'n "Gesuiwerde" nasionalisme, 1924 - 1948

 Met die Nasionale Party se oorwinning in 1924 en die totstandkoming van die Pakt-regering, het die nasionaliste vir die eerste keer politieke mag gemaak. Vir die eerste minister, genl. J.B.M. Hertzog, was dit 'n prioriteit om Suid-Afrika se grondwetlike posisie in die Britse Ryk te omskryf. Hy wou nie hê dat die land in enige opsig aan Brittanje onderdanig moes wees nie.

Op 'n Rykskonferensie in 1926 in Londen het Hertzog met die hulp van die Kanadese eerste minister daarin geslaag om 'n duidelike verklaring uit die Britse regering te kry. Dit is die Balfour-verklaring genoem. Daarvolgens het Brittanje en die dominiums (die lidstate van die Gemenebes van Nasies) gelyke status gehad en was hulle in geen opsig ondergeskik aan mekaar nie.

Die Balfour-verklaring is bevestig deur die Statuut van Westminster (1931) en die Statuswet (1934) wat Suid-Afrika, soos die ander dominiums, as 'n soewerein onafhanklike staat erken het. Vir Hertzog en sy volgelinge het dié verklarings die gevoelens van ondergeskiktheid en minderwaardigheid teenoor Brittanje verwyder. Daar was steeds meningsverskil oor of Suid-Afrika die reg het om neutraal te bly as Brittanje in 'n oorlog betrokke sou raak. Dié kwessie sou laat in die 1930's op die spits gedryf word.

In die volgende amper 25 jaar sou Afrikanernasionalisme dramaties toeneem en ook meer geïnstitusionaliseerd raak. Dit het duidelik geblyk uit o.m. die toename in Afrikanerorganisasies, die verskynsel van ekonomiese nasionalisme en die vestiging van Afrikaans as amptelike taal.

Afrikaans as ampstaal

In 1925 het dr. D.F. Malan as 'n minister van die Pakt-regering wetgewing ingedien wat Afrikaans naas Engels en Nederlands tot amptelike taal verhef het. Almal het geweet dat dit uiteindelik daartoe sou lei dat Afrikaans Nederlands as amptelike taal vervang. Aanvanklik was mense bang dat die tyd daarvoor nog nie ryp was nie.

As geskrewe taal was Afrikaans nog in sy kinderskoene en die onderneming om Afrikaans in 'n volwaardige taal te omskep wat sy sprekers op alle vlakke kan bedien kon maklik skeefloop. In daardie jare het Jan Jordaan, skoolhoof van Jan van Riebeeck, die eerste Afrikaanse hoërskool in Kaapstad, nog geskryf: "Ek het genoeg wêreldkennis om te besef hoe klein en nietig en betekenisloos ons volkie eintlik is ... nog geen miljoen Afrikaners nie en feitlik almal van hulle ongeskoolde landbouers, met 'n taal wat nog geen vaste vorm het nie en 'n letterkunde wat nog maar in die aanvangstadium is, arm aan wêreldlike en geestelike rykdom - wie en wat is on om op ons agterpote te gaan staan teenoor die hele wêreld?"

'n Groot deurbraak was die suksesvolle vertaling van die Bybel in Afrikaans. In die vroeë 1920's het Afrikaanssprekendes nog ontsteld gereageer toe die eerste pogings om die Bybel in Afrikaans te vertaal, verskyn het. Hulle het die taal bestempel as "stompstert Hollands", iets wat nòg vis nòg vlees is.

Die vertaling wat in 1933 verskyn het, is daarenteen wyd verwelkom. Malan het dit beskryf as die grootste gebeurtenis in die lewe van die Afrikaanse volk op die gebied van kultuur en godsdiens. Hy het bygevoeg: "Dit was 'n valse idee dat die volkstaal die Bybel sou verlaag. Ons sal nou die teenoorgestelde ondervind, nl. dat die Bybel die volkstaal sal verhoog." Bestellings vir die Afrikaanse Bybel het ingestroom. Sommige gemeentes het 'n kopie vir elke kind bestel en skares het na die stasie gestroom toe die trein met die bestellings opdaag.

Afrikaans het gou die simbool van Afrikaners se kollektiewe identiteit geword. Aan die begin van die 1930's het die spelling en struktuur van die Afrikaanse sin en die grootste deel van die woordeskat reeds grootliks soos die Afrikaans van vandag gelyk. Verskeie uitmuntende digters, met N.P. van Wyk Louw, Dirk Opperman en Elilsabeth Eybers aan die voorpunt, het help bou aan 'n letterkundige skat. Al hoe meer goeie gedigte, dramas, romans en kortverhale het verskyn wat respek vir Afrikaans as taal afgedwing het.

As skrywer van essays oor die kultuurpolitiek het Van Wyk Louw vandag nog geen gelyke nie. Sy gedigte het 'n wye reeks verwysings na die wêreldliteratuur bevat en hy was ook 'n dramaturg van formaat. In sy drama Die dieper reg (1938), wat tydens die eeufees van die Groot Trek opgevoer is, staan die Voortrekkers in die Saal van Ewige Geregtigheid om die oordeel oor hul dade te verneem. Die krag van hul dade en hul "suiwer wil" gee die deurslag in hul guns. Die idee van 'n "suiwer nasionalisme" het ook onder poliltieke leiers posgevat. Daarmee is bedoel 'n aandrang op beginsels en "konsekwentheid" in beleid.

