Afrikanernasionalisme, 1875 - 1899

Op 13 Augustus 2000 berig Rapport dat die 18-jarige Carina Carshagen, wat toe pas die ATKV se debatkompetisie gewen het, gesê het: "Die Afrikaners is toegewikkel in 'n droomlose slaap. Hulle weet nie wie hulle is nie, weet nie wat 'n Afrikaner is nie en het boonop geen droom om na te strewe nie...Ons Afrikaners het ongelukkig geen droom om na te strewe nie...Ons Afrikaners het ongelukkig maar altyd ons droom om 'n ideologie gebou, maar hierdie ideologie het in duie gestort." Sy het afgesluit met die woorde: "As die Afrikaners weer 'n droom wil k ry, moet die begrip Afrikaner herdefinieer word. Die Afrikaner moet weet wie hy is en bereid wees om 'n verskil te maak in die nuwe Suid-Afrika."

Die droom waarna Carina verwys, is die ideale wat Afrikanernasionaliste ongeveer 'n eeu lank ná 1875 nagestreef het. In daardie jaar is die eerste nasionalistiese organisasie - die Genootskap van Regte Afrikaners - in die Paarl gestig. Honderd jaar later, in 1975, het Afrikanernasionalisme sy toppunt bereik: Afrikaners het die staat en regering beheer en 'n aandeel van ongeveer 20% in die ekonomie gehad. Afrikaans was een van die twee amptelike landstale en het in die algemeen sterk gestaan.

In die honderd jaar tussen 1875 en 1975 het Afrikanernasionaliste hul volksgenote oorreed om saam te staan in 'n party om poliltieke mag te verwerf,  om aanvanklik die Hollandse en later die Afrikaanse taal en kultuur te bevorder en om ook vir die ekonomiese welsyn van Afrikaners en Suid-Afrika te werk. Dit was egter eers in die tweede en derde dekade van die 20ste eeu dat 'n n asionalistiese beweging werklik onder Afrikaners ontstaan het. Hierdie hoofstuk kyk na ontwikkelinge in die laaste kwart van die 19de eeu toe vir die eerste keer voorgestel is dat Afrikaners 'n eie pollitieke party stig.

Die benaming Afrikaner

Teen die jaar 1700 het "Afrikaners" verwys na slawe wat in Afrika gebore i s. In die loop van die 18de eeu het mense van gemengde afkoms na die noordweste van die kolonie uitgewyk waar hulle onder leiers soos Jonker Afrikaner en Jager Afrikaner gestaan het. Burgers van hoofsaaklik Hollandse Duitse of Franse afkoms wat in die suidweste van die kolonie gewoon het, het in dieselfde tydperk egter ook na hulself begin verwys as Afrikaners. Baie wit Hollands- en Afrikaanssprekendes het hulself lank ook "Christene" genoem.

Nadat Brittanje die Kaap eers in 1795 en toe weer in 1806 verower het, wou baie Kaapse Afrikaners hê dat plaaslike Engelssprekendes hulself ook as Afrikaners moet beskou. Toe De Zuid-Afrikaan, die eerste Hollandse koerant, in 1830 verskyn, het die redakteur geskryf: "Almal wat in die land woon en daaruit 'n bestaan put, is Afrikaners." Hy het ook gesê dat almal wat die land kritiseer, streng deur "alle Afrikaners, sowel Engelse as Hollanders" teengestaan moet word.

In die laat 19de eeu was daar ook bruin mense, veral diegene wat polities aktief was, wat die naam Afrikaner gebruik het. In 1883 is daar op Kimberley 'n Afrikaner League (Coloured) opgerig. Die stigter was Pieter Johannes Daniels, oorspronklik van Stellenbosch. In die eerste dekades van die 20ste eeu het sommige Nasionale Party-kandidate ook die stem van "bruin Afrikaners" gevra.

'n Afrikanergemeenskap in wording

In die loop van die 19de eeu het Afrikaners begin om 'n duidelik herkenbare groep om afkoms, taal en godsdiens te vorm. Geleidelik het hulle ook die naam Afrikaners aanvaar. Al sou nasionalistiese verenigings en koerante eers van 1875 af opgerig word, het 'n Afrikanergemeenskap in werklikheid toe dus reeds bestaan. Dié gemeeskap het veral in reaksie op Britse gesag ontwikkel en op wat as Britse meerderwardigheid beskou is. Engelse kleredrag, argitektuur, sosiale etiket en gedrag het die toon aangegee. Engelssprekendes het hul taal in die algemeeen ook as veel "progressiewer" of "beskaafder" as Hollands beskou (Afrikaans is gewoon as 'n onbeskaafde taal beskou).

Nadat Brittanje d.m.v. 'n vredesverdrag van 1814 finaal beheer oor die Kaap gekry het, was die bewindhebbers gretig om die Kaap te "verbeter" en te "beskaaf". Een van die eerste stappe in dié proses was 'n nuwe taalbeleid. In 1822 het die regeiring van goewerneur lord Charles Somerset aangekondig dat Engels oor die volgende vyf jaar ingefaseer sou word as die taal van die regering en die howe.

