Die demokratiese puberteit, 2004-2011

Die jare 2004 tot 2011 kan met 'n tiener se rebelse stadium vergelyk word - dit was die tiende tot die sestiende jaar van demokratiese bestel in Suid-Afrika. Groei, groeipyne en onsekerheid was aan die orde van die dag. Met die geborgenheid van 'n ouerhuis wat geen staat beskore is nie, was daar volop onsekerheid oor of die land uiteindelik suksesvol sou wees, met verskeie rigting waarin ontwikkel kon word - sommige positief, ander negatief.

Die tydperk is gekenmerk deur 'n betreklik stabiele ekonommie ten spyte van 'n wêreldwye depressie vanaf 2007. Op politieke vlak was daar die ergste binnegevegte binne die regering in die land se geskiedenis en groeiende vrae oor maatskaplike ongelykheid. Die opkoms van twee populistiese leiers, Jacob Zuma en Julius Malema, het nie gehelp om die regerende ANC se agteruitgang te stuit nie. Opstande deur armes wat kon sien hoe die vrugte van demokrasie net sommiges toeval, het die begrip "diensleweringsprotes" laat ontstaan.

Wat die opposisiepolitiek betref, het die Nasionale Party, wat dekades lank die poliltieke tuiste van die meeste Afrikaners was, tot 'n eerlose einde gekom, 'n nuwe party het uit die strydende ANC ontstaan en die meeste opposisiekiesers het 'n tuiste in die liberale waardes van die Demokratiese Allilansie (DA) o.l.v. Helen Zille gevind.

Afrikaanse uitvoerende kunste het 'n ongekende opbloei beleef en die taalgebruikers het nuwe maniere gevind om by 'n veranderde politieke werklikheid aan te pas. Dit is ten beste gereflekteer in die opkoms van Afrikaanse vakbonde en burgerregtebewegings.

Politieke woelinge in die regering

Die uitslag van die 2004-verkiesing kon Suid-Afrikaners nouliks voorberei op die politieke magspel wat sou volg. Die ANC het vir die eerste keer meer as twee derdes van die stemme getrek en het met 69,9% nie minder nie as 279 setels in die Nasionale Vergadering verower. Die DA was tweede met 50 setels. Dit het beteken die ANC kon die Grondwet, as hy wou, na goeddunke verander, hoewel pres. Thabo Mbeki die onderneming gegee het (en sy woord daaroor sou hou) dat groot grondwetlike veranderinge nie sou plaasvind nie.

Boonop het die ANC volstrekte meerderhede in sewe uit die nege provinsies behaal en die ander twee kragtens koalisie-ooreenkomste geregeer (in KwaZulu-Natal met die Minority Front en in die Wes-Kaap met die Nuwe Nasionale Party. Vir die eerste keer het al nege provinsies ANC-premiers gehad.

Die tyd sou egter leer dat die regerende ANC soos 'n eend gefunksioneer het. Waar die uitslae dit laat lyk het asof die eend rustig deur die water klief, het interne verdeeldheid beteken die pote het verwoed onderwater geskop. Die katalisator wat die verdeeldheid sou blootlê, was 'n ondersoek wat die spesiale misdaadbestrydingseenheid, die Skerpioene, na die bedrywighede van 'n omstrede Durbanse sakeman, Schabir Shaik, gedoen het. Shaik het mense ooreed om met hom sake te doen weens wat hy sy "politieke konnektiwiteit" genoem het - 'n term wat hy geskep het om aan te toon dat sy vriendskap met leiers uit die bevrydingstryd sou verseker dat sakevennote wat met hom saamwerk, tenders sou wen, veral kragtens die bepalings oor swart ekonomiese bemagtiging.

Die sleutel tot Shaik se konnektiwiteit, so het hy aangevoer, was sy hegte vriendskap met Jacob Zuma, wat reeds van 1999 die land se adjunk-president was. Ná 'n jare lange ondersoek het regter Hilary Squires vir Shaik op 2 Junie 2005 skuldig bevind op twee aanklagte van korrupsie en drie van bedrog. Hy het geappelleer, maar is in 2007 finaal skuldig bevind en sou 15 jaar tronkstraf moet uitdien. Daarvan het dadels gekom. Shaik is binne twee jaar vrygelaat, glo omdat hy terminaal siek en trouens sterwend was. Sy oordadige leefstyl, voortdurende uitstappies en gereelde deelname aan sport, het 'n bespotting van sy sg. terminale siekte gemaak en is wyd aan "konnektiwiteit" toegeskryf. Dit het nie bygedra tot enige poging om aan te toon dat die bestryding van korrupsie vir die Suid-Afrikaanse regering 'n saak van erns was nie.

Vir Zuma het die Shaik-uispraak ernstige gevolge ingehou. Suid-Afrikaanse wetgewing teen korrupsie is van die strengste ter wêreld. Dit bepaal enigeen wat by die korrupte dade betrokke was of wat redelikerwys daarvan moes weet, maar niks gedoen het om dit aan te meld nie, is vervolgbaar. Die regter se uitspraak het dit duidelik gemaak dat Zuma en Shaik se verhouding 'n groot rol in Shaik se skuldigbevinding gespeel het. In 'n groot mate het Shaik vir Zuma geldelik onderhou en sy beweerde gevolglike houvas op die land se adjunk-president gebruik om ondernemers te oortuig om hul geld in sy projekte te belê.

Dit het aan Mbeki die geleentheid gebied om op te tree. Op 14 Junie 2005 het hy Zuma in 'n opspraakwekkende parlementêre toespraak as adjunk-president afgedank. Wat bedoel was om Zuma se ondergang te wees, het egter Mbeki se ondergang ingelei. Mbeki het nl. drie fatale politieke foute met Zuma se afdanking begaan. In die eerste plek het meer as 'n week verloop tussen Mbeki se eerste aanduiding dat hy Zuma gaan afdank en die dag waarop hy die daad by die woord gevoeg het. Sy huiwering het Zuma en sy ondersteuners die geleentheid gegee om te beplan om te hergroepeer, sodat hulle teen Mbeki kon terugveg.

Tweedens was die ANC se sentrale interne uitdaging sedert 1994 dat hy nie skielilk 'n beter lewe vir almal kan bewerkstellig nie. Gegewe die welvaartgaping in die land en die beperkte middele tot die regering se beskikking, kan nie dit - realisties gesproke - doen nie. Die ANC het egter die verwagting geskep van groter verbeterings as wat prakties moontlik geblyk te gewees het. Dit het 'n groot hoeveelheid teleurgestelde mense tot gevolg gehad. Zuma kon nou hul frustrasies op populistiese wyse verwoord, want as afgedankte was hy nie meer mede-verantwoordelik vir die regering se mislukkings nie. Hy was dus 'n vaandeldraer en bymekaarkomplek vir ontevredenes.

