Die Afrikaanse kerke in die 20ste eeu

Die verhaal van die Afrikaanse kerke in die 20ste eeu is dié van Afrikanergelowiges se worsteling met 'n komplekse werklikheid. Een van die belangrikste kwessies wat dié breër gemeenskap in die gesig gestaar het, was die verhouding tussen wit en swart.

Die geskiedenis het drie groot uitdagings aan Afrikaanssprekendes en hul kerke - spesifiek dié met 'n gereformeerde agtergrond - gebied. Eerstens moes 'n middeweg gevind word tussen diegene wat vanuit Nederland betrokke was by die vestiging van Europeërs in Suid-Afrika en diegene wat hier gevestig geraak het en groter onafhanklikheid van die moederland wou hê. Tweedens moes 'n uitweg gesoek word toe die volks- en kultuurbelange van Afrikaanssprekendes in konflik met Britse imperiale belange gekom het. Derdens moes die kerk ook 'n manier vind om die onafhanklikheidstrewe van die swart bevolking in veral die tweede helfte van die 20ste eeu te hanteer.

Vroeë geskiedenis

Hoewel die Afrikaanssprekende kerke wat uit 'n gereformeerde agtergrond kom 'n gemeenskaplike Nederlandse wortel en vroeë Suid-Afrikaanse stam het, het hulle in die loop van veral die 19de eeu in verskillende rigtings vertak. Sommige lede van die (gereformeerde) kerk aan die Kaap, nl. die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), het teen die middel van die 19de eeu begin glo dié instelling het te veel van 'n liberale, Engelse rigting ingeslaan. Gevolglik het die die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 1853 tot stand gekkom. Op grond van die oortuiging dat die NGK te metodisties georiënteer geraak het en toe boonop die sg. Evangeliese Gesangeingevoer het, is die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika weer in 1859 gestig.

Die Anglo-Boereoorlog het gelei tot 'n groter eenheidsgevoel onder Afrikaners en hulle het hul belange begin konsolideer. Dit het o.m. op die sg. Raad van (NG) Kerke uitgeloop wat in 1907 in die lewe geroep is. Daar is enersyds pogings aangewend om die NGK, wat in 1862 in verskillende afgeskeie provinsies (sinodes) verdeel het, weer bymekaar te bring, en andersyds na ander Afrikaanse kerke uitgereik om die saak van 'n platgeslane volk se gemeenskaplike belange te bevorder.

Die realiteite van Uniewording in 1910, die Afrikanerrebellie van 1914, die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 en die ekonomiese agteruitgang van die Afrikaner in die 1920's en 1930's het besondere visie en leierskap van Afrikanerleiers en die Afrikaanse kerke geverg. Benewens 'n verswakte selfbeeld weens hul nederlaag in die Anglo-Boereoorlog moes die armblankevraagstuk onder Afrikaners ook aangespreek word. Die Afrikaanssprekende kerke het hul lidmate egter met raad en daad bygestaan en tydens verskeie krisisse soos droogtes, 'n ekonomiese depressie en die gepaardgaande verstedeliking begelei. Kampvegters soos Vader (ds. J.D.) Kestell e.a. het die Afrikaners hul uitdagings te bowe help kom deur hulle opnuut te motiveer.

Van kritieke belang was Christene se raksie op die sg. Carnegie-verslag, wat ondersoek ingestel het na verstedeliking onder Afrikaners en die gepaardgaande armblanke-vraagstuk. Die Carnegie-kommissie het sy verslag in 1932 in vyf omvattende dele uitgebring. Die kerk het o.m. gereageer deur die Volklskongres oor die Armblankevraagstuk in 1934 in Kimberley te organiseer. Hieruit het 'n verskeidenheid aksies en heropbouprosesse gevloei.

Die kerk het verdere bydraes gelewer om Afrikaanssprekendes te probeer ophef, veral deur lidmate se betrokkenheid as ouers in onderwys-beheerliggame, en in verskillende bestuursliggame van maatskaplike sorg. Die kerk het ook 'n amptelike Afrikaanse vertaling van die Bybel in 1933 uitgegee, en in 1944 het die Afrikaanse psalms en gesange gevolg. Dié twee vertalings verteenwoordig ook belangrike momente in die groeiende selfbewussyn van die Afrikaner oor sy taal en kultuur.

