Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne
Met beter wapens en toerusting as sy slagoffers, maar ook met merkwaardige militêre vernuf, voer Jonker Afrikaner jare lank uit Windhoek 'n skrikbewind waarin hy alles voor hom platvee.
Nog selde het Suidwes in sy geskiedenis 'n man van sulke teenstrydighede opgelewer as Jonker Afrikaner. Hy kon geweldig wreed en slu wees, sonder enige mededoë vir die mense wat hy verslaaf of vermoor het.
Maar terselfdertyd kon hy ook, sonder enige aanwysbare rede, omswaai en genade betoon. Hy was dapper en vreesloos, intelligent en vlug van begrip. Dog vir duisende mense was sy naam sinoniem met moord, geweld en bedrog. Tot vandag toe bly Jonker Afrikaner 'n persoon waaraan mense met vrees en bewing dink.
Jan Jonker Afrikaner (1798-1861) was die jongste seun van Jager Afrikaner (minder gewoon: Afrikaander), 'n onderkaptein van die Karichuriquastam wat naby Saldanhabaai in Kaapstad gewoon het. Hierdie stam, ook bekend as die Gregriequas (en later die Griekwas), was geensins 'n suiwer Nama- of Hottentotstam nie. Baie van hul voorouers was blankes of basters en hulle het hulself "Oorlams" genoem. Dié woord is ontleen aan die Maleis orang lama, wat "ou man" beteken, maar eintlik slim man" impliseer. Vanweë hul blanke bloed het die Oorlams hulle bokant die ander Namas geag.
Dadelik het 'n ernstige twis ontstaan oor wie Jager se opvolger sou wees. Volgens die ou Nama-reg het die oudste seun sy vader opgevolg. Jonker Afrikaner het egter volgehou dat sy vader hom as opvolger benoem het. Die uiteinde van die stamtwis was dat Jonker sy volgelinge die hoofstam verlaat en hulle dieper in die huidige Suidwes-Afrika gevestig het.
Jonker soek nou vir hom en sy stam 'n gerieflike woonplek uit in die gebied van die Rooinasie en laat haal die Afrikaner-stam se vroue en kinders en orige besittings van die Gariep. Nadat die Afrikaners gevestig was, van Jonker Afrikaner die herero twee maal aan - een keer suid van Rehoboth en die tweede keer noord daarvan. In hierdie twee bloedige gevegte dryf hy die Herero terug tot in die huidige Windhoek, sodat die droë loop van die Kuiseb-rivier soos van oudsher weer eens die skeiding tussen die Herero en Nama word.
Oasib, die aangewese regeerder van die Rooinasie, het intussen mondig geword en die regentes Games het 'n raadsvergadering belê waarby Oasib tot hoofman verklaar is. Daarna het sy haar amp as regentes neergelê en beveel dat 'n inhuldigingsfees moet plaasvind.
Dit was 'n fees soos Hoachannas nog nie vantevore gesien het nie. Daar was spys en drank in oorvloed en die kapteins en raadsmanne van die Oorlams- en Nama-stamme in Suidwes is uitgenooi. Vanselfsprekend was Jonker Afrikaner en sy "Grootmanne" ook daar. Maar Jonker, lief soos hy was vir Kaapse brandwyn, het nie saam fees gevier nie. Tydens sy vorige twee aanslae op die Herero is 'n groot deel van sy kruit en lood weggeskiet. Hy het vir Oasib oorreed om die tekort aan te vul. Dit is dan ook gedoen en in 1839 maak Jonker sy vegters gereed om Windhoek aan te val.
Vroeg die volgende jaar (1840) trek Jonker Afrikaner met 400 man op teen die magtige Herero-nasie. Sy stryders was almal met gewere gewapen en meer as die helfte was berede. Al die Herero-veeposte suid van Windhoek is uitgewis en die buit na Hoachannas aangeja. Toe gaan Jonker oor die Auas-berge en val Kavarikotjiuru, die Herero-kaptein in Ai-Gams (Windhoek) aan. Laasgenoemde versoek per ylbode sy neef, Tjamuaha, die Herero-hoofman op Okahandja, om te kom help. Maar die verlangde hulp daag nie op nie en Jonker loop die herero-vesting in Windhoek plat en verjaag die Herero-krygsmanne wat nie gewond was of gesneuwel het nie.