In die derde plek is Zuma wel geskors as adjunk-president, maar nie as lid van die ANC nie. Hy kon Mbeki dus binne die strukture van die party takel, eerder as om sy eie party moes opbou.

Die gevolg was 'n politieke straatgeveg in die ANC. Vir die volgende twee jaar, tot met die party se leiersverkiesing by Polokwane (Pietersburg) in Desember 2007, is die ANC se interne eenheid uitmekaar geskeur deur struweling wat in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse partypolitiek ongekend was. Twee hoofgroeperinge in die ANC het teen mekaar te staan gekkom. Die verdeling was min of meer as volg:

Mbeki kon reken op die steun van die ANC se verkose topleiers, die sakesektor, die swart middelklas, die kabinet, die meeste ANC-takke in oorwegend Xhosasprekende en oorwegend wit landsdele, en diegene wat gedink het Zuma het te min akademiese opleiding om die land te lei.

Zuma kon reken op die steun van diegene wat self leiers sou wou wees, maar dit nog nie was nie, die vakbonde en kommuniste, die meeste ANC-takke is oorwegend Zulusprekende en Indiërdele van die land (ANC-takke in oorwegend bruin dele was verdeeld tussen hom en Mbeki), en diegene wat gedink het Mbeki is te deftig om die land te lei.

Vir twee jaar, tussen 2005 en 2007, is ANC-ondersteunende takke, gesinne en omgewings in twee geskeur deur die stryd. By die uiteindelike ANC-leiersverkiesing in Desember 2007 het Zuma 61% van die stemme getrek en Mbeki 39%. Daar is verskeie redes waarom Zuma gewen het:

* Hy kon weens sy nie-betrokkenheid by die regering elke tekortkoming van die staat uitbuit en die gedagte laat posvat dat hy dinge beter sou doen, selfs sonder dat hy enige alternatiewe voorgestel het.

* Omdat hy geen regeringspligte gehad het nie, het hy genoeg vrye tyd tot sy beskikking gehad om die hele land vol te reis en 'n behoorlike verkiesingsveldtog te voer.

* Omdat Cosatu en die SAKP teen Mbeki se makro-ekonomiese beleid Gear (sien hoofstuk 28) gekant was, het hulle hul strukture tot sy beskikking gestel en by  hul vergaderings vir hom 'n verhoog geskep vanwaar hy sy veldtog kon voer.

* Zuma het sy vele hofverskynings (sien die kassie oor Zuma verderaan) uitstekend gebruik om massasteun te werf. Opgesweepte skares het nagwake buite die hof gehou en hy het hulle telkens ná sy hofverskynings toegespreek.

* Zuma het 'n populistiese veldtog gelei waarvoor sy gemaklike geaardheid hom perfek voorberei het. Sy sangtalent het gemaak dat hy die omstrede lied "Awuleth' umshini wami" (Bring my masjiengeweer) sy eie gemaak het. Dit is op CD opgeneem het 'n treffer geword - 'n dinamo wat groot energie vir sy veldtog ontketen het.

* Sy doeltreffende gebruik van etniese politiek (hy het homself as "100% Zulu Boy" bemark), het verseker dat hy oorweldigende steunin Zulusprekende dele van die land soos KwaZulu-Ntal en Mpumalanga geniet het. Nie minder nie as 99% van die ANC-afgevaardigdes uit KwaZulu-Natal het by die leiersverkiesing in Polokwane die mandaat van hul takke gehad om Zuma te steun.

* Sy ondersteuners was honger vir sukses en het hard van tak tot tak gewerk om 'n puik veldtog te voer.

Daar is ook verskeie redes waarom Mbeki verloor het:

+ Weens sy posisie as staatshoof is alle tekortkominge van die regering en staatsdiens op sy brood gesmeer, tot voordeel van Zuma.

+ Omdat hy so dikwels in die buiteland was, het hy tred verloor met binnelandse tendense en kon hy nie 'n doeltreffende veldtog teen Zuma voer nie. Hy sou dieselfde politieke les as genl. Jan Smuts byna 60 jaar vroeër leer: ver van jou goed, naby jou skade.

+ Sy ondersteuners was so uit voeling met die gees in die land dat hulle tot op die einde nog geglo het Mbeki sou wen.

+ Sy persoonlike afwysende gedrag teenoor die SAKP en Cosatu het leiers soos dr. Blade Nzimande (SAKP) en Zwelinzima Vavi (Cosatu) se teenstand tee hom en sy Gear-beleid aangevuur.

+ Mbeki se meer terughoudende geaardheid het voorsaak dat hy geen teenvoeter vir Zuma se populisme gehad het nie. Mense het hom as hoogmoedig ervaar.

+ Mbeki het nie stemblokke soos Zuma se Zulustemblok, kommunistiese stemblok en vakbondstemblok gehad nie. Dit het hom in Polokwane duur te staan gekom.

+ Baie van sy ondersteuners was in gemaklike magsposisies en was nie so honger vir 'n oorwinning soos Zuma nie. Hulle het gevolglik nie op dieselfde manier as Zuma se ondersteuners elke ANC-tak vir steun bearbei nie.

+ Mbeki kon nie ontkom aan die beeld as die booswig in die verhaal nie. Zuma se ondersteuners het nl. vas geglo dat sy hofverskynings te wyte was aan 'n komplot deur Mbeki e.a. maghebbers om Zuma uit 'n moontlike presidentskap te knikker.

Die Polokwane-uitslag het die ANC in 'n onhoudbare situasie geplaas waar daar twee magsentrums binne die party was. Mbeki was aan die hoof van die regering en Zuma aan die hoof van die regerende party, maar hulle het erge verskille gehad.

Ná 'n morsige paar maande het die ANC se nasionale uitvoerende komitee in September 2008 aangekondig Mbeki geniet nie meer die ANC se vertroue nie en op Erfenisdag, 24 September 2008, het Mbeki bedank, Kgalema Motlanthe het hom as president opgevolg.

Mbeki se bedanking sou 'n jaar later tot die grootste skeuring ind ie ANC in sowat 50 jaar lei - die ergste skeuring sedert die stigting van die PAC in 1959. 'n Nuwe party, die Congress of the People (Cope), is daaruit gebore. Cope het 7% van die stemme in die 2009-verkiesing getrek. Die ANC het in diê verkiesing teruggesak van 69% tot 65% en beheer oor die Wes-Kaap verloor, wat ANC-planne om nuwe  provinsiale grense te trek, in die kiem gesmoor het.

Ná die verkiesing is Zuma as president verkies, met Motlanthe as sy adjunk. Daar was dikwels onduidelikheid oor regeringsbeleid, met Zuma wat sy uiteenlopende groep ondersteuners probeer bymekaarhou het. Wat hulle verenig het, was hul teenstand teen Mbeki. Met Mbeki weg, was hulle nie meer verenig nie en was dit moeililk vir Zuma om hulle eensgesind te hou.