In 1939 het nog 'n belangrike projek in die opbou van die Afrikaner die lig gesien toe die Reddingsdaadbond as 'n voortvloeisel van die Eerste Ekonomiese Volkskongres van 1939 tot stand gekom het. Dít verteenwoordig een van drie opbou-aksies wat uit hierdie kongres gebore is. Waar die ander meer gefokus was op die oprigting van 'n finansieringshuis (Federale Volklsbeleggings) en 'n sakekamer (die Afrikaanse Handelsinstituut), was die doel van die Reddingsdaadbond om aandag te gee aan die Afrikaner se kultuur, die ekonomie, die boeregemeenskap, vrouesake en wit arbeid. Hoewel die kerk nie direk hierby betrokke was nie, het hy tog 'n sterk motiveringsrol gespeel.

Soos dit ook die geval was tot later in die 20ste eeu, het van die Afrikaanssprekende kerke se knapste studente destyds in die buiteland hul doktorale studies gaan doen het, veral in Nederland (by die u niversiteite van Amsterdam, Utrecht, Leiden en Kampen) en die VSA (by die Universiteit van Princeton). In Nederland het die studente die latere proff. E.P. Groenewald en A.B. du Preez sowel as D.F. Malan (later eerste minister) ingesluit, en in Amerika figure soos die latere prof. B.J. Marais en dr. William Nicol. Dáár het hulle goeie opleiding gekry, maar is terselfdertyd deur verskillende internasionale sosiopoliltieke, ideologiese en teologiese strominge beïnvloed.

Aan die een kant het hulle nog te doen gekry met die "ou vyand"  uit die Anglo-Boereoorlog, nl. die Britse imperiale magte. (Die Suid-Afrikaanse regering se steun vir Brittanje in die twee wêreldoorloë het tot baie spanning in Afrikanergeledere gelei.) Aan die ander kant het sommige jong teoloë en van hul landgenote in die 1930's en 1940's aanklank gevind by die opkomende Duitse Romantisisme en is hulle ook deur die Nasionaal-sosialisme beïnvloed. Verder het hulle hulself al meer met Duitsland vereenselwig a.g.v. twee gemeenskaplike vyande - Brittanje en die kommunisme.

'n Boere-Calvinisme

Intussen het sekere teologiese strydpunte in die Afrikaanssprekende kerke kop uitgesteek. In die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), en in mindere mate ook die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), het die Nederlandse teoloog en politikus Abraham Kuyper en die Calvinisme 'n sterk invloed uitgeoefen.

Die Nederduitsch Hervormende Kerk van Afrika (NHKA) het hom intussen steeds duidelik in die volkerestroom bevind. Dit beteken dat daar ' n redelik noue band tussen volk en kerk bestaan het sonder dat die twee absoluut met mekaar saamgeval het. Die GKSA, maar ook die NGK, het egter na neo-Calvinisme (of Boere-Calvinisme, soos sommiges dit noem) begin neig. Dit het beteken dat die eens suiwer Calvinisme nou elemente van Afrikaner-nasionalisme begin vertoon het.

Hierdie neo-Calvinisme het daartoe gelei dat apartheid se grondslag in die Bybel gesoek is. Die eerste teoloog om dit op skrif te stel, was die Potchefstroomse hoogleraar, prof. J.D. du Toit (Totius) van die GKSA. Die neo-Calvnisme is gebou op Kuyper se standpunt dat die ordening van volke en nasies teruggevoer kan word na die Bybelse gebeure by die Toring van Babel, toe mense verdeeld geraak het a.g.v. 'n verwarring van tale.

Sedert 1928 het die sg. Du Plelssis-stryd in die NGK na vore getree. Prof. J. du Plessis, hoogleraar aan die Teologiese Kweekskool van Stellenbosch, was 'n besonder begaafde persoon wat op baie verskillende terreine bydraes gelewer het. Die Du Plessis-stryd het basies gehandel oor die spanning in die NGK oor die ontwikkeling van twee duidelike strominge in sy geledere.