Blitsvinnig ruk Jonker op teen Okahandja, maar toe hy daar opdaag, het al die Herero-soldate die omliggende berge ingevlug. Hierna val Jonker en sy vegters twee belangrike Herero-kapteins, Mungunda en Kahitjene, aan en dien elk 'n gevoelige slag toe.
Die Herero was groot in getalle en hulle was dapper vegters. Maar Jonker Afrikaner se veldtog het hulle deeglik geleer dat dapperheid alleen nie gevegte wen nie. Die spies, pyl, strydbyl en kierie van die Herero was nie opgewasse teen die gewere van die Afrikaners nie en die voetvolk en ry-osse van die Herero was te stadig en lomp vir Jonker se ruitery.
Jonker het ambisieuse planne gehad en sy doel was om mettertyd die hele Suidwes-Afrika te oorheers. Vir hierdie rede - en omdat die Auas-berge uitstekende skuiling gebied het - het Jonker Windhoek as blyplek gekies. Dit was strategies geleë in die middel van die land, tussen die Nama en die Herero. Hiervandaan sou hy albei kon onderwerp.
Tjamuaha was nie die grootste van die Herero-hoofmanne nie, maar volgens tradisie was hy die versorger van die heilige Herero-stamvuur waarmee groot aansien gepaard gegaan het. Hy het ook vier seuns gehad wat energiek, intelligent en dapper soldate was. Hulle het hul vader se naam groot gemaak in Hereroland. Een van hulle was Maharero.
Maar Jonker het nie gerus nie. Nadat die laaste groot- en kleinveetroppe, waens, vrouens en kinders van die Afrikanerstam in Klein-Windhoek aangekom het, het hy talle kliphuise, skanse en krale laat bou. En toe het hy weer die klein Herero-stamme tussen Windhoek en Okahandja aangeval, geplunder en beroof. Tjamuaha het periodiek bodes na Jonker gestuur met die versoek om sy aanvalle te staak, maar dit het geen uitwerking op die hoofman van die Afrikanerstam gehad nie.
Noodgedwonge het die Herero gepoog om vuurwapens en ryperde aan te skaf, maar dit was 'n stadige proses en vir twee jaar was geen Herero-veepos veilig teen Jonker se buiters nie. Teenaanvalle is wel deur die Herero gemaak, maar sonder veel welslae. Hul primitiewe metode van oorlogvoering het nie opgeweeg teen die taktiek van die Afrikanerstam nie.
In Oktober 1842 kom die sendelinge H. Kleinschmidt, H. Hahn en K. Bam van die Rynse Sendinggenootskap op Jonker se versoek in Windhoek aan. Bam het hom beywer vir vrede en het daartoe bygedra dat Tjamuaha vier gesante na Windhoek gestuur het. Jonker het met hulle onderhandel en later ooreengekom om Tjamuaha te ontmoet en 'n vriendskaps- en vredesverbond met die Herero-volk te sluit.
Bam het verdere reëlings getref en op kersaand 1842 kom Tjamuaha en die hoofman Kahitjene in Windhoek aan. Op Kersdag het Jonker eers 'n kerkdiens bygewoon en daarna in die huis van sendeling Hugo Hahn 'n vredesverdrag met Tjamuaha en Kahitjene gesluit.
Die Herero-hoofmanne het Jonker uitgenooi om Okahandja te besoek, maar hy het die uitnodiging van die hand gewys omdat hy die Herero gewantrou het. Om te verhoed dat die Herero beledig voel, het die sendeling Hahn belowe om as Jonker se verteenwoordiger na Okahandja te gaan. Middel Januarie 1843 is die Herero terug na Okahandja en kort daarna het Hahn hulle besoek. Jonker was erg ontevrede hieroor omdat hy gemeen het dat Hahn sy gesag ondermyn.
Die universele reël dat vrede voorspoed bring, het nie heeltemal in Jonker Afrikaner se geval gegeld nie. Nadat hy vrede met die Herero gesluit het, kon hy vanselfsprekend nie meer hul veeposte aanval en beroof nie. Hy het dus besluit om op 'n ander wyse van die Herero gebruik te maak. Deur slinkse onderhandelinge het hy Tjamuaha en Kahitjene oorreed om tesame met hul families en voormanne in Windhoek te kom woon en hul veetroppe saam te bring. Sy plan was om die seuns van die twee Herero-hoofmanne en hul voormanne op te lei in die gebruik van vuurwapens en moderne oorlogvoering. Hierdie jongmanne sou die elite van Jonker Afrikaner se strydmag vorm, as 'n persoonlike lyfwag dien en onder bevel vaan Maharero staan.