--- --- ---

President Jacob Zuma

Jacob Gedleyihlekisa is op 12 April 1942 in Nkandla, Zululan, gebore en is in 2009 as die vierde president van 'n demokratiese Suid-Afrika ingehuldig. Sy tweede doopnaam kan uit die Zulu vertaal word as "hy was jou met 'n glimlag sal mislei", wat volgens sy ondersteuners toevallig en volgens sy teenstanders profeties was.

Zuma het 'n landelike opvoeding gehad waar sy familie se uiterse armoede vereis het dat hy eerder beeste oppas as skoolgaan. Hy het min formele skoolopleiding geniet en het vroeg in sy lewe na Durban gegaan om sy eie potjie te krap. In die stad het sy leergierigheid en vriendelikheid hom in staat gestel om sy geletterdheidsvlakke te verbeter. Hy het bedags gewerk, snags geleer en by die vakbondwese betrokke geraak.

In 1959, o p 17-jarige leeftyd, het hy by die ANC aangesluit. In 1962 het hy 'n lid van die ANC se gewapende vleuel Umkhonto we Sizwe (MK) - veral as Die Spies van die Nasie - geword en in 1963 'n lid van die SAKP. Hy is in 1963 by Zeerust in hegtenis geneem op 'n aanklag dat hy met ander saamgespan het om die destydse regering omver te probeer werp. Hy het tot 1973 tien jaar tronkstraf op Robbeneiland uitgedien. Tydens sy aanhouding het 'n hegte band tussen hom die latere staatshoof Nelson Mandela ontstaan.

Ná sy vrylating was Zuma weer met vakbondsake besig en het hy by die verbanne ANC aangesluit. In 1975 het hy die land verlaat en betrokke geraak by die gewapende stryd vanuit die buiteland. Sy betrokkenheid daarby en sy leiersrol in die ANC se intelligensie- en spioenasie-afdelings sou hom later in sy politieke loopbaan goed te pas kom.

In 1990 is die ANC ontban en Zuma het vinnig opgang in die party se KwaZulu-Natalse strukture gemaak. Teen die 1994-verkiesing was hy die provinsiale leier van die ANC en die party se premierskandidaat. Die ANC het die 1994-verkiesing in KwaZulu-Natal teen die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) verloor, maar Zuma is in die provinsiale kabinet opgeneem as LUR (provinsiale minister) van ekonomiese ontwikkeling. Van 1994 tot 1999 sou Zuma saam met dr. Frank Mdlalose van die IVP lof inoes vir die wyse waarop hulle die jare lange geweldpleging tussen die IVP en die ANC in die provinsie ontlont het.

In 1999 het pres. Thabo Mbeki vir Zuma as adjunk-prsident van die land aangewys. Die twee het egter van omstreeks 2002 begin bots. Toe Zuma se vriend en finansiële raadgewer, Schabir Shaik, in 2005 aan korrupsie en bedrog skuldig bevind word, het dit duidelik geword dat die nasionale vervolgingsgesag Zuma op 'n spieëlbeeld van die aanklagte teen Shaik sou aankla. Mbeki het Zuma dus afgedank.

Van 2005 tot 2009 was Zuma gereeld in hofsake betrokke. Nie net is hy van bedrog en korrupsie aangekla nie, maar in 'n afsonderlike hofsaak ook van die verkagting van die aansienlilk jonger MIV-positiewe dogter van 'n eertydse vriend. Hoewel hy nie aan verkragting skuldig bevind is nie, het sy getuienis dat hy aan MIV/vigs probeer ontkom het deur deeglik te stort, baie mense laat glo hy is onkundig. Dit het sy aansien groot skade betrokken.

In 2007 is Zuma as leier van die ANC verkies. In 2009 het die nasionale vervolgingsgesag op hoogs omstrede wyse besluit om hom nie meer op die aanklagte van korrupsie en bedrog te vervolg nie en ná die 2009-verkiesing is hy as president van die land aangewys.

--- --- ---

In die gevolglike relatiewe beleidstilte het 'n nuwe stem opgeklink, dié van Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, met sy opruiende retoriek, waaronder oproepe om die nasionalisering van myne en die afneem van landbougrond by boere om dit onder arm bestaansboere te herverdeel. Malema, 'n boorling van Limpopo, het op negejarige leeftyd by die ANC aangesluit en het op die ouderdom van 21 jaar matriek geskryf. In 2001 is hy verkies tot nasionale leier van die ANC-geaffilieerde Congress of South African Students (Cosas) en in 2008 tot leier van die ANC-jeugliga.

Malema se vurige uitgesprokenheid oor plofbare kwessies het hom gewild by sommige en gevrees by ander gemaak. Sy beledigende opmerkings jeens opposisieleiers en sy rasgebaseerde uitsprake teen wit landgenote het sy prominensie verhoog. Nadat die Zuma-regering van 2009 toenemend intern verdeeld en koersloos geraak het, is Malema algaande meer as 'n potensiële toekomstige ANC-leier en president van die land beskou, hoewel sommige kritici gemeen het sy vurige en soms ondeurdagte uitgesprokenheid sal hom uiteindelik kelder.

Arm gemeenskappe, wat teleurgesteld was omdat hul lewensomstandighede nie vinniger verbeter nie, het swak bestuur ANC-beheerde munisipaliteite toenemend daarvoor geblameer en openbare protes daaroor het landwyk toegeneem. Geweld, vandalisme en lewensverlies het die opstande gekenmerk. Die ANC het dus verdere steun ingeboer en in die munisipale verkiesing van 2011 teruggesak na 63%.

Politieke opposisie

Die 2004-verkiesing het ná 90 jaar die doodsklok gelui vir die eens magtige Nasionale Party en in 2005 het die party ontbind. Die party se leierskap het na die ANC gegaan en sy kiesers na die DA. Onder leiding van Helen Zille het die DA se steun gegroei van 12% in 2004 tot 16% in 2009 en 23% in 2011.

--- --- ---

Helen Zille

Helen Zille is op 9 Maart 1951 in Johannesburg gebore. Haar ouers was vlugtelinge uit Nazi-Duitsland wat hulle in Suid-Afrika gevestig het.

Zille was van kleins af betrokke by die liberale opposisie teen die apartheidstelsel en was 'n stemwerwer vir vir die legendariese liberale strydros Helen Suzman en die Progressiewe Party in die kiesafdeling Houghton.

Sy was van 1974 politieke verslaggewer van die koerant The Rand Daily Mail, 'n uitgesproke kritikus van die apartheidsregering. Zille was die joernalis wat onthul het dat die swartbewussynsleier Steve Biko dood is weens beserings toegedien deur die veiligheidspolisie en nie weens 'n eetstaking soos die regering beweer het nie. Hierdie e.a. politieke onthullings het haar bekend gemaak.