Die een groep, o.l.v. dr. Dwight Snyman en prof. E.E. van Rooyen, was meer konserwatief en het veral die belydenisbenadering van die kerk benadruk  en die vertolking van die Skrif probeer vrywaar van die negatiewe en ekstreme invloede van die rasionalisme (waarvolgens die menslike rede die grondslag van alle betroubare kennis vorm). Die ander groep, o.l.v. Du Plessis, het 'n gesonde debat oor die verstaan van die Skrif asook 'n kritiese teologiese benadering voorgestaan, hoewel hulle goed daarvan bewus was dat dit steeds gebalanseerd sou moes wees. Met die skorsing van Du Plessis in 1932, het hierdie debat egter lank tot stilstand gekom.

Intussen het daar nog 'n evangeliesgesinde teologie binne die NGK ontwikkel wat die klem op sowel die geloof as die praktiese en vroom lewe van die gelowige wou plaas. Dié teologie het sy grondslag in die Nederlandse Nadere Reformasie van die 17de eeu en die Reveil-beweging van die 19de eeu gehad. In die NGK is die 20ste eeuse evangeliese inslag wel deur hierdie ontwikkelinger beïnvloed, maar dit is in die 19de en vroeë 20ste eeu ook deur dr. Andrew Murray se sterk leiersrol en sy vele publikasies oor 'n vroom lewe gevoed. Vanweë 'n verskeidenheid faktore was hierdie invloede egter nooit buitengewoon sterk nie en het hulle nie 'n bepalende invloed op die NGK gehad nie.

Die verband tussen kerk, volk en kultuur het in die loop van die 20ste eeu 'n groot rol in die Afrikaanse kerke gespeel. Dit was nie net in die Anglo-Boereoorlog wat die Afrikaner 'n groot behoefte aan vertroosting, pastorale versorging en leiding gehad het nie, maar veral ook tydens die rebellie van 1914 en gedurende die twee wêreldoorloë.

Gedurende hierdie tye was daar baie verdelende magte en verskillende lojaliteite, veral wat Afrikanernasionalisme, Britse imperialisme en die Nazi-ideologie betref. Die kerk moes probeer om bo hierdie politieke en ideologiese verskille uit te styg en die nodige begeleiding aan sy lidmate te gee. In dié onderlinge konflik moes die kerk ter wille van die Evangelie egter soms ook ingryp om die spanning te ontlont.

Die kerk en apartheid

Die té hegte verhouding tussen die kerk en die Afrikanervolk het talle probleme veroorsaak, o.m. dat kerk en volk se rolle met mekaar vervloei het. Hierdie probleme, wat veral uit Afrikanernasionalistiese gevoelens gespruit het, het sterker deurgeslaan tydens die Eeugeesviering van die Groot Trek in 1938, die Ossewabrandwag se duidelike assosiasie met die Duitse saak in die 1940's en die Nasionale Party se oorwinning in 1948 waarna afsonderlike ontwikkeling (apartheid) op die wetboek geplaas is.

Redelik vroeg in die 20ste eeu het daar 'n al duideliker verskil in teologiese standpunte binne die drie gereformeerde kerke begin ontwikkel oor die Bybelse grondslag van apartheid. Voorloopers in dié verband was proff. J. du Plessis, B.B. Keet, B.J. Marais en A. van Selms. Du Plessis het bv. in die 1920's reeds by o.m. die Raad van (NG) Kerke gepleit vir groter meelewing met die nood van ander. Hy het destyds al voorspraak gemaak dat die kwessie van swart grondbesit dringend aangespreek moet word.

Wat wel in die 1930's en 1940's duidelik was, was dat sowel die sending as die wit samelewing 'n voogdyskap-benadering teenoor die swart bevolking gevolg het. Daarvolgens is swart mense nie as gelykes aanvaar nie, maar as ondergeskiktes in die sorg van wit mense. In die dekades daarna kom daar egter name van ander voorlopers uit die geledere van die Afrikaanssprekende gereformeerde kerke by, soos dr. Beyers Naudé en proff. Albert Geyser, Lourens du Plessis, Nico Smith, David Bosch, Amie van Wyk en Johan Heyns. Hulle het elkleen in verskillende verbande unieke bydraes gelewer tot die bevraagtekening van die Bybelse grondslag van apartheid. Hulle het ook aanvoorwerk gedoen vir die finale afskeid van dié diskriminerende rassebeleid.

