Oorsake van die Groot Trek na die binneland

Oor die jare heen het historici die emigrasie van die Afrikaners na die noorde en noordooste van Suid-Afrika - die sogenaamde Groot Trek - verskillend beoordeel. Dit is o.m. beskou as 'n desperate protes teen gelykstelling tussen wit en swart; as 'n beweging waartydens ooswaartse uitbreiding in die Kaapkolonie laat vaar is ten gunste van 'n  noordwaartse flankbeweging; en as iets wat die toekoms van Suid-Afrika onherroeplik met die Afrikaner verbind het.

Volgens 'n taamlik swartgallilge beoordeling deur die historikus W.M. MacMillan in 1927 was die Groot Trek "the great disaster of South African history". MacMillan baseer sy geskiedskrywing kennelik te onkrities op die siening van die bekende filantroop en superintendent van die Londense Sendinggenootskap in die Kaapkolonie, dr. John Philip, tot wie se destyds nuutgeopende dokumente hy eerste toegang gehad het. Daarteenoor staan die aanspraak van MacMillan se tydgenoot E.A. Walker dat dié emigrasie tog 'n sentrale gebeurtenis in die geskiedenis van wit Suid-afrikaners was.

Die Groot Trek was 'n georganiseerde beweging waartydens duisende Afrikaanssprekende persone in die 1830's en 1840's uit die Britse Kaapkolonie na aangrensende streke in die noorde en noordooste verhuis het met die oogmerk om  nooiot weer terug te keer nie. Uit die uiteensetting in die vorige hoofstuk van swart en bruin migrasies kan afgelei word dat dié wit migrasie een van die laastes van die 19de eeu was.

Die Afrikaners se emigrasie was nie 'n spontane verhuising nie. Dit was die beste oplossing wat sekere grensboerleiers kkon bedink om met 'n deel van die Afrikaners weg te trek  uit omstandighede wat vir hulle ondraaglik begin lyk het. Omdat dit nie spontaan ontstaan het nie, moes die trekgedagte gepropageer word sodat genoeg mense gewerf kon word om te verhuis. In die motivering om te emigreer, was daar sowel "stoot"- as "trek"-faktore aangwesig. Uiteindelik het by benadering minder as een derde van die Kaapse Afrikaners aan die Trek deelgeneem. Latere navorsing het ook aan die lig gebring dat meer mense uit die westelike distrikte verhuis het as wat eers besef is. Veral uit die distrikte Clanwilliam en Swellendam het beduidende getalle verhuis.

Die trekboerkultuur van die Afrikaner in die 18de en vroeë 19de eeu, naamlik die gewoonte om sy besittings herhaaldelik op 'n ossewa te laai, sy vee te laat aanja, op sy perd te klim en te soek na beter weiveld, was ook kenmerkend van die latere Voortrekkers. Maar die Groot Trek was nie bloot 'n versnelde voortsetting van die trekboerbeweging nie - die motivering het heeltemal verskil. Een van hierdie verskille was ingrypend van aard: Omdat die Voortrekkers sonder toestemming die landsgrense in groot geselskappe oorgesteek het, getrek het om nooit weer terug te keer nie en 'n selfstandige republiek onafhanklik van die Britse regering opgerig het, was hulle inderdaad deel van 'n rebellie, hoewel vreedsaam van aard.

Die benaming "Groot Trek" is eers teen die laat 19de eeu gebruik vir die beweging wat vandag só bekend staan. In die eerste dekades van die 19de eeu is die woord "trek" reeds redelik algemeen in Nederlands en engels gebruik. "Trekboere" is al in die 1820's gebruik wanneer na rondtrekkende veeboere verwys is. In die jare 1830 tot 1840 is die benaming trekboere ook vir die Voortrekkers gebruik en is daar nie veel onderskeid tussen die groepe getref nie. Mettertyd het dit tog vir die inwoners van die Kaapkolonie duidelik geword dat die nuwe migrasie van die trekboerbeweging onderskei moet word, hoewel die volle betekenisverskil nog lank verskuil sou bly. In daardie jare word in die Kaapse koerante soos De Zuid-Afrikaan na die Voortrekkers verwys as emigranteboere, verhuisers, uitgewekenes en weggetrokkenes. Eerw. Erasmus Smit wat aanvanklik saam met die Voortrekkerleier Gert Maritz se geselskap getrek het, verwys in sy dagboek na hulle as "rezigers". Diegene wat vóór hulle uit die Kaapkolonie weg is, noem hy "vregere reizigers".