In die 1980's het sy apartheid bly beveg as 'n baie aktiewe lid van die Black Sash (wat ontwortelde swart mense bygestaan het) en die End Conscription Campaign (wat teen verpligte weermagdiens gekant was).

In 1996 het sy, as voorsitter van die beheerliggaam van The Grove Primary School in Kaapstad, opnuut prominensie verwerf toe die skool 'n langdurige en uiters belangrike hofsaak teen die regering gewen het en so verseker het skole behou inspraak in die aanstelling van personeel.

In 1999 is Zille as lid van die Demokratiese Party (DP), wat in 2000 die Demokratiese Alliansie (DA) sou word, tot die Wes-Kaapse wetgewer verkies, waar sy van 1999 tot 2001 as LUR (provinsiale minister) vir onderwys gedien het. In dié pos het sy hoë lof ingeoes en haar gewildheid het toegeneem.

In 2006 is Zille verkies tot burgemeester van Kaapstad. Met die DA se oorwinning is die ANC vir die eerste keer sedert demokratisering uit 'n stadsregering ontsetel. Zille het as burgemeester haar beeld gevestig as ' n onverskrokke vegter vir skoon regering en teen korrupsie en is in hierdie verband met die ANC gekontrasteer.

In 2009 het Zille premier van die Wes-Kaap geword. Dit was die eerste keer dat die ANC uit 'n provinsiale regering ontsetel is.

--- --- ---

In die munisipale verkiesing van 2006 het die Onafhanklike Demokrate (OD) die mag in verskeie Wes-Kaapse munisipaliteite bekom. In Kaapstad het die OD aanvanklik saam met die ANC gewerk, maar later saam met die bewindhebbende DA. Ná die parlementêre verkiesing van 2009, waartydens die OD teruggesak het van sewe setels na vier, is onderhandelings begin om met die DA saam te smelt. Die onderhandelings is in 2010 afgehandel en byna alle OD-lede het by die DA ingeskakel. Patricia de Lille, OD-leier, is as DA-kandidaat vir die Kaapse burgemeesterskap benoem en is in die munisipale verkiesing van 2011 met 'n groot meerderheid van meer as 60% tot burgemeester van Kaapstad verkies.

Cope het in 2011 net 33% van die stemme getrek. Dit het gelyk asof 'n belowende opposisieprojek op die punt was om te ontrafel. Dit was 'n groot teleurstelling vir Cope se ondersteuners, wat gedink het dié party kon 'n standhoudende opposisie onder swart leiding bied. Twee gevestigde ANC-leiers, Mosiuoa (Terror) Lekota en Mbhazima Shilowa, was die aanvanklike leiers. Hulle het egter stry gekry, wat die party verswak het.

Daar was sterk aanduidings dat die Suid-Afrikaanse politieke toneel kon ontwikkel tot een waar twee partye dominant sou wees, maar wie die Suid-Afrikaanse politieke toekoms wil voorspel, verbrand gewoonlik sy vingers.

Ekonomie

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het van 2004 tot 2007 die vrugte van 'n versigtige ekonomiese beleid gepluk, met die groeikoers wat toegeneem het tot 6,5% in 2007. Die land se beleid om binne sy vermoë te leef en dus nie in 'n skuldstrik te trap nie, was die basis van sy sukses. Die staat se groter belangtinginkomste is grootliks aangewend om verligting aan armes te bring deur die betaling van verskeie toelaes aan die kwesbaarste deel van die bevolking.

Hierdie deurdagte beleid is ná 2007 voortgesit, maar enige land is in 'n sekere mate ook oorgelewer aan wêreldtendense. Suid-Afrika met sy betreklik oop ekonomie kon nie onaangeraak bly nie deur die wêreldwye resessie weens veral die VSA se ondeurdagte makro-ekonomiese beleid wat van 2007 'n skadu oor die wêreld gegooi het. Suid-Afrika se groeikoers het afgeplat tot -1,7% in 2009, hoewel dit teen 2011 tot 4,5% verbeter het.

Verskeie aspekte het tot die sterker as verwagte vertoning deur die ekonomie bygedra:

@ 'n Versigtige ekonomiese beleid met betreklik lae staatsbesteding, verminderde staatskuld en 'n redelik klein begrotingstekort.

@ 'n Streng gereguleerde banksektor.

@ 'n Sterk goudprys.

@ 'n Groeiende swart middeklas met nuutbesteebare inkomste en 'n groot behoefte aan verbruikersgoedere.

@ 'n Betreklik stabiele geldeenheid.

@ Buitengewoon goeie landboutoestande.

@ Relatiewe isolasie van wêreldmarkte, met Afrika wat oor die algemeen minder deur die resessie geraak is as die res van die wêreld.

Daar was egter ook gevaartekens vi die Suid-Afrikaanse ekonomie:

# Die land se werkloosheidsyfer van tussen 24% en 42% (afhangend van watter definisie werkloosheid gebruik word) in 2010 was weliswaar laer as 'n paar jaar vantevore, maar steeds skrikwekkend hoog en die beter ekonomiese groeikoers het nie daartoe gelei dat genoegsame werkgeleenthede geskep is nie. Daartoe het 'n stram loonstruktuur en indiensnemingsbepalings bygedra.

# Suid-Afrika was steeds een van die lande met die grootste ongelykhede tussen ryk en arm ter wêreld gemeet deur die Gini-koëffisiënt. Hierdie ongelykhede het tussen 1994 en 2011 vererger namate ondernemende mense die geleenthede van oop markte aangegryp het en minder geseënde mense die beskerming van geslote markte verloor het: Suid-Afrikaners moes nou ekonomies teen die hele wêreld meeding. Die sterkes het gefloreer en die swakkes het gekrepeer.

# Met meer mense wat toelaes ontvang as wat belasting betaal, was daar kommer oor of die uitbetaling van toelaes uiteindelik volhoubaar sou wees.

# Een van die redes vir die lae staatsbesteding was 'n verwaarlosing van die instandhouding van infrastruktuur. Veral wat paaie en kragsentrales betref, was die situasie so ernstig dat tolpaaie meer algemeen geword en die koste van elektrisiteit dramaties toegeneem het, met groot implikasies vir verbruikers.

# Kommer het ontstaan oor die voortgesette beskikbaarheid van hoogs opgeleide bestuurslui namate die regering se rasgebaseerde toepassing van regstellende aksie en die gevolglike uitvloei van kundigheid na die buiteland sy tol begin eis het.

# Internasionale maatskappye se kommer oor moontlike nasionalisering en die potensiële impak van swart ekonomiese bemagtiging op die aandeelhouding in hul Suid-Afrikaanse filiale het regstreekse buitelandse beleggings gekortwiek.

