Migrasie en die gemeenksappe noord van die Oranjerivier

In sowel die verre verlede as in moderne tye het mense op 'n vrywillige of gedwonge wyse gemigreer. Verskillende vorme van migrasie sluit onder meer seisoensmigrasies in, bv. wanneer mense tydelik na 'n ander streek trek omdat dit beter weiveld vir hul vee bied. Dan is daar permanente verhuisings soos die Groot Trek in die 19de eeu en die verhuising na Argentinië van groepies Afrikaners vroeg in die 20ste eeu (hoewel laasgenoemde ook onder interkontinentale migrasies ingedeel kan word).

Die verhuisings van swart mense in Suider-Afrika omstreeks 1750-1835 tydens die Mfecane - wat in hierdie hoofstuk bespreek word - was hoofsaaklik gedwonge migrasies. ander voorbeelde van migrasies is verstedeliking, waar mense van plattelandse streke na die strede beweeg, en die omgekeerde proses, waar mense vanweë die drukte in die stede verkies om op die rustiger platteland te gaan woon.

In die geskiedenis het migrasie ook voorgekom in die vorm van verowering en kolonisering van lande of deur stadige kulturele infiltrasie en hervestiging. Die spanning en destabiliserende uitwerking wat hierdie gebeure in gemeenskappe meegebring het, het soms tot betekenisvolle gebeure in die wêreldgeskiedenis gelei, bv. die ondergang van die Wes-Romeinse Ryk. Migrasie in die vorm van kolonisasie het tot transformasies gelei in lande soos Australië, die Amerikas en Suid-Afrika.

Wat is die algemene oorsake van migrasie? Een interessante teorie verwys na die stoot- en trekfaktore wat migrasie motiveer. Die stootfaktore verwys na gebeure in 'n land wat mense as't ware daaruit stoot en is gewoonlik meer aggressief van aard. 'n Mens kan dit ook só stel dat sekere omstandighede mense "afgestoot het" en dat dit hulle laat trek het. Stootfaktore wat trekgedagtes kan  laat ontstaan, sluit in skaarste aan werkgeleenthede of grond, politieke afkeer of vrees, besware in verband met kultuur en taal, teleurstelling met sekere wette, ens. Onder die trekfaktore ressorteer gewoonlik posisiewe kenmerke in 'n ander land wat mense aantrek en hulle oorhaal om daarheen te verhuis. Dit kan faktore soos beter werkgeleenthede, beter lewensomstandighede, politieke en godsdiensvyheid, sekuriteit, onderwysgeriewe, beter mediese sorg, familiebande en goedkoop beskikbare arbeiders en grond insluit.

Die migrasies in Suider-Afrika soos die Mgecane en Groot Trek is eintlik baie klein in vergelyking met migrasiestrome elders in die wêreld, bv. die verhuising van 400 000 Jode na Palestina in die vroeë 1900's. 'n Verdere voorbeeld in die 20ste eeu is die migrasie van drie miljoen Russe, Pole en Duitsers uit die Sowjetunie as gevolg van die Russiese Burgeroorlog.

Migrasies in Suider-Afrika

Dié hoofstuk sal die verskillende bevolkingsgroepe wat noord van die Oranjerivier gewoon het in die tydperk van 1750 tot 1835 se herkoms, samestellilng, groeperinge, migrasies en leefwyse kortliks bespreek. Dit is bedoel as agtergrond om die Mfecane en Groot Trek beter te vrstaan.

Teen omstreeks 1800 was daar verskeie Khoekhoen-, Boesman-, gekleurde en Banusprekende gemeenskappe noord van die Gariep (Oranjerivier). In die westelike dele, tussen die Vaal- en Marico-Moloporivier, het hoofsaaklik Boesman-, Khoekhoen- en Tswanagemeenskappe gewoon. Daar was toe ook reeds enkele wit en veral gekleurde inwoners soos die Griekwas en Koranas wat uit die Kaapkolonie hier 'n bestaan gesoek het.

Verder oos in die gebiede wat vandag as Mpumalange, die oostelike dele van Lilmpopo, Vrystaat, KwaZulu-Natal, die oostelike deel van die Oos-Kaap en die koninkryk van Swaziland bekend staan, was daar Boesman-, Sotho-, Tswana-, Noord- en Suid-Nguniegemeenskappe, asook die Venda en Lemba. Onder hierdie groepe was dit veral die Griekwas en Koranas tussen die Gariep-, Harts- en Vaalrivier, die opkomende Zulu onder Shaka in Natal, die Basotho onder Mosjwesjwe (ook Moshoeshoe geskryf) op die westelike Hoëveld (wes van die hedendaagse Pretoria) wat nuwe magsblokke in die binneland geskep het.

Verdere "bestanddele" in hierdie pot wat binne 'n dekade of drie sou dreig om oor te kook, was die wit trekboere wat in hierdie jare uit die Kaapkolonie na oorkant die Gariep beweeg het. Gelyktydig het verskeie sendelinge hulle hier gevestig. Tussendeur het die Britse regering ook stadig begin om in dié streek belang te stel en 'n invloed daar uit te oefen. Daarmee het die Kaapkolonie as't ware sy "walle oorstroom" en is sy noordgrens in werklikheid verder noordwaarts uitgeskuif.

Kaapse Grensgebiede

Wat word onder die benaminge Kaapse noordgrens, noordoosgrens en oosgrens in die eerste helfte van die 19de eeu verstaan?

Normaalweg is 'n grens slegs 'n denkbeeldige lyn of geografiese bakens (riviere en berge) wat 'n gebied afpen. In die Kaapse dokumente van daardie tyd word dit dikwels ook gebruik vir die gebied of streek of distrikte wat langs hierdie grens lê.

Die Kaapse grense het van 1800 tot 1850 dikwels verander, maar by benadering kan gesê word dat die noordgrens vanaf die weskus tot ongeveer net wes van die dorp Colesberg (by die Seekoeirivier) gelop het. Aanvanklik het hierdie grens heelwat verder suid van die Garieprivier geloop. Omstreeks 1800 het die grens bv. vanaf die weskus met die Buffelsrivier oor die Nuweveldberge na Plettenbergsbaken aan die Seekoeirivier geloop. Die distrikte suid van hierdie grens, soos Stellenbosch en Graaff-Reinet, het toe nog die noordgrensdistrikte gevorm. Stellenbosch is later onderverdeel in verskeie distrikte soos Tulbagh en Clanwilliam, en van Graaff-Reinet is later Somerset(-Oos), Beaufort-Wes en ander afgestig.

Die noordoosgrens het later suidwaarts van die mond van die Stormbergspruit (in die Garieprivier) al langs die Stormbergspruit tot by die Stormberg geloop en dan suid daarvan die Klaassmits- en Swartkeirivier tot by die Winterberg gevolg. Langs die noordoosgrens het die groot distrikte Cradock en Somerset(-Oos) gelê.

Die oosgrens het omstreeks 1825 suid van die Winterberg die Koonap- en Groot-Visrivier tot by die kus gevolg. Die distrik Albany (Grahamstad) het hieraan gegrens.