In die meeste gevalle was dit 'n kombinasie van griewe wat die Afrikanerboere laat besluit het om te trek. In die vyftien jaar voor die aanvang van die Trek het die Afrikaneroosgrensboere 'n reeks ervarings gehad wat hulle al hoe meer oortuig het dat hulle op ekonomiese gebied nie langer 'n bestaan in die Kaapkolonie kon maak nie. Insgelyks is hulle blootgestel aan politieke en sosiale veranderinge wat hul status en veiligheid bedreig en hul vryheid beperk het. Al die faktore het gekulmineer in 'n gevoel van vervreemding jeens die Britse regering, en daar het ' n n egatiewe ingesteldheid onder die Afrikaners ontwikkel wat die trekgedagte na die enigste uitweg laat lyk het.

Die oorsake wat hierna bespreek word, het nie almal ewe swaar getref nie. Dis selfs moontlik dat slegs een aspek daarvan by 'n persoon die deurslag gegee het om by 'n trekgeselskap aan te sluit. Ongetwyfeld was daar ook gevalle waar gesinne glad nie van plan was om te verhuis nie, maar onder druk van familielede besluit het om tog te verhuis. afrikaners in die oostelike distrikte h et soos elders dikwels in groot en hegte familiegroepe op aangrensende plas gewoon waar patriargale gesag 'n deurslaggewende rol gespeel het.

Ekonomiese faktore

Grondbesit en grondadministrasie

Op die vooraand van die Groot Trek was die Groot-Visrivier reeds vyftig jaar evore as oosgrens van die Kaapkolonie vasgestel. Finansiële en filantropiese redes het die regering verplig om geen verdere grensuitbreiding toe te laat nie. Afrikanergrensboere kon egter omtrent net uit veeboerdery 'n bestaan maak. Veeboerdery het groot plase vereis en vanweë droogtes en ander faktore het die gehalte van die weiveld in die tien jaar voor die emigrasie merkbaar agteruitgegaan. Jong boere se toekkomskeuses het dus al hoe minder geword en in die 1820's was daar reeds 'n skaarste aan goedkoop bruikbare grond. Die natuurlike groei in die bevolking, die invloei van nog mense uit die westelike distrikte en de vestiging van duisende Britse setlaars in die grensdistrik Albany, het die akute grondtekort aan die Oosgrens vererger en plaaspryse opgestoot.

Tot met met 1813 is die meeste grond in die binneland volgens die leningssplaasstelsel in besit geneem. Die leningsplaasstelsel het in die Kompanjiestyd in die 17de en 18de eeu uit die weilisensiestelsel ontwikkel, maar is nooit amptelik ingestel nie. Dit is egter openlik deur die owerheid toegelaat omdat die administrasie daarvan min gekos en tog 'n jaarlikse inkomste uit rekognisiegeld opgelewer het. Benewens heelwat voordele vir die regering en die boere, het die leningsplase vinnige uitbreiding bevorder omdat sulke plase nie onderverdeel kon word nie en veeboere se seuns dus eenvoudig net verder getrek en hul eie plase uitgesoek het. By die identifisering van 'n leningsplaas het 'n boer na 'n fontein en geskikte weiveld gesoek. Met die fontein as middelpunt (genoem die ordonnansie) het hy 'n halfuur se stap te perd in alle windrigtings gery en bakens geplant. Die gevolg was 'n min of meer ronde plaas van omtren 3 000 morg. De plaas is by die naaste landdroskantoor of in Kaapstad geregistreer. Indien dit nie omrengende eienaars se regte geskend het nie, kon die boer homself as die ordonnansiehouer beskou. Teen 24 riksdaalders per jaar was dit 'n "winskoop", hoewel die plaas nooit sy eiendom kon word nie.