# Die persepsie dat korrupsie, wanbestuur en tenderbedrog aan die orde van die dag is, is nie genoegsaam deur sterk optrede van regeringskant teëgewerk nie. Daarin het die ANC se beleid van kaderontplooiing, as onderdeel van die Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR), 'n groot rol gespeel.

In sy strewe om swart mense ekonomies te bemagtig en veral om 'n swart kapitalistiese klas te vestig, het die regering ná 2004 kragtig met sy beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB/Black Economic Empowerment - BEE in Engels) voortgegaan. Die Suid-Afrikaanse Grondwet bevat 'n interessante foutlyn wat in die tydperk ná 2004 'n enorme uitwerking op Suid-Afrikaners se alledaagse lewe sou hê. Hoewel nie-rassigheid en gelykheid die morele grondslag van die Grondwet vorm, word erkenning oor gegee aan meer as drie eeue van ongelykheid en ongelyke geleenthede. Die Grondwet verplig die regering ook om dit reg te stel deur die strukturele bevoordeling van gekleurde Suid-Afrikaners, spesifiek swart mense.

Die Mbeki-regering het daarvan probeer werk maak deur te probeer verseker dat die samestelling van o.m. soveel beroepe, sportspanne en studentetalle aan universiteite verteenwoordigend van die rassesamestelling van die bevolking is, met 'n verminderde klem op vaardigheid. Op die vlak van die ekonomie het dié ideaal neerslag gevind in die beleid van SEB.

Dit was Mbeki se herhaalde en sterk uitgesproke mening dat Suid-Afrika in die praktyk twee afsonderlike ekonomieë gehuisves het: 'n ontwikkelde, formele, welvarende ekonomie wat hy as grootliks wit getipeer het, en 'n onderontwikkelde, informele ekonomie van armes wat  hy as swart getipeer het. Volgens Mbeki was daar "geen roltrap" tussen die twee ekonomieë nie en moes die staat swart armes dus bemagtig om die wit ekonomie te betree.

Hierdie rasgebaseerde beleid het vereis dat personeel in die staatsdiens en private maatskappye en selfs die aandeelhouding in genoteerde maatskappye meer verteenwoordigend van die algemene bevolking se rassesamestelling moet wees. In die praktyk het die wyse waarop die beleid toegepas is, beteken bruin, wit en Indiërkiesers is van die ANC vervreem omdat kleurkwotas in die werkplek, by opleiding en op die sportveld swart mense bevoordeel en dié drie minderheidsgroepe dus benadeel het.

Maatskappye moes sowat 26% van hul aandeelhouding aan swart mense oordra. Veral buitelandse maatskappy het kwaai kapsie daarteen gemaak, want dit het beteken dat hulle beheer oor ongeveer 'n kwart van hul Suid-Afrikaanse filiale prysgee sonder enige noodwendige teenprestasie van kundigheid deur hul swart vennote. Uiteraard het Suid-Afrikaners wat om rasredes nie by die bemagtiging kon baat nie, erg beswaar gemaak teen die beleid. Uiteindelik was dit egter klas eerder as ras wat die regering weer laat dink het.

Omdat die beleid slegs op ras berus het, het dit in die praktyk beteken slegs 'n klein groepie in die swart elite het baat gevind by die bemagtigingsooreenkomste, waardeur hulle met miljarde rand verryk is. Daarteen het die vakbonde, die swart werkersklas en swart werkloses in so 'n mate protes aangeteken dat die regering teen 2011 besig was om sy beleid te hersien en inkomste 'n faktor in bemagtiging te maak. Die nuwe beleid sou op breë swart ekonomiese bemagtiging berus in 'n poging om meer arm mense deelkragtig in die ekonomie te maak.

Die Nasionale Demokratiese Revolusie

Een van die mees omstrede konsepte in die Suid-Afrikaanse politieke woordeskat ná 1994 was die sg. "Nasionale Demokratiese Revolusie" (NDR). Vir ondersteuners van die ANC was dit sinoniem met die volkome verwesenliking van bevrywing uit die nalatenskap van apartheid. Vir teenstanders van die ANC was dit sinoniem met baantjjies vir boeties, korrupsie en magsbeheptheid.

Binne die ANC bestaan die konsep van die NDR al baie lank. Verskillende mense verstaan dit vrskillend. Daar was n og altyd een denkskool in die ANC wat die NDR bloot gelykgestel het met die daarstel van 'n nie-rassige, nie-seksistiese Suid-Afrika, soos voorsien in die Grondwet van 1996.

'n Ander denkskool, wat veral sedert die ANC se  nasionale konferensie in Mafikeng (voorheen Mafeking, tans genoem Mahikeng) in 1998 op al groter skaal verwoord word, is dat die NDR die volkome transformasie van Suid-Afrika tot gevolg moet hê. Volgens hierdie denkskool is die ANC sedert 1994 aan bewind in Suid-Afrika, maar nie werklik in beheer van Suid-Afrika nie. Politieke mag moet omgesit word in ekonomiese mag en beheer word deur ANC-ondersteuners in die staatsdiens.

Dié visie van die NDR is van 1999 tydens die bewind van presidente Mbeki, Motlanthe en Zuma in praktyk omgesit deur 'n beleid genaamd kaderontplooiing in die staatsdiens en swart ekonomiese bemagtiging deur die aanpassing van tenderregulasies en voorskrifte oor aandeelhouding in private maatskappye.

Die mees omstrede daarvan was kaderontplooiing - die openlike ANC-beleid om ANC-ondersteuners in topposte aan te stel. Veral ind ie staatsdiens, munisipale bestuur, die veiligheidsmagte, die hoogste aanstellings in die regbank, die land se geheime diens, die SAUK, staatsbeheerde ondernemings soos Eskom en Transnet, semi-staatsinstellings soos die Landbank, en grondwetlik verskanste instellings soos die openbare beskermer en die nasionale direkteur van openbare vervolgings, het 'n geskiedenis van lojaliteit aan die ANC belangrik geword wanneer aanstellings gemaak moet word.

Teenstanders van kaderontplooiing en die NDR het aangevoer dit lei daartoe dat die mees geskikte persoon nie noodwendig in 'n pos aangestel word nie, met negatiewe gevolge vi dienslewering aan die breër bevolking en die skieding tussen staat en politieke party. Voorstandrs van die beleid het aangevoer dit maak die speelveld gelyk vir alole Suid-0Afrikaners en transformeer die land om die ongelykhede van die verlede uit te wis, en dat kritiek daarop op rassisme berus, sowel as op 'n poging om bevoordeling uit die verlede te beskerm.

Grondhervorming: 'n geleentheid word 'n nagmerrie

In die tydperk 2004 tot 2011 het die grondkwessie ontstuitbaar na die middelpunt van die Suid-Afrikaanse openbare debat beweeg. Min kwessies het meer emosie ontlok, en oor min kwessies was die regering teen die einde van 2011 in 'n moeiliker situasie.