Die Boesmans

Die noord- en noordooswaartse uitbreiding en kolonisasie van wit burgers uit die Kaapkolonie, asook die kolonisasiebewegings van swart gemeenskappe uit die Oos-Kaap, Transgariep en Natal, het veroorsaak dat die Boesmangroepe wat daar gewoon het, òf uitgedruk òf onderwerp is. Die Boesmans wat nie geïntegreer is in die ekonomie van die wit boere of die swart gemeenskappe nie, het uitgewyk na buite die kolonie se noord- en noordoosgrens waar hulle by ander jagterversamelaars aangesluit het.

In die binneland het die Boesmans se verhoudinge met die swart groepe versleg sodra dié groepe hul jaggebiede binnegedring het. Die Boesmans het die swart gemeenskappe se besetting beantwoord deur hulle aan te val en hul vee te steel. Dit was 'n herhaling van hul reaksie teenoor die wit boere wat 'n dekade of twee tevore hul jaggebiede in die kolonie beset het. Die uiteinde was dat die Boesmangemeenskappe verjaag is of by die swart gemeenskappe as onderdane van 'n laer status ingelyf is.

Die Boesmans se botsings met die Suid- en Noord-Nguni het uiteindelik daarop uitgeloop dat hulle na die Oos-Kaapse berggebiede asook na die Drakensberge gevlug het. Die klein Boesmangroepies wat in die Drakensberge probeer oorleef h et, is egter in die 1820's en 1830's selfs daar deur uitgehongerde vlugtende groepe, naamlik die slagoffers van die Mfecane, aangeval en bykans uitgewis.

Die streek tussen die noordgrens (wat omstreeks 1800 nog suid van die Gariep, ook bekend as die Oranjerivier, was) en die Garieprivier en ook noord daarvan, is vanaf ongeveer 1780 deur die Griekwas beset. Hulle het die Boesmans op 'n wrede wyse van hul fonteine en jaggebiede verdryf. Die tweede koloniserende groep wat tussen die jare 1800 en 1825 die Boesmans meedoënloos uit die noordwese, bekend as Boesmanland, verdryf het, was dit wit trekboere. Daar was wel ook van die wit boere se kant redelik suksesvolle pogings om die boesmans as arbeiders in diens te neem en om andere te bevriend deur hulle van voedsel en vee te voorsien. Baie Boesmans het vee-oppassers en arbeiders op die wit burgers se plase geword en daarmee hul onafhanklikheid prysgegee.

Die Koranas

Die Koranas was van die vroegste inwoners van die Transgariep. sommige historici meen dat hulle deel was van die Khoekhoengemeenskappe wat baie vroeg uit die noorde gemigreer en hulle net noord van die Gariep gevestig het. Hulle was rondtrekkende veeboere en voortdurend op soek na water en weiveld. Die Koranas, soos die Khoekhoengroepe, het 'n gebrek aan eenheid geopenbaar en teen die 1830's was daar reeds minstens twintig groepe met eie kapteins aan die hoof. Die Koranagroepe is mettertyd versterk deur die noordooswaarts uitwykende Khoekhoengroepies wat in die vroeë 18de eeu uit die Kaapkolonie oor die Gariep beweeg het. Selfs wit burgers, slawe en vryswartes wat weens de een of ander oortreding uit die kolonie moes padgee, het by die Koranagroepe aangesluit.

Sekere Koranagemeenskappe het sterk gegroei, bv. die Swart Volk onder leiding van die wit uitgewekende Jacob Kruger wat 'n paar Koranavroue gehad het. Sy geneigdheid tot geweld met behulp van vuurwapens het die groep in twee laat skeur. Die Regshande onder Kruger het in die omgewing van die latere Griekwastad gaan woon en die Towenaars in die suide van die Transgariep. Daar was ook 'n groep onder leiding van die wit man Jan Bloem en 'n ander onder Koos Taaibosch. Die Koranagroepe het baie rondbeweeg en later met hul vuurwapens rooftogte op die Boesmans, Griekwas, Sotho, Tswana en Ndebele uitgevoer. Teen die einde van die 18de eeu was hulle daarvoor bekend dat hulle gedurig strooptogte in die binneland uitgevoer het. Kleiner Sothohoofmanskappe tussen die Gariep en Vaal is deur die Koranas bykans uitgewis.

In die 1820's en 1830's het die Koranas dikwels met ander splintergroepe en slagoffers van die Mfecane saamgespan om ander gemeenskappe te plunder. so het hulle bv. met die Taung en Rolong saamgespan om in 1828 en weer in 1831 die Ndebele (Matabele) van Mzikikazi aan te val. Albei aanvalle het klaaglik misluk. Die boesmans was voortdurend onder druk van die Koranas en later veral die Griekwas. Baie Boesmans is in die proses in die Koranageledere opgeneem, en van die Koranagroepe het selfs onder Boesmankapteins soos Dawid Danster gestaan. Die Griekwas onder Andries Waterboer en Adam Kok het dikwels alliansies met die Koranas gevorm en gesamentlik die Ndebele aangeval. Die Griekwakapteins wou graag die Koranas onder hulle gesag bring, maar kon nooiot werklik daarin slaag nie.

Die Griekwas

Die Griekwas was die eerste draers van 'n min of meer Westerse leefwyse wat hulle permanent in redelik groot gemeenskappe noord van die Gariep gaan vestig het. Hul migrasie na die noorde en noordooste was in 'n groot mate gemotiveer deur 'n soektog na maklik bekombare en beskikbare grond en in sommige gevalle om vry van oorheersing, diskriminasie en koloniale wette te word.

Onder die verbrokkelde Khoekhoengroepe was daar 'n groot groep wat nie by die wit boere in diens wou tree nie. Hulle het in klein groepies op die grense van die kolonie 'n bestaan as jagterversamelaars, veeboere en selfs veediewe probeer maak. Hul geledere is geleidelik uit die Kaapkolonie versterk deur weggeloopte slawe. vryswartes, Basters en enkele wit mense. Hul taal was Nederlands en hul kleredrag, wapens en sekere aspekte van hul leefwyse het sterk aan dié van die wit boere herinner. Tydens 'n vergadering op 7 Augustus 1813 op die dorpie Klaarwater het hierdie gemengde groepe mense besluit om die naam Griekwa aan te neem en dat Klaarwater voortaan Griekwastad sou heet. Eers. John Campbell, inspekteur van die Londense Sendinggenootskap (LSG) wat by hierdie vergadering teenwoordig was, het dié interessante gebeurtenis in sy Travels in South Africa te boek gestel.

Omstreeks 1800 het twee belangrike Griekwagemeenskappe hulle tussen die koloniale noordgrens en die Gariep gevestig. Die een groep het gestaan onder Cornelius Kok, sen van Adam Kok, wt toe pas oorlede is, en Cornelius se seuns Adam II en Cornelius II. Die tweede groep was onder leiding van Barend Barends en het hoofsaakllik uit Bastens bestaan. Albei kapteinskappe het teen 1805 noord van die Gariep gewoon: Kok en sy groep by Klaarwater (later Griekwastad) en Barens se gemenskap by Daniëlskuil. Die kapteins se gesag is deur die koloniale regering erken. Elke kaptein is in die uitoefening van sy gesag deur ' n raad bygestaan wat die wette gemaak het. Die regterlike gesag was in die hande van magistrate, wat gewoonlilk lede van die kapteins se families was. Die plaaslike administrasie is deur veldkornette behartig wat in tye van oorlog ook as militêre aanvoerders opgetree het.