Louw het gewaarsku teen die houding dat skryf- en digwerk wat van Europa of Brittanje kom, altyd as beter beskou word. Hy het gevra dat Afrikaanse skrywers op hul eie, besonderse manier oor die groot kwessies van die lewe skryf: "'n Groep word volk en waardevol, en kry reg om te bestaan, alleen in soverre hy geeestelike lewe voortbring ... As ons nie in Afrikaans so 'n letterkunde kan skep dat ons vir elke mens, selfs vir die beste geeste wat by ons gebore sal word, sy diepste verlange kan bevredig nie, dan moet ons in alle eerlikheid ons stryd om die behoud van ons taal staak, want dan sal dit die Afrikaanse mens in sy geestelike ontwikkeling knel."

Die bundels Berigte te velde en Lojale verset (albei 1939) en die laztere Liberale nasionalisme (1958) het 'n groot invloed uitgeoefen. Hy het belangrike begrippe in die Afrikanerpolitiek ingevoer waarmee hy 'n misbruik van die nasionalistiese idee wou teenwerk. Een was die "oop gesprek", nog een "lojale verset" en nog een "voortbestaan in geregtigheid". Volgens Louw moet die nasionalis hom altyd afvra of sy party se nasionalisme nie bots met die Christelike morele gebod of met "voortbestaan in geregtigheid" nie. As dit ná indringende debat (die oop gesprek) blyk dat die nasionale beweging oneerlik is of ander mense skade aandoen, moet die lojale Afrikaner skerp kritiek lewer, maar altyd uit 'n gevoel van vereenselwiging met die wel en wee van die Afrikanervolk (lojale verset).

Die rol van Afrikanerorganisasies

Teen die 1930's het Afrikanernasionaliste organisasiemense geword. Op poliltieke gebied was die belangrikste organisasie die Gesuiwerde Nasionale Party, wat in 1934 gestig is, terwyl daar op kultuurgebied die Afrikaner Broederbond, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) was.

Die Afrikaner Broederbond (AB) is in 1918 in Johannesburg gestig nadat soldate 'n NP-vergadering in die stad uiteen probeer jaag het. In 1929 het dit 'n geheieme organisasie geword en die FAK, wat in dieselfde jaar gestig is, het as sy openbare vleuel opgetree. Teen 1934 het die AB 1 000 lede gehad in ongeveer 53 takke, omtrent almal in Transvaal en die Vrystaat.

Die organisasie het gestry teen Afrikaans se minderwaardige plek in die staatsdiens en druk uitgeoefen om die tweetalige universiteitskolleges in Pretoria en Bloemfontein in Afrikaanse enkelmedium-instellilngs te omskep. Die hoofkantoor het elke maand omsendbriewe na elke tak ind ie land gestuur waarin leiding oor verskeie sake gegee is. Die takke het hul kommentaar daarop teruggestuur en ook verslag gedoen oor optrede wat hulle onderneem het.

Teen 1934 het die AB 'n republiek met 'n "Afrikanerkarakter" bepleit. In 'n omsendbrief is die volgende stelling gemaak: "Broers, ons oplossing vir Suid-Afrika se kwale is nie dat dié of dié persoon of dat dié of dié party die oorhand sal verkry nie, maar dat die AB Suid-Afrika sal regeer."

Later jare het die AB se kritici en vyande die stelling aangehaal om te probeer bewys dat die organisasie mettertyd aan alle instellings in die nasionale beweging en ná 1948 selfs aan die NP-kabinet voorgeskryf het. Dit is egter nie korrek nie. NP-leiers het die AB gebruik as instrument om vas te stel hoe Afrikaners dink en dié organisasie het hom altyd aan die kabinetsbesluite onderwerp.

Die FAK het die voortou geneem met wat hy "taalhandhawing" genoem het. Reeds in 1931 het die organisasie 'n brief gestuur wat verduidelik het hoe mense op Afrikaans moet aandring wanneer hulle met amptenare ind ie staatsdiens of klerke in winkels te doen ht. Die stryders het die taal ook probeer moderniseer om dit in alle moderne behoeftes te laat voorsien. Hulle het woordelyste oor motors, sport en die ambagte gepubliseer

Om Afrikaners sover te kry om in hul eie taal te sing, het die FAK in 1937 sy Volksangbundel gepubliseer. Dit het Duitse liedere met Afrikaanse vertalings en ook liedjies wat plaaslik ontstaan het, bevat. 'n Paar het 'n Maleise oorsprong gehad. Hierdie sangbundel is in die eerste twee of drie dekades ná die Tweede Wêreldoorlog nog gebruik. Die FAK het ook Afrikaanse boekweke en jaarlikse vierings van kultuurdae gereël.

Die FAK het 'n kompetisie geborg vir die skryf van 'n volkslied, wat saam met "God Save the King" gesing kon word. In 1938 het die regering 'n toonsetting van M.L. de Villiers van Langenhoven se "Die Stem van Suid-Afrika" as volkslied gekies. Die FAK en die AB het stemming gemaak vir 'n Afrikaanse radiodiens, wat in 1938 ingestel is nadat die regering staatsbeheer oor die radio verkry het.

Die ATKV is in 1930 in Kaapstad gestig in antwoord op die oproep van Afrikaner-spoorwegwerkers vir 'n eie organisasie. In 1936 het die organisasie meer as 11 000 lede en 46 takke gehad. 'n Veldtog is begin om Afrikaans as kommunikasiemedium in die spoorwegdiens te bevorder. Dit was die ATKV wat die baie suksesvolle Ossewatrek as deel van die 1938-viering van die Groot Trek gereël het.

