Mense in knegskap

Die Kaap was feitlik van meet af 'n slawesamelewing. Slawe het nòg vryheid nòg status gehad, maar het ander se vryhede en status bepaal. Hulle was die kolonie se belangrikste arbeidsbron.

In Kaapstad het die mans in die groenteteuine gewerk en as vakmanne; op die plase het hulle op die landerye en in die wingerde gewerk. Die vroue was kokke, kinderoppassers en soogvroue in die huise. Die kinders was speelmaats vir hul meester se kinders. Huisslawe het deel van die koloniste se "gesin" geword en het die grondslag gelê vir die soort samelewing wat in die Kaapkolonie ontwikkel het.

Die meeste slawe was in die stedelike of halfstedelike gebiede. Kaapstad was die beste mark vir slawe, wat feitlik elke week tydens gewilde veilings op Kerkplein veerkoop is. Die veilings was onder 'n groot boom langs die Kompanie se Slawelosie agter die Gereformeerde kerk. Tussen 1652 en 1808, toe die slawehandel beëindig is, is ongeveer 63 000 slawe ingevoer. Sowat 26,4% van die kolonie se slawe was van Afrika, 25,1% van Madagaskar, 25,9% van Indië en 22,7% van Indonesië.

Beamptes en burgers het geglo elke groep slawe is anders en het vaardighede en karakter aan die land van oorsprong toegeskryf. Hulle het kru rasse- en geografiese stereotipes gebruik. Slawe van Bengale of die Koromandelkus het as goeie naaldwerksters bekend gestaan en is hiervoor gebruik. Slawe van Mosambiek was kwansuis sag en geduldig, maar Maleiers is as verraderlik beskou en geneig om amok te maak. 'n Kaaps-gebore halfbloed (die kind van 'n verhouding tussen 'n Europeër en 'n slaaf) was sterk in aanvraag. Die Britte het hulle Afrikanders genoem. 'n Kommentator sê: "Die Afrikandervroue was die meesteres se gunstelingslawe. Hulle het alles gereël en ordelik gehou en is met alle waardevolle dinge vertrou - hulle was eerder metgeselle as slawe; die meesteres het egter selde, en die slaaf nooit, hul eie stand vergeet nie en al was hulle in die privaat ook hóé gemeensaam, het die goeie orde in die teenwoordigheid van ander gegeld."

Daar was vier groepe slawe: Dié in diens van die Kompanjie, dié in besit van die Kompanjie se beamptes, dié in besit van die burgers in die kolonie (verreweg die meeste), en 'n vierde en 'n baie klein groepie slawe in besit van die vryswartes. Die Kaap se slawerny was meer as 'n eeu lank grootliks stedelik. Selfs so laat as 1767 het 40% van al die slawe in die kolonie in Kaapstad gewoon.

Die Slawelosie

Die belangrikste groep onder die slawe was dié wat aan die Kompanjie behoort het. Bykans almal het in die slawelosie gewoon. Die Kompanjie het honderde slawe vir allerlei take gebruik soos om sy groentetuin aan die gang te hou, in die hospitaal te werk, die hawe se aansienlike vestingwerke te bou en die dorp se minder aantreklike take te verrig, soos om nagvuil strande toe te neem. 'n Spesiale polisieman wat uit slawe saamgestel is, het lukraak straf uitgedeel. Ná 'n eeu was daar 1 000 Kompanjieslawe.

Die "Loots" of "Logie" was 'n groot gebou sonder vensters. Dit was aan die bokant van die hoofstraat, langs die Kompanjie se groentetuin van nege akker en oorkant die groot Kompanjieshospitaal. Die Losie was feitlik 'n fort en Kompanjiesamptenare het dit soos 'n militêre instelling bestuur.

Min Europeërs het die Losie vrywillig besoek, behalwe vir die een uur snags wanneer dit 'n bordeel vir die plaaslike garnisoen geword het. Daar was bykans ewe veel vroue as mans in die Losie - en soms meer. 'n Paartjie in die Losie kon toestemming kry om op die "huwelikslys" geplaas te word, maar die Geref. Kerk het sulke slawehuwelike selde of ooit erken of selfs aangeteken. Slawe in koloniste se besit kon eers in 1823 trou.

Daar was 'n hoë sterftesyer onder slawe in die Losie. Tydens die hele bestaan van slawerny was daar baie meer sterftes in en drosters van die Losie as geboortes. Dit was 'n demografiese rampgebied.