Die kapteins Cornelius Kock, sy seun Adam Kok II en Barend Barends was rustelose mense wat dikwels rondgetrek het. Dit het 'n standvastige bestuurstelsel bemoeilik. Die kapteins se verhouding met die sendelinge van die LSG, wat reeds in 1801 onder hulle gearbei het, was nie goed nie omdat die sendelinge in hul sake ingemeng het deur o.m. 'n verkope k apteinskap in plaas van die gebruiklike erflike kapteinskap voor te staan. 'n Verdere faktor wat onstabiliteit veroorsaak het, was dat heelwat van die nuwe aankomelinge wat onder hulle gaan woon het, nl. Basters, Koranas en Khoekhoengroepe, nie altyd die kapteins se gesag wou erken nie. Die kapteins se gesag is verder verswak deur sommige van hul o nderdane wat deur handelsbedrywighede welvarend geword en vuurwapens bekom het. Dit het toenemend veroorsaak dat hulle onafhanklik van die kapteins gevoel het.

Mettertyd was daar 'n verdere versplintering onder die Griekwakapteinskappe wat eenheid teëgewerk het. Cornelius Kok het besluit om sy hoofskap aan sy seun Adam Kok II oor te dra en na sy ou tuiste in die Kamiesberg terug te k eer. Intussen et die sendelinge die Griekwas oorgehaal om 'n kaptein te kies en Adam Kok II is opnuut as leier verkies. Hierdie verkiesing is deur die koloniale regering erken en Kok het 'n ampstaf van die Kaapse goewerneur ontvang. In 1816 het Cornelius Kok na Griekwastad teruggekeer en weer die kapteinskap opgeëis. Sy i nvloed het tydens sy afwesigheid getaan en hy moes hom toe noodgedwonge met sy ondersteuners by Campbell gaan vestig. Kort voor sy dood het hy sy ander seun, Cornelius II, as opvolger aangestel.

Adam Kok II het in opstand gekom teen die sendelinge se politieke inmenging. Dit het tot verdere verdeling onder die kapteinskappe gelei. 'n Groep Griekwas - bekend as die Hartenaars - het teen hom in opstand gekom en 'n onafhanklike regering by die Hartsrivier gevestig. Adam Kok II was so geleurgesteld met dié verwikkelinge dat hy bedank het en kort voor sy vertrek uuit Griekwastad die regering in die hande van sy seun Kort Adam oorgee het. Die sendelinge het weer eens ingemeng en 'n verkiesing georganiseer waarin Andries Waterboer, 'n gunsteling van die sendelinge, as kaptein gekies is. Waterboer is deur die sendelinge opgelei en het selfs 'n tydjie as assistent-sendeling opgetree. Die sendelinge het hom bo die ongeletterde Adam Kok verkies, maar sommige Griekwas was ontevrede omdat Waterboer nie tot die Kokfamilie behoort het nie  en gedeeltelik van Boesmanherkoms was. Die onstuimigheid en verdeeldheid onder die Griekwas het met die verkiesing van Waterboer vererger en die moontlikheid dat die vier kapteinskappe sou verenig, het al verder gewyl.

Die sendeling William Anderson en sy kollegas het in Griekwastad onvermoeid gearbei en die Christendom stewig daar gevestig. Die sendelinge het ook op vele ander terreine 'n belangrike rol gespeel. Hulle het selfs die koloniale regering se boodskappe aan die Griekwaregering gehanteer en dus nie-amptelik die Britse regering verteenwoordig. Anderson se politieke inmenging en pogings om etiese norme aan die Griekwas op te dwing, het egter mettertyd sy gesag ondermyn en in 1820 het hy Griekwastad verlaat. Kort ná sy vertrek, het die Britse regering begin om sy gesag noord van die Gariep voelbaar te maak deur 'n Britse resident in Griekwastad te vestig. Die residentagent was Johan Melvill, 'n voormalige regeringslandmeter wat ook 'n belangstelling in sendingaksies gehad het. Melvill se pogings om die Griekwas onder Waterboer te verenig, het groot ontevredenheid onder die ander kampteins tot gevolg gehad en in 1826 het hy onverrigtersake na die Kaapkolonie teruggekeer.

Intussen het Adam Kok II hom deur bemiddeling van dr. John Philip, superintendent van die LSG, op die ou boesmansendingstasie Phippolis gevestig,. Op Philippolis het Kok met sy groep van ongeveer sestig Griekwa-families 'n bestuurselsel gevestig, bestaande uit 'n raad van 12 lede, magistrate en veldkornette. Sy sekretaris was die intelligente Hendrik Hendriks wat ook die korrespondensie met die Britse regering hanteer het en Kok se regterhand was. Saam met die Griekwas het ook Tswana-, Sotho- en Korana-families hulle daar gevestig en is, saam met nuwelinge uit die kolonie, in die gemeenskap opgeneem. Enkele voormalige Khoekhoen van die Katrivier-nedersetting in die Kaapkolonie net noord van Fort Beaufort het hulle in die vroeë 1830's ook by Kok aangesluit. Adam Kok II is in 1835 oorlede en ná heelwat struwelinge het sy seun Adam Kok III hom opgevolg.

Die Griekwastaat  het dus in die eerste dekades van die 19de eeu vinnig sterker geword en mettertyd is ook hul grondgebied ten koste van die Boesmans en ander gemeenskappe u itgebrei. Die Boesmans is uit hul jaggebiede verjaag en doodgemaak. Koranagroepe in die omgewing is tot onderdanigheid gedwing. Die Griekwas se ekonomie het hoofsaaklik op veeboerdery berus, maar die verbouing van graan en veral die dryf van handel in vee, velle, ivoor, sout en graan met omringende gemeenskappe soos die Tlhaping, Basotho en Koranas h et voorrang geniet. Deur as tussengangers op te tree tussen die kolonie en die swart gemeenskappe noord van die Gariep het handel in hierdie produkte in die 1820's en 1830's goeie winste vir die Griekwas gelewer wat hul lewensomstandighede aansienlik verbeter het.

In Junie 1823 is die Tlhapingdorp Dithakom deur 'n groep Phuting, Fokeng en Hlakwana bedreig. Hulle was vlugtendes wat deur ander groepe aangeval is en toe - tipies van die Mfecane-tydperk - op hul beurt weer 'n volgende gemeenskap sou oorval. Die sendeling van die LSG, Robert Moffat, het inderhaas die Griekwas gevra om Dithakong te help verdedig en Adam Kock, Barend Barends en Andreis Waterboer het met ongeveer honderd gewapende man gehelp om die aanval af te slaan.