In die 1820's het Somerset se regering ook probeer om die skole en die kerk te verengels. Die gratis regeringskole het slegs Engels as voertaal gehad. Die burgers was gretig om hul kinders Engels te laat leer, maar was daarteen gekant dat Hollands uitgedryf word. Hulle wou skole hê wat die kinders in albei tale onderrig. Namate die Britse bewind stewiger gevestig geraak het, het die ouers se aandrang op Hollands afgeneem. Toe die Athenaeum (later die South African College en nog later die Universiteit van Kaapstad) gestig is, het die ouers en die NG Kerk-predikante nie omgegee dat die meeste van die onderwysels Engelse en Skotte was nie. Die predikante was egter ontsteld toe die kollege ook godsdiensonderrig wou gee omdat hulle bang was dat die jeug gevolglik by 'n Engelse kerk sou wou aansluit.

Dit was vir die Kaapse burgers moeilik om Britse meerderwaardigheid uit te daag. Tot die 1820's was daar aan die Kaap geen Hollandse koerante, tydskrifte, boeke, skilderye of uitvindings wat hulle as eie skeppings kon opeis nie. Die Kaaps-Hollandse huise was wel kultuurskeppings waarop die Afrikaanse koloniste met reg trots was.

--- --- ---

Nasionalisme

Nasionalisme beskryf 'n sekere manier waarop mense oor die samelewing dink en polities ooptree. Nasionaliste glo dat die samelewing grootliks bestaan uit volke of volke in wording wat polities moet saamstaan op grond van hul geskiedenis, taal en kultuur. Daarteenoor beklemtoon liberaliste die enkeleling en s regte en vryhede, terwyl kommuniste hoofsaaklik bepaalde klasse, bv. die werkersklas enhul belange raaksien.

Nasionaliste gee hul hoogste trou aan hul volk - hulle glo dat die "kultuur-eie", die "bande van bloed", lede van 'n volk saambind en dat hulle "amper soos 'n familie" is. "Ons is nie elkeen net vir homself nie, maar ons staan almal saam vir die volk" is die tipiese nasionalistiese boodskap. Nasionalisme groei feitlik altyd uit 'n gevoel van verontregting, bv. wanneer 'n imperiale ryk (soos die Britse Ryk) of 'n welvarende gemeenskap op mense se taal, kultuur en geskiedenis neerkyk en hulle van die beste werkgeleenthede uitsluit. Die leiers van 'n nasionalistiese beweging probeer mense oorreed om saam te staan teen benadeling en vernedering.

Om 'n nasionalistiese beweging op te bou, is harde werk, want dit is selde duidelik wie aan die volk behoort en wie nie, of wat die volk se naam is. Die geval van die Afrikaners illustreer dit treffend.

--- --- ---

Die beweging wat as die Groot Trek bekend geword het, is nie deur nasionalistiese sentimente onder Kaapse Oosgrensboere veroorsaak nie, maar wel weens 'n gebrek aan grond, arbeid en voldoende veiligheid. Tog het die Trekkers gevoel dat die Britse amptenare hulle as minderwaardiges behandel. Olive Schreiner, 'n Engelse skrywer wat as jong meisie onder die grensboere in die Oos-Kaap gewerk het, het geskryf: "Wat die koloniste die meeste verbitter het, was die koue afsydigheid waarmee die regering hulle behandel het en die wete dat hulle beskou word as 'n onderworpe en minderwaardige ras."

Ná die Groot Trek en die stigting van onderskeidelik die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in Transvaal in 1852 en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) in 1854, het daar teen 1860 ongeveer 200 000 Afrikaners gewoon in die gebied wat later as Suid-Afrika bekend sou staan. Van hulle het ongeveer 136 000 in die Kaapkolonie gewoon waar hulle driekwart van die wit bevolking uitgemaak het. In elk van die twee republileke het ongeveer 30 000 Afrikaners gewoon. Ongeveer 3 000 het Natal hul tuiste gemaak.

Teen 1850 het niemand nog gepraat van 'n Afrikanervolk wat oor al die grense van Suid-Afrika verspreid was nie. Dikwels is dit 'n buitestander wat eerste die moontlikheid raaksien dat 'n volk wat oor landsgrense heen gevind kan word, besig is om te ontwikkel. In 1860 het sir George Grey, goewrneur van die Kaapkolonie, geskryf dat die Afrikaners een gemeenskap vorm. "Hulle het dieselfde vanne as die mense van die Kaapkolonie en het noue familiebande met hulle. Hulle praat dieselfde taal (Hollands en nie Engels nie), behoort aan dieselfde kerk (Die Nederduitse Gereformeerde Kerk), het dieselfde regstelsel (die Romeins-Hollandse reg) en het dieselfde simpatieë, vooroordele, gewoontes en gevoelens teenoor die inheemse rasse."

Die republileke het lank in die skadu van die Kaapkolonie gestaan. Nietemin het burgers in Transvaal en die Vrystaat 'n lojaliteit teenoor hul onderskeie republieke ontwikkel. Hulle was republikeine eerder as nasionaliste. Daarteenoor was baie van die vooraanstaande Kaapse Afriakners lojaal aan die Britse Ryk en koningin Victoria.