Sommige van die slawe in private besit het as vakmanne gekwalifiseer. Die belangrikste ambagte was messelaar, smid en timmerman. Die meeste eienaars het in die Tafelvallei gewoon en daar klein ondernemings besit.

Slawe op plase naby Kaazpstad waar veral wyn, koring, rog en gars intensief verbou is, het besonder swaar gekry. Hulle het die hele jaar deur hard gewerk. Slawe-arbeid was vir dié plase só onmisbaar dat die meeste mense gedink het die ekonomie sal in duie stort as slawerny afgeskaf sou word. Slawe het hul hele lewe lank op wyn- en koringplase gewoon en die enkele dorpie in die binneland maar selde besoek. Katie Jacobs, 'n slaaf wat in die 19de eeu in die Malmesbury-distrik gebore is, is ná haar verkoop aan 'n eienaar in die vallei langsaan van haar Malgassies-sprekende ma geskei en het nooit weer taal  of tydeing van har gekry nie.

Daar was ook enkele slawe op die utigebreide skaap- en beesplase wat die koloniste in die 18de eeu in besit geneem het. Op só 'n plaas het 'n opsigter of die eienaar se seun gewoonlik 'n ogie gehou oor enkele Khoekhoenveewagters, of 'n paar ouer slawe wat "uitgeplaas" is, het op hul eie daar gewoon. Hul lewe was baie eensaam.

Kinderoppassers en soogvroue

Bykans alle vroulike slawe het in die huis gewoon en was deel van die huishouding. Hulle was dienaar, kok, kinderoppasser, plaasvervangermoeder en soms ook soogvrou. Hekel, borduur, stik, brei en klei was het hulle ook besig gehou. In Kaapstad het die slawevroue in die alomteenwoordige losieshuise na al die verkwikte matrose en soldate se behoeftes omgesien.

'n Ongetroude slawevrou was dikwels ook vroedvrou, soogvrou en kinderoppasser. Sulke slawe het met die geboorte gehelp; die kind gesoog; die baba na die doopvont gedra; en was die kind se metgesel wanneer skooltyd aangebreek het. "Só 'n slaaf is baie goed behandel," merk Otto Mentzel, 'n skerpsinnige eietydse waarnemer, op. "Behalwe goeie kos het sy baie geskenke gekry, met die moontlikheid van vrylating omdat sy met die grootmaak van verskeie kinders goeie diens gelewer het."

Slawevroue is dus nie net aan die gesin se boesem gedruk nie, maar was ook letterlik die burgergesin se boesem. In Nederland self i s daar destyds oor soogvroue gefrons, maar aan die Kaap is 'n slaaf as voogma gebruik. Kaapse vroue het deeglik besef daar is 'n verband tussen soog en ovulering. 'n Kaapse soogvrou wat 'n kind namens die biologiese moeder gesoog het, het só verseker dat die biologiese moeder gouer weer ovuleer as wat die geval sou wees indien sy self die baba geborsvoed het. Sy sou dus met korter tussenposes kinders kon hê.

Soogvroue was só belangrik in 'n slawesamelewing dat twee terme deel van die koloniale volksmond geword het: "minnemoer" of "mina" (liefdesmoeder) en "aia" (ou oppasster). Dié woorde leef nog voort, net soos die kinderoppasser self.

Straf en paternalisme

Slawe wt aan ernstige misdrywe skuldig bevind is - soos die aanranding van 'n meester, brandstigting, of aanlê by 'n Europese vrou - is meestal swaar met die paalstraf, brandmerking of vierendeling gestraf. Die hoogste straf was die dood, ná foltering. Veroordeelde slawe is geradbraak, hul vlees is met 'n rooiwarm tang afgetrek; hulle is vermink, gepaaltraf of stadig verwurg. Die lyke van tereggesteldes het aan 'n galg bly hang, of is ná verminking in Kaapstad of by 'n opstal blootgestel. Teen 1727 was daar só baie geskende en verminkte lewende slawe dat die regering besluit het om ontsnapte slawe op die rug te brandmerk om die gevoelens van die koloniste, veral swanger vroue, te spaar.

Sulke wrede strawwe was tot ' n mate 'n afskrikmiddel, maar dit beteken nie dat meesters se beheer oor hul slawe grootliks van 'n sweep en kettings afgehang het nie. Blote lyfstraf kan nooit verklaar waarom slawerny as 'n stelsel in Suid-Afrika geslaag het nie. Dit geld veral vir die afgeleë plase ver van die polisie en militêre mag wat in Kaapstad gesetel was.