Die uitgee van leningsplase het die skaarste aan bruikbare grond baie vererger omdat die vrugbaarste grond vinnig beset is. Die groot ruimtes tussen leningsplase kon ook nie deur nuwe boere benut word nie omdat dit onekonomiese eenhede was.

Omdat leningsplase deur die boer beset kon word solank hy wouo en die staat slegs die grond teruggeneem het as dit vir 'n openbare doel nodig was, bv. vir dorpstigting, het dié vorm van grondbesetting redelike bestendigheid gewaarborg. Tog het dit ook tot onsekerheid van grondbesit bygedra omdat die plase nooiot die boere se eiendom kon word nie. Leningsplase is nie opgemeet nie en dit het mettertyd tot meer en meer grensdispute gelei. Leningsplase het in pioniersomstandighede hul doel gedien, maar met digter bewoning het dit al hoe duideliker geword dat dit 'n onordelike metode was om grondverdeling te hanteer.

In 1813 het die Britse regering dus bepaal dat geen nuwe leningsplase uitgegee sou word nie en dat alle nuwe gronduitgifte volgens die eweigdurende erfpagstelsel sou geskied. Leningsplase sou op aansoek na die nuwe stelsel oorgeskakel kon word, maar moes eers opgemeet word soos vir alle erfpagplase vereis is. Die erfpagstelsel was daarop gemik om orde en bestendigheid te bewerkstellig, maar verskeie faktore het veroorsaak dat die stelsel uiters gebrekkig uitgevoer is.

Daar moes by die regering vir alle nuwe grond aansoek gedoen word. Opmetingsgelde moes vooruitbetaal word, sonder enige versekering dat die opmeting vinnig sou geskied of dat die grondbrief binne 'n redelike tyd uitgereik sou word. Die nuwe reëling het die boer baie meer geld gekos en hy moes jare wag voor die plaas op sy naam geregistreer is. Trouens, teen 1828 was daar meer as 4 000 aansoeke om grond wat nog onafgehandel was. Selfs tot 1840 en jare daarna het grootskaalse wanorde in die kolonie se grondadministrasie geheers. Die vertraging met die uitreiking van kaart en transport (grondbrief of titelakte) het boere in 'n groot onsekerheid oor hul grondbesit gedompel. Té hoë waardering van grond, sonder voldoende inafneming van die vrugbaarheid en draagkrag, het ook meegebring dat jaarlikse erfpaggeld duur geword het. Boonop het foutiewe opmetings voorgekom wat verdere vertragings en verliese veroorsaak het. Een van talle voorbeelde van die wanordelike grondadministrasie was toe die ontvanger van grondbelasting, wat ook as 'n regter diens gedoen het, in 1823 daaraan skuldig bevind is dat hy 44 000 riksdaalders van die boere se gedeponeerde erfpaggelde en opmetingsfooie gesteel het.

Finansiële verliese en onsekerheid oor eiendomsbesit was twee komponente in die grondadministrasie wat in die twee dekades voor die Groot Trek groot ontevredenheid by veral die grensboere uitgelok het. Die onsekerheid oor grondbesit in die streek tussen die Bo-Visrivier en Koonaprivier het vanaf 1825 vererger toe die Britse regering as gevolg van filantropese druk besluit het dat alle grensboere wat in 'n gordel van 48 km breed aan die Oos- en noordoosgrens gewoon het, geen slawe mag besit nie. Diegene wat wel van slawe-arbeid gebruik gemaak het, moes daarvan afstand doen of die gebied verlaat. Die gerug wat hierdie boere bereik het oor die rede vir die besluit, was dat die gebied vir Engelssprekende persone geoormerk was omdat hulle nie soos die Afrikaners geneig sou wees om die swart gemeenskappe te verslaaf nie. (In 'n brief van die minister van kolonies word hierdie gerug bevestig, hoewel die Kaapse regering dit van die Afrikanerboere weerhou h et.)