Tjamuaha en Kahitjene was vir hierdie plan te vinde, want as h ulle onder Jonker se beskerming was, sou geen vyand waag om hulle aan te val nie. Binne twee maande kom hulle in Windhoek aan met hul volgelinge en besittings. Tjamuaha vestig hom suid van Windhoek en omring sy hele stat met 'n stewige paalheining. Kahitjene en sy mense bou hul hutte en krale net noord van Windhoek. Soos beplan, is 'n afdeling jong Herero gevorm en opgelei om vuurwapens te hanteer en militêre bewegings uit te voer. Maharero was hul voorman, maar hy was ondergeskik aan Jonker Afrikaner.
Gedurende hierdie vredestyd het Jonker ook vele ander projekte onderneem. Hy het huise en 'n kerk laat bou, asook bykomende krale en skanse. Hy h et leivore laat maak en groot tuine aangelê. En om handelaars na Windhoek te lok om hom te voorsien van lewensbelangrike kruit, lood en ryperde, het hy 'n pad deur die Khommasberge na Walvisbaai laat aanlê. Dit was 'n geweldige taak en daar is meestal van slawe-arbeid gebruik gemaak. Maar die onderneming was uiters geslaagd en die pad, wat geskik was vir ossewaens, het die binneland van Suidwes dekades lank bedien.
Jonker het besluit om die Afrikanerstam te vergroot deur sy stamgenote in die suide na Windhoek te bring, maar omdat daar reeds soveel mense in en om Windhoek gewoon het en die skraal grond nie vir almal voldoende kos kon bied nie, moes hy ander weivelde en woonplekke soek. In 1843 bring hy 'n sterk kommando op die been en verken die land na die noorde en weste. Hy besoek die Waterberg asook die Erongoberge en die bron van Ameib. Hy is in sy skik met hierdie plekke waar water, weiveld, bome en wild volop was en vestig sy gesag daar. Hy keer terug na Windhoek en rig 'n skriftelike versoek aan Cupido, hoofman van die Witboois by Pella aan die suidower van die Oranje-rvier, om na Windhoek te kom.
Cupido Witbooi het die aanbod van die hand gewys en Jonker het dieselfde uitnodiging aan sy broers by Blydeverwacht en sy ooms by Warmbad in die suide gerig. Sy broers, Jonas, Valentyn en Adam het dadelik ingewillig en sy ooms David en Titus Afrikaner het verklaar dat hulle sou kom as hulle hul Wesleyaanse sendeling, Haddy, kon saambring. Jonker het geen beswaar gehad nie en die helfte van die Afrikanerstam wat in die suide gewoon het, het in Oktober 1844 na Windhoek opgetrek en hulle daar gevestig.
Die Afrikaners was nou sodanig versterk dat Jonker tevrede was. Maar sy uitgawes was groot. Engelse handelaars het Windhoek oorval en Jonker het vir hul ware betaal met die beeste wat hy as belasting van die Herero en ander stamme geëis het. Maar dit was nie voldoende nie en hy was verplig om sommige Nama- en Mbanderu-stamme in die ooste te beroof.
Teen Maharero, voorman van die Herero-korps, het Jonker ook opgetree omdat hy nie so gedienstig was soos Jonker verlang het nie. Dan het hy Maharero "Tjamuaha se kalf" genoem en as sy toorn ontbrand, het hy Maharero aan die wiel van 'n ossewa laat vasbind - dikwels vir drie dae en nagte lank. Tjamuaha het nie hiervan gehou nie, maar hy was magteloos.
Die Afrikanerstam het al hoe dieper in die skuld geraak by die Engelse handelaars. Jonker se persoonlike skuld by Morris het op 800 beeste en 500 stuks kleinvee te staan gekom en baie van sy stamlede was net so diep in die skuld. Die handelaars het aangedring op betaling, maar die Afrikaners se veestapel was erg uitgedun en hulle kon eenvoudig nie hul verpligtinge nakom nie.