Die doelwit om teen 2014 30% van bewerkbare landbugrond in swart besit te hê, was onrealisties en is bowendien deur korrupsie gekniehalter. Teen 2011 moes die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, toegee die grondhervormingsbeleid het misluk. Nuwe denke was nodig. Van die redes vir die mislukking was:

= Daar was geen oudit van die rasverdeling van grondbesit nie. Die regering het dus nie geweet hoeveel grond in besit van watter ras is nie, wat dit onmoontlik gemaak het om die sukses van grondhervorming korrek te meet.

= Daar was geen betroubare register van die grond wat die staat besit nie.

= Sommige boere het te veel geld vir hul grond geëis.

= Grootskaalse wanbestuur en korrupsie het die proses gekniehalter.

= Wanneer 'n begunstigde gemeenskap 'n stuk grond ontvang het, het die staat nie altyd die nodige nasorg gedoen deur opleiding, saad, vee, implemente en oorbruggingsfinansiering te verskaf nie. Die meeste nuutbegunstigde boere het dus misluk.

Nietemin het die regering verbind gebly tot die proses om die wanbalans in grondeienaarskap, wat uit die apartheidstelsel gespruit het en trouens 'n sistemiese hoeksteen daarvan was, te herstel. Teen 2011 het 'n besef egter by die regering en landelike armes, soos diegene verteenwoordig ind ie Landless People's Movement, begin posvat dat landbou in Suid-Afrika nie noodwendig op kort termyn winsgewend is nie, dat boere, plaaswerkers, nuutbevoordeelde landelike grondeienaars en die staat sal moet saamwerk om die beleid te laat slaag. Teen die einde van 2011 was onderhandelings om 'n werkbare model vir grondhervorming te kry, nog aan die gang, met volop welwillendheid, maar min uitvoerbare idees. Die tydbom het steeds getik.

Buitelandse beleid

Suid-Afrika het voortgegaan om toegang tot die hoogste internasionale raadsale te geniet en het van Januarie 2011 vir 'n tweede termyn in die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad gedien. amptelik het die land steeds die uitgangspunt uit die Mandela-era eerbiedig dat die ondersteuning van menseregte die moerele rigsnoer vir buitelandse beleid sou verskaf.

In die praktyk is hierdie edele bedoelings egter dikwels nie in dade omgesit nie. Zimbabwe het voortgegaan om van krisis na krisis te steier, maar die Suid-Afrikaanse regering was nie u itgesproke teen die vergrype van pres. Robert Mugabe se regering nie. Suid-Afrika het ook nie in die VN streng optrede teen die onderdrukkende militêre bewind in Mianmar (Burma) ondersteun nie. Suid-Afrika moes dikwels onder die kritiek deurloop dat die land eerder deur solidariteit met Afrikalande as deur beginsels gelei word.

Buitelandse beleid het op Afrika gefokuks. Aan die positiewe kant het Suid-Afrika 'n leidende rol gespeel in die soeke na vrede in die Groot Mere-gebie in sentraal-Afrika (o.m. Burundi, Rwanda en die Demokratiese Republiek van die Kongo) en Mbeki het né sy uittrede as president 'n leeue-aandeel in die ordelike onafhanklikwording van Suid-Soedan gehad. Aan die negatiewe kant het Suid-Afrika dikwels op die draad bly sit wanneer korrupte Afrikaregerings onder druk geplaas is, net om op die laaste nippertjie kant te kies nadat die slag reeds gelewer is. Voorbeelde uit 2011 sluit in die regeringsverandering in die Ivoorkus en die Afrikastaatsgrepe as deel van die sg. Arabiese Lente - in Tunisië, Egipte en Libië.

Die groeiende invloed van China wêreldwyd het Suid-Afrika nie onaangeraak gelaat nie. Chinese regeringsafvaardigings en sakelui het die land voortdurend besoek. Dit het baie Suid-Afrikaners gegrief dat Chinese beleggers so min van plaaslike arbeid gebruik gemaak het. Nietemin het amptelike bande met China bly floreer. Dit het by tye vir Suid-Afrika verleentheid veroorsaak, soos toe die Suid-Afrikaanse regering herhaaldelik onder Chinese druk geswig en geweier het om aan die Dalai Lama (geestelike leier van Tibet, wie se land deur China beset is) 'n visum toe te staan om 'n toespraak in Suid-Afrika te hou.

--- --- ---

Die Chinese in Suid-Afrika       *(Hierdie subafdeling is bygedra deur Karen Harris)

Die eerste Chinese het in die tweede helfte van die 17de eeu in die Kaap aangekom. As smouse het hulle vis, vars produkte, lekkers en handgemaakte ware verkoop. Sommige het selfs klein eetplekke oopgemaak. Daar was ook bannelinge wat deur die VOC uit Batavia na die Kaap gestuur is om kort vonnisse uit te dien. In hierdie tydperk (1652-1795) was daar nooit meer as 350 Chinese op 'n gegewe tydstip in die Kaap nie. 'n Paar van hulle was só welvarend, dat hulle slawe-eienaars geword het. Die sukses van verskeie Chinese het veroorsaak dat die Nederlandse koloniste verskeie petisies teen hulle ingedien het en gevolglik is maatreëls aanvaar om hul aktiwiteite te beperk.

Die volgende identifiseerbare golf Chinse wat in die land aangekom het, was diegene wat deel uitgemaak het van die internasionale diaspora van meer as 200 miljoen Chinese in die middel van die 19de eeu. Hulle het hullei n die kusdorpe van die kolonies gevestig en ná die ontdekking van minerale ook na Kimberley en Johannesburg gemigreer. Hulle was hoofsaaklilk by dienstenywerhede en kleinskaalse handel betrokke. Aan die begin van die 20ste eeu was daar net meer as 1 000 vry Chinese individue in die Johannesburgse omgewing.

Die verwoesting van die goudmynbedryf weens die Anglo-Boereoorlog het meegebring dat die Britse koloniale regering ingestem het dat Chinese kontrakarbeiders vir die goudmyne gewerf kon word. Oor 'n tydperk van ses jaar (1904-1910) is 63 659 ongeskoolde Chinese arbeiders ingevoer om op driejaarkontrakte te werk waarna hulle na China moes terugkeer. Hoewel die Chinese werkers daarvoor geprys is dat hulle die goudmynbedryf gered het deur produksie wat die hoogste van alle tye was, het hul teenwoordigheid wye reaksie ontlok.

