Getrou tot die Dood toe

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Toe Edith tuis kom van die skool af, het Mammie dadelik gesien dat daar iets verkeerd was. "Wat makeer?' het sy gevra, 'dit lyk of jy die hele wêreld op  jou rug dra."

 "O," het Edith uitgeroep, "ek is al so moeg van hulle ewige geterg, dag vir dag. Dit hou nooit op nie."

"Wat sê hulle dan vir jou?" het Mammie gevra. "Jy moenie omgee as hulle jou so ' n bietjie terg nie. alle dogtertjies word maar by die skool die een of ander tyd geterg."

"Maar Mammie, dis nie sommer gewone tergery nie, hulle noem my gedrug name en dit net omdat ek die Sabbat hou. Waarom kan hulle my nie laat staan nie?"

Mammie het toe gaan sit en Edith op haar skoot geneem. "Laat ek jou 'n storie vertel, dan sal jy baie beter voel daaroor. Dit is omtrent drie jong seuns wat uit hulle eie land na 'n vreemde land geneem is om by mense te woon wat nie dieselfde geloof gehad het as hulle nie. Dit was baie swaar vir hulle. Hulle wou graag getrou wees aan God en Sy wette, maar die mense waar hulle nou was, was almal heidene en afgodedienaars. As hulle durf van hulle godsdiens praat, het die mense vir hulle gelag. Omdat hulle wou goed wees, het die mense alles gedoen om die lewe vir hulle moeilik te maak.

"En toe eendag moes hulle 'n baie swaar toets deurmaak. Die koning van daardie land het besluit om 'n groot beeld te maak van pure goud. Hy was baie trots daarop en alle mense in sy hele koninkryk is beveel om voor die beeld neer te buig. Dit is om hierdie rede dat hy 'n wet uitgevaardig het dat al die mense op 'n sekere dag op 'n groot vlakte rondom die beeld moes vergader en op 'n gegewe teken voor die beeld op hulle aangesigte moes val. Om te verseker dat almal hom sou gehoorsaam, het die koning gesê dat diegene wat dit nie doen nie, in 'n brandende vuuroond gegooi sou word.

"Die drie seuns het besef dat hulle voor die grootste toets van hul lewe gestaan het. Hulle kon dit nie ontduik nie, want almal moes op die vlakte verskyn - nie 'n enkele siel sou in die stad kon agterbly nie. So het hulle hul dan onder 'n groot menseskaar voor die goue beeld bevind. Hoe moes hulle harte geklop het terwyl hulle op die teken gewag het! Mense  wat hulle geken het, het vir mekaar gefluister en gewonder wat hulle sou doen.

"Eindelik het die orkes van die koning begin speel. Daar is 'n magtige kreet aangehef en tienduisende mense het op die grond neergeval. Op daardie groot vlakte het net drie persone regop bly staan. Hulle kon nie meer in die oog lopend gewees het nie. Uit die hoekies van hul oë het die mense na hulle geloer. Die nuus het vinnig onder die skare versprei: 'Die drie Hebreeuse seuns het geweier om neer te buig voor die koning se beeld.' Die spanning was verskriklik!

"Daar was seker 'n baie groot beroering onder die skare. Almal het geweet wat die straf sou wees en hulle het gewag om te sien wat die koning sou doen. Al die tyd het die seuns daar gestaan en met bleek gesigte het hulle hul lot afgewag.

"Die koning het hulle laat roep. Hy was vreeslik kwaad. Hy wou weet wat hulle daarmee bedoel om hom ongehoorsaam te wees en hy het hulle gedreig met die vuuroond.

"Met respek, maar baie vasberade, het die seuns geantwoord: 'As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos - maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.'
"Dit het die koning nog woedender gemaak en hy het sy soldate beveel om die oond nog sewemaal warmer te maak as gewoonlik. Toe is die drie seuns vasgebind en daarin gegooi. Dit moes 'n vreeslike oomblik vir hulle gewees het. Maar hulle het nie gewankel nie - selfs nie toe hulle die hitte van die vuur begin voel nie.

"Toe het daar 'n wonderlike ding gebeur. Die vuur het die toue afgebrand waarmee hulle gebind was, maar hulle is ongeskonde gelaat. Skielik het Jesus self daar by hulle verskyn en Hy het saam met hulle daar in die vuur rondgestap. Die koning het die vier mense daar gesien en hy het baie bang geword. Hy het die seuns geroep om uit die vuur te kom en oorwinnend het hulle uitgekom. Ons lees dat die hare van  hulle hoof nie geskroei het nie en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.

"Die hele skare van mense het die wonderwerk gesien en dit moes 'n baie diep indruk op hulle gemaak het. En - wat die koning betref - wel, hy het erken dat die God van die drie seuns groter was as die beeld wat hy gemaak het. Hy het gesê dat 'daar geen ander God is wat so kan verlos nie'. Omdat daardie drie seuns getrou gebly en selfs gewillig was om te sterf vir hulle geloof, is daardie hele nasie geseën en die koning het die dwaasheid van sy daad besef."

"Ek dink ek kan sien wat Mamma bedoel," het Edith gesê en sy was nou nie meer so hartseer nie.

"Ek weet dat jy nou verstaan, Edith. Jy is een van Gods getuies vir Sy waarheid daar by julle skool. Jy is miskien die enigste een daar. Jy moet ten alle koste aan Hom getrou wees. Jy weet dat die Sabbat reg is en dat God ons in Sy woord beveel om die sewende dag te heilig. Ander mag jou daaroor terg, maar dit maak nie saak nie - dit laat dit maar net duidelik uitkom dat jy God se klein getuie daar is."