Ekonomiese nasionalisme

Op ekonomiese gebied het Afrikanerleiers reeds in die 1880's tekens van verset teen die vryhandelsbeleid getoon. Die beleid het behels dat Brittanje as moederland die reg gehad het om sy vervaardigde goedere na Suid-Afrika te stuur sonder dat 'n beperkende invoerheffing daarop geplaas word. In die Kaapkolonie het die boere sterk beswaar gemaak omdat wyn en koring ingevoer is teen laer pryse as wat hulle kon bekostig om te vra.

Nadat Paul Kruger president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) geword het, het hy invoerregte gehef sodat eie nywerhede ontwikkel kon word en die republiek ekonomies so onafhanklik moontlik kon wees. Kruger se poging om Transvaal sy eie nywerhede te laat opbou, was uniek. Dit was nie die geval in enige van die ander kolonies in die Britse Ryk in die 19de eeu nie.

Toe Suid-Afrika in 1910 'n unie geword het, het die regering besef dat Brittanje wou voortgaan met die vryhandelsbeleid. Vryhandel het nie net die "moederland" (Brittanje) goed gepas nie, maar ook die mynhuise in Suid-Afrika omdat dit vir hulle finansieel voordeliger was om produkte in te voer, eerder as wat die goedere wat hulle benodig, plaaslik vervaardig word.

For Afrikanermasopma;oste was op hul beurt gretig dat Suid-Afrika sy eie sekondêre nywerhede ontwikkel vir groter ekonomiese onafhanklikheid. Hul mikpunt was 'n eie yster- en staalnywerheid vir Suid-Afrika wat die totstandkoming van plaaslike nywerhede moontlik sou maak. Brittanje was nie tevrede hiermee nie, want die ontwikkeling sou ten koste van sy eie yster- en staaluitvoer wees. Die mynbase en die Engelse koerante het die plan beveg en dit as 'n vorm van sosialisme uitgemaak.

Ten spyte van die teenstand het die regering in 1928 die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie Beperk (Yskor) opgerig waarin die regering die beherende aandeel gehad het. Yskor en Evkom, die staatsbeheerde elektrisiteitsverskaffer, het as groot aansporing gedien vir die ontwikkeling van 'n vervaardigingsektor wat in die meeste van Suid-Afrika se behoeftes, behalwe produkte soos swaar masjinerie, kon voorsien.

'n Sterk nywerheidsektor is opgebou wat reeds teen 19495 meer as die mynwese tot die nasionale ekonomie bygedra het. Teen 1965 was dié sektor se bydrae meer as die gesamentlike bydrae van die landlbou en die mynwese. Dit was die sektor wat die meeste werk aan mense verskaf het.

Die armblanke-probleem

Wit mense wat werkloos was of ongeskoolde werk gedoen het, sou die meeste baat vind by die opbou van 'n nywerheidsektor. Onder hulle was daar 'n groot groep sg. armblankes. Van die 1890's af was daar groot kommer onder wit leiers oor dié groep.

In 1929 het die Carnegie-korporasie van New York ingewillig om 'n studie oor dié verskynsel te finansier. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) het die vernaamste rol gespeel ind ie plaaslike beheerraad van die Carnegie-ondersoek en feitlik al die navorsers wat aangewys is, was Afrikaanssprekend. Die kommissie het in 1932 vyf omvattende verslae gepubliseer. Daarin is o.m. bevind dat daar ongeveer 300 000 armblankes was. Dit het beteken dat een uit elkle ses wit mense armlastig was. Na skatting was daar 50 000 armblankes onder die Afrikaners, wat beteken het dat een uit elke vier Afrikaners armlastig was.

Vir die Kaapse NG Kerk was 'n armblanke iemand wat sy finansiële selfstandigheid kwyt was en nie in staat was om vir hom en sy gesin te sorg nie. E.G. Malherbe, een van die skrywwers van die Carnegie-verslag, het 'n armblanke beskryf as 'n wit mens wat gesink het tot "onderkant die ekonomniese lewenspeil wat ... deur die blanke, aangesien hy 'n wit vel het, gehandhaaf moet word teenoor die naturel, sy veronderstelde of ware mededinger".

Die kommissie se verslag het die weg gebaan vir 'n nuwe begrip van die krisis wat grootskaalse armoede meegebring het. Mense het nou besef dat armoede nie 'n probleem is waarvoor die armes self verantwoordelik is nie, maar die gevolg van maatskaplike en ekonomiese omstandighede waaroor hulle min beheer gehad het.

Daar was baie oorsake van die omvangryke armoede onder Afrikaners. Die belangrikste was waarskynlik dat baie mense sedert die 1880's op plase verarm het. In die algemeen het die boere groot gesinne gehad en boere het hul plase onderverdeel sodat hul kinders 'n deel van die plaas k on erf. In die moderne Suid-Afrikaanse ekonomie was daar nie meer plek vir bestaansboere wat net 'n klein deeltjie van hul opbrengs mark toe geneem het nie.

Min boere het vaardighede gehad wat hulle in die dorp of stad kon gebruik nadat hulle uitgeboer het. Baie kon nie behoorlik lees of skryf nie. Die skrywer M.E. Rothmann, een van die navorsers wat die probleem ondersoek het, het 'n eenvoudige, maar deeglike ontleding van die probleem gegee:

"Hoe langer hoe meer lyk dit vir my die hele verarmingsproses was die natuurlikste en onvermydelikste ding in die wêreld: ons het as handjievol witmense kans gesien om met die hele tamaai Suid-Afrika te boer ... Maar ons het nooit rekening gehou met die reaksie van die veld, die eensaamheid, die afgeslotenheid, op onsself nie.