Bogenoemde besluite het die grensboere verslae gelaat. Die gevolg was verbittering en 'n diepe wantroue jeens die Britse regering. Dis betekenisvol dat juis uit hierdie streek meer as 300 gesinne getrek het en dat dit Voortrekkerleiers soos Louis Tregardt, Louis Nel, Philippus Opperman, Lucas Meyer, Hercules Malan, Johannes de Lange, Hermanus Lombard en Piet Retief opgelewer het.

Oorlogsverliese

Die Afrikaneroosgrensboere het groot finansiële verliese in die oorloë van 1812, 1819 en veral dié van 1835 gely. Die Sesde Oosgrensoorlog (1835) het die grensboere enorme verliese berokken. Die Xhosa-invalsmag het in die eerste maande van die oorlog die meeste skade aan eiendom aangerig en die verliese het op meer as £290 000 te staan gekom. 'n Heeltemal onvoldoende bedrag is deur die regering bewillig as kompensasie vir oorlogsverliese. As gevolg van die voortdurende besparing wat die Kaapse regering moes toepas, was daar heeltemal te min staandemagtroepe om die Oosgrens te verdedig en moes daar, soos in die verlede, op die burgerkommando's staatgemaak word om die tekort aan grensverdedigers aan te vul. Benewens hierdie opofferinge het die owerheid voorrade, waens, beeste en perde van die westelike en oostelike distrikte se boere opgekommandeer waarvoor later hopeloos onvoldoende vergoeding betaal is. Die feit dat die verliese weens die Sese Oosgrensoorlog deur feitlik al die getuies as onder die vernaamste oorsake van die Trek genoem word, beklemtoon die belangrikheid daarvan.

Diefstalle deur rondlopers

In die oostelike en noordoostelike grensdistrikte het baie rondswerwende bendes veral in die dekade voor die Groot Trek van rooftoge en veediefstalle gelewe. Bantusprekende groepe het in vredestyd oor die grens gekom en byna daagliks die boere se kuddes beroof. Khoekhoenrondloperbendes het ná die uitvaardiging van Ordonnansie 50 van 1828 en die afskaffing van die passtelsel ook in getalle toegeneem. Een tydgenootlike skrywer het in 1836 bereken dat van die sowat 32 000 buin mense in die kolonnie tussen 8 000 en 10 000 sonder vaste werk werk rondgeswerf het.

Die getal werklose rondlopers binne die kolonie het verder toegeneem weens die instroming van hawelose buitelandse as gevolg van die Mfecane (sien vorige hoogstuk). Die regering het toegelaat dat 'n beperkte getal "Mantatese" (soos die vlugtelinge genoem is) deur die grensboere in diens geneem word, maar vermoedelik het die meerderheid sonder werk rondgeswerf en moes hulle uiteraard steel om aan die lewe te bly. Dit spreek vanself dat die talle rondlopers eweneens 'n veiligheidsprobleem vir die grensboere op hul geïsoleerde plase geskep het wat die trekgedagte verder sou aanwakker.

Arbeidswetgewing: Khoekhoengemeenskappe

Arbeidswette soos Ordonnansie 50 het die vry gekleurdes en Khoekhoendiensknegte van gedwonge arbeid onthef. Vir alle kontrakte wat 'n boer vir langer as een maand met sy knegte gesluit het, moes hy spesiaal en meestal baie ver na 'n staatsaanklaer (clerk of the peace) of vrederegter ry om die kontrak te laat registreer, wat bowendien ná 'n jaar hernu moes word. Die passtelsel is eweneens afgeskaf en voortaan sou leeglopery nie meer 'n oortreding wees nie.