Die owerhede het straf vir slawe in private besit tot "huishoudelike tug" beperk, dieselfde soort straf wat 'n pa op sy kinders kon toepas. Kettings en swepe is verbied. Die bewoording van die betrokke wet is duidelik: "Die eienaar mag, in die geval van 'n slaaf wat fouteer, só 'n slaaf met huishoudelike tug straf, maar mag die slaaf nie in ysters slaan, of erger, die slaaf martel of andersins mishandel nie."

'n "Soort kind van die gesin"

Eienaars het dikwels hul slawe, veral die huisslawe, beheer deur hulle deel van hul uitgebreide gesin te maak. Historici noem dit paternalisme. Die huishouding of "gesin" was die enigste "tuiste" vir slawe wat van hul eie kultuur en naastes weggeruk is. Om as 'n deel van die "familie" beskou te word,  is as 'n powere maar tasbare troos aan die slaaf voorgehou.

Besoekers aan die Kaap in die 18de en 19de eeu het dié verskynsel meer raakgesien. In die laaste jare van die 18de eeu het lady Anne Barnard, wat pas van Brittanje gekom het, by geleentheid geskryf sy het getwyfel of sy haar gasvrou se slawevrou 'n halssnoer moet gee voordat sy geskenke aan die ware gesinslede uitdeel. Toe sy daaroor uitvra, het al twee die vroue gelag en gesê dat sy (lady Anne) haar nie daaroor hoef te kwel nie, aangesien die slavin in dieselfde huis gebore is en as't ware 'n "kind van die huis" is. Lady Anne is aangemoedig om die krale daar en dan vir die slavin te gee.

Die frase "in dieselfde huis gebore" verwys dus na 'n slaaf se spesiale status in 'n gesin. Kaapse slawe-eienaars het baie moeite gedoen om slawe, veral vroulike slawe, "deel van die familie" te maak. Die gedagte van paternalisme sou ondermyn word as sulke slawe aan buitestaanders verkoop word. Die slawe van gestorwe slawebesitters is gewoonlik deur verwante geërf.

Paternalisme het nooit gelykheid met ander gesinslede behels nie. Selfs jong dogters kon volwasse huisslawe straf. Alle slawe het die een of ander tyd besef dat hulle in hul eienaars se oë altyd 'n afhanklike kind sal wees en dié vernederende status nooit sal ontgroei nie. Ongeag hul ouderdom of status was die Kaapse slawe altyd "jongens" of "meide" (jongmeisies).

Slawe se name

Alle Kaapse slawe is in die gemeenskap op die voornaam genoem. Die slawehandelaar of nuwe eienaar het die slawe se name gegee en slawe het dikwels ná 'n wettige oordrag 'n nuwe naam gekry. Die daaglikse gebruik van nét die voornaam was 'n belangrike deel van die proses om slawe aan hul status van gedurige kindwees gewoond te maak.

Daar was spotname soos Slim of Patat, maande as name soos April of September, name uit die Ou Testament soos Salomo of Moses, klassieke name soos Kupido of Titus en soms inheemse name. Die name van die eienaar of sy kinders is selde gebruik.

Die geskil oor die doop

Die vraag of en wanneer slawe gedoop moet word, het die kerk en koloniste tot diep in die 19de eeu besig gehou. Die doop was 'n belangrike ritueel waarsonder talle regte nie uitgeoefen kon word nie.

Tydens die Dordtse Sinode van 1618-1619 het die Nederlandse Geref. Kerk besluit dat alle heindense kinders in 'n huishouding, slaaf of vry, 'n reg op Christelike onderrig het. Die hoof van die huishouding, eerder as die kerk of die kind se ouers, moes egter besluit of 'n slaaf in sy huishouding gedoop moet word. Daar is ook besluit dat gedoopte slawe "gelyke regte met ander Christene" sou geniet. Gedoopte slawe kon nie aan heidene verkoop word nie, maar kon wel deur oorerwing of as 'n geskenk aan ander Christene oorgedra word. Daar was geen duidelike besluit oor die behoorlike ouderdom waarop 'n slaaf gedoop moet word nie en daar is nie genoem hoe dié voorskrifte afgedwing sou word nie. Sulke sake is aan die hoof van die huishouding oorgelaat.

Teen omstreeks 1725 was dit duidelik dat sommige eienaars hul kleuterslawe die reg op die doop ontsê. Otto Mentzel het in die 1740's geskryf: "Dit is betreurenswaardig dat kinders wat in slawerny gebore word, nòg gedoop word nòg enige Christelilke onderrig kry. Daar is 'n algemene maar deeglik gegronde geloof dat Christene nie in slawerny moet leef nie; dus word net kinders wat waarskynlik vrygelaat gaan word, gedoop." In die loop van die eeu toon kerkrekords 'n duidelike neiging dat al minder slawekinders gedoop word.