Jonker Afrikaner het net een uitweg gesien. Hy moes weer op die oorlogspad gaan.
Oos van Windhoek het die Mbanderu gewoon. Hulle was 'n vertakking van die oorspronklike Herereo-volk wat uit die Kaokoveld gekom het, maar met ander heersers en lojaliteite. 'n Herero-hoofman, Katuneko, het die stat van 'n ryk Mbanderu aangeval en oorompel en duisend Mbanderu-beeste gebuit. Die Mbanderu het by Jonker kon kla en sy hulp gevra. Dit het uitmuntend in Jonkaer se kraam gepas en hy het sy broer, Kraai, beveel om dadelik 'n k ommando op die been te bring om teen Katuneko uit te trek.
In Maart 1846 vertrek Jonker en Adam Kraai met 300 Afrikaners, Maharero en sy korps en 200 Bergdama wat in Jonker se diens was. Hulle trek vyf dae in 'n noord-oostelike rigting, maar toe hulle Katuneko se stat bereik, was dit verlate. Hy het snuf in die neus gekry en met sy mense en vee diep in Hereroland ingevlug.
Jonker Afrikaner was woedend. Sonder buit kon hy nie na Windhoek terugkeer nie en h y het besluit om die stat van Kahena, 'n ryk Herero-hoofman naby Katuneko, aan te val. Die niksvermoedende Kahena het weinig weerstand gebied en die slag was kort en bloedig. Jonker het met 4 000 beeste na Windhoek teruggekeer, waar die Afrikanerstam hul skuld met die Engelse handelaars vereffen het en weer in staat was om lewensmiddele en luukses aan te koop benewens nuwe vuurwapens, kruit en lood en groot hoeveelhede brandewyn.
Maar Jonker het die vredesverdrag met die Herero-nasie verbreek en die sendelinge het hom ernstig betig. Hahn het aan hom geskryf en hom openlik beskuldig. Kleinschmidt het op 2 April 1846 spesiaal van Rehoboth na Windhoek gekom en Jonker gekonfronteer. Laasgenoemde het allerhande verskonings aangebied, maar toe hy in 'n hoek gedryf is, het hy verklaar: "Ek het besluit om kwaad te doen teen die Herero."
Toe Kahitjene van Jonker se verraad hoor, sweer hy wraak. Hy laat sy beste stryders en voormanne bymekaarkom en beraam sy planne sorgvuldig. Nuwe wapens word vervaardig en die strydmag uitgerus. Vroeg in 1849 val Kaahitjene Jonker met 700 van die beste Herero-soldate by Otjipuna (noord van Windhoek) aan. Jonker se spioene het hom egter betyds gewaarsku en hy was gereed vir Kahitjene. Die Herero-soldate het met ongekende dapperheid geveg, maar hul aanvalmetodes was verouderd en Kahitjene het nie die nuwe krygskuns verstaan nie. Bowenal het Jonker Afrikaner se vuurwapens en perde weer die deurslag gegee. Die primitiewe wapens van die Herero en hul ry-osse was eenvoudig nie doeltreffend nie. Meer as honderd van die beste Herero-soldate het gesneuwel en Kahitjene moes al sy ry- en pakosse prysgee. Alhoewel Jonker se seun, Christiaan, gewond is, het Kahitjene se broer, Kanja, in die geveg gesneuwel. Dit was 'n harde slag vir die Herero-hoofman.
Tjamuaha en sy mense en sy seun Maharero het steeds in Windhoek onder Jonker se beskerming gewoon. Hy was verbitterd omdat Jonker weer die Herero-volk aangeval en beroof het, maar hy was magteloos. Maharero en sy Herero-korps was niks minder as gevangenes en huursoldate van Jonker nie en die situasie was erg vernederend vir die trotse Herero-hoofman. Toe een van sy jonger seuns egter tydens 'n argument oor 'n bees deur Jonker se mense gedood word, besluit Tjamuaha dat hy genoeg gehad het.
Hy deel Jonker mee dat daar nie meer voldoende weiding vir sy vee by Windhoek is nie en dat hy voornemens is om na Okahandja terug te keer. Jonker het ingestem op voorwaarde dat Maharero en sy korps in Windhoek bly en Tjamuaha h et met sy mense en besittings na die noorde teruggetrek.