"Veral het ons nooit rekening gehou met die uitwerking van daardie invloede op die huisgesin nie. Begryp jou, geen opvoedende invloede van verkeer, lees, omgang met mense, kennis van wêreldontwikkeling nie, baie min van die Kerk, al opvoedingsmiddel vir daardie boerevolk was die huisgesin, d.w.s. was die moeder...

"En daardie moeder moes ook die helfte van die boerdery dra, ag tot vyftien swangerskappe deurmaak, geboorte gee met min of geen hulp ... Te veel! Agteruitgang, behalwe van uitsonderings, was onvermydelik..."

Nog 'n rede was dat omtrent 'n kwart van die wit kinders die skool verlaat het sonder dat h ulle behoorlik onderrig of opgelei is. Die kommissie se belangrikste aanbeveling was dat die armblanke-probleem opgelos moet word deur beter voorligting op skool, geskikter onderwys en beter tegniese opleiding.

Die armblanke-probleem is tussen 1933 en 1950 grootliks opgelos. Dit was hoofsaaklik moontlik danksy snelle ekonomiese groei, wat aangewakker is deur 'n skerp styging in die goudprys in 1933. Die volgende 40 jaar het die Suid-Afrikaanse ekonomie teen 'n koers van net onder 5% per jaar gegroei, wat oop groot skaal nuwe werkgeleenthede geskep het. Die staat het arm wit mense ongeskoolde werk gegee en hulle opgelei.

Die opkoms van 'n radikale nasionalisme

In 1929 het die NP weer die verkiesing gewen, maar dié keer 'n regering sonder die Arbeidersparty gevorm. In die volgende tien jaar sou 'n radikale nasinale beweging onder die politieke leiding van D.F. Malan ontwikkel wat die land se politieke landskap ingrypend sou verander.

Die oorsaak hiervan was die ekonomiese krisis wat die wêreld, en ook Suid-Afrika, getref het: die Groot Depressie, wat tot 1933 geduur het. Suid-Afrika is ook deur een van die grootste droogtes ooit getref. Die uitwerking daarvan was verwoestend. Teen 1933 het die produksie van die vervaardigingsektor met ongeveer 'n vyfde gedaal teenoor die syfer van 1929, en 22% van alle bruin en wit mans is as werkloos geregistreer. Die inkomste uit landbou het met die helfte gedaal. Talle boere het bankrot gespeel.

Die krisis is vererger deur die Hertzog-regering se weiering om, soos Brittanje, van die goudstandaard af te stap. Daarmee word bedoel die terugtrek van die ondernemming wat regerings destyds gegee het om die waarde van enige geldnoot in goud uit te betaal. Die krisis het so erg geword dat Hertzog en genl. Smuts in 1932 besluit het om hul partye te laat saamsmelt.

Die Verenigde Party (VP) het in 1933 tot stand gekom. Hertzog was die partyleier en eerste minister en Smuts was adjunk-eerste minister en onderleier. Verskeie vooraanstaande Afrikaners met nasionalistiese oortuigings wat geglo het die tyd is ryp dat die twee wit gemeenskappe hul kragte saamsnoer, is saam met Hertzog na die VP. Onder hulle was H.A. Fagan, Oswald Pirow, Attie Fourie en genl. Jan Kemp, wat almal in die kabinet opgeneem is. Fagan het 'n republiek bepleit, Fourie het as minister van arbeid probeer om die armblankes op te hef en onder Kemp, die minister van landbou, het die staat baie gedoen om wit boere wweer op die been te kry.

Malan, as leier van die Kaapse NP, h et in reaksie op die samesmelting besluit om sy eie party, die Gesuiwerde Nasionale Party, te stig. Die nasionaliste onder Malan was gekant teen vereniging met Smuts en sy volgelinge. Hulle het aangevoer dat dit onwys is dat Afrikanernasionaliste 'n party met die Engelssprekendes vorm terwyl die Afrikaners nog nie op 'n gelyke vlak met die Engelse gemeenskap is nie.

In die stede was Afrikaners in veel laer poste as hul Engelssprekende landgenote. Teen die middel-1930's het Afrikaners slegs 3% van al die ingenieurs uitgemaak, 4% van die boekhouers, 11% van die prokurleurs en advokate, 15% van die dokters en 21% van die joernaliste. Afrikaners i eper capita-inkomste was die helfte van Engelssprekendes s'n.

Die Afrikaners se opvoedkundige peil was ook steeds baie laag. In 'n studie van 1933 is genoem dat 44 uit 'n klas van 100 wat saam begin skoolgaan het, die skool verlaat het sonder om st. 6 (gr. 8) te slaag, dat net 17 st. 8 geslaag het en net agt matriek. Minder as drie het universiteit toe gegaan. In 1939 was net 'n derde van alle wit studente aan universiteit Afrikaners terwyl hulle 56% van die wit bevolking uitgemaak het.

Baie stedelike Afrikaners het 'n slegte selfbeeld gehad. "Kerk en stad", 'n studie deur drie NG-predikante wt in 1947 gepubliseer is, skets die volgende prentjie van die behoefte Afrikaner wat hom pas in die stad gevestig het: "Onder die indruk dat hy onwelkom is, is sy houding dan ook teen hom; hy doen hom swak voor, hy is sku, kom met die hoed in die hand en mis die selfvertroue van die Engelse werksoeker. Hy geniet geen invloed en voorspraak van beter-gesteldes nie; sy volk is arm en ondergeskik aan die wêreldmag wat die Engelse arbeider steun. Hy word deur ander nasies gering geskat en verag."