Baie gou het hierdie wette op sowel sosiale as ekonomiese vlak 'n transformasie in die kolonie teweeggebring. Die filantropiese doelwit was om die kneg of veewagter op 'n gelyke voet met sy werkgewer te plaas, maar daarmee saam is baie mag van werkgewers weggeneem. Die pligte van die werker is nie voldoende omskryf nie en daar is nie behoorlik voorsiening gemaak vir bestraffing weens pligversuim nie. Die werkgewers sou dus nie werkers wat hul pligte verwaarloos, werkgewers se eiendom beskadig of enige vorm vn verset openbaar, maklik kon vervolg nie.

Die veranderde arbeidswetgewing het 'n diepgaande ommekeer in die tradisionele verhouding tussen werkgewer en -nemer veroorsaak. Piet Retief het in 1836 die gevolge van hierdie wetgewing opgesom deur te verklar dat die "increasing insubordination and desertion ... of the coloured Classes, on entering into service, are other grievances of great magnitude, ... the great distance of the set of magistracy from their (d.w.s. die boere se) habitations ... has a powerful effect in producing this insubordination, it being impossible that the masters for every offence ... can undertake a journey of 2 or 3 days ... The only alternative is they deprived in most cases of the services of their Servangs ..."

Retief noem ook dat as die boere nie werkers kon kry nie, hulle hul plase moes verlaat.

Arbeidswetgewing: slawe

Britse filantrope het 'n belanrike en lofwaardige oorwinning behaal met die aanvaarding van die wet wat alle slawe in die Britse Ryk vrygemaak het. Die bepaling was dat alle slawe op 1 desember 1834 amptelik vrygestel sou word. Vir die volgende vier jaar, tot 1 Desember 1838, sou hulle nog as ingeboekte knegte by hul voormalige eienaars moes aanbly. Hierdie wetgewing het ook die Afrikaners en hul werknemers geraak en het bepaalde ekonomiese en sosiale gevolge teweeggebring.

Op 1 Desember 1834 was daar volgens een bron 30 287 slawe in die sewe westelike distrikte van die Kaapkolonie. In die vier distrikte, Graaff-Reinet, Somerset(-Oos), Uitenhage en Albany, was daar slegs 5 458 slawe. 'n Ander bron dui die gtal slawe ietwat hoër aan, onderskeidelik 33 277 en 5 744. In die swe westelike distrikte was daar gemiddeld 6,5 slawe per eienaar te stn gekom. Sommige skrywers het in die verlede daarop gewys dat die groter getal slawe-eienaars in die westelike distrikte swaarder getref is deur die onvoldoende kompensasie vir hul vrygestelde slawe as die kleiner getal slawe-eienaars in die oostelike distrikte. Die vraag is dan: As slawe-aangeleenthede die oorsaak van die Groot Trek was, waarom  het daar so min mense uit die westelike distrikte getrek?

Die drieledige antwoord is dat ander griewe wat nie in die westelike distrikte aanwesig was nie, ook 'n rol gespeel het in die oostelike distrikte; dat meer mense uit die westelike distrikte getrek het as wat historici vroeër van bewus was; en dat die gemiddelde slawe-eienaarskap in dié twee dele van die kolonie tog nie so 'n groot verskil toon nie. Die feit is ook dat grensboere heelwat armer was as hul westelike eweknieë en dus die eienaarskap van 'n slaaf kosbaarder geag het as hul eweknieë in die westelike distrikte. 'n Slaaf het in die oostelike distrikte gemiddeld 'n waarde van £100 verteenwoordig, wat in daardie jare 'n stewige bedrag was. Die Trekkerleier Gert Maritz se twaalf volwasse slawe is op £1 540 gewaardeer, maar uiteindelikhet hy net ongeveer £632 as kompensasie ontvang.