Ná sy nederlaag teen Jonker by Otjipuna moes Kahitjene plan maak om sy aansien onder die Herero-nasie te herwin. Hy trek met sy stam na Gross Barmen (Otjikango) en val daarna twee vooraanstaande Herero-voormanne, Hekununa en Mungunda, aan en beroof hulle van 'n groot hoeveelheid beeste. Kahitjene was weer gevestig as 'n Herero-leier en verskillende leierlose faksies het by hom aangesluit en hom aansienlik versterk.
Naby Otjikango het Kahitjene vir hom 'n nuwe stat en skanse gebou en sy stam van vooraf bewapen en gereed gemaak om die stryd teen Jonker voort te sit.
Ook Jonker het sy sake in orde gekry om die oorlog teen die Herero verder te voer. Uit die Kaap bestel hy 'n groot hoeveelheid ryperde wat teen die einde van 1849 in Windhoek aankom. Dan vertrek hy na Walvisbaai om wapens van die Engelse handelaars te koop. Maar vooor hy sy bestemming bereik, roep 'n ylboede hom na Windhoek terug. Die Mbanderu het een van sy grootste veeposte in die ooste aangeval, die wagters vermoor en al die vee gebuit. Maar Jonker het nie 'n strafekspedisie teen die Mbanderu uitgestuur nie. Hy wou nie te veel van sy manskappe aan Windhoek onttrek nie, want hy was onseker van Kahitjene se krag.
Toe Oasib en sy strydmag Windhoek bereik, het Jonker Afrikaner die grootste gedeelte van die slawe en gebuite vee opgeëis. Oasib was woedend, maar kon nie veel doen nie. Op Rehoboth sluit hy 'n verdrag met Willem Swartbooi, hoofman van die Swartbooi-stam, met die doel om Jonker gesamentlik aan te val. Maar Swartbooi het kop u itgetrek en daar het niks van die plan gekom nie.
Intussen het die Herero-hoofman, Kahitjene hom sodanig versterk dat hy dit gerade geag het om Barmen te verlaat en hom weer op Okahandja te vestig waar die weiding en water beter was. Strategies was Okahandja ook beter as Gross Barmen geleë om ' n aanval op Jonker van stapel te stuur.
In Windhoek het Jonker Afrikaner sy Herero-slawe en ook Maharero gruwelik mishandel. Hullle is selfs gefolter en Maharero is vir dae sonder kos of water aan die wawiel vasgebind. Eindelik het sy trotse Herero-gees gerebelleer. Gedurende die nag van 5 Augustus vlug hy en sy mense na Barmen met slegs die besittings en wapens wat hulle kan dra.
Jonker Afrikaner se toorn het hoog opgevlam. Hy het besluit om Windhoek van alle Herero te suiwer en diegene wat nie betyds gevlug het nie, is van kant gemaak. Die sendelinge het Jonker oor sy wreedhede veroordeel, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie. Kraai het weer opdrag gekry om 'n kommando gereed te maak om Kahitjene aan te val.
In die nag van Donderdag 22 Augustus 1850 ruk die kommando op en val Okahandja vroeg die volgende oggend aan. Alhoewel Kahitjene gewaarsku is en bevel gegee het dat sy statte by en om Okahandja ontruim moet word, was die slagting groot. toe die geveg te heweig word, vlug Kahitjene en twintig van sy soldate en soek skuiling in die sendingkerk, waaruit hy lat ontvlug het.
Toe begin 'n moord- en rooftog teen die Herero soos Suidwes nog nooit beleef het nie. Die vroue se hande en voete is afgekap om hul koperornamente te buit. Kinders is genadeloos doodgesteek en hutte is afgebrand. En toe daar niks meer van Kahitjene se statte en werwe oorbly nie, is die werwe van die onliggende Herero-hoofmanne aangeval. Slegs die stat van Tjamuaha is gespaar.
Hierdie genadelose veldtog is gevoer deur 'n betreklike klein kommando van 350 man met slegs 150 gewere en 40 perde. Maar die sterkste stamme van die Herero-nasie was bykans verdelg en Jonker Afrikaner was onbetwiste heerser van Suidwes-Afrika.