Mzilikazi se Ndebele het hul invloed vanaf 1826 op die westelike Hoëveld laat voel en die meeste Tswanahoofmanskappe onderwerp. Die gevolg was dat die Griekwas se handelsroetes met hul noordelike bure geblokkeer en bemoeilik is. In 1829 het daar dus 'n gekkombineerde Griekwa-, Korana- en Tswanamag onder Jan bloem teen Mzilikazi uitgetrek, maar ná aanvanklike suksesse het die Nedebele 'n teenaanval geloods en meer as vyftig van Bloem se manne gedood.

Barend Barends het vasberade pogings aangewend om die vyande van die Ndebele te verenig om hulle uit die Griekwagebied te verdryf. In Junie 1831 het 'n gesamentlike Griekwa-, Tlhaping- en Rolongmag teen Mzilikazi opgeruk. Ongeveer die helfte van die sowat 1 000 man was Griekwas. Nadat die kommando sowat 6 000 stuks vee van die Ndebele gebuit het, het hulle met die volle geweld van Mzilikazi se slaankrag kennis gemaak. Barends se kamp is oornag oorval en ongeveer 400 Griekwas is gedood.

Die Griekwas het spoedig die intrekkende Voortrekkers as bondgenote teen Mzilikazi beskou en in 1836 het hulle gretiglik saam met 'n kommando Voortrekkers en Rolong teen die Ndebele by Mosega uitgetrek. Hierdie aanval op Mzilikazi se Ndebele het daartoe aanleiding gegee dat Mzilikazi in 1837 besluit het om die Maricostreek te verlaat. Hierdie vlugtog het veroorsaak dat die Ndebele in twee groepe verdeel het. Een groep het na die hedendaagse Zimbabqwe uitgewyk, terwyl 'n ander onder Mzilikazi self na die Okavangostreek in die noorde van die hedendaagse Botswana verhuis het. Eers veel later sou Mzilikazi en sy groep weer by sy ander volgelinge aansluit. Die Griekwas het egter 'n mindere aandeel gehad in Mzilikazi se besluit om na die teenswoordige Zimbabwe te verhuis.

Die Griekwas se kennis en besit van vuurwapens en perde het in die 1820's en 1830's daarvoor gesorg dat hulle die onstuimigheid in die binneland bekend as die Mfecane grootliks gespaar gebly en direkte aanvalle vrygesrping het, maar soos uit die bostaande blyk, is hulle tog ook daarby betrek. Die historikus H.J. van Aswegen wys daarop dat die vestiging van die Griekwas in die Transgariep 'n nuwe oopgrensgebied geskep het waar koloniserende groepe met mekaar in aanraking gekom het. Die Griekwas se vestiging het, te midde van die verwoesting rondom hulle, tog in 'n betreklik klein gebied daarin geslaag om 'n rustigheid te skep wat die wit boere se besetting van die streek vergemaklik het, maar wat ironies genoeg tot nadeel van die Griekwas was.

Wit trekbroere

Wit veeboere uuit die Kaapkolonie het nog voor 1700 begin om stadigaan noord- en later ooswaarts die binneland in te beweeg op soek na beter weiveld vir hul kuddes. Die meeste wit veeboere was op hul leningsplase in die kolonie gevestig, maar daar was 'n groep wat vanweë ekonomiese faktore rondgetrek en m ettertyd in die geskiedenis as trekboere bekend geword het. Die stelselmatige inbesitneming van plase in die 18de eeu was 'n spontane kolonisasiebeweging en nie deel van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se beleid nie. Sonder dat die VOC dit so wou hê, is die Kaapkolonie tussen die jare 1700 en 1780 enorm uitgebrei. Die Wes-Kaapse distrik Stellenbosch kon vir enkele jare tot voor die tostandkoming van die distrik Graaff-Reinet in 1785 eweneens 'n oosgrensdistrik genoem word, aangesien die Onder-Visrivier deel van sy oosgrens uitgemaak het.

Nadat die veeboere teen omstreeks 1780 teen die Groot-Visrivier en die Bantusprekende gemeenskappe gestuit het, het die migrasiestroom na die noorde geswaai. Die noordelike punt van die noordgrens was teen 1778 vasgestel as die Plettenbergsbaken naby Colesberg, maar die veeboere het spoedig noord daarvan tot by die Garieprivier plase in besit geneem. Een kenmerk van hierdie uitbreidingsproses was dat die regering voortdurend en stelselmatig die grens moes verskuif om die wit bevolking binne sy grense te hou. In die eerste dekades van die 19de eeu het die uitbreiding voortgegaan en enkele wit boere was reeds voor 1820 periodiek noord van die Gariep (nou algemeen bekend as die Oranje) met hul vee. In die jare 1822-1824 is die noordgrens na die Oranjerivier verskuif, maar ook dit kon die wit boere nie stuit nie.

Die periodieke droogtes in veral die grensdistrikte van die Kaapkolonie was onder die belangrikste oorsake wat veeboere in sekere jare en seisoene met hul vee beter weiveld laat soek het. Daar was ook faktore soos trekbokke en sprinkane wat van tyd tot tyd die weiveld verniel het. Die draagkrag (getal skape per hektaar) van die grond in die Karoostreke was laag en veel groter plase was nodig om voldoende weiveld en water vir 'n gemiddelde kudde te voorsien. Selfs die grootste Karooplase was tydens droogtes onvoldoende. Die noordoosgrens se boere het dus gereeld in droogtetye na oorkant die Stormbergspruit met hul vee beweeg, terwyl die noordgrensboere na oorkant die Oranjerivier getrek het.

Die trekboere het hierdeur 'n mobiliteit ontwikkel. Op die trekpad was hul waens hul woning en skuiling teen wind en weer, asook 'n toevlug tydens vyandige aanvalle. Omdat hul seisoenale migrasies hoofsaaklik ekonomies gemotiveer was, wou hulle aanvanklik nie permanent in die Transoranje gaan woon nie. Hulle het deurgaans daarna gestreef om bande met die Kaapkolonie te behou en, soos dit goeie burgers betaam, nog gereeld staatsheffings soos die jaarlikse rekognisiegelde op leningsplase die plaaslike regeringsliggame betaal. Dit was vir h ulle belangrik om in die distriksopgaafrolle aangeteken te bly en om bande met die Kaapse Nederduitse Gereformeerde Kerk te behou.

Die veeboere in die grensdistrikte soos veral Colesberg (afgestig van Graaff-Reinet) en Cradock het nie almal hul eie plase besit nie. Van hierdie mense, in soverre hulle nie bywoners was nie, moes met hul vee rondswerf op soek na weiveld en water. Mense sonder vaste eiendom was onder die eerste gesinne om afskeid te neem van die kolonie en hulle permanent in die Transoranje te vestig. Trouens, meer as 200 gesinne wat volgens hul eie verklaring nie grond besit het nie,  het reeds in die vroeë 1830's oorkant die grens gewoon. In 1834 het hulle die regering in kennis gestel dat hulle geen grond in die kolonie kan vind nie en dat, indien die regering hulle nie sou toelaat om noord van die Oranje grond in besit te neem nie, hulle verplig sou wees om 'n onafhanklike bestaan in die Transoranje te voer.