Maritz kon hojmself nog gelukkig ag. In die algemeen het die slawe-eienaars in die kolonie slegs een vyfde van die waarde van hul slawe ontvang. Ná al die onkoste afgetrek is en ná talle irriterende regulasies en voorskrifte nagekom is oor hoe om die kompensasiegeld te ontvang, het slawe-eienaars gehoor dat die afgeskaalde kompensasiebedrag slegs in Londen uitbetaal sou word. Vanselfsprekend het agente die geleentheid benut. Die moedelose eienaars se kompensasiesertifikate is teen 'n verdere verminderde waarde deur die agente opgekoop om in Londen te gaan verhandel. Heelwat eienaars was so verbitter dat hulle glad nie hul eiese ingedien of aan agente verkoop het nie. Waarskynlik tel die groep Afrikanerboere wat kort daarna uit die kolonie getrek het onder dié groep. Onopgeëiste kompensasiegeld het tot so laat as 1854 nog £5 906-18s-4d beloop.

Die tweede gevolgvan die veranderde wetgewing ten opsigte van slawe was sosiaal-ekonomies van aard. Tussen 1823 en 1831 het die uitvaardiging van die een wet na die ander die bruikbaarheid van slawe-arbeid vir die Afrikanerboere verminder. Dié reeks wette het o.m. bepaal dat slawe nie gedwing kon word om op Sondae te werk nie; beperkte werkure is vasgestel en later nog verder ingekort; indien die beperkinge o p werkure oorskry word, moes vergoeding betaal word; 'n slawebeskermer is aangestel; en die slawe-eienaar moes 'n strafboek aanhou. Dit het die eienaars se beheer en seggenskap oor hul slawe, wat hulle as hul private eiendom beskou het, ernstig aan bande gelê.

'n Deel van die slawe-eienaargemeenskap van destyds was reeds gevoelig oor slawerny. Boere van Graaff-Reinet het 'n metode voorgestel wat tot 'n geleidelike uitfasering van slawerny sou lei sonder dat die finansië verliese so groot sou wees. Die regering het dit egter geïgnoreer en alle slawe in 1834 skielik vrygestel. Die praktiese gevolg hiervan was dat dit spanning tussen eienaar en slaf meegebring het. Dit het goeie verhoudinge aan albei kante beduiwel en die verliles van hul patriargale gesag het boere geestelik geraak. So kon slawe nou hul eienaars voor die hof daag indien hulle meen dat hul regte geskend is. Op sigself was dit aanvaarbare prosedure, maar slawe het dikwels vals klagte gelê waarvoor die boere baie ver na die hoef moes reis. 'n Hoofklerk in die Kaapse koloniale kantoor het dus "the interference with their slaves by the appointment of Guardians and Special Justices" as 'n hoofoorsaak van die Groot Trek beskryf.

Sosiale faktore

Die destydse Afrikanergemeenskap en veral die wit boere in die oostelike distrikte het hulself op 'n hoër sosiale vlak as die inheemse bevolking beskou. Eerstens het hulle hulself as Christene en die swart mense as heidene beskou.  Tweedens het hulle kleur en fisieke kenmerke gebruik as kriteria om tussen mense te onderskei. Derdens het hulle ook klasseverskille getref en geglo wit mense was veronderstel om die heersers te wees en dat swart en bruin mense 'n onderhorige posisie beklee het. Die Britse regering se wetgewing het binne 'n redelik kort tydperk die Afrikaner se patriargale heersersposisie aangetas en i ngrepe in hul geesteslewe gemaak wat dekades daarna deur die Afrikaners as griewe onthou sou word.

In die eerste plek het die gelykstellingswette soos die Khoekhoenwet van 1809 en Ordonnansie 50 ingedruis teen sommige wit boere se interpretasie van die Bybel. Talle van die versoekskrifte van die Afrikanerboere het 'n inleidende bewoording bevat wat nie net as 'n hoflike standaardinleiding van die tyd beskou moet word nie. Soms het hierdie versoekskrifte gelui dat hulle die goewerneur as hul aardse vader beskou en sy leiding aanvaar. Daar was dus 'n soort kinderlike vertroue dat die goewrneur weet wat hul wense is en hy hulle nie sou teleurstel nie. 'n Meer siniese vertolking hiervan is dat die goewerneur dus as't ware moreel verplig sou word om die boere 'n positiewe antwoord te gee op wat hulle ook al gevra het. Maar dit skets ook 'n prentjie van die Afrikanerboere se ingesteldheid en in die lig daarvan is dit maklik om hul ontnugtering te begryp toe hierdie wette deurgevoer is. Die Afrikaners se vertolking van die gelykstellingswette was dat die goewrneur en regering swart en bruin mense bó hulle en hul belange gestel het. Dit het daartoe bygedra dat hulle al hoe meer van die regering vervreemd gevoel het.