Die drie Afrikaanssprekende gereformeerde kerke - en veral die NGK - het 'n byna goddelike sanksie en terselfdertyd 'n Bybelse grondslag vir die beleid van apartheid verskaf. Ná die Sharpeville-tragedie en die Langa-opstand waarin talle sterftes was, het verteenwoordigers van die Wêreldraad van Kerke en sy Suid-Afrikaanse lidkerke in 1960 die Cottesloe-beraad belê. By dié beraad is die probleem van rasseverhoudinge vanuit 'n kerklike oogpunt ondersoek. Die Cottesloe-verklaring wat ná die beraad uitgereik is, het besonder verligte standpunte oor rasseverhoudinge ingeneem en 'n oop sosiale en kerklike samelewing sonder apartheid voorgestaan.

Die Afrikaanse kerke het baie negatief daarop gereageer, wat die groeiende kloof tussen die Afrikaans- en Engelssprekende kerke in Suid-Afrika net vererger het. Die NGK en die NHKA het kort daarna ook uit die Wêreldraad van Kerke bedank.

Intussen het die Christelike Instituut in 1963 tot stand gekom as ' n reaksie uit eie geledere op die Afrikaanse kerke se verwerping van Cottesloe. Dit sou in 'n organisasie ontwikkel wat saam met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke sterk standpunt teen apartheid ingeneem het.

Intussen het kerkleiers soos prof. A.B. du Preez en drs. A.P. Treurnicht en Koot Vorster (die broer van John Vorter, die eerste minister van Suid-Afrika tussen 1966 en 1978) steeds die byna goddelike regverdiging en sanksionering van apartheid ook buite die kerk verkondig.

Weerstand teen apartheid

Die weerstand teen apartheid het veral ná die Soweto-opstande van 1976 onder sowel die wit Afrikaanse kerke as hul swart en bruin dogterkerke toegeneem en 'n hoogtepunt in die 1980's bereik. Dit was veral die NG Sendingkerk (die NGK vir bruin mense) wat hul posisie as "verstotelinge" sterker begin aanvoel het.

In 1982 het die Algemene Sinode van die NG Sendingkerk, met dr. Allan Boesak as moderator, 'n staat van belydenis teen die apartheidsbeleid afgekondig. Dit het die weg gebaan vir hul formulering en aanvaarding van die Belydenis van Belhar in 1986. Die Belydenis van Belhar beklemtoon die kwessies van geregtigheid, versoening en eenheid - aspekte waarmee die meeste regdenkende gelowiges hulle behoort te kan vereenselwig. Die Belydenis van Belhar is egter in die loop van die volgende dekades sterk onder verdenking geplaas en het 'n politieke en kerklike speelbal geword.

Naas die vele individuele stemme teen apartheid wat uit die wit kerke opgegaan het, was 'n belangrike waterskeiding die NGK se Algemene Sinode van 1986, waar die kerk duidelilk begin afskeid neem het van apartheid en die weg help baan het vir die demokratiseringsproses van die 1990's. Hierdie deurbraak het plaasgevind met die aanvaarding van die studiestuk "Kerk en samelewing". Die Algemene Sinode het o.m. besluit dat die NGK se lidmaatskap ondubbelsinnig "oop" is vir alle bevolkingsgroepe.

Hierdie e.a. besluite van die Algemene Sinode van 1986 het tot die hoofsaaklik pollities gemotiveerde afsplitsing en stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in 1987 gelei. Die APK, met sy lidmaatskap van ongeveer 30 000 gelowiges teen 2011, bepaal steeds dat slegs wit afrikaners as lidmate toegelaat mag word. Hoewel die APK 'n invloed op verdere ontwikkelinge in die NGK gehad het, was daardie invloed nooit buitengewoon groot nie.