Die Britse anneksasie van Transvaal in 1877 het groot ontevredenheid onder Afrikaners regoor die land veroorsaak. Die Transvaalse burgers het die koloniale Afrikaners gevra om hulle te help. In Junie 1880 het die Pretoriase koerant De Volkstem 'n tipiese nasionalistiese beroep op Afrikaners buite Transvaal gedoen om hulle te ondersteun: "Ons is tog een nasie, een bloed, een been en een vlees." Op vergaderings het Afrikaners in die Vrystaat en die Kaap sterk steun vir die saak van die Transvaalse Afrikaners uitgespreek.

In Desember 1880 het die Transvaalse burgers in opstand gekom teen die Britse gesag en vroeg in 1881 'n klinkende oorwinning oor 'n Britse mag by Majuba behaal. In Bloemfontein het De Express juigend oor die sege geskryf: "Ten spyte van alle vroeë verskille tintel in ons die gevol dat ons een volk is met dieselfde liefde vir die vryheid en dieselfde haat vir dwingelandy."

Voor hierdie opstand het die Transvaalse burgers 'n gelofte afgelê, net soos die Voortrekkers in 1838 voor die Slag van Bloedrivier. Sarel Cilliers het die Voortrekkers voorgegaan in die gelofte dat hulle en hul kinders die dag jaarliks met 'n erediens sou heilig en 'n kerk sou bou as God hulle 'n oorwinning oor die Zulumag gee. Die idee van 'n uitverkore volk - wat gevoed is deur die oorwinning by Bloedrivier - is een van die sterkste mites van 'n nasionalisme. 'n Mite is 'n geloof of 'n fabel wat gewoonlik gaan oor die wyse waarop 'n volk of nasie ontstaan het, maar wat nie bewys kan word nie. Sulke volksmites kan eers wyd versprei word wanneer mense boeke en koerante begin lees en politieke en kulturele organisasies stig. In die 1830's was daar nog geen sprake daarvan nie.

In uitvoering van die gelofte by Bloedrivier het die Voortrekkers 'n kerk in Pietermaritzburg gebou. Die gebruik van 'n spesiale gedenkdag het daarna egter in onbruik veral. In 1877, nadat Brittanje Transvaal geannekseer het, het burgers egter weer begin om die dag te gedenk. Op 16 Desember 1880 het tussen 5 000 en 9 000 gewapende burgers by Paardekraal, naby die latere Krugersdorp, 'n gelofte teenoor God afgelê en dit met 'n klipstapel bevestig.

Paul Kruger, wat in 1883 president van die herstelde ZAR geword het, het sy burgers elke jaar o p 16 Desember toegespreek. By elke geleentheid het hy die boodskap uitgedra dat daar 'n verband is tussen die Voortrekkers en die Hebreërs van ouds. Hy het sy burgers "Godsvolk" genoem en die gedagte van hul geroepenheid beklemtoon. Sy boodskap was dat die republiek onafhanklik sou bly solank die Transvaalse burgers getrou bly.

Ná die Eerste Anglo-Boereoorlog het 'n nuwe pollitieke bewussyn in Transvaal tot stand gekom. Soos J.G. Kotzé, wat kort tevore as regter aangestel is, opgemerk het: "Dit het 'n sterk nasionale gevoel onder die Boere tot stand gebring; dit het hulle verenig en almal het hulle nou agter die staat geskaar." Die Transvaal van individualistiese pioniers wat hulle min aan die sentrale owerheid en sy gesag gesteur het, het tot die verlede behoort. Kruger, self 'n pionier, het hulle oorreed om die staat te steun. Hy het ook groot waarde geheg aan skole wat kinders in Hollands onderrig.

'n Politieke party vir die Afrikaners

Die Kaap het reeds in 1853 'n parlement gekry, maar dit sou meer as 20 jaar duur voordat Afrikaans- en Hollandssprekende burgers hulle in politieke partye begin organiseer het. Hoewel daar meer Afrikaanssprekende as Engelse kiesers was, is meer Engelse as Afrikaners tot die parlement verkies.

Teen die vroeë 1870's het die Kaapse Afrikaners hul politieke apatie begin afskud. In 18782 het die Kaap verantwoordelike bestuur gekry. dit het beteken dat die parlement meer magte van die Britse regering ontvang het om die kolonie te onwikkel en te bestuur en sy grense te bewaak. Die diamantmyne in Kimberley het die ekonomiese ontwikkeling van ie Kaap aangewakkeer. Heelwat meer inkomste was vir die regering beskikbaar. 'n Parlementslid was nou in 'n posisie om sy kiesafdeling en sy bepaalde steungroepe se belange te bevorder.

Een van die steungroepe was die Afrikanernasionaliste. Sonder 'n energieke politieke party of organisasie kan mense met nasionalistiese oogmerke egter moeilik vorder. Dit het die agt Afrikaners wat op 14 Augustus 1875 die Genootskap van Regte Afrikaners in die Paarl gestig het, deeglik besef. Hul leier was S.J. du Toit, 'n jong NG-predikant op die dorp.