Die Afrikanerboere was al sedert die Kompanjiesbewind tot 1827 gewoond aan sekere plaaslike burgerlike instellings waarin hulle 'n mate van politieke inspraak gehad het. So was daar die raad van landdros en heemrade wat min of meer elke kwartaal byeengekom het. Die heemrade was vooraanstaande burgers van die betrokke distrik wat die inwoners se belange moes verteenwoordig. Verder was daar 'n veldkornet vir elke distrikswyk wat die regering uit die burgery aangestel en wat gewoonlik die respek van die wyksinwoners geniet het. Met die afskaffing van die landdroste en die heemraadstelsel en die inkorting van die veldkornette se magte in 1827, het die burgers die laaste bietjie verteenwoordiging in 'n r egeringsliggaam verloor.

Tot op daardie tydstip was die meeste landdroste en heemrade invloedryke Afrikaners wat vertroue onder die inwoners van die distrik ingeboesem het. Die landdros en heemrade is vervang deur een persoon wat 'n siviele kommissaris en residentmagistraat genoem is. Indien die distrik dit geregverdig het, is die pos deur twee persone beklee. Daarmee is 'n ou tradisie uit die Nederlandse tyd verbreek en die regeringsverteenwoordigers gewoonlik met Engelssprekendes vervang. Hierdie veranderinge was deel van 'n transformasieproses gemik op doeltreffender regering, maar dit het die Afrikanerboere laat voel hulle is in hul eie land op die kantlyn geskuif. Daar is voldoende bewyse dat die grensboere ernstig gegrief was oor die verlies aan verteenwoordiging in die plaaslike regeringsliggame.

Die Sesde Oosgrensoorlog van 1835 het, benewens die erge verliese wat die grensboere gely het, tot verdere verbittering teenoor die regering oor 'n verskeidenheid gebeure gelei. Tydens die oorlog was daar verskeie voorvalle tussen lede van die Afrikanerburgermag en die Britse staandemagtroepe wat daarop gedui het dat die Afrikaners glad nie tevrede was met die hoogmoedige en arrogante houding van die Britse soldate teenoor hulle nie. Die Afrikanerboere se weersin in die lewe van 'n beroepsoldaat het later in 1835 weer duidelik geblyk toe goewerneur Benjamin D'Urban bekendgemaak het dat hy die instelling van 'n permanente burgermag of milisie in die kolonie beplan. Die beoogde wet het onmiddellik groot ontevredenheid onder Afrikanerboere veroorsaak. Hul hoofbeswaar het daarop neergekom dat daar op hul regte as vryburgers inbreuk gemaak word en hulle in 'n stelsel gedwing sou word wat baie naby aan dié van 'n beroepsoldaat sou wees. Tesame met die verliese en opkommandering van hul vee en geliefde ryperde (waarvoor hulle onvoldoende of glad nie vergoed is nie), het hierdie emosionele saak weer eens 'n gevoel van verontregting geskep wat selfs nog jare later in die herinneringe van oud-Voortrekkers opgeduuik het. Hoewel die milisiestelsel nooiot ingestel is nie, was die geestelike skade reeds gedoen en het die diepe wantroue in die regering toegeneem.