Talle ander trekboere met grond in die kolonie het egter ook in die 1830's begin om die Transoranje hul permanente tuiste te maak, hoewel hulle nie hul burgerskap graag sou wou prysgee nie. Teen 1834 was daar ongeveer 1 000 wit trekboerfamilies in die Transoranje. Sommige van hulle kon nog seisoentrekkers gewees het, maar 'n groot persentasie was reeds permanent daar gevestig. 'n Jaar of twee later was sommige van die boere in die Transoranje reeds só sterk anti-Britsgesind dat hulle by die verbytrekkende Voortrekkers aangesluit het.

Die trekboere se afgesonderde leefwyse het hulle individualiste gemaak wat hul eie gesag in hul omgewing en oor hul families en arbeiders laat geld het. In die uitoefening van dié gesag het hulle dikwels hardhandig teenoor hul werkers (Khoekhoen, slawe of swart mense) opgetree. Hulle het ook nie sonder meer die gesag van die owerheid of bure aanvaar nie. Hulle het ook nie sonder meer die gesag van die owerheid of bure aanvaar nie. Vanweë gevare in die grensgebiede was hulle gedwing om hulself te beveilig en om wapens te gebruik i ndien nodig.

Met die aankoms van die trekboere in die 1820's in die streek noord van die Oranjerivier was die Boesmans reeds in konflikte met die Koranas en Griekwas gewikkel. Pogings van die Kaapse regering en sendelinge om die Boesmans te beskerm en aan  hulle bestaansmoontlikhede te bied, het misluk. Enkele wit veeboere se pogings om vir die Boesmans vee te versamel en hulle 'n meer stabiele en onafhanklike lewe te gee, het eweneens nie geslaag nie. Veeboere het gekla dat Boesmanveediewe van die sendingstasie by Philippolis op hul kuddes toegelaan het. Mettertyd is die Boesmans deur wit trekboere en die Griekwas uit hul gebiede verjaag.

Ten spyte van Adam Kok se pogings om die intrekkende wit veeboere aan die Riet- en Modderrivier van sy grond verwyder te kry, het sy Griekwa-onderdane nie altyd daaraan meegedoen nie. Trouens, baie Griekwas het plase aan die trekboere verkoop of verhuur en Kok se gesag was nie sterk genoeg om dit te keer nie. Hierdie transaksies sou later probleme oor grondregte veroorsaak, waarby dit in gedagte gehou moet word dat, ondanks Adam Kok se aansprake op die gebied, dit inderwaarheid die Boesmans se tradisionele eiendom was

Die trekboere se besetting van die suidoostelike Transoranje in die jare 1825-1836 was eweneens gekenmerk deur individue wat begin het om ook die westelike Transoranje in te dring. In die jare ná 1836 het hul verhoudinge met die Griekwas aansienlik versleg.

Tot 1836 was die trekboere se aanraking met die Sotho (Basotho) in die oostelike Transoranje, d.w.s. die Caledonriviervallei, beperk. Hoofman Mosjwesjwe van die Basotho was as gevolg van die Mfecane-woelinge verplig om op sy bergvesting Thaba Bosiu te bly. Hy en sy mense se groot vrese was die Tlokwa en Mzilikazi se Ndebele wat gereeld tot omstreeks 1836 die omringende gemeenskappe aangeval het. Die trekboere se vestiging in die Caledonvallei het sedert 1836, toe die gevolge van die Mfecane bedaar het, 'n al hoe groter grondregteprobleem geword wat later tot baie konflikte sou lei. En dit was maar net die begin, want die wit kolonisasie van die binneland sou nou vinnig op dreef kom.

Die Mfecane/Difaqane

Daar is beperkte kennis oor die migrasie, groeperinge en woongebiede, asook die politieke en sosiale lewe, van die swart gemeenskappe in Suider-Afrika van voor 1700. Dit is wel duidelik dat hulle hul omgewing en hulpbronne op kundige en voordelige wyse benut het. Van die 11de tot die 18de eeu het hierdie gemeenskappe se bevolkingstalle aansienlik toegeneem en hul vestiging en groepering ook begin om 'n vaste patron aan te neem.

Die Bantusprekende gemeenskappe van Suid-Afrika word om praktiese redes deur volkekundiges in twee groepe ingedeel, naamlik die Ngunisprekendes en die Sotho-Tswanasprekendes. Elkeen van hierdie groepe word dan verder onderverdeel, hoewel volkekundiges benadruk dat dié indelings ietwat kunsmatig is omdat Afrikamense die benaminge Nguni en Sotho-Tswana nie in só 'n breë verband gebruik nie en dat dit eintlik kleiner groeperinge is wat so genoem word. Die onderverdeling van die Nguni en Sotho-Tswana in Noord-, Suid- en Wesgroepe is eweneens benaminge wat volkekundiges om praktiese redes geskep het. Die benaminge Nguni en Sotho-Tswana moet ook nie as homogene groepe beskou word nie. Trouens, met verloop van tyd het vermenging plaasgevind wat 'n duidelike onderskeiding tussen die twee groepe nie altyd moontlik maak nie.

Die Noord-Nguni bestaan uit die Zulu en Swazi en die Suid-Nguni omvat die Xhosa, Mpondo, Thembu en Mpondomise. Die Wes-Sotho of Tswana bestaan o.m. uit die Rolong, Hurutshe, Kwena, Fokeng en Kgatla en die Noord-Sotho uit die Pedi. Die Suid-Sotho het uit 'n verskeidenheid kleiner groepe bestaan voordat hulle in die 19de eeu by die Basotho ingelyf is. Gemeenskappe soos die Venda, Lemba en Tsonga val nie onder die bogenoemde groter indelings nie, maar is tog as gevolg van 'n wisselwerking deur naburige groepe beïnvloed.

In die ty dperk van omstreeks 1750 tot 1835 het 'n transformasieproses onder die swart gemeenskappe in Suider-Afrika plaasgevomd wat as doe "Mfecane" in Zulu en die "Difaqane" onder die Sotho-Tswana bekend staan. Aangesien dié benaming reeds in minstens een woordeboek van die laat 19de eeu verklaar word, moes dit toe al redelik algemeen in gebruik gewees het. Die Duitse sendeling Albert Kropf omskryf die woord "im-Fecane" in sy Xhosa-woordeboek as "Marauders, free-booters, bandits, lawless tribe, especially the followers of Matiwana (Matiwane), who were defeated and broken up at the Umtata (Mthatharivier) in 1829". Dis egter meer korrek om te noem dat in Sotho-Tswana die woord "Difaqane" letterlik "gedwonge migrasie" beteken en dat dit betrekking het op gebeure in bogenoemde tydperk. Om praktiese redes sal hier meestal n a die gebeure as "Mfecane", die Zulu-ekwivalent, verwys word.