Op daardie tydstip was baie Afrikaners gegrief omdat Engels die enigste amptelike taal was. Op skool moes hul kinders boonop 'n geskiedenis leer wat die Britse Ryk verheerlik het en nie veel goeds oor Afrikaners gesê het nie. Geleidelik het 'n behoefte ontstaan aan 'n geskiedenis van Afrikaners wat in die skole onderrig kon word.

Teen die 1870's was daar in die Kaap ook 'n groot behoefte aan 'n Afrikaanse Bybel omdat soveel arm Christene, wit én bruin, nie Hollands of Engels verstaan het nie. In die vroeë 1870's het twee Hollandse immigrante, Arnoldus Pannevis en C.P. Hoogenhout, dus voorgestel dat die Bybel in Afrikaans vertaal word. Dit Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, wat gehelp het om die Bybel in inheemse tale te laat vertaal, het S.J. du Toit genader oor die projek.

Du Toit het 'n vergadering belê om die saak te bespreek waar besluit is dat die tyd nog nie ryp is vir 'n Afrikaanse vertaling van die Bybel nie. Op dieselfde vegadering is die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) egter gestig. Dié organisasie was gerig op alle Afrikaners wat "Afrikaanse harte" eerder as "Hollandse of Engelse harte" gehad het.

Die GRA het Afrikaners probeer oorreed om Afrikaans as hul eie taal te beskou, dit te skryf en in die openbaar te praat. Dit was egter nie, soos wat die GRA-lede beweer het, 'n taal wat net deur Afrikaners gemaak is of wat net aan Afrikaners behoort h et nie. Afrikaans het ontstaan omdat burger en slaaf, boer en werker, boervrou en huishulp 'n gemeenskaplike taal benodig het om met mekaar te kan kommunikeer. Die Moslemgemeenskap van Kaapstad was in werklikheid die eerste groep wat Afrikaans in 'n boek gebruik het toe Afrikaanse gebedeboeke in die 1840's in Arabiese skrif uitgegee is.

Die genootskap het sy eie koerant, Die Afrikaanse Patriot, uitgegee om sy boodskap te versprei en ook 'n nasionalistiese geskiedenis gepubliseer, getiteld Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk. Dit was baie krities jeens die regering en die "Engelse" en het vertel hoe heldhaftig, eerbaar en gelowig die Afrikaners is. In sy geskrifte het Du Toit die gedagte verkondig dat God die Afrikaners in Afrika geplaas het en die Afrikaanse taal aan hulle gegee het.

'n Kort tydjie in die 1880's het Die Patriot die grootste sirkulasie van alle Hollandse of Afrikaanse koerante gehad. Die styl was helder, bondig en vars met eenvoudige sinne wat hoofsaaklik woorde van een lettergreep gebruik het. Hier is 'n voorbeeld: "Di hoogste wet is di wil van di volk. Wat di volk wil, moet wet wore en as 'n volk nie eenstemmig is ni, dan gaat dit met meerderheid van stemme. Di meerderheid maak di wet ... Geen regering kan staan teen di volkswil..."

Baie mense het nie saamgestem met die snaakse manier waarop die koerant sekere Afrikaanse woorde gespel het nie (behalwe "ni" en "di" was daar ook "gen" vir "geen" en "ferkeerd" vir "verkeerd"). Afrikaners met 'n hoë opvoedingspeil, veral dié in die Kaapkolonie, het Engels as skryftaal en Hollands as die taal van die kerk verkies. Hulle het Hollandse koerante en Engelse boeke gelees.

Die NG Kerk was baie sterk gekant teen Du Toit en sy blad Die Patriot. Du Toit het baie dinge waarvoor die NG Kerk gestaan het, bv. opwekkingsdienste, spesiale bidure, Engels in skole en 'n oordrewe onderdanigheid aan die regering, teengestaan. Die kerk was ook sterk lojaak teenoor die koningin en die Britse Ryk. In 1880 het die Kaapse sinode Die Patriot oor drie dae bespreek. Die een spreker ná die ander het die blad se "verderflike invloed" gekritiseer, veral die agterdog wat dit gekweek het teen die regering, die kerk en sy ampsdraers. Du Toit het homself en die koerant verdedig, maar in 'n stemming van 114 teen twee het die sinode die koerant veroordeel.

Later sou historici die GRA se bedrywighede as die Eerste Afrikaans Taalbeweging bestem. Die genootskap het 93 650 eksemplare van Hollandse boeke en 88 000 eksemplare van Afrikaanse boeke gedruk. Die beweging het teen 1890 doodgeloop. Du Toit het as leier steun verloor omdat hy polities sy gewig ingegooi het by Cecil John Rhodes, wat hom sterk vir die Britse Ryk beywer het.

'n Tweede groep wat politieke verteenwoordiging gesoek het, was die boere. Teen die begin van die 1870's het veral die wynboere in die Suidwes-Kaap, wat omtrent almal Afrikaners was, ontevrede begin raak omdat hulle gemeen het die regering bevoordeel die handelaars, feitlik almal Engelssprekendes. Ook die koringboere was ontevrede oor lae pryse en goedkoop koring wat vanoorsee ingevoer is.