Terwyl hierdie plundery aan die gang was, kom die Engelse ontdekkingsreisiger en navorser Francis Galton in Walvisbaai aan. Hy was voorneme om Owambo in die noorde van Suidwes en die Ngami-meer in die huidige Botswana te besoek. Maar hy het ook 'n opdrag van die Kaapse regering ontvang om Jonker te betig en te waarsky oor sy wandade en 'n poging aan te wend om die vrede te herstel.
Jonker het geen ag geslaan op Galton se waarskuwings nie en het hom verbied om in die land rond te trek. Galton was egter van ander stoffasie as die Herero en met slegs 'n paar handlangers op ry-osse het hulle Windhoek binnegetrek. Galton het met sy ry-os tot op die drumpel van Jonker se huis gery en die Afrikaner-hoofman in Engels uitgeskel.
Jonker het nog respek gehad vir die Kaapse regering en die skrik wat Galton hom ingeboesem het, het 'n heilsame uitwerking gehad. Hy het belowe om in vrede te lewe, maar dit was 'n belofte wat hy slegs 'n jaar lank gestand sou doen.
Nadat Galton sy reis voortgesit het, het Jonker besluit om Windhoek te verlaat en hom permanent op Okahandja te vestig. Wie Okahandja beheer het, het ook die sleutel tot die noorde gehad. In 1851 trek Jonker na Okahandja en lê sy werf op die hoogste gedeelte van die dorp aan. Geweldige klipskanse is om sy stat opgerig en die terrein buite die mure is van struike en gras skoongemaak sodat moontlike vyande gou gewaar kon word. Om sy posisie te konsolideer, vestig Jonker sterk Afrikaner-garnisoene by Waterberg en Otjimbingwe. Kruit en lood word ingekoop en nog perde uit Kaapland bestel.
En slegs 'n week nadat Francis Galton die land verlaat het, val Jonker die Herero-stamme soos 'n brullende leeu aan. In Februarie 1852 val hy Otjosemba, 'n vesting van Tjamuaha, aan en trek dan met 500 m an teen die Omatako-omuramba af en oorrompel elke Herero-pos waarby h y kom. Die belangrikste hoofmanne wat die knie voor Jonker moes buig, was Onguatjindi en Katjikurure. Laasgenoemde se magtige stam is in 'n bloedige geveg so te sê heeltemal uitgewis. Jonker keer na Okahandja terug met 12 000 beeste, waarvan meer as helfte aan die Engelse handelaars as skuldvereffening gegee is.
In Maart 1853 besoek die sendeling Hugo Hahn vir Jonker en waarsku hom oor sy gruweldade. Maar Jonker het hom nie meer aan waarskuwings gesteur nie. Sy Bergdama het as spioene opgetree en sy Herero-slawe moes gedurende aanvalle in die voorste linies veg. Sy Afrikaner-soldate is in reserwe gehou en dikwels was hul enigste taak om te plunder en te moor ná die slag gelewer is. Hongersnood het onder die Herero geheers, want daar was geen melk of slagvee meer nie en baie mense is dood weens gebrek aan kos.
In 1857 was Jonker Afrikaner se werk - die vernietiging van die Herero-nasie - feitlik voltooi. Suidelike Hereroland was heeltemal ontvolk en die vlugtende Herero het ver in die noorde rondgeswerf.
Oasib, hoofman van die Rooinasie, se afguns jeens Jonker Afrikaner het nou ongekende hoogtes bereik. Die Rooinasie en ander Nama- en Oorlams-stamme het wel ook deelgeneem aan rooftogte teen die Herero en Mbanderu, maar hulle buit was klein. Sporadiese gevegte het tussen Nama en Oorlams uitgebreek en sommige van Jonker se veeposte is aangeval. Daar was ook groot onenigheid oor die toestaan van mynkonsessies aan blankes, die invoer van wapens en ammunisie en die vrye deurgang van posstukke deur die verskillende stamgebiede.
Ná lang onderhandelings is besluit dat alle belanghebbendes (ook die Herero) by Hoachannas moet bymekaarkom om 'n blywende vrede in die land te bewerkstellig. In Desember 1858 kom Jonker met 27 waens en 100 ruiters op Hoachannas aan en binnekort is al die belangrikste hoofmanne teenwoordig. Op 9 Januarie 1859 word die vrede van Hoachannas deur elf Nama- en Oorlams-hoofmanne sowel as twee van Tjamuaha se seuns (hy self was te siek om te kom) onderteken.
