Gladys Groothart

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

"Wat skuil agter daardie groot bruin oë, Gladys?" het Mammie gevra toe sy ongemerk langs haar dogtertjie kom staan het.

"Ek dink," het Gladsy gesê.

"Jy dink gedurig," het Mammie gesê.

"Dink ek?" het sy gesê en toe was sy weer in droomland.

Gladsy het baie graag in die agterplaas op 'n stomp, of op die gras, gaan sit en planne maak oor allerhande mooi dinge; of sy het probeer om die miere te tel, of sy het op haar rug gelê en kyk hoe die wolke verby dryf. Dan het sy weer ingekom en sonskyn en geluk saam met haar gebring. Sy het vreeslik baie daarvan gehou om blomme vir die tafel te pluk, om werkies vir haar Mammie te doen en om Pappie se pantoffels vir hom gereed te hê wanneer hy van die werk af kom. Dit is daarom dat hulle haar Gladys Groothart genoem het.

"Wat skuil daar agter die wolke, Mammie?" het sy na 'n rukkie gevra.

"Die groot blou lug," het Mammie gesê.

"En wat is agter die groot blou lug?"

"Die sterre."

"En wat is agter die sterre, Mammie?"

"Nog meer sterre," het Mammie gesê.

"En wat is agter daardie meer sterre?"

"Die plek waar God woon."

"Dan moet Hy vreeslik ver wees!"

"Vir ons lyk dit baie ver, maar dit is nie vir Hom ver nie," het Mammie gesê. "Hy kan baie vinnig reis, sien jy. Hy kan die hele pad uit die hemel kom na ons toe in minder as 'n sekonde."

"Maar wat van die sterre in die pad?"

"O, maar Hy ken die pad hierheen."

"Dink Mammie dat Hy tyd het om oor ons te dink?"

"Ek is seker Hy het. En Hy het ons baie lief en Hy wil  hê dat ons so goed en vriendelik soos Hy moet wees."

"En het Hy al die kindertjies in die wêreld lief?"

"Ja, Hy het almal ewe lief. Sien jy, ons behoort almal aan Hom en vir Hom is ons soos een groot huisgesin."

"Maar dan het ek 'n vreeslike klomp broers en susters!"

"Ja," het Mammie gesê, "honderde en duisende van hulle. En God wil hê dat ons hulle net so lief moet hê as Hy en dat ons vriendelik teenoor hulle moet wees, veral vir die armes en siekes en diegene wat nie vir hulleself kan sorg nie."
Gladys het vir 'n hele ruk gesit en dink.

"Peggy is siek," het sy gesê en die lang stilte verbreek. "Mag ek vir haar my tekenboek vanmiddag neem? En ook die kwassie?"

"As jy wil," het Mammie gesê. "Ek is seker dat Jesus daaroor baie bly sal wees."

"Dink Mammie dat Hy daarvan sal weet?"

"O ja," het Mammie gesê. "Dit sal wees nes of jy die goed in Sy eie hande gee, want Hy het self lank gelede gesê 'Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen'."

"Ek dink ek sal ook vir haar daardie mooi speldekussing neem wat Mammie vir my gemaak het. Ek is seker dat Peggy ook daarmee sal wil speel."

So het hulle dan gereël om Peggy te besoek. Nadat hulle by Peggy was, het hulle ander siekes en armes besoek en hulle harte blygemaak en op daardie manier het hulle vriende gemaak met die kinders van die God wat die lug gemaak het.

En wanneer Jesus deur die sterre terugkom om Sy kinders te kom haal na die hemelse tuiste, dan sal Hy alteseker ook vir Gladys Groothart met Hom saam terugneem, dink julle nie so nie?