Ná die historiese toespraak van staatspresident F.W. de Klerk op 2 Februarie 1990 is die verboe op politieke organisasies soos die ANC en die PAC opgehef en is politieke gevangenes vrygelaat. Die ideologie van apartheid en sy aanspraak dat dié stelsel vir almal vrede, voorspoed en vooruitgang sou bring, is as vals bewys. Die belangrike les wat hieruit te leer was, was dat dit nooit goed is as die kerk te veel mag  het nie. Die kerk het sy taak nou veel eerder gesien as om na noodlydendes om te sien en mense op 'n liefdevolle en o ndersteunende manier by te staan.

Deur pres. De Klerk en 'n aantal kerkleiers se toedoen het die veelbesproke Rustenburg-kerkeberaad in November 1990 plaasgevind - die mees verteenwoordigende kerklike vergadering in die geskiedenis van Suid-Afrika tot in daardie stadium. Benewens baie van die swart en Engelse kerke, het ook die Pinkster- en charismatiese kerke die beraad bygewoon. By hierdie geleentheid het die invloedryke prof. W.D. Jonker van Stellenbosch eksplisiet die NGK se skuld aan apartheid bely. Hierop het aartsbiskop Desmond Tutu van die Anglikaanse Kerk in 'n versoenende gebaar verklaar dat die betrokke kerkvergadering die skuldbelydenis met dankbaarheid aanvaar. Die besluite van hierdie beraad is in die Rustenburg-verklalring van 1990 opgeneem.

Die rol van die kerk ná 1994

Die jare hierna was tegelyk opwindend en inspirerend, maar ook pynlik vir kerk en samelewing. Ook die Afrikaanssprekende kerke het binne en buite kerkverband 'n oorwegend positiewe rol in die oorgang na 'n nuwe, demokratiese Suid-Afrika gespeel. Die bereidwilligheid van die NGK om voor die Waarheids- en versoeningskommissie (WVK) van 1995-1998 te getuig, is gesien as 'n belangrike positiewe gebaar van selfondersoek en versoening. Lidmate is begelei op die nuwe pad wat die kerk ingeslaan het en die eise wat die nuwe bedeling vir Christene sou bring, soos groter sorgsaamheid vir hul medemens, is uitgestippel.

Aan die einde van die 1990's het daar nog heelwat ander geleenthede vir die Afrikaanssprekende kerke opgeduik. In dié tyd het die NGK bv. nouer bande met ander kerke in die wêreld gesmee toe hy weer tot sowel die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke as die Wêreldraad van Kerke toegelaat is.

Ná die Nelson Mandela-era het die Afrikaanssprekende kerke tot ' n sekere mate weer in onsekerheid verval en was daar 'n gebrek aan 'n duidelike visie. Die eerste dekade van die nuwe millennium het in baie opsigte 'n era van ontnugtering en binnegevegte geword. Baie kwessies het na vore getree wat groot kommer vir die Afrikaanssprekende kerke ingehou het. Die groter invloed van sekularisasie (die groeiende verwêreldliking van die samelewing), asook dié van die postmodernisme (wat van die standpunt uitgaan dat daar min vaste waarhede in ons tyd is), was besig om ook hul tol van die kerk te eis.

Hoewel hierdie era deur groter vrydenkendheid gekenmerk is, was daar ook ekstreme strominge soos die teologiese liberalisme en relativisme wat talle kernaspekte van die teologie bevraagteken het, o.m. deur die gesag van die Bybel te probeer afwater. Dit het al meer op verskillende terreine sigbaar geraak en op die lange duur gelei tot 'n vervlakking van die teologie en die kerklewe. Aan die ander kant was daar ook groeiende weerstand teen die gevestigde kerke met hul verouderende llidmaatskap, hul relatief vaste patrone van aanbidding en hul sterker klem op die organisasie en strukture van die kerklike instelling.