Die beëindiging van die Chinese kontrakarbeiderskema het uiteindelik 'n belangrike rol in die verkiesingsoorwinnings van sowel die Liberale Party in Brittanje as die Het Volk-party in Transvaal gespeel. Van groter belang is egter dat dit ook tot die eerste rassistiese en uitsluitende wetgewing van die 20ste eeu in Suid-Afrika gelei het, nl. die Cape Chinese Exclusion Act van 1904. Hierdie wetgewing het Chinese die eerste groep gemaak wat uitgesonder en op so 'n openlike wyse teen gediskrimineer is. Daarbenewens het Transvaal in 1906 die sg. "Black Act" aanvaar ingevolge waarvan alle "Asiate" moes herregistreer. Dit het gelei tot 'n veldtog van passiewe verset wat soortgelyk aan, maar afsonderlik van dié van die Indiese leier Mahatma Gandhi, gehou is. Leung Quinn h et die veldtog gelei.

Ná die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 is die Chinese ingevolge immigrasiewetgewing van 1913 as "verbode immigrante" geklassifiseer. Hul getalle sou voortaan slegs van natuurlike aanwas afhang en het daarna geleidelik afgeneem. Teen die middel van die 20ste eeu was daar slegs sowat 7 000 Chinese in die land. Volgens die Bevolkingsregistrasiewet van 1950 is Chinese as 'n subgroep van die sg. kleurlingbevolking geklassifiseer. Onder apartheidswetgewing is hulle as 'n nie-blanke groep beskou en een groepsgebied, Kabegapark, is in die Oos-Kaap vir hulle geïdentifiseer.

Soos die apartheidsregering se handelsbetrekkinge met die Republiek van China (Taiwan) versterk het, het Suid-Afrikaanse Chinese geleidelik sekere toegewings gekry. Hul kinders kon bv. met amptelike toestemming na wit skole gaan en hull kon aansoek doen om in sekere wit woonbuurte te bly, maar hulle het steeds nie stemreg gehad nie. Hulle kon in 1994 eers vir die eerste keer saam met hul swart, bruin en Indiërlandgenote stem.

Daar is egter selfs in die nuwe Suid-Afrika teen die Chinese gemeenskap gediskrimineer, omdat hulle uitgesluit is van die Wet op Gelyke Indiensneming van 1998 en aanverwante wetgewing. Dit het beteken dat Chinese as 'n groep nie daarvoor in aanmerking gekom het om by regstellende aksie te baat nie. Ná 'n nege jaar lange hofstryd het die hooggeregshof in Junie 2008 bevind dat die Chinese wel as 'n voorheen benadeelde groep geklassifiseer kon word en dus voordeel uit regstellende aksie mag trek. Steeds bly hierdie klein gemeenskap egter op die rand van die Suid-Afrikaanse samelewing in die tussenruimtes tussen wit en swart.

--- --- ---

Maatskaplike kwessies

Tussen 2004 en 2011 is Suid-Afrika deur groot maatskaplike uitdagings in die gesig gestaar. Met sommige kwessies is groot vordering gemaak, maar ander het bly  haper. Gesondheid, misdaadbekamping, vreemdelingehaat en nasiebou was sake wat dringend getakel moes word.

Op gesondheidsgebied was daar geen groter krisis as MIV/vigs nie. Mbeki en die minister van gesondheid, dr. Manto Tshabalala-Msimang, het wêreldwye berugtheid verwerf vir hul reaksie op dié dodelike pandemie. Mbeki het beweer daar is geen onomstootlike bewys dat MIV vigs veroorsaak nie en het aangevoer mense se stellings oor seks, MIV/vigs en die feit dat die siekte op so 'n groot skaal voorkom, beteken hulle sien neer op swart mense as primitiewe seksueel gedrewe diere. Tshabalala-Msimang het beweer 'n dieet van knoffel, beet, suurlemoen en Afrika-aartappel werk beter as antiretovirale middels (ARM/s) teen MIV/vigs. Die wêreld het met afgryse op Mbeki en Tshabalala-Msimang se stellings gereageer, maar veral arm ANC-ondersteuners het hulle geglo en die dodetal het gestyg.

Mbeki het die grootste fout van sy politieke loopbaan gemaak deur van hierdie gesondheidskwessie 'n politieke speelbal te maak. Sy regering se beleid om die siekte te verswyg, sy weiering om te erken dat die MI-virus vigs veroorsaak en om ARM's aan dodelik siek mense te versprei, word wyd vir die ontsettend hoë MIV/vigs-dodelik in Suid-Afrika geblameer.

Nadat Mbeki in 2007 as ANC-leier verslaan is, het 'n kentering ingetree. Die ampstermyne van presidente Kgalema Motlanthe en Jacob Zuma h et o nder die doelgerigte leiding van Barbara Hogan en dr. Aaron Motsoaledi as ministers van gesondheid tot die grootste MIV/vigs-bestrydingsprogram in die wêreld gelei - met onmiddellike gevolge. Teen 2011 was daar steeds geen genesing vir die siekte nie, hoewel die gebruik van ARM's die dood met tot veertig jaar kon vertraag.

Nadat Zuma in 2009 aan bewind gekkom het, is daar erns gemaak met hierdie e.a. gesondheidskwessies, wat tuberkulose e.a. voorkombare, oordraagbare siektes ingesluit het. Motsoaledi het groter klem geplaas op die verbetering van primêre gesondheidsorg en sowel die toestande as die diens by staatshospitale. Wanneer stakers gesondheidsdienste bedreig het, het Motsoaledi, 'n gekwalifiseerde geneesheer, self ingespring om mediese sorg te verskaf.

Misdaadsyfers het hoog gebly. Hoogs geskoolde emigrante het misdaad saam met die gevolge van regstellende aksie aangedui as die hoofrede waarom hulle die land wil verlaat. Deur meer polisiebeamptes aan te stel, het die regering die voorkoms van veral geweldsmisdaad teen 2001 gestabiliseer, maar wel teen van die hoogste vlakke ter wêreld.

Xenofobie (vreemdelingehaat) het van 2008 toenemend in Suid-Afrika kop uitgesteek. Die wortel van die kwaad was dat Suid-Afrika nie streng was met sy grensbeveiligingsbeleid nie en dat groot getalle mense uit veral Afrika 'n heenkome in Suid-Afrika gevind het wanneer sake in hul eie land skeefgeloop het. Immigrante het hoofsaaklik uit Zimbabwe, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Somalië, Nigerië, Rwanda en Burundi gekom. Baie van hulle het ongeskoolde arbeid verrig, wat die persepsie by Suid-Afrikaanse ongeskoolde werkers laat ontstaan het dat die immigrante ongeskoolde Suid-Afrikaners van werk ontneem. Met Suid-Afrika se hoë werkloosheidsyfer was dit 'n vuurhoutjie in 'n kruitvat. Gewelddadige optrede teen buitelanders het 'n gereelde gebeurtenis begin word, ten spyte van uitgesproke teenstand deur die regering.