Selfbehoud vir 'n volk"

Teen die einde van die 1920's het die Pakt-regering onder Hertzog twee besluite oor stemreg geneem: Wit vroue moes stemreg kry en swart mense in die Kaapprovinsie moes van die gemeenskaplike kieserslys afgehaal word. Die plan om wit vroue stemreg te gee, het die vraag laat ontstaan: Waarom nie ook bruin vroue nie?

Hertzog het vas geslo dat die bruin gemeenskap by die wit gemeenskap hoort, maar hy was bekommerd oor die vermenging van bruin en swart mense in die Kaapprovinsie. Hy het gesê bruin mense ken net regte gegee word as 'n mens weet wie 'n "ware kleurling" is. Die regering het in 1929 selfs 'n wetsontwerp ingedien wat daarvoor voorsiening maak dat bruin mense geklassifiseer en op 'n aparte kieserslys geplaas word. Die bruin mense het die klassifikasie sterk teengestaan, want dit sou baie families verdeel.

Min bruin mense het in die 1929-verkiesing vir die NP gestem. Ná dié verkiesing het Malan erken dat die poging om di e bruin mense te klassifiseer, hulle afgeskrik het. Bruin mense, het hy verklaar, moet na die stembus gaan as burgers van Suid-Afrika. Kort daarna het die SAP en die NP saamgesmelt en was dit gou duidelik dat die 
VP (Verenigde Party) die NP se bruin steun sou kry.

Intussen het wit vroue in 1930 stemreg gekry, maar bruin vroue nie. Die gevolg was dat bruin mense se deel van die stemme in die Kaapprovinsie daarna van 11% tot net 6% gedaal het. Die NP het gevolglik besluit om nie meer die bruin stem te probeer wen nie.

In 1936 het die regerende party 'n wetsontwerp ingedien wat die stemreg van die swart mense in die Kaapprovinsie weggeneem het en die grondgebied van swart reservate van ongeveer 7% van die land se oppervlakte tot 13% uitgebrei het. Op die beskuldiging dat die wet onbillik en teen die Christelike beginsels is, het Hertzog geantwoord dat dit nie al is wat tel nie. Selfbehoud is net so belangrik, het hy gesê. "Daar is ' n beginsel van selfbehoud vir 'n volk, die beginsel wat elkeen sy lewe laat opoffer in tyd van oorlog ... dit is die enige beginsel, dié van selfbehoud, van selfverdediging waardeur die mensdom self, en die Christendom self, hom sal kan beskerm."

J.H. Hofmeyr, 'n Afrikaner wat as ' n liberaal geglo het dat almal - ongeag kleur - moet kan stem, het hierop geantwoord dat die wetsontwerp vrees as uitgangspunt neem. Wit  mense kan hul selfbehoud nie op dié manier verseker nie. "Ek glo nie dat ons die toekoms van die blanke beskawing in Suid-Afrika kan verseker as dit nie geskied met die toestemming en welwillendheid van die nie-blanke bevolking nie. Wanneer ek hoor dat die Christelike beginsel van selfbehoud ingeroep word i.v.m. hierdie wetsontwerp, dan dink ek aan die ewige paradoks dat die persoon wat homself wil behou, sy lewe sal verloor." Dit was 'n sterk morele beroep, maar baie min wit kiesers sou daaraan gehoor gee.

Wat harde p olitieke werklikhede betref, was die meningswisseling tussen twee ander Afrikanerpolitici, die twee Malans van die Wes-Kaap, meer ter sake. Die liberaal F.S. Malan het 'n beroep gedoen op die Afrikanerbondtradisie wat deur sy leier, Onze Jan Hofmeyur, geformuleer is. Volgens hom het Onze Jan dié beginsel al in 1887 neergelê. "Hou een standaard vir die kieser, maak die toets so hoog soos jy wil, maar as die man daardie standaard bereik, moenie 'n onderskeid maak nie; behandel hom soos 'n regmatige burger van die land. Gee hom as 'n kieser die verantwoordelikheid van burgerskap sonder om blootgestel te wees aan enige groepswetgewing." Hy het voorgestel dat die Kaapse gekwalifiseerde stemreg na die res van die land uitgebrei word.

Volgens die nasionalis D.F. Malan moes die Kaapse stelsel nie ernstig opgeneem word nie. Dit het 'n groot deel van die swart mense van Transkei van stemreg uitgesluit en toe daar in 1892 stappe gedoen is om die stemregkwalifikasie te verhoog, het niemand die rede daarvoor probeer wegsteek nie. Soos Malan opgemerk het: "Daar is ronduit gesê dat dit aangeneem is om die blankes te beskerm teen die stemreg van die gekleurdes."

Die eeufeesviering van die Groot Trek

As deel van die eeufeesviering van die Groot Trek het nege ossewaens in 1938 'n trek van Kaapstad na die noorde van die land onderneem. Een roete het na Pretoria gegaan, waar die hoeksteen van die groot nuwe monument ter ere van die Voortrekkers op 16 Desember gelê sou word. Die ander roete het na die toneel van die geveg by Bloedrivier in die noorde van Natal gelei.

Die vierings het 'n golf van geesdrif ontlok wat saam met die waens van die een plek na die ander gespoel het. Mans en vroue, dikwels gekleed in Voortrekkerklere, het die waens oral op die roete ontmoet. Die lied "Die Stem van Suid-Afrika" (later die volkslied het in hierdie tyd landwyd bekend geword. Baie ander volksliedere uit die FAK-bundel het nou ook deel van die Afrikaners se kultuur geword en is op allerlei geleenthede gesing. Mense het braaivleis gehou in nabootsing van die Voortrekkers se maaltye in die veld en dit het deel van die algemene Afrikanerkultuur geword.