Die administratiewe verwaarlosing van die oostelike distrikte en veral die noordoostelike distrikte het die grensboere laat voel dat die regering hulle eintlik net geken het as hulle belastings ingevorder het. Daar moet terselfdertyd daarop gewys word dat dié  distrikte in die 1820's en 1830's geweldig groot was, met hopeloos te min amptenare om dit te administreer. Toe die distrik Somerset(-Oos) eindelik in 1825 van die groot en lompe distrik Graaff-Reinet afgestig is, was dit steeds 'n reuse-stuk grond wat gestrek het van net noord van die Zuurberg (noord van die hedendaagse Kirkwood) tot by die Oranjerivier. Weliswaar was daar 'n subdistrik Cradock wat na die verre noordoostelike wyke soos Tarka en Brakrivier kon omsien, maar soos met die ander dorpe was daar slegs een of twee amptenare en dan die klompie veldkornette wat die amptelike wyksligte moes verrig. In die distrikte Graaff-Reinet, Albany en Uitenhage was die onderbemanning en onderfinansiering dieselfde.

Die hoofoorsaak hiervan was weer eens die finansiële besparingsbeleid van die imperiale regering in Brittanje wat die opeenvolgende Kaapse goewe4rneurs gedurig tot besparing gemaan het. Dié beleid het egter vir die boere groter onkoste meegebring. Hulle moes tot 100  km na die naaste magistraatskantoor aflê indien hulle 'n klag teen iemand wou lê. Miskien die belangrikste gevolg hiervan was nogmaals 'n gevoel van wantroue en vervreemding teenoor 'n regering wat hulle nie meer geken het nie, wat hulle nie wou of kon beskerm nie en baie swak wette aan hulle opgedwing het.

Die vraag of nasionalisme 'n oorsaak van die Groot Trek was, het al heelwat aanag onder historici geniet. Vandag is die meeste skrywers dit eens dat daar wel 'n onderontwikkelde nasionale gevoel onder die grensboere bestaan het opp die vooraand van die Trek, maar dat nasionalisme eerder 'n gevolg van die Trek as 'n oorsaak daarvan was. Daar moes wel al 'n strewe na vryheid en onafhanklikheid gewees het onder die Trekkers, want daar is immers nie doelloos die binneland ingetrek nie. Daar was ook 'n duidelike doelwit om 'n onafhanklike staat te stig. Maar, buiten vermeldings in die briewe van enkele grensboerleiers, kom die strewe na onafhanklikheid nie prominent na vore nie.

Verkenning van binneland en ooskus

Die Afrikanerboere se verkenning van die binneland in die vyf jaar voor die emigrasie was sowel 'n oorsaak as 'n gevolg van die trekgedagte. In teenstelling met wat vroeër geglo is, was die binneland van Suid-Afrika in die vroeë 1830's al redelik bekend deur inligting wat reisigers, sendelinge en boerejagtes na die kolonie teruggebring het. Enkele reisigers soos dr. Andrew Smith het by hul terugkoms kaarte gepubliseer wat die binneland kartografies bekend gestel het, hoe gebrekkig ook al.

Die Afrikanerboere se verkenning van die binneland het veral tussen 1830 en 1834 plaasgevind toe reise na onderskeidelik Damaraland (in die hedendaagse Namibië), die hedendaagse Limpopo en na Natal onderneem. Omdat die latere trekgeselskappe nie na Damaraland is nie, kan aanvaar word dat die verslae daaroor nie gunstig vir boerderymoontlilkhede was nie. Die verkenningstog na Natal was 'n uitgebreide ekspedisie van sowat 21 wit boere en ongeveer dieselfde getal gekleurdes onder leiding van die Uitenhaagse boer en latere Voortrekkerleier, Piet Uys.

Hans Dons de Lange was toe reeds bekend as verkenner van die binneland en hy het by hierdie tog as gids opgetree. Die besoek aan Natal het plaasgevind van September 1834 tot Maart 1835 en die lede van die ekspedisie het na alle waarskynlikheid met groot lof oor die boerderymoontlikhede in Natal gerapporteer. Sekere lede het bv. aan 'n Engelssprekende grensboer, Thomas Bowker, verklaar "...they had seen, between the Orange River and the country of Natal, an immense and fertile country, destitute of inhabitants, in which they might find a refuge". Bowker het bygevoeg: "My own ideas at the time were, they would all leave the Colony..."

Jan Visagie

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5