Die meeste slawe-eienaars was min oor hul slawe se doop gepla. Teen die laat 18de eeu was baie wat spesiaal in die "Moederkerk" in Kaapstad vir slawe gebou is, die een Sondag na die ander leeg.

Selfs die mees siniese slawe-eienaar sou nooiot beweer het dat slawe geen reg op die doop het nie, maar die eienaar kon dit uitstel deur te begoog dat die slawe voor die doop eers onderrig moet word. Dan kon die eienaar eindelose huishoudelike voorwendsels gebruik om slawe te toetrede tot die Christelike gemeenskap te vertraag en so sorg dat sy slawe se markwaarde nie daal nie. Suiwer materialisties gestel was slawe 'n veiliger belegging as hul nie Christene was nie. Dié oortuiging het tot met die vrylating van alle slawe voortgeduur.

Uit die 2 543 slawe wat van 1652 tot 1795 gedoop is, was 1 715 slawekinders wat aan die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie behoort het - gemiddeld een per maand. Dié Losieslawe is as deel van die Kompanjie se "huishouding" beskou en alle slawe wat in die Losiehuishouding gebore is, is gedoop. Private eienaars het 'n totaal van 828 slawe laat doop - minder as nege per jaar. Die enkele slawe-eienaars wat slawekleuters laat doop het, was meestal ryk.

Gemengde verhoudings

In die vroeë jare was die situasie só vloeibaar dat sommige kinders wat buite die huwelik uit nie-Europese ouers gebore is, in die Europese gemeenskap aanvaar is. Die slaaf Armosyn Claasz het in die Kompanjie se Lose aan vier verskillende pa's se kinders die lewe geskenk. Sommige was halfslag, wat op 'n wit pa gedui het. Talle van dié kinders - en hul nakomelinge - het deel van die prominehnte afrikanerfamilies geword.

Tydens sy besoek aan die Kaap in 1685 het kommissaris H.A. van Reede huwelike tussen Europeërs en heelslag-slawevroue (van suuiwer Asiese of Afrika-oorsprong) verbied. Hy het egter huwelik met halfslag-vroue toegelaat, sodat die kinders in die Europese bevolking opgeneem kon word. Pa's het meestal oor 'n verbintenis met 'n slaaf geswyg en het dus nie gehelp om hul kinders by halfslag-vroue hul vryheid te gee nie. Van Reede se regulasies wou  juis dié feit van die lewe aan die Kaap aanspreek.

Tydens die Kompanjie se bewind het net meer as 1 000 voormalige slawe- en inheemse-vroue met vryburgers van Europese afkoms getrou (en net twee manlike oud-slawe h et met vrye vroue van Europese afkoms getrou).

As 'n mens onthou dat sowat 63 000 slawe na die Kaap ingevoer is, en bykans net soveel iln slawerny gebore is, is dit duidelik dat daar maar 'n skrale kans was dat 'n slaaf deel van die koloniale samelewing sou word en dat afkoms deurslaggewend was.

Boonop het dié kans skraler geword namate slawe duurder geword het. Niemand kon met 'n slaaf trou nie - sy moes eers vrygestel word. Aan die einde van die 18de eeu het Willem Klomphaan sy slaweminnares en hul twee slawekinders probeer vrystel, maar is oorlede voordat hy die volle prys kon betaal.

Die strewe na vryheid

Alle slawe wou vry wees, maar min het ontsnap. Hulle kon wegloop of dros na plekke waar vlugtelingslawe weggekruip het. Daar was by Faure, Hangklip en selfs op Tafelberg sulke gemeenskappe. Verskeie klein, stabiele drostergemeenskappe in die kolonie het wegloopslawe gehelp. 'n Gemeenskap van sestig slawe het 'n eeu lank feitlik ongesteurd in 'n grot by Hangklip gewoon totdat slawerney in 1834 afgeskaf is.

Die ander roete na vryheid was vrystelling en status as 'n vryswarte. Vryheid was nie 'n reg wat die staat toegeken het nie, maar 'n guns binne die huishouding; die eienaar het besluit om die slaaf sy vryheid te gun. Vrygestelde mense is vryswartes genoem, al het hulle van Europeërs afgestam. Die vrystellingsregulasies was primêr kultuurgegrond. Heel bo-aan die lys van vereistes vir vrystelling was die vermoë om Nederlands te verstaan, praat en skryf.