Die hoogtepunt van die viering was die byeenkoms op 16 Desember in Pretoria wat deur 'n skare van meer as 100 000 bygewoon is. Dertig jaar ná die gebeurtenis het die koerantman Schalk Pienaar, wat die waens van Kaapstad tot Pretoria vergesel het, die vraag gestel: "Wat het met die feesvierings gebeur?" Hy het geantwoord: "Die waentjies het, soos Vader Kestell, die groot kerkman van daardie jare, dit ingeklee het, die volk van sy bestaan magtig bewus gemaak ... Die hele volk is in die hart gegryp."

"'n Volk red homself"

In 1938 het Afrikaners net 1% van die maatskappye in die mynwese besit en beheer. Hul aandeel in die fabriekswese was 3% en in die geval van banke en versekeringsmaatskappy en die handel was dit onderskeidelik 5% en 8%. Die stigting van Volklskas in 1937, 'n bank vir en deur die Afrikaner, het wel baie gehelp om dié groep te bemagtig, maar hoe kon die Afrikaners hul posisie in die ekonomie andersins verbeter?

Gedurende die eeufeesviering van die Groot Trek het veral een toespraak baie aandag getrek. Dit was deur die Vrystaatse kerkleier J.D. ("Vader") Kestell, wat op Februarie 1938 die kwessie van ekonomiese bemagtiging in tipies nasionalistiese taal geopper het. Onder die armes is daar ook die nageslagte van die Voortrekkers, het hy gesê. "Ons bring vandag hulde aan 'n voorgeslag en daar is 300 000 van ons eie vlees en bloed wat in hopelose armoede versink het - stoflik, maar ook sedelik. Die reddingshand moet uitgesteek word.

As armoede nie gestuit word nie, "sal die hele volk ondergaan", het Kestell gesê. Later daardie jaar het hy voor 'n skare van 20 000 in Bloemfontein 'n "aanhoudende reddingsdaad" bepleit. Die Afrikaners moes hulle armes help. "'n Volk red homself," het Kestell gesê. Hierna het die oproep dat die Afrikanervolk homself moet red, een van die sentrale idees van Afrikanernasionalisme geword.

Die Afrikaner Broederbond het teen 'n "liefdadigheidsplan" besluit. In plaas daarvan, moes dit 'n skema word "om die koopkrag en kapitaalkrag van (die) volk produktief in belang van sy ekonomiese selfstandigwording aan te wend". In Kaapstad het Sanlam se senior bestuurslede tot 'n soortgelyke gevolgtrekking gekom. Die AB en Sanlam het toe besluit om Afrikaners se ekonomiese agterstand saam te pak. Die eerste stap was om hulle mede-Afrikaners daarvan te oortuig dat kapitalisme ook in diens van die Afrikanervolk aangewend kan word. Die armes moes gered word deur Afrikaners wat werkgeleenthede aan hulle bied.

Die AB-Sanlam-vennootskap se eerste stap was om in 1939 'n "volkskongres" oor die ekonomie te hou. Dit is bygewoon deur politici, sakelui en akademici. 'n Beleggingshuuis, Federale Volksbeleggings (FVB), wat deur Sanlam beheer is, het hieruit voortgevloei. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het FVB groot beleggings in die visbedryf, hout, staal, chemikalieë en landbougereedskap gehad. Een van FVC se eerste lenings is toegestaan aan die maatskappy van die jong Afrikaanse entrepreneur Anton Rupert, wat later die Rembrandt-groep sou stig.

Die groot uitdaging was om Afrikaners te oorreed om hul spaargeld te belê in maatskappye wat Sanlam of ander Afrikaanse maatskappye sou stig of sou help om op die been te bring. Wanneer hierdie aandele opd ie Johannesburgse Aandelemark genoteer word, moes Afrikaners dit op die aandelebeurs koop. In 1948 is twee Afrikaanse maatskappye vir die eerste keer op die beurs genoteer. Hulle was Distillers Korporasie, een van die Rembrandt-groep se maatskappye, en Bonuskor, een van Sanlam se maatskappye.

T.E. Dönges, later 'n minister, het in die parlement gesê die Afrikaners is vasbeslote om hul ekonomiese aandeel op 'n billike en vreedsame wyse te vergroot, maar dat  hulle nie van plan is om boikotte van Engelse ondernemings van stapel te stuur nie. Hy het bygevoeg dat die Afrikaners te trots is om ander te vra om hul ekonomiese redding te help bewerkstellig. Al wat hulle van Engelssprekendes vra, is om welwillend neutraal te bly terwyl die Afrikaners ekonomies op die been kom.

Oorlog - 'n waterskeiding

Die Verenigde Party het in 1934 tot stand gekom sonder dat die twee leiers, Hertzog en Smuts, uitgeklaar het hoe Suid-Afrika sou optree as Brittanje oorlog teen 'n ander moondheid sou verklaar. Nadat die Tweede Wêreldoorlog in 1939 in Europa uitgebreek het, het Hertzog aan die kabinet voorgestel dat Suid-Afrika neutraal bly.

In enige stemming oor die oorlog sou die stemme waarskynlik gelykop verdeel wees. Hertzog het geglo dit sou die vertroue tussen die twee wit taalgroepe erg skaad as daar met net 'n klein m eerderheid besluit word om Brittanje te steun. Indien Suid-Afrika aan die oorlog deelneem, sou dit volgens Hertzog 'n "ramp" wees en 'n "toestand van ellende" skep. Dit sou "iets wees wat ons vir vyftig jaar, so nie vir honderd jaar, sal affekteer in ons onderlinge verhoudinge". Hierin is Hertzog sterk deur Malan gesteun. Sy argument was dat Suid-Afrika nooit in 'n oorlog weens 'n konflik in verre Pole betrokke sou raak as hy nie bande met Brittanje gehad het nie.