Die wieering van die Transvaalse burgers om hulle aan Britse oorheersing te onderwerp, het die behoefte aan 'n eie party verder onder die Kaapse Afrikaners versterk. Dit was egter hul verset teen 'n nuwe belasting wat op wynboere gehef is wat die sterkste motivering was. Nasionalisme bied dikwels 'n soort pakket: Lede van 'n volk kan ook hul ekonomiese belange bevorder as hulle polilties saamstaan.

In 1879 het S.J. du Toit gepleit dat 'n Afrikanerbond gestig word om Afrikaners se kultuur en belange te bevorder. Die volgende jaar het mense takke in die Kaapkolonie begin stig en enkele takke het ook in die Boererepublieke tot stand gekom. Die Afrikanerbond was nie net vir Afrikaners nie, maar vir "almal wat Afrika erken as hul vaderland .. al is hulle van Engelse, Hollandse, Franse of Duitse afkoms". Dit was die eerste politieke party in die geskiedenis van Suid-Afrika en het gou die grootste party in die Kaapse parlement geword.

Vroeg in die 1880's het Jan H. (Onze Jan") Hofmeyer die beheer van die Afrikanerbond oorgeneem nadat S..J. du Toit 'n betrekking in Transvaal aanvaar het. Hy was nie 'n nasionalis nie en was daarteen gekant dat Afrikaans Hollands vervang, maar hy het hom sterk met die Afrikanergemeenskap vereenselwig. Terselfdertyd wou hy 'n nuwe nasie uit die twee wit gemeenskappe bou deur "verligte Engelse" te lok.

Omdat die Afrikanerbond gou omtrent al die Afrikaners se steun gehad het, het Hofmeyr by ' n punt gekom waar hy gesê het hy wil liewer vyf Engelsmanne as honderd Afrikaners as lede van die party inskryf. Hy was baie gestel daarop om Afrikaners én Engelse, sowel die Afrikaanse boere as die Engelse winkeliers, te lok. Hy was ook versigtig om die NG Kerk - wat sterk ten gunste van die Britse Ryk was en geen Afrikaans in die kerk of skole wou hê nie - nie aanstoot te gee nie.

Hofmeyr was sekerlik bekommerd oor die kwynende kutuur en taal van die koloniale Afrikaners en het groter erkenning vir Hollands as amptelike taal verkry - hy wou dit egter nie 'n twispunt maak nie. Hy wou niks doen wat kon lyk of die Kaapse Afrikaners nie getrou is aan die Britse Ryk nie. Hofmeyr het die ryk nie opgehemel nie, maar geglo Brittanje se vloot nodig is om die Kaapkolonie te beskerm in 'n era van wedywering tussen die groot moondhede.

y het ook probeer om steun onder bruin en swart kiesers te werf. Die Kaapkolonie het 'n nie-rassige grondwet gehad, terwyl daar in die Oos-Kaap talle swart kiesers was en in die gebied van die huidige Wes-Kaap baie bruin stemgeregtigdes. Die Afrikanerbond het hard probeer om hierdie stemme in verkiesings te trek, maar soos die ander partye was dié party nie gretig om bruin en swart mense as partylede te hê nie. In verkiesingstyd is die feit dat Afrikaners vroeër op veel groter skaal as Engelssprekendes slawebesitters was, teen die Afrikanerbond gebruik. Sommige kandidate het die bruin kiesers selfs gewaarsku dat die bond slawerney weer wou instel, wat onwaar was.

Diiiiiiie Vrystaat as modelrepubliek

In die Republiek van die Oranje-Vrystaat het Britse inmenging in sake noord van die Oranjerivier gevoelens van anti-imperialisme gekweek wat uiteindelik in 'n vorm van nasionalisme oorgegaan het. In 1868 het Brittanje Basotholand geannekseer en drie jaar later die ryk diamantvelde. Nadat diamante in 1867 ontdek is, het 'n Britse arbiter die aansprake van die Griekwas en die Tlhaping bo dié van die Vrystaat en Transvaal aanvaar.

Die Vrystaat het die wyse waarop die Britte die diamantvelde gegryp het, as 'n groot onreg beskou. Jan Brand, Vrystaatse president van 1864 tot 1888, het die kwessie met diplomasie gehanteer. Hy het daarin geslaag om die Britse regering te oorreed om £90 000 as kompensasie aan die Republiek van die Oranje-Vrystaat te betaal. Hy het die kompensasie vir die diamantvelde goed bestee deur 'n staatsbank op te rig, wat die republiek finansieel onafhankliker gemaak het. Brand het klem gelê op 'n sterk regstelsel om handel en beleggings te lok en het ook opgetree teen korrupsie.

Die diamantevelde het egter steeds voordele vir die Vrystaat ingehou. In Kimberley, wat net anderkant die Vrystaatse grens was, het 'n groot mark vir die produkte van Vrystaatse boere en handelaars ontstaan wat vir 'n ekonomiese inspuiting gesorg het. Wol is ook uitgevoer, maar op klein skaal.