Verder het die rassewerklikheid in 'n nuwe politieke bestel vir sommige Afrikaanssprekende kerke 'n probleem gebly. 'n Pinksterkerk soos die Apostoliese Geloofsending (AGS) is bv. grootliks geïntegreerd, met 'n veelrassige leierskap. Die GKSA, en veral sy leierskap en meerdere vergaderings, het reeds in die 1970's oor die rasse-Rubicon getree, maar in die praktyk was dié kerk teen 2011 nog redelik gesegregeerd, hoewel daar reeds oral gesamentlike sinodale en ringsvergaderings plaasgevind het.

Die NGK het teen 1986 verklaar dat hy in beginsel 'n oop kerk is, maar die proses van gesamentllike aanbidding en hereniging met sy rasgeskeide dogterkerke het teen 2011 steeds pynlik stadig verloop. Met die Algemene Sinode van die NGK in 2011 is daar wel sterk standpunt ingeneem t.g.v. die aanvaarding van die Belydenis van Belhard. Daar is ook besluit dat die gesprekke oor die hereniging van die verskillende lede van die NGK-familie nuwe stukrag moet kry. In die praktyk sal hierdie proses egter waarskynlik moeisaam verloop - juis omdat die saak so verpolitiseer geraak het.

Die NHKA het eers in die eerste dekade van die 21ste eeu verklaar dat hy nie net 'n  kerk vir die Afrikanervolk is nie, maar hierdie standpuntinname het teen 2011 steeds op heelwat weerstand uit eie geledere gestuit.

Intussen moet ook die Afrikaanssprekende kerke 'n rol in die verligting van die groot armoedeprobleem in Suid-Afrika speel. Net soos die Afrikaanse kerke ná die Anglo-Boereoorlog voor die armblankevraagstuk te staan gekom het, kry die kerk nou weer die geleentheid om sy kundigheid en ervaring in te span om 'n belangrike bydrae te lewer tot die oplossing van 'n probleem wat hierdie keer geen kleur meer ken nie. Van die dringendste probleme waardeur die kerk in die gesig gestaar word, is swak onderwys, MIV/vigs e.a. gesondheidskrisisse, die omvangryke misdaadproblemee en die ernstige kwessie van morele waardes (en die korrupsie wat daarmee saamhang).

As daar ten slotte na die bydraes van die Afrikaanssprekende gereformeerde kerke in die 20ste eeu gekyk word, kan 'n hele paar lig- en skadupunte uitgewys word. Wat ligpunte betref, het hierdie kerke 'n reuserol gespeel in die verspreiding van die Evangelie deur Woordverkondiging, pastorale betrokkenheid, evangelisasie en sending - selfs ver buite die landsgrense. Ook die bydrae wat veral in die 1930's en 1990's met barmhartigheidswerk (maatskaplike sorg en die opheffing van mense) gelewer is, is besonder noemenswaardig. Dit suit ook die onderwystelsel in die algemeen in.

Die verskillende Afrikaanssprekende kerke se bydrae tot jeugwerk en -bediening is net so belangrik. Dié kerke het 'n sterk bewussyn van die geestelike behoeftes van die jeug ontwikkel en heelwat aanpassings is in die kerklike praktyk aangebring om jongmense te akkommodeer.

Aan die skadukant was hierdie kerke nóú betrokke by die grondlegging en uitbouing van apartheid. Sommige van die Afrikaanssprekende kerke het ook dikwels totaal onbetrokke by maatskaplike probleme gebly. Die kerke se onvermoë om vroeër in hul geskiedenis 'n eie, inheemse karakter te ontwikkel, was 'n groot belemmering vir hul vermoë om versoening in die samelewing te help bewerkstellig. Die gepaardgaande rasse-eksklusiwiteit van hierdie kerke bly verder opvallend.

Ten spyte van moeilike omstandighede en baie onsekerhede wat daarmee saamhang, het die Afrikaanssprekende gereformeerde kerke teen 2011 oorwegend getrou gebly aan hul roeping om die boodskap van troos en hoop in Suid-Afrika uit te dra. Die toekoms van die kerk én die samelewing op kort en lang termyn vra sterk, duidelike visie en aksie, ook met die oog daarop om 'n rol op die kontinent te speel.

J.W. (Hoffie) Hofmeyr

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5