Smuts het ook ' n baie sterk mening oor die saak gehad. Hy was oortuig daarvan dat Hitler die wêreld wou oorheers. Wat op die spel was, was volgens hom "die lotsbestemming van die mensdom en die toekoms van die beskawing".

Hertzog se mosie is met 80 stemme teenoor 67 verwerp. Die stemme het hoofsaaklik die taalverskille onder die parlementslede weerspieël. Die goewerneur-generaal het geweier om die parlement te ontbind en 'n algemene verkiesing uit te roep. Round Table, 'n gesaghebbende tydskrif, het geglo dit was baie waarskynlik dat 'n anti-oorlogparty so 'n verkiesing sou wen. In plaas daarvan het die goewerneur-generaal Smuts gevra om 'n kabinet saam te stel en hy het Suid-Afrika in die Tweede Wêreldoorlog ingelei.

Die oorlogsbesluit het 'n radikale uitwerking op die nasionaliste gehad. N.P. van Wyk Louw het na die stemming in die parlement verwys as 'n "groot nederlaag" en hom voorgeneem om 'n "kompromislose geestelike Afrikanerskap" te probeer opbou. Die Engelssprekendes het die oorlogspoging deur die bank gesteun en wou hê dat daar opgetree word teen Suid-Afrikaners wat die oorlog teenstaan. Hoewel die helfte van die vegtende troepe Afrikaners was, het die persepsie bestaan dat Afrikaners as groep teen die oorlog gekant was.

'n Onderlinge stryd oor demokrasie

Ná sy nederlaag is Hertzog deur Smuts as eerste minister vervang. Dertien van Hertzog se volgelinge in die parlement het daana die Afrikanerparty onder leiding van N.C. (Klasie) Havenga, Hertzog se lojaalste bondgenoot, gevorm.

Twee ander onrganisasies het ook in dié tyd tot stand gekom: die Ossewabrandwag (OB) en die Nuwe Orde, wat in 1940 gestig is met Oswald Pirow, 'n lid van Hertzog se kabinet voor die 1939-skeuring, as leier. Die Nuwe Orde he4t 'n Afrikaanse vorm van nasionaal-sosialisme bepleit. Die paramilitêre OB  was die belangrikste anti-oorlogsbeweging en is gestig om die "ossewagees" van die 1938-viering voort te sit. In 1941 het J.F.J. (Hans) van Rensburg, vroeër administrateur van die Vrystaat, as leier oorgeneem. Hy was 'n vurige ondersteuner van Nazi-Duitsland en het homself eerder as 'n man van aksie as 'n "kulturele vuurvreter" beskou.

As leier van die OB het Van Rensburg 'n veldtog begin vir 'n "vrye Afrikaner republiek gegrondves op Nasionale Sosialistiese fondamente". Hy het 'n parlementêre vorm van demokrasie verwerp en daarop aangedring dat die OB as massabeweging alle Afrikaners verteenwoordig. Die beweging het sy hoop gevestig op 'n oorwinning vir Duitsland en hulp van dié land in die vestiging van 'n republiek. Die OB het 'n afdeling genaamd die Stormjaers gehad wat die oorlogspoging deur sabotasie en enkele sluipmoorde in die wiele probeer ry het.

As 'n kwasimilitêrere organisasie het die OB sterk gegroei a.g.v. Afrikaners se groot ontnugtering deur die parlementêre vorm van demokrasie wat Suid-Afrika sonder 'n besliste meerderheid in 'n oorlog laat beland het. Sommige het die OB se ledetal selfs op 100 000 geskat. Die organisasie het egter gou die onderwerp van spot geword weens sy pogings om geesdrif te wek deur militêre oefeninge en die toekenning van militêre range.

Die NP het die parlementêre politiek en die stembus besku as die enigste aanvaarbare metode om die Afrikanernasionaliste se strewe na 'n republiek te verwesenllik. Gewelddadige v erset teen die oorlogspoging is afgekeur, maar Malan het ook verklaar dat Suid-Afrika hom aan die oorlog moet onttrek.

'n Oorlogsmaatreël wat groot ontsteltenis ind ie anti-oorlogskamp gewek het, was die bevel vat alle burgerlikes, ook boere, hul wapens en ammunisie moes indien. Malan het sterk hierteen beswaar gemaak. Daar was ook ontsteltenis oor die regeringsbevel dat staatsamptenare en onderwysers uit die OB moet bedank en van 1944 af ook uit die Broederbond. Die mees gehate maatreël was internering sonder ' n voorafgaande verhoor, wat op 'n groot skaal gebruik is. John Vorster, 'n jong regsgeleerde wat later eerste minister sou word, was onder die geïnterneerdes.

Die staatsdiens het gepolitiseerd geraak en die onderskeid tussen die regerende party en die staatsdiens het vervaag. Dit word bewys deur die optrede van die direktekur van militêre intelligensie, wat sy verslae oor NP-leiers aan die VP se sekretaris beskikbaar gestel het.

Vroeg in 1942 het Malan en die ander NP-leiers 'n diktatuur onvoorwaardelik verwerp as 'n vreemde produk wat van buite in Suid-Afrika ingevoer is. Hulle het 'n parlementêre demokrasie onderskryf. Malan het dikwels gesê die party is die moeder en die gebruik van die stem die enigste regte politieke weg om die mag te verower en uiteindelik 'n republiek te verkry. Die party het sy lede gelas om uit die OB te bedank. Steun vir die OB en die Nuwe Orde het nou vinnige afgneem. In die 1943-verkiesing het die NP genoeg vertroue gehad om 'n verkiesingspakt m et hierdie organisasies van die hand te wys.

