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5