Nasiebou en versoening het, gegewe die land se verdeelde verlede, in Suid-Afrika 'n prioriteit en uitdaging gebly. Veral met groot sportgeleenthede was Suid-Afrikaners daartoe in staat om te fokus op dit wat hulle verenig, eerder as dit wat hulle verdeel. Só was dit met die Springbokke se verowering van die Wêreldbeker in rugby in Frankryk in 2007, terwyl die aanbieding van die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 'n triomf vir binnelandse versoening - en vir Suid-Afrika se buitelandse beeld - was. Hoewel integrasie in die praktyk vir die meeste mense  algaande meer gemaklike alledaagse werklikheid geword het, was opruiende politici soos Malema 'n stok in die wiel, veral met rasgebaseerde uitsprake teen die land se wit inwoners.

Die Afrikaanse leefwêreld

Afrikaanse mense het aangehou leer hoe om te funksioneer as 'n groep met beperkte bedingingsmag in Suid-Afrika. Vir 'n noemenswaardige groep wit Afrikaanssprekendes was dit 'n moeilike aanpassing dat wit Afrikaanssprekendes (wat in die apartheidsdae 60% van die stemtotaal uitgemaak het) sedert 1994, met die toestaan van stemreg vir alle rasse, net 6% van die totale hoeveelheid kiesers uitmaak. Dit kom neer op 'n tienvoudige verkleining van politieke invloed, wat vir sommiges traumaties was om te hanteer. Ook vir bruin Afrikaanssprekendes het 'n idealistiese prentjie oor die invloed van demokratisering gou op die rotse van realiteit gestrand.

Die Afrikaanse gemeenskap, Afrikaanse skole en die uitbou van die Afrikaanse taal was vir die ANC-regering nie meer die prioriteit wat dit vir regerings tot 1994 was nie. Boonop het sowel wit as bruin Afrikaanssprekendes dit aansienlik moeiliker gevind om werk te kry weens die regering se beleid van rasgebaseerde regstellende aksie wat, soos amptelike ANC-beleid sedert die Morogoro-beraad in 1969 verklaar het, op swart mense in die besonder gefokus was.

Die uitwerking daarvan was dat dit die Afrikaanse gemeenskap gedwing het om na homself te begin omsien op 'n wyse wat vroeër onnodig en dus ondenkbaar sou wees. Die aanpasbaarheid en die bereidheid van die Afrikaanse gemeenskap om dit wat vir hom kosbaar is, selfstandig te koester en uit te bou, is versinnebeeld in die stigting van belange-organisasies soos die Bruin Belange-Inisiatief (BBI) en die Solidariteit-bewering. Lg. bestaan uit vier dele, nl. 'n vakbond, 'n opleidingsafdeling, 'n welsynsbeweging en 'n burgerregtegroep.

Die oper demokratiese bestel het groter interne ongelykheid in Afrikaanse gemeenskappe tot gevolg gehad, met die geleentheid tot groter kompetisie wat sterkeres laat uitskiet en swakkeres onbekermd gelaat het. Hoewel die voorste bruin mense die kanse aangegryp het wat 'n meer gelyke bestel kon bied, kon die meeste bruin Afrikaanssprekendes nie 'n wesenlike verbetering in hul betreklik armoedige omstandighede sien nie.

Dieselfde neiging was in die wit Afrikaanse gemeenskap waarneembaar, met 'n enorme inkomstegaping wat tussen ryk en arm Afrikaners ontstaan het toe apartheidstelsel wegval en Suid-Afrika op groter skaal deel van die internasionale wêreld en markte word. Twee gelyklopende tendense het werkloosheid onder wit Afrikaanssprekendes laat styg en tot die herlewing van die armblankevraagstuk gelei: Eerstens het rasgebaseerde werkreservering (sommige werkgeleenthede kon kragtens wet slegs deur wit mense verrig word) weggeval en tweedens het regstellende aksie voorkeur aan swart arbeid bo wit arbeid gegee.

Die BBI, Afrikaanse kerke en Solildariteit het hulle gevolglik bemoei met armoedeverligting en opheffing binne die Afrikaanse gemeenskap. 'n Tradisie van "help jouself" het in die Afrikaanse gemeenskap ontstaan.

Die Afrikaanse uitvoerende kunste het ook gefloreer, met verkope wat ongekende hoogtes bereik het omdat Afrikaanse mense hul taal ondersteun het, die ontplooiing van Afrikaanse punk wat deur die groep Fokofpolisiekar 'n groot impak op jong Afrikaanssprekendes gemaak het, die zef-groep Die Antwoord wat 'n wêreldwye deurbraak vir Afrikaanse musiek beteken het en die rolprent Skoonheid wat internasionale erkenning vir die potensiaal van Afrikaans as rolprentmedium verseker het. Afrikaanse mense het deur gesamentlike strukture soos die Afrikaanse Taalraad oor rasgrense begin saamwerk ter uitbouing van hul gedeelde taal- en kultuurbelange op 'n skaal wat dekades tevore ondenkbaar sou wees.

Polities was Afrikaanssprekendes in die verkisings van 2009 en 2011 meer verenig as ooit in die geskiedenis. 'n Boodskap van verbete skoon regering en gelyke geleenthede vir almal ongeag kleur, het veroorsaak dat sowat 70% van bruin Afrikaanssprekendes (in die stede was die syfer meer as 80% vir bruin kiesers) en sowat 94% van wit Afrikaanssprekendes hul kruisies vir Zille se Demokratiese Alliansie (DA) getrek het. Daarmee is die politieke kloof wat sedert die ontstaan van Afrikaans tussen wit en bruin in die Afrikaanse taalgemeenskap bestaan het, in 'n groter mate as ooit tevore uitgewis. Of dit 'n blywende tendens is, sal net die tyd kan leer.

Die tydperk 2004 en 2011 was dus een waarin die landspolitiek uitgekristaliseer het tot die potensiaal van ' n tweeparty-dominante stelsel, met die ANC en die DA wat teenoor mekaar stelling ingeneem het. Op ekonomiese vlak het Suid-Afrika tot in 2007 gefloreer en daarna die byt van die wêreldwye depressie beter as die meeste ander lande gehanteer. Op maatskaplike gebied is toelaes aan meer mense uitbetaal, wat die gevaar van 'n te groot belastinglas geskep het. MIV/vig is van 2009 stewig getakel. In die Afrikaanse leefwêreld het die kunste 'n opbloei beleef, hoewel die taal se gebruik op amptelike terrein afgeskeep is.

Aan die einde van 'n woelige, vormende puberteit van storm en drang, het Suid-Afrika op die drempel van 'n volwassenheid gestaan waarvan die presiese aard gevorm sou word deur sy mense - en die presiese aard eers in die volheid van die tyd duidelik sou wees.

Jan-Jan Joubert

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5