Hierdie transformasie kan as dramatiese gebeure beskryf word, aangesien dit die samestelling van swart gemeenskappe, hul bewoningspatrone en trouens die hele demografie van Suider-Afrika verander het. Uiterlik het dit die voorkoms van 'n reeks uitkringende vlae van geweld gehad waartydens een gemeenskap 'n naburige groep aangeval, onderwerp en/of laat vlug het. Die vlugtendes is uit hul tradisionele woongebiede verjaag en moes - om te oorleef - weer ander gemeenskappe aanval. Op hierdie wyse het 'n ketting van botsings en stropery plaasgevind wat uiteindelik tot die verskuiwing van woonplekke, die vorming van nuwe gemeenskappe en die ontstaan van nuwe magsblokke gelei het.

Die konflikte was wyd versprei en die invloed daarvan is gevoel van die teenswoordige Tanzanië, Zimbabwe en Mosambiek in die noorde tot in die Kaapse Oosgrensgebied in die suide en van die hedendaagse Botswana in die weste tot in die woongebied van die Basotho en die kusstreek in die ooste.

Volgens navorsing van die afgelope paar dekades het die Mfecane nie bloot as gevolg van die Zulukoning Shaka se veldtogte van onderwerping begin nie, maar baie jare vóór sy tyd in 'n gebied noord van Zululand. Dit kan aan grondliggende veranderinge van 'n sosio-ekonomiese aard binne die swart gemeenskappe toegeskryf word.

Maar Shaka se aandeel aan die oorsake van die Mfecane kan nie heeltemal geïgnoreer word nie. Meer onlangse navorsing dui wel daarop dat hy nie so 'n groot gespeel het as wat eers gemeen is nie, maar tog was hy en sy oorheersende militêre mag die oorsaak van baie onrus en bloedvergieting. Trouens, sy aandeel h et die hele proses van geweld in die hedendaagse KwaZulu-Nata momentum gegee. Daar was egter ook elders in Zululand brandpunte waar konflikte ontstaan het en Shaka en sy Zulu was maar slegs een daarvan. Só het daar reeds so vroeg as ongeveer 1750 en dekades daarná 'n intense broederoorlog onder verskeie gemeenskappe in en rondom die streek van die hedendaagse Noordwes-provinsie geheers.

Navorsing het ook getoon dat groepe soos die Griekwas, Koranas, wit trekboere, wit jagters, smouse, slawehandelaars in Delagoabaai en selfs sendelinge 'n baie ondergeskikte dog ontwrigtende rol, indien enige, gespeel het.

Daar is egter ook die sogenaamde "Cobbing-tese", genoem na die historikus Julian Cobbing. Hy argumenteer dat wit mense uit die Kaapkolonie en die Portugese kolonie Mosambiek in die eerste plek vir die Mfecane verantwoordelik was. Volgens hom is die probleme veroorsaak deur wit stroperpartye, ondersteun deur die Griekwas en Koranas, wat slawe vir arbeid in die Suid-Afrikaanse binneland kom buit het. Sendelinge soos Robert Moffat en John Melvill was volgens Cobbing bloot slawehandelaars in skaapsklere. Hulle het die swart groepe naby die noordgrens met voorbedagte rade gedruk om in die Kaap te gaan werk en só die onrus in die binneland verder aangestook. Die "Cobbing-tese" beteken dat die Zulu se rol in die Mfecane meer beperk was en dat die militaristiese Zulustaat uit selfverdediging opgebou is. Hoe dit ook al sy, die finale woord oor die oorsake van die Mfecane is nog nie geskryf nie.

Die ontstaan van die Mfecane kan ook teruggevoer word na die Sotho-Tswanasprekende gemeenskappe wat sedert 1750 in 'n breë gebied broedertwiste beleef het. In die omstreke van die hedendaagse Noordwes het gemeenskappe soos die Kwena, Kgatla, Rolong, Fokeng en Hurutshe in konflikte betrokke geraak wat, sos elders, deur mededinging gekenmerk is. Net ná 1800 het die Ngwaketse die Hurutshe se heerskappy aan die Madikwerivier verbreek. Die Tlhaping het suid van die Moloporivier beheer oor die Rolong verkry, en die Kgatla en Pedi het op die Lydenburgplato die sterkste gemeenskappe geword. Die tipiese patroon van die Mfecane-konflikte van aanvalle, fragmentering, vlugtogte en konsolidasie was ook onder die Sotho-Tswanagemeenskappe te bespeur. Daarmee is soms sterk koninkryke versplinter en nuwe bondgenootskappe gesluit.

In die laaste kwart van die 18de eeu het verskeie gemeenskappe in die streek tussen die Thukelarivier in die hedendaagse KwaZulu-Natal en Delagoabaaie (Maputo) magtiger en groter gewrod. Die hoofmanskap Mabhudu in die suide van Mosambiek is hiervan 'n voorbeeld. Naburige swakker groepe is onderwerp of het op die vlug geslaan.

In die noorde van die hedendaagse KwaZulu-Natal aan weerskante van die Mfolozirivier het die Ndwandwe- en Mthethwagemeenskap eweneens uitgebrei en nog verder gesoek om bondgenote te werf. Verder wes aan die voet van die Drakensberg was daar die Hlubi wat sterk gegroei het.

Hoofmanskappe wat konflikte rondom hulle kon vermy, het vinnig padgegee, soos die Ngwane onder Matiwane. Hulle het weswaarts gemigreer en toe die Hlubi aangeval en hul hoofman vermoor. Een groep Hlubi het gevlug en die ander het met die Ngwane verenig. Matiwane het met die inlywing van swakker groepe in die omgewing van die teenswoordige Bergville gaan woon en was spoedig die sterkste hoofman aan die Bo-Thukelarivier.

In die tweede dekade van die 19de eeu het die Mthethwa onder Dingiswayo steeds sterker geword danksy die inlywing en onderwerping van ander groepe. Een van Dingiswayo se samewerkende gemeenskappe was die Zulu onder Senzangakhona. Toe laasgenoemde sterf, het Shaka met Dingiswayo se hulp die leier van die Zulu geword.

Die magstryd in die noorde van Zululand tussen Mthethwa onder Dingiswayo en die Ndwandwe onder Zwide het teen 1818 tot uitbarsing gekom. Dingiswayo is deur Zwide doodgemaak en Shaka het die leierskap oor die Mthethwa ook op hom geneem. Shaka het die naburige gemeenskappe onder hom verenig en die stryd teen Zwide het begin. Met Zwide se tweede aanval op die Zulu/Mthethwa het hulle die Thukelastreek te dien binnegedring en met Shaka se terugvegpoging het die Ndwandwe gevlug. Sommige van die Ndwandwe se bondgenote het na Delagoabaai en daarna nog verder noord geretireer, terwyl Zwide sy oorblywende eenhede in die gebied noord van die Phongola gekonsolideer het.

Hoewel Shaka se vergrote Zulukoninkryk sterk uitgebrei het na noord en suid van die Mfolozirivier en ook in die omgewing van die Thukela- en Mzinyathirivier invloed uitgeoefen het, kon hy nie sy invloedsfeer na Delagoabaai uitbrei nie. Ook was sy suidgrens sodanig kwesbaar dat hy op onderhorige gemeenskappe moes staatmaak om dit te beveilig.