Maar nog was het 't einde niet. Toe die Owambo-hoofman Nangero in 1857 dood is, het sy broer Shikongo die amp van hoofman aanvaar. 'n Gedeelte van die volk was ontevrede hieroor en het Jonker Afrikaner gevra om die geskil te besleg.
In Julile 1860 maak Jonker gereed om na die noorde tre trek. Hy het die nuus laat versprei dat hy vreedsaam na Owambo gaan om handel te dryf en uitsluitsel te gee oor die geldigheid van Shikongo se opvolging as hoofman. Maar die samestelling van sy ekspedisie het die vreedsaamheid van sy bedoelings in twyfel geplaas. Hy het met veertig ossewaens getrek en was vergesel van amper al sy Afrikaner-krygsmanne, te perd en met vuurwapens toegerus. Boonop het talle Bergdama- en Herero-voetsoldate die stoet gevolg.
Shikongo se spioene het hom gewaarsku van die aantog van Jonker se strydmag en hy en sy volgelinge vlug na die Angola-grens. Behalwe 'n paar klein skermutselinge waarby Jonker twee man verloor het, is geen weerstand gebied nie. Dit was eenvoudig 'n kwessie van vee bymekaarmaak en die veertig ossewaens met allerlei buit vul. Meer as 20 000 beeste is uit Owambo weggevoer, maar longsiekte het onder die vee uitgebreek en slegs 3 000 diere het Okahandja bereik.
Jonker Afrikaner self was siek aan malaria wat hy in Owambo opgedoen het. Hy het in die slaapruim van sy paalhut gaan lê en versoek dat die sendelinge hom kom dokter.
Kleinschmidt het gevoel dat hy Jonker nie 'n Christelike begrafnis kon gee nie. Teenoor Jonker se hut is 'n diep graf langs 'n kameeldoringboom begrawe. Daarin is die hoofman van die Afrikaner-stam begrawe. Sonder seremonie of rituele. Sonder sang, gebed of skriflesing.
Francis Galton het van Jonker Afrikaner geskryf: "Hy is beslis 'n begaafde man en skyn in die volle krag van sy lewe te wees hoewel hy sestig jaar oud is. Hy is diplomaat en het altyd die gesprek in die rigting gelei van die doel wat hy voor oë gehad het."
Sir James Alexander het Jonker só beskryf: "He was a little modest looking man with high cheekbones, narrow eyes and prominent lips and an aquiline nose. He was a bold and intrepid warrior, a great commander and distinguished by a daring mind, good judgement and active habits."
Almal het nie so 'n hoë dunk van die Afrikaner-stam gehad nie. Volgens party was hy geslepe, genadeloos, wreed en 'n dronklap. Hy het sy vriende verraai en vermoor. Hy het gesteel, geroof en geplunder, van vyande sowel as vriend. So is oor hom geoordeel. Tog was sy optrede dikwels teenstrydig. Hy het die armes en hongeres gehelp. Hy het die doodvonnisse van misdadigers opgeskort. Hy het gyselaars vrygelaat sonder om 'n losprys te eis. Hy het die grootste liefde vir sy kinders en vrou betoon en blankes met die grootste hoflikheid en agting behandel.
Dat Jonker so veel vermag het met so min tot sy beskikking, moet as een van die groot prestasies van die 19de eeu in Suidwes-Afrika beskou word. Sy welslae op die slagveld kan hoofsaaklik aan twee dinge toegeskryf word: vuurwapens en ryperde. Sy opponente was gewapen met betreklik primitiewe wapens en ry-osse was hul enigste vervoermiddel. Maar dit was nie die enigste rede vir Jonker se sukses nie, want hy het dikwels teen 'n vyandige oormag te staan gekom. Sy kennis van die blanke se krygskuns het hy gekombineer met die Nama se tradisionele metodes van oorlogvoering. Hy het grootliks gebruik gemaak van spioene en alle moontlike inligting oor sy teenstanders ingewin voordat hy toegeslaan het. Hy het sy vyande voorgelê en in hinderlae gelok. Hy het die gevegsterrein bestudeer en dit as hulpmiddel in sy aanslae gebruik.