Van 1715 tot 1791 het die Politieke Raad 'n totaal van 1 075 aansoeke om vrystelling ontvang, waarvan net 81 Kompanjieslawe behels het. Daar was 'n uiters lae vrystellingskoers in die kolonie - jaarliks gemiddeld net 0,165% van die slawebevolking. In Brasilië en Peru was die syfer ses maal hoër.

Die feit dat die vrye bevolking aan die Kaap buite Kaapstad in die 1820's en 1830's baie klein gebly het, het belangrike gevolge vir toekomstige rasseverhoudinge ingehou. Feitlik almal wat brandarm en sonder status was, was swart; al die ryker mense was wit. 'n Verband tussen 'n wit vel en sukses het mettertyd al hegter geword.

Vrygestelde manlike slawe aan die Kaap het dié vryheid met talle groot agterstande begin, o.m. vooroordeel, armoede, 'n gebrek aan krediet en probleme om goed betaalde werk te kry. Vryswartes is reeds in 1727 van die meeste beroepe uitgesluit. Burgerraadslede het vryswartes selfs verbiwed om nietighede soos "roosterbrood en koekies" op straat te verkoop. Talle moes hulle tot vissery in die gevaarlike Suid-Atlantiese water wen.

Hoewel die kerk se armfonds sommige bevryde slawe gehelp het,  is die meeste deur die simpatieke Moslemgemeenskap van vryswartes gehelp. Verskeie lede van dié gemeenskap het self slawe besit en hulle dikwels vrygestel.

Bevolking van die Kaapkolonie

Jaar      Europese vryburgers          Burgers se slawe             Vryswartes

1670                       125                                     52                             13

1690                       788                                   381                             48

1730                    2  540                               4 037                            221

1770                    7 736                                8 200                             352

1798               +-20 000                              25 754                        +-1 700

Slawerny as internasionale verskynsel*

*Dié subafdeling is bygedra deur Johan de Villiers

Slawerny het in die 17de en 18de eeu wêreldwyd voorgekom. 'n Slaaf was die eiendom van 'n persoon of instansie aan wie hy/sy gedienstig en gehoorsaam moes wees. slawe was die laagste stand in die samelewing. Hulle is op vier maniere bekom, nl. uit die geledere van krygsgevangenes, mense wat nie hul skuld kon betaal nie, kinders wat uit nood deur hul ouers as slawe verkoop is, of kinders wat in slawerny gebore i. Die verkoopswaarde van 'n slaaf is bepaal deur sy/haar fisieke krag, gesondheid, ouderom, ras en spesiale vaaredighede.

Verskeie Europese lande het slawe uit Wes- en Sentraal-Afrika na hul kolonies i ngevoer om die arbeidstekort te verlig met die verbouing van suiker, koffie, katoen en rys in Noord-Amerika en die Karibiese gebied, asook vir die silwer- en goudmyne van Peru en Mexiko. Omstreeks 1600 het Portugese handelaars jaarliks sowat 4 000 slawe  uit Afrika na Brasilië ingevoer. die Britse Royal African Company se handelsvaartuie van Liverpool, Bristol en Londen het duisende slawe uit die Goudkus (Ghana), Benin en Gambië na die Britse kolonies in Noord-Amerika en die Karibiese Eilande vervoer. Die Franse kolonies in die Karibiese gebied het insgelyks groot getalle slawe opgeslurp. Skrikwekkende toestande het aan boord van die transatlantiese vaartuie geheers. Die beperkte ruimte en karige rantsoene het groot lewensverlies (sowat 10-15%) onder slawe op see tot gevolg gehad.

Onlangse navorsing van P.D. Curtin raam die getal ingevoerde slawe in die Nuwe Wêreld tydens die 17de en 18de eeu konserwatief as volg:

Portugees-Brasilië                    3,6 miljoen

Britse kolonies                              2 miljoen

Franse kolonies                         1,6 miljoen

Spaanse kolonies                       1,5 miljoen

Nederlands-Suriname 

en die Antille                               0,5 miljoen

Deense kolonies                               28 000

Daarbenewens is sowat ses miljoen slawe uit Afrika ook na Asië weggevoer, terwyl agt miljoen slawe in Afrika self aangehou is.

Robert Shell*

*Hierdie hoofstuk is oorgeneem uit Hermann Giliomee en Bernard Mbenga se Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika. Tafelberg, 2007

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5