Gevind in die Vlei

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Prins was 'n swartbont brak, en hy het behoort aan Philip wat hom baie liefgehad het.  Hulle het op 'n plaas gewoon, naby 'n rivier. In die omgewing van die huis was groen bosse en lande, maar nader aan die river was die gront vleiagtig en modderig, en met riete begroei. 

Toe Philip een oggend weer sy hond gaan kos gee, was Prins nie by sy hok waarin hy hom saans toegemaak het nie. 

"Maar dis snaaks," het Philip gedink. "Ek het hom gisteraand hier toegemaak, hoe sou hy uitgekom het?"

Toe het Philip gemerk dat een van die planke van die hok los was, en 'n gaping gemaak het net groot genoeg vir Prins om deur te kruip.  "Die stouter!" het Philip gesê. "Hy het seker aleen gaan hase jag, wag net tot ek hom kry!" Maar Philip het hom nie gekry nie. "Prins Prins!" het hy geroep daar op die werf rond, maar daar was geen Prins nie. 

"Dis baie snaaks" het Philip gedink. "Die hond het dit nog nooit voorheen gedoen nie. Waar sou hy kan wees? Hy sal seker maar gedurende die dag terugkom."

Philip moes daardie dag swaar werk om sy Pappie te help, en hy het nie tyd gekry om veel oor Prins te dink nie, maar toe die hond daardie aand nog nie by die huis was nie, het Philip begin onrustig word. "Hoe dink Pappie wat kon gebeur het?" het Philip gevra. 

"Ek weet nie," het Pappie geantwoord. "Moontlik het hy met 'n ander hond geveg en is hy beseer." Dit het Philip nog onrustiger gemaak. 

"Het hy nie miskien verdwaal nie?" het hy sy Pappie weer gevra. "Nee, Philip, hy het nie verdwaal nie. Al sou 'n mens 'n hond ook twintig myl hiervandaan wegneem, sal hy weer sy pad terugvind."

"Miskien is hy gesteel, Pappie." 

"Nee, ek glo nie hy is gesteel nie. Daar mag diewe in die omtrek wees, maar ek glo nie dat Prins hom maklik sal laat steel nie."

Toe daar nog 'n dag verby gegaan het sonder enige teken van Prins, was Philip regtig hartseer. Hy het aan die Here gedink en baie hard gebid dat Jesus hom moet help om Prins weer te vind. Pappie, wat nie 'n baie goeie Christen was nie, het gelag oor Philip se biddery. Hy het gesê dat hy nog nooit gehoor het dat honde op daardie manier gevind is nie. Maar Philip en Mammie het gesê dat alhoewel dit dwaas mag lyk, gaan hulle tog bid, want Jesus weet waar die hond is en Hy kan hom weer terugbring. 

Hulle het dus aangehou om vir Prins terugkoms te bid. Maar die ure het verbygegaan en dit het al moeiliker geword om te glo dat hulle gebede verhoor sou word. Terwyl Philip een aand in sy bed gelê het - dit was die derde aand nadat Prins verdwyn het - het hy terwyl hy gelê en bid het, 'n gehuil gehoor wat hom yskoud laat word het; dit was nie 'n geblaf nie; maar 'n getjank soos van 'n dier wat vreeslik benoud was. 

Philip het regop gesit in die bed, en toe hoor hy dit weer; daar het 'n rilling deur sy liggaam gegaan asof iemand hom met spelde en naalde steek. Toe hy die geluid vir die derde maal hoor, het hy uit die bed gespring en na sy Pappie se kamer gehardloop waar hy hard aan die deur geklop het. 

"Wat is dit?" het iemand slaperig gevra. 

"Het Pappie daardie geluid gehoor?" het Philip opgewonde gevra. "Ek dink dis Prins."

"Watter geluid?" het Pappie gevra, en y was glad nie daarmee gediend om so in die middel van die nag wakker gemaak te word nie. 

"Luister," het Philip gesê; "ek is seker dis Prins!"
En daar was die benoude getjank weer, op die koel nagwindjie gedra. 

Dadelik het Pappie uit die bed gespring, gevolg deur Mammie. "Daardie geluid het van die vlei gekom, ek is seker," het Pappie gesê.  "Ons moet dadelik gaan kyk; trek gou aan, en steek die lantern op."

Philip het nog nooit in sy lewe so gou aangetrek nie, en toe Pappie weer sien, was hy daar met die lantern. Toe is hy en Pappie en Mammie met die paadjie na die rivier en die vlei. "Ons sal baie versigtig moet loop," het Pappie gesê: "die modder is baie sag en gevaarlik. Baie dier het al in daardie pap modder gesak. Loop baie versigtig, en bly in die paadjie."

Dit was alles baie spookagtig om in die donker net net die lig van 'n lantern te stap; daar het 'n koue windjie gewaai, en kort-kort het hulle die aaklike getjank gehoor. Namate hulle nader gekom het, het die geluid al duideliker en harder geword. Wat sou hulle vind? Eindelik het Pappie gesê dat hulle moes staan. "Ons is amper daar, meen ek," het hy gesê: "Maar ons durf nie verder loop nie, want dit is te gevaarlik. Laat ons hier staan en luister."

Hulle het vir 'n rukkie doodstil gestaan. En toe skielik, sommer naby hulle, het hulle weer die geluid gehoor. Mammie en Philip het gewip soos hulle skrik. Hulle was baie bang. "Kyk daar!" het Pappie uitgeroep.

Hulle het gekyk, en daar het hulle Prins se kop nog bokant die modder sien uitsteek, en dit was duidelik dat hy besig was om stadig weg te sink. Hy het flou pogings gemaak om uit te kom, daar dit was verniet. "My arme Prins!" het Philip geskree, terwyl hy vorentoe beweeg. 

Pappie het hom gegryp, en geskree, "Staan waar jy is. Moenie 'n tree vorentoe gaan nie, of jy sal ook begin wegsink. Ons sal planke of 'n leer moet gaan haal."

"Laat ons tog gou maak!" het Philip gesê: "of my hond sal heeltemal wegsink."

Binne 'n paar minute was hulle terug met palnke, en sommer gou het hulle vir Prins uitgetrek - hy was die ene modder en slym, en half dood van honger en uitputting waar hy daar langs hulle op die vaste gond gelê het. 

Philip het sy modderige kop gestreel, en terwyl hy dit doen, het hy die Here in sy hart gedank en gesê: "Dankie, liewe Here omdat U ons gebede verhoor en Prins weer aan my teruggegee het."