Die klein staatjie  het immigrante met goeie kwalifikasies graag in diens geneem. 'n Skot, dr. John Brebner, het die onderwysstelsel hervorm, en dr. C.L.F. Borclenhagen, 'n Duitser, het in 1877 redakteukr van De Express in Bloemfontein geword. As voorstander van republikeinse onafhanklikheid, het Borckenhagen groot invloed aan weerskante van die Vaalrivier uitgeoefen.

Dritse kulturele invloede het sterk gebly. Van die begin tot die laaste jare van die republiek was Bloemfontein hoofsaaklik 'n Engelse stad. Engels was die vernaamste taal in private skole in Bloemfontein en selfs ook in die plaasskole wat welgestelde boere begin het. In 1888 het 'n lid van die Volksraad verklaar dat die voorkeur wat aan Engels in die vernaamste staatskool, Grey Kollege, gegee is, "die kinders leer om hul eie taal te verag en te vergeet en hul nasie te minag".

Nietemin het 'n republikeinse gees toenemend onder die burgers ontwikkel, wat in skerp kontras met die "koloniale patriotisme" van die Laapse Afrikaners gestaan het. Volgens Jan Hofmeyr, die Kaapse leier, was daar in die Vrystaat 'n lewende gevoel dat "regering en gemeenskap een is", iets wat in die suide heeltemal afwesig of baie onseker was.

Teen 1890 is die Vrystaat beskou as die deel van Suid-Afrika wat die beste geaministreer is. James Bryce, 'n Britse k onstitusionele kenner, het dit as 'n modelrepubliek bestempel. Die landelilke aard, relatief homogene kieserskorps en die afwesigheid van groot konsentrasies rykdom het dié republiek stabiel gemaak. engelssprekendes en 'n paar Duitsers het die handel en professionele lewe in die dorpe oorheers. Die staat het immigrante verwelkom en sy republikanisme gepaar met 'n nasieskap wat alle wit mense ingesluit het.

Marhinus Theunis Steyn (1857-1916) was die eerste Vrystaatse president wat in die republiek gebore is. Sy pa se plaas was net buite Bloemfontein en hy kon van vroeg af saam met sy ouers met die hoofsaaklik engelssprekende etile in die hoofstad omgaan - die Brands, Fichardts, Fischers en Frasers. Steyn het met Tibbie Fraser getrou en in Engels met h aar gekorrespondeer.

In Nederland, waar hy in die regte wouo studeer, was sy Hollands so sleg dat  hy in Londen gaan studeer het. In 1889 het Steyn 'n regter in Bloemfontein geword en in 1896 president van die Vrystaat. Hy is juis verkies vanweë die Vrystaatse Afrikaners se morele steun aan die ZAR ná die Jameson-inval. Hy was bekend om sy moed, sjarme, sterk karakter en gesonde oordeel. Hy word soms as die eerste moderne Afrikaner bestempel. Die soort politiek wat Steyn en ander Vrystaters voorgestaan het, het hy as volg beskryf: "'n Mens kan 'n goeie Afrikaner en opregte republikein wees ongeag die taal wat jy praat."

As republikein het Steyn noue bande met die ZAR nagestreef, maar kultureel het hy hom meer met die Kaapse Afrikaners vereenselwig. Steyn het die Vrystaatse republiek as 'n gemeenskap van vryheidsliewende boere probeer opbou. Hy het 'n meer regstreekse vorm van demokrasie deur die gebruik van referendums voorgestel en ook al hoe meer aandag gegee aan die kwessie van taal en kultuur, wat hy as uitings van Vrystaatse nasieskap beskou het. As die Hollandse taal kwyn, sou die nasie volg, het hy gesê. Hy het sy amptenary beveel om Hollands te gebruik in korrespondensie met Vrystaatse burgers en met die Natalse en die Kaapse regering. Mense wat vlot in Hollands was, het voorrang gekry by aanstellings in die staatsdiens. Sy regering het druk uitgeoefen op die skole, wat hoofsaaklik Engels as voertaal gebruik het, om Hollands in te voer.

Kaapse en Transvaalse Afrikaners

Die ontdekking van die ryk goudvelde aan die Witwatersrand in 1886 het die ZAR binne 'n dekade baie voorspoedig gemaak. Die Kaapse regering het min daarvan gehou dat die kolonie toenemend tweede viool teenoor die ZAR moes speel. Die Transvaal se planne om sy grense uit te brei, het ook gebots met Cecil John Rhodes se planne om die Britse vlag oor groot dele noord van die Kaapkolonie én Transvaal te laat wapper.

Hofmeyr het Rhodes gehelp om in 1890 eerste minister van die Kaapkolonie te word. Rhodes wou die Afrikanerbond se politieke steun gebruik om die nuwe gebiede te koloniseer. Dit het hom in konflik gebring met Paul Kruger en die Transvalers, wat gretig was om die republiek se grense uit te skuif om nog grondgebied vir hul boere oop te stel.