Vlugtelinge en splintergroepe het tydens die Mfecane oor 'n wye gebied versprei. Voormalige Ndwandwegroepe soos dié onder Zwangendaba en Nxaba het hulle uiteindelik in Suid-Tanzanië gevestig. Soshangane het met sy volgelinge na die suide van Mosambiek gemigreer en die Gazakonin kryk gestig. Zwide het hom eindelik in die teenswoordige Swaziland gevestig. Twee jaar ná sy dood in 1824 is sy seun deur Shaka aangeval en die Ndwandwe is noord van die Phongolarivier verslaan. Splintergroepe van die Ndwandwe het by die sterker wordende Ndebele aangesluit, terwyl baie deur die Zulu ingelyf is.

Die matabele (ook genoem Ndebele) was lede van die Khumalo-clan en het tussen die Zulu en Ndwandwe gewoon. Hul hoofman Mzilikazi het met Shaka 'n uitval gehad en met 'n redelik klein groepie volgelinge na die Hoëveld verhuis, waar hy o mstreeks 1823 digby die hedendaagse Groblersdal sy hoofsetel, ekuPumuleni, ingerig het. Die kleiner hoofmanskappe van die Pedi en die Kgatla was in hierdie streek nie teen die goed afgerigte Ndebele bestand nie. Hulle is verslaan en splintergroepe is by die Ndebele ingelyf. Insgelyks is honderde vlugtende lede van die Ndwandwe uit die hedendaagse KwaZulu-Natal ook by die Ndebele opgeneem. Teen 1825 het die Ndebele verskuif na noord van die Magaliesberg in die omgewing van die Apiesrivier. Mzilikazi se hoofsetel, emHlahlandlela, was nou aan die Krokodilrivier. Daarvandaan het hy beheer oor 'n groot streek noord van die hedendaagse Pretoria en Rustenburg uitgeoefen. In dié omgewing het hy o.m. die Kgatla en Hurutshe verslaan. Soos reeds vermeld, het die Koranas, Griekwas en Taung in die jare 1828 en 1831 mislukte aanvalle op die Ndebele geloods. In 1832 was dit weer die Zulu onder Shaka se opvolger, Dingane, wat Mzilikazi se impi's aangeval het, maar slegs gedeeltelike sukses behaal het. Daarop het Mzilikazi weer sy hoofsetels verskuif, hierdie k eer n a Mosega en eGabeni (Kapain) in die omgewing van die Maricorivier. Binne enkele jare was hy in beheer van die hele westelike Hoëveld en sy invloed was reeds in die vroeë 1830's tot in die Kaapkolonie bekend.

Die konflikte en stropery het eweneens na die suidelike Hoëveld versprei, waar die Hlubi onder Mpangazitha die Tlokwa onder die vroueleier Manthatisi aangeval het. Sy het op haar beurt ander groepe digby die Vaal- en Sandrivier lastig geval. Eindelilk het die Tlokwa, die Hlubi en die Ngwane onder Matiwane in die Caledonriviervallei suid van die Drakensberg gaan woon. Die Tlokwa het in 1825 die Hlubi oorweldig en gedeeltes by hulle ingelyf. Ander splintergroepe van die Hlubi het suidwaarts deur die Thembu en Xhosa se woongebiede beweeg en òf by die Mfengu òf by Matiwane se Ngwane aangesluit.

Vlugtelinge, oftewel slagoffers, van die Mfecane het in die 1820's bykans die hele binneland met inbegrip van die Caledonriviervallei met stropery ontwrig. Gedurende die jare 1823 tot 1826 is bv. die Rolong en Tlhaping voortdurend deur vyandige aanvalle geteister. Gemeenskappe soos die Fokeng en Sebetwane het daarin geslaag om die stropery te ontsnap en die Kololo-koninkryk in die teenswoordige Wes-Zambië te vestig. 'n Soortgelyke verstrooiing het suid van die Zulugebied plaasgevind en groepe soos die Thembu het by die Mpondo onder Faku beland waar 'n gedeelte aanvaar is en 'n ander faksie verbrokkel het as gevolg van Faku se aanvalle.

Die Mfecane kan as een van die mees betekenisvolle revolusies in die 18de en 19de eeu in Suider-Afrika beskou word. Vanaf die groot mere van Sentraal-Afrika deur die Kalahari tot in die Kaapse grensdistrikte het die swart gemeenskappe deur hul buitengewone mobiliteit 'n ommekeer teweeggebring.

Die mees opsigtelike en onmiddellike gevolg was die enorme verlies aan menselewens en die versteuring van die gemeenskappe se daaglikse lewe. Talle gemeenskappe moes ná vlugtogte en onbeskryflike menslike lyding vind dat hulle geen vee oorgehad het om van te leef nie en dat daar ook vir 'n baie lang tyd nie sprake sou wees van georganiseerde akkerbou nie. Dis nie bekend hoeveel mense omgekom het nie, maar dit moes derduisende gewees het. Baie gemeenskappe is totaal uitgewis.

Die vestingspatroon van die meerderheid gemeenskappe het ingrypend verander. Groot gedeeltes van die Transoranje en gebiede noord van die Vaalrivier was bykans ontvolk. Oorlewendes van vroeëre hoofmanskappe het soms wel na hul voormalige woongebiede teruggekeer, maar gevind dat daar geen geordende samelewing was waarby hulle kon inskakel nie.

'n Verdere betekenisvolle gevolg van die Mfecane was die opkoms van sterk gesentraliseerde state. Die vroeëre taltyke klein hoofmanskappe wat voor die Mfecane so algemeen was, is nou vervang deur, of ingelyf by, groot magsblokke. Die ontwikkeling van groot eenheidstate was egter reeds aan die gang vóór Shaka se tyd. Shaka se organisasie het dit voortgesit en sy oorloë het dit ook elders laat posvat. Die nuwe leiers aan die hoof van hierdie state was o.a. Moletsane van die Taung, Sekwati van die Pedi, Manthatisi en haar seun Sekonyela van die Tlokwa, Montshiwa van die Rolong, Mosjwesjwe van die Sotho, Mzilikazi van die Ndebele en Shaka van die Zulu.

Saam met die politieke transformasie het sosiale veranderinge kom. Shaka het verskeie belangrike veranderinge in die struktuur van sy gemeenskap aangebring. So was daar die opbou van 'n elitegroepe o nder leiding van die hoofman/koning wat beheer gehad het oor produksiemiddele en die gesagsposisie wat Shaka se indoenas verkry  het. Die hoofman het ook ingemeng in die seksuele verhoudings van sy onderdane deur bv. te bepaal wanneer hulle mag trou. Die amabutho (werksgroepe) moes aanvanklik diens aan die hoofman lewer; later moes hulle ook jag en vee oppas en in die geval van die Zulu het hulle 'n permanente deel van die hoofman se koninkllike huishouding geword. Hulle is volgens ouderdomsgroepe gemonster en nie as eenhede van 'n bepaalde streek nie, sodat plaaslike toegeneemtheid bestry en lojaliteit jeens die eenheidstaat bevorder kon word

Die groot toestroming van buitelanders, oftewel hawelose slagoffers van die Mfecane, het in die laat 1820's en vroeë 1830's na die grens van die kaapkolonie, asook veral die sterk invloei na binne die kolonie, was 'n verdere betekenisvolle gevolg van die Mfecane. Dit het die getal werklose rondlopers in die Oosgrensdistrikte aanmerklik vermeerder. Die gepaardgaande verhoogde onveiligheid van lewe in die grensgebiede het op 'n kritieke tydstip gebeur - juis toe wit Oosgrensboere se ontevredenheid oor 'n verskeidenheid van sake 'n hoogtepunt bereik het.