Die VP het 89 en die NP 43 setels in daardie verkiesing gewen. Baie Afrikanerkiesers het buite stemming gebly. Die Burger, die NP se invloedrykste ondersteuner, het die betekenis van dié verkiesing in 'n enkele sin saamgevat: "Daar is geen ander model as die stembus vir ons aspirasies nie." Die stryd onder die Afrikanernasionaliste in die oorlogstyd het dus uitgeloop op 'n beslissende oorwinning vir die NP, wat 'n parlementêre demokrasie verkies het.

Die 1948-verkiesing

Dit was nie apartheid nie, maar eerder die omstrede oorlogsverklaring in 1939 en die ontwrigting wat die oorlog meegebring het wat in 1948 deurslaggewend in die Afrikanernasionaliste se oorwinning by die stembus was. Oor die algemeen is gevoel dat die NP die wit mense se politieke heerskappy sterker sou afdwing.

Die NP het nou wyd steun onder die verskillende Afrikanergroeperings geniet. Van sy sterkste ondersteuners was dosente, onderwysers, predikante en kultuurmense, soms die intellilgentsia genoem. Hy het ook groot steun gehad onder boere, sakelui en werkers. Die intelligentsia het gestrewe na 'n republiek en gelyke status vir die twee tale. By boere en werkers het stoflike oorwegings meer getal.

Die apartheidsbeleid het 'n betreklik klein rol in die NP se verkiesingsveld gespeel. In sy finale beroep op die kieserskorps het Malan net in 'n enkele ondubbelsinnige opmerking na apartheid verwys. Hy het gesê die kwessie is of daar terselfdertyd apartheid en ook geregtigheid, vrede en samewerking tussen wit, bruin en swart kan wees.

In Op die vooraand van apartheid het J.P. Brits die briewe ontleed wat in die ses maande voor die verkiesing in Die Burger en Die Transvaler verskyn het. Hy het bevind dat ander kwessies as die rassekwessie vir die briefskrywers belangrik was. Die persepsie dat die VP-regering in die voorafgaande agt jaar teen die Afrikaners gediskrimineer het, was veral van belang. Die voedseltekort en -rantsoenering, asook die behandeling van oudsoldate, het ook ter sprake gekom. Hoewel die koerante se hoofartikels op die rassekwessie gehamer het, het net een uit elke tien briewe hierdie saak aangeroer.

Op 26 Mei 1948 het die NP, in bondgenootskap met die Afrikanerparty, die verkiesing onverwags gewen. Die koalisie se meerderheid was 'n skrale vyf setels en hulle het saam net 40% van die kiesers getrek. Net ná die verkiesing het Malan gesê: "Vandag behoor Suid-Afrika weer aan ons. Suid-Afrika is ons eie vir die eerste keer sedert die Unie van Suid-Afrika. Mag God gee dat dit altyd ons eie bly."

Met sy opmerking dat Suid-Afrika weer aan die Afrikaners "behoort", het hy nie die wit-swart-stryd in gedagte gehad nie, maar die politieke konflik tussen Afrikanernasionaliste en die Engelse gemeenskap wat in oorlogstyd ongekende afmetings aangeneem het. Afrikanernasionaliste het lank daarvan gedroom om h eeltemal vry te wees. Vir hulle het vryheid behels dat Suid-Afrika nie meer onderhorig aan Brittanje moet wees nie en dat die Afrikaners nie langer 'n minderwaardige posisie t.o.v. die Engelssprekende gemeenskap moet beklee nie. Suid-Afriika se toetrede aan Britse kant in twee wêreldoorloë het groot gegriefdheid onder hulle veroorsaak. In werklikheid was Suid-Afrika reeds in 1926 met die Balfour-verklaring vir alle praktiese doeleindes vry.

Op sakegebied was die vordering aansienlik. Waar Afrikaners teen 1938 nog maar net 'n geringe aandeel in ekonomiese ondernemings gehad het, het hul aandeel in 1948 tot 'n tiende van die totaal toegeneem en teen 1975 tot 'n vyfde. In die Afrikaanse sakewêreld was daar 'n sterk geloof dat die individu nie net vir hom- of haarself leef nie, maar ook vir die gemeenskap. Anton Rupert, die grootste Afrikanernyweraar, het in 1949 gesê die doelwit van die Afrikaanse sakesektor is "om die vrymaking van ons volk te bevorder en die Afrikaner te help om sy regmatige plek in die nywerheid inte neem as toekomstige werkgewer en werknemer".

Die Afrikaanse taal het vinnig ontwikkel. Dit het die simbool van die Afrikaners se kollektiewe identiteit geword. Die manier waarop sommige Afrikanerleiers die taal as eksklusiewe Afrikaner-"besit" toegeëien het, het egter 'n kloof tussen hulle en bruin en swart sprekers van die taal geskep.

In die eerste twee dekades van die 20ste eeu het die nasionaliste gedroom om 'n plek in die land in te neem waar die Afrikaners hulself kon wees en waar hulle trots kon wees op hul taal, kultuur en geskiedenis. Daardie ideaal is teen 1948 grootliks verwesenlik. Die groot vraag was: Hoe sou hulle met die politieke mag in die hande hul verantwoordelikheid teenoor al die mense in die land nakom?

Hermann Giliomee

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5