Nog 'n bron van konfluk tussen die ZAR en die Kaapkolonie was invoertariewe. Toe die Transvaalse republiek finansieel nog swaar getrek het, moes hy hoë tariewe aan die Kaapkolonie betaal vir goedere wat deur die Kaapse hawens ingevoer is. Alle klagtes hieroor by die Kaapse regering het op niks uitgeloop nie. Toe die ZAR welvarend geraak het ná die ontdekking van goud, het die republiek plaaslike nywerhede begin oprig. Hoë invoertariewe is dus gehef op produkte wat die Kaap na die Transvaal uitgevoer het. Die Kaap het sterk protes aangeteken, maar sonder sukss.

Hoewel Kruger eerstens Transvaalse belange nagestreef het, het hy ook die taal van 'n nasionalis gebruik. Hy het daarop aangedring dat Afrikaners oor die hele land die twee republieke teen Britse imperialisme ondersteun.

Die gevoel van poliltieke eensgesindheid onder Afrikaners in die noorde (Transvaal en die Vrystaat) en die suide (die Kaapkolonie) het egter vervaag omdat hul regerings hul eie rigting ingeslaan en hul onderskeie lande se belange eerste gestel het. In 1887 het 'n komitee van die Afrikanerbond 'n brief aan Kruger geskryf wat lui: "Ons moet met leedwese erken dat daar 'n verkoeling te bespeur is van die warm gevoel van gehegtheid aan die saak van die Transvaalse broers. Ons vrees dat - tensy sake 'n ander loop neem - dit weldra onmoontlik sal wees om weer soveel simpatie as destyds (tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog in 1880-1881) in die Kaapkolonie te kry."

Vir Kaapse Afrikaners wat hulle in Transvaal gaan vestig het, het dit gou duidelik geword dat daar 'n groot verskil tussen die "kolonie" en die "republiek" is. Die twee republieke het 'n veel groter plek aan hul burgers se taal en kultuur gegee as die Kaapkolonie. M.E. Rothmann, wat in die volgende eeu as die skrywer M.E.R. bekend sou raak, het oor haar skooldae op Swellendam so geskryf: "Van kleins af het duisend drukkinge dit op my ingestempel dat wat Engels is, goed is en wat Afrikaans is, minder goed."

M.E.R. skryf in die inleiding tot Oorlogsdagboek as volg oor dr. william Robertson, NG-predikant op Swellendam in die 1880's en 1890's: "Hy het dit sy plig beskou om die Engelse taal en instellings by ons af te dwing. Die staat was tog, so het sulke afdwingers geredeneer, onder Engeland se beheer en om die Engelse taal en instellilngs te bevestig, was die beste manier om eensgesindheid en krag aan te kweek. Wat is dan die skade? Hulle het dit nooit kon dink nie. Inteendeel.

Die antwoord op h ierdie vraag i s eenvoudig dit - dat om die Engelse stempel blywend te maak, die Afrikaners daarvan oortuig moet word dat hul instellilngs, hul taal en hul lewensbeskouing verkeerd was en vervang moet word deur dit wat beter was...Die poging het 'n eweige en uiters skadelike gemoedsverwarring geskep. Dit doen 'n kind groot kwaad om te voel dat sy pa en ma se taal, en hul manier van lewe, as minderwaardig beskou moet word wanneer dit slegs verskillend is van dietaal en lewensbeskouing van diegene wat aan hom onderwys gee."

Dit is in verset teen hierdie boodskap van Engelse meerderwaardigheid dat baie Afrikaners toenemend nasionalilsties geword het. Toe Rothmann in die 1890's in Transvaal gaan werk het, het sy bevind dat haar eie taal nie opsy gestoot en verag word nie, maar oral in die volksraad, howe, skole en staatsdiens gebruik word. Sy het geskryf: "In plaas daarvan om die geskiedenis van die eie volk as 'n belaglike en veragtelike flentertjie in 'n Engelse skoolboek teë te kom, is dit as eervolle besitting bestudeer."

"'n Elektriese skok na die nasionale hart"

Brittanje kon nie daarin berus dat die ZAR die rykste  goudvelde ter wêreld beheer het in 'n tyd toe goud die lewensaar van die internasionale ekonomie was nie. Die bekende skrywer George Bernard Shaw het dié sentiment verwoord toe hy verwys het na 'n "klein gemeenskappie grensboere wat totaal onbevoeg is om die minerale rykdomme van Suid-Afrika te beheer".

Die Britse regering het gemeen dat die ZAR se versterkte ekonomiese posisie 'n al hoe groter bedreiging vir Brittanje inhou. Joseph Chamberlain, Britse koloniale sekretaris, het geglo as Brittanje nie ingryp nie, sou dit sy internasionale aansien ondermyn. "(We), and not the Dutch, are Boss (in South Africa)," het lord Salisbury, die Britse eerste minister, dit opgesom.