As gevolg van die Mfecane was gedeeltes van die Transoranje en noord van die Vaalrivier redelik onbewoon. Reisigers se verslae, en veral Erasmus Smit se dagboek, skets die verwoesting wat daar plaasgevind het. Die intrekkende trekboere en daaropvolgende Voortrekkers se vestiging in baie gebiede het dus sonder enige noemenswaardige  teenstand plaasgevind in gebiede wat die voorafgaande paar eeue die woonplek was van swart groepe wat nou in die berge en klowe skuiling gesoek het. Vanuit die swart groepe se standpunt het hulle egter nooit dié gebiede permanent prysgegee nie.

Uiteraard het die vestiging van die wit boere in die binneland 'n verdere destabiliserende faktor en bedreiging vir die bestaande en nuwe swart koninkryke meegebring.

Die ontstaan van nuwe swart state ná die Mfecane

Die Taung Moletsane aan die hoof van die Taung moes ook tydens die Mfecane plunder om te oorleef, maar het daarin geslaag om sy mense bymekaar te hou. Hulle het bv. by Adam Kok (Philippolis), eerw. Samuel Rolland (Beersheba) en Mosjwesjwe (Mkwatleng) skuiling gevind. Veral by laasgenoemde plek het ander swerwende groepe by hulle aangesluit. Hoewel onder die Sotho van Mosjwesjwe se heerskappy, kon Moletsane en sy mense 'n redelik onafhanklike bestaan voer en selfs later 'n goeie bondgenoot van Mosjwesjwe word.

Die Tlokwa: Ná die dood van  haar man omstreeks 1815, het Manthatisi as regentes van die Tlokwa namens haar minderjarige seun Sekonyela opgetree. Sy was 'n besonder gewilde leier. Sy was so wyd bekend dat die Tlokwa-gemeenskap as die Manthatisi bekend geword het en dat selfs alle vlugtelinge wat uit 'n mengelmoes van gemeenskappe na die Kaapkolonie se grense gevlug het, ondanks etniese verskille as die Mantatese of Makatese onder die wit en bruin grensboere bekend geword het. Die Tlokwa het daarin geslaag om ondanks die Mfecane-onrus in hul gebie te bly, hoewel hulle 'n paar keer van standplaas moes verander. Hul veilige ligging bo-op 'n berg naby die hedendaagse Ficksburg het 'n toevlugsoord vir ander vlugtelinge geword. Bowendien het Sekonyela bekend geword as ' n behendige aanvoerder wat baie vee deur die jare gebuit het. Teen omstreeks 1833 het die Tlokwa se geledere só gegroei dat dit op 24 000 te staan gekom het.

Die Sotho: Die hoofman van die Sotho, Mosjwesjwe, het veral beekendheid verwerf vanweë sy diplomasie met gemeenskappe en hoofmanne met wie sy pad gekruis het. Die Sotho het selde deelgeneem aan die rooftogte wat so algemeen gedurende die Mfecane voorgekom het en Mosjwesjwe het verkies om op sy bergvestings, aanvanklilk Butha-Buthe (in 1822 betrek) en later Thaba Bosiu, skuiling te soek. Sy geskenke aan invloedryke yhoofmanne soos Matiwane van die Ngwane, Sekonyela van die Tlokwa en Shaka van die Zulu was diplomaties fyn beplan en het verseker dat hy uiteindelik meer vriende as vyande gehad het. Onderhandelinge en bondgenootskappe was wagwoorde wat soos 'n goue draad deur Mosjwesjwe se verhoudinge met ander swart gemeenskappe geloop het.

Hoofmanne wat hom wel aangeval het, soos Matiwane van die Ngwane,het met die volle geweld en fyn strategiese teenanvalle van die Sotho te doen gekry. Matiwane is verslaan en het na die Oos-Kaapse grens uitgewyk waar hy in 1828 by die slag van Mbholompo aan die Mthatharivier deur Xhosa- en koloniale magte verder verniel is.

Sendelinge van die Paryse Evangeliese Sendinggenootskap soos Thomas Arbousset, François Daumas, Eugène Casalis en Constant Cosselin het die Sotho met die Westerse leefwyse laat kennismaak. Casalis het hom later op uitnodiging van Mosjwesjwe as raadgewer by Thaba Bosiu gevestig.

Die Tswana: Die Tswanagemeenskappe het voor en tydens die Mfecane nie daarin geslaag om 'n hegte eenheidstaat te vestig nie. Een van hierdie gemeenskappe, die Rolong, moes tydens die Mfecane dikwels van woonplek verander om stropers te vermy. In dié vlugtogte het hulle van mekaar verwyder geraak en uiteindelik was daar net klein verspreide groepies wat op die beskikbare bewerkbare grond en weiveld agtergebly het. In 1833 het 'n Ndebele-krygsmag die westelike Rolong se hoofstad, Khunwana, naby die teenswoordige Mahikeng (Mafeking) aangeval en groot getalle mense doodgemaak. Hierdie vergeldingsaanval was na aanleiding van die moord op twee Ndebele-verteenwoordigers van Mzilikazi. 'n Groot getal mense het as gevolg hiervan haweloos rondgeswerf.

Dieselfde lot het die Kwenagemeenskap onder Khama getref. Die Hurutshe onder hul hoofman Mokgatlha was vasalle van Mzilikazi en is nie aangeval nie, maar het as gevolg van die moorde op die Rolong paniekerig geraak en suidwaarts gevlug. Verstrooiing en hongersnood was aan die orde van die dag. Heelwat van die Tswanagroepe het egter onder Mzililkazi se heerskappy bly woon en aan hom skatplig betaal.

Europese sendelinge het van die Tswanagroepe onder hul beskerming geneem en 'n mate van heropbou kon onder sommige gemeenskappe plaasvind. So kon die Tlhaing, Tlharo en Kgalagadi grootliks die geweld van die Mfecane ontsnap danksy eerw. Robert Moffat se ingryping en teenwoordigheid by Dithakong, die Tlhapinghoofstat. Insgelyks kon Moroka se Rolongbo-Seleka oorleef danksy die vroegtydige optrede van sendelinge. Die sendeling James Archbell het in 1833 hierdie groep Rolong oorreed om na Thaba Nchu te verhuis. Dis ook hier waar die Voortrekkers hulle aangetref het.

Jan Visagie

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5