Britse imperialiste soos Chamberlain en Rhodes het dus maniere gesoek om beheer oor die goudvelde te kry. Met die medewete en steun van dié twee mans, het dr. Leander Starr Jameson Transvaal aan die einde van Desember 1895 met 'n klein mag binnegeval. Die doel was om 'n opstand uit te lok onder die sg. Uitlanders (buitelanders sonder stemreg of burgerskap wat in Transvaal gewerk het) en met hul hulp die ZAR-regering omver te werp. Dit het klaaglik misluk.

Die Jameson-inval het vir 'n opwelling van Afrikanernasionalisme regoor die land gesorg. In Kaapstad het F.S. Malan, jong redakteur van die blad Ons Land, so geskryf: "Die dolksteek waarmee probeer is om die Afrikanerdom vir goed in die republieke te verlam, het 'n elektriese skok na die nasionale hart gestuur. Die Afrikanerdom het ontwaak met 'n erns en bewustheid...Deur die hele Suid-Afrika het 'n nuwe gevoel golwend gegaan."

Die inval het die samewerking tussen Rhodes en Hofmeyr se Afrikanerbond beëindig. Dié breuk is vergroot toe rhiodes die Afrikanerbond in die verkiesing van 1898 met hand en tand beveg het. Die Kaapse Afrikaners was egter nie besonder gretig om die Afrikaners in Transvaal op konkrete wyses te help nie. Baie van hulle het 'n m eerderwaardige houding teenoor die twee Boererepublieke ingeneem. Hulle was wel heeltemal bereid om die noordelike Afrikaners raad te gee, al was dit ongevraag. Min van hulle het Kruger as 'n bedrewe poliltikus beskou.

Die Kaapse Afrikaners was hoofsaaklik koloniale burgers van die Britse Ryk. Hulle wou hê dat Transvaal sy tariefmure afbreek en die republieke en kolonies in een staat onder die Britse vlag verenig word. Republikeinse onafhanklikheid, waaraan Kruger soveel waarde geheg het, was nie vir die leiers van die Afrikanerbond belangrik nie en ook nie die strewe om alle Afrikaners oor die land heen in een party te verenig nie. Tog het Hofmeyr aan die Britse eerste minister geskryf dat suidelike en noordelike Afrikaners aan mekaar verbonde voel deur al die bande van gemeenskaplike afkoms, taal en godsdiens. Hulle het ondertrou en was vriende. "Their wrongs are our wrongs and services rendered to them are services rendered to us."

Alfred Milner, wat in Mei 1897 in Kaapstad aangekom het om die pos van Britse goewerneur en Hoë Kommissaris te vul, het sake op die spits gedryf. Hy het geglo as die ZAR nie spoedig 'n nederlaag toegedien word oor die kwessie van stemreg aan die Uitlandsers nie, die Britse gesag en aansien in Suid-Afrika vinnig sou kwyn. Om druk op Londen toe te pas, het Milner die kweesie van stemreg vir Uitlanders en ander griewe al hoe groter opgeblaas. Hy het die steun van sekere mynmagnate gekry omdat hulle ongeduldig geword het oor die ZAR se beleid of administratiewe onvermoë wat hul produksie gestrem het. Milner het aan die Britse regering in Londen 'n prentjie geskilder van 'n verraderlike Afrikaanse gemeenskap in die Kaapkolonie wat gereed sou wees om Kruger te help deur die Britse gesag te ondermyn.

Die Afrikanerleiers het hul bes gedoen om Milner te oortuig dat daar onder hulle of hul volgelinge geen landwye sameswering teen Britse belange is nie. Volgens J.T. Molteno, seun van 'n vorige eerste minister van die Kaapkolonie, het Milner die Afrikaners dikwels beledig en hul lojaliteit bevraagteken. Toe die Graaff-Reinetse tak van die Afrikanerbond in 1898 'n skriftelike verklaring van lojaliteit aan hom oorhandig, was sy antwoord: "Of course you are lohal. It would be monstrous if you were not." As hulle vrede verlang, het Milner voorts gesê, moet hulle druk op Kruger plaas vir hervorming en kant kies. Oor hierdie uitlatings het die Engelse pers in Suid-Afrika hom luid toegejuig, het hy aan Chamberlain geskryf.

Brittanje sou versigtig gewees het vir oorlog as die moontlikheid van 'n massa-opstand deur Kaapse Afrikaners bestaan het, maar die Kapenaars was vasgevang in veelvuldige identiteite. As koloniale patriotte was hulle lojaal teenoor die kroon en hul eie kolonie. As hulle 'n voorkeur vir republikanisme gehad het, was dit net 'n ideaal vir die verre toekkoms. Hulle het ook geglo dat die Kaapkolonie die basis moet wees van 'n toekomstige wit nasie onder die Britse vlag.

Milner het gou besef dat die leiers van die Kaapse Afrikaners tot elke prys 'n oorlog wou voorkom en dat hulle daarom hul bes sou doen om Kruger tot die nodige toegewings oor te haal. Die relatief swak gevoelens van Afrikanernasionalisme onder Kaapse Afrikaners het dit vir Milner makliker gemaak om oorlog teen die Boererepublieke te verklaar.

Hermann Giliomee

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius (Redakteur)

ISBN 978-0624-05466-5